About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 35
|
|
Prokureursorde van die Vrystaat v Spillman (4693/2011) [2012] ZAFSHC 35 (1 March 2012)
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Saaknr. : 4693/2011
In
die saak tussen:-
DIE
PROKUREURSORDE VAN DIE VRYSTAAT
...................
Applikant
en
EMIELE
SPILLMAN
.............................................................
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
JORDAAN, R
et
DAFFUE, R
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP:
1 MAART 2012
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
JORDAAN, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
8 MAART 2012
_____________________________________________________
[1] Die applikant is die Prokureursorde van die Vrystaat
wat aansoek doen vir die skrapping van die Rol van Prokureurs van die
respondent,
een van applikant se lede wat as prokureur praktiseer in
‘n eenmansaak uit sy huis. Die respondent is toegelaat as
prokureur,
notaris en transportbesorger op 19 Oktober 1995 en
praktiseer derhalwe as sulks.
[2] Die aansoek spruit voort uit drie klagtes wat die
applikant ontvang het met betrekking tot die optredes van die
respondent,
welke klagtes nie in geskil is nie en nie deur die
respondent betwis word nie. Dit is dienlik om kortliks na die aard en
omvang
daarvan te verwys.
[3] Die eerste klagte is aanhangig gemaak deur ‘n
mede-prokureur. Gedurende die jaar 2009 het sy twee
huweliksvoorwaardekontrakte
ten opsigte van kliënte van haar aan
die respondent gestuur ten einde dit te registreer in die
Akteskantoor. Sy het verskeie
oproepe aan hom gemaak ten einde die
geregistreerde dokumente terug te ontvang, waarop hy haar meegedeel
het dat hy die lêer
soek en die geregistreerde kontrakte aan
haar sal laat toekom. Hierdie mededelings was natuurlik leuenagtig,
aangesien hy nooit
toegesien het daartoe dat die kontrakte
geregistreer word nie ongeag die feit dat hy betaling daarvoor
ontvang het.
[4] Die volgende klagte word as klagte 3 in die stukke
behandel, maar in chronologiese datumvolgorde behoort dit as die
tweede klag
gesien te word. Hiervolgens het ene Meyer gedurende
Augustus 2009 ‘n aanmaningskrywe van ‘n prokureursfirma
uit Oos
Londen ontvang vir die terugbetaling van twee lenings in die
gesamentlike bedrag van R78 649,20 ten opsigte van sekere
oorbruggingsfinansiering
deur die maatskappy Vincemus Investments
(Edms) Bpk verleen. Aangesien Meyer nooit sodanige lenings aangegaan
het nie, het hy navraag
gedoen en is dit vasgestel dat die respondent
hierdie lenings bekom het onder die naam van die gesegde Meyer. Die
aansoeke was
reeds gedoen op die 19de Januarie 2009 en betaling aan
respondent het geskied op die 20ste Januarie 2009.
[5] In reaksie op hierdie voorval, het die respondent op
die 26ste Oktober 2009 ‘n skrywe gerig aan die gesegde Meyer
waarin
hy erken dat hy die lenings ten behoewe van homself aangegaan
het in die naam van Meyer. In die brief betuig hy sy spyt en
geweldige
berou en meld die volgende:
“
Ek het ‘n groot les geleer en is nou
besig om die verlede reg te stel. Ek sal nooit weer hierdie weg volg
nie en besef dat
ek ook my familie te na gekom het.”
[6] In antwoord op hierdie aanklag het die respondent
ook ‘n eedsverklaring aan die applikant laat toekom gedateer 23
November
2011. Daarin meld hy, onder andere, dat hy as gevolg van die
aangeleentheid behandel is in die hospitaal vir ‘n tydperk en
waartydens hy, onder andere, ‘n geweldige epileptiese aanval
gehad het wat tot tydelike bewusteloosheid gely het.
[7] Die volgende klagte wat in die stukke as die tweede
klagte behandel is, maar in chronologiese tydsverloop die derde
klagte behoort
te wees, is ‘n klagte ingedien namens ‘n
maatskappy bekend as CapX (Edms) Bpk. Dit blyk dat die respondent aan
die
gesegde maatskappy voorgegee het dat ‘n sekere kliënt,
ene Pretorius, oorbruggingsfinansiering benodig ten opsigte van
‘n
eiendomstransaksie. Vir daardie doel het die respondent sekere
dokumentasie aan CapX (Edms) Bpk laat toekom wat ingesluit
het, onder
andere, ‘n prokurasie om transport te gee geteken op 5
Februarie 2010, ‘n volmag om, onder andere,
oorbruggingsfinansiering
te bekom gedateer 16 Februarie 2010, ‘n
aansoek om oorbruggingsfinansiering onderteken 17 Februarie 2010
sowel as ‘n
getekende leningsooreenkoms gedateer 17 Februarie
2010. Hierdie dokumente gee almal voor om deur ene Pretorius
onderteken te wees.
[8] Dit is onbetwis dat, voor oorbetaling van die
gevraagde finansiering aan die respondent, ‘n verteenwoordiger
van die maatskappy
navraag gedoen het oor die kontakbesonderhede van
die gesegde Pretorius ten einde sekere inligting van Pretorius te
bekom. Die
respondent het egter aangedui dat Pretorius moeilik
bekombaar is en het op grond van daardie navrae die volmag gedateer
16 Februarie
2010 aan die maatskappy laat toekom met, onder andere,
die volgende nota daarop:
“
Is die volmag nie dalk voldoende. Ek spoor
die kliënt nie vandag op en wil dit graag afhandel. Dis ‘n
onherroeplike volmag.”
[9] Die bedrag van R169 000,00 is as gevolg van die
voormelde dokumentasie aan die respondent oorbetaal. Die volgende dag
het die
maatskappy vasgestel dat die gesegde Pretorius geen kennis
dra van die transaksie nie en nie die respondent ken nie. Die
respondent
is deur Mnr. Rossouw, namens die maatskappy, gekonfronteer
waartydens hy aanvanklik beweer het dat die gesegde Pretorius
voorheen
deel sou wees van die eiendomstransaksie, maar dat dit
eintlik nou iemand anders is wat die geld benodig. Later het die
respondent
erken dat hy die geld vir homself gebruik het en aangevoer
dat hy dit gebruik het om te betaal vir sy vrou se mediese
behandeling.
In ‘n e-pos gedateer 25 Februarie 2010 skryf die
respondent aan die betrokke maatskappy se verteenwoordiger dat hy nou
na
‘n paar dae in die hospitaal volstoom besig is om die geld
verskuldig bymekaar te kry en dit binne enkele dae sal terugbetaal.
Hy gaan voort om te beweer:
“
Ek is werklik net oorval deur vrees en
siekte in my familie en poog om die probleem so spoedig moontlik op
te los.”
[10] Soos reeds vermeld, erken die respondent die
voormelde optredes en bewerings wat teen hom gemaak is. Hy wys daarop
dat hy die
bedrag van R169 000,00 met rente en regskoste reeds
terugbetaal het aan die maatskappy CapX (Edms) Bpk en onderneem om
die gelde
van die ander maatskappy terug te betaal teen April 2012.
[11] Die respondent voer aan dat die hof in sy diskresie
hom nie van die rol behoort te skrap nie, maar inderdaad slegs ‘n
skorsing vir ‘n gepaste tydperk onder gepaste voorwaardes sal
oplê. Ter regverdiging hiervoor steun hy uitsluitlik
op ‘n
mediese toestand waarna hieronder verwys word.
[12] Respondent beweer dat hy vroeg in die jaar 2000
vasgestel het dat hy sukkel om druk en angs te verwerk en dat hy
daarna met
‘n bipolêre versteuring gediagnoseer is. Hy
beweer dan ook dat hy geadviseer is dat, met die korrekte medikasie,
die
versteuring en veral die gepaardgaande onderliggende simptome
suksesvol beheer kan word, wat hom in staat sal stel om professioneel
en verantwoordelik op te tree. Hy beweer dat hy glo dat hy, met die
korrekte medikasie, nie so sou opgetree het soos hy gedoen
het nie en
dat dit hom spyt dat hy nie vroeër professionele hulp ingewin
het nie.
[13] Ter ondersteuning van sy beweerde toestand, het
respondent ‘n eedsverklaring van Dr. S.J. Meyer, ‘n
psigiater van
beroep, aangeheg. Volgens hierdie verklaring het die
gesegde Dr. Meyer die respondent reeds in Maart 2004 gekonsulteer en
gediagnoseer
met bipolêre versteuring waarna hy ook daarvoor
behandel is. In die verklaring word oor die algemeen verwys na die
aard en
effek van bipolêre versteurings en word, onder andere,
die volgende vermeld:
“
In erge gevalle kan die insig en oordeel
van die persoon so versteurd wees dat die persoon, uit ‘n
regsoogpunt, as verminderd
toerekeningsvatbaar beskou kan word.”
Die gesegde psigiater gaan dan as volg voort:
“
Ek is van mening dat dit moontlik is dat
sommige van die dade waarna verwys word in die hofstukke, tydens
sulke episodes plaasgevind
het. Dit is ook redelik algemeen dat
ongediagnoseerde pasiënte met maniese depressie hulself medikeer
of middels gebruik om
sodoende hulle simptome van depressie of
hiperaktiwiteit te hanteer.”
“
... Dit is volgens my moontlik dat Mnr.
Spillman reeds lank ongediagnoseerde maniese episodes ervaar
waartydens hy groot planne
het, groter risiko’s neem en sy
oordeel oor die algemeen ingekort is.”
“
... Die misbruik van middels bly volgens my
steeds ‘n risiko by Mnr. Spillman maar in my ondervinding is
dit egter moontlik
om enige misbruik en/of verslawing met die verloop
van tyd te oorkom.”
Die psigiater sluit dan af met die opmerking dat die
respondent volgens sy mening na die verloop van tyd en met behoorlik
behandeling
weer in staat sal wees om as professionele prokureur
behoorlik te funksioneer.
[14] Wat onmiddellik blyk uit die voormelde getuienis is
die volgende:
(a) Die respondent is reeds in 2004 gediagnoseer en
sedert toe deur die psigiater behandel. Die opmerkings omtrent
ongediagnoseerde
pasiënte is derhalwe nie van toepassing in die
tydperk wat die oortredings gepleeg is nie.
(b) Die psigiater is van mening dat slegs in erge
gevalle ‘n persoon se toerekeningsvatbaarheid moontlik as
gevolg van die
toestand verminder kan word. Nêrens beweer hy
egter dat die respondent aan erge bipolêre versteurings ly nie.
(c) Die psigiater meld slegs as ‘n moontlikheid
dat
sommige
van die dade tydens sulke episodes plaasgevind
het. Dit is nie vir die hof om te spekuleer oor moontlikhede nie,
maar moet daar
‘n beslissing gemaak word op grond van
behoorlike getuienis en op waarskynlikhede.
(d) Volgens die psigiater se getuienis is die respondent
weens sy psigiese toestand in elk geval nie tans geskik om as
prokureur
te praktiseer nie.
(e) Die psigiatriese getuienis gaan nêrens so ver
as om te probeer voorgee dat ‘n bipolêre versteuring kan
lei
tot oneerlikheid as sulks nie.
[15] Op grond van die voormelde moet die volgende drie
aspekte oorweeg word:
(a) Die vraag of die beweerde oortredings bewys is. In
hierdie geval is dit gemene saak en hoef daar nie verder daarmee
gehandel
te word nie.
(b) Die vraag of die respondent in die lig van die
voormelde getuienis, in die diskresie van die hof, geag word nie ‘n
geskikte
en gepaste persoon te wees om voort te gaan om as prokureur
te praktiseer nie. Hierna word later teruggekeer.
(c) Indien bevind word dat die respondent nie ‘n
geskikte en gepaste persoon is om as prokureur te praktiseer nie,
ontstaan
die derde vraag, naamlik of die hof, in sy diskresie, moet
gelas dat hy geskrap word van die Rol van Prokureurs of,
alternatiewelik,
‘n bevel waarvolgens hy vir ‘n sekere
tydperk geskors word voldoende mag wees.
Sien
MALAN AND ANOTHER v
LAW SOCIETY, NORTHERN PROVINCES
[2008] ZASCA 90
;
2009 (1) SA 216
(SCA) te 219
par. [4].
[16] Met betrekking tot die vraag of die respondent ‘n
geskikte en gepaste persoon is om as prokureur te praktiseer, is dit
eerstens duidelik dat hy nie alleen op verskeie geleenthede
bedrieglik opgetree het nie, maar ook aanvanklik probeer het om dit
op ‘n leuenagtige wyse te verduidelik. So het hy, onder andere,
‘n leuen vertel oor Pretorius se betrokkenheid deur
aanvanklik
voor te gee dat Pretorius wel betrokke was, maar later uit die
prentjie verdwyn het. Dit is ‘n duidelike leuen.
Dit is ook
duidelik dat die respondent, ten einde die oorbruggingsfinansiering
te bekom, verskeie dokumente nie alleen vervals
het nie, maar ook die
handtekeninge daarop vervals het. Dit dui op ‘n beplande
optrede eerder as impulsiewe gedrag. Sy bedrieglike
optrede is
onbetwis.
[17] Wat betref die verwagte
standaard van professionele optrede van ‘n prokureur is in die
beslissing van
VASSEN v LAW SOCIETY OF THE CAPE OF GOOD
HOPE
[1998] ZASCA 47
;
1998 (4) SA 532
(SCA) te 538 G die volgende gesê:
“
In this regard it
must be borne in mind that the profession of an attorney, as of any
other officer of the Court, is an honourable
profession which demands
complete honesty, reliability and integrity from its members;”
Min of meer
dieselfde word ten opsigte van ‘n advokaat gesê (die
beginsels is net so van toepassing op ‘n prokureur)
in
KEKANA
v SOCIETY OF ADVOCATES OF SOUTH AFRICA
[1998] ZASCA 54
;
1998 (4) SA 649
(SCA)
te 656 A:
“
The preservation of a
high standard of professional ethics having thus been left almost
entirely in the hands of individual practitioners,
it stands to
reason, firstly, that absolute personal integrity and scrupulous
honesty are demanded of each of them ...”
[18] Dit is duidelik dat die respondent se optredes nie
aan die voormelde streng vereistes van eerlikheid en integriteit
voldoen
nie. Daar kan geen twyfel wees dat die respondent as gevolg
van sy bedrieglike optrede en in die omstandighede waaronder dit
geskied
het, nie ‘n geskikte en gepaste persoon is om as
prokureur te praktiseer nie. Dit is in effek deur Mnr. Fischer,
namens die
respondent, toegegee.
[19] Wanneer dit kom by die oorweging van die vraag of
die respondent van die Rol van Prokureurs geskrap moet word of,
alternatiewelik,
bloot vir ‘n tydperk geskors moet word, moet
natuurlik ook die respondent se persoonlike omstandighede in ag
geneem word.
Hy is tans 53 jaar oud, getroud en het drie kinders wat
onderskeidelik 30, 26 en 19 jaar oud is. Hy het aanvanklik gewerk by
die
Registrateur van Aktes, later ‘n BJuris en LLB behaal
waarna hy as klerk by ‘n prokureursfirma gewerk het. Aldaar het
hy kwalifiseer as prokureur, notaris en transportbesorger en na sy
toelating as sulks vir ‘n tydperk as professionele assistent
gewerk. Vanaf die jaar 2000 het hy vir eie rekening begin praktiseer
uit sy huis. Hy was ook van tyd tot tyd deeltyds ‘n
dosent te
die Universiteit van die Vrystaat, Damelin Kollege en te LEAD. Soos
reeds gemeld het hy reeds die bedrag ten opsigte
van CapX (Edms) Bpk
terugbetaal en onderneem om die ander gelde terug te betaal teen
April van hierdie jaar.
[20] In die
VASSEN
-beslissing
(
supra
) te 538 J word tereg daarop gewys dat selfs indien dit
vasstaan dat ‘n prokureur ‘n pilaar in die gemeenskap is,
goeie
gemeenskapsdiens lewer, sosiale opheffingswerk doen,
ensovoorts, dit nie gesien kan word as ‘n plaasvervanger in sy
beroep
vir die vereistes van eerlikheid, betroubaarheid en
integriteit nie.
In
MALAN AND ANOTHER v LAW SOCIETY, NORTHERN
PROVINCES
[2008] ZASCA 90
;
2009 (1) SA 216
(SCA) te 221 D – E word die
volgende gesê met betrekking tot die vraag of ‘n skorsing
eerder as skrapping aangewese
is in gevalle van oneerlike gedrag deur
‘n prokureur:
“
Obviously, if a court
finds dishonesty, the circumstances must be exceptional before a
court will order a suspension instead of
a removal.”
In die beslissing van
A
v LAW SOCIETY OF THE CAPE OF GOOD HOPE
1989 (1) SA 849
(AD)
is ‘n prokureur slegs geskors nadat hy hom skuldig gemaak het
aan teistering van sy gewese vrou, haar familie en haar
eertydse
regsverteenwoordigers wat in die egskeidingsgeding namens haar
opgetree het. Daar was verskeie interdikte teen hom verkry,
waaraan
hy nie gehoor gegee het nie. In daardie geval was daar psigiatriese
getuienis beskikbaar wat daarop gedui het dat die betrokke
prokureur
inderdaad aan ‘n persoonlikheidsongesteldheid gely het wat
inderdaad die oorsaak van sy optrede was. Daar is bevind
dat sy
optrede teenoor ander in sy professionele hoedanigheid onberispelik
was. Volgens die psigiatriese getuienis sou die persoonlikheidsgebrek
bevredigend behandel kon word en was dit onwaarskynlik dat hy die
gesegde tipe optrede sou herhaal.
In die huidige geval is daar, soos reeds vermeld, geen
aanduiding dat die respondent se bipolêre versteuring
oorsaaklik is
tot oneerlikheid nie. Behalwe om te verwys na
moontlikhede en algemene gevolgtrekkings, neem die psigiatriese
getuienis die aangeleentheid
hoegenaamd nie verder nie en is nie
spesifiek gerig op die omstandighede en toestand van die respondent
nie. In die laasgemelde
beslissing was oneerlikheid en bedrog nie ter
sprake nie, maar sosiaal onaanvaarbare gedrag.
[21] Aangesien elke geval op sy eie beoordeel behoort te
word en waar weinig indien ooit presies ooreenstemmende omstandighede
tussen
verskillende gevalle is, is dit nodeloos om ‘n studie te
doen van vergelykbare bevele in ander sake. Volstaan kan word met
die
algemene opmerking dat as algemene reël, waar oneerlikheid ter
sprake is, skrapping die algemene gevolg is.
[22] Daar is reeds op gewys dat die respondent grootliks
daarop steun dat hy, met die nodige korrekte behandeling, ‘n
behoorlike
professionele praktyk sal kan voortsit. Eerstens impliseer
dit ‘n erkenning dat hy nie tans daartoe in staat is nie en
tweedens
is dit in elk geval op ander gronde te betwyfel. Die
respondent is reeds in 2004 gediagnoseer en ontvang sedert daardie
stadium
die korrekte behandeling, aldus die psigiatriese getuienis.
Die bedrieglike oortredings het geskied tussen 2009 en 2010, nadat hy
reeds vir ten minste vier of vyf jaar onder behandeling is. Nadat hy
in 2009 die eerste bedrieglike oorbruggingsfinansiering bekom
het in
die naam van Meyer, het hy teenoor Meyer aangedui dat hy sy les
geleer het en besig is om sy verlede reg te stel. Dit het
geskied in
Oktober 2009. Enkele maande later, in Februarie 2010, doen hy presies
dieselfde ten opsigte van Pretorius. Daar is nie
op die
waarskynlikhede enige oorsaaklike verband tussen die bipolêre
versteuring en sy oneerlike optrede aangetoon nie. Inteendeel,
dui
die berekende wyse waarop hy die transaksies beklink het eerder op
beplande optrede in stede van impulsiewe optrede gedryf
deur psigiese
tekortkominge.
[23] In al die omstandighede van die saak is ek nie
oortuig dat daar enige regverdiging is vir ‘n skorsing uit die
praktyk,
eerder as skrapping van die Rol van Prokureurs nie. By die
oorweging van ‘n gepaste sanksie, is dit nie net die
persoonlike
omstandighede van die respondent wat oorweging verg nie.
Die gepaste sanksie is nie slegs gerig op ‘n straf nie, maar
speel
die beskerming van die publiek teen oneerlike regspraktisyns
ook ‘n rol. Die respondent was in verskeie opsigte en op
verskeie
geleenthede oneerlik en het deur bedrog fondse bekom vir sy
eie gewin. Ek kon geen uitsonderlike omstandighede vind wat ‘n
mindere sanksie as skrapping van die rol regverdig nie.
[24] Ek is derhalwe van mening dat die respondent nie ‘n
bevoegde en gepaste persoon is om as prokureur van die hof te
praktiseer
nie en dat hy van die Rol van Prokureurs van die hof
geskrap moet word.
[25] Wat die koste van die aansoek betref, is die
normale gevolg dat, indien ‘n suksesvolle aansoek deur die
Prokureursorde
gebring word, die betrokke respondentprokureur die
koste van die aansoek betaal. In hierdie geval vra die applikant dan
ook vir
betaling van die koste deur die respondent op die skaal soos
tussen prokureur en kliënt. Dit is nie deur respondent betwis
nie en is daar geen rede hoekom ‘n ander bevel verleen sal word
wat dit aanbetref nie.
[26] Bygevolg word die volgende bevele verleen:
1. Die naam van die respondent word geskrap van die Rol
van Prokureurs van die hof.
2. Verdere bevele word verleen in terme van die
aanhangsel hiertoe gemerk “A”.
_______________
A.F. JORDAAN, R
Ek stem saam.
_____________
J.P. DAFFUE, R
Namens
die applikant: Adv. D.M. Grewar
In
opdrag van:
Azar
& Havenga Ingelyf
BLOEMFONTEIN
Namens
die respondent: Adv. P.U. Fischer SC
In
opdrag van:
Gerbers
Junius Prokureurs
BLOEMFONTEIN
/sp
AANHANGSEL “A”
[1] Respondent word gelas om sy toelatingsertifikate as
prokureur, notaris en akte-uitmaker aan die Griffier van die Hof te
oorhandig
binne 7 (sewe) dae vanaf datum hiervan, by versuim waarvan
die Balju gemagtig en gelas word om die sertifikate in besit te neem
en dit aan die Griffier te oorhandig.
[2] Respondent word gelas om alle boeke, gelde,
rekenings, rekords en dokumente wat besonderhede verskaf van sy
praktyk aan die
kurator aangestel in terme van paragraaf [8] hiervan
(hierinlater na verwys as die kurator) te oorhandig, welke die
volgende insluit:
2.1 Alle gelde ontvang, gehou of betaal deur respondent
vir of ten behoewe van enige persoon;
2.2 Alle gelde belê in terme van artikels 78(2) en
78(2)(A) van die Wet op Prokureurs, 53 van 1979 (die Wet);
2.3 Alle rente ontvang op sodanige beleggings wat aan
respondent betaal of betaalbaar is;
2.4 Met betrekking tot enige bestorwe of insolvente
boedel, of boedel onder kuratorskap geplaas waarvan respondent die
eksekuteur
of kurator is, of welke boedel se administrasie deur
respondent namens ‘n eksekuteur of kurator hanteer word;
2.5 Alle boeke, rekenings, lêers en dokumentasie
van welke aard ook al wat te make het met sy praktyk, asook boeke,
rekeninge,
lêers en dokumentasie waartoe hy toegang het.
[3] Indien respondent versuim om enige dokumentasie
vermeld in paragrawe 2.1 tot 2.5 te oorhandig binne 7 (sewe) dae
vanaf datum
van hierdie bevel word die Balju gemagtig en gelas om
sodanige dokumente in ontvangs te neem en aan die kurator te
oorhandig.
[4] Die kurator sal geregtig wees om enige van die
dokumente, rekenings, lêers en rekords in ontvangs te neem en
dit te oorhandig
aan enige persoon wat daarop geregtig is nadat alle
fooie en uitgawes wat in verband daarmee staan, bevredigend betaal
is.
[5] ‘n Geskrewe onderneming van ‘n persoon
aan wie die dokumentasie waarna verwys word in paragraaf [4]
oorhandig is
waarin onderneem word om sodanige bedrae aan die kurator
te betaal wat betaalbaar is, hetsy by ooreenkoms of nadat die
rekenings
getakseer is, sal geag word behoorlike sekuriteit te wees
vir doeleindes van paragraaf [4]. Die onderneming moet ‘n
behoorlike
domicilium citandi et executandi
van sodanige
persoon bevat.
[6] Die kurator word gemagtig om enige rekening, lêer,
dokument, rekenaar, rekenaarprogrammatuur of inligtingstuk, hetsy
elektronies
of op skrif gestel, wat relevant is tot respondent se
praktyk en direk of indirek van toepassing is op enige potensiële
eis
teen respondent en/of respondent se kliënte en/of die
getrouheidswaarborgfonds (hierinlater na verwys as die fonds), of wat
betrekking het op enige gelde of eiendom wat aan respondent
toevertrou is, in ontvangs te neem.
[7] Respondent word verbied om op enige wyse te handel
met gelde in sy trustrekening gedeponeer.
[8] Die hoof uitvoerende beampte van applikant, of in sy
afwesigheid enige persoon wat in sy plek waarneem, word aangestel as
kurator
ten einde die trustrekening van respondent in ontvangs te
neem tesame met enige onafhanklike rekenings wat geopen is by enige
bank
of finansiële instelling in terme van artikel 78(1) van die
Wet en/of enige rentedraende rekenings soos bedoel in artikels
78(2)
en 78(2)(A) van die Wet en hy word gemagtig om enige sodanige gelde
(hierinlater genoem die trustrekening) te bestuur onderhewig
aan die
volgende magte en verpligtinge:
8.1 Dat hy, onderhewig aan die goedkeuring van die
beheerraad van die fonds, enige tjeks mag teken en endosseer of
fondse onttrek
en in die algemeen alles mag doen ten einde die doel
te bereik waarvoor respondent aangestel is tot en met die datum van
hierdie
bevel;
8.2 Dat hy, onderhewig aan die goedkeuring en beheer van
die beheerraad van die fonds, geregtig sal wees om enige gelde te
vorder
en in ontvangs te neem namens persone wat geldige eise teen
die trustrekening het en/of teen respondent ten opsigte van gelde
ontvang
en/of belê in terme van artikels 78(1), 78(2) en
78(2)(A) van die Wet (trustgeld) en om enige regsgedinge aanhangig te
maak
vir die verhaal van gelde wat verskuldig mag wees aan sulke
persone as gevolg van onafgehandelde sake hanteer deur respondent,
welke gelde moontlik onregmatig uit die trustrekening betaal is en om
sulke gelde in die trustrekening te deponeer;
8.3 Om vanuit die respondent se finansiële state en
boekhouding die name vas te stel van alle persone namens wie
respondent
gelde gehou het en/of ontvang het (hierinlater na verwys
as die trustkrediteure) en van respondent te verlang om binne 30
(dertig)
dae vanaf die datum van die verlening van hierdie bevel
sodanige name en adresse met spesifieke verwysing na die besonderhede
en
bedrae van die relevante transaksies te verskaf;
8.4 Om van alle trustkrediteure inligting te bekom by
wyse van beëdigde verklaring wat hy in sy opinie dienstig ag ten
einde
hom in staat te stel om in oorleg met die beheerraad van die
fonds vas te stel welke krediteure aanspraak het op die gelde in die
trustrekening en wat die omvang van hulle eise beloop;
8.5 Om, onderhewig aan die goedkeuring van die
beheerraad van die fonds, enige eise van enige trustkrediteur te
aanvaar of te verwerp
sonder benadeling van so ‘n krediteur se
reg van toegang tot die siviele howe;
8.6 Nadat alle bedrae verskuldig deur respondent
vasgestel is, sodanige eise ten volle of gedeeltelik uit te betaal
onderhewig aan
die goedkeuring van die beheerraad van die fonds;
8.7 Om enige kredietbalans in die trustrekening wat mag
bestaan nadat alle eise van trustkrediteure ten volle vereffen is,
aan te
wend ten einde aan enige eise van die fonds in terme van
artikel 78(3) van die Wet te voldoen en daarna sonder benadeling van
die
regte van enige krediteur van die respondent, die koste, fooie en
uitgawes te betaal soos verwys na in hierdie bevel, of sodanige
gedeelte daarvan as wat nog nie deur die respondent aan applikant
vereffen is nie, en indien enige verdere balans bestaan, dit,
onderhewig aan die goedkeuring van die beheerraad van die fonds, aan
respondent te betaal indien hy solvent is, alternatiewelik
aan sy
kurator indien hy insolvent is;
8.8 In geval daar onvoldoende fondse in die
trustrekening is om trustkrediteure soos geflekteer op die boeke ten
volle te betaal,
dan in daardie geval
8.8.1 sal die trustrekening gesluit word en die
kredietbalans aan die fonds oorbetaal word met die opdrag om ‘n
spesiale trustafwagtingsrekening
in die naam van respondent in die
fonds se boeke te skep en die rekening met die bedrag aldus ontvang
te krediteer;
8.8.2 word al sodanige eise van trustkrediteure na die
beheerraad van die fonds verwys om mee gehandel te word in terme van
die
bepalings van die Wet;
8.8.3 kan die kurator die beheerraad van die fonds
magtig om sodanige kredietbalans soos verwys na in subparagraaf 8.8.1
hierbo
te krediteer na die fonds se “betaalde eiserekening”
met die totale bedrag wat betaal is ooreenkomstig artikel 26 van
die
Wet aan trustkrediteure wie se eise erken is; met dien verstande dat
nieteenstaande die voormelde, die beheerraad geregtig
sal wees om in
sy diskresie die bedrag of bedrae van enige eis/eise wat deur dit
erken en betaal is oor te dra na die “betaalde
eiserekening”;
8.9 Om, onderhewig aan die goedkeuring van die
voorsitter van die beheerraad van die fonds, genomineerdes of
verteenwoordigers aan
te stel en/of te konsulteer met en/of
prokureurs en/of advokate en/of rekenmeesters en/of ander persone aan
te stel wanneer dit
noodsaaklik geag word ten einde die kurator by te
staan in die uitvoering van sy pligte;
8.10 Om van tyd tot tyd, as kurator, verslag te doen aan
die beheerraad van die fonds met betrekking tot sy hantering van die
trustrekening
totdat die beheerraad kennis gee dat hy van sy pligte
onthef word.
[9] Respondent word gelas om
9.1 alle redelike en voorgeskrewe fooie en uitgawes van
die kurator te betaal;
9.2 alle redelike fooie en uitgawes te betaal van enige
persone wat gekonsulteer is en/of deur die kurator aangestel is;
9.3 skriftelike bewys te lewer, deur die voorlegging van
getakseerde rekenings of andersins, aan die kurator binne 1 (een)
jaar
vanaf die datum waarop hy sodanig versoek is, van fooie en
uitgawes verskuldig in verband met sy voormalige praktyk en sou hy in
verstek bly om die kurator sodanig tevrede te stel, sal hy nie
geregtig wees om enige fooie en uitgawes van die kurator te verhaal
nie sonder benadeling van sy regte om sodanige eise teen sy
trustkrediteure in te stel vir die verhaal daarvan.
[10] Respondent word gelas om applikant se koste te
betaal op prokureur en kliënt skaal.