About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 44
|
|
Farmsecure Livestock (Edms) Bpk v Absa Bank Bpk en Anders (772/2012) [2012] ZAFSHC 44 (22 March 2012)
VRYSTAATSE HOË
HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA
Saaknommer: 772/2012
In die aansoek van:-
FARMSECURE
LIVESTOCK (EDMS) BEPERK
....................
Applikant
en
ABSA BANK BEPERK
...............................................
1ste
Respondent
BENJAMIN PETRUS VAN
NIEKERK N.O.
.................
2de
Respondent
MARIA VAN NIEKERK
N.O.
.......................................
3de
Respondent
(Tweede en Derde
Respondente in hul
Hoedanighede as trustees
van die
BENNIE
VAN NIEKERK
BOERDERY TRUST,
IT 119/2001
)
JAN STEPHANUS HUGO
...........................................
4de
Respondent
DIE BALJU VAN DIE
HOOGGEREGSHOF
EN LANDDROSHOF,
DISTRIK WINBURG
( MNR P.W. SMITH)
.....................................................
5de
Respondent
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP:
8 MAART 2012
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
CLAASEN, WND R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
22 MAART 2012
_____________________________________________________
[1] Applikant is
Farmsecure Livestock (Edms) Beperk en die eerste respondent Absa Bank
Beperk, die tweede en derde respondente is
Benjamin Petrus van
Niekerk N.O. en Maria van Niekerk N.O. die trustees van die Bennie
Van Niekerk Boerdery Trust, die vierde respondent
is Jan Stephanus
Hugo en die vyfde respondent is die Balju van die Hooggeregshof en
Landdroshof, distrik Winburg (Mnr. P.W. Smith).
Hierna word na
applikant as Farmsecure verwys, eerste respondent as Absa Bank en
tweede en derde respondent as die trust. Farmsecure
doen aansoek vir
onder andere die volgende bevele dat al die respondente verbied word
om te handel met enige van die beeste wat
gemerk is met applikant se
geregistreerde brandmerk, en waarvan applikant die eienaar is; die
respondente verbied word om enige
bees van die plaas Mandalay te
verwyder, om enige bees wat gemerk is met applikant se geregistreerde
brandmerk wat in die respondente
se besit is, maar nie op die plaas
Mandalay aangehou word nie, sonder versuim na gemelde plaas terug te
neem en dat die respondente,
wie ook al in besit en beheer van
sodanige bees is, met applikant se geregistreerde brandmerk, gelas
word om dit aan die applikant
te oorhandig. Die applikant vermeld in
par. 2.1 dat die bevel handel met beeste wat gemerk is met applikant
se geregistreerde brandmerk
“en waarvan die applikant die
eienaar is” maar in die balans van die bedes word nie verwys na
die sinsnede “en
waarvan applikant die eienaar is” nie,
maar spreek dit vanself dat dit slegs dié beeste is wat die
brandmerk van applikant
dra en waarvan die applikant die eienaar is.
Die kern van die geskil gaan juis oor eienaarskap van die betrokke
beeste.
[2] Vir sy aanspraak op
eienaarskap van die beeste wat met Farmsecure se brandmerk gemerk is,
steun Farmsecure op ‘n ooreenkoms
wat met die trust op of
omtrent 21 Julie 2010 te Senekal gesluit is. Die terme van die
ooreenkoms waarop Farmsecure steun, is dat
die trust vee namens
Farmsecure aankoop en dat Farmsecure dan hierdie koopprys betaal. Die
trust sal egter te alle tye optree as
‘n onafhanklike
kontrakteur en daar bestaan geen agentskap en/of vennootskap en/of
diensverhouding tussen Farmsecure en die
trust nie. Die terme van die
ooreenkoms verwys inderdaad daarna dat die vee wat aldus aangekoop is
die eiendom van Farmsecure is
en dat die vee versorg sal word en alle
risiko van die vee op die trust oorgaan. Daar word verwys na ‘n
voorgeskrewe ooreenkoms
wat hierdie aankope raak, naamlik aanhangsel
“X1” tot die kontrak, maar is dit nie by die stukke
aangeheg nie.
[3] Opsommenderwys is
Farmsecure se saak dat die trust ooreenkomstig die bepalings van die
ooreenkoms beeste ingekoop het, waarvoor
Farmsecure betaal het op ‘n
spesifieke faktuur en dat die applikant gevolglik die eienaar van
elke sodanige bees geword het.
[4] Farmsecure het verder
Mnre. Global Collateral Control aangestel wat maandeliks die
applikant se plase besoek het en die beeste
wat met Farmsecure se
brandmerk gemerk is, getel het. Sodanige telling is op 18 Januarie
2012 gehou en het aangetoon dat daar 6
897 bees met applikant se
brandmerk op die trust se plaas is.
[5] Volgens Farmsecure
mag die trust enige ander vee aangehou het nie, sonder Farmsecure se
spesifieke vooraf skriftelike magtiging
nie. Indien dit wel gebeur,
moes sodanige bees duidelik afsonderlik geïdentifiseer word
sodat dit onderskeibaar is van applikant
se brandmerk.
[6] Dit is gemeensaak dat
die trust nie oorkomstig die ooreenkoms opgetree het nie. Dit is
gemeensaak dat alle bees wat op die trust
se plaas is, gebrandmerk
met Farmsecure se brandmerk vir doeleindes van die nakoming van die
bepalings van die Wet op Veebrandmerke,
87 van 1962, deurdat geen
persoon ‘n bees mag besit of met ‘n bees handel as
sodanige bees nie behoorlik gebrandmerk
is nie.
[7] Dit blyk dat toe die
Balju saam met Absa by die trust se plaas opgedaag het, die Balju op
alle vee beslag gelê het en
dit aan Absa oorhandig het. Dit is
gemeensaak dat die betrokke bees fisies in die trust se besit en
onder die trust se beheer en
kontrole was.
[8] Alvorens Farmsecure
die aansoek geloods het, was daar korrespondensie tussen die
prokureurs van Farmsecure en Absa. Farmsecure
het daarin sy standpunt
bevestig dat hy te alle tye die eienaar van die vee was, wat
gebrandmerk was met Farmsecure se brandmerk.
Die getalle word ook
genoem wat aantoon welke vee aldus gemerk is. Hulle maak derhalwe
aanspraak op Farmsecure se eiendomsreg ten
aansien van alle vee wat
met Farmsecure se geregistreerde geïdentifiserende brandmerk
gemerk is. Die prokureur van Absa Bank
het gereageer en versoek dat
alle afskrifte van fakture van vee wat namens of deur die trust
aangekoop is, bewys van betaling van
sodanige faktuur asook fakture
van alle vee wat intussen geslag is, aan die prokureur te lewer vir
oorweging en erkenning van die
Farmsecure se eiendomsreg. Tot op hede
het geen sodanige dokumentasie na vore getree nie. In ‘n
verdere skrywe is voorgestel
dat daar ‘n praktiese reëling
getref moet word tussen alle belanghebbendes, weens die verskillende
aansprake, met betrekking
tot die hantering van vee wat gereed is om
geslag te word. Tot op datum kon daar geen praktiese reëling
tussen die partye
aangegaan word nie.
[9] Op 23 Februarie 2012
is ‘n tussentydse bevel uitgereik wat Absa Bank belet het om te
handel met enige van die beeste wat
gemerk is Farmsecure se
geregistreerde brandmerk.
[10] In die opponering
van Farmsecure se aansoek, meld Absa dat soos blyk uit aanhangsel
“C1” tot aansoek 705/2012 die
trust vee aangekoop het by
G.B. Verster en ook uit verdere aanhangsels “AB1” tot
“AB14” is daar vee vanaf
verskillende verkopers ontvang,
waarvan die trust persoonlik telkens die koper van die vee was.
[11] Absa meld dat daar
op 1 Desember 2011 R16 229 907,90 aan die trust geld gelewer is vir
betalings van fakture “AB13”
en “AB14” asook
‘n stawing van die aankope wat die trust met hierdie geld
gemaak het as aanhangsels “AB15”
tot “AB85”.
Dat Absa nog nooit enige faktuur gesien het waarvan Farmsecure
geïdentifiseer word as die eienaar
van enige vee nie. Dit is
Absa Bank se saak dat die ooreenkoms tussen Farmsecure en die trust
bloot ‘n gesimuleerde ooreenkoms
is, in die sin dat dit ‘n
blote finansieringsooreenkoms is waar gepoog word om eiendomsreg as
sekuriteit vir Farmsecure te
vestig.
[12] Absa bevestig dat
ander aanspraakmakers op die vee op dieselfde wyse uitgenooi is en
dat sekere persone soos byvoorbeeld CMW
Elite van die geleentheid
gebruik gemaak het om hulle vee uit te wys. So ook Mnre. Verster,
maar word weereens bevestig dat alle
vee met Farmsecure se brandmerk
gemerk is.
[13] In aansoek 705/2012
bevestig die trust dat sommige beeste inderdaad die eiendom van die
trust is en dat 600 tot 700 bees die
eiendom van ander verkopers is;
dat alle vee gemerk is met Farmsecure se brandmerk maar nie om aan te
toon of te identifiseer dat
dit Farmsecure se beeste is nie.
[14] Absa meld dat Mnre
Vleissentraal (Edms) Bpk aangestel was om maandeliks die beeste te
tel en dan aan Absa verslag te doen.
Daar word dan verwys dat in
hierdie opname en soos blyk uit aansoek 705/2012 aanhangsels “X”
tot “X3” en
wat daar vermeld is deur die trust dat
Farmsecure se beeste geskei is van die beeste waarin Absa ‘n
belang het, klaarblyklik
‘n valse voorstelling teenoor Absa
Bank was.
[15] Dit word derhalwe
ontken dat Farmsecure die eienaar van die vee geword het of dat die
aanbring van die brandmerk aanduidend
is dat die beeste met
Farmsecure se brandmerk die eiendom van Farmsecure is. Dat die
meerderheid van die vee meerdere brandmerke
dra en nie net die
brandmerk van Farmsecure nie; dat Farmsecure nooit enige bedoeling
gehad het om ‘n voerkraal te bedryf
nie, maar bloot as
finansierder van die trust opgetree het met die oogmerk om die vee as
sekuriteit vir die finansiering te verkry.
[16] Wat die veiling van
die vee betref, was dit deurgaans deur die trust aan Absa voorgehou
dat dit die trust se beeste is. Volgens
die veiling advertensie was
dit ook nie slagbees nie, maar aanteelvee wat op hierdie veiling
verkoop sou word.
[17] Behalwe die eerste
betaling van R16 229 907,80 is daar op 15 Desember 2011 ‘n
verdere bedrag van R6 373 647,22 aan die
trust oorbetaal en ‘n
verdere bedrag op 5 Januarie 2012 ten opsigte van R2 256 937,06 vir
vee wat die trust aangekoop het
en ooreenkomstig die fakture
uitbetaal is. Die trust het dan voorts voortdurend in al sy state
aangetoon dat die lewende hawe die
eiendom van die trust is. In die
opponerende stukke word Farmsecure en hul prokureur ook uitgenooi om
hulle aansprake te kom bevestig,
aangesien nieteenstaande die
skriftelike uitnodiging om die vee te kom inspekteer, daar geen
gevolg gegee is nie. Indien daar aangetoon
sou word dat Farmsecure
die eienaar van enige van die vee is, selfs die wat geslag is, dan
sal die opbrengs uit die aard van die
saak Farmsecure toeval.
[18] In opsomming is
Farmsecure se aanspraak op eiendomsreg baseer op die brandmerk en die
ooreenkoms. Daar is geen stukke of verdere
aanduiding waarom die
applikant sy aanspraak op eiendomsreg vestig nie.
[19] Die trust toon aan
dat die dokument waarop Farmsecure steun, nooit implementeer is nie.
Dokumente wat by die betrokke ooreenkoms,
aantonende hoe die
koopkontrole van bees moes uitsien, is nie aangeheg nie. Dit is
byvoorbeeld dokument “X1” en dieselfde
vir dokument “X2”
wat die konsep herverkoopooreenkoms veronderstel is om te wees. Die
trust verduidelik hoe die transaksies
in die praktyk geskied het. Die
trust het vee by verskeie persone of instansies aangekoop sonder dat
Farmsecure enigsins geken
of hulle toestemming verkry is. Die
verkoper het ‘n faktuur uitgereik, soms is eiendomsreg
voorgehou tot betaling ontvang
is, die trust het die koopprys betaal
en is in besit van die vee geplaas. Sodra ‘n noemenswaardige
getal vee aangekoop is,
is ‘n veeartsverslag bekom wat aan
Farmsecure gestuur is en het Farmsecure dan teen bepaalde
ooreengekome Rand per kilogram
die bedrag aan die trust betaal. Daar
was nooit enige besitsoordrag, die enigste besitsoordrag het
plaasgevind toe die trust die
vee by verskillende boere aangekoop en
betaal het en dit aan die trust gelewer is. Die balans was bloot net
papierwerk. Farmsecure
het nooit die vee hanteer of dit eers gesien
nie, selfs totdat dit uiteindelik verkoop is.
[20] Die ooreenkoms was
dan dat die trust aan Farmsecure na 210 dae terugbetaal. Wat die
bepaling van die koopprys betref, het daar
‘n bepaalde formule
gegeld en was dit hoegenaamd nie die heersende beespryse of het die
heersende beespryse nie ‘n
effek op hierdie prys gehad nie. Die
trust bevestig dan dat die transaksie ‘n gewone
leningstransaksie was wat gesimuleer
is as ‘n kooptransaksie
met die vee as sekuriteit. Die trust bevestig dat alle vee met
applikant se brandmerk gemerk is,
bloot ten einde aan die wetlike
vereistes te voldoen dat alle vee met ‘n brandmerk gebrand moet
wees; dat die eiendomsreg
van die beeste op die trust se plaas nie
bepaal kan word by wyse van hierdie brandmerk nie. Baie bees het ook
moontlik meer as
een brandmerk; dat die wyse van finansiering net so
gewerk het soos wat Absa vir die trust finansier het.
[21] Wat die telling van
die vee betref, word dit ontken dat die vee ooit fisies getel is. Dit
word alles rekenaarkundig gedoen.
Die verteenwoordiger van Farmsecure
het bloot slegs telkens die trust se verteenwoordiger gevra hoeveel
beeste daar op die plaas
is en dan het die verteenwoordiger hierdie
inligting vanaf die rekenaar aan Farmsecure se verteenwoordiger
verskaf. Data mag ook
nie stiptelik ingevoer wees en is dit ook nie
‘n absolute syfer telkens oor wat die rekenaar reflekteer nie.
Dit reflekteer
slegs die jongste data nadat die laaste data in die
rekenaar ingevoer is.
[22] Wat die veiling
betref, meld die trust dat ‘n maatskappy Zelby 2182 (Edms)
Beperk eienaar was van stoetvee wat daarop
verkoop is en dat die
opbrengs van die stoetvee by die prokureurs van Absa Bank in trust
inbetaal is. Daarom het Absa Bank nie
aanspraak op die vee nie.
[23] In repliek word die
weergawe van die trust, oor hoe die transaksies in die praktyk
hanteer is, nie deur Farmsecure ontken nie.
[24] Die kern van die
probleem wentel oor die vraag van eienaarskap van die vee. Het
Farmsecure op die stukke ‘n saak uitgemaak
dat Farmsecure
eienaar van die betrokke vee met sy brandmerk, geword het?
[25] Van der Merwe in
Sakereg
meld die vereistes vir eiendomsoorgang. Die volgende
vereistes word gestel:
(i) Die saak moet regtens
vir eiendomsreg vatbaar wees;
(ii) Die oordraer moet
regtens bevoeg wees om eiendomsreg oor te dra;
Die ontvanger moet
regtens bevoeg wees om eiendom van die saak deur oordrag te verkry;
Die partye moet die
bedoeling hê om die eiendom van die saak oor te dra asook die
bedoeling om die saak te ontvang;
Daar word soms in ons
reg ‘n
iusta
causa
vir
eiendomsoorgang vereis, byvoorbeeld ‘n koopkontrak,
ruilkontrak, skenkooreenkoms, ensovoorts;
Vir eiendomsoorgang
ingevolge ‘n koopkontrak word vereis dat die koopprys betaal
moet word of dat krediet of sekuriteit
vir die betaling daarvan
verleen is;
Vir eiendomsoordrag moet
‘n lewering plaasvind. By roerende sake, waaroor dit hier
gaan, moet lewering vanaf die een persoon
na die ander persoon,
plaasvind.
1
[26] Absa Bank verwys na
gesag wat bevestig dat die verkoper van die vee aanvanklik eienaar
van die vee moet wees op die stadium
wat die beweerde kooptransaksie
en lewering plaasgevind het:
TRUST BANK VAN AFRIKA BPK v
WESTERN BANK BPK EN ANDERE NNO
1978 (4) SA 281
(A) op 301;
MEYER NO v TRANSVAALSE LEWENDEHAWE KOÖPERASIE BPK EN
ANDERE
1982 (4) SA 746
(A) op 765 H;
NEDCOR BANK LTD v
ABSA BANK LTD
1998 (2) SA 830
(WLD) op 832 F.
Voorts dat die betrokke
partye, met lewering, die bedoeling moes gehad het om die eiendomsreg
in die vee oor te dra, asook die bedoeling
van Farmsecure om eienaar
van die vee te word –
GROENEWALD v VAN DER MERWE
1917 AD 233
op 238 – 239;
WEEKS AND ANOTHER v AMALGAMATED
AGENCIES
1920 AD 218
op 230 – 231;
R v MARKINS
MOTORS (PTY) LTD AND ANOTHER
1959 (3) SA 508
(A) op 512.
[27]
“
Volgens
ons reg gaan die eiendomsreg op ‘n roerende saak op ‘n
ander oor waar die eienaar daarvan dit aan ‘n ander
lewer, met
die bedoeling om eiendomsreg aan hom oor te dra, en die ander die
saak neem met die bedoeling om eiendomsreg daarvan
te verkry. Die
geldigheid van die eiendomsoordrag staan los van die geldigheid van
enige onderliggende kontrak.”
2
[28]
“
Blote
ooreenkoms kan dus nie eiendomsreg oordra nie -
traditio
(oorhandiging) moet ook
geskied; en omgekeer, blote oorhandiging is ook nie voldoende nie –
dit moet gepaard gaan met ‘n
ooreenkoms tussen die oorhandiger
en die ontvanger dat daarmee eiendomsreg gegee en geneem word... dat
traditio
neerkom
op ‘n besitsoordrag – hetsy met ‘n verskuiwing van
die regstreekse, daadwerklike beheer van een persoon
na ‘n
ander, hetsy daarsonder. In laasgenoemde geval geskied daar geen
verandering van ‘n persoon wat die regstreekse
beheer betref
nie maar daar vind tog ‘n besitsverskuiwing plaas deur
ooreenkoms, op grond van toepassing van die leerstuk
van onmiddellike
besit. Om eiendomsreg van ‘n roerende saak oor te dra moet daar
dus die nodige saaklike ooreenkoms wees
(soos hierbo genoem) en ook
traditio
in
die sin van die vorige paragraaf verduidelik.”
3
[29] Mnr. Zietsman het
gesteun dat lewering plaasgevind het ooreenkomstig
constitutum
possessorium
.
Vir hierdie vorm van lewering vind daar geen fisiese lewering plaas
nie, byvoorbeeld A verkoop sy motor aan B en die partye kom
ooreen
dat A voortaan die motor as huurder kan hou ooreenkomstig ‘n
huurooreenkoms.
4
Vir
constitutum
possessorium
is
die vereistes dat die vervreemding van die roerende saak voor
vervreemding eienaar daarvan was en dat die vervreemder ophou om
dit
in sy eie naam en besit te hou en moet hy dit namens die nuwe
verkryger behou. Die verkryger moet toestem dat die saak aan
die
vervreemder afgestaan word en ‘n duidelik
causa
word vereis ooreenkomstig
waarvan die vervreemder voortaan die saak besit en beheer. Hierdie
vereistes word streng toegepas om rede
dit maklik ‘n
skyntransaksie daar kan stel vir ander oorwegings, soos byvoorbeeld
sekuriteit. Volgens die huidige stukke
het die trust nooit die
bedoeling gehad om die vee aldus te hou of in eiendomsreg aan
Farmsecure oor te dra nie.
[30] As alternatief het
Mnr. Zietsman voorgehou dat
Global
Collateral Control
wat
maandeliks die opgawe kom maak het op die trust se plaas, en soos
vermeld, bloot ‘n uitdruk van ‘n rekenaar gekry
het, dit
namens hulle in besit geneem het. Daar is egter geen saak in die
stukke vir hierdie aard en beskrywing van eiendomsoorgang
uitgemaak
nie.
[31] Oorspronklik het
Mnr. Zietsman in sy hoofde op artikel 17 van die Wet op
Veebrandmerke, 87 van 1962, as synde dat dit deur
Wetgewing
prima
facie
eiendomsreg
in die houer van die merk setel. In argument het Mnr. Zietsman nie
meer daarop gesteun nie, aangesien die betrokke artikel
duidelik
slegs handel met die eienaarskap van die handelsmerk en niks meer
nie.
[32] Die argument skyn
korrek te wees dat Farmsecure klaarblyklik oor geen dokumentêre
bewys beskik om sy aanspraak op eienaarskap
van die vee te staaf nie.
Hulle is meerdere male skriftelik uitgenooi om hulle eienaarskap te
staaf met die nodige dokumente en
bewys van betaling en fakture. Daar
is tot op datum nie daaraan voldoen nie, nie eers in die lang
repliserende verklaring wat Farmsecure
ingedien het nie. Dit kan net
nie korrek wees dat alle vee wat met die betrokke brandmerk gemerk
is, die vee van Farmsecure is
nie. Farmsecure self erken dat daar
ander bees is wat ‘n ander brandmerk het wat dan nie hulle vee
kan wees nie. Die trust
het verduidelik waarom al die vee die
betrokke brandmerk gehad het. Voorts het Absa Bank op 28 September
2011 geld aan die trust
voorgeskiet vir aankope en is daar bedrae van
R16 229 709,90 op 1 Desember 2011, R6 373 396,22 op 15 Desember 2011
en R2 256 937,06
op 5 Januarie 2012 betaal vir vee wat die trust
aangekoop het.
[33] Al hierdie vee was
aangetref op die plaas van die trust toe die Balju daar opdaag en die
Balju daarop beslag gelê het
en aan Absa oorhandig het. Die
enigste vermoede wat tans hier werkbaar mag wees, is dat die besitter
van ‘n roerende saak
vermoed word die eienaar daarvan te wees
en dan is die bewyslas op die persoon wat beweer dat hy eiendomsreg
oor die betrokke saak
beskik.
5
[34] In die
vooropstelling is ek van oordeel dat Farmsecure nie ‘n saak
uitgemaak het dat hy eienaar is van die vee wat met
sy brandmerk
gemerk is nie en daarom is die aansoek afgewys met koste.
___________________
J.Y. CLAASEN, WND R
Namens die applikant:
Adv. P. Zietsman SC
Adv. N. Snellenburg
In opdrag van:
Honey Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Namens eerste respondent:
Adv. J.P. de Bruin SC
Adv. P.J.T. de Wet
In opdrag van:
Symington & De Kok
BLOEMFONTEIN
Namens tweede en derde
respondente: Adv. A.
Danzfuss SC
Adv. J. Zietsman
In opdrag van:
Christo Dippenaar
Prokureurs
BLOEMFONTEIN
/sp
1
Van
der Merwe:
Sakereg
(2de
Uitgawe) p. 301 – 305.
2
TRUST
BANK VAN AFRIKA BPK v WESTERN BANK BPK EN ANDERE NNO
1978
(4) SA 281
(A) op 301 H – 302 A.
3
AIR-KEL
(EDMS) BPK H/A MERKEL MOTORS v BODENSTEIN EN 'N ANDER
1980
(3) SA 917
(A) op 922 E – F en 923 H.
4
Van
der Merwe, (
supra
),
p. 321 – 322.
5
EBRAHIM
v DEPUTY SHERIFF, DURBAN AND ANOTHER
1961 (4) SA 265
(ND);
RUSKIN, NO v THIERGEN
1962 (3) SA 737
(A) op 745.