Alpha Trust (Edms) Bpk v Van der Watt [1975] ZASCA 1 (2 June 1975)

82 Reportability
Contract Law

Brief Summary

Contract — Sale — Eviction of buyer — Buyer entitled to restitution of purchase price upon eviction — Seller's obligation to protect buyer's possession includes liability for return of purchase price and damages — Court affirms that buyer is entitled to recover full amount paid, not limited to value of goods at time of eviction — Previous case law suggesting otherwise found to be incorrect.

SAFLII Note: This case was originally published by Juta and Company (Pty) Ltd. Juta retains copyright
as far as it subsists.

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA
(APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

ALPHA TRUST (EDMS) BPK APPELLANT
V
VAN DER WATT RESPONDENT

Parallel citation: 1975 (3) SA 734 (A)

Coram: Botha AR, Jansen AR, Trollip AR, Muller AR en Van Zijl Wn AR

Heard: May 5, 1975
Judgment: June 2, 1975


UITSPRAAK


Case Information
Appèl teen 'n beslissing in die Kaapse Provinsiale Afdeling (BURGER, WN. R.). Die
feite blyk uit die uitspraak van BOTHA, A.R.
P. J. J. Olivier, namens die appellant: Appellant stel hom op die standpunt dat die
vorderingsreg van 'n koper wat uitgewin is, bestaan uit 'n reg om skadevergoeding
van die verkoper te vorder en dat die skadevergoeding wat die koper kan vorder
beperk is tot die werklike skade wat die koper gely het, en dat sodanige skade in
beginsel die waarde van die uitgewonne saak is op die oomblik van uitwinning. Die
Romeinse reg het aan die koper slegs 'n aksie om skadevergoeding in geval van
uitwinning gegee. Die opvattings oor welke skade die koper gely het as gevolg van
die uitwinning en derhalwe tot welke bedrag vergoeding die verkoper aanspreeklik is,
het van tyd tot tyd gewissel en het ook afgehang daarvan of daar 'n ooreenkoms
tussen verkoper en koper was wat hierdie aspek betref dan wel of die verkoper se
verpligting tot skadevergoeding ontstaan uit en beoordeel moet word aan die hand
van algemeen geldende regsreëls. Die heel eerste tekens van 'n aanspreeklikheid in
geval van uitwinning word gevind by die mancipatio- regshandeling waar die
oordraer van res mancipi moes instaan vir sy auctoritas. Word die koper uitgewin,
kon hy die actio auctoritatis instel. Hiermee kon hy waarskynlik tweemaal die
koopprys verhaal. Sien D. F. Mostert, Uitwinning by die Koopkontrak in die Suid-
Afrikaanse Reg, ongepubliseerde proefskrif, Universiteit van Pretoria, 1965, paras.
54, 77; Mostert, Acta Juridica, 1967, bl. 49. Die actio auctoritatis het nie meer in die
tyd van Justinianus bestaan nie en vorm nie deel van die Romeinse reg
1975 (3) SA p736
wat aan ons oorgelewer is nie. In die Klassieke Romeinse reg was daar twee
stipulationes wat tussen verkoper en koper algemeen beding is met die oog op
moontlike uitwinning. Eerstens die stipulatio duplae, wat 'n ooreenkoms was dat die
verkoper die koper sou vergoed in geval van uitwinning, en wel vir die koopprys of
veelvoude van die koopprys. Omdat gewoonlik beding is vir dubbel die koopprys, is
hierdie stipulatio algemeen die stipulatio duplae genoem. Tweedens die stipulatio
habere licere, wat 'n ooreenkoms was in terme waarvan die verkoper onderneem het
of om die waarde van die uitgewonne saak aan die koper te vergoed of om die koper
vir sy id quod interest te vergoed. Mostert, Acta Juridica, 1967, bl. 50, 51. Reeds in
die tyd van Julianus was dit onnodig vir verkoper en koper om die stipulatio habere
licere aan te gaan aangesien die actio empti reeds teen daardie tyd sodanig
ontwikkel het dat die verkoper daarmee aanspreeklik gehou kon word in geval van
uitwinning om die koper sy id quod interest te vergoed. Mostert, Acta Juridica, 1967,
bl. 51; Proefskrif, para. 511 e.v. Die gevolg hiervan is dat die stipulatio habere licere
geleidelik van die toneel verdwyn en in die tyd van Justinianus nie meer bestaan nie.
Dit is volledig vervang met die algemeen geldende regsreël wat die actio empti aan
die koper toeken vir sy id quod interest. Mostert, Acta Juridica, 1967, bl. 51;
Proefskrif, para. 565 e.v. In die tyd van Justinianus was die stipulatio duplae nog
moontlik en kon die partye dit aangaan indien hulle so verkies het. Om die kopers se
id quod interest met die oog op die actio empti te bereken is as volg te werk gegaan:
Indien die eiendom in waarde vermeerder het tydens die uitwinning, was die koper
geregtig op die koopprys plus die waardevermeerdering. Indien die eiendom egter in
waarde verminder het, was die koper slegs geregtig op die waarde van die saak
tydens uitwinning. D. 19.1.45; D. 21.2.70; D. 21.2.66.3. By die Glossatore,
Kommentatore en Kanoniste het daar geen wesenlike verandering ingetree nie.
Mostert, Acta Juridica, 1967 bl. 65. Baldus, Cinus, Bartolus, Salicetus, Paulus de
Castro en Jason ken aan die koper toe "omnia quae emptor esset habiturus, si res
evicta non fuisset". Mostert, Acta Juridica, 1967, bl. 68. In die Romeins-Hollandse
reg van die 16de, 17de en 18de eeue het die waarborgstipulasies in geval van
uitwinning nie meer bestaan nie en slegs die actio empti staan ter beskikking van die
koper. Groenewegen, De leg abr., ad D.21.1.31.20 en D D.21.2; Voet, 21.2.8; Van
Leeuwen, Censura Forensis, 1.4.19.11; De Groot, Inleiding, 3.14.6; Van der
Keessel, Praelectiones, 3.14.6; Schorer, Aantekeninge, 3.14.6; Huber, 3.5.61;
Hedendaegse Rechtsgeleertheyt, Mostert, Acta Juridica, 1967, bl. 77 e.v. Ten
opsigte van die aanspreeklikheid van die verkoper in geval van uitwinning bestaan
daar in die Romeins-Hollandse reg groot onsekerheid: (a) De Groot, Inleidinge,
1631, gee in 3.14.6 te kenne dat indien die verkoper die koper nie eienaar kan maak
nie, die verkoper aanspreeklik is vir teruggawe van die koopprys sowel as die koper
se belang daarin om eienaar van die saak te geword het. In 3.15.4 verklaar De Groot
egter weer dat die koper die keuse het of hy die waarde van die saak, soos dit
tydens die kontraksluiting was, wil terugeis of "alle 't gunt hem daer aen was gelegen
dat de zaecke niet uitgewonnen en waere geweest". Die waarde van die saak op die
koopdag is natuurlik nie noodwendig dieselfde as die koopprys nie. Indien die koper
derhalwe sou kies om die waarde van die saak soos dit was op die koopdag te eis,
word die kontrak dus in stand gehou en is sy regte beperk tot die verhaal van
skadevergoeding wat bereken word volgens die waarde van die saak op die
koopdag. Wat die tweede keuse
1975 (3) SA p737
betref, is De Groot se uitlating baie algemeen en vaag gestel. In beginsel moet die
belang van die koper om nie uitgewin te word nie, gemeet word aan die waarde van
die saak soos op die dag van uitwinning, omdat dit is wat gaan verloor. Hierby kan
nog moontlik getel word gederfde wins, dit wil sê wins wat hy verloor het deurdat die
saak uitgewin is. Die punt is egter dat De Groot ook met hierdie tweede keuse wat
hy aan die koper stel nie aan die koper die reg gee om die kontrak te kanselleer nie,
want anders sou De Groot gesê het dat wat vergoed moet word die belang van die
koper is dat hy nie die kontrak sou gesluit het nie. In 3.15.5 verklaar De Groot weer
dat indien dit blyk dat daar diensbaarhede ten opsigte van die saak bestaan die
koopkontrak geldiglik bly voortbestaan maar dat die koper geregtig is om
skadevergoeding van die verkoper te verhaal. (b) Schorer in nota CCCL op De
Groot, 3.14.6, verklaar dat die koper die keuse het om die waarde van die saak
tydens die kontraksluiting terug te eis of om te dagvaar vir skadevergoeding.
Opmerklik is dat hy nie in enige geval 'n terugtredingsreg aan die koper verleen nie.
(c) Van Leeuwen, Roomsch Hollandsch Recht, boek 4, hoofstuk 18, para. 2 (ad De
Groot, 3.15.4), ken aan die koper toe teruggawe van die koopprys, alle belang wat
hy in die aangeleentheid gehad het, of skadevergoeding volgens die oordeel van
eerlike manne. Vgl. ook Censura Forensis, 1.14.19.11. (d) Ook Van der Linden,
Koopmans Handboek, 1.15.10, ken aan die koper toe die koopprys met die rente,
sowel as skadevergoeding. (e) Van der Keessel, Praelectiones, Th. 640, probeer De
Groot, 3.14.6 en 3.14.4, te versoen. De Groot, 3.15.4, en Van der Keessel se
interpretasie daarvan is baie sterk steun vir appellant se standpunt aangesien dit
daarop dui dat indien die verkoper die werklike waarde van die saak aan die koper
vergoed, die koper nie verdere skade kan ly nie en op niks meer geregtig is nie. Die
enigste verskil tussen die standpunte van De Groot en Van der Keessel en die van
appellant is dat De Groot en Van der Keessel die waarde van die saak soos dit
tydens kontraksluiting was, wil toeken; appellant voer aan dat die waarde van die
saak bepaal moet word op die oomblik van uitwinning. (f) Ook Huber, Hedendaegse
Rechtsgeleertheyt, 3.5.61, ken aan die koper toe slegs skadevergoeding, d.w.s.
vergoeding van die verlies wat hy werklik gely het en verlore winste. In
ooreenstemming met Codex, 7.47, beperk Huber die bedrag skadevergoeding tot
dubbel die koopprys. Dit beteken egter nie dat Huber die koopprys aan die koper
toeken nie; sy stellings is duidelik in hierdie verband. Huber gaan dan aan en
vermeld uitsprake van die Friesehof dat die skadevergoeding bereken word
ooreenkomstig die koopprys van die saak tydens kontraksluiting. (g) Voet, 21.2.26 is
die enigste skrywer in die Romeins-Hollandse reg wat pertinent die vraag bespreek
of die koper geregtig is op die koopprys dan wel die waarde van die saak tydens
uitwinning. Voet verkies baie duidelik die standpunt dat die koper slegs geregtig is op
die waarde van die saak tydens uitwinning. Hy sluit hom aan by die Romeinse reg en
toon aan dat De Groot se stelling dat die koper die koopprys kan vorder nie in
ooreenstemming is met die Romeinse reg nie. (In die passasie waarna Voet verwys,
t.w. De Groot, 3.15.4, vermeld De Groot natuurlik nie die koopprys nie, maar die
waarde van die saak tydens die kontraksluiting). (h) Opsommenderwys word dit met
respek aan die hand gedoen dat Voet se uiteensetting die Romeins-Hollandse reg
korrek weerspieël omdat: (i) sy standpunt in ooreenstemming is met die Romeinse
reg; (ii) die ander skrywers wat die koopprys aan die koper wil toeken, of geen gesag
vir hul standpunt aanhaal nie of nie
1975 (3) SA p738
rekening hou met die geval waar die waarde van die saak verminder het nie; (iii) De
Groot in Inleiding, 3.15.4, en in navolging van hom Van der Keessel nie die koopprys
aan die koper toeken nie, maar die waarde van die saak soos dit was tydens
kontraksluiting; (iv) Voet se standpunt is klaarlyklik die meer billike. Dit sou uiters
ombillik wees dat die koper meer sou kon verhaal as wat die eiendom werd was
tydens die eviksie, veral waar die waardevermindering toe te skryf was aan die feit
dat die koper die besit en gebruik van die saak gehad het. Indien die koper toegelaat
word om meer as die waarde van die saak tydens uitwinning te verhaal, word hy in 'n
beter posisie geplaas as waarin hy sou gewees het as uitwinning nie plaasgevind het
nie. Nie alleen ontvang hy in sodanige geval meer as die waarde van die saak nie,
maar dit sou ook beteken dat hy kosteloos die genot en gebruik an die saak gehad
het gedurende die tydperk van sy besit, en dit ten koste van die verkoper. In Hendler
Bros. Garage (Pty.) Ltd. v Lambons Ltd., 1967 (4) SA 115, is beslis dat 'n
uitgewonne koper slegs op skadevergoeding geregtig is: die bedrag daarvan is die
waarde van die verkoopte saak ten tyde van die uitwinning. Die Hof kom tot hierdie
gevolgtrekking op grond van die volgende oorwegings: (i) In die Romeinse reg was
die koper in die geval van 'n waardevermindering van die saak, slegs op die waarde
van die saak ten tyde van die uitwinning geregtig (bl. 121G); (ii) De Groot se
standpunt stel die koper in 'n beter posisie as wat hy in die Romeinse reg sou
gewees het (bl. 121F - G); (iii) Voet se standpunt in 21.2.26 is te verkies aangesien
die koper se verlies in werklikheid die waarde van die koopsaak ten tyde van die
uitwinning is (bl. 122A - E); (iv) Dat volgens Van der Keessel daar nie van die
Romeinse reg afgewyk moet word nie tensy daar 'n vaste gewoonte of strydige
wetsbepaling bestaan nie (bl. 122F); (v) Dat die beslissing aangehaal deur Huber,
3.5.61, nie as gesaghebbend aanvaar kan word nie aangesien die opmerking dat die
koper op die koopprys geregtig is miskien 'n obiter dictum van die Hof kon gewees
het of 'n opmerking van Huber self. Ook word beslis dat 'n motivering vir gesegde
uitspraak heeltemal ontbreek (bl. 123A - C); (vi) Dat die uitspraak van Appèlregter
SCHREINER in Lammers and Lammers v Giovannoni, 1955 (3) SA op bl. 394, as
gesag dien vir die standpunt dat die koper slegs geregtig is op die waarde van die
uitgewonne saak tydens eviksie. (bl. 123G - H); (vii) Dat Van der Westhuizen v Yskor
Werknemers Onderlinge Bystandsvereniging, 1960 (4) S.A 803, geen gesag is vir
die standpunt dat die koper op die koopprys geregtig is nie (bl. 124A - E); (viii) Dat
die sogenaamde waarborg teen uitwinning inhou dat die koper hom daartoe verbind
het om vergoeding vir die skade veroorsaak deur uitwinning, te ontvang, en dat hy
nie geregtig is op kansellasie nie (bl. 124F - 125B); (ix) Die skadevergoeding
waartoe die koper aangewys is, bestaan daaruit dat die koper in dieselfde posisie
geplaas moet word asof die kontrak wel nagekom is (bl 125C); (x) Die resultaat
hiervan is nie onbillik nie aangesien presies dieselfde gevolg sou ingetree het indien
die betrokke motorvoertuig gesteel was of in 'n ongeluk vernietig was. (bl 125E); (xi)
Dat die koper nie geregtig is om uit die kontrak terug te tree nie, aangesien hy nie
meer in staat is om dit wat hy gekoop het aan die verkoper terug te gee nie. Die
koper en die verkoper is ewe min te blameer vir die ongelukkige posisie waarin hulle
beide beland het (bl. 125F - H); (xii) Die koopprys tussen die finale verkoper en die
uitgewonne koper mag heeltemal arbitrêr wees en sonder enige verband met die
werklike waarde van die koopsaak. Dit sou uiters onbillik wees indien die
oorspronliklike onskuldige verkoper
1975 (3) SA p739
Case Information
aanspreeklik gehou sou kon word vir sodanige koopprys. Dit sou veel meer billik
wees indien die oorspronklike onskuldige verkoper slegs aanspreeklik sou wees vir
die waarde van die saak tydens uitwinning (bl. 126C - H); (xiii) Indien die uitgewonne
koper geregtig sou wees op kansellasie en teruggawe van die oorspronklike
koopprys sou hy in 'n veel beter posisie verkeer het as waarin hy sou verkeer het
indien die verkoper sy verpligtinge nagekom het (bl. 127A - B); (xiv) Dat die
standpunt dat die koper slegs geregtig is op die waarde van die saak tydens
uitwinning, in ooreenstemming is met die algemene beginsel dat by kontrakbreuk die
benadeelde persoon in dieselfde posisie geplaas moet word asof die kontrak
nagekom is (bl. 127C - F); (xv) Dat die regsfiguur van uitwinning soveel nuanses in
die moderne praktyk aanneem en aan so 'n verskeidenheid van situasies moet
beantwoord dat dit onwaarskynlik is dat die ou skrywers en veral De Groot aan al
hierdie vereistes aandag kon gegee het (bl. 128C). Die beslissing in Hendler Bros.
Garage (Pty.) Ltd. v Lambons Ltd., supra, is korrek. In Hall-Thermotank Natal (Pty.)
Ltd. v. Hardman, 1968 (4) SA op bl. 831D - G, word verklaar dat die beslissing in
Hendler Bros. Garage (Pty.) Ltd. v Lambons Ltd., verkeerd is. Daar word gesteun op
die kritiek van laasvermelde beslissing deur J. C. De Wet in Annual Survey of SA
Law, 1967, bl. 101. Voorts word verklaar dat in geval van uitwinning die koper
geregtig is om te kanselleer, om die koopprys terug te vorder, sowel as alle uitgawes
en skade. Daar word slegs gesteun op Norman, Purchase and Sale, 3de uitg., bl.
239. Wat die genoemde kritiek van J. C. De Wet betref, verklaar hy dat, indien De
Groot, 3.14.6, saamgelees word met 3.15.4 daar weinig twyfel bestaan dat, volgens
De Groot, die koper ten minste geregtig was op 'n terugbetaling van die koopprys en
dat sy eis nie beperk was tot die markwaarde van die saak tydens eviksie nie. Dit
word toegegee dat De Groot geen gesag is vir die stelling dat die koper slegs
geregtig is op die markwaarde van die saak tydens eviksie nie, maar netso min is De
Groot ongekwalifiseerd gesag vir die stelling dat die koper geregtig is op die
koopprys: trouens Inleiding, 3.15.4, staan direk daarteen. De Wet verwys ook na die
regsreël dat waar die verkoper hom gevrywaar het teen aanspreeklikheid vir
uitwinning die koper nog steeds geregtig is om die kontrak te kanselleer en die
koopprys terug te vorder. Die argument is dan dat indien 'n verkoper wat homself uit
'n aanspreeklikheid vir eviksie gekontrakteer het, nogtans aanspreeklik is om die
koopprys terug te betaal, die koper wat homself nie so uitgekontrakteer het nie des
te meer gebonde is om te betaal. Daar word met respek aan die hand gedoen dat
die reëling waarop De Wet hom beroep 'n anomalie is waarvoor daar geen
regverdiging bestaan nie. Dit word aan die hand gedoen dat die bestaan van die
genoemde reël in ons reg minstens twyfelagtig is en dat dit nie deel van ons reg
behoort te vorm nie. Mostert, Proefskrif, 1092 en 1093; Acta Juridica, 1968, bl. 52;
Norman, Purchase and Sale, 3de uitg. bl. 237; 4de uitg., bl. 292; Mackeurtan, Sale
of Goods, 4de uitg., bl. 231 nota 47; De Groot, 3.14.6; Schorer, 350; Morice, Sale in
Roman-Dutch Law, bl. 130. Die presiese betekenis van Schorer en Van der Keessel,
waarop De Wet hom beroep, is reeds hierbo behandel. Die stelling van Van der
Linden waarop De Wet hom beroep (Koopmans Handboek, 1.15.10.6) as gesag
daarvoor dat die kontrak gekanselleer kan word, is ongemotiveerd. Insiggewend is
dat De Wet slegs die genoemde uitspraak kritiseer aan die hand van die teensprake
onder die ou skrywers en op geen prinsipiële gronde nie. In teenstelling met De Wet,
behandel Mostert, Acta Juridica, 1968, bl. 74
1975 (3) SA p740
e.v., die billikheidsgrondslag van die onderskeie reëls en toon aan dat die billikheid
ten gunste van die reëling is dat die koper slegs geregtig is op sy id quod interest,
d.w.s. die waarde van die saak tydens uitwinning. Mostert verklaar dat die
koopkontrak wat gesluit was, geldig is en na perfecta- wording dra die koper die
risiko van enige toevallige waardevermindering. Hy verklaar dat dit dan nie duidelik
is hoe dit moontlik kan wees dat die koper wat uitgewin word, tog die volle koopprys
kan verhaal nie. J. R. Lund, in 1968 S.A. Law Journal, op bl. 138 e.v., toon ook aan
dat op die billikhede Hendler Bros, Garage (Pty.) Ltd. v Lambons Ltd., korrek beslis
is. Lund wil dit nie as algemene beginsel stel dat die koper slegs geregtig is op die
waarde van die saak tydens eviksie nie, nog onderskryf hy die standpunt dat die
koper noodwendig geregtig is op die volle koopprys. Hy voer aan dat die Hof uit
billikheidsoorwegings 'n aanpassing kan maak ten aansien van die bedrag wat van
die verkoper verhaalbaar is vir die waardevermindering in die saak. As gesag
hiervoor beroep Lund hom op D. 21.1.23 pr. ; D. 21.1.25 pr., en Schwarzer v. John
Rodericks Motors (Pty.) Ltd., 1940 OPD op bl. 183. Die standpunt dat die koper wat
uitgewin word slegs geregtig is op die waarde van die saak tydens uitwinning word
gestaaf deur die Romeinse regsbronne, deur die enigste Romeins-Hollandse
skrywer wat spesifiek aan die probleem aandag geskenk het, te wete Johannes
Voet, deur die enigste uitspraak van ons Hooggeregshof wat spesifiek aandag aan
die probleem geskenk het, te wete Hendler Bros. Garage (Pty.) Ltd. v Lambons Ltd.,
supra, en dit is in ooreenstemming met die algemene beginsels van ons reg
betreffende skadevergoeding en met die billikheid.
A. J. Smit, namens die respondent: Met betrekking tot die vraag of die respondent
(die koper) geregtig is om die kontrak te kanselleer en die volle koopprys van die
verkoper te verhaal, en of hy slegs geregtig is op die waarde van die saak ten tyde
van uitwinning teen voldoening van sy eie verpligtinge ingevolge die ooreenkoms, is
daar twee belangrike skole wat lynreg teenoor mekaar stelling inneem. Die volgende
gesag ondersteun die appellant se standpunt: J. Voet, Commentarius ad Pandectas,
21.2.26, wys slegs daarop dat De Groot se standpunt tot die teendeel nie in
ooreenstemming met die Romeinse reg soos beskryf deur Papinianus, Paulus en
Africanus is nie. Hy self spreek geen uitdruklike mening uit nie en hy maak ook geen
melding van die geldende reg van sy tyd nie. Norman, Purchase and Sale in South
Africa, 4de uitg., bl. 295, steun hoofsaaklik op Voet en regverdig sy standpunt deur
te steun op die risiko wat by kontraksluiting op die koper oorgaan. Die risiko-reëling
by die koopkontrak is klaarblyklik nie in 'n geval soos die onderhawige van
toepassing nie, en wel om die volgende redes: (i) Die risiko-reëling by die
koopkontrak is slegs van toepassing waar die koopkontrak reeds perfecta is, maar
lewering nog nie geskied het nie. Nadat lewering geskied het ingevolge 'n geldige
koopkontrak verval die nodigheid vir die bestaan van hierdie leerstuk. Sien in die
algemeen: (a) Norman, supra op bl. 194 e.v.; (b) Mackeurtan, Sale of Goods in S.A.,
4de uitg., bl. 153; (c) Mostert, Joubert en Viljoen, Die Koopkontrak, bl. 78; (d) De
Wet en Yeats, Kontrakte - en Handelsreg, 3de uitg., bl. 241. (ii) Die risiko-reëling is
slegs gemik op verlies of skade wat toevallig aan die koopsaak berokken word. Sien
die laasgenoemde twee bewysplekke. Mostert, Uitwinning by die Koopkontrak in die
Suid-Afrikaanse Reg (ongepubliseerde proefskrif, U.P., November 1965) vervat in
Acta Juridica, 1967 (bl.
1975 (3) SA p741
49 e.v.), 1968 (bl. 5. e.v.) en 1969 (bl. 2 e.v.). J. R. Lund; "Warranty against
Eviction", 1968 S.A.L.J., bl. 138, spreek in effek die mening uit dat volgens
regsbeginsels die koper wel sy terugtredingsreg behoort te hê in geval van die breuk
van 'n essensiële term, maar dat dit alleen toegelaat moet word indien
"considerations of equity" dit vereis. In Hendler Bros. Garage (Pty.) Ltd. v Lambons
Ltd., 1967 (4) SA 115, is beslis dat die koper slegs geregtig is op die waarde van die
saak ten tyde van uitwinning. Die beslissing berus hoofsaaklik op die volgende
gronde: (a) Op bl. 124F: Dit is 'n term (skynbaar stilswyend) van die waarborg dat die
verkoper die koper slegs sou vergoed vir skade indien die waarborg verbreek word.
Hierdie is klaarblyklik 'n gedwonge konstruksie wat sonder enige gronde aan 'n
natuurlike gevolg van die koopkontrak toegedig word. (b) Bl. 125F: Die koper kan nie
die ooreenkoms kanselleer nie, aangesien hy nie in staat is om die saak terug te
lewer nie. Die argument dat die uitsondering, waarkragtens teruggawe verskoon
word indien die saak te niet gaan weens die defek op grond waarvan gekanselleer
word, op die geval onder bespreking van toepassing is, word verwerp. Dit is ten volle
daarop van toepassing. Die koper word egter ook van teruggawe verskoon indien (i)
die saak tot niet gaan as gevolg van die skuld van die verkoper; (ii) indien die koper
geen skuld daaraan het dat die saak tot niet gaan nie. (Sien Mostert, Joubert en
Viljoen, Die Koopkontrak, bl. 217). (c) 'n Derde argument (bl. 125H e.v.) is dat die
oorspronklike onskuldige verkoper moontlik benadeel kan word indien die laaste
verkoop teen 'n arbitrêre (opgeblase) prys geskied het. Dit is seker waar, maar moet
die reg nou aangepas word om slegs die ongelukkige sameloop van omstandighede
waarin hy verkeer te dek? Die handelaar wat onwetend 'n meesterstuk vir 'n appel
en 'n ei aan iemand verkoop wat later uitgewin word, se omstandighede is veel
ongelukkiger wanneer hy vir skadevergoeding teenoor die koper aanspreeklik gehou
word vir die waarde van die saak ten tyde van uitwinning. Sien Mostert, Joubert en
Viljoen, op. cit., bl. 174. Moet die reg nou ook aangepas word om hierdie geval te
dek? Die volgende outoriteite steun die respondent se standpunt: Grotius, Inleiding
tot die Hollandsche Rechtgeleertheyt, 3.14.6 en 3.15.4; Voet, Commentarius ad
Pandectas, 21.2.31. Teenstrydig met sy standpunt in 21.2.26, verklaar hy dat waar
die verkoper homself vrywaar teen aanspreeklikheid vir uitwinning, hy nogtans
aanspreeklik is vir teruggawe van die koopprys. Groenewegen, Aantekeninge tot
Inleiding, 3.15.4, bevestig Voet se laasgenoemde stelling. Schorer, Aantekeninge 9
en 10 tot Inleiding, 3.14.6, aanvaar De Groot se stelling. So ook Van der Linden,
Koopmans Handboek, 1.15.10.6; Huber, Heedendaegse Rechtsgeleertheyt, 3.5.61.
Sien Huber, Jurisprudence of My Time (Gane's translation, band 1, bl. 423). D. F.
Mostert in sy gemelde proefskrif kom tereg tot die gevolgtrekking dat De Groot se
stelling met die destydse praktyk ooreenstem en dat in die reg van Holland die koper
waarskynlik die koopprys sou kon terugvorder indien in die saak in waarde
verminder het (para. 815), 1967 Acta Juridica, bl. 111. Ook ons mees prominente
skrywers ondersteun die standpunt van De Groot. Sien, bv. Wessels, Contract. lste
uitg., band II, paras. 4620 - 4623; H. G. Mackeurtan. Sale of Goods in South Africa,
4de uitg., bl. 235; De Wet en Yeats, Die Suid-Afrikaanse Kontraktereg en
Handelsreg, 3de uitg., bl. 227; C. de Wet, Annual Survey of SA Law, 1967, bl. 101 -
3; HENNING, R., obiter dictum in Hall-Thermotank Natal (Pty.) Ltd. v Hardman, 1968
(4) SA op bl. 831. Afgesien van die submissie dat hierdie Hof die Romeins-Hollandse
1975 (3) SA p742
reg, soos wat dit in die praktyk gegeld het behoort toe te pas, word die volgende
redes aangevoer waarom die eiser se submissie gehandhaaf moet word: Dit is 'n
fundamentele beginsel van ons kontraktereg dat die onskuldige party in die geval
van 'n breuk van 'n wesenlike term, geregtig is om die kontrak te kanselleer en
restitusie te eis. Indien van bogemelde basiese beginsel afgewyk word ten einde
enkele verdienstelike gevalle te akkommodeer, kan dit die onskuldige kontraksparty
se terugtredingsreg oor die hele veld van die kontraktereg in onsekerheid laat verval.
Die logiese gevolg daarvan sou wees dat geen onskuldige kontraksparty wat ten
koste van die ander party verryk is, sy reg op terugtrede en restitusie sal kan
uitoefen nie. So, bl., sal die onskuldigde kontraktant sy regsmiddel op grond van
onskuldige of nalatige wanvoorstelling verloor sodra dit blyk dat hy ten koste van die
ander party verryk is. Dit is 'n bekende ekonomiese feit dat in die geval van 'n wye
reeks van artikels, soos bv. motors, elektriese toebehore, meubels, e.d.m. die
markprys van die artikels aansienlik daal sodra dit deur die handelaar aan 'n lid van
die publiek verkoop word. Indien sodanige kopers slegs aangewese is op die
markprys van die artikel kan dit baie verswarend werk vir die koper wat uitgewin
word voordat hy enige genot of gebruik van die saak gehad het. Dit sou tog belaglik
wees indien 'n sodanige koper, wat uitgewin word voordat die koopprys betaal is, nie
in staat sal wees om 'n eis om betaling van die koopprys af te weer nie en derhalwe
aanspreeklik sal wees vir die verskil tussen die verkoopsprys en die markprys, synde
die handelaar se winsgrens. Dit sou die handelsverkeer erg benadeel indien
handelaars in verbruikersartikels slegs aanspreeklik is vir die waarde van 'n
uitgewonne saak. Aangesien sodanige artikels slegs in waarde verminder, kan dit vir
die handelaar slegs voordelig wees om goedere te verkoop waarvan hy nie die
eienaar is nie. Dat die handel in andermansgoed daardeur aangemoedig sal word, lê
voor die hand. Indien die appellant se standpunt gehandhaaf word, sal die verkoper
wat kennis het van sy eie gebrekkige titel waarskynlik ook slegs aanspreeklik wees
vir die waarde van die saak ten tyde van uitwinning, want daar is, wat
skadevergoeding aan betref, tog geen beginselverskil tussen hom en die onskuldige
verkoper nie. Dit is in ieder geval in die praktyk uiters moeilik om te bewys dat die
verkoper kennis gehad het van sy gebrekkige titel, veral in die geval van handelaars
in tweedehandse ware. Soos Wessels, op. cit., tereg aandui, is dit die verkoper se
taak om seker te maak daarvan dat die verkoopte saak nie die eiendom van iemand
anders is nie. Hy alleen is daartoe in staat en indien hy homself wil vrywaar teen sy
opvolger in titel se eis om restitusie, moet hy sorg dra dat sy voorganger in staat is
om dié se waarborg teen uitwinning gestand te doen. Die korrekte juridiese
konstruksie sou wees om aan die verkoper (of sy voorganger aan die end van die
ketting wat nie van dié se voorganger kan verhaal nie), 'n verrykingsaksie teen die
uitgewonne koper toe te ken. Vanweë die gebrek aan 'n algemene verrykingsaksie in
ons reg, is 'n verkoper soos die onderhawige maar een van talle voorbeelde in ons
reg waar een party ten koste van 'n ander verryk word en laasgenoemde
remedieloos is. Sien Nortje v Pool, N.O., 1966 (3) SA 96. Dit berus nie by die Howe
om sodanige ongerymdhede reg te stel nie, maar by die Wetgewer. Volgens Mostert,
Proefskrif, para. 1762, bestaan daar in die Franse en Nederlandse reg 'n
uitsondering om voorsiening te maak vir die geval waar die saak sedert die verkoop
in waarde verminder het. Die posisie aldaar is dat indien die koper voordeel geniet
het uit die skade wat aan die
1975 (3) SA p743
BOTHA AR
koopsaak toegebring is, die verkoper 'n bedrag gelyk aan sodanige voordeel van die
koopsom kan aftrek. Dit wil dus voorkom asof hierdie twee regstelsels 'n
verrykingsaksie aan die verkoper toegeken het.
Olivier, in repliek.
Cur. adv. vult.
Postea (Junie 2).

Judgment
BOTHA, A.R.: Volgens die feite wat uiteengesit word in 'n gestelde saak waarop die
gedingvoerende partye ingevolge Reël 33 ooreengekom het, blyk dit dat die partye
op 11 November 1971 'n huurkoopkontrak aangegaan het waarvolgens respondent
(ek noem hom die koper) 'n gebruikte Ford Thunderbird motor van appellant (ek
noem hom die verkoper) vir 'n totale koopprys van R4 955, 12 (wat
finansieringskoste insluit) aangekoop het. Die koopprys was betaalbaar by wyse van
'n kontant bedrag van R1 760,00 en 23 maandelikse paaiemente van R133,20, en 'n
laaste paaiement van R131,52 op 10 November 1973.
Ten tyde van die kontraksluiting het albei die partye ter goeder trou geglo dat die
verkoper die eienaar van die motor was. Op 12 September 1972 is die motor egter
deur die ware eienaar daarvan, Kaaplandse Beleggings Adviseurs (Edms.) Bpk., as
sy eiendom opgeëis, en in Oktober 1972, toe dit duidelik geblyk het dat
laasgenoemde die ware eienaar van die motor was, is dit aan hulle gelewer. Die
koper het toe reeds die kontant bedrag van R1 760 en paaiemente ten bedrae van
R1 200,79 aan die verkoper betaal. Toekomstige paaiemente, wat nog betaalbaar
sou word, het op R1 933,08 te staan gekom.
As gevolg van die uitwinning van die motor het die koper die huurkoopkontrak
opgesê en terugbetaling van die volle bedrag wat hy aan die verkoper betaal het, nl.
R2 960,79, van laasgenoemde in die Kaapse Provinsiale Afdeling gevorder. Die
verkoper se standpunt was egter dat die koper nie op opsegging van die
huurkoopkontrak en restitusie van die koopprys geregtig was nie, maar slegs op
vergoeding van sy skade as gevolg van die uitwinning, nl. die waarde van die motor
ten tyde van die uitwinning wat die partye ooreengekom het op R1 900 te staan
gekom het, en dat die verkoper geregtig was om hierdie bedrag in verrekening te
bring teen die bedrag van R1 933,08 wat die koper nog ingevolge die
huurkoopkontrak verskuldig was.
Die Hof a quo het die koper gelyk gegee en, so is ons meegedeel, vonnis ten
gunste van die koper vir die gevorderde bedrag van R2 960,79 met die gedingkoste
toegestaan.* Teen hierdie bevel is die verkoper nou in hoër beroep by hierdie Hof.
Dit is duidelik dat dit vir 'n geldige koopkontrak volgens ons reg geen vereiste is dat
die verkoper van die koopsaak eienaar daarvan moet wees nie. Ofskoon dit die doel
van die koopkontrak is dat die koper eienaar van die verkoopte saak moet word, is
die verkoper egter nie verplig om die koper eienaar daarvan te maak nie. Hy moet
die koper slegs in besit stel en hom teen uitwinning vrywaar. Dit beteken dat die
verkoper daarvoor instaan dat niemand met 'n beter reg daartoe die koper wettiglik
van die verkoopte saak sal ontneem nie, en dat hy, die verkoper, die koper in sy
besit van die saak
1975 (3) SA p744
BOTHA AR
sal beskerm. Die vraag is nou wat die verpligtings van die verkoper teenoor die
koper is waar die verkoper sy waarborg nie gestand doen of kan doen nie.
In Hendler Bros. Garage (Pty.) Ltd. v Lambons Ltd., 1967 (4) SA 115 (O) , behandel
HOFMEYR, R., die vraag of die koper die kontrak kan opsê waar die verkoper in
gebreke bly om die koper in sy besit te beskerm en die koper uitgewin word soos
volg op bl. 124:
"Die antwoord op hierdie vraag hang af van die inhoud van die
waarborgsverpligting wat die applikant (die verkoper) teenoor Van Wyk
onderneem het. Die applikant het in die eerste plek onderneem om aan Van
Wyk die ongestoorde besit en genot van die Borgward te verskaf. Tweedens,
indien hy sou versuim om Van Wyk in sy besit te beskerm of in sy pogings
daartoe sou faal, het die applikant onderneem om Van Wyk te vergoed. Ek
meen dat Mostert (Ongepubliseerde Proefskrif oor Uitwinning by die
Koopkontrak in die Suid-Afrikaanse Reg, Universiteit Pretoria, November
1965, para. 1742 - 3) gelyk het wanneer hy beweer dat die laasgenoemde
verpligting 'n deel van die ooreenkoms tussen die partye uitmaak. Daar kan
dus geen sprake van kansellasie wees nie want die koper het hom daartoe
verbind om vergoeding vir die saak deur die uitwinning veroorsaak te
ontvang."
Mostert, op. cit. para. 1743, stel dit so:
"Hierdie waarborgsverpligting van die verkoper bestaan dus, van 'n ander
kant gesien, daarin dat die verkoper aan sy koper te kenne gee dat hy die
besit, gebruik en genot van die saak kan bly behou en dat indien dit nie so
blyk te wees nie, hy die koper sal vergoed. Die verpligting van die verkoper is
dus 'n alternatiewe een, hy moet òf toesien dat die koper besit behou òf die
koper vergoed. Indien die eerste deel onmoontlik word om te vervul, is die
verkoper ex contractu aanspreeklik om die tweede verpligting na te kom en is
daar van kontrakbreuk nog geen sprake nie."
Dit is duidelik dat in die klassieke Romeinse reg die aanspreeklikheid van die
verkoper teenoor die koper in geval van uitwinning kontraktueel gereël was. Eers
was daar die stipulatio duplae waarvolgens die verkoper onderneem het om in die
geval van die uitwinning van die koper, die koper in veelvoude van die koopprys te
vergoed. Omdat gewoonlik vir dubbel die koopprys beding is, was hierdie stipulatio
as die stipulatio duplae bekend. Dan was daar die stipulatio habere licere
waarvolgens die verkoper onderneem het om die koper vir sy id quod interest te
vergoed. Hierdie stipulationes was met 'n aksie op die stipulationes, d.w.s. 'n actio ex
contractu, afgedwing. Vanweë hul billikheid was die stipulationes met verloop van
tyd by alle koopkontrakte geïmpliseer sonder uitdruklike bedinging, en kon met die
actio empti afgedwing word. (De Zulueta, Roman Law of Sale, op bl. 42, en verder
Moyle, Contract of Sale in the Civil Law, op bl. 111 - 112).
Die stipulatio habere licere het geleidelik in onbruik verval en is in die Justiniaanse
reg geheel en al vervang deur en opgeneem in die actio empti waarmee die
uitgewonne koper sy volle id quod interest kon verhaal. Die stipulatio duplae kon nog
beding word waar die partye dit verkies het. Anders was die koper slegs op sy id
quod interest geregtig wat hy met die actio empti, wat 'n aksie op die kontrak was,
kon verhaal.
Dit is geensins duidelik of die uitgewonne koper in die Romeinse reg ook
terugbetaling van die koopprys benewens sy id quod interest met die actio empti kon
verhaal nie. Daar is tekste in die Digesta, soos 21.2.70, wat daarop dui dat dit wel
die geval was, maar daar is ook tekste wat op die teendeel wys, soos 21.2.60 en
19.1.45 pr. Sommige moderne skrywers oor die Romeinse reg meen dat die koper
slegs op sy id quod interest geregtig was wat hy met die actio empti kon verhaal.
(Moyle, op. cit. op bl. 124 - 8, en Sohm, Institutes of Roman Law, 3de uitg., bl. 399).
1975 (3) SA p745
BOTHA AR
Pothier, Vente, 269, wys eers daarop dat sekere skrywers beweer het dat met die
actio empti slegs vergoeding van die skade wat die koper ten gevolge van die
uitwinning van die saak gely het van die verkoper kon verhaal, en dat daardie skade
die waarde van die saak ten tyde van die uitwinning is waar daardie waarde minder
as die koopprys is, dan gaan hy soos volg voort (Cushing se vertaling):
"Dumoulin, who has gone more profoundly into this subject, in his treatise de
eo quod interest, para. 68, 69, etc., than any of the interpreters, refutes this
doctrine, and holds, that the action ex empto in id quod interest, in case of
non-delivery, as in case of eviction, has two objects (duo capita ) the principal
of which is a restitution of the price paid, or a discharge from it, if it remains
due; and, the other, a payment of all that the buyer suffers over and above, by
means of the non-delivery or eviction."
Pothier verduidelik dan waarom dit so moet wees en verduidelik voorts dat die
verkoper se verpligting om die koopprys aan die koper terug te betaal uit die
koopkontrak self ontstaan. In para. 103 sê Pothier :
"The action of warranty is a branch of the personal action ex empto, which
results from the obligation contracted on the part of the seller to the buyer, by
the contract of sale, praestare ei rem habere licere."
Die stipulationes van die Romeinse reg het nie in die reg van Holland na die
resepsie van die Romeinse reg gegeld nie sodat die koper slegs die actio empti tot
sy beskikking gehad het. Met hierdie aksie kon hy terugbetaling van die koopprys en
vergoeding van sy skade van die verkoper vorder. Grotius, Inleidinge, 3.14.6, stel dit
duidelik dat in 'n geval van uitwinning die verkoper -
"den kooper boven den koopschat soo veel souden vergoeden als den selven
kooper aan den eigendom van de saeck gelegen was, 't welk men noemt
waeren...".
Die koper was dus volgens Grotius geregtig op terugbetaling van die koopprys
benewens sy id quod interest. Voet, Pandectas, 21.2.25, stel dit ook duidelik dat die
koper op grond van uitwinning 'n actio empti het vir terugbetaling van die koopprys
en skadevergoeding - pretium et id quod interest.
Van Leeuwen, Rooms Hollands Regt, 4.18.2, en Censura Forensis, 1.14.19.11,
verklaar ook dat indien die verkoper in gebreke bly om die koper teen uitwinning te
beskerm, hy verplig is om die koopprys aan die koper terug te betaal benewens
vergoeding van enige skade wat die koper as gevolg van die uitwinning gely het.
Van der Linden, Koopmans Handboek, 1.15.10.6, behandel uitwinning van die koper
as 'n wyse waarop "koop en verkoop eenmaal bestaan hebbende", vernietig word,
en sê dat waar die koper uitgewin word die verkoper
"den koopprys met de interessen aan den kooper (moet) terug geven, met
vergoeding van de schade, by den kooper gehad en geleden".
In 'n regsopinie in die Hollandsche Consultatien, deel VI (2), cons. 150, verklaar
Groenewegen dat -
"in case van evictie is de koper niet alleen geregtigt te eissen restitusie van de
betaalde kooppenningen... maar ook alle schaden en interessen door de
evictie van 't verkochte goed met den aanval en gevolge van dien geleden".
Dieselfde mening word uitgespreek in 'n onondertekende regsopinie in die
Hollandsche Consultation, deel II, cons. 19, vr. 6.
Dat terugbetaling van die koopprys in die geval van die uitwinning van die koper die
algemeen aanvaarde reël in die Romeins-Hollandse reg was, blyk ook uit die reëling
wat volgens sommige skrywers gegeld het waar die verkoper ten tyde van die
kontraksluiting stipuleer dat hy nie aanspreeklikheid teenoor die koper vir moontlike
uitwinning aanvaar nie, die sogenaamde pactum de evictione non praestanda. In so
'n geval het die
1975 (3) SA p746
BOTHA AR
stipulasie die verkoper slegs gevrywaar van die betaling van vergoeding vir skade of
winsderwing, maar het hy nogtans vir terugbetaling van die koopprys aanspreeklik
gebly. Was hy egter mala fides het hy ook vir betaling van skadevergoeding
aanspreeklik gebly. (Voet, 21.2.31; Matthaeus, De Auctionibus, 1.14.5;
Groenewegen, Noot 20 ad Grotius, 3.15.4; Van Nieustad en Kooren, Vonnis 68,
Hoogen Raad van Holland, Zeeland en West Friesland). Die rede wat Voet vir
hierdie reëling in 21.2.31 gee is dat so 'n beding, waarvolgens die koper die saak
kan verloor en die verkoper nogtans die koopprys kan behou, onbestaanbaar is met
'n bonae fidei kontrak, soos 'n koopkontrak.
In Hendler Bros. se saak, supra, word op bl. 121 - 2 op Voet, 21.2.26, gesteun vir die
stelling dat indien die waarde van die saak ten tyde van die uitwinning minder is as
die prys wat die koper daarvoor betaal het, die koper by uitwinning slegs daardie
waarde op die verkoper kan verhaal en nie die koopprys kan terugvorder nie. In
21.2.26 bevraagteken Voet, na aanleiding van Dig. 21.2.66.3; 21.2.70 en 19.1.45 pr.,
die stelling van Grotius in 3.15.4 dat:
"De zaecke rechtelik zynde uitghewonnen, heeft den kooper syn keur of hy wil
weder-eisschen de waarde van de zaeck, zulcks die was ten tyde van die
koopdag, of alle 't gunt hem daer aan was gelegen dat zaecke niet
uitghewonnen en ware geweest."
Voet sê dat hierdie stelling van Grotius nie ooreenstem met die Romeinse reg soos
in die aangehaalde tekste uiteengesit word nie, nl. dat, waar die waarde van die
saak ten tyde van die uitwinning minder was as die koopprys, die koper se skade of
verlies die mindere waarde was. Voet gee sy eie mening nie, maar indien hy in
21.2.26 bedoel het dat waar die waarde van die saak ten tyde van die uitwinning
minder is as die prys wat die koper daarvoor betaal het, die koper slegs daardie
waarde op die verkoper kon verhaal, en nie terugbetaling van die koopprys kon
vorder nie, dan is dit in stryd met wat Voet in 21.2.25 en 21.2.31 sê, nl. dat die koper
by uitwinning 'n actio empti het vir terugbetaling van die koopprys sowel as vir die
vergoeding van sy skade, en dat waar die verkoper by kontraksluiting gestipuleer het
dat hy nie aanspreeklikheid vir moontlike uitwinning aanvaar nie, so 'n stipulasie hom
slegs vrywaar van die betaling van skadevergoeding, maar dat hy nogtans vir
terugbetaling van die koopprys aanspreeklik bly.
Ek kan geen rede vind om te aanvaar dat Voet in 21.2.26 bedoel het om te beweer
dat 'n uitgewonne koper sy reg op terugbetaling van die koopprys kwyt raak waar die
waarde van die saak ten tyde van die uitwinning minder is as die koopprys nie. Myns
insiens handel Voet daar slegs met die bepaling van die quantum van die koper se
skade ooreenkomstig die bepalings van die Romeinse Reg. In Hendler Bros. se
saak, supra, word daar glad nie na Voet, 21.2.25 en 21.2.31, verwys nie.
Die passasie in Grotius, 3.15.4, is op die oog af moeilik te versoen met die passasie
in 3.14.6 waar Grotius aan die uitgewonne koper bo en behalwe terugbetaling van
die koopprys ook nog vergoeding van sy skade as gevolg van die eviksie toeken.
Van der Keessel, Praelectiones Juris Hodierni ad Hugonis Grotii Introductionem,
3.15.4., (band IV, bl. 404 van die teks soos versorg en vertaal deur Van Warmelo,
Coertze en Gonin ) stem klaarblyklik saam met wat Grotius in 3.14.6 sê en poog om
die twee passasies met mekaar te versoen deur aan die hand te doen dat Grotius in
3.15.4 nie na die koopprys verwys wat die koper betaal het nie, maar na die werklike
waarde,
1975 (3) SA p747
BOTHA AR
ten tyde van kontraksluiting, van die saak wat die koper teen 'n laer waarde gekoop
het en wat, indien die koper eersgenoemde bedrag verhaal, sal meebring dat hy
geen verdere belang het nie. Aldus verstaan kry die koper dus sy koopprys (die laer
waarde) terug saam met sy interesse, nl. die verskil tussen die koopprys en die hoër
waarde. Volgens Grotius het hy egter ook nog die keuse om vergoeding te eis van al
sy skade as gevolg van die uitwinning. Aldus vertolk is daar geen wesenlike
strydigheid tussen die twee passasies nie.
Schorer, N. 9 en 10, Ad Grotius, 3.14.6, onderskryf ook Grotius se uiteensetting en
sê dat:
"Ofschoon iemand met zyn voorweten een land, het gene een ander
toebehoorde, kogt, en met den verkooper omtrent de waeringe niets bedong,
niet te min zoude de verkooper den prys van den koop moeten uitkeeren,
zonder echter tot eenige ander vergoedinge van schade of winstdervinge
gehouden te zyn."
Volgens Huber, Heedendagse Rechtsgeleertheyt, 3.5.61, het die koper in geval van
uitwinning gedurende sy tyd slegs 'n aksie vir die vergoeding van sy skade gehad tot
'n maksimum van dubbel die prys van die betrokke goed. In 3.5.62 sê hy dat daar
twyfel bestaan of die skadevergoeding bepaal moet word volgens die koopprys dan
wel volgens die waarde van die goed ten tyde van eviksie. Hy verwys na twee
beslissings waar die Hof besluit het dat die bona fide koper volgens die waarde ten
tyde van die eviksie vergoed moet word, maar voeg dan by dat dit -
"wel te verstaen (is), ingevalle de prys ten tyde der koop hooger was geweest,
souden de koopers van goeder trouw daer toe hebben kon geraken, om dat
het anders geen faveur voor haer was".
Dit blyk dus dat die koper volgens Huber wel die koopprys in so 'n geval kon
terugkry.
Die skrywers wat ek hierbo aangehaal het, met die moontlike uitsondering van
Huber, is dit, myns insiens, eens dat die koper in geval van uitwinning sowel
restitusie van die koopprys as vergoeding vir sy id quod interest van die verkoper
kon vorder, en nie slegs vergoeding van sy skade bereken volgens die waarde van
die saak ten tyde van uitwinning nie.
Dit is nie duidelik uit wat die skrywers oor die Romeins-Hollandse reg sê of die
koper, wat as gevolg van die eviksie skade gely het, benewens terugbetaling van die
betaalde koopprys, volle vergoeding van sy skade as gevolg van die eviksie op die
verkoper kon verhaal nie. Dumoulin, Tractatus de eo quod interest, para. 68, sê dat
die actio ex empto twee oogmerke (duo capita ) gehad het, nl. restitusie van die
koopprys en vergoeding van soveel van sy id quod interest as wat meer is as die
koopprys (quod interest praeter pretium ). Pothier, Vente (2) 131, blyk dieselfde
standpunt in te neem waar hy sê (Cushing se vertaling):
"The seller, in case of eviction, ought to be condemned for the damages,
when the buyer suffers any over and above the price paid, in id quod supra
pretium interest emptoris."
Dit blyk dus dat die actio ex empto wesenlik op skadevergoeding, met die koopprys
as minimum, gerig was.
Vergoeding aan die koper volgens die waarde van die saak ten tyde van eviksie sou
in baie gevalle onbillik werk teenoor die onskuldige koper en die verkoper sonder
rede bevoordeel. So, bv. sou die versamelaar wat 'n buitensporige prys vir 'n
muntstuk of 'n seël betaal, om sy stel te kan volmaak, ernstig benadeel word ten
voordele van die verkoper indien hy uitgewin sou word. In die teenoorgestelde geval
waar 'n koper bv. 'n skildery teen 'n lae prys koop en daarna vind dat dit 'n
waardevolle
1975 (3) SA p748
BOTHA AR
meesterstuk is, sou hy, indien hy uitgewin sou word, benewens die koopprys,
vergoeding van slegs sodanige skade kan verhaal as wat redelikerwys deur die
partye ten tyde van die kontraksluiting voorsienbaar was. (Victoria Falls & Transvaal
Power Co. Ltd. v Consolidated Langlaagte Mines Ltd., 1915 AD 1 op bl. 22; Lavery
and Co. Ltd. v Jungheinrich, 1931 AD 156 op bl. 169). In iedere geval moet onthou
word dat ons hier met kontraktuele en nie deliktuele aanspreeklikheid te doen het
nie. (Vgl. Pothier, Vente, 2, 69).
Dit volg dus dat ek nie kan saamgaan met die stelling in Hendler Bros. se saak,
supra op bl. 124 en 128, dat die koper hom luidens die verkoper se waarborg teen
eviksie slegs daartoe verbind het om vergoeding van sy skade as gevolg van die
uitwinning, bereken volgens die waarde van die saak ten tyde van uitwinning, te
ontvang nie.
Die uitlating van Appèlregter SCHREINER in Lammers and Lammers v. Giovannoni,
1955 (3) SA 385 (AD) op bl. 394, waarop die Vrystaatse Afdeling in Hendler Bros. se
saak, supra op bl. 123, ook steun, nl. dat:
"I can see no reason why the appellants should have to pay the respondent
more than the value of the car at the date of the eviction, no matter what the
cost of the improvements had been. He lost by the eviction the value of the
car at that date; that he can recover,"
is geen gesag vir die stelling dat 'n koper by uitwinning slegs vergoeding van sy
skade kan vorder en nie die koopprys kan terugvorder nie. Daardie vraag was nie in
Lammers and Lammers se saak, supra, in geskil nie. Daar het dit gegaan oor die
skade wat die koper gely het. 'n Baie meer tersaaklike uitlating van Appèlregter
SCHREINER, wat geheel en al met die uitspraak in Hendler Bros. se saak
onbestaanbaar is, is die volgende op bl. 390 van dieselfde saak:
"As I understand the nature of the so called warranty against eviction the
basic obligation of the seller is to protect the buyer in his possession. As
Pothier, Sale, 2, 104 (Cushing's translation.), puts it:
'The immediate and primitive object of this action (action of warranty -
see 103) is the taking of the act and cause for the buyer, that is to say,
the defence of his cause, with which the seller is obliged to charge
himself, factum defendendi.'
If he fails to shield the buyer against eviction he must restore the price and
pay the damages suffered by the buyer as a result of the eviction."
Dit was, myns insiens, nie vir die koper in die onderhawige geval nodig om die
huurkoopkontrak tussen hom en die verkoper te kanselleer nie. Hy was as gevolg
van die uitwinning geregtig om terugbetaling van die koopprys en vergoeding van sy
skade met die actio empti van die verkoper te vorder. Hy was dus geregtig op
terugbetaling van daardie gedeelte van die koopprys wat hy reeds betaal het, en
was, ook as gevolg van die uitwinning, onthef van die betaling van daardie gedeelte
van die koopprys wat hy nog verskuldig was (Pothier, Vente, (2), para. 69). Dit volg
dus dat, na my oordeel, Hendler Bros. se saak, supra, verkeerd beslis is.
Dit is betoog dat hierdie resultaat onbillik sou wees in die sin dat die koper, nadat hy
die motor vir tien maande gebruik het, nou die bedrag wat hy op die koopprys
afbetaal het, terugkry, en vry is van verdere betalings ingevolge die
huurkoopkontrak. Op die oog af plaas dit hom in 'n beter posisie as wat hy sou
gewees het indien daar geen uitwinning was nie. Dit is egter geen onbillikheid
teenoor die verkoper nie, maar alleen teenoor die werklike eienaar. Inderdaad sê
Pothier, op. cit., 69, dat indien die koper slegs op vergoeding van sy skade bereken
volgens die waarde van die saak ten tyde van die uitwinning geregtig sou wees -
1975 (3) SA p749
BOTHA AR
"it (would be) manifestly contrary to equity, that a seller, who is himself in fault,
and deceives me in selling me a thing which does not belong to him, should
take advantage of his own wrong, and make a profit out of me of part of the
price".
Die verkoper het ook nog intussen die gebruik gehad van die geld wat die koper
betaal het. Daar is dus geen onbillikheid wat tussen koper en verkoper reggestel kan
word nie.
Dit is egter moontlik dat die koper van 'n snel slytende of verdwynende bate na 'n
lang tydperk van ongestoorde besit en gebruik daarvan nie altyd by uitwinning op
terugbetaling van die volle koopprys geregtig mag wees nie, want dit is moontlik dat
betoog kan word dat 'n hof in so 'n geval 'n aanpassing kan maak in die bedrag van
die koopprys wat die verkoper aan die koper moet terugbetaal. Dit is moontlik omdat
in die geval van 'n verdwynende bate dit wat van die koper uitgewin word nie meer
dieselfde is as wat hy aangekoop het nie (vgl. Pothier, Vente, (2), paras. 162 - 163).
Dit is ook moontlik dat ten einde voorsiening te maak vir die duur van die koper se
besit en genot van die saak voor uitwinning (Pothier, paras. 164 - 5) dit betoog kan
word dat die Hof die verkoper van terugbetaling van 'n gedeelte van die koopprys
mag onthef. Die Franse Siviele kode maak inderdaad in art. 1632 uitdruklike
voorsiening daarvoor dat waar die koper voordeel getrek het uit skade wat hy aan
die saak veroorsaak het, die verkoper die waarde van daardie voordeel kan aftrek
van die koopprys wat hy by eviksie aan die koper moet terugbetaal. Dit is moontlik
dat waar die feite dit regverdig ons howe ons reg in hierdie rigting kan aanpas om
probleme, wat in die moderne handelsverkeer kan ontstaan, die hoof te bied, veral
aangesien die Romeins-Hollandse regstelsel -
"is a virile living system of law, ever seeking, as every system must, to adapt
itself consistently with its inherent basic principles to deal effectively with the
increasing complexities of modern organised society"
per Lord TOMLIN in Pearl Assurance Co. v Union Government, 1934 AD 560
(Geheime Raad) op bl. 563. Die aangeleentheid is egter vol probleme en is nie voor
ons beredeneer nie en relevante feite ontbreek. Ek spreek dus geen mening daaroor
uit nie. Die vraag wat in die gestelde saak aan die Hof voorgelê is, is bloot of 'n
uitgewonne koper geregtig is op terugbetaling van die koopprys wat hy betaal het, of
slegs op vergoeding van sy skade bereken volgens die waarde van die saak ten tyde
van uitwinning. Slegs die feite wat op hierdie vraag betrekking het, is in die gestelde
vraag aan die Hof voorgelê. Die appèl word gevolglik met koste afgewys.

JANSEN, A.R., TROLLIP, A.R., MULLER, A.R., en VAN ZIJL, WN. A.R., het
saamgestem.

Appellant se Prokureurs: Francis Thompson & Aspden, Kaapstad; Webber &
Newdigate, Bloemfontein. Respondent se Prokureurs: Heyns, Strauss & Visagie,
Kaapstad; Naudé & Naudé; Bloemfontein.

SAFLII Note: This case was originally published by Juta and Company (Pty) Ltd. Juta retains copyright
as far as it subsists.