About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 72
|
|
Sondela v S (A204/2009) [2012] ZAFSHC 72 (19 April 2012)
VRYSTAAT
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Appélnommer :
A204/2009
In
die appél tussen:-
PETRUS DINTWE
SONDELA
..................................................
Appellant
en
DIE STAAT
...........................................................................
Respondent
CORAM:
RAMPAI, R
et
VAN ZYL, R
UITSPRAAK DEUR:
VAN ZYL, R
AANGEHOOR OP:
9 MEI 2011
_____________________________________________________
GELEWER OP:
19 APRIL 2012
_____________________________________________________
[1] Appellant het as
beskuldigde 1 saam met ‘n mede-beskuldigde, synde Zanele Hugo
(hierinlater na verwys as “beskuldigde
2”), in die
Landdroshof, Theunissen, tereggestaan op ‘n aanklag van
diefstal. Dit is beweer dat appellant en beskuldigde
2 op of omtrent
28 Desember 2008 en te of naby Leeukop plaas / Beatrix myn in die
distrik van Theunissen wederregtelik en opsetlik
twee sonpanele en ‘n
elektriese skakelaar daarvan ter waarde van R12 000-00, synde die
eiendom van Gert Jacobs (hierinlater
na verwys as “die klaer”),
gesteel het. Appellant en beskuldigde 2 het onskuldig gepleit, maar
is beide skuldig bevind
soos aangekla.
[2] Vanweë appellant
se vorige veroordelings, was die verhoorlanddros van oordeel dat dit
waarskynlik tot gevolg sal hê
dat dit ‘n vonnis regverdig
wat die Landdroshof se jurisdiksie oorskry. Die verrigtinge is
gevolglik vir doeleindes van vonnis
oorgeplaas na die Streekhof,
Welkom. Die Streekhoflanddros het ‘n gewaarmerkte afskrif van
die verrigtinge in die Distrikshof
nagegaan en bevind dat die
verrigtinge ooreenkomstig die reg geskied het. Die Streekhoflanddros
het daarop vir appellant (met in
agneming van sy vorige
veroordelings) en vir beskuldigde 2 (as eerste oortreder) as volg
gevonnis:
Appellant – ses
(6) jaar gevangenisstraf in terme van Artikel 276(1)(b) van die
Strafproseswet, Wet 51 van 1977 (hierinlater
na verwys as “die
Strafproseswet”).
Beskuldigde 2 –
ses (6) jaar gevangenisstraf in terme van Artikel 276(1)(i) van die
Strafproseswet.
[3] Beide appellant en
beskuldigde 2 het daarop aansoek gedoen om verlof om te appelleer
teen hul skuldigbevindings sowel as hul
opgelegde vonisse. Hierdie
aansoek is deur die Streekhoflanddros van die hand gewys.
[4] Appellant het daarop
‘n petisie tot hierdie hof gerig, welke petisie toegestaan is
en verlof aan appellant verleen is
om te appelleer teen beide sy
skuldigbevinding en sy vonnis. Appellant het op daardie stadium ook
`n aansoek om borg gebring en
is hy op 17 Maart 2010 op borg
vrygelaat hangende die finalisering van hierdie appél. Dit
blyk uit die rekord dat beskuldigde
2 ook aanvanklik ‘n petisie
wou rig, maar voordat die petisie voor hierdie hof gedien het, het
die Departement van Korrektiewe
Dienste by wyse van ‘n skrywe,
waartoe ‘n skrywe van beskuldigde 2 aangeheg was, aangedui dat
beskuldigde 2 nie wil
voortgaan met sy petisie nie. Beskuldigde 2 se
petisie het derhalwe nooit voor hierdie hof gedien nie.
[5] Wat beide appellant
en beskuldigde 2 se skuldigbevindings betref, is hulle skuldig bevind
op die basis van die getuienis van
‘n enkelgetuie wat betref
die pleging van die misdryf, synde Simon Bodibe (hierinlater na
verwys as “Bodibe”),
wie aanvanklik ook ‘n
mede-beskuldigde van appellant en beskuldigde 2 was. Bodibe het egter
voor sy getuienis-aflegging skuldig
gepleit op die ten laste gelegde
misdryf. Uiteraard het daar toe ‘n skeiding van verhore
plaasgevind, waarna Bodibe aldus
skuldig bevind is en
dienooreenkomstig gevonnis is. Daarna en ten tyde van die verhoor van
appellant en beskuldigde 2, het hy as
staatsgetuie in hul verhoor
getuig. Gegewe dat slegs appellant se skuldigbevinding (en vonnis)
tans op appèl voor ons dien,
handel ek vervolgens met die
meriete van appellant se skuldigbevinding.
[6] Die klaer se
onbetwiste getuienis was tot dien effekte dat hy die oggend van 28
Desember 2008 gevind het dat twee sonpanele,
tesame met die
elektriese sisteem en skakelaar daarvan, welke vasgesweis was teen ‘n
windpomp op sy plaas Leeukop, verwyder
en gesteel was. Hy het die
polisie daarvan in kennis gestel en het hy dieselfde dag die goedere,
welke hy geïdentifiseer het
as sy eiendom, vanaf die polisie
terug ontvang.
[7] Opsommenderwys het
Bodibe getuig dat hy, appellant en beskuldigde 2 saam die sonpanele
op die plaas vanaf die klaer gesteel
het deur dit af te saag waar dit
aan die windpomp vasgesweis was. Die sonpanele was binne ‘n
ysterraam gewees, maar het hulle
die panele uit die ysterrame
verwyder en is hulle vandaar na van Beatrix Myn om die sonpanele te
gaan verkoop. Bodibe en beskuldigde
2 het die myn binnegegaan en
appellant het “buitekant” gewag. By Hostel C het Bodibe
en beskuldigde 2 ‘n persoon
gekry wat bereid was om een
sonpaneel te koop teen R1 000-00, welke sonpaneel hulle toe aan hom
verkoop het. Daarvandaan is Bodibe
en beskuldigde 2 na Hostel B,
oppad waarheen hulle deur sekuriteitsbeamptes genader is en
gearresteer is. Ten opsigte van appellant,
het Bodibe as volg in sy
getuienis in hoof getuig:
“
Hulle
(verwysende na die sekuriteitsbeamptes) het toe gegaan en beskuldige
1 gaan soek en hulle het hom by C-Hostel gekry en hom
ook
gearresteer. Hulle het hom gevisenteer en toe het hulle die saag by
hom gekry. Dit is hoe hulle hom gearresteer het.”
[8] Volgens appellant se
weergawe is hy op 27 Desember 2008 na Beatrix Myn, waar hy deur die
nag deelgeneem het aan ‘n dobbelspeletjie
waarmee geld gewen
kan word. Die volgende oggend het hy na C-Hostel gegaan terwyl hy na
die radio geluister het en, soos hy dit
stel, “nog gedrink
het”. Terwyl hy daar gesit het, het ‘n polisiebeampte
opgedaag met ‘n patrollievoertuig
en aan hom gesê dat hy
hom wil visenteer, aangesien hy ‘n verdagte is ten opsigte van
‘n huisbraak wat plaasgevind
het in die kroeg. Hy is toe
gevisenteer, maar niks is by hom gevind nie. Die polisiebeampte (wat
blyk eerder ‘n sekuriteitsbeampte
was) het toe vir appellant
gevra om hom te vergesel na die sekuriteitskantoor waar die
sekuriteitsbeampte aan hom vrae sou stel.
By hierdie
sekuriteitskantoor was hy toe saam met Bodibe en beskuldigde 2
gewees. Die sekuriteitsbeampte het toe vrae gevra rondom
die
sonpaneel wat in Bodibe en beskuldigde 2 se besit gevind is, waarop
Bodibe gesê het dat dit sy sonpaneel was wat hy by
sy swaer op
‘n plaas gekry het. Die polisie (wat weereens eerder
sekuriteitsbeamptes blyk te wees) het toe opgedaag met die
persoon
wat die een sonpaneel by Bodibe gekoop het, welke persoon toe vir
Bodibe uitgewys het as die persoon van wie hy die sonpaneel
gekoop
het. Bodibe is toe aangesê om die geld uit te haal wat hy vir
die sonpaneel ontvang het, ‘n gedeelte waarvan
hy uit sy eie
skoene gehaal het en ‘n ander gedeelte waarvan by beskuldigde 2
gevind is. Dit blyk dat die polisie eers op
daardie stadium ontbied
is en is Bodibe, appellant en beskuldigde 2 toe gearresteer. Volgens
appellant het Bodibe op daardie stadium
aan die polisie gesê
dat hy net vir beskuldigde 2 gehelp het om die sonpanele te verkoop.
Op 9 Januarie 2009, ten tyde van
‘n hofverskyning van hulle
drie, is Bodibe egter op daardie stadium deur die staatsaanklaer
genader, ten tyde van welke gesprek
die staatsaanklaer voorgestel het
dat Bodibe skuldig pleit, waarna Bodibe die eerste keer vir appellant
aangedui het as synde een
van die persone wat saam met hom die
misdryf gepleeg het. Volgens appellant het hy nie vir Bodibe of
beskuldigde 2 voor hul arrestasie
geken het nie.
[9] Beskuldigde 2 se
weergawe is nie direk relevant vir doeleindes van hierdie appèl
nie, aangesien sy appèl nie tans
voor ons dien nie en ek in
ieder geval oortuig is dat sy skuldigbevinding in orde is.
Volledigheidshalwe en ten einde appellant
se appèl behoorlik
te oorweeg meen ek daar moet tog oorhoofs na sy weergawe verwys word.
In ‘n stelling gemaak deur
appellant en beskuldigde 2 se
regsverteenwoordiger in die Distrikshof, was dit gestel aan Bodibe
dat dit beskuldigde 2 se weergawe
is dat appellant hom die oggend van
die voorval ontmoet het toe beskuldigde 2 uit ‘n taxi geklim
het, waarna appellant beskuldigde
2 oortuig het om saam met hom te
gaan ten einde die twee sonpanele te gaan verkoop. Ten tyde van
beskuldigde 2 se getuienis-aflegging,
het hy egter getuig dat hy die
oggend van die voorval vir Bodibe teëgekom het toe beskuldigde 2
uit ‘n huurmotor geklim
het, waarna Bodibe hom versoek het om
saam met hom na die binnekant van die myn te gaan, waar Bodibe geld
wou gaan kry, welke geld
hy dan aan beskuldigde 2 sou gee om vir
Bodibe se vrou te neem, aangesien Bodibe oppad was Lesotho toe.
Bodibe het hom oortuig
om dit te doen, nadat hy aangebied het om vir
hom R20-00 te gee daarvoor. Op beskuldigde 2 se weergawe is die een
sonpaneel toe
inderdaad verkoop, waarna Bodibe aan hom R300-00 gegee
het, as synde die geld wat beskuldigde 2 aan Bodibe se vrou moes gaan
gee.
Die polisie (klaarblyklik weereens die sekuriteitsbeamptes) het
daarna opgedaag en vir Bodibe gevra waar hy die (oorblywende)
sonpaneel,
wat hulle nog op daardie stadium in hulle besit gehad het,
gekry het. Bodibe het aangedui dat hy dit van sy swaer op die plaas
gekry het. Terwyl hulle daar was, het appellant opgedaag. Dit was die
eerste keer wat beskuldigde 2 vir appellant gesien het. Hulle
is na
die sekuriteitskantore geneem waar beskuldigde 2 verneem het dat
appellant ‘n verdagte was ten opsigte van ‘n
huisbraak
wat plaasgevind het by die kroeg. Daarna het Bodibe en beskuldige 2
die geld uitgehaal wat hulle ontvang het. Die polisie
het opgedaag en
is al drie van hulle gearresteer. Op daardie stadium het Bodibe gesê
dat hy vir beskuldigde 2 gehelp het
om die sonpanele te verkoop. Op 9
Januarie 2009 by die hof en nadat Bodibe met die staatsaanklaer
gepraat het, het hy sy weergawe
verander deur te beweer dat dit
beskuldigde 2 en appellant was wat saam met hom die misdryf gepleeg
het. Volgens beskuldigde 2
het hy geensins vir appellant geken voor
hulle arrestasie nie. Bodibe was egter wel aan hom bekend, omdat
hulle beide rastifariërs
is wat mekaar al by ‘n sekere
kerk ontmoet het. Verder het hy en appellant ook mekaar daagliks in
die woongebied ontmoet,
hoewel hulle nie vriende was nie.
[10] Mnr van der Merwe,
namens appellant, het betoog dat Bodibe se getuienis, by behoorlike
toepassing van die versigtigheidsreël
wat van toepassing is ten
opsigte van ‘n enkelgetuie, nie sodanig bevredigend was dat ‘n
skuldigbevinding op grond
daarvan kon volg nie. Mnr van der Merwe het
ook verwys na sekere gebreke in die Staat se saak, deurdat die
sekuriteitsbeamptes
of polisiebeamptes wie vir appellant gearresteer
het, nie as getuies geroep is om te getuig op grond waarvan hy
gearresteer is
en hoe hy deur Bodibe uitgewys is nie. Daar is ook
geen getuienis deur die persone wat appellant gearresteer het met
betrekking
tot die saag wat na bewering in sy besit gevind sou gewees
het nie, gegewe dat appellant ontken dat sodanige saag in sy besit
gevind
is.
Mnr Pienaar, wie namens
die Staat verskyn het, het aanvanklik submissies gemaak op die basis
dat Bodibe, gegewe dat hy op die stadium
wat hy sy getuienis afgelê
het, reeds skuldig gepleit het en reeds gevonnis was, geen motief sou
hê om leuens aan die
hof te vertel met betrekking tot appellant
en beskuldigde 2 se betrokkenheid by die pleging van die misdryf nie.
Nadat sekere vrae
deur myself en my kollega, Rampai R, aan Mnr
Pienaar gestel was, het hy egter, na my mening heeltemal tereg,
toegegee dat daar
rede is om, soos hy dit gestel het, “nie
gemaklik te wees” met die getuienis van Bodibe nie, gegewe dat
hy ‘n
enkelgetuie en ‘n mede-beskuldigde/mededader is.
[11] Dit is geyk dat daar
versigtigheid aan die dag gelê moet word met betrekking tot die
oorweging van ‘n enkelgetuie
se getuienis, die aard waarvan
volledig bespreek is
S v SAULS
1981 (3) SA 172
(A) op 179 G –
180 G, die slotsom waarvan as volg opgesom is op 180 E – G:
“
There is
no
rule of thumb test or formula to apply when it comes to a
consideration of the credibility of the single witness….. The
trial Judge will weigh his evidence, will consider its merits and
demerits and, having done so, will decide whether it is trustworthy
and whether, despite the fact that there are shortcomings or defects
or contradictions in the testimony, he is satisfied that the
truth
has been told.”
[12] Addisioneel tot
voormelde, is dit so dat hoewel Bodibe ten tye van sy
getuienis-aflegging reeds skuldig bevind was en gevonnis
was, hy
steeds ‘n mededader was wat ten gunste van die Staat getuig
het. In die verband moet in ag geneem word dat beide
appellant en
beskuldigde 2 getuig het dat Bodibe se pleit van skuldig klaarblyklik
gevolg het nadat hy sekere gesprekke met die
staatsaanklaer gehad het
in terme waarvan hy onderneem het om appellant en beskuldigde 2 te
impliseer as mededaders. Dit kan dus
nie buite rekening gelaat word
dat hy moontlik ‘n motief kon hê om appellant en/of
beskuldigde 2 valslik te inkrimineer
ten einde homself te bevoordeel
nie. Ten spyte daarvan dat beide appellant en beskuldigde 2 ten tyde
van die aanbied van hulle
getuienis getuig het rondom die beweerde
kontak tussen Bodibe en die staatsaanklaer op 9 Januarie 2009,
voortspruitend waaruit
Bodibe beide appellant en beskuldigde 2
geïmpliseer het, het appellant en beskuldigde 2 se
regsverteenwoordiger hierdie weergawe
nooit aan Bodibe gestel het
nie. Die feit dat beide van hulle egter daaromtrent getuig het,
noodsaak my om ten gunste van hulle
te aanvaar dat hulle wel hierdie
instruksie aan hul regsverteenwoordiger gegee het, maar die
regsverteenwoordiger versuim het om
dit aan Bodibe te stel. Hierdie
weergawe van appellant en beskuldigde 2, saamgelees met hul beide se
weergawe dat Bodibe drie verskillende
weergawes op verskillende
stadiums voorgehou het met betrekking tot appellant en beskuldigde 2
se betrokkenheid by die pleging
van die misdryf, verplig my, na my
mening, om wel die versigtigheidsreël ten opsigte van mededaders
toe te pas, vanweë
die redes en op die wyse vermeld in
R v
NCANANA
1948 (4) SA 399
(A) op 405, saamgelees met
S v VAN
VREDEN
1969 (2) SA 524
(N) op 531.
[13] Wanneer Bodibe se
getuienis dan geëvalueer word, in sommige opsigte ook in
samehang met die getuienis van appellant en
beskuldigde 2, blyk die
volgende:
Die Verhoorlanddros in
die Distrikshof het, soos deur beide Mnr van der Merwe en Mnr
Pienaar uitgewys, ‘n
ex tempore
uitspraak in die
aangeleentheid gelewer wat uiters kort was en geensins die
getuienis behoorlik evalueer het alvorens tot die
volgende
gevolgtrekking gekom is wat appellant en beskuldigde 2 se weergawes
betref nie:
“
(Dit) is
sinneloos, dit is buitensporig en belaglik en dit word verwerp as
vals bo redelike twyfel”.
Dit is geensins duidelik
waarop hierdie bevinding gegrond is nie.
Bodibe het in sy
getuienis in hoof getuig dat hy en beskuldigde 2 die sonpanele na
die myn gevat het “om hulle te gaan
verkoop”. Bietjie
later, maar steeds in sy getuienis in hoof, het Bodibe weereens
getuig dat hy en beskuldigde 2 die
myn binnegegaan het om die
sonpanele te gaan verkoop en “beskuldigde 1 was toe
buitekant”. Ek sal na die aspek
van “buitekant”
net hierna terugkeer. Toe Bodibe egter na herondervraging sekere
vrae deur die hof gevra is ter
opklaring en hy gevra is waarom
appellant nie saam met hulle gegaan het om die sonpanele te gaan
verkoop nie, het Bodibe getuig
dat op die stadium wat hulle die myn
binnegegaan het, was dit nie die plan om die sonpanele te gaan
verkoop nie, maar slegs
om dit in die myn te gaan wegsteek. Dit was
eers nadat hulle die myn binnegegaan het, wat hulle ‘n koper
teëgekom
het. Net daarna het hy weereens getuig dat appellant
geweet het dat hulle slegs die sonpanele gaan wegsteek en het hy
dus vir
hulle gewag dat hulle terugkom. Hierdie getuienis van
Bodibe is dus duidelik weersprekend, deurdat hy aan die een kant
getuig
dat hulle die myn binnegegaan het met die doel om die
sonpanele te gaan wegsteek, terwyl hy aan die anderkant getuig het
dat
hulle die myn binnegegaan het met die doel om die sonpanele te
gaan verkoop. Addisioneel tot hierdie weerspreking, val dit na
my
mening uiters vreemd op dat indien appellant van meet af aan deel
was van die groep van drie persone wat die sonpanele vanaf
die
windpomp verwyder en gesteel het, hy nie ook saam met Bodibe en
beskuldige 2 die myn sou binnegaan, hetsy om die sonpanele
te gaan
wegsteek, hetsy om dit te gaan verkoop nie. Bodibe se getuienis
hieromtrent verskaf nie werklik na my mening ‘n
redelike of
gegronde verduideliking hiervoor nie.
Soos vroeër
vermeld, het Bodibe getuig dat hulle appellant “buitekant”
gelos het. Dit skep duidelik die indruk
dat hy geensins die
mynperseel binnegegaan het nie. Hierdie indruk word versterk of
bevestig deurdat Bodibe onmiddellik daarna
getuig dat hy en
beskuldigde 2 by Hostel C binne Beatrix Myn ‘n persoon gekry
het wat bereid was om een van die sonpanele
te koop. Na my mening
regverdig dit dus die afleiding dat “buitekant” ook
buite die area waar die hostelle is,
is. Teenstrydig hiermee, is
dit beide Bodibe en appellant se weergawe dat appellant juis by
Hostel C gearresteer is, met ander
woorde op ‘n plek wat nie
“buitekant” die Beatrix Myn was nie.
Daar is ook geen
getuienis oor hoe Bodibe aan die sekuriteitsbeamptes appellant sou
beskryf het wat hulle in staat gestel het
om hom te identifiseer
vir doeleindes van sy arrestasie nie.
Hoewel dit ook deur
Bodibe getuig is dat daar ‘n saag by appellant gevind is en
Bodibe gepoog het om te getuig dat hy
teenwoordig was ten tyde van
appellant se arrestasie en dus self die saag gesien het, blyk dit
duidelik uit die totaliteit
van die getuienis dat Bodibe nie
teenwoordig kon gewees het met appellant se arrestasie nie. Dit
moet dus gevolglik geag word
dat daar geen getuienis deur die Staat
aangebied is dat daar inderdaad ‘n saag by appellant
aangetref is ten tyde van
sy arrestasie wat hom sodoende met die
pleging van die misdryf verbind nie.
‘
n
Verdere probleem in die staatsaak is dat dit uit beide appellant en
beskuldigde 2 se getuienis blyk dat appellant gearresteer
was as ‘n
verdagte ten opsigte van ‘n inbraak wat by die kroeg
plaasgevind het en geensins as ‘n verdagte
ten opsigte van
die onderhawige saak nie.
In samehang met
voormelde moet ook in ag geneem word die getuienis van Bodibe self,
saamgelees met appellant en beskuldigde
2 se getuienis, waaruit dit
blyk dat ten tyde van hulle arrestasie, Bodibe op geen stadium vir
appellant geïmpliseer het
as een van die persone wat deel was
van die pleging van die misdryf nie. Bodibe het aanvanklik
aangetoon dat die sonpaneel
sy eiendom is, synde wat hy by sy swaer
gekry het; daarna het hy aangedui dat hy slegs vir beskuldigde 2
gehelp het om die
sonpanele te verkoop en eers ten tyde van ‘n
hofverskyning, blyk dit dat hy die eerste keer vir appellant
geïmpliseer
het.
[14] Die blote feit dat
appellant die dag van die voorval by Hostel C teenwoordig was,
regverdig nie as enigste redelike afleiding
dat hy inderdaad betrokke
was by die pleging van die misdryf nie. Ek stem dus met Mnr van der
Merwe se betoog in die verband saam.
Al wat appellant met die pleging
van die misdryf verbind, is Bodibe se bewerings hieromtrent. Selfs
beskuldige 2 het getuig dat
hy geensins vir appellant geken het voor
hul arrestasie nie. Gegewe die onbevredigende getuienis van Bodibe
terwyl hy ‘n
enkelgetuie is en ook ‘n
mede-beskuldigde/mededader is, tesame met die ander tekortkominge in
die staatsaak, is ek van oordeel
dat die Staat nie bo redelike twyfel
appellant se skuld bewys het nie en is appellant geregtig op sy
vryspraak. Soos reeds vermeld,
is appellant in ieder geval reeds op
borgtog vrygelaat hangende die finalisering van hierdie appèl.
[15] Soos reeds vermeld,
is daar nie ‘n appèl ten opsigte van beskuldigde 2 voor
ons nie. Desnieteenstaande het Mnr
Pienaar reeds in sy betoogshoofde
versoek dat ons op die basis van ons inherente hersieningsbevoegdheid
inmeng met die opgelegde
vonnis ten opsigte van beskuldigde 2,
deurdat die maksimum termyn gevangenisstraf wat in terme van Artikel
276(1)(i) van die Strafproseswet
opgelê kan word, vyf jaar
gevangenisstraf is. Die ses jaar gevangenisstraf wat in hierdie geval
deur die Streekhoflanddros
opgelê is, is dus duidelik
onreëlmatig.
[16] Vanweë die
omstandighede, meen ek dit is onvanpas en onnodig om volledig met die
meriete van beskuldigde 2 se skuldigbevinding
te handel. Ek volstaan
egter deur te vermeld dat ek tevrede is dat beskuldigde 2 se
skuldigbevinding in orde is. Wat die opgelegde
vonnis betref, is dit
duidelik onreëlmatig en is ek van mening dat ons in terme van
ons inherente hersieningsbevoegdheid in
terme van Artikel 304(4) van
die Strafproseswet, daarmee moet inmeng en dit regstel.
[17] Gevolglik word die
volgende bevele gemaak:
Appellant se appèl
teen sy skuldigbevinding slaag, die skuldigbevinding word tersyde
gestel en vervang met die volgende:
“
Appellant
word onskuldig bevind en ontslaan.”
Beskuldigde 2, Zanele
Hugo, se vonnis word tersyde gestel en vervang met die volgende:
“
Vyf (5) jaar
gevangenisstraf ingevolge Artikel 276(1)(i) van die Strafproseswet,
Wet 51 van 1977.”
Laasgenoemde vonnis moet
geag word opgelê te gewees het op 28 April 2009.
___________________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam:
___________________
M.H. RAMPAI, R
Namens die Appellant Mnr
PL van der Merwe
In opdrag van:
Bloemfontein Regssentrum
BLOEMFONTEIN
Namens die Respondent:
Adv F Pienaar
In opdrag van:
Direkteur van Openbare
Vervolgings
BLOEMFONTEIN