About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 69
|
|
Speek v S (A34/2011) [2012] ZAFSHC 69 (19 April 2012)
VRYSTAAT
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Appélnommer :
A34/2011
In
die appél tussen:-
REGGIE SPEEK
........................................................................
Appellant
en
DIE STAAT
...........................................................................
Respondent
CORAM:
VAN
ZYL, R
et
VAN ROOYEN, WND R
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
VAN ZYL, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
19 APRIL 2012
_____________________________________________________
[1] Appellant het as
beskuldigde 1 saam met ‘n mede-beskuldigde, Calvin Topkin,
synde die klaagster se moeder, tereggestaan
op drie aanklagte van
onsedelike aanranding en vyf aanklagte van verkragting. Beskuldigde 2
is onskuldig bevind en ontslaan op
al agt die aanklagte. Appellant is
skuldig bevind op aanklagte 1 tot 5, soos aangekla, en onskuldig
bevind en ontslaan op aanklagte
6, 7 en 8. Appellant is daarop as
volg gevonnis:
Ten opsigte van
aanklagte 1 tot 3 (onsedelike aanranding): Drie (3) jaar
gevangenisstraf in terme van Artikel 276(1)(b) van
die
Strafproseswet, Wet 51 van 1977 (hierinlater na verwys as “die
Strafproseswet”) op elk van die aanklagte.
Ten opsigte van
aanklagte 4 en 5 (verkragting): Tien (10) jaar gevangenisstraf in
terme van Artikel 276(1)(b) van die Strafproseswet
op elk van die
aanklagte.
Dit is gelas dat die
vonnisse op die vyf aanklagte sodanig samelopend uitgedien moet word
dat appellant ‘n totale termyn van
vyftien (15) jaar direkte
gevangenisstraf moet uitdien.
[2] Appellant kom nou met
verlof van die verhoorhof in hoër beroep teen sy
skuldigbevindings sowel as die opgelegde vonnisse.
[3] Ek ag dit noodsaaklik
om reeds op hierdie stadium in meer detail te vermeld wat die
bewerings in die klagstaat teen appellant
was met betrekking tot elk
van die aanklagte, aangesien dit uiters relevant is in die
onderhawige appèl.
In aanklag 1,
onsedelike aanranding, is dit beweer dat appellant gedurende 2006
te Oppermansgronde in die distrik van Koffiefontein
weerregtelik en
opsetlik vir Deneline Remmelien, ‘n 13-jarige meisie
(hierinlater na verwys as “die klaagster”),
onsedelik
aangerand het deur haar hand op sy privaatdeel te sit, sy vinger in
haar privaatdeel te druk en haar privaatdeel
te lek.
In aanklag 2,
onsedelike aanranding, is dit beweer dat appellant gedurende 2006
te Oppermansgronde in die distrik van Koffiefontein
wederregtelik
en opsetlik die klaagster onsedelik aangerand het deur aan haar
privaatdeel te vat.
In aanklag 3,
onsedelike aanranding, is dit beweer dat appellant gedurende 2006
en te of naby Koffiefontein, in die distrik
van Koffiefontein,
wederregtelik en opsetlik die klaagster onsedelik aangerand het
deur haar borste te suig, haar privaatdeel
te betas en haar te
dwing om sy privaatdeel te betas.
In aanklag 4,
verkragting, is dit beweer dat appellant gedurende 2006 en te of
naby Koffiefontein, in die distrik van Koffiefontein,
wederregtelik
en opsetlik die klaagster verkrag het.
In aanklag 5,
verkragting, is dit beweer dat appellant gedurende 2006 en te of
naby Koffiefontein, in die distrik van Koffiefontein,
wederregtelik
en opsetlik die klaagster verkrag het.
3.6 In aanklag 6,
verkragting, is dit beweer dat appellant gedurende 2006 en te of naby
Koffiefontein, in die distrik van Koffiefontein,
wederregtelik en
opsetlik die klaagster verkrag het.
In aanklag 7,
verkragting, is dit beweer dat appellant gedurende 2006 en te of
naby Koffiefontein, in die distrik van Koffiefontein,
wederregtelik
en opsetlik die klaagster verkrag het.
3.8 In aanklag 8,
verkragting, is dit beweer dat appellant gedurende 2006 en te of naby
Koffiefontein, in die distrik van Koffiefontein,
wederregtelik en
opsetlik die klaagster verkrag het.
[4] Wat die klaagster se
getuienis betref, is ek nie voornemens om dit in detail hier te
herhaal nie. Dit is in ieder geval reeds
op volledige wyse opgesom en
uiteengesit in die hof
a quo
se uitspraak. Vanweë sekere
bevindings wat hierinlater gemaak gaan word, ag ek dit egter
noodsaaklik om op uiters kort wyse
te verwys na die onderskeie
voorvalle van onsedelike aanranding en/of verkragting waaroor die
klaagster getuig het.
Die eerste voorval het
plaasgevind by appellant se huis, waar appellant die klaagster en
homself in appellant se kamer toegesluit
het. Hy het sy hand op
haar klere op haar privaatdeel gesit, haar hand op sy klere op sy
privaatdeel gesit en sy tong in haar
mond gedruk. Volgens die
klaagster was hierdie die eerste voorval, synde op 16 Julie 2006,
en kan sy die datum spesifiek onthou,
aangesien sy dit op haar
selfoon se geheue gestoor het.
In appellant se huis in
die sitkamer, het appellant die deur gesluit en die gordyne
toegetrek. Hy het haar op die sofa laat
lê, haar bloesie
uitgetrek en haar borste gesuig.
Die klaagster is saam
met appellant na die skaapkraal en het hulle teen die koppie
opgeklim. Hy het haar tussen die klippe laat
lê, al sy klere
uitgetrek en ook haar klere uitgetrek. Appellant het sy
middelvinger in die klaagster se privaatdeel
gedruk. Hy het sy
privaatdeel in haar privaatdeel probeer insit, maar dit wou nie,
dit het uitgeglip.
Die klaagster was by
haar moeder se winkel saam met appellant in die winkel se toilet.
Appellant het op die toilet gesit, hy
het haar broekie uitgetrek,
haar opgetel en haar op hom neergesit. Hy het sy privaatdeel in
haar privaatdeel gedruk, waarna
hy bewegings uitgevoer het en
ejakuleer het.
Die klaagster was saam
met appellant in sy bakkie, toe hy haar broek se ritssluiter
oopgemaak het en sy hand op haar privaatdeel
gedruk het en ook sy
vinger in haar privaatdeel gedruk het. Hy het sy tong in haar mond
gesit en ook haar borste gesuig.
Die klaagster het die
betrokke aand saam met appellant in sy bakkie gery toe hulle iewers
tussen die bosse stilgehou het. Hy
het sy hand in haar privaatdeel
gesit en ook haar privaatdeel gelek.
Die klaagster en
appellant was in ‘n winkel wat in die nabyheid van die
droogskoonmakers is. Hy het ‘n matras vanaf
sy bakkie op die
winkel se vloer gegooi. Hy het die klaagster aangesê om te lê
en haar bene oop te maak. Ek ag
dit nodig om haar spesifieke
getuienis hier aan te haal wat as volg lees:
“
Hy druk toe
sy penis in my privaatdeel. Hy sê ek moet sy penis indruk by
die gaatjie maar ek doen dit nie. Hy vra toe of sy
penis binne was.
Dit was nie maar ek sê dit is binne. Hy lek en suig my toe op
my privaatdele en my borste.”
Die klaagster was saam
met appellant in sy suster se kamer. Hy het op die bed gelê
en vir klaagster aangesê om bo
op hom te lê.
Op die plaas by ‘n
kamp, het appellant en die klaagster weer teen ‘n randjie
uitgeklim. Appellant het sy klere uitgetrek
en vir die klaagster
aangesê om te lê. Hy het toe bo-op haar gelê. Hy
het ook sy vinger in haar privaatdeel
gedruk. Haar verdere
getuienis hier rondom haal ek
verbatim
aan:
“
Toe probeer
hy sy penis indruk. Hy vat toe self sy penis en druk dit in gaatjie.
Toe ek sy penis wil wegvat toe druk hy my vas.”
By appellant se huis,
het appellant sy klere uitgetrek en ook die klaagster se klere
uitgetrek. Hy het toe met sy hande aan
haar privaatdeel gevat en
ook aan haar borste.
Die klaagster was saam
met appellant by sy winkel. Hy het haar gevra om ‘n kondoom
aan sy privaatdeel te sit. Terwyl sy
daarmee gesukkel het, het hy
ejakuleer. Hy het haar toe aangesê om die kondoom in ‘n
wit glas te sit en dit in
die “kerk yard” te gaan weg
gooi. Sy het dit toe gedoen. Toe sy terugkeer na appellant, het
appellant sy hand in
haar broek gesit en sy middelvinger in haar
privaatdeel gedruk.
[5] Die klaagster het
twee beëdigde verklarings afgelê en is sy met die inhoud
daarvan ten tyde van haar getuienis aflegging
gekonfronteer. Ek ag
dit weereens noodsaaklik om op baie kortlikse wyse na die klaagster
se bewerings ten opsigte van die onderskeie
voorvalle in die twee
verklarings te verwys. In die verklaring van 30 September 2006 het sy
die volgende voorvalle beskryf:
Volgens die klaagster
was die eerste voorval by appellant se huis in die sitkamer, waar
hy die gordyne toegetrek het en die
vensters en deure toegemaak
het. Hy het verskeie onwelvoeglike voorstelle aan haar gemaak, wat
sy nie wou doen nie. Hy het
toe sy broek oopgemaak en haar hand op
sy privaatdeel gesit. Hy het ook aan haar borste gevat. Hy het haar
broek en haar onderklere
uitgetrek en toe sy vinger in haar
privaatdeel gedruk. Hy het ook met sy hele hand aan haar
privaatdeel gevat. Verdermeer het
hy ook haar privaatdeel gelek.
Die klaagster was saam
met appellant in sy bakkie, toe hy sy hand in haar broek gesit het
en aan haar privaatdeel gevat het.
Die klaagster was saam
met appellant in ‘n winkel naby die droogskoonmakers te
Koffiefontein. Hy het ‘n matras wat
agter in die bakkie was
op die winkel se vloer gegooi. Hy het gesê dat hulle op die
matras moes lê. Hy het haar
hempie opgetel en haar borste
gesuig. Appellant het toe die klaagster teen die muur vasgedruk en
bo-op haar gelê. Hy
wou haar klein broekie aftrek, maar sy
het gekeer. Hy het toe sy hande voor by haar broekie ingedruk en
haar aangesê
om haar hande by sy broek in te druk.
By appellant se winkel,
in teenwoordigheid van die klaagster, het appellant ‘n
kondoom aangesit en wou hy sy privaatdeel
in haar privaatdeel druk,
maar kon dit nie regkry nie. Hy het egter aangehou om, soos sy dit
stel, “aan my te vat”.
Die klaagster en
appellant was by appellant se plaas by ‘n sekere kamp. Hy het
gesê dat hulle anderkant die randjie
moes gaan. Appellant het
toe tussen die klippe gaan lê en sy T-hemp uitgetrek en die
klaagster forseer om ook haar T-hemp
uit te trek. Appellant het op
die klaagster gelê, haar kortbroek en haar klein broekie
afgetrek en sy privaatdeel in
haar privaatdeel gedruk. Hy het haar
ook verder betas en haar borste gesuig.
Wat die verklaring van 15
Februarie 2008 betref, het die klaagster opsommenderwys die volgende
bewerings gemaak:
Volgens die klaagster
het die eerste voorval plaasgevind op 16 Julie 2006, by appellant
se huis terwyl sy vrou wasgoed gewas
het, waar appellant haar na sy
kamer gevat het en “verkrag” het.
Sy meld dan dat dit in
totaliteit min of meer vyf keer gebeur het, maar kan sy nie die
datums daarvan onthou nie.
Volgens haar was die
tweede keer wat hy haar verkrag het op sy plaas by die kraal.
Appellant het ook die
klaagster twee keer by haar ma se huis verkrag.
Appellant het ook met
die klaagster na die Jacobsdal grondpad gery en haar daar verkrag.
Appellant het die
klaagster ook by haar ma se winkel se toilet verkrag.
By geleentheid het
appellant ook die klaagster in sy bakkie op sy plaas verkrag.
Appellant het ook die
klaagster by die winkel in die nabyheid van die droogskoonmakers
verkrag.
Klaagster meld ook dat
daar ander geleenthede was, maar wat sy nie mooi kan onthou nie.
[6] Wat appellant se
weergawe betref, was daar wel ‘n hegte verhouding tussen hom en
die klaagster, deurdat die klaagster,
volgens haar siening, vir
appellant en sy vrou as haar ouers aangeneem het. Daar was egter
probleme tussen appellant en die res
van die Remmelien-familie, wie
neefs van die klaagster se oupa is. Die klaagster het by haar oupa
grootgeword. Volgens appellant
het die klaagster egter haar oupa by
hom en sy vrou beskinder en gesê dat sy nie meer by haar oupa
se huis wou bly nie. Wat
sommige van die plekke en gebeure betref ten
opsigte waarvan die klaagster getuig het appellant haar onsedelik
aangerand en/of
verkrag het, het appellant erken dat hy wel onder die
omstandighede soos deur die klaagster getuig, by die tersaaklike
plekke saam
met die klaagster was, maar het hy deurentyd ontken dat
hy te enige stadium op enige wyse onsedelik of onwelvoeglik teenoor
haar
opgetree het.
[7] Mnr Nel, namens
appellant, het op uiters volledige wyse in sy betoogshoofde verwys na
die tersaaklike beginsels, met verwysing
na regspraak, wat betref die
versigtigheidsreëls wat van toepassing is in die onderhawige
geval by oorweging van die klaagster
se geloofwaardigheid. Die
klaagster was dertien jaar oud tydens die beweerde voorvalle en
vyftien jaar oud tydens haar getuienis
aflegging. Soos tereg deur Mnr
Nel uitgewys, is sy dus nie net ‘n kindergetuie nie, maar ook
‘n enkelgetuie. Hoewel
daar nie meer ‘n algemene
versigtigheidsreël ten aansien van die getuienis van slagoffers
van seksuele misdrywe geld
nie, word die getuienis van klaagsters in
sodanige gevalle egter steeds in sekere gevalle met addisionele
versigtigheid benader.
Mnr Nel het voorts in sy betoogshoofde en ook
ten tyde van sy mondelinge betoog verwys na die weersprekings wat
daar bestaan tussen
die klaagster se getuienis in die hof en haar
twee getuie-verklarings. Wat hierdie verklarings betref, het Mev
Claassens, namens
die Staat, ten tyde van haar betoog tereg daarop
gewys dat dit in ag geneem moet word dat hierdie “beëdigde”
verklarings,
gegewe die ouderdom van die klaagster, nie ware beëdigde
verklarings geag kan word nie. Sy het ook betoog dat veral gegewe
dat
die een verklaring ‘n getikte verklaring is, daar geen
getuienis voor die hof is met betrekking tot die omstandighede
waaronder hierdie verklarings afgeneem is, gegewe die jeugdigheid van
die klaagster nie. Selfs in die hof was daar steeds gebruik
gemaak
van ‘n tussenganger om die klaagster se getuienis op daardie
wyse op rekord te verkry, wat, aldus haar betoog, ‘n
persoon
des te meer die omstandighede waaronder die inligting vervat in die
verklarings verkry is, laat bevraagteken. Laasgenoemde
submissies van
Mev Claassens was egter nie heeltemal korrek nie, aangesien die
omstandighede waaronder die verklarings geneem was,
wel in
kruisverhoor aangespreek was. Sien oorkonde, p. 28, reël 7 tot
p. 29, reël 7.
Hoe dit ookal sy, Mnr Nel
het in ieder geval ten tyde van sy mondelinge betoog en
voortspruitend uit sekere vrae wat deur my en
my kollega, Van Rooyen
Wnd R, aan Mnr Nel gestel is, toegegee dat dit uit die totaliteit van
die getuienis blyk dat appellant ‘n
onnatuurlike belangstelling
as 47-jarige man in die jong klaagster gehad het. Dit blyk uit die
verskeidenheid selfoonoproepe wat
hy aan haar gemaak het, die
verskeie versoeke om na sy huis toe te kom, die versoeke om hom by
die winkel te ontmoet en ander soortgelyke
gebeure waartydens
geleentheid geskep is dat hy alleen saam met die klaagster kon
deurbring. Laasgenoemde gebeure is dan ook deur
appellant ten tyde
van sy mondelinge getuienis bevestig, hoewel hy bloot die pleging van
die onsedelike misdrywe ten tyde daarvan
ontken. Gevolglik het Mnr
Nel, na my mening tereg en op verantwoordelike wyse, toegegee dat in
die lig van die totaliteit van die
getuienis, hy nie op
verantwoordelike wyse kan submiteer dat op sy eie weergawe,
beskuldigde se weergawe nie hinderlike aspekte
het nie.
[8] Wat die verhoorhof se
evaluering van die getuies en getuienis betref, is ek van mening dat
dit nie op enige wyse gekritiseer
kan word nie en het die verhoorhof
na my mening in geen opsig hieromtrent misgetas nie. In die verband
gaan ek die mees tersaaklike
gedeeltes van die verhoorhof se
uitspraak aanhaal, ook met verwysing na sekere gedeeltes van die
getuienis (uitspraak, p. 109,
reël 22 tot p. 111, reël 15):
“
Die Hof moet
net vermeld dat sy deurentyd tydens haar getuienis aflegging
emosioneel geraak en gehuil het en dat die Hof by talle
geleenthede
moes verdaag sodat sy kon herstel. Tydens kruisondervraging deur die
verdediging ten opsigte van beskuldigde 1, het
sy getuig dat sy wel
twee verklarings by die polisie afgelê het welke verklarings
weer voor die hofsaak met haar deurgegaan
is. Sy het getuig soos sy
die gebeure kon onthou. Sy kan nie die presiese datums van die
voorvalle onthou nie. Die eerste keer
se datum kon sy onthou omdat sy
dit op haar selfoon gestoor het. Sy raak wel deurmekaar met die
volgorde waarin die gebeure plaasgevind
het. Sy het wel in haar
verklarings ten opsigte van die eerste geleentheid gesê dat hy
haar verkrag het hoewel hy nie sy
privaatdeel toe in haar privaatdeel
gedruk het nie. Sy meen egter dit is tog ook verkragting as sy hande
by haar privaatdeel gesit
het. Sy gee toe dat sy oor van die gebeure
nagelaat het om te getuig wat in haar verklaring vermeld is omdat sy
daarvan vergeet
het. Daar is ook meer kere wat hy haar verkrag het as
waarin in die aanklagte verwys is. Sy kan egter nie onthou hoeveel
kere daar
was nie. Sy het wel nie dadelik ‘n rapport gemaak nie
omdat beskuldigde 1 haar aangesê het om nie ander persone
daarvan
te vertel nie. Sy hou egter vol dat hy wel al hierdie dinge
aan haar gedoen het. Sy het later alles aan Susan Remmelien, haar
tante
vertel.
Sy het die eerste keer net vertel dat
hy aan haar borste gevat het en nie van die verkragting nie. Sy het
egter wel later alles
aan haar tante en haar oupa vertel. Sy het net
so vertel soos sy kon onthou en kan sy inderdaad nie alles onthou
nie. Sy was ook
bang om alles wat sy kon onthou aan haar oupa te
vertel uit vrees dat hy vir haar sou slaan. Beskuldigde 1 het ook
gesê dat
hy vir haar ‘n oopskuifselfoon sou koop as sy
sou stilbly oor die gebeure.
Sy gee toe in kruisondervraging ten
opsigte van die verskil in die verklarings dat sy wel so hier en daar
oor die gebeure deurmekaar
geraak het, maar sy getuig ook dat sy nie
sommer goed teen hom kan opmaak nie en dat hy wel hierdie dinge aan
haar gedoen het.....
Sy het wel sekere dinge waaroor sy getuig het in
die Hof nie ook in haar verklaring aan die polisie genoem nie omdat
sy soos sy
getuig het, nie dinge onthou nie.”
Die verhoorhof het hierna
op gedetaileerde wyse na die getuienis van appellant en sy getuie
verwys.
Hierna het die verhoorhof
na sekere aspekte verwys wat as bewese bevind word, wat onder andere
die volgende ingesluit het (uitspraak,
p. 126, reël 18 tot 24):
“
Dat daar wel
geleenthede was waar die klaagster saam met beskuldigde 1 in
beskuldigde-hulle se sitkamer op die sofa gesit het; saam
met
beskuldigde na ‘n kraal of randjie op sy plaas was; saam met
beskuldigde 1 in sy voertuig gery het en ook saam met hom
na die
klaagster se moeder se werk is en na sy eie werksplek toe.”
Die verhoorhof het toe,
onder andere, as volg voortgegaan (uitspraak, p. 127, reël 16
tot p. 138, reël 23):
“
Die
klaagster was nog ‘n jong dogter van 15 jaar oud toe sy haar
getuienis deur middel van ‘n tussenganger kom aflê
het.
Ten opsigte van die gebeure tussen
haar en beskuldige 1, is sy dan ‘n enkelgetuie en sal die Hof
uiteraard haar getuienis
met omsigtigheid benader...... Die klaagster
het haar getuienis kom lewer langer as twee jaar na die gebeure sou
plaasgevind het.
Selfs vir ‘n volwassene sou dit uiters moeilik
wees om alles in volgorde te onthou, wat nog te sê ‘n
kind. Die
klaagster het wel gedetaileerde weergawes verstrek van
sommige van die gebeure en telkemale terugverwys na die gebeure waar
haar
weergawe dan nie verskil het nie. Sy kon inderdaad nie datums
van die voorvalle weergee nie, wat te verstane is. Dit is die reël
eerder as die uitsondering dat jong kinders nie datums, dae van die
week of tye kan weergee nie. Dit is ook algemeen dat jong getuies,
veral waar daar verskeie gebeure plaasgevind het, nie die korrekte
volgorde van sulke gebeure kan weergee nie of dat sommige gebeure
uitgelaat mag word. Opmerklik is egter dat sy van die gebeure weer en
weer presies dieselfde herhaal wat aanduidend kan wees daarvan
dat sy
nie fabriseer nie. Gewoonlik waar daar stories opgedis word, veral
waar daar kinders ter sprake is, is dit betreklik maklik
om so ‘n
jong kind uit te vang deur net weer oor daardie gebeure uit te vra,
dan gewoonlik verskil hulle weergawes. Dit het
egter nie in haar
geval gebeur nie. Sy verwys telkemale terug na spesifieke insidente
soos na die gebeure binne sy woning, by die
kraal en by sy winkel en
ook in haar moeder se winkel. Sy verwys ook telkemale na sy beloftes
oor ‘n uitskuiffoon wat hy
vir haar sou gegee het en goed wat
hy vir haar moeder gegee het. Opmerklik is dat dit in stellings
bevestig is dat daar inderdaad
insidente was waar die klaagster en
beskuldigde 1 by betrokke kon wees of was, byvoorbeeld dat sy en
beskuldigde 1 wel op ‘n
sofa na ‘n film sit en kyk het in
sy woning, voor beskuldigde se vrou, Sonja, hom toe aangesê het
oom te gaan slaap
en dat beskuldige 1 en die klaagster wel by ‘n
later geleentheid by beskuldigde 2 se werksplek aan die agterkant van
die
winkel in die toilet in is.
Beskuldigde 2 het ten opsigte van
hierdie aspek verwys in haar getuienis dat sy toe opgemerk het dat
iets vreemds met die klaagster
aan die gang was by daardie
geleentheid. Daar is ook na die kraal insident verwys waar daar
tydens kruisondervraging deur Adv Jonker
aldus die inligting
klaarblyklik tot sy beskikking, bevestiging was dat die klaagster en
die beskuldigde alleen daar weg is na
die kraal en dat die klaagster
by hulle terugkeer ietwat anders sou opgetree het.
Dit is hieruit duidelik dat die
klaagster nie sommer dinge uit haar duim sou gesuig het nie. Dit is
ook duidelik dat soos die klaagster
getuig het, beskuldigde 1 se vrou
nie gelukkig was met haar, die klaagster, se aanwesigheid by hulle
huis nie....
Die Hof kan vir geen oomblik aanvaar
dat hierdie jong dogter in staat sou wees om die hele weergawe wat sy
verstrek het, uit haar
duim te suig nie en dat daardie weergawe dan
boonop netjies sou inpas by die gebeure wat inderdaad volgens
beskuldigde 1 plaasgevind
het verwysende dan na die sit op die sofa
en besoek aan die kraal, ensovoorts.....
Voorts sal dit onverklaarbaar wees
waarom sy beskuldigde 1 met wie sy nooit enige probleme gehad het,
valslik sou wou inkrimineer
nie....
‘
n Belangrike
aspek is voorts dat die mediese getuienis stawing verleen aan die
klaagster se weergawe dat daar wel penetrasie in
haar privaatdeel
was.....
Die klaagster verwys in hierdie saak,
verwysende dan ook na die mediese getuienis, die vinger slegs na een
persoon en dit is beskuldigde
1.
Susanna Magdalena Remmelien se
getuienis het bloot behels die oproepe deur beskuldigde 1 na die
klaagster se selfoon wat strook
met die klaagster se weergawe dat
beskuldigde een haar dikwels op haar selfoon gebel en boodskappe vir
haar gestuur het.
Sy getuig dan ook oor die rapport wat
deur die klaagster gemaak was....
Jan Remmelien, die oupa van die
klaagster, se weergawe handel bloot net oor die klaagster se
telefoonoproepe wat sy ontvang het
van beskuldigde 1 en die gesprek
wat hy dan met beskuldigde 1 sou gehad het.....
Hy het noot by die Hof die indruk
gewek dat hy daarop uit was om beskuldigde 1 in ‘n swak lig
voor die Hof te stel nie.....
Hy staaf die klaagster wel ten opsigte
van die feit dat beskuldigde 1 wel na haar selfoon toe geskakel
het.....
Bewysstuk “E” is ‘n
gewaarmerkte afskrif van die klaaster se geboortesertifikaat wat
daarop dui dat sy gebore
is op 2 Desember 1992 wat haar ouderdom ten
tyde van die gebeure in 2006 plaas op ongeveer 13 jaar.
Daarteenoor het die beskuldigde 1
tydens sy hoofgetuienis ‘n minder gunstige indruk op die Hof
gelaat. Ten opsigte van die
klaagster se aantygings en die rede
waarom sy hom valslik sou wou inkrimineer, trek hy gewoon net sy
skouers op.....
As sy weergawe egter in samehang met
die totaliteit van die getuienis en die waarskynlikhede onder die
soeklig geplaas word, is
daar verskeie aspekte uit sy weergawe wat
vreemd en hoogs onwaarskynlik voorkom.
Opmerklik is dat sy weergawes van
gebeure baie nou saam loop met die van die klaagster ten opsigte van
die bestaan van die verskillende
insidente, behalwe uiteraard dat hy
die inkriminerende gedeeltes daarvan betwis. Beskuldigde 1 is
telkemale soos ‘n kat op
‘n warm plaat rakende die
gebeure...
Hy weerspreek hom ook ten opsigte van
sekere aspekte...
Hy het telkemale ook met nuwe aspekte
in sy hoofgetuienis vorendag gekom wat nooit tydens die verhoor aan
die klaagster of aan ander
staatsgetuies gestel is nie...
Beskuldigde, as ‘n volwasse man,
het duidelik ‘n onnatuurlike en ongesonde belangstelling in die
jong klaagster wie
bloot ‘n kind was, openbaar deurdat hy haar
knaend gebel het, vir haar lugtyd gegee het en haar knaend by hom wou
hê.
Hy wil beweer ‘n jong kind al hierdie dinge uit haar
duim sou suig. Dit is gewoon te dik vir ‘n daalder vir die Hof
om te aanvaar.
Dit verduidelik ook steeds nie die
feit dat die klaagster inderdaad ou geneesde genitale beserings het
wat aanduidend is van penetrasie
in haar privaatdeel nie. Sy wys die
vinger na een persoon en dit is beskuldigde 1....
Na deeglike evaluasie dan van al die
getuienis en toepassing van al die versigtigheidsreël ten
opsigte van die klaagster se
getuienis asook die waarskynlikhede
aldan nie, is die Hof oortuig dat die klaagster en die ander getuies
vir die Staat inderdaad
eerlike en geloofwaardige getuies was.
Die Hof is ook tevrede en oortuig dat
die beskuldigde inderdaad leuenagtig is rondom sy betrokkenheid by
die klaagster en word sy
weergawe waar dit verskil met die van die
klaagster, as vals verwerp.
Die Hof is inderdaad bo redelike
twyfel oortuig dat beskuldigde 1 hom inderdaad skuldig gemaak het aan
van die aanklagtes teen hom.”
[9] Na behoorlike
bestudering van die rekord en die betoë deur die onderskeie
regsverteenwoordigers, vereenselwig ek my met
die bogemelde
bevindings en gevolgtrekkings van die verhoorhof en stem ek saam met
die korrektheid daarvan.
[10] Die volgende wat
egter oorweeg moet word, is die verhoorhof se verdere bevindings
voortspruitend uit bogemelde gevolgtrekkings
wat die getuienis
betref. In die verband het die hof as volg op p. 138, reël 24
tot p. 139, reël 21 van haar uitspraak
bevind:
“
Die
klaagster het oor ten minste drie geleenthede waarna sy spesifiek
verwys het, getuig waar die beskuldigde deur sy handelinge
haar
onsedelik aangerand het. Sy het dan ook getuig oor ten minste twee
pertinente geleenthede waarby daar sonder haar toestemming,
definitiewe penetrasie van beskuldigde 1 se privaatdeel in haar
privaatdeel was wat verkragting daarstel.
Hoewel sy inderdaad verwys het na
verskeie ander geleenthede, het sy nie daaroor in detail getuig nie.
Die Hof het egter vrae rondom
daardie geleenthede rakende die
hoeveelhede en wat presies daar gebeur het.
Die Hof is dus bo redelike twyfel
oortuig dat beskuldigde 1 hom inderdaad skuldig gemaak het aan
aanklagte 1 tot 3, naamlik die
onsedelike aanranding klagtes en ook
aanklagtes 4 en 5, verwysende na die verkragting-aangeleenthede.
Ten opsigte van die res van die
verkragting klagtes, sal die Hof aan die beskuldigde die voordeel van
twyfel gee aangesien die klaagster
nie in detail oor verdere
daadwerklike verkragtings getuig het nie.
Dus word beskuldigde een skuldig
bevind aan aanklagtes 1 tot 5 soos aangekla en ten opsigte van
aanklagtes 6, 7 en 8 word beskuldigde
onskuldig bevind en ontslaan.”
[11] Die verhoorhof het
dus nie in haar uitspraak aangedui watter van die voorvalle sy as
basis bevind vir die skuldigbevinding
op welke aanklagte nie. Dit
moet veral gesien word teen die agtergrond dat appellant op
agt
aanklagte tereggestaan het, synde drie van onsedelike aanranding en
vyf van verkragting, terwyl ek reeds in paragraaf 4 hierbo
opsommenderwys verwys het na
elf
voorvalle waaromtrent die
klaagster getuig het.
[12] Vanweë
laasgenoemde situasie, het Mnr Nel reeds in sy betoogshoofde die
volgende aan die hand gedoen:
“
6.3 Die
klaagster het van verskeie voorvalle getuig en was duidelik nie seker
oor hoe die volgorde van die beweerde voorvalle nie.
6.4 Dit is ‘n foutiewe
benadering om bloot dan te aanvaar dat die eerste drie voorvalle
waaroor sy getuig het dan inpas by
die drie klagtes van onsedelike
aanranding en dat die twee voorvalle van beweerde verkragting waaroor
getuig is, inpas by die eerste
twee klagtes van verkragting.
6.5 Dit is net so moontlik dat die
ander voorvalle van beweerde onsedelike aanranding waaroor getuig is,
inpas by die eerste twee
klagtes van verkragting.
Ten aansien van die
verkragtingklagtes het die verhoorlanddros nie in aanmerking geneem
dat daar ten tyde van sommige van die
beweerde
verkragtingsvoorvalle nie daadwerklike penetrasie plaasgevind het
nie.
6.6.1 ....
....
Sodanige pogings tot verkragting
mag in die omstandighede moontlik saamval met die eerste twee
klagtes van verkragting en
is die appellant gevolglik verkeerd
skuldig bevind.”
[13] Ter aanvulling van
Mnr Nel se argumente in sy betoogshoofde, het hy aan die hand gedoen
dat aangesien daar omskrywings is ten
opsigte van die onderskeie
onsedelike aanranding aanklagte, kon daar heeltemal tereg deur die
verhoorhof ‘n skuldigbevinding
op ‘n bepaalde van
sodanige aanklagte uitgebring word wanneer daar oor ‘n voorval
getuig is wat inpas by die handelinge
beskryf in elk van hierdie
onsedelike aanranding aanklagte. Omdat die aanklagte ten opsigte van
verkragting egter nie verder omskryf
is nie, kan die blote feit dat
verkragting tydens ‘n bepaalde geleentheid wel bewys is, nie
tot gevolg hê dat die Hof
van appél ‘n
skuldigbevinding op byvoorbeeld aanklag 4 in die verband kan
bekragtig nie, omdat dit nie duidelik is
dat dit die bepaalde voorval
is waarop die hof
a quo
die appellant op aanklag 4 skuldig
bevind het nie. Sodanige voorval kan, aldus Mnr Nel se betoog, ‘n
voorval wees waarop
die verhoorhof appellant (verkeerdelik) onskuldig
bevind het. Mnr Nel het betoog dat onder sodanige omstandighede,
appellant se
appèl ten opsigte van sy skuldigbevindings op die
twee verkragting aanklagte, behoort te slaag.
Teenoor voormelde het Mev
Claassens betoog dat juis omdat die klagstaat ten opsigte van die
verkragting aanklagte so wyd bewoord
is, is dit in orde dat die
verhoorhof die skuldigbevindings gekoppel het aan twee geleenthede
van penetrasie en nie aan spesifieke
voorvalle of gebeure nie.
Gevolglik kon die skuldigbevindings, aldus Mev Claassens se betoog,
onder enige van aanklagte 4 tot en
met 8 plaasgevind het, sonder dat
dit ‘n onreëlmatigheid daarstel.
[14] Soos tereg deur Mev
Claassens ten tyde van haar betoog vermeld, is die klaagster hier ‘n
kindergetuie wie oor ‘n
veeltal voorvalle wat oor ‘n
tydperk van ten minste drie maande gestrek het, moes getuig. In
sodanige geval is dit nie vreemd
dat sy deurmekaar geraak het met
datums en die kronologiese plaasvind van die gebeure nie. Soos ook
reeds daarop gewys het die
verhoorhof ook in haar uitspraak bevind
dat dit nie vreemd is nie. Ek stem heelhartig hiermee saam. Wat ek
egter wel uiters vreemd
en onverstaanbaar vind, is dat die persoon
wie verantwoordelik was vir die opstel van die klagstaat nie ook
hierdie realiteit voorsien
het nie. Daar moes sekerlik in hierdie
geval eerder gebruik gemaak gewees het van Artikel 94 van die
Strafproseswet, welke as volg
bepaal en magtig:
“
Waar dit
beweer word dat ‘n beskuldigde by verskeie geleenthede oor ‘n
tydperk ten opsigte van ‘n bepaalde persoon
‘n misdryf
gepleeg het, kan die beskuldigde in een aanklag weens die pleging van
daardie misdryf by verskeie geleenthede
in ‘n vermelde aanklag
aangekla word.”
Uit die bespreking van
hierdie artikel, soos vervat in
COMMENTRY ON THE CRIMINAL
PROCEDURE ACT
, Du Toit
et al,
is dit duidelik dat dit die
werkswyse is wat in die onderhawige geval gevolg moes gewees het,
beide ten opsigte van die aanklagte
van onsedelike aanranding en ten
opsigte van die aanklagte van verkragting. Die volgende bespreking
kom voor op p. 14-38:
“
The
accused’s constitutional right to a fair trial includes the
right to be informed of the charges with sufficient detail
to answer
it…. This right is placed in jeopardy where the prosecution
proceeds on a single count of rape while the evidence
supports a
multiplicity of rapes….. See S v Mponda
2007 (2) SACR 245
(C)
at [13] and [14]. It is, furthermore, in the interests of the
administration of justice that s 94 should be relied upon where
required. Where it is not practicable to individually specify each
occasion on which the crime was committed, the prosecution should
draw up the charge as provided for in s 94 of the Criminal Procedure
Act (S v Mponda at [16]). Reliance on s 94 not only protects
fair
trial rights, but is indeed also to the benefit of the administration
of the criminal justice system as a whole. At [15] in
S v Mponda
Binns-Ward AJ explained as follows:
‘
The
administration of justice is potentially prejudiced because the
allegation of only a single count of rape in a charge-sheet,
where
the evidence supports a multiplicity of counts, means that the
properly convicted accused can be sentenced only as a single-count
offender. As mentioned, this is cause for particular concern in
matters where the legislature has determined that offenders convicted
on multiple counts should receive prescribed higher minimum
sentences. It is liable to obstruct the achievement of legislative
objects in the fight against crime and to bring the criminal-justice
system into public disrepute.’
………
In S v Leopeng and Another
1966 (4) SA
484
(A), the following finding of the court
a quo
was
rejected: the accused were charged in separate charges with having
broken into the same shop and having stolen goods on two
occasions
over a period of three weeks. Because of poor investigation, the
goods which were stolen on the two occasions had become
so mixed up
that it was no longer possible for the state to prove what was stolen
on each occasion. Because the items were taken
from the same shop on
both occasions and within a relatively short period, the two offences
were treated as one and both accused
were convicted thereof.
The Appellate Division rejected this
approach as there was no evidence on which to base a conviction had
the two charges been considered
separately. In fact it was impossible
for the State to prove which items were taken on the first occasion
and which on the second.
It was therefore impossible to link any of
the accused with the theft of any particular item on either of the
two occasions.
Section 94 solves this problem.
According to this section it is not necessary to specify the dates on
which different offences were
committed in respect of the same
person. The various offences may be joint in one charge and it is
sufficient merely to allege
the period…..”
Dit moet vermeld word dat
Mnr Nel ten tyde van sy betoog in die hof ook na voormelde uitspraak
in
S v LEOPENG AND ANOTHER
, verwys het ter ondersteuning van
sy betoog.
[15] Wanneer die
klagstaat van naderby beskou word, blyk dit na my mening dat die
klagstaat, wat insluit die gedetaileerde bewerings
met betrekking tot
die drie onsedelike aanranding aanklagte, waarskynlik opgestel is aan
die hand van die twee verklarings van
die klaagster, saamgelees met
mekaar. Hierdie afleiding maak ek omdat dit duidelik blyk dat die
eerste drie voorvalle beskyf in
die klaagster se verklaring van 30
September 2006, welke ek reeds opgesom het in paragrawe 5.1 tot 5.5
hierbo, se bewerings ooreenstem
met die bewerings in die klagstaat
gemaak met betrekking tot die wyses waarop die klaagster onsedelik
aangerand is.
Verdermeer het sy die
vyfde voorval in voormelde verklaring beskryf as ‘n voorval wat
op die plaas by die kamp by die randjie
plaasgevind het, waartydens
die klaagster na bewering deur appellant verkrag is. Dit, saamgelees
met die bewerings in haar tweede
verklaring van 15 Februarie 2008,
waarna ek reeds in paragrawe 5.6 tot 5.12 hierbo verwys het, blyk dit
dat die klaagster beweer
het dat sy min of meer vyf keer verkrag is.
Laasgenoemde het, op waarskynlikhede, aanleiding gegee tot die Staat
se formulering
van die klagstaat wat betref die vyf aanklagte van
verkragting, sonder om verdere besonderhede daaromtrent te vermeld.
[16] Wat die aanklagte
van onsedelike aanranding betref, het die verhoorhof, soos ek reeds
na verwys het, appellant op daardie drie
aanklagte, synde aanklag 1,
2 en 3, “skuldig bevind soos aangekla”. Wanneer die
viva
voce
getuienis van die klaagster in die hof ten opsigte van
iedere en elk van die voorvalle egter oorweeg word (soos reeds
opgesom in
paragraaf 4 hierbo), blyk dit egter dat geen enkele van
die voorvalle wat deur die klaagster beskryf is, se bewerings wat
appellant
se handelinge betref, presies ooreenstem met die bewerings
gemaak in aanklagte 1, 2 en 3 nie.
[17] Die mees voor die
handliggende wyse waarop na my mening oorweeg moet word op watter
voorvalle die verhoorhof die skuldigbevindings
op die aanklagte van
onsedelike aanranding uitgebring het, is om te oorweeg en te evalueer
of dit op grond van die eerste drie
voorvalle is waaromtrent die
klaagster in die hof getuig het. Wanneer dit egter gedoen word, blyk
dit dat die verhoorhof nie op
grond van die klaagster se getuienis
hieromtrent appellant sou kon skuldig bevind op aanklagte 1 tot 3
“soos aangekla”
nie. In die verband verskil die bewerings
as volg:
In aanklag 1, word die
handelinge beskryf as “haar hand op sy privaat deel te sit,
sy vinger in haar privaatdeel te druk
en haar privaatdeel te lek”.
Die klaagster se getuienis wat die handelinge betref is egter dat
appellant sy hand op haar
klere op haar privaatdeel gesit het, hy
haar hand op sy klere op sy privaatdeel gesit het en sy tong in
haar mond gedruk het.
Die enigste ooreenstemming hier is dus die
feit dat hy haar hand op sy privaatdeel gesit het.
Die bewerings in
aanklag 2 is dat appellant aan die klaagster se privaatdeel gevat
het. Die klaagster se getuienis ten opsigte
van die tweede voorval,
is egter dat haar borste gesuig is.
Die bewerings in
aanklag 3 is dat appellant die klaagster se borste gesuig het, haar
privaatdeel betas het en haar gedwing het
om sy privaatdeel te
betas. Die klaagster se getuienis rondom die derde voorval was
egter tot dien effekte dat hy sy middelvinger
in haar privaatdeel
geplaas het en probeer het om haar met sy privaatdeel te penetreer,
maar nie suksesvol was daarmee nie.
[18] Dit blyk dus
ongelukkig onteenseglik dat die verhoorhof die skuldigbevindings op
aanklagte 1, 2 en 3 nie op die basis van die
eerste drie voorvalle
deur die klaagster in haar getuienis beskryf, kon baseer het nie. Die
verdere probleem is dat wanneer die
bewerings ten opsigte van die
ander voorvalle, soos deur klaagster in haar getuienis gemaak,
oorweeg word, is daar nie enige van
daardie voorvalle waarvan die
bewerings pertinent en lynreg ooreenstem met die onderskeie bewerings
in aanklag 1, 2 en 3 nie.
[19] Dit het tot gevolg
dat alwaar die verhoorlanddros nie in haar uitspraak dit
gespesifiseer het nie, daar totale onsekerheid
is met betrekking tot
welke voorvalle sy as basis vir die skuldigbevindings op aanklagte 1
tot 3 gebruik het. Dit het die verdere
gevolg, ook omdat dit nie
gespesifiseer is nie, dat dit nie moontlik is om vas te stel op
watter voorvalle die skuldigbevindings
ten opsigte van die
verkragtings gevolg het nie. Addisioneel hiertoe, en mees belangrik,
is die feit dat dit derhalwe ook nie duidelik
is op watter van die
voorvalle die verhoorhof appellant onskuldig bevind en ontslaan het
nie. Hoewel dit beslis so is dat iedere
en elke van die voorvalle
waaroor die klaagster getuig het, onsedelike aanranding deur
appellant op die klaagster daarstel, bevind
ons nou onsself in die
dilemma dat dit onmoontlik is om ‘n bevinding te maak welke een
van die onderskeie voorvalle die basis
gevorm het van ‘n
skuldigbevinding op aanklagte 1 tot 3, aangesien dit tot gevolg kan
hê dat ons as Hof van appél
‘n skuldigbevinding op
‘n voorval uitbring ten opsigte van welke voorval appellant
reeds deur die verhoorhof onskuldig
bevind is. Dit is reeds duidelik
dat die verhoorhof klaarblyklik fouteer het deur appellant op
aanklagte 1 tot 3 skuldig te bevind
“soos aangekla” en
sou ons, as Hof van appél, indien ons geweet het op welke
voorvalle daardie skuldigbevindings
gebaseer is, die
skuldigbevindings kon korrigeer deur dit te beperk tot die
tersaaklike handelinge deur die klaagster getuig wat
val binne die
omvang van die handelinge soos in elke onderskeie aanklag beskryf.
Onder die omstandighede kan dit egter nou nie
gedoen word nie.
[20] Wat die
skuldigbevindings ten opsigte van die twee uit die vyf aanklagte van
verkragting betref, het ek reeds daarop gewys
dat die voorvalle ten
opsigte waarvan die verhoorhof appellant hieromtrent skuldig bevind
het, nie in die uitspraak gespesifiseer
is nie, maar is daar slegs
verwys na twee geleenthede waarby daar penetrasie plaasgevind het.
Die vraag is nou, soos tereg deur
Mnr Nel geopper, welke voorvalle,
veral inaggenome nog dat drie voorvalle nou reeds “uitgesluit”
is as gevolg van die
skuldigbevindings op die aanklagte van
onsedelike aanranding, die verhoorhof die getuienis sodanig
geëvalueer het dat sy bevind
het dat daar daadwerklik penetrasie
was. In die verband maak die volgende feite en/of omstandighede die
situasie nog meer ingewikkeld:
Uit die klaagster se
getuienis aangebied in die hof, blyk dit dat sy in haar getuienis
in hoof getuig het van twee voorvalle
waar penetrasie plaasgevind
het, synde die voorval agter in haar moeder se winkel in die toilet
(voorval 4 beskryf in paragraaf
4.4 hierbo) en ten tyde van die een
voorval by die randjie op die plaas (voorval 9 beskryf in paragraaf
4.9 hierbo).
Ten opsigte van beide
die derde voorval (die ander voorval by die skaapkraal) en die
sewende voorval (die voorval in die winkel
naby die
droogskoonmakers), soos ook reeds na verwys in paragrawe 4.3 en 4.7
hierbo, het die klaagster getuig dat daar poging
tot penetrasie
deur appellant was, maar dat dit nie suksesvol was nie.
20.3 Laasgenoemde voorval
by die skaapkraal, synde die derde voorval wat deur die klaagster
beskryf is, is boonop ook een van die
voorvalle ten opsigte waarvan,
soos vroeër vermeld (paragraaf 17 hierbo), “vermoed”
word dat die verhoorhof moontlik
reeds ‘n skuldigbevinding ten
opsigte van die een aanklag van onsedelike aanranding op basis van
hierdie voorval uitgebring
het.
20.4 Steeds wat
laasgenoemde voorval by die skaapkraal betref, syne die derde voorval
wat deur die klaagster beskryf is, maar ten
opsigte waarvan sy in
haar getuienis in hoof getuig het dat daar
nie
penetrasie
plaasgevind het nie, het sy in haar getuienis in hoof getuig
(oorkonde p. 10, reëls 23 tot 24), dat appellant haar
ten tyde
van hierdie voorval gevra het of sy penis nie te kort, te lank of te
dik is nie, waarop sy geantwoord het dat sy nie weet
nie. Wanneer dit
vergelyk word met paragraaf 13 van haar beëdigde verklaring van
30 September 2006, soos dit voorkom op p.
165 van die oorkonde, blyk
dit dat ten tyde van `n voorval op die plaas by die randjie appellant
haar gevra het of sy penis nie
te groot of te lank of te dik is nie,
en sy geantwoord het dat sy nie weet nie, daar inderdaad
wel
penetrasie plaasgevind het.
20.5 Ten tyde van die
klaagster se kruisverhoor soos dit voorkom op p. 37 tot 38 van die
oorkonde, het die klaagster dan ook getuig
dat sy by twee geleenthede
op die randjie op appellant se plaas verkrag is.
20.6 Wat betref die elfde
voorval betref wat die klaagster in haar getuienis beskryf het (sien
paragraaf 4.11 hierbo), synde die
voorval by appellant se winkel, het
die klaagster geensins in haar getuienis in hoof die indruk probeer
skep dat hy by daardie
geleentheid gepoog het om haar privaatdeel te
penetreer nie. Ten tyde van haar kruisverhoor hieromtrent, soos dit
voorkom in die
oorkonde op p. 41, reëls 3 tot 14, blyk dit egter
dat hy wel gepoog het om haar te penetreer op daardie stadium, maar
nie
suksesvol was daarmee nie.
20.7 In haar opsomming
van die klaagster se getuienis, het die verhoorlanddros slegs ten
opsigte van een voorval pertinent in haar
uitspraak vermeld dat daar
penetrasie plaasgevind het, synde die voorval in appellant se moeder
se winkel in die toilet daarvan.
Sien uitspraak, p. 100, reëls
22 – 23. Wat betref die tweede voorval op die randjie, synde
die negende voorval waaromtrent
die klaagster getuig het en
waaromtrent sy, in haar getuienis in hoof, spesifiek getuig het dat
daar penetrasie plaasgevind het,
het die verhoorhof dit nie spesifiek
aldus in haar uitspraak vermeld nie. Sy het slegs as volg vermeld op
p. 106, reëls 8
tot 11, van die uitspraak:
“
Toe het hy
probeer om sy privaatdeel te vat en dit in haar privaatdeel te druk.
Sy het sy privaatdeel probeer wegneem, maar het
hy haar vasgedruk.”
[21] Wanneer voormelde in
ag geneem word, tesame met die feit dat uit die elf voorvalle
waaromtrent die klaagster getuig het, dit
nie duidelik is op welke
van daardie elf voorvalle die verhoorhof appellant skuldig bevind het
aan onsedelike aanranding nie, en
dit ook nie duidelik is ten opsigte
van welke van daardie voorvalle die verhoorhof uiteindelik tot die
gevolgtrekking gekom het
dat daar inderdaad penetrasie was nie, is
dit onmoontlik om vas te stel op die basis van welke voorvalle die
verhoorhof appellant
se twee skuldigbevindings op die verkragting
aanklagte gebaseer het. Wanneer die betoog namens die Staat in ag
geneem word, synde
dat dit nie gebaseer is op bepaalde voorvalle nie,
maar op ‘n bevinding van twee geleenthede van penetrasie is die
vraag
ongelukkig steeds ten opsigte van welke geleenthede die
verhoorhof bevind het dat die Staat bo redelike twyfel penetrasie
bewys
het. As dit nie vasgestel kan word nie en die korrektheid,
aldan nie, van sodanige bevinding derhalwe nie deur ons as Hof van
appél
geëvalueer kan word nie, is appellant op sy
vryspraak geregtig.
[22] Die feit dat die
verhoorhof fouteer het deur nie spesifiek te vermeld ten opsigte van
welke voorvalle bevind word dat die Staat
bo redelike twyfel
penetrasie bewys het nie, stel ons as Hof van appél, onder
hierdie omstandighede, ook nie instaat om
opnuut die getuienis te
oorweeg en te beslis of skuldigbevindings op die ten laste gelegde
aanklagte van verkragting bewys is nie.
Dit is so omdat ons nie weet
op welke van die elf voorvalle soos deur die klaagster beskryf, die
verhoorhof haar drie skuldigbevindings
ten opsigte van die aanklagte
van onsedelike aanranding en haar twee skuldigbevindings ten opsigte
van die aanklagte van verkragting
gebaseer het nie. Dit kan nie
uitgesluit word dat die verhoorhof moontlik op ‘n voorval waar
nie penetrasie bewys is nie,
wel (verkeerdelik) ‘n
skuldigbevinding op verkragting uitgebring het en ‘n voorval
waar penetrasie wel bewys is, (verkeerdelik)
nie ‘n
onskuldigbevinding op ‘n aanklag van verkragting uitgebring het
nie. Dit kan tot gevolg hê dat indien
ons die getuienis opnuut
sou oorweeg en sou besluit op welke voorvalle daar skuldigbevindings
behoort te wees, aldan nie, of sou
spekuleer op welke voorvalle die
verhoorhof die skuldigbevindings op aanklagte 1 tot 5 uitgebring het,
ons die gevaar sal loop
om ‘n skuldigbevinding uit te bring op
‘n voorval ten opsigte waarvan die verhoorhof reeds appellant
onskuldig bevind
het. Dit is nie toelaatbaar nie. Sien
S v Motha
1987 (1) SA 374
(T)
[23] Gevolglik het ons as
‘n Hof van Appél geen ander keuse as om vanweë die
verhoorhof se versuim om aan te dui
welke voorvalle die basis vorm
van die onderskeie skuldigbevindings, al die skuldigbevindings
tersyde te stel, nieteenstaande die
feit dat die wese van die
klaagster se getuienis aanvaar word nie.
[24] Derhalwe slaag
appellant se appèl en word sy skuldigbevindings en opgelegde
vonnisse tersyde gestel.
___________________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam:
_______________________
P.C.F VAN ROOYEN, WNDR
Namens die appellant: Adv
J Nel
In opdrag van:
Rossouws Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent:
Adv BG Claassens
In opdrag van:
Direkteur van Openbare
Vervolgings
BLOEMFONTEIN