About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 53
|
|
Steyl v Smit en Anders (3601/2011) [2012] ZAFSHC 53 (22 March 2012)
VRYSTAATSE HOË
HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA
Saaknommer: 3601/2011
In
die saak tussen:-
SUSANNE
ELIZABETH STEYL
..............................................
Applikant
en
FRANCIS EDWIN SMIT
..........................................
Eerste Respondent
HELANI SMIT
.........................................................
Tweede
respondent
COSMOTHEKA SA (PTY)
LTD
...............................
Derde
Respondent
STUARTMILL BK
....................................................
Vierde
Respondent
BERTHA
SMIT N.O.
.................................................
Vyfde
Respondent
(in
haar hoedanigheid as trustee van
RANGOL
TRUST, IT2427
)
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
KRUGER, R
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP:
15 MAART 2012
_____________________________________________________
GELEWER OP:
22 MAART 2012
_____________________________________________________
[1] Applikant vra in die
Kennisgewing van Mosie die volgende regshulp, soos opgesom in Mnr.
Zietsman se betooghoofde: (1) ‘n
Verklarende bevel dat die
Eerste Respondent, alternatiewelik die Eerste, Tweede en Derde
Respondente se handelinge en optredes
in Derde Respondent jeens
Applikant onderdrukkende of benadelende optrede daarstel soos bedoel
in Artikel 163(1)(a) van Wet 71
van 2008 en derhalwe Applikant se
belange op ‘n onredelike wyse verontagsaam, en voorts twee
alternatiewe gebaseer op Artikel
163(1)(b) van Wet 71 van 2008 en
Artikel 163(1)(c) van Wet 71 van 2008; (2) ‘n Interdik deur
middel van ‘n
Bevel Nisi
ten einde Respondente te
verbied om te handel en/of op te tree soos na verwys in die
verklarende bevele wat in die alternatief
hierbo na verwys word; (3)
Bevel Nisi
wat verband hou met die oorkoop van die aandele van
die Applikant vanuit Derde Respondent deur Eerste, alternatiewelik
Tweede,
alternatiewelik Derde Respondente in die bedrag van R1
miljoen, alternatiewelik die waarde daarvan soos in Desember 2009
deur ‘n
onafhanklike rekenmeester, en in die verdere
alternatief die waarde daarvan soos deur die Hof bepaal, soos op
Desember 2009.
[2]
Mnr. Snellenburg, vir respondente, wys daarop dat hier verskeie
feitegeskille is en sê met verwysing na
PLASCON-EVANS
PAINTS LTD v VAN RIEBEECK PAINTS (PTY) LTD
[1984] ZASCA 51
;
1984 (3) SA 623
(A) dat finale regshulp slegs verleen kan word indien die feite,
uiteengesit deur die applikant wat erken word deur die respondent,
saamgelees met ander feite beweer deur die respondent, sodanige bevel
regverdig (634 H). Soos Mnr. Snellenburg sê, die toets
kom op
niks anders neer dan dat die hof op die respondent se weergawe die
applikant se aansoek beslis nie.
[3] Wat die oorkoop van
die aandele in die derde respondent betref, sê applikant dat sy
en die eerste respondent ‘n
ooreenkoms bereik het dat hy haar
aandele sou oorkoop vir R1 miljoen. Sy maak die volgende bewering in
haar funderende eedsverklaring:
“
Toe ek
BETHLEHEM toe moes verhuis, het ek en die Eerste Respondent
mondelings ooreengekom gedurende
Desember
2009
,
dat my aandele uitgekoop sou word deur die Eerste Respondent vir ‘n
bedrag van
R1
miljoen
;
R500,000.00
onmiddellik en
R500,000.00
by wyse van afbetaling.”
Sy sê die eerste
respondent het haar ongeveer ‘n maand later gekontak en
weereens onderneem om haar R1 miljoen te betaal
vir die uitkoop van
haar aandele. In die antwoordende eedsverklaring sê eerste
respondent dat dit heeltemal onwaar is dat
hy haar R1 miljoen vir
haar aandele aangebied het. Hy sê daar was nooit so ‘n
ooreenkoms bereik nie. Hy sê so
‘n ooreenkoms sou op
skrif gewees het. Op die basis van hierdie feitegeskil kan applikant
nie met haar bede rakende die oorkoop
van die aandele vir R1 miljoen
slaag nie.
[4] Wat die regshulp
betref wat handel met die verklarende bevel en die interdik, is dit
gemeensaak dat die applikant teen die einde
van 2009 na Bethlehem
verhuis het en van toe af ‘n beperkte rol gespeel het in die
maatskappy se sake. Die eerste respondent
verwys na ‘n epos wat
applikant op 8 September 2009 gestuur het:
“
Hi. Ek dink
ons moet dalk eens en vir altyd die ding uitklaar. Ek is nie by
Cosmoderm nie en het al hele ruk terug weggetrek uit
bfn uit, so eks
jammer ek kom nou eers by die geleentheid uit.”
Hier sê applikant
dat sy vanaf einde 2009 nie meer by die derde respondent betrokke was
nie.
[5] Aan die einde van die
advokate se betoog, het dit duidelik geword dat al wat hier moet
gebeur, is dat eerste respondent applikant
se aandele moet oorneem.
Die bedrag betaalbaar moet bepaal word. Verder bly kostes van die
aansoek in geskil.
[6] Wat die prysbepaling
van die aandele betref, moet ‘n onafhanklike ouditeur aangestel
word om die bedrag te bepaal. Die
aandeelhouersooreenkoms maak
voorsiening vir die bepaling van die prys van die aandele. Mnr.
Snellenburg wys daarop dat die applikant
genooi was om ‘n
deskundige te benoem vir die bepaling van die waarde van die aandele.
Eerste Respondent sê hy het
“tot vervelens toe aangebied
om applikant se aandele teen waarde te koop”. In die
respondente se repliek tot die applikante
se opponering van die
teenaansoek, sê eerste respondent dat die applikant uitgenooi
was om ‘n onafhanklike ouditeur
aan te stel, maar sy het
daardie aanbod in die wind geslaan. Uit die applikant se repliserende
eedsverklaring blyk dit dat die
applikant bekommerd was dat die
aandele se waardes bereken sou word “sonder in ag genome met
die ongemagtigde lenings wat
die Eerste Respondent aangegaan het om
die aandele direk negatief te beïnvloed” (bl. 479 ad para
84).
[7] Mnr. Snellenburg
verwys ook na die eedsverklaring van Du Toit, wat die boeke van die
derde respondent gedoen het. Du Toit verwys
na aanhangsel O5, wat ‘n
resolusie van die derde respondent is wat handel met die waardasie en
verkoop van aandele en waarvan
Du Toit sê dat applikant goed op
die hoogte was. Du Toit sê ook:
“
16
Die Applikant het gereeld met my
bespreek die vooruitsig dat die Tweede Respondent in die besigheid
sou ”
inkoop
”. Applikant was baie tevrede daarmee
en het per geleentheid aan my vermeld dat die Tweede Respondent se
betrokkenheid haar
die geleentheid sou gee om haar aandag op ander
plekke en geleenthede te vestig terwyl die tweede Respondent die
bestuur en personeel
geleenthede van die Derde Respondent kon
oorneem.
17.
My betrokkenheid by die Derde
Respondent was juis as gevolg van die feit dat die boekhoustelsel van
die Derde Respondent eindvoorraad
en koste van verkope nie akkuraat
verantwoord het in bestuursinligting nie. Vanweë my goeie
verhouding wat ek gehad het met
die Applikant het die Eerste
Respondent voorgestel dat ek betrokke raak ten einde die Applikant
tegemoet te kom.
18.
Toe die Applikant uit Bloemfontein weg
is, was die ooreenkoms dat haar aandele in waarde bereken sou word
soos per aanhangsel “
O5
”, onderhewig aan dieselfde
ooreenkoms.
19.
Ek bevestig voorts dat vanweë die
feit dat ek en die Applikant op ‘n baie goeie voet was die
Applikant my te enige tyd
kon nader vir inligting indien sy enige
inligting benodig het, terwyl ek in ‘n finansiële
raadgewende posisie opgetree
het. Die Applikant het nooit enige
sodanige versoeke tot my gerig nie.
20.
Ek boekstaaf ook dat daar nie enige
fondse voorhande was waarmee die Derde Respondent die Eerste
Respondent se lening kon terugbetaal
of enige substansiële
delgings kon maak nie. Die Eerste Respondent het gereeld met
goedkeuring van die Applikant geld voorgeskiet
en ook glad nie sy
salaris getrek maandeliks nie ten einde die Derde Respondent aan die
gang te hou.
21.
Ek het by verskeie personeellede van
die Derde Respondent verneem dat hulle baie ongelukkig was met die
Applikant se optrede jeens
hulle. Maya, Helani en Christelle het
veral by my gekla oor die Applikant se optrede.
22.
Ek hou geen persoonlike belang in
hierdie aangeleentheid nie en is dit al wat ek wens te verklaar.”
[8] Dit is duidelik dat
die applikant sedert einde 2009 uit die derde respondent moes tree.
Sy kon haar voorbehoude oor die skade
wat die, volgens haar,
ongemagtigde lenings veroorsaak het, te kenne gegee het aan die
waardeerder. ‘n Onafhanklike ouditeur
moet aangestel word om
die aandele te waardeer. Die ouditeur sal, vir soverre dit moontlik
is, by die waardebepaling oorweeg of
enige optrede deur die applikant
of derde respondent die waarde van die aandele, soos in Desember
2009, negatief beïnvloed
het.
[9]
BEVEL
1. Die waarde van die
aandele van die derde respondent in die hande van die applikant soos
in Desember 2009, moet bepaal word deur
‘n onafhanklike
ouditeur aangestel deur die Raad op Ouditeure van die Vrystaat.
2. Daardie ouditeur moet
binne 30 dae na sy aanstelling of so spoedig moontlik daarna as wat
dit prakties moontlik is en met kennisgewing
van enige uitstel aan
die prokureurs van die partye, sy waardasie aan die prokureurs van
die applikant en eerste respondent laat
toekom, per hand.
3. Die waardasie moet die
grondslag toon wat die ouditeur gebruik om by die waardasie te kom.
4. Die ouditeur moet in
sy of haar verslag aantoon (indien dit vir die ouditeur moontlik is
om dit te doen) of enige optrede van
die applikant of die eerste
respondent, byvoorbeeld ongemagtigde lenings of uitgawes, die waarde
van die aandele soos in Desember
2009 beïnvloed het, en indien
wel, tot watter mate.
5. Die koste van die
ouditeur moet deur die derde respondent betaal word.
6. Indien enige party
ontevrede is met die waardasie, mag daardie party die hof nader binne
30 dae nadat die waardasie deur sy prokureur
ontvang is.
7. Alle partye word
gemagtig om na afhandeling van die waardasie die hof te nader vir ‘n
kostebevel oor die kostes van hierdie
aansoek.
____________
KRUGER, R
Namens applikant: Adv.
Paul Zietsman SC
In opdrag van:
Matsepes Ingelyf
BLOEMFONTEIN
Namens respondente: Adv.
N. Snellenburg
In opdrag van:
Honey Prokureurs
BLOEMFONTEIN
/sp/wm