About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 27
|
|
Snijders v Goosen (5301/2011) [2012] ZAFSHC 27 (8 March 2012)
VRYSTAATSE
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Saak Nr.: 5301/2011
In
die saak tussen:
JEAN
PIERRE SNIJDERS
.......................................................
Applikant
en
DANIE
GOOSEN
.................................................................
Respondent
_____________________________________________________
UITSPRAAK:
CLAASEN, WND R
AANGEHOOR OP:
1 MAART 2012
GELEWER OP:
8 MAART 2012
[1] Hierdie is ‘n
spolie aansoek waarkragtens applikant die respondent versoek om die
vry en ongestoorde besit en gebruik
van ‘n pad oor die plaas
Bergplaats, na die plaas Houthoek, te herstel,
ante
omnia.
Beide plase is in die Memel distrik geleë. Die respondent boer
en woon op die plaas Bergplaats. Op die plaas Houthoek
word ‘n
boerdery deur ‘n vennootskap beoefen waarvan die applikant een
van die vennote is. Die ander vennoot is sy
broer, wat die
geregistreerde eienaar van die plaas is. Die broer se seun Tristan
woon op Houthoek en ‘n gedeelte van Houthoek
word verder aan ‘n
De Jager verhuur wat landerye aldaar bewerk. Die twee plase is
aangrensend.
[2] Beide partye het
kaarte aangeheg. Die kaart van die respondent toon egter duideliker
die ou roete, asook die gewysigde roete
aan. Dit is aangeheg aan
“Aanhangsel DP6”.
[3] Beide planne toon dat
die pad oorspronklik redelik reguit geloop het, voor die huis van
respondent verby en dan langs naasliggende
lande op Bergplaas vir
ongeveer 1km.
[4] Dit is respondent se
saak dat respondent, om goeie boerdery praktyke toe te pas, op die
landerye, wat naasliggend aan die pad
geleë is, gedurende Maart
2011 kontoerlyne uitgelê het. Die kontoerlyne het oor die pad
beweeg en moes hierdie pad verlê
word. Vier stootskrapers is
gebruik om die kontoerwalle te stoot en is die pad verlê en
moet gebruikers van die pad op die
kontoerwalle beweeg. Die lande is
in Junie 2011 geploeg. Die verlegde pad volg nou die kontoerwalle.
Soos uit die Google foto blyk
draai die verlegde pad links op ‘n
kontoerwal, wat links van die oorspronklike pad geleë was, draai
dan skerp regs om
‘n ander kontoerwal te volg, oor verdere twee
kontoerwalle en dan weer skerp links op die derde kontoerwal, tot
waar hierdie
kontoerwal weer by die ou pad aansluit.
[5] Die lengte van die
totale verlegging van die pad is nie bekend nie maar is die afstand
wat die pad verleng is, weens die afwyking
daarvan, met amper 200
meter. Waar dit oorspronklik 1 000 meter was, is dit dan nou ongeveer
1 200 meter. Dit is verder gemeensaak
dat wanneer nat toestande
onstaan gly voertuie vanaf die kontoerwal en land dan in die lande
waar gras gesaai is en val dit aldaar
vas.
[6] Die applikant bekla
hom verder oor twee slote. Die eerste sloot is ongeveer Junie 2011
oor die pad gegrawe wat naby die respondent
se huis geleë is.
Die respondent verduidelik dat die sloot tydig nodig was om ‘n
fontein droog te lê. Verkeer
moes vir ‘n rukkie deur die
veld ry om die sloot te vermy. Hierdie sloot was klaarblyklik
verbandhoudend met die dam. Die
pad beweeg nou oor hierdie damwal,
minstens sedert 10 Oktober 2011.
[7] Die tweede sloot is
oor dieselfde pad, ongeveer 11 September 2011 gegrawe. Dit is op
respondent se plaas, net voor die pad na
Houthoek deurgaan. Die sloot
is duidelik met ‘n meganiese voertuig gegrawe en is die pype
wat as dreineringspype onder die
pad gelê was, opgegrawe en dam
die water nou, soos op die foto, regs van die opgegrawe pad op. Die
fotos toon duidelike motorspore
soos hulle oor hierdie nat gedeelte,
langs die sloot wat gegrawe is, verby beweeg om weer later op die pad
aan te sluit. Die applikant
beweer dat respondent of sy werkers
hierdie sloot gegrawe het. Die respondent ontken dat hy of sy werkers
hierdie tweede sloot
gegrawe het. Hy weet nie wie of wanneer dit
gedoen is nie. Dit is nie ‘n gedeelte van die pad wat hy
gebruik nie omdat dit
by Houthoek se grens is. Dit is ‘n
reusagtige sloot wat met ‘n meganiese voertuig gemaak is.
Voertuie moet om die sloot,
deur die veld ry om weer by die pad aan
te sluit. Volgens respondent kan hierdie sloot met ‘n paar
arbeiders herstel word.
Net applikant en hul werkers gebruik hierdie
deel van die pad. As respondent dit gebruik het, volgens respondent,
sou hy dit self
herstel het. Die respondent se ontkenning dat hy die
tweede sloot gegrawe het, is die enigste wesentlike feitlike dispuut.
Respondent
woon permanent op Bergplaats en is hierdie sloot nie ver
van respondent se woonhuis, gegrawe gewees nie. Dit is, soos vermeld,
met ‘n meganiese voertuig gegrawe wat sekerlik erg sou geraas
het en is dit nie minder as ‘n 1km van respondent se woonhuis
geleë nie. Hy bevestig dat hy kan sien wat op die pad gebeur en
dat hy bedags baie oor Bergplaats rondbeweeg en die verskillende
voertuie wat die betrokke pad gebruik waarneem. Dit is nie duidelik
of respondent se werkers ook op die plaas woon nie. Sy blote
ontkenning word nie deur enige gronde gestaaf nie. Hierdie feite
dispuut word nie deur Mnr Du Preez in sy hoofde behandel nie.
Die
ontkenning deur respondent van wie en wanneer die sloot gegrawe is,
word ook nie verder gevoer deur vermelding dat hierdie
sloot nog
gladnie deur hom waargeneem is totdat dit nou onder sy aandag gebring
is nie. Mnr Du Preez het daarom sy argument hoofsaaklik
gegrond op
die vraag of bewys is dat applikant, vir doeleindes van spolie, in sy
besit versteur is. Die pad wat daar bestaan het,
is slegs verlê
en word nog steeds gebruik. Dat daar derhalwe geen wesentlike
versteuring bestaan nie. Dit is ‘n plaaspad
wat maar in alle
gevalle, wanneer dit erg reën moeilik is om te gebruik en
persone selfs kan vasval. Die uitgrawing van hierdie
massiewe sloot
is egter seer sekerlik wesenlik en sou dit ‘n voldoende
besitsversteuring wees vir enige padgebruiker. Mnr
Du Preez
argumenteer dat ‘n persoon wel nog steeds die pad kan gebruik
deur nou ‘n ompad deur die veld te volg, hetsy
deur ‘n
papnat gedeelte daarvan, omdat hierdie gedeelte vleiland is, en die
pype onder die pad uitgegrawe is, ten spyt.
[8] Ek het groot simpatie
met respondent oor wie se eiendom hierdie stukkie pad beweeg. Sy
ongelukkigheid word weerspieël in
sy bewerings dat daar ‘n
alternatiewe toegangspad is wat slegs 1km langer is; dat die
applikante niks aan die verspoelings
aan die pad wat oor Bergplaats
loop, verrig nie; hulle gebruik die Bergplaats pad omdat dit deur die
respondent in stand gehou
word; die applikant versuim om enige bydrae
tot die instandhouding te doen; daar is geen reg van weg oor
Bergplaats geregistreer
nie; daar is geen hofbevel wat iemand die reg
verleen om oor Bergplaats te ry nie; die eienaar van Bergplaats het
niemand toestemming
verleen om oor Bergplaats te ry nie; daar is geen
regmatige gebruikers van die pad behalwe die inwoners, werkers of
besoekers van
Bergplaats; daar is geen ooreenkoms met applikant dat
hulle die pad kan gebruik nie of dat respondent dit tot hulle
voordeel in
stand moet hou nie; applikant versuim om te sê
wanneer het hierdie reg om die pad te gebruik ontstaan en waaruit dit
voortspruit;
hy het hulle al gevra om te help met die instandhouding
want hulle ry die pad stukkend; hierdie versoeke val op dowe ore; dat
dit
beter sal wees dat hulle hof toe gaan sodat ‘n Regter ‘n
beslissing oor die pad kan maak. Al hierdie bewerings ondersteun
die
mening dat respondent geensins geneë is dat applikant die pad
gebruik nie. Die tweede sloot is, soos die eerste sloot,
meganies oor
die pad gegrawe, dit kan net applikant of respondent wees wat die
sloot gegrawe het. Ek bevind dat respondent se blote
ontkenning net
te ver gesog in hierdie omstandighede is, om korrek te wees.
[9] Die feit dat die
alternatiewe pad nog bruikbaar is, bo-oor die nuwe kontoerwalle
beweeg, dan om die sloot wat in die pad gegrawe
is, deur die veld
beweeg kan word, dit net 200 meter langer is, doen myns insiens nie
afbreek aan die feitlike vraag of daar versteuring
van applikant se
besit van die pad was nie. Volkome besitsversteuring is nie nodig
nie. Natuurlik moet dit meer as ‘n nietige
versteuring
daarstel. Mnr Du Preez het na die saak van
VAN ROOYEN EN ‘N
ANDER v BURGER
1960 (4) SA 356
(O) op 364 verwys dat daar
minstens aansienlike inbreuk op die regte van besit van ‘n
besitter moet wees voor die mandament
van spolie aanwending sal vind.
[10] Ek meen dat die
huidige feite wel voldoende ernstige inbreukmaking daarstel. Ons reg
beskerm die feitlike toestand van besit.
Die remedie vir
besitsversteuring is ‘n mandament van spolie en slegs waar
inmening bloot dreigend is word ‘n interdik
teen inmenging
verleen. In
NIENABER v STUCKEY
1946 (AD) 1049 het ‘n
persoon die hek oor ‘n pad gesluit. Die blote sluiting van die
hek was voldoende ontneming van
die appellant se toegang wat hy deur
die hek tot die plaas gehad het, hoewel daar nogtans ‘n ander
hek was waardeur die appellant
die plaas kon betree, na die beweerde
spolie. Regter Greenberg het op bladsy 1059 die volgende gesê:
“
It was also
contended on respondent’s behalf that inasmuch as there was
another gate which would give appellant access to
the land the
closing of the one gate did not deprive him of possession... But I do
not think that this point need be pursued as
it is clear that the
appellant was in possession of the right of access through
this
gate
of which he has been deprived, and the remedy is therefore
available.”
(eie
onderstreping)
Die appèlhof, op
dieselfde bladsy, behandel ook die argument dat die aksie nie net
beskikbaar is wanneer daar “deprevation”
van besit was
nie maar ook “disturbance” van besit en die hof se
konklusie is dat:
“
...seem to
connote anything which touches or affects or disturbs the possession
and not to require complete deprivation.”
Ek is oortuig dat enige
aansoek om spolie, egter altyd onderhewig sal wees aan die algemene
beginsel van ons reg wat uitdrukking
vind in die
adagium de
minimis non curat lex
.
[11] Deur die verskaffing
van ‘n alternatiewe roete is die applikant die besit van die
betrokke pad se gebruik, soos wat dit
was, hom ontneem. Spolie se
oogmerk is om juis die betrokke besit, soos dit was, te herstel want
die grondslag van spolie is juis
om te verhoed dat mense direk die
reg in hulle eie hande neem waar ander mense se besit ter sprake is.
Ek is van oordeel dat in
die betrokke feite van hierdie saak hoe
ongelukkig dit ook vir die respondent is, is daar wel voldoende
ernstige inbreukmaking
op die besit en gebruik van die pad
plaasgevind het.
[12] Ek herhaal my
simpatie met die respondent, wat soos wat dit ‘n goeie boer
betaam, sy lande met kontoere ontwerp en, uitgeslote
die tweede
sloot, hy van mening was dat hy bloot die pad rederlikerwys kan verlê
en dit nog steeds vir gebruik deur persone
beskikbaar stel volgens
hom niks verkeerd gedoen het en dat hy dit kon doen sonder om die
applikant te ken of ‘n ooreenkoms
tot hierdie verlegging van
die pad toe te stem.
[13] As ‘n persoon
na die kaarte kyk skyn dit of daar met gerief ‘n moontlike
alternatiewe roete oor die gedeelte, voor
die verlegging, ooreengekom
kan word sonder dat dit deur die lande van respondent hoef te beweeg.
Maar, kortom, behoort respondent
nie die reg in eie hande te geneem
het nie en behoort ‘n hof oor die meriete van ‘n
verskuiwing of sluiting te besluit,
indien die partye nie tot ‘n
ooreenkoms kan kom nie. Dit lê tans nie binne my bevoegdhede om
daaroor te besluit nie.
Die mandament van spolie is ‘n robuuste
remedie, meriete speel tans geen rol asook nie die belang of gerief
van die partye
en gaan my bevel waarskynlik onbillik teenoor die
respondent werk. Hy moes egter, voordat hy die reg in eie hande
geneem het, regsadvies
ingewin en gevolg daaraan gegee het.
[14] In die
vooropstelling maak ek die volgende bevel:
14.1 Dat respondent gelas
en beveel word om onmiddellik die applikant en vorige gebruikers van
die pad oor Bergplaats na Houthoek
se vrye en ongestoorde gebruik van
die pad te herstel, die pad oop te maak, die slote daaroor gegrawe
toe te maak en die pad te
herstel tot die toestand waarin dit was
onmiddellik voordat die pad beskadig en verlê is.
14.2 Dat respondent gelas
word om die koste van die applikant te betaal.
____________________
J. Y. CLAASEN, WND R
Namens die applikant:
Adv. P J T de Wet
In opdrag van:
Symington & De Kok
BLOEMFONTEIN
Namens die Respondent:
Mnr. D B du Preez SC
In opdrag van:
Naudes
BLOEMFONTEIN
/EB