About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 71
|
|
Nhlayisi v S (A14/2011) [2012] ZAFSHC 71 (19 April 2012)
VRYSTAAT
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Appélnommer :
A14/2011
In
die appél tussen:-
MXOLISI EUGENE IAN
NHLAYISI
...........................................
Appellant
en
DIE STAAT
.
..........................................................................
Respondent
CORAM:
VAN
ZYL, R
et
LEKALE, R
UITSPRAAK DEUR:
VAN ZYL, R
GELEWER OP:
19 APRIL 2012
_____________________________________________________
[1] Appellant het in die
Landdroshof vir die distrik van Heilbron tereggestaan op die volgende
aanklagte:
Aanklag 1, oortreding
van die bepalings van Artikel 65(1)(a) of (b), saamgelees met ander
gepaardgaande artikels van die Nasionale
Padverkeerswet, No. 93 van
1996 (hierinlater na verwys as “die Wet”), synde
bestuur onder die invloed van sterk
drank of verdowingsmiddel wat
`n narkotiese uitwerking het, deurdat dit beweer is dat Appellant
op of omtrent 30 Augustus 2009
te Morekostraat in die distrik van
Lindley, ‘n Nissan X-Trail voertuig aldus bestuur het.
In die alternatief tot
aanklag 1, ‘n oortreding van Artikel 63(1) van die Wet,
saamgelees met ander aanverwante artikels,
synde roekelose of
nalatige bestuur, deurdat dit beweer is dat appellant op voormelde
datum en plek die tersaaklike voertuig aldus
roekeloos of nalatig
bestuur het.
Aanklag 2, oortreding
van die bepalings van Artikel 51(1) van die Strafproseswet, Wet 51
van 1977 (hierinlater na verwys as
“die Strafproseswet”),
synde ontsnapping uit bewaring, deurdat dit beweer is dat appellant
op of omtrent 30 Augustus
2009 en te die distrik van Lindley
wederregtelik en opsetlik ontsnap het uit bewaring nadat hy
wettiglik in hegtenis geneem
is.
Aanklag 3,
regsverydeling, deurdat dit beweer is dat appellant te voormelde
datum en plek wederregtelik en opsetlik regsverydeling
gepleeg het,
deurdat hy lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens verhoed het om
hom te laat onderwerp aan bloedtoetse vir
doeleindes van die
vasstelling van sy bloed-alkoholvlak.
[2] Volledigheidshalwe
moet vermeld word dat hoewel die beweerde oortredings plaasgevind het
in die distrik van Lindley, het die
vervolging in die Landdroshof te
Heilbron plaasgevind in opdrag van die Direkteur van Openbare
Vervolgings. Mnr van Wyk, wie namens
appellant opgetree het in die
hof
a quo
, sowel as in die appèl, het dan ook by die
aanvang van die verhoor in die hof
a quo
op rekord geplaas dat
appellant ook pertinent toestem tot die jurisdiksie van Heilbron
Landdroshof.
[3] Appellant het
onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hom, ingesluit die
alternatief tot aanklag 1. Mnr van Wyk het namens
appellant ingevolge
die bepalings van Artikel 115(2)(b) van die Strafproseswet,
saamgelees met die bepalings van Artikel 220 van
die Strafproseswet,
erken dat appellant op 30 Augustus 2009 en te Morekostraat, ‘n
openbare pad te die distrik Lindley, ‘n
motorvoertuig, synde ‘n
Nissan X-Trail bestuur het. Origens het appellant al die bewerings
teen hom ontken.
[4] Na sluiting van die
Staat se saak het die verhoorhof, op aansoek van Mnr van Wyk, ontslag
in terme van Artikel 174 van die Strafproseswet
aan appellant verleen
ten opsigte van aanklagte 2 en 3.
[5] Wat aanklag 1 betref,
is appellant skuldig bevind op die hoofaanklag op die basis dat hy
bestuur het onder die invloed van sterk
drank. Appellant is daarop
gevonnis tot die betaling van ‘n boete van vyfduisend rand (R5
000-00) of ses (6) maande gevangenisstraf,
met ‘n verdere
twaalf (12) maande gevangenisstraf wat opgeskort is op sekere
voorwaardes. Appellant kom nou met verlof van
die verhoorhof in hoër
beroep teen beide sy skuldigbevinding en die opgelegde vonnis.
AGTERGROND GEBEURE:
[6] Appellant het op die
dag van die voorval teen ongeveer 17h00 die middag op die hoofpad
gery wat, onder andere, vanaf Arlington
na Petrus Steyn loop. Wanneer
‘n persoon vanaf Arlington se rigting kom, loop hierdie hoofpad
tussen die dorp, Lindley, en
die woongebied Ntha, synde waar die
onderhawige botsing plaasgevind het, deur. Daar draai dan ‘n
pad na links op in die rigting
van Ntha woonbuurt. Kort na hierdie
afdraai na links, is daar ‘n inglipbaan, of dan ‘n
sogenaamde “
slip way
” na links en aan die einde
daarvan ‘n toegeeteken, waar dit in ‘n pad aansluit wat
parallel met bogemelde hoofpad
loop. Appellant het laasgenoemde
inglipbaan geneem en oor ‘n afstand van tussen 80 en 100 meter
gery, totdat hy by bogemelde
toegeeteken gekom het. Toe hy by hierdie
toegeeteken draai, het hy beheer oor sy voertuig verloor en skuins
teen ‘n sinkhuis
aan die oorkant van die pad waarin hy
ingedraai het, gebots. Mnr Mofokeng, synde die eerste staatsgetuie,
was op daardie stadium
die bewoner van die sinkhuis. Dit is
voortspruitend uit hierdie botsing wat Appellant aangekla is op
aanklag 1, sowel as die alternatiewe
aanklag daartoe.
[7] Nadat hierdie botsing
plaasgevind het en Mnr Mofokeng, wie nie die botsing gesien gebeur
het nie, uit die huis gekom het en
na die voertuig beweeg het en daar
sekere gebeure plaasgevind het, het ene Mnr Nzimande die voertuig
vanaf die toneel wegbestuur,
terwyl appellant ‘n passasier in
die voertuig was (hoewel daar ‘n dispuut is met betrekking tot
die vraag of appellant
op daardie stadium agter in die bakkie of as
passasier links voor in die bakkie gery het). Onmiddellik daarna het
sekere polisiebeamptes,
waaronder die tweede staatsgetuie, Sersant
Maartins, en die vierde staatsgetuie, Konstabel Tsoenyane, op die
toneel opgedaag en
het Mnr Mofokeng hulle meegedeel wat gebeur het.
Hulle het in die rigting van die dorp gery, waar hulle wel die
voertuig van appellant,
met die bestuurder daarvan en appellant self
ook daarin, aangetref het. Die polisie het versoek dat hulle na die
toneel terugkeer,
waarna die bestuurder aangedui het dat hy verkies
om nie verder betrokke te wees nie. Konstabel Tsoenyane het toe
appellant se
voertuig terugbestuur na die toneel, met appellant
steeds binne die voertuig. Hier het sekere gebeure plaasgevind, onder
andere
die beweerde arrestasie van appellant, waarna appellant,
Konstabel Tsoenyane en ene Rooikop, synde die tolk van die plaaslike
Landdroshof,
met appellant se voertuig gery het na die plaaslike
polisiestasie te Lindley, met Sersant Maartins en ander
polisiebeamptes in
‘n polisievoertuig agter hulle.
Volledigheidshalwe moet vermeld word dat dit in dispuut is of
Tsoenyane of Rooikop appellant
se voertuig na die polisiestasie
bestuur het, maar is dit nie werklik relevant vir doeleindes van
hierdie uitspraak nie. By die
polisiestasie het daar weer sekere
gebeure plaasgevind, waarna appellant met sy voertuig vertrek het.
Dit was die Staat se weergawe
dat aangesien appellant reeds op
daardie stadium gearresteer was, hy veronderstel was om by die
polisiestasie teenwoordig te bly
sodat hy na Bethlehem geneem kon
word vir die trek van bloedmonsters vir doeleindes van die toets van
sy bloed-alkoholvlak, maar
het appellant wederregtelik en opsetlik op
daardie stadium uit hierdie arres ontsnap met die doel dat sodoende
verhoed word dat
voormelde bloedmonsters van hom geneem kon word.
Sersant Maartins en ander polisiebeamptes het onmiddellik daarna na
appellant
se huis gery, waar hulle, aldus die Staat se weergawe,
appellant se bakkie aangetref het, maar het niemand die huis
oopgemaak ondanks
die feit dat hulle geklop het aan die deur en
toegang versoek het nie.
[8] Sommige van die
staatsgetuies het getuienis gelewer met betrekking tot appellant se
toestand onmiddellik na die plaasvind van
die botsing, op grond
waarvan dit beweer is dat appellant onder die invloed van alkohol was
ten tyde van die plaasvind van die
botsing. Ek sal hierinlater meer
in detail met hierdie getuienis handel. Hierteenoor is dit deur
appellant ontken dat hy enigsins
onder die invloed van alkohol
verkeer het ten tyde van die plaasvind van die botsing. Volgens sy
weergawe het hy, toe hy by die
toegeeteken gedraai het, ‘n
klapgeluid by die bande gehoor, waarna die voertuig onder beheer uit
geraak het. Hy het probeer
beheer uitoefen, deur onder andere rem te
trap, maar kon dit nie regkry om weer die voertuig onder beheer te
kry nie. Tog kon hy
die voertuig sodanig beheer dat hy die sinkhuis
net effens en skuins getref het. Hy het daarna die voertuig na
Bethlehem Battery
Sentrum geneem, waar hy aan Mnr Radebe, synde die
derde staatsgetuie, verduidelik het wat gebeur het en versoek het dat
hy ondersoek
moes instel wat die probleem met die voertuig was.
Volgens hom was hy op daardie stadium, na aanleiding van die
ondersoek, meegedeel
dat die “
lower control arm bushes
”
van die voertuig geslyt was (hieinlater na verwys as “die
meganiese defek”), dat dit ‘n gevaar daargestel
het en
dat dit so gou as moontlik herstel moes word.
[9] Soos vermeld, het die
staat Mnr Radebe as ‘n getuie geroep. Uit die totaliteit van sy
getuienis, ingesluit kruisverhoor,
blyk dit dat sy deskundigheid nie
in dispuut geplaas is nie. Hy het verduidelik wat bedoel word met
“
lower control arm bushes
” en die werking daarvan.
Volgens hom was dit aan die begin van ‘n verweer- of
slytasieproses, wat tot gevolg sou hê
dat die voertuig
onstabiel kan ry, maar sou dit nie sodanig wees dat dit tot gevolg
het dat beheer bloot as gevolg daarvan oor
die voertuig verloor sou
word nie. Wanneer rem getrap word, sou dit ook nie op die
padhouvermoë van die voertuig enige effek
hê nie. Ten tyde
van sy getuienis is daar ook ‘n verslag onder die briefhoof van
Battery Sentrum ingehandig as Bewysstuk
“E”, waarvan die
tersaaklike gedeelte as volg lees:
“
We checked
the lower control arm bushes on the Nissan X-Trail SGM915GP and we
find that it need to be replaced as soon as possible.”
BEVINDING T.O.V DIE
MEGANIESE DEFEK:
[10] By bestudering van
die oorkonde, blyk dit dat Mnr van Wyk reeds ten tyde van sy betoog
in die verhoorhof toegegee het dat in
die lig van die getuienis van
die derde staatsgetuie, Mnr Radebe, appellant se weergawe dat die
rede waarom hy beheer oor sy voertuig
verloor het uitsluitlik te wyte
is aan die meganiese defek, nie kan opgaan nie.
[11] Ek het reeds in
paragraaf 9 hierbo verwys na die kern van Mnr Radebe se getuienis,
voortspruitend waaruit ek tot die volgende
gevolgtrekkings kom:
Appellant se voertuig
het inderdaad ten tyde van die plaasvind van die ongeluk die
meganiese defek gehad.
Die meganiese defek kon
veroorsaak het dat die voertuig onstabiel ry, maar sou nie die
resultaat hê dat daar slegs as
gevolg daarvan, beheer verloor
word oor die voertuig nie.
Vanweë die feit
dat die meganiese defek bestaan het en dit wel onder sekere
omstandighede ‘n klapgeluid sal veroorsaak,
kan die
moontlikheid nie uitgesluit word dat appellant wel onmiddellik voor
die plaasvind van die botsing sodanige klapgeluid
gehoor het nie.
Dit gee ook ‘n redelike verduideliking vir die feit dat
appellant daarna die voertuig geneem het om ondersoek
te word na
Battery Sentrum, waar inderdaad gevind is dat die meganiese defek
bestaan.
[12] Gevolglik meen ek
dat Mnr van Wyk se voormelde toegewing korrek gemaak is. Die
verhoorhof het ook in sy uitspraak verwys na
bogemelde tersaaklike
getuienis van Mnr Radebe en het na my mening dus tereg bevind dat die
botsing nie veroorsaak was deur die
bestaan van die meganiese defek
as sulks nie.
SUBMISSIES EN
ALGEMENE REGSBEGINSELS:
[13] Die verhoorhof het
sy uitspraak ingelei met die volgende:
“
Die
kernvraag wat hier beantwoord word is die volgende: Is die ongeluk of
botsing veroorsaak deur ‘n meganiese defek aan die
beskuldigde
se motorvoertuig? Indien wel, moet hy vrygespreek word. Of is dit
veroorsaak omdat die beskuldigde sy motorvoertuig
bestuur het terwyl
hy onder die invloed van sterk drank was? Word die laaste vraag
positief beantwoord moet die beskuldigde skuldig
bevind word.”
Ten opsigte van
voormelde, het Mnr van Wyk betoog dat dit aanduidend is daarvan dat
die verhoorhof die geskilpunte oorvereenvoudig
het en daardeur nie
behoorlik aandag gegee het aan al die aspekte van die saak nie. Hy
het met respek aan die hand gedoen dat die
verhoorhof ‘n
denkfout begaan het, deurdat hy deur voormelde benadering enige ander
redes wat kon bestaan vir die botsing
reeds by die aanvang van sy
uitspraak uitgeskakel het en geen oorweging daaraan geskenk het nie.
[14] Mnr van Wyk het
voorts betoog dat dit blyk dat die verhoorhof bloot vanweë die
feit dat daar ‘n botsing plaasgevind
het, tot die
gevolgtrekking gekom het dat dit was vanweë die feit dat
appellant onder die invloed van alkohol verkeer het
wat sy
bestuursvermoë beperk het, sonder om die geloofwaardigheid van
die getuies en die betroubaarheid van die getuienis
hieromtrent
behoorlik te evalueer en sonder om die getuienis met betrekking tot
die verdere omringende omstandighede met betrekking
tot die botsing,
behoorlik in ag te neem. In die verband het Mnr van Wyk ook spesifiek
daarop gewys dat dit blyk uit die verhoorhof
se uitspraak dat alwaar
die hof met die staatsgetuies se weergawes gehandel het wat betref
hul getuienis met betrekking tot die
toestand van appellant wat
alkohol betref, die verhoorhof slegs met die getuienis in hoof
gehandel het en op grond daarvan tot
sy bevinding gekom het, terwyl
die getuies se kruisverhoor glad nie in aanmerking geneem is in die
uitspraak nie.
Teenoor voormelde, het
Mnr Mohlala, namens die Staat, betoog dat dit uit die totaliteit van
die getuienis die enigste redelike afleiding
is dat appellant te tyde
van die plaasvind van die botsing onder die invloed van alkohol was,
welke sy bestuursvermoë verminder
of ingebeperk het en
aanleiding gegee het tot die botsing.
[15] By nalees van die
verhoorhof se uitspraak, blyk dit inderdaad dat die Landdros slegs
met die tersaaklike getuies se getuienis
in hoof gehandel het en nie
ook met hul getuienis in kruisverhoor nie. Ek keer later na hierdie
aspek terug.
[16] Dit is gemeensaak in
die onderhawige geval dat daar geen direkte getuienis is met
betrekking tot die bewering dat appellant
alkohol ingeneem het nie.
Wat dus deur die Staat in die onderhawige geval bo redelike twyfel
bewys moes word vir doeleindes van
‘n skuldigbevinding, is dat
appellant onder die invloed van sterk drank was wat sy bestuursvermoë
verminder of ingeperk
het. Die beginsels hieromtrent word as volg
saamgevat in
SOUTH AFRICAN CRIMINAL LAW & PROCEDURE
, JRL
Milton and NG Cowling, Vol III, op p. 45, par G3 – 63:
“
An accused
may
be considered to be under the influence of intoxicating liquor, it
has been held, if it is established that:
‘
the skill
and judgment normally required in the manipulation of a motor car is
obviously diminished or impaired as a direct result
of the
consumption of alcohol’.
This criterion would seem to involve a
requirement that there be an impairment of two faculties, namely
those of skill, which involves
an element of physical ability, and
judgment, which involves an element of mental ability…..
In result then it is not necessary for
the prosecution to prove that the accused was drunk or incapable. On
the other hand, mere
proof of consumption of intoxicating liquor is
not per se sufficient.
The evidence need not establish gross
impairment of the faculties; it is sufficient if they are in fact
impaired. It must, on the
other hand, establish beyond reasonable
doubt, the fact of impairment and evidence of a lessor form (e.g. of
a likelihood of impairment)
will not establish the offence.
The extent of the impairment of the
accused’s faculties may be established by the evidence of
witnesses or by deduction from
the manner in which he drove the
vehicle.”
[17] Die blote feit dat
‘n persoon wat alkohol ingeneem het betrokke was in ‘n
ongeluk, bewys nie dat hy onder die invloed
van alkohol bestuur het
nie. In
S v ADAMS
1983 (2) SA 577
(A) is dit as volg op 586 G
tot H beslis:
“
By
beoordeling van die korrektheid aldan nie van die appellant se
skuldigbevinding moet die getuienis in die saak natuurlik kumulatief
beskou word. Dit is so dat die blote feit dat iemand wat sterk drank
gebruik het in ‘n ongeluk betrokke raak op sigself nie
bewys
daarstel dat hy onder die invloed van sterk drank bestuur het nie.
Watter afleiding die feit van die ongeluk veroorloof,
hang af van die
besonderhede omstandighede van elke geval wat ondermeer insluit die
verduideliking, indien enige, wat die bestuurder
vir die ongeluk
aanbied.”
Appellant se
soberheidstoestand en bestuursvermoë:
[18] Dit is inderdaad so,
soos toegegee deur Mnr van Wyk alreeds in sy betoog ten tyde van die
verhoor en ook soos deur die verhoorhof
bevind, dat appellant
onmiddellik voorafgaande die plaasvind van die botsing te vinnig gery
onder die heersende omstandighede.
Op appellant se eie weergawe het
hy, nadat hy die inglipbaan binnegery het, teen ‘n spoed van
ongeveer 80 tot 90 kilometer
per uur gery, terwyl die spoedbeperking
daar 60 kilometer per uur is. Die verhoorhof het voortspruitend
hieruit bevind dat appellant
se laasgenoemde bestuurswyse, tesame met
die getuienis wat betref sy soberheidstoestand onmiddellik na die
plaasvind van die botsing,
aanduidend is daarvan dat appellant se
afwykende bestuurswyse deur teen daardie hoë spoed in daardie
omstandighede te ry,
die gevolg was van die feit dat hy onder die
invloed van alkohol bestuur het wat sy bestuursvermoë beperk
het.
[19] Ten einde
laasgenoemde bevinding te evalueer, is dit gevolglik nodig om die
getuienis met betrekking tot appellant se soberheidstoestand
onmiddellik na die plaasvind van die ongeluk, te oorweeg.
[20] Dit is nou reeds
geyk dat die gebrek aan mediese getuienis in `n geval soos die
onderhawige, nie fataal is vir die staatsaak
nie. ‘n Hof kan op
die getuienis van slegs leke-getuies wat betref ‘n persoon se
soberheidstoestand in ‘n geval
soos die onderhawige, ‘n
skuldigbevinding uitbring. Hierdie aspek vorm dus nie deel van
appellant se gronde van appèl
nie. In sodanige geval moet die
leke-getuies se getuienis egter aan sekere vereistes en standaarde
voldoen. In die verband is as
volg vermeld in
ALCOHOL, DRUGS &
ROAD TRAFFIC
, Cooper
et al,
op p. 15:
“
Thus, a
Court will be justified in convicting on the evidence on lay
witnesses only if the facts deposed to by them establish a
clear
picture of an obviously intoxicated person.”
In
S v EDLEY
1970
(2) SA 223
(N) was dit ook ‘n geval waar die appellant in ‘n
botsing betrokke was waar hy te vinnig gery het onder die heersende
omstandighede en met ‘n stilstaande, geparkeerde voertuig
gebots het. Leke-getuies het toe getuienis aangebied met betrekking
tot daardie appellant se soberheidstoestand onmiddellik na die
plaasvind van die botsing. Daar is toe, onder andere, as volg op
226
A en verder beslis:
“
Be that as
it may, the question which is before us now is whether, on the
evidence I have briefly summarised, the State succeeded
in
discharging the onus which rested upon it to prove, not only that the
Appellant had taken alcohol and was under the influence
of alcohol,
but that, as a result of the consumption of alcohol, his judgment or
skill in the sense explained in Rex v Spicer,
1945 AD 433
, was
affected by the alcohol consumed by him… It is clear that in a
proper case the onus may be discharged by the State
without the aid
of medical evidence at all. There are cases in which it may be held –
and indeed, it has not infrequently
been held – on the
unsupported evidence of laymen who saw him at the relevant time, that
the guilt of the accused on such
a charge has been established. It
seems to me that the more gross and manifest the physical
manifestations of intoxication noted
by
credible
and reliable laymen
are, the more readily may medical evidence be dispensed with and that
the more equivocal the physical manifestations or indications
of
intoxication may be, the greater would be the need for the State to
lead medical evidence of the accused’s condition at
the
relevant time….. It seems to me to be a matter of
impossibility to infer with the necessary degree of certitude that
the alcohol which he undoubtedly consumed, to judge by the smell of
alcohol on his breath, had effected him to the requisite degree.
We
cannot say on his evidence, without the support of medical or other
scientific evidence, that his judgment was impaired, that
his skill
was diminished or that he acted with a rashness which he would not
have displayed had he not had anything to drink. These
are
possibilities – indeed, I would personally go so far as to say
that they are probabilities – but that is not enough,
for the
onus is on the State to satisfy the Court beyond reasonable doubt
that the alcohol he consumed had that effect.
Mr Fourie, for the State, asked us to
infer from the very act of the collision, considered in conjunction
with the other evidence
to which I have referred, that the alcohol
did indeed affect the appellant’s judgment or skill. It is not
possible to draw
that inference in the circumstances of this case. It
is undoubtedly a factor which must be taken into consideration but,
in the
circumstances of this case and having regard to the moderation
of the terms used by those who described the accused’s
condition,
it is impossible to say that it is more likely that the
collision was caused as a result of the influence of alcohol on the
appellant
than simply as a result of negligent driving of which
perfectly sober people have also been known to be guilty….. It
seems
to me that the Magistrate ought to have had a doubt and ought
to have acquitted the appellant on the main charge for want of proof
that his judgment or skill was affected by the alcohol he consumed.
Mr Gordon conceded that the appellant
was clearly guilty of the second alternative charge, that is, of
negligent driving, and indeed
it is clear that he was so guilty. He
gave no evidence explaining the circumstance that he collided with a
stationary car and,
indeed, there is nothing on the record to suggest
any innocent explanation. It is not possible to say at what speed he
was travelling
but what emerges clearly from the evidence is that he
came around the corner at a speed which was excessive in the
circumstances
and that he thereafter failed to exercise sufficient
care and failed to avoid colliding with the motor car which was
legitimately
in the street, parked on the correct side of the road.
His negligence appears clearly from the record.” (eie
beklemtoning)
[21] Dit moet vermeld
word dat die verhoorhof die getuienis van die vierde staatsgetuie,
Konstabel Tsoenyane, verwerp het as ongeloofwaardig
en onbetroubaar.
Die verwerping van hierdie getuie se getuienis word nie aangeveg deur
appellant nie. Na my mening het die verhoorhof
tereg hierdie getuie
se getuienis verwerp en ag ek dit dus onnodig om verder hiermee te
handel.
[22] Dit laat dan slegs
Mnr Mofokeng en Sersant Maartins se getuienis wat betref appellant se
soberheidstoestand. Wat Mnr Mofokeng
se getuienis betref, is die
wesenlike aspekte met betrekking tot sy getuienis in hoof die
volgende:
Appellant het na die
botsing probeer om die voertuig aan te skakel, maar kon hy dit nie
regkry nie.
Appellant kon nie praat
nie, omdat hy aldus die getuie, te sterk onder die invloed van
drank was.
Appellant het ‘n
bottel in die voertuig tussen sy bene gehad en met beide hande
vasgehou, hoewel die getuie nie weet watter
soort drank dit was
nie, maar volgens hom was dit wel ‘n drank- of bierbottel.
Appellant het ook op ‘n
stadium met sy kop vooroor gebuig gesit.
Die getuie het gemeen
dat appellant onder die invloed van drank was.
Volgens die getuie het
appellant nooit met hom gepraat nie, ook nie toe appellant die
tweede keer teruggekeer het na die toneel
vanaf die dorp saam met
die polisie nie.
[23] Ten tyde van
kruisverhoor, toe die geloofwaardigheid en betroubaarheid van die
getuie in die algemeen, sowel as die geloofwaardigheid
en
betroubaarheid van sy waarnemings en opinie getoets is, het die
volgende uit sy getuienis geblyk:
Die getuie gebruik nie
self alkohol nie. Volgens hom sien hy dus gewoonlik persone wat
onder die invloed van alkohol verkeer
in die straat verby loop en
eien hy sodanige persone aan die volgende twee punte, synde dat
hulle slingerend loop en dat hulle
gereeld urineer. Hy gee dan
egter toe dat hy nie vir appellant daardie dag gesien loop het nie
en hom ook nie gesien urineer
het nie.
Die getuie kon glad nie
getuig wat se soort drankbottel dit was wat hy na bewering tussen
appellant se bene gesien het nie en
blyk dit dat hy inderwaarheid
nie kan identifiseer of dit ‘n drank-, water- of
koeldrankbottel was nie.
23.3 Op die stadium wat
Mnr Nzimande met appellant in appellant se voertuig die toneel
verlaat het, was daar baie persone op die
toneel wat opstandig en
opruierig was as gevolg van die voorval.
Toe die getuie
aanvanklik onder kruisverhoor gevra is hoe hy ‘n dronk
persoon identifiseer, gegewe dat hy nie self alkohol
gebruik en
derhalwe nie plekke soos tavernes besoek nie, was sy antwoord dat
hy die bottel gesien het wat appellant tussen
sy bene gehad het.
Die getuie het nie die
botsing gesien gebeur nie, maar slegs die geluid van die bande
gehoor en toe hy uitgaan, het hy gesien
dat appellant se voertuig
reeds in die sinkstruktuur vasgery het.
Anders as in sy
getuienis in hoof, toe hy aangedui het dat appellant geensins met
hom kon praat nie, blyk dit tydens sy kruisverhoor
dat, volgens die
getuie, hy wel in gesprekke met appellant was toe appellant die
tweede keer op die toneel was saam met die
polisie, waartydens die
getuie aangedui het dat aangesien appellant aangebied het om vir
die skade te betaal, alles volgens
hom reg en afgehandel was.
[24] Op die aanvaarding
dat die getuie wel ‘n bottel tussen appellant se bene gesien
het, blyk dit dat hoewel hy nie eers
die bottel kan identifiseer nie,
hy voortspruitend daaruit tot die konklusie “gespring”
het dat appellant onder die
invloed van alkohol is. Dit word verder
bevestig deur die feit dat dit duidelik blyk dat dit wat die getuie
getuig hy gewoonlik
‘n dronk persoon aan eien, nie ter sprake
was in die onderhawige geval nie. Aan die een kant getuig die getuie
ook dat appellant
te sterk onder die invloed van drank was om met die
getuie te kon praat, maar aan die ander kant getuig die getuie dat hy
‘n
gesprek met appellant gehad het waartydens hulle ooreengekom
het dat appellant vir die skade sal vergoed. Nie net het die getuie
homself dus weerspreek wat betref die vraag of hy met appellant ‘n
gesprek gevoer het, aldan nie, maar blyk dit verder dat
sy bewering
dat appellant
nie kon
praat nie, derhalwe nie korrek kan wees
nie.
Die enigste aspekte wat
oorbly, is sy bewering dat appellant probeer het om die voertuig aan
te skakel, maar dit nie kon doen nie,
en dat hy op ‘n stadium
met sy kop afgebuig gesit het. Dit is na my mening, onder die
omstandighede, redelik neutrale bewerings
wat nie as fundering
gebruik kan word vir ‘n afleiding bo redelike twyfel dat dit
aanduidend is daarvan dat appellant onder
die invloed van drank
verkeer het nie. In ieder geval het appellant getuig dat hy geskok
was na die botsing, aangesien dit sy tweede
botsing in `n kort
tydperk was en dat hy daarom aldus reageer het.
[25] By behoorlike
evaluering van Mnr Mofokeng se getuienis, op die wyse en basis soos
uiteengesit in die regspraak waarna ek reeds
verwys het, blyk dit dus
na my mening dat daar nie werklik enige behoorlike fundering vir
hierdie leke-getuie se gevolgtrekking
dat appellant onder die invloed
van alkohol was, is nie.
[26] ‘n Verdere
aspek wat vermeld moet word, is dat die verhoorhof in sy uitspraak
vermeld het dat die vraag bestaan waarom
appellant se vriend die
voertuig daar sou weg bestuur het en waarom hulle die toneel verlaat
het. Die verhoorhof vermeld dan pertinent
as volg:
“
Ek weet daar
was die weergawe van mense wat daar op die ongelukstoneel saamgedrom
het, ensovoorts, maar die vraag staan steeds.”
Na my mening blyk dit dat
die verhoorhof ‘n negatiewe afleiding daaruit gemaak het dat ‘n
ander persoon as appellant
die voertuig bestuur het en in besonder
dat hulle die toneel verlaat het. Dit blyk egter dat daar wel ‘n
redelike verduideliking
hiervoor is. Soos reeds vermeld, het Mnr
Mofokeng self getuig dat daar ‘n samedromming van persone was
en dat hierdie persone
opruierig was. Hierdie getuienis is inderdaad
ook deur Sersant Maartins in sy getuienis bevestig, deurdat hy
spesifiek getuig het
dat dit wat aanvanklik sy aandag op die
tersaaklike toneel gevestig het voor hy die radioberig daaromtrent
ontvang het, juis die
feit dat daar ‘n klomp mense daar
saamgedrom het, was. Hy het ook spesifiek getuig dat op die stadium
wat hulle saam met
appellant na die toneel teruggekeer het vanaf die
dorp, daar ‘n samedromming van ‘n klomp mense was en dat
hy gevrees
het dat daar op daardie stadium ‘n bakleiery sou
uitbreek. Gevolglik kan daar na my mening nie ‘n negatiewe
afleiding
daarvan gemaak word dat appellant-hulle op daardie stadium
die toneel verlaat het nie. Wat betref die feit dat Nzimande die
voertuig
bestuur het eerder as appellant, blyk dit dat appellant nie
hieromtrent gekruisverhoor is nie en dat hy gedurende herverhoor
getuig
het dat dit was omdat hy bang was vir die persone wat op die
toneel was en wat met hom wou baklei. Onder hierdie omstandighede en
waar hierdie weergawe van appellant nie onder kruisverhoor getoets is
nie, meen ek dat daar nie enige nadelige afleiding hieromtrent
teen
appellant gemaak kan word nie.
[27] Wat Sersant Maartins
se getuienis betref, het die volgende tersaaklike aspekte uit sy
getuienis in hoof geblyk:
Toe Sersant Maartins en
ander polisiebeamptes op die toneel opdaag, was die voertuig reeds
van die toneel verwyder. Hulle het
egter daarna die voertuig in die
dorp opgemerk. Mnr Nzimande het die voertuig bestuur, terwyl
appellant agter in die voertuig
gesit het. Volgens die getuie het
hy toe opgemerk dat appellant se oë bloedbelope was en terwyl
appellant na hulle gekyk
het, het hy sy kop baie beweeg. Dit het
dus vir die getuie voorgekom dat hy onder die invloed van alkohol
was.
Die getuie het nie self
met appellant gepraat nie. Hy het vir die ander polisiebeamptes
gesê dat hulle aan appellant moes
oordra dat hulle na die
toneel moet teruggaan, waarna Mnr Nzimande uit die voertuig geklim
het en Konstabel Tsoenyane die voertuig
terugbestuur het na die
toneel.
Terug by die toneel het
appellant en Mnr Mofokeng ooreengekom dat appellant die koste van
die herstel van die sinkhuis sal betaal.
(Hierdie getuienis is
insgelyks weer weersprekend met Mnr Mofokeng se getuienis, wie
getuig het dat appellant sodanig onder
die invloed van drank was
dat hy nie kon praat nie).
Hulle het egter
desnieteenstaande besluit dat hulle nog steeds gaan voortgaan en
hom laat aankla vir roekelose/nalatige bestuur.
Toe hy gevra is om
laasgenoemde antwoord te verduidelik, het die getuie sy getuienis
uitgebrei en ook verwys na dronkbestuur
as `n moontlike aanklag.
Vanweë hierdie besluit het hy vir Konstable Xholara (wie
intussen oorlede is) gevra dat hy aan
appellant moes tolk dat hy
daarvoor gearresteer word en dat hy saam met hulle na die
polisiestasie moes gaan.
Appellant het geweier
om uit die voertuig te klim en daarom het Sersant Maartins besluit
om Konstabel Tsoenyane saam met appellant
na die polisiestasie te
laat ry ten einde te verseker dat hy daar uitkom. Op daardie
stadium het die hoftolk, Rooikop, intussen
ook daar opgedaag en
aangedui dat hy die voertuig sou terug bestuur na die
polisiestasie, aangesien hy vir appellant goed ken.
By die polisiestasie
het appellant weggery terwyl die getuie besig was om die
administratiewe reëlings te tref vir doeleindes
van die
vertrek na Bethlehem Hospitaal ten einde ‘n bloedmonster
vanaf appellant te verkry.
Die getuie en van die
ander polisiebeamptes is toe na appellant se woning, waar hulle sy
voertuig parkeer gesien staan het,
daarna aan die deur geklop het,
maar niemand het oopgemaak nie. Hulle het toe teruggegaan na die
polisiestasie.
[28] Ten tyde van
kruisverhoor, synde weereens waartydens die geloofwaardigheid en
betroubaarheid van die getuie se getuienis en
waarnemings getoets is,
en waarna die verhoorhof glad nie in sy uitspraak verwys het nie,
blyk die volgende:
Hoewel die getuie
toegee dat ontsnapping ‘n ernstige voorval is, erken hy dat
hy nie enige aantekening daaromtrent in
sy sakboekie gemaak het
nie.
Daar is op geen stadium
enige ontsnappingsdossier ten opsigte van appellant geopen nie, ten
spyte daarvan dat die getuie beweer
dat appellant op die toneel van
die voorval gearresteer was.
Daar is ook nie enige
regsverydeling dossier teen appellant geopen nie, ten spyte daarvan
dat die getuie beweer dat op die stadium
wat appellant by die
polisiestasie weggery het, hy reeds onder arres was en hy daar
weggery het ten einde te verhoed dat daar
‘n bloedmonster van
hom geneem kan word.
Die getuie het geen
ervaring van getuienis aflegging ten opsigte van sake wat betref
bestuur onder die invloed van sterk drank
nie en was hierdie sy
eerste saak daaromtrent.
Hy was nie naby genoeg
aan appellant om te kan sê dat hy na alkohol geruik het nie.
Die getuie het toegegee
dat appellant se bloedbelope oë ook vanweë ander redes
kon wees.
Die getuie het toegegee
dat persone wat in botsings betrokke was normaalweg geskok is en
dikwels anders optree as normaal. Hy
het egter ook getuig dat as ‘n
persoon aan skok ly, volgens dit wat hy al gesien het, so ‘n
persoon dan vinniger
optree, terwyl die reaksies van appellant meer
vertraagde reaksies was.
Die getuie is met sy
getuie verklaring gekonfronteer, waarin hy vermeld het dat
appellant sleeptong gepraat het en na drank
geruik het, terwyl hy
in sy getuienis getuig het dat appellant nooit met hom gepraat het
nie en hy nie na drank geruik het
nie. Hierdie teenstrydighede het
die getuie probeer verduidelik deur te getuig dat hy gehoor het hoe
appellant met ander mense
gepraat het en voorts het Konstabel
Tsoenyane vir hom gesê dat die voertuig binne na drank ruik.
Die getuie is ook
gekonfronteer met die feit dat hy nie in sy verklaring vermeld het
dat appellant gearresteer was nie. Die
getuie het bevestig dat dit
nie in die verklaring vermeld is nie, maar het geen verduideliking
daarvoor gegee nie.
Hy is ook gekonfronteer
met die feit dat daar nie in die verklaring vermeld is dat
appellant versoek was om uit te klim en in
die polisievoertuig te
klim, wat hy geweier het om te doen nie. Die getuie kon ook nie ‘n
verduideliking hieromtrent
gee nie.
In sy verklaring het
die getuie ook vermeld dat Rooikop by die polisiestasie vir
appellant sy voertuig se sleutels gegee het
en appellant toe
weggery het. Hierdie bewerings het hy verduidelik op die basis dat
hy dit nie fisies gesien het nie, maar
dat dit is wat Konstabel
Xholara hom meegedeel het.
[29] Wanneer appellant se
getuienis ten opsigte van die tersaaklike aspekte wat betref sy
soberheidstoestand en gepaardgaande relevante
gebeure oorweeg word,
blyk die volgende:
29.1 Volgens appellant
het hy die dag van die voorval vanaf Mpumalanga teruggekeer en was hy
op daardie stadium slegs ongeveer dertig
minute terug. Hy het ontken
dat hy enigsins onder die invloed van sterk drank was.
Wat sy bloedbelope oë
betref, het hy getuig dat hy moeg was vanweë die feit dat hy
vanaf Mpumalanga teruggery het.
Wat betref die feit dat
appellant vanaf die polisiestasie weggery het, het hy getuig dat
die polisie aan hom die sleutels van
sy voertuig oorhandig het en
aan hom gesê het dat hy maar kan ry.
[30] Alvorens ek die
getuienis van appellant in samehang met die getuienis van Sersant
Maartins oorweeg, meen ek dit is noodsaaklik
om daarop te wys dat die
verhoorhof by drie verskillende geleenthede in sy uitspraak verwys
het na Sersant Maartins se getuienis
dat appellant na bewering
weggery het vanaf die polisiestasie om te verhoed dat ‘n
bloedmonster van hom geneem word. Daar
word dan ook as volg deur die
verhoorhof hieromtrent opgemerk:
“’
n
Terloopse opmerking is, alhoewel die beskuldigde vrygespreek is op
die ontsnappingsklagte, behoort hy op hierdie stadium reeds
te besef
dat hy onder arres was.”
Na my mening het die
verhoorlanddros fouteer deur hierdie getuienis teen appellant in ag
te neem terwyl appellant reeds by sluiting
van die Staat se saak
ontskuldig bevind is op beide die aanklagte van ontsnapping uit arres
en van regsverydeling. Daar kan nie
aan die een kant (klaarblyklik)
bevind gewees het dat die staat nie hierdie aanklagte bo redelike
twyfel teen appellant bewys het
nie, maar dan aan die ander kant weer
insgelyks dieselfde optrede wat die Staat gepoog het te beweer
ontsnapping en regsverydeling
daarstel, teen appellant te gebruik
asof dit wel bewese is nie. Hierdie aspek van die Staat se saak kon
na my mening dus geensins
teen appellant gebruik gewees het nie.
[31] Wanneer die
getuienis van Sersant Maartins evalueer word, soos saamgelees met die
van appellant, is ek van mening dat gegewe
die wesenlike
weersprekings tussen Sersant Maartins se getuienis en sy getuie
verklaring wat betref die beweerde basisse waarop
die getuie van
mening was dat appellant onder die invloed van alkohol was, dit
wesenlike afbreuk doen aan hierdie getuie se geloofwaardigheid
wat
appellant se beweerde soberheidstoestand betref. Hoewel ek deeglik in
ag neem dat die feit dat ‘n getuie leuenagtig voorkom
oor
sekere aspekte, nie gebruik kan word as basis vir ‘n
gevolgtrekking dat hy in alle opsigte ook leuenagtig is nie, meen
ek
dat waar hier in wese met ‘n leke-getuie se getuienis gehandel
word, gegewe die feit dat hy geen ervaring van hierdie
tipe
oortredings en getuienis aflegging in hierdie tipe sake het nie, dit
noodsaaklik is dat so ‘n getuie se getuienis geloofwaardig
en
betroubaar moet wees alvorens dit geag kan word bo redelike twyfel
bewys daar te stel dat appellant onder die invloed van alkohol
was.
(Sien weer die regspraak reeds na verwys in paragraaf 20 hierbo.) Wat
betref sy getuienis dat appellant se oë bloedbelope
was, is ek
van mening dat appellant se weergawe hieromtrent, synde dat dit was
vanweë moegheid na sy reis vanaf Mpumalanga,
nie geag kan word
nie redelik moontlik waar te wees nie. Verdermeer, die blote feit dat
appellant se kop na bewering sou gesteier
het, regverdig ook nie as
die enigste redelike afleiding dat appellant onder die invloed van
alkohol was nie.
[32] Gevolglik is ek van
mening dat die Staat nie betroubare en geloofwaardige leke-getuienis
aangebied het wat bo redelike twyfel
bewys dat appellant onder die
invloed van sterk drank was ten tyde van die plaasvind van die
botsing nie.
[33] Addisioneel tot
voormelde, blyk dit in ieder geval dat die verhoorhof vanweë die
feit dat appellant beheer oor sy voertuig
verloor het en die botsing
plaasgevind het, “gespring” het tot ‘n konklusie
dat dit gebeur het omdat appellant
se bestuursvermoë verminder
of ingebeperk was vanweë die feit dat hy, soos die verhoorhof
bevind het, onder die invloed
van sterk drank was. Dit is egter nie
die enigste redelike afleiding dat die botsing plaasgevind het omdat
appellant se bestuursvermoë
aangetas of beperk was nie. In die
verband het appellant op sy eie weergawe en soos spesifiek deur die
verhoorhof ook in sy uitspraak
uitgewys, teen ongeveer 80 tot 90
kilometer per uur gery in ‘n gebied waar die spoedbeperking 60
kilometer per uur was. Terselfdertyd
het appellant ‘n
toegeeteken genader, waar hy wou draai, klaarblyklik sonder om spoed
te verminder. Dit is dus duidelik dat
hy te vinnig gery het onder die
heersende omstandighede. Dit is dus ook `n redelike afleiding dat die
botsing kon plaasgevind het
vanweë die hoë snelheid
waarteen appellant gery het. Dit kan verdermeer ook nie die enigste
redelike afleiding wees dat
appellant te vinnig gery het vanweë
die feit dat sy bestuursvermoë ingeperk of verminder was deur
die inname van alkohol
nie. Dit gebeur tog daagliks dat bestuurders
te vinnig ry onder heersende omstandighede en dan beheer oor hul
voertuie verloor,
sonder dat hulle onder die invloed van alkohol is
en sonder dat hul bestuursvermoë as gevolg daarvan ingebeperk
is. In hierdie
geval is daar nog die addisionele feit dat hoewel dit
uit Mnr Radebe se getuienis blyk dat die meganiese defek
per se
nie tot gevolg sou hê dat appellant beheer oor die voertuig
verloor nie, is dit gemeensaak dat die meganiese defek wel daar
was
wat onstabiliteit by die voertuig kon veroorsaak het. Alwaar
appellant dus te vinnig gery het onder die heersende omstandighede,
is ek van mening dat sy weergawe dat hy onder daardie omstandighede
gerem het, ‘n klapgeluid by die wiele gehoor het en toe
beheer
oor die voertuig verloor het, redelik moontlik waar is.
[34] Gevolglik is ek van
mening dat appellant se skuldigbevinding op die hoofaanklag van
aanklag 1, tersyde gestel moet word.
DIE ALTERNATIEWE
AANKLAG VAN ROEKELOSE OF NALATIGE BESTUUR:
[35] Die feit dat
appellant die spoedgrens oorskry het, stel nie
per
se
bewys van nalatige bestuur daar nie. In
SOUTH AFRICAN CRIMINAL LAW & PROCEDURE
,
supra,
op p. 36, par
G3 – 50, word dit as volg gestel:
“
Likewise the
fact that an accused has not complied with a statutorily imposed rule
of the road or other statutorily prescription
in relation to the
manneer of driving a vehicle, will not
per
se
establish
that the accused has driven negligently. At best a breach of a
statutory duty is a guide to the court in arriving at a
conclusion as
to whether there has been negligence or not in any particular case.”
[36] Die toets met
betrekking tot die vraag of ‘n bestuurder op nalatige wyse
bestuur het, is as volg verwoord in
REX v WELLS
1949 (3) SA 83
(A) op 88:
“
The test as
to whether a person was guilty of negligence in any given
circumstances is the same in criminal as in civil proceedings,
viz.,
did that person exercise that standard of care and skill which would
be observed by the reasonable man? See Rex v Meiring
(1927 AD 41
, at
p. 46) and Rex v Swanepoel
(1945 AD 444
, at p. 448).”
[37]
Waar appellant op sy eie weergawe ongeveer 80 tot 90 kilometer per
uur gery het in ‘n gebied waar 60 kilometer per uur
die
snelheidsgrens was en hy teen daardie spoed ‘n toegeeteken waar
hy wou draai genader het sonder om spoed te verminder,
beheer oor sy
voertuig begin verloor het en gerem het, maar steeds nie die voertuig
onder beheer kon bring nie met die gevolglike
botsing, is ek van
mening dat die totaliteit van die omstandighede bo redelike twyfel
bewys dat appellant die voertuig op nalatige
wyse bestuur het. Mnr
van Wyk het dan ook hierdie toegewing reeds ten tyde van sy betoog in
die hof
a quo
op verantwoordelike wyse tereg
gemaak, welke toegewing hy ook ten tyde van die aanhoor van die appèl
herhaal het. Volledigheidshalwe
moet vermeld word dat dit nie deur
Mnr Mohlala betoog was dat indien die skuldigbevinding op die
hoofaanklag tersyde gestel sou
word, appellant skuldig bevind behoort
te word aan roekelose bestuur nie. Met in agneming van die bepalings
van Artikel 63(2) en
63(3) van die Wet wat betref die vasstelling van
roekeloosheid of nalatigheid, is ek in ieder geval van oordeel dat
wanneer al
die feitlike omstandighede in ag geneem word, appellant
slegs aan nalatige bestuur skuldig bevind kan word en nie aan
roekelose
bestuur nie.
[38] Ek is gevolglik van
oordeel dat appellant op die alternatiewe aanklag tot aanklag 1,
skuldig bevind moet word aan nalatige
bestuur.
VONNIS:
[39] Laasgenoemde
bevinding het uiteraard tot gevolg dat daar ook met die opgelegde
vonnis ingemeng moet word, deurdat appellant
nou aan ‘n minder
ernstige misdryf skuldig bevind is.
[40] In terme van die
bepalings van Artikel 89(5)(b) van die Wet is die strafbepaling tot
dien effekte dat iemand wat skuldig bevind
word aan nalatige bestuur,
strafbaar is met ‘n boete of met gevangenisstraf vir ‘n
tydperk van hoogstens drie jaar.
Wat appellant se persoonlike
omstandighede betref, is hy ‘n staatsaanklaer van beroep en
verdien hy ‘n bruto maandelikse
salaris van R17 000-00 en ‘n
netto maandelikse salaris van R14 000-00. Hy is getroud en sy
eggenote is werkloos. Appellant
is die vader van drie kinders wie hy
versorg, en sorg hy ook vir ‘n verdere kind. Appellant was 38
jaar oud ten tyde van
die pleging van die misdryf en is hy ‘n
eerste oortreder.
[41] Wat die aard en erns
van die misdryf betref, is dit ‘n ernstige oortreding. Dit is
sodanige nalatige optrede van bestuurders
wat dikwels tot baie
ernstige ongelukke en selfs lewensverlies aanleiding gee. Gegewe dat
appellant juis ‘n staatsaanklaer
van beroep is, behoort hy by
uitstek deeglik bewus te wees wat die potensiële gevolge van
sodanige nalatige gedrag kan wees
en rus daar op hom ‘n swaar
plig om juis as voorbeeld vir die gemeenskap te dien wat die nakoming
van wet en orde betref.
Verdermeer speel die gemeenskap se belang in
hierdie tipe oortredings ‘n baie belangrike rol, aangesien die
optrede waaraan
appellant skuldig bevind is, juis optrede is wat in
belang van die beskerming van die gemeenskap se eiendom en van hul
lewens,
verbied word.
[42] Een van die
belangrikste faktore wat in ag geneem moet word by die oorweging van
‘n gepaste vonnis, is die graad van
nalatigheid van die
appellant. Hierdie faktor, tesame met die relevansie van ander
faktore, is met verwysing na gesag as volg uiteengesit
in
SOUTH
AFRICAN CRIMINAL LAW & PROCEDURE
,
supra
, op p. 37, par
G3 – 50:
“
The
principal factor to be considered in determining an appropriate
sentence in cases involving negligence in driving is the degree
of
negligence displayed by the accused. In some cases negligence is the
result of a mere lapse of concentration and, as such, merits
a
lighter punishment. On the other hand negligence may take a form of
deliberate risk-taking and as such may deserve a severe punishment.
The consequence of the accused’s
negligence in terms of harm or damage to others is not germane, in
that slight negligence
may produce calamitous consequences and gross
negligence may, fortuitously, cause no harm at all. The issue is thus
the nature
of the degree of negligence and not the consequences of
the negligence.
As a general rule imprisonment is not
an appropriate punishment, especially for a first offender. Where
aggravating features are
present a sentence of imprisonment without
the option of a fine may properly be imposed. Suspension of a
sentence of imprisonment
on condition that the accused is not
convicted of negligent driving is potentially a harsh punishment
since negligence can exist
in anything from ‘a momentary lapse
of attention to something akin to dolus’.”
[43] Volgens appellant se
verduideliking het hy die spoed van 80 tot 90 kilometer gery het
nadat hy by die inglipbaan ingedraai
het, aangesien die pad daar ‘n
opdraande gevorm het en hy sy spoed vermeerder het ter wille van die
opdraande. Hierdie snelheid,
gegewe die spoedbeperking, is egter ‘n
hoë spoed en verdermeer is dit ‘n uiters hoë snelheid
om teen te ry
wanneer ‘n toegeeteken, waar die bestuurder wil
draai, genader word. Dit blyk ook geensins uit appellant se getuienis
dat
hy spoed verminder het toe hy die toegeeteken genader het nie.
Aldus die foto album en die plan daartoe, Bewysstuk “G”,
blyk dit dat daar remmerke daarop aangedui is vanaf die punt wat die
voertuig buite beheer geraak het tot die punt wat die voertuig
die
pad verlaat het, as synde vier-en-twintig meter. Van waar die
voertuig die pad verlaat het tot waar die sinkhuis getref is,
is ‘n
verdere sewentien meter. Dit het tot gevolg dat die afleiding gemaak
moet word dat vanaf appellant beheer oor die voertuig
begin verloor
het en rem getrap het, hy oor die totale afstand van een-en-veertig
meter steeds nie beheer oor die voertuig kon
herwin nie. Laasgenoemde
scenario sou, na my mening, in isolasie gesien, aanduidend daarvan
gewees het dat appellant se snelheid
onder die heersende
omstandighede sodanig hoog was dat dit ‘n erge graad van
nalatigheid daarstel. Vanweë die feit dat
dit egter vasstaan,
soos reeds voorheen hierin bevind, dat appellant se voertuig wel op
daardie stadium die meganiese defek gehad
het wat die stabiliteit
daarvan kon beïnvloed het, temper dit die graad van appellant se
nalatigheid.
[44] Wanneer die elemente
van strafoplegging en al die ander bogemelde relevante feite en
omstandighede op ewewigtige wyse in ag
geneem word, is ek van mening
dat ‘n vonnis van R2 000-00 of by wanbetaling twee maande
gevangenisstraf, ‘n gepaste
vonnis is.
[45] Gevolglik word die
volgende bevele gemaak:
Appellant se appèl
teen sy skuldigbevinding op die hoofaanklag op aanklag 1 en die
opgelegde vonnis, word gehandhaaf.
Appellant se
skuldigbevinding op die hoofaanklag op aanklag 1 word tersyde gestel
en vervang met `n skuldigbevinding op die alternatiewe
aanklag tot
aanklag 1, en wel as volg:
“
Appellant
word skuldig bevind aan die oortreding van die bepalings van Artikel
63(1), gelees met die bepalings van Artikels 1, 63(2),
63(3), 69, 73,
89(1) en 89(5) van die Nasionale Padverkeerswet, 93 van 1996, deurdat
hy ‘n motorvoertuig op ‘n openbare
pad op nalatige wyse
bestuur het.”
Appellant se opgelegde
vonnis word tersyde gestel en vervang met die volgende:
“
Betaling van
‘n boete van Tweeduisend Rand (R2 000-00) of by wanbetaling
daarvan, twee maande gevangenisstraf.”
Laasgenoemde vonnis moet
geag word opgelê te gewees het op 17 September 2010.
_____________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam:
______________
L.J. LEKALE, R
Namens die Appellant Adv
R van Wyk
In opdrag van:
Lamprecht Prokureurs
SASOLBURG
Namens die Respondent:
Adv M A Mohlala
In opdrag van:
Direkteur van Openbare
Vervolgings
BLOEMFONTEIN