About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1982
>>
[1982] ZASCA 2
|
|
Pakendorf en Andere v De Flamingh [1982] ZASCA 2 (31 March 1982)
SAFLII
Note:
This
case was originally published by Juta and Company (Pty) Ltd. Juta
retains copyright as far as it subsists.
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In
die saak tussen:
PAKENDORF
EN
ANDERE
APPELLANT
V
DE
FLAMINGH RESPONDENT
Parallel
citation:
1982 (3) SA 146
(A)
Coram:
Rumpff HR, Jansen AR, Miller AR, Joubert AR en Cillié AR
Heard:
February 15, 1982
Judgment:
March 31, 1982
UITSPRAAK
Case
Information
Appèl
teen 'n beslissing in die Transvaalse Provinsiale Afdeling
(KIRK-COHEN WN R). Die feite blyk uit die uitspraak van
RUMPFF HR en
die uitspraak van KIRK-COHEN WN R in die Hof a quo.
A
J Heyns SC (bygestaan deur D H van Zyl ) namens die appellante: Ex
facie die berigte self word daarin lasterlike bewerings oor
eiser
gemaak en aangesien elke berig objektief gesproke nie korrek verwys
het
1982
(3) SA p148
na
die optrede van eiser as die persoon op wie die Regter se sensuur
gemik was nie is die publikasie daarvan onregmatig. Vgl Le
Grange v
Schoeman and Others 1980 (1) SA te 893H, 894A - D. Dus kon die
verweerders nie langer staatmaak op hulle verweer dat die
gewraakte
berig regmatiglik gepubliseer was nie. Die verhoor is toe gevoer op
verweerders se ander verweer, nl dat elke koerant
ontken het dat sy
berig kwaadwilliglik gepubliseer was soos deur eiser beweer. Vgl May
v Udwin 1981 (1) SA te 10C - H; Marais v
Richard en 'n Ander 1981 (1)
SA te 1166E - H, 1167A. Aangesien die berigte lasterlike bewerings
oor eiser bevat het en publikasie
daarvan bewys is, het 'n vermoede
derhalwe ontstaan dat verweerders die berigte gepubliseer het animo
injuriandi. Dit het 'n weerleggingslas
op verweerders gelê om
'n skulduitsluitingsgrond te bewys wat die afleiding van animus
injuriandi sou weerlê, en dit
kon hulle doen deur getuienis
voor te lê dat hulle nie die opset gehad het om eiser te
belaster nie. Vgl Suid-Afrikaanse
Uitsaaikorporasie v O'Malley 1977
(3) SA te 402A - H, 403B - D; Borgin v De Villiers and Another 1980
(3) SA te 571E - G; May v
Udwin (supra te 10C - H, 11A); Marais v
Richard en 'n Ander (supra te 1166H). Die aard van die
weerleggingslas wat so op verweerders
geplaas is, is niks meer as 'n
verpligting om getuienis voor die Hof te lê waarmee 'n twyfel
by die Hof geskep word dat die
vermoede wat ontstaan het met bewys
van die publikasie van die lasterlike berigte, nl dat dit met opset
om te belaster gedoen is,
inderdaad nie so af te lei is nie. Die
weerleggingslas het nie 'n las op verweerders geplaas om op 'n oorwig
van waarskynlikhede
te bewys dat hulle nie die opset om te laster
gehad het nie want die bewyslas in die sin van die onus probandi, het
steeds op eiser
gebly om aan die einde van die saak op 'n oorwig van
waarskynlikhede te bewys dat die laster wederregtelik di met
wederregtelikheidsbewussyn
gepubliseer is. Vgl South Cape Corporation
v Engineering Management Services 1977 (3) SA te 548B - G; Moaki v
Reckitt and Colman
(Africa) Ltd and Another 1968 (3) SA te 105F - H,
106A; Tregea and Another v Godart and Another 1939 AD te 32 - 33.
Die
bevinding dat die verslaggeefsters die bedoeling gehad het om die
eiser te belaster, maar geglo het dat hulle dit regmatiglik
kon doen,
maw dat die animus injuriandi aanwesig was maar dat hulle geglo het
dat onregmatigheid uitgesluit was, is 'n regsdwaling.
Skuld en
onregmatigheid synde twee afsonderlike elemente van die delik laster
kan heeltemal afsonderlik van mekaar bestaan. Omdat
die
verslaggeefsters geglo het dat wat hulle omtrent die eiser in hulle
verslag geskryf het, 'n korrekte weergawe was van wat die
Regter oor
sy optrede gesê het, het hulle juis, subjektief geoordeel, nie
die opset gehad om eiser te belaster nie. Hulle
dwaling het opset
uitgesluit alhoewel nie onregmatigheid nie. Vgl Marais v Richard en
'n Ander (supra te 1166G - H); May v Udwin
(supra te 10C - H); SAUK v
O'Malley (supra te 403C - D, 407C - D); Maisel v Van Naeren
1960 (4)
SA 836
te 840C - H, 841A - H, 842C - D; THRHR band 42 te 443 -
bespreking van
1979 (3) SA 676
deur Neethling en Potgieter, veral te
445; THRHR band 29 'Animus injuriandi en die afwesigheid van
wederregtelikheidsbewussyn'
deur J D van der Vyver te 337, 345 - 6,
348; band 30 te 39; Craig v Voortrekkerpers Bpk 1963 (1) SA te 156H
en 157A. Die Verhoorhof
moes eiser se eise afgewys
1982
(3) SA p149
het
op die grond dat eiser nie daarin geslaag het om te bewys dat die
gewraakte berigte kwaadwilliglik oor hom gepubliseer was nie.
Die
Verhoorregter het woorde wat duidelik obiter in die uitspraak van die
Appèlafdeling gebruik is, verhef tot die ratio
decidendi van
die uitspraak. Vgl SAUK v O'Malley (supra te 407H). Volgens die
gemene reg bestaan daar nie 'n skuldlose aanspreeklikheid
ten opsigte
van 'n sekere klas persone vir die delik laster in teenstelling met
die aanspreeklikheid van 'n individu wat gegrond
word op sy skuldige
besef nie. As daar wel rede is om so 'n beginsel in ons regspraak in
te voer, behoort dit by wyse van wetgewing
gedoen te word. Vgl
Gedenkbundel: H L Swanepoel (1960) te 41: 'Die Aanspreeklikheid van
die Pers op grond van Laster' deur J C
van der Walt. Sien konsep
wetsontwerp te 80. In die gemene reg is die aksie om genoegdoening te
verhaal vir laster wat gepubliseer
is 'n verskyningsvorm van die
actio injuriarum. Vgl Marais v Richard en 'n Ander (supra te 1166E -
H); Bennett v Morris (1893)
10 SC te 226. Ons regspraak vereis opset,
dolus of animus injuriandi as 'n aanspreeklikheidsvereiste vir 'n
injuria. Vgl Neethling
Persoonlikheidsreg te 71 para 3; Van der Merwe
en Olivier Die Onregmatige Daad in die Suid-Afrikaanse Reg 4de uitg
te 236 - 241
sv 'Die Actio Injuriarum'. Kyk Moaki v Reckitt and
Colman (Africa) Ltd (supra te 104B - H, 105G - H); Jackson v SA
National Institute
for Crime Prevention 1976 (3) SA te 12H, 13A - G;
May v Udwin (supra te 10C - F, 13B - E, 14D - H, 17E - H). As 'n
begrip van skuldlose
aanspreeklikheid van die eienaars van die pers
vir laster daarin gepubliseer in ons reg behoort te bestaan 'weens
die besondere
posisie van die pers en die radio, wat magtige media
is, en 'n weerlose burger in 'n moeilike posisie geplaas kan word'
dan behoort
dit nie gegrond te wees op die beginsels van die actio
injuriarum nie want dit verdoesel die skuldelement daarvan en behoort
by
wyse van wetgewing ingevoer te word. Kyk SAUK v O'Malley (supra te
404H, 405A - B, 407G - H); vgl Clark and Another v Welsh 1975
(4) SA
te 478H, 479A. 'n Skuldlose aanspreeklikheid vir laster sal beteken
dat die subjektiewe element van die actio injuriarum,
nl die opset
aan die kant van die dader om iemand se persoonlikheidsregte aan te
tas, heeltemal oor die hoof gesien word en dan
sal bewys van slegs
die element van onregmatigheid die aksie kan fundeer. Die lasteraksie
sal dan ten opsigte van 'n sekere klas
persone nie meer 'n suiwer
actio injuriarum wees nie. Vgl Die Onregmatige Daad in die SA Reg (op
cit te 237); R v Umfaan 1908 T
S te 66 - 67. Dat skuldlose
aanspreeklikheid in sommige gevalle 'n vergoedingsplig op 'n persoon
plaas ofskoon hy nie aan al die
voorvereistes vir deliktuele
aanspreeklikheid daarvoor voldoen het nie, moet erken word. Maar dit
is nooit in die vorm van 'n actio
injuriarum nie. Kyk SAUK v O'Malley
(supra te 404H, 405A - B). Vgl Die Onregmatige Daad in die SA Reg (op
cit te 489 en verder
sv '8. Gevalle van skuldlose aanspreeklikheid
sogenaamd op grond van onregmatige daad').
Dit
word toegegee dat in die geval van laster gepubliseer in die pers of
oor die radio gespreek dit miskien moeilik mag wees om
die opset om
te belaster by 'n bepaalde persoon tuis te bring. Maar daarenteen
hoef 'n eiser in so 'n geval net soos in casu in
sy uiteensetting van
eis net te beweer dat 'n lasterlike berig kwaadwilliglik oor hom
gepubliseer
1982
(3) SA p150
is
en dan ontstaan die vermoede dat dit opsetlik gedoen is en rus daar
'n weerleggingslas op die verweerder om getuienis te lei
dat opset
nie teenwoordig was nie. Voordat op verhoor gegaan word, moet die
verweerder reeds in sy besonderhede aan die eiser openbaar
waarop sy
verweer berus. Op die wyse is dit moontlik vir die eiser om, voordat
die verhoor begin, reeds vas te stel hoe hy die
opset om te belaster
kan bewys en by wie die die opset sou berus. As die verweerder geen
getuienis sou lei nie sou die prima facie
saak teen hom oorgaan in
afdoende bewys van aanspreeklikheid. Vgl SAUK v O'Malley (supra te
404H, 405A - B, 403A - D, 409C - E).
Dit
staan nie bo twyfel dat in die gewysdes waarna in die O'Malley saak
verwys word die standpunt deurgaans gehuldig is dat die
eienaar of
uitgewer van 'n koerant skuldloos aanspreeklik gehou word vir laster
wat daarin verskyn het. Sommige uitsprake wek so
'n indruk maar dan
is dit waarskynlik gedoen onder die invloed van die Engelse gemene
reg waarin skuldlose aanspreeklikheid grondliggend
by laster is in
teenstelling met die beginsels van die actio injuriarum in ons reg
waarin skuld 'n wesenlike element is. Vgl SAUK
v O'Malley (supra te
403E - H, 404A - H). 'n Ontleding van die sewe gewysdes waarna verwys
word in bogenoemde gedeelte van die
O'Malley- saak laat twyfel
ontstaan of al sewe gewysdes, behalwe die laaste een, gesag is vir 'n
stelling dat die eienaar en die
redakteur van 'n koerant skuldloos
aanspreeklik is vir laster wat in die koerant gepubliseer is. Kyk De
Jure Jaargang 13 (1980)
te 344 - 355 'Die Skuldvereiste by laster: 'n
onlangse belangwekkende beslissing' deur K J Kemp. 'n Bespreking van
die volgende
sewe gewysdes genoem in die O'Malley- saak verskyn te
351 - 352 van die artikel. Vgl Hill v Curlewis & Brand
(1844) 3
Menz 520
en die bespreking van hierdie gewysde te 347 - 348 deur Kemp
(op cit ). Kyk ook Hartley v Palmer and Central News Agency (1907)
24
SC te 228 en Kemp (op cit te 348); African Life Assurance Society Ltd
v Phelan
(1908) 25 SC 743
en Kemp (op cit te 348 - 349); Wilson v
Halle
1903 TH 178
en Kemp (op cit te 349 - 350); Dunning v Thomson
and Co Ltd
1905 TH 313
en Kemp (op cit te 350 - 351); Dunning v Cape
Times Ltd
1905 TH 231
en Kemp (op cit te 351); Robinson v Kingswell;
Argus Printing & Publishing Co Ltd v Kingswell
1913 AD 513
en
Kemp (op cit te 351 - 352); Visser (1979) 12 De Jure 'Aspekte van
Laster in die Lig van Algemene Beginsels van die Deliktereg'
te 108 -
110; vgl (1979) 95 SALJ te 170 - 179 'The Fault Element in the Law of
Defamation' deur J M Burchell, veral te 178 - 179;
Maisel v Van
Naeren (supra te 849B - H). In die O'Malley- saak word daar ook na
die volgende uitsprake in die Appèlafdeling
verwys ten opsigte
van die aanspreeklikheid van persone vir laster wat in die pers
verskyn het. SAUK v O'Malley (supra te 404D
- G, 407D - F); Trimble v
Central News Agency Ltd (supra); Craig v Voortrekkerpers Bpk 1963 (1)
SA te 156A - H, 157A, 160H en 161H;
Nasionale Pers Bpkt v Long 1930
AD te 98 - 100. Behalwe vir die obiter dicta in die O'Malley- saak,
het die Appèlafdeling
die vraag heeltemal oopgelaat of die
eienaar en/of die redakteur van 'n koerant waarin 'n lasterlike
artikel verskyn het wel skuldloos
aanspreeklik is vir die laster wat
daarin gepubliseeer is. Die huidige stand van ons reg is dat die
lasteraksie 'n actio injuriarum
is en
1982
(3) SA p151
skuld
in die vorm van opset met wederregtelikheidsbewussyn 'n element
daarvan is sodat 'n dader nie skuldloos aanspreeklik kan wees
nie.
Soos reeds aangevoer, behoort enige verandering in ons reg in hierdie
verband aangebring te word by wyse van wetgewing wanneer
daar egter
ook ander oorwegings sal geld. Vgl J M Burchell 1980 (97) SALJ
'Strict Liability for Defamation by the Media and Freedom
of Speech'
te 214 - 215. Die Hof a quo het gefouteer deur te bevind dat
verweerders teenoor eiser aanspreeklik is hetsy op 'n basis
dat hulle
as redakteur of eienaar van die koerant waarin die lasterlike berig
verskyn het skuldloos aanspreeklik daarvoor is of
op die basis hierbo
genoem.
Wat
betref die teenappèl: Indien die Hof bevind dat verweerders
inderdaad aanspreeklik is dan het die Hof a quo sy diskresie
by die
vasstelling van die bedrag genoegdoening behoorlik uitgeoefen.
R
Kruger SC (bygestaan deur S F Burger ) namens die respondent: Die
enigste verweer waarop die appellante as verweerders tydens
die
verhoor a quo gesteun het was ontkennings in beide die Oggendblad en
Hoofstad- eise dat die berigte waarin die lasterlike bewerings
aangaande die respondent voorgekom het, kwaadwillig gepubliseer was.
Hierdie verweer gaan uit van die veronderstelling dat animus
injuriandi wel 'n vereiste is vir die aanspreeklikheid van die pers
op grond van laster, en in besonder die aanspreeklikheid van
die
redakteur en eienaar van 'n koerant. Hierdie veronderstelling is nie
korrek nie, en die verweerders as redakteurs en eienaars
van
Oggendblad en Hoofstad onderskeidelik kan, in die afwesigheid van
regverdigingsgronde, nie steun op enige skulduitsluitingsgrond
as
verweer nie. Die gedagte dat die pers skuldloos aanspreeklik is vir
laster in ons reg is, onder invloed van die Engelse reg,
reeds vroeg
te bespeur. Indien in gedagte gehou word dat nalatigheid geen aksie
op grond van laster kan fundeer nie (Suid-Afrikaanse
Uitsaaikorporasie v O'Malley 1977 (3) SA te 407D), is sodanige
aanknopingspunte reeds in Hill v Curlewis and Brand
(1844) 3 Menz 520
aanwesig. Daar het die Hof aanvaar dat 'n redakteur se blote onkunde
aangaande 'n lasterlike berig in sy koerant geen verweer teen
'n
lasteraksie daarstel nie, aangesien die vereiste van animus
injuriandi in sodanige omstandighede 'n redakteur van alle
verantwoordelikheid
weens laster in sy koerant sal onthef. In 'n
bespreking van die aanspreeklikheid van die drukker van 'n koerant
waarin lasterlike
bewerings voorkom in Hartley v Palmer (1907) 24 SC
te 236, kom die volgende passasie voor (die verweerder het die
aanwesigheid
van animus injuriandi spesifiek ontken in sy pleit): 'As
the publishers of what they themselves admit to be defamatory matter,
they are also liable in damages to the plaintiff.' In Wilson v Halle
and Others 1903 TH te 191 het die eienaar en redakteur van
die
Transvaal Critic die verweer geopper dat lasterlike berigte in die
koerant verskyn het 'in the bona fide belief that the same
were
respectively true and well founded, in the public interest and
without malice,...'. Die Hof aanvaar dat die redakteur nie
'motives
of animosity' gehad het toe hy die gewraakte artikels geskryf het nie
(te 200), maar bevind dat hierdie feit nie eens
die quantum van die
eiser se skade verminder nie. Dit word skynbaar as aksiomaties
aanvaar dat die afwesigheid van 'motives of
1982
(3) SA p152
animosity'
nie 'n verweer teen die skuldoorsaak daarstel nie. Die posisie van
die uitgewers van die koerant is in die Wilson saak
selfs nader aan
dié van skuldlose aanspreeklikheid weens laster. Hul verweer
was dat hulle slegs die uitgewers en verspreiders
van die betrokke
koerant was, '... and that they published or distributed the said
Transvaal Critic without knowledge or notice
of the existence therein
of the said alleged libels respectively and without malice...'.
Hierdie verweer word behandel deur WESSELS
R te 200 - 201. In Dunning
v Cape Times Ltd 1905 TH te 233 is dit as bewese bevind dat die
verweerder, wat die drukker van die
koerant The Owl was, onbewus van
die lasterlike aard van 'n berig wat daarin verskyn het aangaande die
eiser was. Die argument
namens die verweerder dat die drukker van 'n
koerant nie in die Romeins-Hollandse reg aanspreeklik gehou kan word
vir laster wat
daarin verskyn nie, is verwerp. Die posisie van die
drukker en geregistreerde uitgewer van 'n koerant waarin laster
verskyn is
vervolgens deur SMITH R oorweeg in Dunning v Thomson and
Co Ltd 1905 TH te 316 en 317. Die effek van die relevante gedeelte
van
die uitspraak is dat, sodra lasterlike bewerings in 'n koerant
voorkom en die drukker of uitgewer hom nie op 'n regverdigings grond
kan beroep nie, daar 'n onweerlegbare vermoede van animus injuriandi
ontstaan; die onkunde van die drukker of verspreider is 'n
verweer
wat nie met sukses opgewerp kan word nie. Vgl Robinson v Kingswell
1913 AD te 526. Kyk ook Craig v Voortrekkerpers Bpk
1963 (1) SA 149
;
Hassen v Post Newspapers (Pty) Ltd and Others
1965 (3) SA 562
; vgl
Marais en 'n Ander v Richard en 'n Ander 1979 (1) SA te 88E; (1979)
42 Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg 443;
1980 (13) De
Jure te 344. Maar sien Maisel v Van Naeren 1960 (4) SA te 849C - H,
en die kommentaar op hierdie beslissing in Strauss,
Strydom en Van
der Walt Die Suid-Afrikaanse Persreg (1976) te 258 (voetnoot 43) en
260. Skuldlose aanspreeklikheid ten aansien
van die pers behoort dus
as uitsonderingsgeval op die tans aanvaarde begrip van animus
injuriandi in ons lasterreg verdere erkenning
te verkry, analoog aan
die uitsondering ten aansien van die posisie van die nuusverspreider
waar afwesigheid van nalatigheid as
verweer erken word. Vgl
Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie v O'Malley (supra te 407E - F). Die
betoog dat enige verandering in ons
reg in hierdie verband aangebring
behoort te word deur die Wetgewer alleen, hou nie rekening daarmee
dat 'Roman-Dutch law... is
a virile system of law, ever seeking, as
every such system must, to adapt itself consistently with its
inherent basic principles
to deal effectively with the increasing
complexities of modern organised society.' Pearl Assurance Co v Union
Government 1934 AD
te 563. Afgesien van die invloed wat dit op die
quantum van die skade mag hê, behoort daar in beginsel geen
verskil te wees
tussen die skuldlose aanspreeklikheid van die
eienaar, uitgewer, redakteur en drukker nie. Vgl Dunning v Thomson
and Co Ltd (supra
te 316). Selfs al sou dit egter bevind word dat
animus injuriandi 'n vereiste vir aanspreeklikheid van die pers in
ons reg is,
het die verweerders nie die onus gekwyt om afwesigheid
van animus injuriandi te bewys nie, en het die Verhoorregter korrek
bevind
dat animus injuriandi wel aanwesig was. Dit is gemene saak dat
die gewraakte berigte lasterlike bewerings aangaande
1982
(3) SA p153
RUMPFF
HR
die
eiser bevat het en dat publikasie plaasgevind het; daar het gevolglik
'n vermoede ontstaan dat die verweerders die berigte gepubliseer
het
animo injuriandi. Die verweerders het gevolglik die onus in die vorm
van 'n weerleggingslas gehad om op 'n oorwig van waarskynlikhede
te
bewys dat hulle nie opsetlik gehandel het nie.
Wat
betref die teenappèl: Die Hof a quo het nie sy diskresie na
behore uitgeoefen in die vasstelling van die bedrag van die
skadevergoeding nie. Die eiser het algemene skade geëis weens
krenking van sy goeie naam en reputasie, asook in sy professionele
hoedanigheid as 'n praktiserende advokaat. Gesien die aard van die
lasterlike bewerings teen die eiser gemaak, die sirkulasiesyfers
en
verspreidingsgebied van Oggendblad en Hoofstad, die eiser se
persoonlike omstandighede en sy professionele status en die smart
en
leed wat die berigte hom aangedoen het, sal daar 'n wesenlike en
ooglopende verskil wees tussen die bedrag toegeken deur die
Hof a quo
en hierdie Hof se eie bepaling van die skadevergoeding. 'n Bedrag van
R7 500 word aan die hand gedoen as synde billik
in die Hoofstad- eis,
en 'n bedrag van R5 000 as synde billik in die Oggendblad- eis. Vgl
Law of South Africa, band 7 para 105;
Pont v Geyser en 'n Ander
1968
(2) SA 545
; SA Associated Newspapers Ltd and Another v Yutar
1969 (2)
SA 442
; Buthelezi v Poorter and Others
1975 (4) SA 608
; SA Associated
Newspapers Ltd en 'n Ander v Samuels 1980 (1) SA te 43A - E.
Heyns
SC in repliek.
Cur
adv vult.
Postea
(Maart 31).
Judgment
RUMPFF
HR: Die eerste en tweede appellante is onderskeidelik die redakteur
en die eienaar van 'n koerant Oggendblad wat in Pretoria
verskyn. Die
derde en vierde appellante is onderskeidelik die redakteur en die
eienaar van 'n koerant Hoofstad wat ook in Pretoria
verskyn. Die
appellante is in die Transvaalse Hooggeregshof deur 'n Johannesburgse
advokaat, die respondent, weens laster gedagvaar.
Gerieflikheidshalwe
is beide aksies saam verhoor. Uitspraak is gegee ten gunste van
respondent. Die eerste twee appellante is gelas
om 'n bedrag van R2
500 met koste te betaal, gesamentlik en afsonderlik, en die derde en
vierde appellante is gelas om dieselfde
bedrag met koste, ook
gesamentlik en afsonderlik te betaal. Appellante appelleer nou teen
die uitspraak terwyl respondent 'n teen-appèl
ingestel het vir
sover dit die bedrag van skadevergoeding betref. Die uitspraak van
die Verhoorhof verskyn in ons Hofverslae in
1979 (3) SA 676
(T). Die
feite van hierdie saak word in die uitspraak redelik volledig
weergegee en dit is onnodig om al die feite in hierdie uitspraak
te
herhaal. Die Verhoorhof het bevind dat in elke koerant, hierbo
genoem, 'n uiters vernederende artikel betreffende die respondent
as
advokaat gepubliseer is. Die appellante het hulle in die Verhoorhof
hoofsaaklik beroep op die feit dat die vermoede van animus
injuriandi
weerlê is. Die Verhoorregter het, in die eerste plek, 'n obiter
beslissing van hierdie Hof gevolg wat verskyn
in Suid-Afrikaanse
Uitsaaikorporasie v O'Malley
1982
(3) SA p154
RUMPFF
HR
1977
(3) SA 394(A).
In daardie beslissing is verwys na sekere gewysdes van
ons Howe aan die einde van die vorige eeu en begin van hierdie eeu,
ook
een in 1934, waarin die aanspreeklikheid van 'n redakteur of 'n
drukker of 'n eienaar van 'n koerant weens laster behandel is. Na
aanleiding van hierdie gewysdes is die volgende gesê te 404 en
405:
'Die beslissings in ons
reg, waarna hierbo verwys is, is klaarblyklik in ooreenstemming met
die Engelse gemene reg waarvolgens aanspreeklikheid
weens laster
gegrond is op die publikasie daarvan, en nie op 'n bepaalde opset
nie, en waarvolgens die eienaar, drukker, uitgewer
en redakteur van
'n koerant aanspreeklik gehou word weens laster, al het dié
persone nie van die laster geweet nie. Die
aanvaarding in ons reg van
hierdie beginsel skep 'n toestand waarby skuldlose aanspreeklikheid
ten opsigte van sodanige persone
erken word, en kritiek dat hierdie
beginsel van skuldlose aanspreeklikheid in stryd sou wees met ons
tans aanvaarde begrip van
animus injuriandi in die lasterreg, sou wel
geregverdig wees. Na my mening sou daar egter goeie redes bestaan
waarom hierdie klas
van persone skuldloos aanspreeklik behoort te
wees, by wyse van uitsondering. Die uitsondering sou wesenlik gegrond
kon wees op
beskerming van die gewone burger teen 'n klas van persone
wat by 'n medium betrokke is, wat van so 'n aard is dat, in geval van
laster gepleeg in die medium, dit moeilik is om die opset by 'n
bepaalde persoon tuis te bring. Dat in die Romeinse reg en ons
eie
reg skuldlose aanspreeklikheid in sekere gevalle van deliktuele skade
erken word, blyk oa uit die actio de effusis vel deiectis
wat
toegeken word aan 'n verbyganger wat beseer word deur goed wat uit 'n
gebou gegooi of gestort word. Die okkupeerder van die
gebou word
aanspreeklik gehou vir die besondere daad wat 'n bewoner doen en, na
my mening, is dit 'n heilsame beskerming van onskuldige
verbygangers
wat dit uiters moeilik mag vind om te bewys watter bepaalde bewoner
die daad begaan het.'
Die
Verhoorregter in die onderhawige saak het beslis dat, hoewel die
aangehaalde uitspraak betreffende skuldlose aanspreeklikheid
obiter
is en die vraag nie finaal beantwoord is nie, die beginsel van
skuldlose aanspreeklikheid toegepas moet word. Daarby het
hy oa
verwys na 'n artikel deur J M Burchell, 'The Fault Element in the Law
of Defamation' in
1978 SALJ 170.
In
die tweede plek het die Verhoorregter beslis dat in elk geval, wat
die besondere feite betref,
'die animus injuriandi by
die laster teenwoordig was en die onregmatigheid van die laster nie
uitgesluit is nie'.
Die
getuienis het aangetoon dat 'n verslaggeefster van elkeen van die
koerante 'n berig opgestel het wel wetende dat wat geskryf
is
lasterlik is, maar dat hulle geglo het dat die berigte wat hulle
opgestel het korrekte weergawes was van 'n geskrewe uitspraak
van 'n
Regter van die Transvaalse Hooggeregshof. Hoewel die Verhoorregter
dit nie uitdruklik noem nie, moet van die getuienis afgelei
word dat
die verslaggeefsters minstens onredelik opgetree het deur te dink dat
hul berigte wel 'n korrekte weergawe van die uitspraak
was.
In
hierdie Hof is betoog dat die Verhoorhof moes bevind het dat die
verslaggeefsters te goeder trou 'n fout gemaak het. Na my mening
toon
die getuienis van die betrokke verslaggeefsters dat hulle onbekwaam
was om met die nodige noukeurigheid 'n skriftelike uitspraak
van 'n
hof weer te gee en dat hulle onredelik opgetree het. Vir doeleindes
van hierdie saak is dit onnodig om die vraag te behandel
wat die
antwoord moet wees in 'n geval van laster indien die verweerder erken
dat hy lasterlike woorde gebesig het, maar dat hy
weens dwaling geen
1982
(3) SA p155
RUMPFF
HR
wederregtelikheidsbewussyn
gehad het nie. Oor hierdie probleem van opset met
wederregtelikheidsbewussyn en of wederregtelikheidsbewussyn
wel by
die begrip 'opset' of by 'skuld' tuishoort, word deur hedendaagse
skrywers veel en interessant geskryf en dit skyn duidelik
te wees dat
'n oplossing gevind sal moet word vir die geval waar die afwesigheid
van wederregtelikheidsbewussyn veroorsaak is deur
nalatigheid aan die
kant van die verweerder. Of so iets aanvaar behoort te word en op
welke wyse dit aanvaar behoort te word, is
nie voor ons beredeneer
nie en is, soos gesê, onnodig om tans te beslis.
In
hierdie Hof is ook betoog dat, indien skuldlose aanspreeklikheid
weens laster van toepassing gemaak word op die eienaar, die
drukker
en die redakteur van 'n koerant, dit die skuldelement van die actio
injuriarum sou 'verdoesel'. So 'n aanspreeklikheid,
is betoog,
behoort dan by wetgewing ingevoer te word. Namens appellante is
toegegee dat in die geval van laster in die pers of
op die radio dit
moeilik mag wees om die opset by 'n bepaalde persoon tuis te bring,
maar dit is betoog dat hierdie beswaar eintlik
uit die weg geruim
word deurdat 'n weerleggingslas op die verweerder geplaas word om
getuienis te lei dat opset nie teenwoordig
was nie.
Eerste
en tweede appellante het in hul pleit die publikasie erken, maar
ontken dat die berig kwaadwilliglik gepubliseer is en gepleit
dat die
berig 'n 'billike en wesenlik korrekte' weergawe van die geskrewe
uitspraak van die Regter was. Genoemde appellante (as
verweerders)
erken uitdruklik nie dat eiser in sy goeie naam asook in sy
professionele hoedanigheid gekrenk is nie en erken ook
nie dat hy
skade gely het nie. Dan gaan die pleit eenvoudig voort om te sê
dat na die publikasie van die berig dit onder
die verweerders se
aandag gekom het dat respondent inderdaad nie die advokaat was na wie
die Regter in sy uitspraak verwys het
nie en dat op 31 Maart 1978 'n
apologie in die Oggendblad gepubliseer is onder die opskrif 'Naam
foutief gebruik'. Tenslotte herhaal
die verweerders dat die bewerings
in die koerant onvoorwaardelik teruggetrek word en hulle herhaal dat
verskoning aangebied word.
Die
derde en vierde appellante het die publikasie van die berig erken
maar ontken dat die berig kwaadwilliglik gepubliseer is en
gepleit
'dat die publikasie daarvan regmatig was sonder die bedoeling om
eiser te belaster'. Verder is gepleit dat die berig gepubliseer
is as
'n 'redelike en billike' verslag van die skriftelike uitspraak van
die Regter. Ook is gepleit dat die hofverslaggeefster
te goeder trou
geglo het dat die uitspraak verwys het na respondent en dat die berig
te goeder trou gepubliseer is. Ook hulle beweer
dat nadat dit tot hul
kennis gekom het dat respondent nie die advokaat was na wie die
Regter verwys het nie, hulle 'n verskoning
in die koerant aangebied
het onder die opskrif 'Apologie aan adv De Flamingh'. Verder word
gepleit dat die verweerders nie bedoel
het dat die berig die
gewraakte betekenis moes hê ten aansien van eiser nie en hulle
verg dus dat 'eiser al sy bewerings
in hierdie paragraaf moet bewys'.
Die paragraaf is para 5 van die besonderhede van respondent se
vordering en verskyn te 181 van
die Hofverslae van 1979 (3). Die
verweerders ontken ook die bewerings
1982
(3) SA p156
RUMPFF
HR
van
respondent dat hy in sy goeie naam en ook professionele hoedanigheid
gekrenk is en dat hy enige skade gelei het.
Om
die vermoede van animus injuriandi te weerlê, het die
appellante die verslaggeefster van elke koerant opgeroep om getuienis
af te lê en die appellante se standpunt is dat, omdat die twee
dames te goeder trou gefouteer het, die appellante nie aanspreeklik
is nie.
Die
onderhawige saak is by uitstek 'n voorbeeld van hoe onbillik dit
teenoor die respondent sou wees om toe te laat dat die eienaars
van
die betrokke koerante en die redakteurs onder wie se vlag die laster
die wêreld ingestuur is, hulle eenvoudig kan beroep
op
afwesigheid van animus injuriandi omdat verslaggeefsters 'n fout sou
begaan het. Indien so 'n verweer sou slaag, sou dit na
my mening 'n
groot onreg wees teenoor die respondent in hierdie saak.
Wat
die pers in die algemeen betref, moet in gedagte gehou word dat daar
nog altyd 'n beroep gedoen kan word op verwere soos bv
waarheid en
publieke belang, selfs al sou skuldlose aanspreeklikheid aanvaar
word.
Om
die eienaar, drukker en redakteur in so 'n geval soos die onderhawige
skuldloos aanspreeklik te hou, sou ook nie 'n nuwe begrip
in ons reg
wees wat deur wetgewing hoef ingevoer te word nie. Die koord waaruit
ons lasterreg bestaan, het baie drade. Hierdie
drade is ineengevleg
en bestaan uit drade wat kom uit die Romeins-Hollandse reg en die
Engelse reg. Die erkenning van die animus
injuriandi is 'n draad wat
vanuit die Romeins-Hollandse reg kom. Die draad van strikte
aanspreeklikheid van die pers kom uit die
Engelse reg. In sy betoog
het appellante se advokaat hom beroep op 'n artikel van K J Kemp in
De Jure jaargang 13 (1980) waarin
die skrywer die gewysdes ondersoek
wat in die O'Malley- saak genoem is. Die skrywer kom tot die
konklusie dat daardie sake nie
'klinkklare gesag' is vir die
opvatting dat skuldlose aanspreeklikheid van die pers in ons reg geld
nie. Ek wil nie die skrywer
se analise, in sommige gevalle
onvolledig, van daardie sake bespreek nie. Wat ek wel wil meld is,
dat in al daardie sake 'absence
of malice' gepleit is, terwyl in een
saak die drukker aanspreeklikheid sonder meer erken het. Dit is vir
my nie van groot belang
of in een of meer van die sake miskien by
implikasie 'n begrip van nalatigheid of 'n begrip van middelikheid
deurgeskemer het nie.
Wat in die eerste plek duidelik is, is dat in
die gewysdes ons Howe hulle nooit gedistansieer het van die Engelse
opvatting dat
die pers skuldloos aanspreeklik is nie, wat ook al die
presiese grondslag van daardie aanspreeklikheid mag wees. Daardie
draad
van die Engelse reg kan duidelik gesien word. In Wilson v Halle
and Others
1903 TH 178
is oa te 201 gesê:
'It has been decided in
these Courts over and over again, and I believe also in the English
Courts, that a company which makes it
its business to publish
newspapers, and which employs individuals to publish those papers, is
responsible for any libel which may
appear therein.'
Hierdie
Hof het in Trimble v Central News Agency Ltd
1934 AD 43
by
noodwendige implikasie die skuldlose aanspreeklikheid van die pers
aanvaar toe daar uitdruklik beslis is dat 'n 'newspaper vendor'
die
vermoede van 'malice' kan weerlê deur te bewys:
1982
(3) SA p157
RUMPFF
HR
'(1) that he did not know
that the newspaper at the time it was sold contained libels on the
plaintiff; (2) that it was not by negligence
on the vendor's part
that he did not know that there was any libel in the newspaper; and
(3) that the newsvendor did not know that
the paper was of such a
character that it was likely to contain libellous matter, nor ought
he to have known.'
In
Robinson v Kingswell
1913 AD 513
het hierdie Hof, met verwysing na
Ord 49 van 1902 (T), te 526 gesê:
'Now under s 7 of Ord 49
of 1902 the plaintiff, as managing director of the company (which the
learned Judge in the Court below
finds is merely another term for
manager of the company), may, if he be the person registered as such,
be criminally liable, in
spite of the fact that he did not publish
the article in question, unless he proves that the libel complained
of was published
without his knowledge, consent or connivance, and
without negligence on his part. But nothing is said in the Act about
civil liability,
and in the absence of some clear indication of
intention a person's civil liability is unaffected by the section. To
hold otherwise
would be to absolve the proprietor, eg, from civil
liability in cases where he is in a position to prove that the libel
was published
without his knowledge, consent or connivance and
without negligence on his part. While such a provision is eminently
desirable
in a criminal case, it is certainly not in accord with the
principles of civil liability. To introduce what would be an entirely
novel principle into the law of civil liability would require clear
language.'
Hoewel
dit obiter is, is dit na my mening 'n aanduiding van die denkrigting
omtrent die aanspreeklikheid van die pers wat daar in
ons Howe
geheers het.
Omdat
in die onlangse ontwikkeling van ons lasterreg die vereiste van
animus injuriandi herbevestig is en omdat dit beslis is dat
die opset
om te belaster 'n opset is met wederregtelikheidsbewussyn, het die
probleme van sekere media soos die radio in die O'Malley-
saak na
vore gekom en het die obiter- uitspraak in daardie saak verskyn. Nou,
na aanhoor van die betoë in die onderhawige
saak, is ek oortuig
dat die strikte aanspreeklikheid van die pers, wat, soos ek reeds
gesê het, soos 'n draad van die Engelse
reg in die koord van
ons lasterreg ingedraai is, behoue moet bly. Strikte aanspreeklikheid
by wyse van uitsondering is in elk geval
in die Romeins-Hollandse reg
nie iets vreemd nie. Ek hoef alleen maar te verwys na die actio de
effusis vel deiectis wat genoem
word in die aanhaling uit die
O'Malley- saak wat hierbo verskyn.
Van
ons skrywers het aan die hand gedoen oa dat wanneer skuldlose
aanspreeklikheid van die pers aanvaar word, die posisie van die
individu onderskei moet word. Burchell (op cit ) verwys daarna te 179
oa soos volg:
'If the first course were
adopted then, it is submitted, a clear distinction should be drawn
between vicarious liability and strict
liability, and the liability
of the press should be squarely based on the 'risk' principle:
'Die beheerders van die
personderneming skep myns insiens normaalweg 'n genoegsame tipiese en
hoë risiko van benadeling van
die persoonlikheidsbelange van die
individu om die risiko-beginsel tot aanspreeklikheidsgrondslag te
verhef. Die pers skep ongetwyfeld,
deur die verspreiding van sy
produkte, een van die potensieel grootste bronne van
persoonlikheidskrenking van die individu.'
This form of risk
liability is in keeping with the trend towards the 'loss spreading'
function of the law of delict, as the press
is usually better able to
bear the loss and also to redistribute it amongst the community.'
1982
(3) SA p158
RUMPFF
HR
Die
verwysing in die voetnoot is na 'n artikel van prof J C van der Walt
in Gedenkbundel H L Swanepoel te 76. Dit is natuurlik aanloklik
om
die risiko-aanspreeklikheid ten opsigte van produkte toe te pas omdat
'n koerant as 'n 'produk' beskou sou kon word. Radio en
televisie wat
op dieselfde basis as die pers behandel behoort te word, kan egter
kwalik as bron van 'produkte' beskou word. Indien
radio - of
televisietoestelle as 'produkte' beskou moet word, word daardie
produkte nie deur die SAUK vervaardig of verkoop nie.
Ander skrywers,
soos Van der Merwe en Olivier Die Onregmatige Daad in die
Suid-Afrikaanse Reg 4de uitg te 445, doen aan die hand
dat die
werklike aanspreeklikheid van die pers klaarblyklik geleë is in
die feit 'dat daar ten minste dolus eventualis aan
die kant van die
redakteur, drukker, uitgewer ens is'. Ook sê hulle:
'Die redakteur ens weet
dat lasterlike berigte heel dikwels in koerante en tydskrifte, ook in
sy eie, sal verskyn. As hy sulke berigte
nie afweer nie word aanvaar
dat hy hom met die verskyning daarvan versoen het, maw dat daar dolus
eventualis aan sy kant was.'
Hierdie
standpunt sou kon rym met die behoud van die Engelsregtelike element
wat, soos hierbo aangedui, reeds in ons lasterreg bestaan.
In die
Engelse reg word die posisie aangaande die persone en instansies wat
aanspreeklik is soos volg gestel in Gatley On Libel
and Slander 7de
uitg te 233:
'Where a libel is
published in a newspaper, or book, everyone who takes part in
publishing it, or in procuring its publication,
is prima facie
liable.'
Hieruit
volg dat die eienaar, redakteur, drukker en uitgewer van die koerant
aanspreeklik is, kyk Gatley (op cit te 233 en 234)
en Fleming The Law
of Torts 5de uitg te 542. Daar bestaan myns insiens geen geldige rede
waarom hierdie reël, wat reeds in
ons gewysdes verskyn, nie
behoue moet bly nie. Ek is wel bewus daarvan dat in 'n Wet van 1952
die Engelse gemene reg gewysig is
oa ten opsigte van sgn
'unintentional defamation' en ook ten opsigte van die posisie van
koerante. Indien ons Wetgewer van mening
is dat beskerming verleen
miskien behoort te word aan sgn 'innocent' lasteraars of aan die pers
of radio, sal dit te gelegener
tyd oorweeg kan word hoe sodanige
beskerming moet wees. In hierdie verband kan ek wel sê dat in
die verlede ons Howe nie
juis buitensporige bedrae as skadevergoeding
weens laster toegeken het nie. Dit bring my meteen by die teen-eis
wat gerig is teen
die bedrae wat toegeken is in die onderhawige saak.
Die bedrae is na my mening minder as wat ek self sou toegeken het
indien ek
die Verhoorregter was. Nietemin dink ek nie dat hierdie Hof
die berekening van die Verhoorregter kan tersyde stel nie omdat hy
klaarblyklik te min toegeken het. In gedagte moet gehou word dat hier
wel 'n apologie aangeteken is, al was dit dan eenmalig.
Weens
bogenoemde redes word die appèl afgewys met koste, insluitende
die koste van twee advokate. Die teen-appèl word
ook afgewys.
Die teen-appèl het so min bykomende koste tot die verhoor van
hierdie appèl bygedra dat geen bevel gemaak
word ten opsigte
van die teen-appèl nie.
JANSEN
AR, MILLER AR, JOUBERT AR en CILLIÉ AR het saamgestem.
1982
(3) SA p159
RUMPFF
HR
Appellant
se Prokureurs: Couzyn, Hertzog & Horak, Pretoria; Naudé,
Van der Wall & Vennote, Bloemfontein. Respondente
se Prokureurs:
Hofmeyr, Van der Merwe & Botha, Pretoria; McIntyre & Van der
Post, Bloemfontein.
SAFLII
Note:
This
case was originally published by Juta and Company (Pty) Ltd. Juta
retains copyright as far as it subsists.