About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 68
|
|
Mache v S (A48/2007) [2012] ZAFSHC 68 (27 March 2012)
VRYSTAAT
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Appélnommer :
A48/2007
In
die appél tussen:-
TSHEPO ANDRIES
MACHE
.....................................................
Appellant
en
DIE STAAT
...........................................................................
Respondent
CORAM:
VAN
ZYL, R
et
BLOEM, WND R
UITSPRAAK DEUR:
VAN ZYL, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
27 MAART 2012
_____________________________________________________
[1] Appellant het
tereggestaan op ‘n aanklag van roof met verswarende
omstandighede, deurdat dit beweer is dat hy op of omtrent
8 Mei 2005
en te of naby Jerusalema Park, Welkom, vir Velaphi August Fihla
(hierinlater na verwys as “
die klaer
”)
wederregtelik en opsetlik aangerand het en toe ‘n Lanco
horlosie ter waarde van R250-00 en kontant in die bedrag
van R120-00
vanaf die klaer beroof het, by die pleging van welke roof ‘n
vuurwapen of ander gevaarlike wapen gebruik is.
Die klagstaat het ook
spesifiek verwys na die bepalings van Artikel 51 van die
Strafregwysigingswet, Wet 105 van 1997, ten opsigte
van die
voorgeskrewe minimum vonnis wat van toepassing is.
[2] Appellant het
regsverteenwoordiging geniet in die hof
a quo
en het hy
onskuldig gepleit op die basis dat hy alle bewerings teen hom ontken.
Na die aanhoor van die getuienis, is appellant
egter skuldig bevind
soos aangekla. Ten tyde van vonnisoplegging is daar bevind dat daar
wesenlike en dwingende omstandighede bestaan
wat noodsaak en
regverdig dat ‘n mindere vonnis dan die voorgeskrewe minimum
vonnis van vyftien jaar gevangenisstraf opgelê
word, waarop
appellant tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis is.
[3] Appellant het aansoek
gedoen om verlof om te appelleer teen sy skuldigbevinding, welke
aansoek deur die verhoorhof van die hand
gewys is. Appellant het
daarop ‘n petisie tot hierdie hof gerig vir verlof om te
appelleer teen sy skuldigbevinding, welke
petisie ten opsigte van sy
skuldigbevinding toegestaan is.
[4] Volledigheidshalwe
moet dit vermeld word dat beide Mnr van der Merwe, wie namens
appellant ten tyde van die aanhoor van die
appèl verskyn het,
en Mnr Ntimutse, wie namens die staat verskyn het, in hul
betoogshoofde ook gehandel met die opgelegde
vonnis. Mnr van der
Merwe het egter daarin toegegee dat hy nie enige sinvolle submissie
kan maak op grond waarvan daar ingemeng
behoort te word met die
opgelegde vonnis nie. By die aanvang van die aanhoor van die appèl,
het ek egter vir Mnr van der
Merwe daarop gewys dat die petisie slegs
gerig was teen appellant se skuldigbevinding en dat die verlof om te
appelleer wat voortspruitend
uit die petisie toegestaan was, ook
slegs ten opsigte van appellant se skuldigbevinding was. Mnr van der
Merwe het daarop toegegee
dat dit ‘n
bona fide
oorsig
aan sy kant was en het hy bygevolg ook saamgestem dat die onderhawige
appèl van appellant dus slegs teen sy skuldigbevinding
gerig
is.
[5] Appellant het op die
dag van die voorval om ongeveer 17h00 op ‘n voetpaadjie deur ‘n
oop stuk veld oppad na sy huis
gestap. Hy het geen alkohol ingeneem
nie en was by sy volle positiewe. Hy is toe hy deur twee persone van
vooraf genader. Hulle
het verby hom gestap, maar hom toe van agter
gegryp. Sy hande is agter sy lyf vasgehou, terwyl een persoon ‘n
mes uitgehaal
het en verbaalgedreig het om die klaer daarmee te
steek. Laasgenoemde persoon het ook die klaer se beursie uit sy sak
geneem, die
geld daarin uitgehaal en die leë beursie weer op die
grond neergegooi. Daarna het hulle hom verlaat. Na die aanval het hy
ook vasgestel dat sy horlosie weg was. Die klaer het appellant in die
hof geïdentifiseer as een van sy aanvallers en dat appellant
die
persoon was wat die mes gehad het en ook die klaer se beursie vanuit
sy sak geneem het. Kort na die voorval het hy die tweede
staatsgetuie, Buti Michael Macane (hierinlater na verwys as
“Macane”), in daardie onmiddellike omgewing raakgeloop,
wie aan hom die name en adresse van die twee aanvallers verskaf het.
Appellant is voortspruitend hieruit op 14 Mei 2005 gearresteer.
[6] Dit is nie in dispuut
dat die klaer aldus beroof is die dag van die voorval nie. Die wese
van die dispuut in die onderhawige
geval is die identiteit van
appellant, aangesien dit appellant se weergawe is dat hy die dag van
die voorval by ‘n plaaslike
sokkerveld was waar hy ‘n
sokkerwedstryd gekyk het tot ongeveer 15h00 die middag, waarna hy na
sy ouerhuis te Thabong is.
Hy was geensins die dag van die voorval in
die omgewing waar die klaer beroof is nie en dra hy geen kennis van
die aanval op die
klaer nie.
[7] Wat die klaer se eie
identifisering in die hof van appellant betref, het Mnr van der Merwe
aan die hand gedoen dat hoewel die
sogenaamde
getuiebank-identifikasie (“
dock
-identifikasie”)
van appellant deur die klaer in die hof nie geag kan word geen waarde
te dra nie, dit vir doeleindes van
die betroubaarheid daarvan, steeds
gestaaf behoort te word deur verdere getuienis. In die verband het
Mnr van der Merwe ook tereg
gewys op die versigtigheidsreëls wat
in die onderhawige geval van toepassing is, aangesien die klaer ‘n
enkelgetuie
is ten opsigte van appellant se beweerde aanval op hom en
tweedens aangesien dit hier handel oor identifikasie.
[8] Wat getuienis ten
opsigte van identiteit betref, is dit geyk dat sodanige getuienis nie
net geloofwaardig moet wees nie, maar
ook betroubaar. In die verband
het die verhoorhof in sy uitspraak reeds verwys na die bekende
beslissing van
S v MTHETWA
1972(3) SA 766 (A) op 768 A –
C, waar as volg beslis is:
“
Because of
the fallibility of human observation, evidence of identification is
approached by the Courts with some caution. It is
not enough for the
identifying witness to be honest: the reliability of its observation
must also be tested. This depends on various
factors, such as
lighting, visibility and eyesight; the proximity of the witness; his
opportunity for observation, both as to time
and situation; the
extent of his prior knowledge of the accused; the mobility of the
scene; corroboration; suggestibility; the
accused’s face,
voice, build, gait and dress; the result of identification parades,
if any; and, of course, the evidence
by or on behalf of the accused.
The list is not exhaustive. These factors, or such of them as are
applicable in a particular case,
are not individually decisive, but
must be weighed one against the other, in the light of the totality
of the evidence, and the
probabilities….”
[9] Wat
“
dock
-identifikasie” as sulks betref, het die
Hoogste Hof van Appél as volg in
S v MDLONGWA
2010 (2)
SASV 419 (SCA) op 423 D – H beslis:
“
Additionally,
merely because Mbatha made a dock-identification of the appellant and
accused five does not make his evidence less
credible. Generally, a
dock-identification carries little weight, unless it is shown to be
sourced in an independent preceding
identification. But there is no
rule of law that a dock-identification must be discounted altogether,
especially where it does
not stand alone. Mbatha had ample
opportunity at least to observe two of the robbers who participated
in the robbery, as is visible
from the video footage, and who were
later identified as the appellant and accused five in the facial
comparison made by Inspector
Naude, an aspect to which I shall return
later, thus supporting his dock-identification of them. As is
apparent from the aforegoing,
Mbatha’s testimony is not a sole
testimony relied upon by the State. As already indicated, his
description of how the robbery
unfolded is corroborated by the video
footage. Although there were contradictions in his testimony as to
the clothing worn by the
appellant and accused five, and his
statement to the police, when his evidence is assessed as a whole
these contradictions are
not material and pale in significance.”
[10] Wat die klaer se
geleentheid tot waarneming van sy een aanvaller betref, synde die
aanvaller wie hy beweer appellant is, blyk
dit dat die klaer die twee
aanvallers gedurende daglig waargeneem het toe hulle op ‘n
afstand van ongeveer tien meter voor
hom was. Hy kon hulle gesigte
vanaf daardie afstand waarneem en het hy voortdurend na hulle gekyk.
Soos hulle nader gekom het,
het hy hulle fyn dopgehou deurdat hy
reeds op daardie stadium vermoed het dat hulle boosdoeners is.
Volgens hom kon hy verder appellant
se gesig deeglik waarneem,
aangesien appellant die persoon was wat gedurende die rooftog heeltyd
voor die klaer was. Hy was ook
die persoon wat ‘n mes gehad het
en vir appellant gedreig het om hom daarmee te steek. Volgens hom het
hierdie insident waartydens
hy appellant deurentyd kon waarneem,
ongeveer vyf minute geduur. Soos tereg deur Mnr van der Merwe in sy
betoog uitgewys, het die
klaer getuig dat hy nie vir appellant herken
of eien aan enige spesifieke identifiseerbare kenmerke nie, maar aan
sy gesig as geheel,
juis vanweë die feit dat hy voortdurend voor
hom was ten tyde van die voorval en ook vanweë die feit dat hy
die persoon
met die mes was wat die verbale dreigement geuiter het ne
hy daartydens vir appellant in die oë gekyk het. Wat die ander
aanvaller
betref, het die klaer van meet af aan toegegee dat hy hom
nie sal kan identifiseer nie, aangesien hy, anders as appellant,
gedurende
die aanval voortdurend agter die klaer was.
[11] Dit is egter wel so
dat die staat in hierdie geval ter aanvulling van voormelde
“
dock
-identifikasie” van appellant deur die klaer,
ook gesteun het op die getuienis met betrekking tot die
identifisering van appellant
deur die tweede staatsgetuie, Macane.
[12] Volgens die klaer is
daar in daardie betrokke stuk veld verskeie voetpaadjies, maar was
daar nie ander persone in die omgewing
waar hy beroof is nie. Nadat
hy beroof is, het hy egter vir Macane in die veld opgemerk, waarna
Macane die klaer geroep het en
vir hom gesê het dat hy die
klaer kan help deurdat hy die persone ken wat die klaer aangeval het.
Volgens die klaer het Macane
ook aan hom meegedeel dat die twee
persone voorheen dames in die omgewing verkrag het. Die klaer het hy
op daardie stadium onder
die indruk verkeer dat Macane die rooftog
gesien gebeur het. Volgens hom was sy aanvallers wel op daardie
stadium nog binne sig,
hoewel op ‘n afstand van ongeveer
vyfhonderd meter. Aangesien hy deur Macane meegedeel is dat die een
aanvaller se naam “Tshepo”
is, het die klaer agter die
twee persone aangehardloop terwyl hy Tshepo se naam uitgeroep het,
waarop die een aanvaller, synde
appellant, aldus die klaer, na agter
gekyk het in reaksie hierop. ‘n Ouer dame het egter vir die
klaer gestop en hom geadviseer
om eerder nie sy twee aanvallers te
agtervolg nie, aangesien hulle hom sal beseer. Hy is dus vandaar na
die polisiestasie om die
aangeleentheid te rapporteer.
[13] Wat Macane betref,
het Mnr van der Merwe, addisioneel tot sekere ander submissies,
betoog dat dit uit die klaer se getuienis
blyk dat Macane
bevooroordeeeld jeens appellant is, gegewe Macane se beweerde
mededeling aan die klaer dat appellant en die ander
persoon voorheen
vrouens in die omgewing verkrag het.
[14] Wat Macane se eie
getuienis betref, het hy getuig dat appellant uiters goed aan hom
bekend is, deurdat hulle saam grootgeword
het en hy appellant reeds
die afgelope ongeveer sestien jaar lank ken, terwyl hy en appellant
ook in dieselfde straat woonagtig
is. Dit blyk uit sy getuienis dat
terwyl hy deur dieselfde oop stuk veld geloop het as waar die klaer
beroof is, het appellant
en nog ‘n persoon van vooraf gekom en
het hul paaie dus gekruis. Ongeveer vyfhonderd meter verder het hy
die klaer teëgekom,
wie hom meegedeel het dat hy pas beroof was
en het die klaer twee persone uitgewys, na aanleiding van welke
uitwysing Macane besef
het dat dit die twee persone is wat kort van
tevore sy pad gekruis het, synde appellant en die ander persoon. Hy
het daarop die
klaer meegedeel dat hy slegs een van die twee persone
ken, synde appellant, wie bekend is as Tshepo, en wie in dieselfde
straat
as Macane woonagtig is. Volgens Macane het hy inderdaad nie
die rooftog gesien plaasvind nie, maar kon hy hulle eien vanweë
die feit dat die klaer hulle uitgewys het en hulle kort tevore Macane
se pad gekruis het. In kruisverhoor is hy gekonfronteer met
die vraag
oor hoe hy die twee persone op ‘n afstand van ongeveer
vyfhonderd meter kon geëien het nadat die klaer hulle
aan hom
uitgewys het. Hy het weer verduidelik dat dit was vanweë die
feit dat hy kort vantevore met hulle paaie gekruis het
en dat hulle
op daardie stadium die enigste persone in daardie omgewing was.
[15] Dit moet vermeld
word dat daar ‘n weerspreking tussen die klaer en Macane was,
deurdat die klaer nie spesifiek getuig
het dat hy sy aanvallers aan
Macane uitgewys het nie, maar eerder dat Macane hom spontaan nader
geroep het. Die klaer het egter
wel spesifiek getuig dat op die
stadium wat die gesprek tussen homself en Macane plaasgevind het, sy
aanvallers wel nog binne sig
was. Verder was daar ook ‘n
weerspreking in sy eie getuienis, deurdat hy homself weerspreek het
met betrekking tot die vraag
of hy eers aan die klaer die naam Tshepo
verskaf het voordat die klaer sy aanvallers agterna gesit het en deur
die ouer dame voorgekeer
is, of daarna.
[16] Soos reeds vermeld,
is appellant se weergawe dat hy geensins die dag van die voorval in
daardie omgewing was of een van die
twee persone was wat die klaer
aangeval het nie. Hy het egter bevestig dat hy en die getuie Macane
so goed aan mekaar bekend is
soos wat Macane getuig het. Volgens hom
het hy die tersaaklike sokkerwedstryd bygewoon saam met ene Letapa
Skosana. Letapa is woonagtig
aan die agterkant van Macane se huis.
[17]
Dit is wel bekend dat daar ‘n holistiese benadering gevolg moet
word by die beoordeling van getuienis, soos uiteengesit
in
S
v CHABALALA
2003
(1) SASV 134 (HHA) op 139 I en verder:
“
The trial
court’s approach to the case was, however, holistic and in this
it was undoubtedly right. The correct approach is
to weigh up all the
elements which point towards the guilt of the accused against all
those which are indicative of his innocence,
taking proper account of
inherent strengths and weaknesses, probabilities and improbabilities
on both sides and, having done so,
to decide whether the balance
weighs so heavily in favour of the State so as to exclude any
reasonable doubt about the accused’s
guilt.”
[18] Die aard van
appellant se weergawe, synde dat hy elders was ten tyde van die
pleging van die misdryf en geensins by of naby
die toneel daarvan
nie, is soortgelyk as ‘n alibi. By die beoordeling van
alibi-getuienis, is dit so dat hoewel ‘n
beskuldigde se
weergawe slegs redelik moontlik waar hoef te wees, sodanige weergawe
nie in isolasie beoordeel word nie, maar steeds
binne die konteks van
die totaliteit van die getuienis. In die verband is daar in
S v
VAN ECK
1996 (1) SASV 130 (A) op 134 J tot 135 D op nuut as volg
beslis:
“
Die
regsposisie aangaande ‘n alibi is soos volg deur Holmes Wn AR
in R v Hlongwane 1959 (3) SA 337 (A) op 340 H tot 341 D
uiteengesit:
‘
The legal
position with regard to an alibi is that there is no onus on an
accused to establish it, and if it might reasonably be
true he must
be acquitted. But it is important to point out that in applying this
test, the alibi does not have to be considered
in isolation. I do not
consider that in R v Masemang
1950 (2) SA 558
(A), Van Den Heever JA
had this in mind when he said at 494 and 495 that the trial Court had
not rejected the accused’s alibi
evidence “independently”.
In my view he merely intended to point out that it is wrong for a
trial court to reason thus:
“I believe the Crown Witnesses.
Ergo
,
the alibi must be rejected”. The correct approach is to
consider the alibi in the light of the totality of the evidence
in
the case and the Court’s impression of the witnesses.”
[19]
Wat betref die verhoorhof se evaluering van die getuies en die
getuienis, blyk dit dat wat die klaer betref, het die verhoorhof
in
sy uitspraak op volledige wyse verwys na die getuienis van die klaer,
die versigtigheidsreël van toepassing vanweë
die feit dat
die klaer ‘n enkelgetuie is met betrekking tot die roof as
sulks, die wyse waarop “
dock
-identifikasie”
benader moet word en ook die enkele weersprekings tussen die
getuienis van die klaer en Macane. Daarna het
die hof tot die
volgende gevolgtrekkings in sy uitspraak gekom:
“
In the
evaluation of the complainant’s evidence the court finds that
he did in fact make a good impression on the court. And
even though there may have been some
discrepancies between his evidence and the evidence of the second
state witness, that testified
in respect of the events after alleged
robbery, the court nevertheless finds that the evidence of the
complainant was satisfactory
and reliable….. The complainant
testifies that he observed his assailant for approximately five
minutes. It was approximately
5:00 p.m. when the incident took place.
So there is obviously sufficiently lighting or visibility for proper
observation. He testified
that his assailant was in close proximity
to him as he look into his assailant’s eyes during the
incident. He gave the court
the impression that he positive about the
identification of his assailant, that being the accused before
court….. The court
has made reference earlier in its judgment
to the complainant’s evidence in respect of observation. And
upon proper scrutiny
of the complainant’s evidence of
identification the court is satisfied that he properly identified his
assailant and in fact
had proper opportunity to do so. The witness
was confident about his identification.”
[20] Wat die getuie
Macane se getuienis betref, het die verhoorhof weer verwys na sekere
weersprekings in sy getuienis en ook tussen
sy getuienis en dié
van die klaer, maar tot die gevolgtrekking gekom dat dit nie
wesenlike weersprekings is nie. Die verhoorhof
het spesifiek ook met
die beweerde bevooroordeeldheid van Macane gehandel en is as volg
bevind:
“
In any
event, the second state witness too made a good impression the court.
He appeared to be an honest witness with no ulterior
motive to
fabricate evidence against the accused or to falsely incriminate him.
He was honest enough to tell the court that he
did not observe the
actual robbery. He was only able to testify about the incident or
events that took place after the alleged
robbery. He did not know
anything about the robbery until informed by the complainant. But he
was positive that he saw the accused,
bypassed him, together with
another person. He had prior knowledge of the accused. He knows the
accused very well and he had sufficient
opportunity to observe him.
There was obviously proper visibility as well. The court accepts his
evidence of identification as
being reliable and finds that is
strengthens the evidence of the complainant as the accused was near
the scene of the crime or
in close proximity to the complainant.”
[21] Die verhoorhof het
daarop die getuienis van appellant oorweeg in lig van totaliteit van
die staatsgetuienis en tot die gevolgtrekking
gekom dat appellant se
weergawe nie redelik moontlik waar kan wees nie en dat dit dus
verwerp moet word.
[22] Met inagneming van
die totaliteit van die getuienis, tesame met die regsbeginsels waarna
ek reeds hierbo verwys het, stem ek
saam met die submissie van Mnr
Ntimutse, dat bogemelde bevindings van die verhoorhof behoorlik
gefundeerd is en dat daar nie op
enige basis daarmee ingemeng kan
word nie.
[23] Mnr van der Merwe
het laastens betoog dat selfs indien dit aanvaar sou word dat Macane
nie fouteer het met betrekking tot sy
identifisering van appellant as
synde teenwoordig te gewees het op die tyd en plek van die voorval
nie, die staat steeds nie bo
redelike twyfel bewys het dat appellant
inderdaad een van die twee persone was wat die klaer aangeval het
nie. Ek kan egter nie
met hierdie submissie saamstem nie. Die
totaliteit van die getuienis moet steeds oorweeg word, dus ook die
identifisering van appellant
deur die klaer self, welke
identifisering ek reeds bevind het, soos ook deur die verhoorhof
bevind, betroubaar was. Wanneer die
getuienis van die klaer en Macane
dus saamgelees word, is ek van oordeel dat die hof tereg bevind het
dat die staat nie net bo
redelike twyfel bewys het dat appellant in
die omgewing van die rooftog was onmiddellik na afloop van die roof
nie, maar inderdaad
een van die twee persone was wat die klaer beroof
het.
[24] Ek is gevolglik van
oordeel dat daar geen basis is waarop met die verhoorhof se
bevindinge wat betref appellant se skuldigbevinding,
ingemeng kan
word nie.
[25] Derhalwe word
appellant se appèl teen sy skuldigbevinding, van die hand
gewys.
_____________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam:
_________________
G.H. BLOEM, WNDR
Namens die Appellant:
Mnr. P.L. van der Merwe
In opdrag van:
Bloemfontein Regsentrum
BLOEMFONTEIN
Namens die Respondent:
Adv. K.J.A. Ntimutse In opdrag van:
Direkteur van Openbare
Vervolgings
BLOEMFONTEIN