SAFLII Note: This case was originally published by Juta and Company (Pty) Ltd. Juta retains copyright
as far as it subsists.
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
TALJAARD APPELLANT
V
SENTRALE RAAD VIR KOÖPERATIEWE ASSURANSIE BPK RESPONDENT
Parallel citation: 1974 (2) SA 450 (A)
Coram: van Blerk AR, Wessels AR, Jansen AR, Rabie AR en Muller AR
Heard: November 15, 1973
Judgment: March 4, 1974
UITSPRAAK
Case Information
Appèl teen 'n beslissing in die Oranje - Vrystaatse Provinsiale Afdeling (ERASMUS,
R.). Feite wat nie van belang is nie is weggelaat.
M. E. Kumleben, S.C. (bygestaan deur H. C. J. Flemming ), namens die appellant.
M. T. Steyn, S.C. (bygestaan deur H. J. O. van Heerden, S.C.), namens die
respondent.
Cur. adv. vult.
Postea (Maart 4).
Judgment
VAN BLERK, A.R.: Die appellant, 'n boer van die plaas McGrathspark, distrik
Bultfontein, het as eienaar van die plaas die woonhuis daarop asook sy besittings in
die huis by respondent, 'n versekeringsmaatskappy, teen brand verassureer. In die
laat namiddag van 27 Februarie 1969 is die huis met inhoud en al, behalfwe 'n
onbeduidende hoeveelheid beskadigde goedere, wat gered is, ten dele deur brand in
puin gelê. Appellant se eis van R18 000 teen respondent vir uitbetaling van die
skade wat hy gely het, is deur die Vrystaatse Provinsiale Afdeling van die hand
gewys op grond daarvan dat hy opsetlik die huis aan die brand gesteek het met die
doel om die respondent te bedrieg.
1974 (2) SA p451
VAN BLERK AR
Die bewyslas het deurgaans by die respondent berus om 'n brandstigting te bewys
en dat appellant die huis aan die brand gesteek het. Die brandstigting en die
identiteit van die brandstigter is onderling afhanklik van mekaar.
Alhoewel daar nie 'n plig op die respondent gerus het om deur getuienis alle
moontlike oorsake van die brand uit te skakel nie (vgl. Elgin Fireclays Ltd. v Webb,
1947 (4) SA 744 (AD)) moet hy die Hof oortuig dat sy verduideliking van hoe die
brand ontstaan het die korrekte een is (vgl. Cooper & Nephews v Visser, 1920 AD
111 op bl. 115) op grond dat dit die mees aanneemlike en die waarskynlikste is
(Ocean Accident and Guarantee Corporation, Ltd. v Koch, 1963 (4) SA 147 (AD) op
bl. 159).
[Die Edelagbare Regter het sekere feite ontleed en soos volg voortgegaan.]
Dit is voor ons toegegee dat appellant 'n swak getuie was en dat hy sekere
tekortkominge as 'n getuie openbaar het wat die betroubaarheid van sy getuienis kon
affekteer, maar dit is betoog dat die bevinding dat, volgens sy houding in die
getuiebank en die inhoud van sy getuienis, hy 'n ongeloofwaardige getuie is,
ongegrond is. Dit is ook aangevoer - met verwysing na Gates v Gates, 1939 AD 150
op bl. 155 - dat die redelike gemoed nie ligtelik oortuig sal word dat 'n persoon sy
woonhuis met besittings, waarvan sommige sentimentele waarde het en
onvervangbaar is, opsetlik sal verbrand nie. Dit is sekerlik 'n omstandigheid wat by
die oorweging van die waarskynlikhede nie uit die oog verloor moet word nie. Meer
gewig kan dit nie dra nie.
[Die Edelagbare Regter het die feite verder ontleed en soos volg voortgegaan.]
Waar 'n Verhoorhof deur mistastings of wanvoorligtings beïnvloed was in die
beoordeling van die geloofwaardigheid van getuies kan dit hierdie Hof in gegewe
omstandighede vrystaan om die hele saak in heroorweging te neem sonder om
gebonde te wees deur die Verhoorhof se bevinding aangaande geloofwaardigheid.
Die vraag wat hier onstaan is of die bevinding in sy geheel omtrent appellant se
geloofwaardigheid negeer moet word, dan wel of dit aanvaar kan word waar dit ten
dele gegrond is. Alhoewel dit uit die aard van die saak moeilik is om te bepaal of die
Verhoorregter in ieder geval, afgesien van die mistasting en die wanvoorligtings, die
getuienis van die appellant as ongeloofwaardig sou verwerp het, blyk dit tog dat daar
voldoende grond is waarop die bevindings so-ewe genoem staande gehou kan word.
(Vgl. Rex v Dhlumayo and Another, 1948 (2) SA 677 (AD) op bl. 706, para. 11.)
Dit synde so, is die benadering wat hierdie Hof moet volg dié soos, byvoorbeeld,
deur SOLOMON, A.R., gestel is in Kunz v Swart and Others, 1924 AD 618 op bl.
655:
"... to rehear the case and to form our conclusion on the facts as well as on
the law. And if we are satisfied that the Judge in the Court below came to a
wrong conclusion on the facts we should not shrink from overruling him. But
before doing so, we must be quite satisfied that he was wrong; if we merely
have a reasonable doubt as to whether he was right, then I do not think we
should be justified in reversing his decision."
1974 (2) SA p452
VAN BLERK AR
[Die Edelagbare Regter het getuienis verder ontleed en soos volg geeindig.]
Daar is geen regverdiging vir die tersyde stelling van die Verhoorhof se beslissing
nie. Teenoor die geregverdigde kritiek wat teen sekere aspekte van die uitspraak
van die Hof a quo uitgebring kan word, is daar dus ook gewigtige oorwegings wat op
die korrektheid van die kernbevinding dui. By heroorweging van die getuienis op
appèl is die vraag, soos hierbo reeds genoem, nie of daar redelike twyfel bestaan
oor die juistheid van die konklusie van die Verhoorhof nie, maar wel of die Hof van
appèl om gegronde redes oortuig is dat dit verkeerd is. In die onderhawige geval is
dit, ondanks sekere bedenkinge soos genoem, nie moontlik om tot daardie
oortuiging te geraak nie.
Die appèl word van die hand gewys met koste, insluitende dié van twee advokate.
WESSELS, A.R., JANSEN, A.R., RABIE, A.R. en MULLER, A.R., het saamgestem.
Appellant se Prokureur: Goodrick en Franklin, Bloemfontein. Respondent se
Prokureurs: Siebert en Honey, Bloemfontein.
SAFLII Note: This case was originally published by Juta and Company (Pty) Ltd. Juta retains copyright
as far as it subsists.