About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 50
|
|
Matiwane v S (LA122/05) [2012] ZAFSHC 50 (22 March 2012)
VRYSTAAT
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Saaknommer : LA122/05
In
die saak tussen:-
JOHN MPHO MATIWANE
......................................................
Applikant
en
DIE STAAT
.........................................................................
Respondent
CORAM:
VAN
ZYL, R
AANGEHOOR OP:
15 DESEMBER 2011
_____________________________________________________
GELEWER OP:
22 MAART 2012
_____________________________________________________
[1] Applikant het as
beskuldigde twee saam met ‘n mede-beskuldigde in die Streekhof,
Bloemfontein, tereggestaan op vier aanklagte,
synde aanklag een,
verkragting, aanklag twee, poging tot moord, aanklag drie, die
onwettige besit van ‘n vuurwapen en aanklag
vier, die onwettige
besit van ammunisie.
[2] Ten opsigte van
aanklag een is dit beweer dat Applikant en sy mede-beskuldigde die
nag van 1/2 September 2001 en te of naby
Bloemfontein, vir
Nomthandazo Ramabele, ‘n volwasse vrou, verkrag het. Ten
opsigte van aanklag twee is dit beweer dat Applikant
en sy
mede-beskuldigde die klaer, Mesh Njatela, met ‘n vuurwapen
geskiet het met die opset om hom te vermoor. Wat betref
aanklag drie,
is dit beweer dat Applikant en sy mede-beskuldigde op of omtrent 24
September 2001 in die wederregtelike en onwettige
besit was van ’n
9mm Norinco Pistool met magasyn en ten opsigte van aanklag vier is
dit beweer dat Applikant en sy mede-beskuldigde
op voormelde datum
ook wederregtelik en onwettig in besit was van drie rondtes 9mm
patrone.
[3] Applikant en sy
mede-beskuldigde het op bogemelde aanklagte onskuldig gepleit.
Applikant is egter skuldig bevind op al vier
bogemelde aanklagte.
[4] Die Verhoorhof het
daarop die saak vir oplegging van vonnis na die Hooggeregshof verwys
soos voorsien in Artikel 52 van die
Strafregswysigingswet, 105 van
1997. Ten tyde van hierdie verrigtinge in die Hooggeregshof, het my
nou afgetrede kollega, Van Coppenhagen,
R voormelde skuldigbevindings
bekragtig. Applikant is daarop deur Van Coppenhagen, R as volg
gevonnis:
Aanklag 1, lewenslange
gevangenisstraf.
Aanklag 2, tien jaar
gevangenisstraf;
Aanklag 3, drie jaar
gevangenisstraf; en
Aanklag 4, drie jaar
gevangenisstraf.
Hoewel dit outomaties sou
volg, is dit spesifiek gelas dat die vonnisse opgelê op
aanklagte twee, drie en vier samelopend
met die vonnis op aanklag een
opgelê, uitgedien moet word.
[5] Applikant doen nou
aansoek om verlof om te appelleer teen sy skuldigbevindings, sowel as
die opgelegde vonnisse.
[6] Applikant se
prokureur wat hom in die Verhoorhof verteenwoordig het, het ‘n
pleitverduideliking aan die Hof voorgehou
wat in wese daarop neerkom
dat Applikant geen kennis dra van die pleging van die enige van die
beweerde misdrywe nie.
[7] Applikant het in sy
aansoek om verlof om te appelleer die korrektheid van die wese van
die bevindings van die Verhoorhof betwis.
Me Kruger, wie namens
Applikant ten tyde van die aansoek om verlof om te appelleer verskyn
het, het in haar betoog volstaan met
dit wat deur Applikant in sy
aansoek om verlof om te appelleer ten opsigte van die
skuldigbevindings, vermeld is.
[8] Na my mening blyk dit
uit die Verhoorlanddros se uitspraak dat hy al die getuienis, wat
insluit die dokumentêre getuienis
en sekere formele erkennings
wat namens Applikant gemaak is, behoorlik oorweeg het. Wat betref die
verkragting as sulks, blyk dit
duidelik dat die klaagster Applikant
op geloofwaardige en betroubare wyse geïdentifiseer het as een
van die twee persone wat
haar die betrokke aand verkrag het. Haar
identifisering van Applikant is ook bevestig deur getuienis wat
betref die ooreenstemming
tussen die DNA van Applikant en vaginale
monsters wat vanaf die klaagster na die verkragting geneem is. Wat
betref aanklagte twee,
drie en vier, was dit, addisioneel tot die
mondelinge getuienis wat Applikant in die verband impliseer, ook
behoorlik deur die
Staat bewys dat Applikant se palmafdruk op die
betrokke vuurwapen ter sprake in aanklag drie, gevind is. Wat hierdie
aanklagte
betref is ek ook oortuig dat die Verhoorlanddros die
getuienis op behoorlike wyse geevalueer het ten einde tot sy
gevolgtrekking
van skuld te gekom het. Ten opsigte van al die
bogemelde getuienis, moet dit ook vermeld word dat Applikant verkies
het om ten
spyte van ‘n
prima facie
saak wat teen hom
uitgemaak was deur die Staat, sy saak te sluit sonder om getuienis
ter weerlegging daarvan aan te bied.
[9] By nalees van die
uitspraak van Van Coppenhagen, R, waarin die Verhoorlanddros se
bevindings en gevolgtrekkings bekragtig is,
blyk dit dat ook hy die
uitspraak en die getuienis behoorlik evalueer het en dat sy
gevolgtrekkings, soos dié van die Verhoorlanddros,
behoorlik
gefundeerd is.
[10] Gevolglik is ek van
oordeel dat daar nie ‘n redelike moontlikheid bestaan dat ‘n
ander hof tot ‘n ander gevolgtrekking
sal kom wat Applikant se
skuldigbevindings betref nie en kan Applikant se aansoek om verlof om
te appelleer in die verband, derhalwe
nie slaag nie.
[11] Wat die opgelegde
vonnisse betref, is dit so dat in terme van die
Strafregswysigingswet, Wet 105 van 1997, is die voorgeskrewe
minimum
vonnis ten opsigte van verkragting in ‘n geval soos die
onderhawige, waar die klaagster deur meer as een persoon
verkrag is,
lewenslange gevangenisstraf, tensy daar wesenlike en dwingende
omstandighede bestaan wat die oplegging van ‘n
mindere vonnis
regverdig en noodsaak. Van Coppenhagen R het in sy vonnis uitspraak
bevind dat daar geen sodanige wesenlike en dwingende
omstandighede
bestaan nie. Me Kruger het betoog dat veral die feit dat Applikant
drie jaar verhoorafwagtend in hegtenis verkeer
het, tesame met sekere
andere faktore, kumulatief geneem wel tot gevolg kan hê dat
daar ‘n redelike moontlikheid bestaan
dat daar ‘n ander
hof tot die gevolgtrekking sal kom dat dit wel wesenlike en dwingende
omstandighede daarstel wat die oplegging
van ‘n mindere vonnis
dan lewenslange gevangenisstraf regverdig. Wat die opgelegde vonnisse
ten opsigte van aanklagte twee,
drie en vier betref, het sy betoog
dat die opgelegde vonnisse skokkend swaar en onvanpas is. Mnr Zwini,
namens die Staat, het daarenteen
betoog dat daar nie ‘n
redelike moontlikheid bestaan dat ‘n ander hof tot ‘n
ander gevolgtrekking sal kom wat
betref die toepaslikheid van die
opgelegde vonnisse nie.
[12] By nalees van die
uitspraak ten opsigte van vonnis deur Van Coppenhagen R, is dit
duidelik dat hy wel die elemente van strafoplegging
oorweeg het,
synde die aard en erns van die misdryf, die persoonlike omstandighede
van die Applikant en die belange van die gemeenskap.
Dit blyk egter
uit Van Coppenhagen R se uitspraak dat hoewel hy wel verwys het na
die feit dat Applikant byna 3 jaar as verhoorafwagtende
in hegtenis
verkeer het, hy dit nie pertinent as faktor oorweeg het by die
vasstelling of daar wesenlike en dwingende omstandighede
bestaan nie.
Dit blyk ook nie pertinent in ag geneem te gewees het by die
oorweging van die vonnisse op die ander aanklagte nie.
Wanneer
hierdie termyn van gevangenisstraf in ag geneem word, tesame met die
feit dat dit blyk dat die klaagster nie ernstige fisiese
beserings of
blywende emsionele trauma opgedoen het as gevolg van die verkragting
nie, en die verkragting as sulks nie so gewelddadig
en brutaal was
dat dit as die ergste graad van verkargting gekategoriseer kan word
nie (sonder om afbreek te doen aan die erns
van alle verkragtings),
meen ek dat die kumulatiewe effek hiervan wel tot gevolg het dat daar
‘n redelike moontlikheid bestaan
dat `n ander hof kan bevind
dat hier wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die
oplegging van `n mindere vonnis dan
lewenslange gevangenisstraf
noodsaak en regverdig.
[13] Vanweë die feit
dat, soos reeds vermeld, dit ook nie blyk dat die drie jaar
verhoorafwagtende tydperk wat Applikant in
hegtenis verkeer het by
die oorweging van enige van die ander vonnisse in ag geneem is nie,
is ek van oordeel dat dit tot gevolg
het dat daar ook `n redelike
moontlikheid bestaan dat `n ander hof tot `n ander gevolgtrekking kan
kom wat die ander opgelegde
vonnisse betref.
[14] Gevolglik is ek van
oordeel dat Applikant se aansoek om verlof om te appelleer teen die
opgelegde vonnisse, moet slaag.
[15] Derhalwe word die
volgende bevele gemaak:
Applikant se aansoek om
verlof om te appelleer teen sy skuldigbevindings, word van die hand
gewys.
Applikant se aansoek om
verlof om te appelleer teen die opgelegde vonnisse, word toegestaan.
_______________
C. VAN ZYL, R
Namens die Appellant:
Adv. S. Kruger
In opdrag van:
Die Regshulpraad
BLOEMFONTEIN
Namens die Respondent:
Adv. L. Zwini
In opdrag van:
Direkteur van Openbare
Vervolging
BLOEMFONTEIN