SAFLII Note: This case was originally published by Juta and Company (Pty) Ltd. Juta retains copyright
as far as it subsists.
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
NEL APPELLANT
V
CLOETE RESPONDENT
Parallel citation: 1972 (2) SA 150 (A)
Coram: Wessels AR, Potgieter AR, Jansen AR, Trollip AR en Muller AR
Heard: September 13, 1971
Judgment: Desember 9, 1971
UITSPRAAK
Case Information
Appèl teen 'n beslissing in die Transvaalse Provinsiale Afdeling (HIEMSTRA, R). Die
feite blyk uit die uitspraak van WESSELS, A.R.
G. A. Coetzee, Q.C. (bygestaan deur S. A. Cilliers ), namens die appellant: Die
koopkontrak bepaal geen datum vir transportlewering deur die respondent nie;
transport moes dus gegee word binne 'n redelike tyd. Cilliers v Papenfus and Rooth,
1904 T.S. op bl. 79. Waar geen dag vir prestasie bepaal is nie en dit nie 'n geval is
waar prestasietyd wesenlik (,,time is of the essence') is nie, moet die een party die
ander in mora stel voor prestasie verskuldig word. Sien Breytenbach v Van Wyk,
1923 A.A. op bl. 549. Die kennisgewing wat 'n tyd vir prestasie bepaal kan gekoppel
wees met 'n kennisgewing van ontbinding wat 'n terugtredingsreg verwerf indien nie
aan die kontraksverpligtings voldoen word binne die periode in die kennisgewing
gestel nie. Sien De Wet en Yeats, Kontraktereg en Handelsreg, 3de uitg., b1. 114,
115; Britz v du Preez, 1950 (2) SA op b1. 761; Microutsicos v Swart, 1949 (3) SA op
b1. 730. Die kennisgewing van ontbinding moet 'n redelike tyd vir vervulling toelaat
voor die datum waarop gekanselleer mag word. Sien Breytenbach v Van Wyk, supra
op b1. 549. Die vraag vir beslissing is: watter omstandighede word in ag geneem by
bepaling van 'n redelike tyd? Is die omstandighede wat deur die partye tot die
kontrak voorsien is, of redelikerwys geag word deur hul voorsien te gewees het, ten
tye van kontraksluiting beslissend, of is die omstandighede deur die partye voorsien,
of redelikerwys geag word deur hul voorsien te gewees het, ten tye van die
kennisgewing van ontbinding beslissend? Die basis vir die leerstuk dat 'n
terugtredingsreg verwerf kan word deur 'n kennisgewing van ontbinding, is aan die
hand gegee as 'n stilswyende lex commissoria sonder dat die dag vir prestasie
bepaal is. Sien van Zijl Steyn, Mora Debitoris, b1. 106 - 107; Lewis v Malkin, 1926
T.P.A. op b1. 669. As hierdie die korrekte basis vir die terugtredingsreg is, dan volg
dit dat die beoordeling van die omstandighede wanneer sodanige reg mag
uitgeoefen word, die omstandighede ten tye van kontraksluiting is. Sien Adler v de
Waal, 8 N.L.R. op b1. 87; Young v Land Values Ltd., 1924 W.P.A. b1. 224; St.
Martin's Trust v Willowdene Landowners Limited, 1970 (3) SA op b1. 135 - 136;
Willowdene Landowners Limited v St. Martin's Trust, 1971 (1)
1972 (2) SA p152
S.A. op b1. 305, 307. Die geleerde Regter a quo het nie hierdie beginsel toegepas
nie maar wel die posisie beoordeel op die basis dat prestasie redelikerwys moontlik
moet wees soos op die tydstip van die kennisgewing van ontbinding. Die toepassing
van die voorgestelde beginsel sou konsekwent wees met erkende regsbeginsels oor
die berekening van skade by kontrakbreuk; in beginsel is daar geen rede om die in
mora stel van 'n kontraksparty en die verwerwing van 'n terugtredingsreg te
beoordeel in die lig van omstandighede wat geheers het ten tye van die mora - en
ontbindingskennisgewing, maar die omvang van die verhaalbare skade (ook by
sodanige terugtrede) te beoordeel in die lig van omstandighede wat by
kontraksluiting geheers het nie. Vgl. Lavery and Co. Ltd. v Jungheinrich, 1931 A.A.
156. Die feit dat die transportakte verlore was, was nie inderdaad bekend aan die
kontrakspartye ten tye van kontraksluiting nie. Daar is geen suggestie in die
getuienis dat die appellant daarvan bewus was nie; die respondent was onder die
indruk dat die transportakte in die hande van die verbandhouer was. Die respondent
was ook ten tye van kontraksluiting daarvan bewus dat 'n bouvereniging nie vir 'n
onbepaalde tyd hul goedgekeurde lening sou oophou nie, veral nie in daardie tyd toe
lenings moeilik bekombaar was nie. Dit is ook feite wat die appellant redelikerwys
kon geag gewees het om deur die appellant voorsien te wees ten tye van
kontraksluiting. Dit word betoog dat ten tye van kontraksluiting: (i) dit nie deur die
partye voorsien is dat die akte verlore is nie; (ii) dit nie redelikerwys geag moet word
dat die partye voorsien het dat die akte verlore is nie; (iii) dit slegs redelikerwys geag
moet word voorsien te gewees het dat 'n vertraging van ongeveer 'n maand deur 'n
verwerping van die transportdokument kon gebeur; (iv) dit wel voorsien is of
redelikerwys moet geag word voorsien te gewees het dat die bouvereniging wat 'n
lening aan die appellant sou toestaan daardie lening sou terugtrek indien die
transport en registrasie van die lening nie met redelike spoed en doeltreffendheid
geskied nie. Selfs op die basis deur die geleerde Regter a quo ingeneem, was die
kansellering geregverdig. Om te verwag dat die appellant nadat sy
bouvereniginglening op 22 Augustus 1969 teruggetrek is nogtans hom by sy
kontraksverpligtings moet hou alhoewel hy nie kan presteer nie, sou onbillik teenoor
die appellant wees. In ieder geval was die appellant se prokureur, toe die
kennisgewing van ontbinding gegee is, slegs bewus daarvan dat die transportakte
weg was maar daar is geen rede waarom hy moes dink dat op daardie tydstip nog
niks gedoen was om 'n duplikaat te verkry nie. Selfs op die alternatiewe basis dat die
redelikheid van die periode van die kennisgewing van ontbinding soos op die datum
van die kennisgewing beoordeel moet word, was die tyd wat wel voor kansellering
toegelaat is op die feite van die geval redelik. Daarbenewens word betoog dat, selfs
al word die redelikheid van die tydperk soos op die datum van die kennisgewing van
ontbinding beoordeel, die reeds verstreke tyd in ag geneem behoort te word, sien St.
Martin's Trust v Willowdene Landowners Ltd, supra op b1. 136C - F; Pretorius v
Greyling, 1947 (1) SA op b1. 174 - 175.
T. T. Spoelstra, namens die respondent: In die Suid-Afrikaanse reg is mora of
versuim die skuldige (of, soos dit soms genoem word, die
1972 (2) SA p153
onregmatige) versuim om te presteer. Adler v De Waal, (1887) 8 N.L.R. op b1. 89 en
90; Victoria Falls and Transvaal Power Co. Ltd. v Consolidated Langlaagte Mines
Ltd., 1915 AD op b1 31; Legogote Development Co. (Pty.) Ltd. v Delta Trust and
Finance Co., 1970 (1) S.A. op b1 587 - 588: Van Zijl Steyn, b1 4, 9, 10, 13 en 28
(Romeinse reg), 43 - 51; De Wet en Yeats, b1. 111 - 2; Wessels, para. 2857, 2862;
De Vos, 1970 S. A. L. J. b1 307 - 8; T.H.R - H.R., 1968, b1. 113,117. Daar moet 'n
beperkte betekenis aan die begrip 'versuim' gegee word. Die blote feit dat voltooide
prestasie nog nie gemaak is nie, kan nie noodwendig as 'versuim' in hierdie sin
beskryf word nie. Die begrip dui eerder op totale onaktiwiteit of handelinge wat so
gebrekkig is dat dit nie as uitvoeringshandelinge van verpligtinge beskou kon word
nie. Waar 'n party dus redelike stappe doen teneinde prestasie aan die teenparty te
bewerkstellig, is daar geen versuim aan sy kant nie. Wessels, para. 2881, 2889. 'n
Kontraksparty wat die ander party wil aanmaan of in mora wil stel, kan dit slegs
regmatig doen as daar aan sekere voorvereistes voldoen word. Een van daardie
vereistes is dat die prestasie opeisbaar moet wees. Die prestasie is egter nie
opeisbaar nie as die skuldenaar 'n geldige eksepsie teen sy eis kan opwerp.
Breytenbach v Van Wijk, 1923 AD op b1 547, 548; Middleton v Goble, 1970 (1) SA
56; Van Zijl Steyn, b1. 13, 41 - 42; De Wet & Yeats, b1. 111; Wessels, para. 2858 -
9. Aanmaning deur 'n party wat self in versuim is, is kragteloos. Van Zijl Steyn, b1.
62 - 63; De Wet en Yeats, b1. 111; Wessels, para. 2860. Dit is nie 'n nakoming van
'n verpligting om die ander party slegs in kennis te stel dat die garansie of gelde
beskikbaar is nie. Breytenbach v Van Wijk, supra op b1. 547; van der Merwe v.
Meyer, 1971 (3) SA 22. Die brief van Snijman & Smullen van 11 Februarie 1966, is
buitendien nie 'n handeling wat deur of namens appellant gedoen was nie. Dit bevat
ook geen aanbod om wel waarborge soos aangevra uit te reik nie. Gevolglik is die
sogenaamde aanmaning regtens geen aanmaning nie. Van Zijl Steyn, b1 63;
Federal Tobacco Works v. Barron & Co., 1964 T.S. te b1 483, 485. Voor aanmaning
afgestuur kon word, word vereis dat daar 'n redelike tyd moes verloop het. H. R.
Hahlo en Elisson Kahn, The Union of SA The Development of its Laws and
Constitution, b1. 493; Britz v du Preez, 1950 (2) SA op b1 361; Louw v Trust
Administrateurs Bpk., 1971 (1) SA op b1. 902; Strachan & Co. Ltd. v Natal Milling
Co., 1936 NPD op b1. 335; Van Zijl Steyn, b1. 63. Sed contra: De Wet en Yeats, b1.
109; De Vos, 1970 S.A.L.J., b1 311. Verskeie beslissings handel met die vraag of
daar 'n redelike tyd verloop het sedert kontraksluiting. Die antwoord op daardie vraag
word dan beoordeel aan die hand van die feite en omstandighede wat aan die partye
bekend was by kontraksluiting. Dit is eerder ter sake by die vraag of 'n party die
ooreenkoms deur gedrag gerepudieer het soos in Federal Tobacco Works v Barron
& Co., supra. Dit is verkeerd om gemelde toets aan te lê by die vraag watter tyd
benodig word by aanmaning. Die feitlike omstandighede kan so wesenlik verander
het dat bogenoemde toets 'n onredelike lang of onredelike kort tyd tot gevolg sal hê.
Die toets is of in die omstandighede van hierdie bepaalde geval daar 'n redelike tyd
vir prestasie gegun was. Microutsicos and Another v Swart 1949 (3) SA op b1. 730:
1972 (2) SA p154
WESSELS AR
Hammer v Klein and Another, 1951 (2) SA op b1. 106C - F. Waar 'n party 'n termyn
aan 'n ander party toelaat waarbinne gepresteer moet word en eersgenoemde party
is bewus daarvan dat al die handelinge wat laasgenoemde waarskynlik sal moet
verrig, kan nie binne sodanige termyn geskied nie, is dit klaarblyklik 'n onredelike tyd
wat gegun word.
Coetzee, Q.C., in repliek.
Cur. adv. vult.
Postea (Desember 9).
Judgment
WESSELS, A.R.: Appellant kom na hierdie Hof in hoër beroep teen 'n uitspraak van
HIEMSTRA, R., in die Transvaalse Provinsiale Afdeling, waarvolgens sy vordering,
onder meer, vir teruggawe van 'n deposito ten bedrae van R1 750, wat hy kragtens
'n koopkontrak aan respondent betaal het, met koste afgewys is. Voortaan verwys ek
na appellant as eiser en na respondent as verweerder.
Die feitlike agtergrond van die twis tussen die partye, vir sover dit gemene saak is,
kan kortliks soos volg kronologies gestel word. Luidens 'n skriftelike koopkontrak,
wat op 3 Oktober 1968 gesluit is, het eiser Standplaas 19, Edwardstraat,
Vereeniging (waarop daar 'n woonhuis was), van verweerder vir R7 000 gekoop. Die
kontrak bevat die volgende bepalings, nl.,:
'(1) Die koopprys is die som van R7 000 (sewe-duisend rand) betaalbaar as
volg:
(a) 'n deposito van R1 750 (een-duisend sewe-honderd en vyftig rand)
betaalbaar te word aan Schoeman en van Aarde Vereeniging (Edms.)
Bpk. sodra ek in kennis gestel word dat hierdie aanbod deur die
eienaar aangeneem is. Hierdie deposito sal in trust gehou word
hangende registrasie van die eiendom in my naam indien ek versuim
om die vereiste betalings te doen of om enige voorwaarde van my
aanbod na te kom dan sal die deposito verbeur word deur my aan die
eienaar wie daarop geregtig sal wees as ooreengekome
skadevergoeding.
(b) Die balans van R5 250 sal betaalbaar wees kontant teen
registrasie van transport in my naam. 'n Goedgekeurde bank of ander
garansie vir hierdie bedrag ten gunste van die verkoper sal deur my
voorsien word binne 120 dae vanaf datum van die aanname van
hierdie aanbod.
(2) Besit van die eiendom sal aan my gegee word op datum van registrasie
vanaf welke datum ek geregtig sal wees op die huurgelde en/of al die ander
voordele daaruit afkomstig en verantwoordelik vir alle belastings en laste
daarop gehef.
(3) Okkupasie van die eiendom sal aan my gegee word op 1 Februarie 1969,
vanaf welke datum ek R50 per maand as huurgeld sal betaal op datum van
registrasie.
(4) Transport sal deur P. C. Langenhoven gereël word en ek sal alle
transportkoste, hereregte en ander koste betaal.
(5) Hierdie aanbod mag ek nie terugtrek nie en is onherroeplik tot 8 Oktober
1968.
(6) Die eiendom is gekoop nadat ek dit behoorlik inspekteer het en ek
verklaar verder dat ek dit aanneem soos dit staan en derhalwe word die koop
beskou as, voetstoots'.
(7) Indien hierdie aanbod deur die eienaar aangeneem word sal hierdie
dokument as 'n bindende koopbrief beskou word.
(8) k magtig en versoek Schoeman en van Aarde Vereeniging (Edms.) Bpk.
om die nodige verbande vir my te reël.
(9)Die aanbod is verder onderworpe aan die volgende voorwaardes: dat
koper 'n 75 persent lening bekom deur 'n bouvereniging.'
1972 (2) SA p155
WESSELS AR
Ondanks die bepalings van klousule 3 van die kontrak, is eiser reeds op 3 Desember
1968 okkupasie van die eiendom gegee. Die deposito van R1 750 is aan die
eiendomsagente betaal kragtens die bepalings van klousule 1 (a) van die kontrak.
Eiser is op 31 Januarie 1969 skriftelik in kennis gestel deur die SA Permanente
Bouvereniging dat sy aansoek om 'n lening ten bedrae van R5 250 goedgekeur is,
onderhewig aan sekere voorwaardes wat in die brief uiteengesit is, waarvan een
soos volg lui,
'Verder behou die direkteure ook die reg om, om watter rede ook al, die
'bewilliging te eniger tyd voordat die verband geregistreer is te kanselleer'.
Op 5 Februarie 1969 het die eiendomsagente die voormelde koopkontrak aan
prokureur Langenhoven gepos en hom versoek om die nodige stappe te doen ten
einde registrasie van transport te bewerkstellig. Mnr. Langenhoven het in
Vereeniging gepraktiseer, en is die persoon waarna in klousule 4 van die
koopkontrak verwys word.
Daar was blykbaar 'n bestaande verband oor die eiendom ten gunste van die
Grahamstown Bouvereniging geregistreer, en mnr. Langenhoven het op 7 Februarie
1969 by die plaaslike agente van die Bouvereniging te Vereeniging navraag oor die
bedrag van die verbandskuld gedoen en ook versoek dat die betrokke transportakte
'so spoedig moontlik' aan hom besorg moes word.
Op 11 Februarie 1969 rig die prokureurs van die SA Permanente Bouvereniging die
volgende skrywe aan mnr. Langenhoven, nl.,
'Ons het opdrag ontvang van die SA Permanente Bougenootskap om toe te
sien tot die registrasie van 'n verband deur mnr. Nel oor die sekuriteit van
bogenoemde eiendom, en verstaan dat u sal handel met die gelyktydige
transport.
Geliewe ons asseblief 'n beskrywing van die eiendom te laat kry om ons in
staat te stel om ons verband dokumente voor te berei, asook besonderhede
van enige waarborge wat u verlang.'
Mnr. Langenhoven het bogemelde brief op 13 Februarie 1969 soos volg beantwoord,
'Ek... moet meedeel dat ek die transportakte aangevra het by die
Grahamstown Bouvereniging en sodra ek oor die nodige inligting beskik sal
ek dit aan u meedeel.'
Op 20 Februarie 1969 skryf die Grahamstadse prokureurs van die Grahamstown
Bouvereniging aan mnr. Langenhoven en deel hom mee dat die transportakte op 17
Oktober 1962 aan 'n prokureursfirma te Pretoria gepos is. Na aanleiding van hierdie
skrywe het mnr. Langenhoven telefonies met laasgenoemde firma in verbinding
getree en hulle versoek om die transportakte te probeer opspoor. Vir die huidige
verwys ek nie na die verskeie verdere navrae wat mnr. Langenhoven gedoen het ten
einde die transportakte te probeer opspoor nie.
Vanaf die derde week in Februarie 1969 het eiser by verskeie geleenthede by mnr.
Langenhoven se kantoor aangeklop, maar kon hom nie te sien kry nie. (Mnr.
Langenhoven was, so blyk dit, gedurende Maart vir twee weke afwesig op verpligte
militêre diens). Eiser het aan die begin van April 1969 mnr. Langenhoven vir die
eerste keer by sy kantoor aangetref, en toe van hom verneem dat na die betrokke
transportakte gesoek word. Teen die einde van April 1969 het eiser van mnr.
Langenhoven verneem dat die vermiste transportakte nog nie opgespoor is nie.
Wat die vermiste transportakte betref, blyk dit dat mnr. Langenhoven op die laatste
teen 10 Junie 1969 besluit het dat verdere pogings
1972 (2) SA p156
WESSELS AR
om die transportakte op te spoor waarskynlik vrugteloos sou wees, en dat hy dit toe
gerade geag het om aansoek te doen vir die uitreiking van 'n afkrif daarvan. Die
getuienis verwys in detail na die verkeie stappe wat hy daarna gedoen het in
verband met die indiening van die aansoek by die registrasiekantoor te Pretoria. Die
aansoek is aan die begin van September 1969 ingedien, maar is deur die
Registrateur van Aktes verwerp, blykbaar op grond van 'n gebrekkige beëdigde
verklaring. Na 'n verklaring van verweerder, wat op 2 Oktober 1969 beëdig is, by die
registrasiekantoor ingedien is, is die afskrif van die betrokke transportakte uiteindelik
uitgeereik, 'laat in Oktober'.
Dit blyk voorts dat eiser teen 13 Junie 1969 besluit het om op lewering aan te dring,
en ooreenkomstig sy opdrag het sy prokureur op daardie dag 'n skrywe aan
verweerder gerig wat, vir sover dit tersaaklik is, soos volg lui:
'In terme van die koopakte moes kliënt 'n deposito van R1 750 betaal en die
balans moes gewaarborg gewees het binne 120 dae na aanname van die
aanbod. Kliënt het die deposito betaal en op 11 Februarie 1969 het
prokureurs Snijman & Smullen agerende namens die SA Permanente
Bouvereniging aan u prokureurs, mnr. P. C. Langenhoven, 'n brief geskryf
waarin hulle gevra het vir 'n volledige beskrywing van die eiendom en welke
waarborge verlang word vir die bedrag van R5 250.
Kliënt het volledig voldoen aan sy verpligtings kragtens die ooreenkoms. Tot
op datum hiervan het u nog nie toegesien dat die eiendom op naam van kliënt
geregistreer word nie ten spyte daarvan dat kliënt al verskeie opwagtings by u
prokureurs gemaak het en ten spyte daarvan dat hy al verskeie kere
aangebied het om die transportkoste van ongeveer R300 by u prokureurs se
kantoor in te betaal.
Kliënt is nie bereid om hierdie aangeleentheid onbepaald te laat oorstaan nie
en geliewe nou kennis te neem dat u hiermee aangesê word om toe te sien
dat die eiendom op naam van kliënt geregistreer word voor of op die 12de
Augustus 1969 by gebreke waarvan kliënt uit die ooreenkoms sal tree, die
ooreenkoms sal kanselleer en u verantwoordelik hou vir al sy skade wat hy
gely het as gevolg van u kontrakbreuk. Die skade sluit in kliënt se onkoste ten
einde 'n lening te verkry, rente op R1 750 wat inbetaal is by mnre. Schoeman
& van Aarde, en koste van verbeterings wat hy reeds aangegaan het op die
eiendom as bona fide possessor.
Ons stuur 'n afskrif van hierdie skrywe aan u prokureur, mnr. P. C.
Langenhoven en ook 'n afskrif aan mnre. Schoeman & van Aarde vir hulle
vriendelike insae.'
Op 17 Junie 1969 beantwoord mnr. Langenhoven die voormelde skrywe namens
verweerder. Daarin verduidelik hy dat die betrokke transportakte nie opgespoor kon
word nie, en dat stappe gedoen word om 'n duplikaat te verkry. Ten slotte lui die
brief:
'Sodra hierdie dinge reggestel is word daar onmiddellik voortgegaan met die
transport. Ek kan u nou reeds sê dat dit uiters onwaarskynlik is dat hierdie
eiendom op die 12de Augustus in die naam van u kliënt geregistreer sal
wees.'
Op 17 Junie 1969 rig die SA Permanente Bouvereniging 'n skrywe aan eiser en
verwys na die vertraging in verband met die registrasie van transport. Die
slotparagraaf van die brief lui soos volg:
'Dit spyt ons nou om u mee te deel dat indien die lening nie binne 'n maand
van datum hiervan geregistreer is nie, of indien u ons die versekering kan gee
dat dit in die nabye toekoms geregistreer sal word, sal ons dit oorweeg om
van die lening terug te trek. Dit verhoed u natuurlik nie om weer aansoek te
doen vir die lening op 'n tydstip wanneer registrasie kan geskied sonder
onnodige tydsverspil nie.'
Op 15 Julie 1969 ontvang eiser se prokureur 'n skrywe (gedateer 1 Julie 1969) van
mnr. Langenhoven waarin hy betaling versoek van die transportkoste,
ooreenkomstig 'n aangehegte konsepstaat van koste, 'in terme van u skrywe van die
13de Junie'. (Dit is 'n verwysing na
1972 (2) SA p157
WESSELS AR
die skrywe van eiser se prokureur waarin verweerder aangemaan is om voor of op
12 Augustus te presteer). 'n Tjek vir R216 is onder dekking van 'n skrywe gedateer
24 Julie 1969 deur eiser se prokureur aan mnr. Langenhoven gestuur ter betaling
van laasgenoemde se koste. Die skrywe bevat ook 'n onderneming om enige nog
uitstaande balans te vereffen. Daarná, op 31 Julie 1969, het eiser se prokureur twee
deur eiser ondertekende dokumente, wat vir transportdoeleindes benodig is, aan
mnr. Langenhoven gepos.
Op 22 Augustus 1969 deel die SA Permanente Bouvereniging eiser skriftelik mee
dat
'as gevolg van die lang tydperk wat dit neem om 'n verband te registreer het
ons direkteure besluit om u lening terug te trek.'
Op 26 Augustus 1969 skryf eiser se prokureur soos volg aan verweerder:
'Ons verwys u na ons skrywe van 13 Junie 1969 en wil u daarop uitwys dat tot
op datum hiervan het u nog nie aan die verpligtings voldoen in terme van die
kontrak om die eiendom op naam van kliënt te registreer nie.
'Geliewe kennis te neem dat vanaf datum van afsending hiervan word die
ooreenkoms tussen u en kliënt as gekanselleer beskou en word u
verantwoordelik gehou vir alle skade wat kliënt gely het as gevolg van u
kontrakbreuk. Ons sal die bedrag vasstel en tree eersdaags weer met u in
verbinding.'
Hierdie brief is op 2 September 1969 soos volg deur mnr. Langenhoven beantwoord:
'Ek verwys na u skrywe van 26 Augustus 1969 en wys u weer daarop dat die
omstandighede wat my kliënt in die wiele gery het geheel en al buite sy
beheer was en dat op hierdie stadium transport gegee kan word binne so 'n
korte tyd as wat dit die Aktekantoor neem om transport te registreer. Daar is
met ander woorde geen vertragings wat registrasie nou in die weg staan nie.
Ek wys u weer op my skrywe van 17 Junie waarin ek my kliënt se probleem
aan u uiteengesit het en ek moet sê dat dit my kliënt se houding is dat u kliënt
onredelik was in die tydperk wat aan my kliënt gegee was om transport te
besorg. Dat dit onredelik was blyk uit die feit dat indien ons 'n verdere twee
weke gegun was, die saak waarskynlik afgehandel sou wees. Onder die
omstandighede en gesien in die lig van die feit dat u kliënt sy waarborge
ingetrek het, beskou my kliënt dit as kontrakbreuk en rig hy nou aan u kliënt 'n
aanmaning om onmiddellik waarborge uit te reik, alternatiewelik die
verbeuring in terme van para. 1 (a) op te loop.
Hierdie aanmaning word gerig bo en behalwe enige eis wat my kliënt uit
hoofde van skade wat hy mag ly, teen u kliënt mag hê.'
Die gekombineerde dagvaarding in hierdie geding is op 12 November 1969 uitgereik,
en eiser het betaling gevorder van (1) R1 750 (nl., die bedrag van die deposito wat
aan verweerder betaal is), (2) rente op die voormelde bedrag teen 6 persent per jaar
a tempore morae, (3) 'n bedrag van R260,15 ter vergoeding van skade wat eiser as
gevolg van verweerder se beweerde kontrakbreuk gely het en (4) gedingkoste.
Dit is onnodig om breedvoeriglik na die pleitstukke te verwys. By die verhoor voor die
Hof a quo was dit eiser se saak dat hy in die omstandighede uit hoofde van die
voormelde skriftelike aanmaning gedateer 13 Junie 1969 (wat ook 'n kennisgewing
van ontbinding bevat het) 'n geldige terugtredingsreg na verstryking van die in die
aanmaning gestelde tydperk verwerf het, wat hy op 26 Augustus 1969 uitgeoefen het
by wyse van die skriftelike kansellasie van die koopkontrak. Die kern van verweerder
se verweer was dat die skriftelike aanmaning en kennisgewing van ontbinding van
13 Junie 1969 regtens kragteloos was, dat verweerder derhalwe nie na verstryking
van die daarin vermelde tydperk in mora verkeer het nie en dat eiser dus geen
terugtredingsreg verwerf het nie. Hierdie verweer sou in hoofsaak op twee gronde
steun,
1972 (2) SA p158
WESSELS AR
nl., (1) dat die aanmaning van 13 Junie 1969 voorbarig was, en (2) dat die tydperk
vir prestasie daarin gestel onredelik kort was.
Die Hof a quo het bevind dat eiser teen 13 Junie 1969 geregtig was om op prestasie
aan te dring, aangesien hy van sy kant toe reeds ooreenkomstig die bepalings van
die koopkontrak gepresteer het. 'n Verdere betoog namens verweerder, nl., dat die
aanmaning in ieder geval voorbarig was aangesien verweerder nie teen 13 Junie
1969 in versuim verkeer het nie, is eweneens deur die Hof a quo as regtens
ongegrond verwerp. Wat die tweede grond betref, nl., dat die tydperk vir prestasie
onredelik was, het die Hof a quo die verweerder gelyk gegee. Dit is bevind, onder
meer, dat die vraag, of die verweerder 'n redelike geleentheid tot prestasie gegun is,
oorweeg en beantwoord moes word na gelang van alle omstandighede wat by die
datum van aanmaning bestaan en dan betrekking het op die redelikheid, al dan nie,
van die tydperk vir prestasie wat in die aanmaning gestel is, ongeag die feit dat
sodanige omstandighede eers na kontraksluiting ontstaan en dit by daardie
geleentheid nie redelikerwyse binne die kontemplasie van die partye sou gewees het
dat bedoelde omstandighede die tydperk vir prestasie sou kon raak nie.
Na oorweging van die omstandighede wat op 13 Junie 1969 bestaan het, het die
Hof a quo besluit dat
'... eiser se prokureur... 'n tydperk toegelaat het wat voldoende was vir 'n
normale transport',
maar wat in die omstandighede te kort was waar verweerder verplig was om eers
aansoek te doen vir die uitreiking van 'n gesertifiseerde afskrif van die vermiste
transportakte.
Soos blyk uit die bepalings van die koopkontrak, het die partye nie uitdruklik 'n datum
vir lewering van die eiendom aan eiser beding nie, en was verweerder dus regtens
verplig, wat dít betref, om binne 'n redelike tydperk te vervul. (Kyk Celliers v
Papenfus and Rooth, 1904 T.S. 73 op b1. 79). Die opskortende voorwaarde
(klousule (9) van die koopkontrak) is vervul toe eiser se aansoek om 'n lening op 31
Januarie 1969 deur die SA Permanente Bouvereniging goedgekeur is. Mnr.
Langenhoven is op 5 Februarie 1969 opgedra om die nodige stappe te doen ten
einde oordrag van die eiendom op die naam van eiser te bewerkstellig. Die deposito
van R1 750 is aan die eiendomsagente betaal ooreenkomstig die bepalings van
klousule (1) (a) van die koopkontrak. Die balans van die koopprys (R5 250) sou in
kontant teen registrasie betaal word. Op 11 Februarie 1969 het die prokureurs van
die SA Permanente Bouvereniging 'n skrywe aan mnr. Langenhoven gerig waarin hy
meegedeel is dat hulle opgedra is om toe te sien tot registrasie van 'n verband deur
mnr. Nel oor die eiendom, watter registrasie gelyktydig met die registrasie van
transport daarvan sou geskied. Die slot paragraaf van die skrywe lui soos volg,
'Geliewe ons asseblief 'n beskrywing van die eiendom te laat kry om ons in
staat te stel om ons verband dokumente voor te berei, asook besonderhede
van enige waarborge wat u verlang'.
Eiser het ook verskeie opwagtings by mnr. Langenhoven se kantoor gedoen ten
einde transportkoste te betaal. Op 13 Junie 1969 het eiser se prokureur in 'n skrywe
aan mnr. Langenhoven aangebied om die transportkoste te betaal 'sodra ons u pro
forma staat van rekening ontvang'.
1972 (2) SA p159
WESSELS AR
Na my mening het die Hof a quo, na aanleiding van wat hierbo genoem is, tereg
bevind dat eiser teen 13 Junie 1969, toe die aanmaning en kennisgewing van
ontbinding aan verweerder gerig is, van sy kant voldoende gepresteer het, wat betref
sy verpligtings om 'n waarborg te verstrek en om die transportkoste te betaal. Dit
blyk ten duidelikste uit mnr. Langenhoven se verdere optrede en latere skrywes dat
hy te gener tyd die beskouing toegedaan was dat eiser nie sy verpligtings nagekom
het nie, en dat versuim van sy kant wat dít betref, die afhandeling van transport
vertraag het. Op 13 Junie 1969 sou verweerder hom dus nie regtens daarop kon
beroep het dat, weens nie-vervulling aan die kant van eiser, prestasie wat lewering
van die eiendom betref, toe nie opeisbaar was nie. (Kyk, o.m., Wolpert v Steenkamp,
1917 AD 493 op b1. 499; de Wet & Yeats, Kontraktereg en Handelsreg, 3de uitg.,
b1. 111). Teen 13 Junie 1969 was eiser in staat, bereid en het hy ook aangebied om
die waarborg te verstrek en die transportkoste te betaal. (Kyk Steyn, Mora Debitoris,
b1. 42).
Voortgaande behandel ek die betoog dat die aanmaning, en daarby inbegrepe
kennisgewing van voorneme om terug te tree, nogtans voorbarig was, eerstens,
aangesien 'n redelike tydperk vir vervulling nog nie teen 13 Junie 1969 verstryk het
nie, en, tweedens, omdat die tydperk vir vervulling, wat in die aanmaning gestel is,
onredelik was. Wat hierdie betoog betref, is dit nuttig om kortliks te verwys na sekere
aspekte van die ontwikkeling in ons reg met betrekking tot mora debitoris vir sover
dit met terugtrede in verband staan.
Gesien die aard en inhoud van die kontrak wat hier ter sprake is, geld die algemene
reël dat die verkoper so gou na kontraksluiting as wat redelikerwys verwag kan word,
moet vervul. (Kyk Grotius, 3.3.51; Steyn, Mora Debitoris, b1. 63; Mackay v Naylor,
1971 T.P.D. 533 op b1. 537). Die verpligting om aldus te vervul, ontstaan uit die
kontrak self; 'n kennisgewing wat prestasie verg (met of sonder vermelding van 'n
tydperk waarbinne gepresteer moet word), is nie 'n voorvereiste vir die ontstaan van
die verpligting nie. Blote versuim van die verkoper om so gou as wat redelikerwyse
moontlik is te voldoen, het egter nòg volgens Romeinse reg, nòg volgens Romeins-
Hollandse reg, nòg volgens geldende reg die gevolg dat die verkoper sonder meer in
mora verval. M.a.w., hierdie versuim het geen uitwerking op die regsposisie van die
kontrakterende partye vir sover dit die ontstaan van mora betref nie. Die koper sou,
op gesag van gewysdes, soos Ras v Simpson, 1904 T.S. 254, en Griessel v du Toit,
1948 (2) SA 562 (T), spesifieke nakoming kon eis, en, alternatiewelik, vra dat
kansellasie van die kontrak beveel word indien daar nie binne 'n deur die hof
bepaalde tyd gepresteer word nie. Indien die skuldeiser stappe wil doen om die
skuldenaar in mora te stel, is dit 'n vereiste dat hy 'n kennisgewing aan hom rig
waarin hy die skuldenaar op ondubbelsinnige wyse maan dat hy op of voor 'n
bepaalde dag moet presteer. Hierdie aanmaning is egter nie op ontbinding van die
kontrak gerig nie, maar is slegs bedoel om 'n datum vir prestasie van 'n opeisbare
vordering met sekerheid te bepaal, waar dit in die kontrak nòg uitdruklik nòg
stilswyend beding is. Waar die tydperk wat gegun is, redelik blyk te wees, verkeer
die skuldenaar in mora indien hy by verstryking daarvan in gebreke bly. (De Wet en
Yeats, op. cit., b1. 109). Tensy andersins in die kontrak
1972 (2) SA p160
WESSELS AR
bepaal is, kan hierdie aanmaning te enige tyd na kontraksluiting aan die skuldenaar
gerig word, mits die vordering dan opeisbaar is, en 'n redelike tydperk vir vervulling
toegelaat word. (Kyk de Vos, 'Mora Debitoris and Rescission', 1970 S.A.L.J., b1.
311). In so 'n aanmaning vorder die skuldeiser immers nie meer as waartoe hy
geregtig is nie. Enkele gewysdes (o.m., Breytenbach v van Wijk, 1923 AD 541;
Strachan & Co. Ltd v Natal Milling Co. (Pty.) Ltd., 1936 NPD 327; Lewis Brothers
Ltd. v Ries, 1912 E.D.L. 455; Britz v Du Preez, 1950 (2) SA 756 (T)), verwys wel na
'n tydsverloop voor aanmaning, maar klaarblyklik, soos uit die samehang blyk, nie
met die betekenis wat verweerder se advokaat daaraan wou heg nie, nl., dat 'n
aanmaning slegs ná verstryking van 'n redelike tydperk aan die skuldenaar gerig kan
word.
Sodra 'n skuldenaar in mora verkeer, ondergaan sy verpligtinge 'n verhoging en
uitbreiding; bv., by is verplig om die skuldeiser te vergoed vir skade wat hy as gevolg
van die mora gely het, en dra die risiko van die toevallige ondergang van die
verkoopte saak. (Kyk Steyn, op. cit., b1. 83). Hierdie bykomende verpligtinge word
toegevoeg tot dié wat reeds onder die kontrak bestaan.
Nòg Romeinse nòg Romeins-Hollandse reg het in die geval van 'n kontrak soos die
onderhawige aan die skuldeiser 'n terugtredingsreg verleen bloot omdat die
skuldenaar in mora verkeer. (Steyn, op. cit. b1. 21, 97). By die koopkontrak is
gewoonlik deur 'n spesiale beding, die sg. lex commissoria, hierin voorsien. In
eietydse koopkontrakte word hierdie beding dikwels gebruik om 'n kontraktuele
terugtredingsreg te skep.
By kontraksluiting is die partye se wil op vervulling, en nie op ontbinding nie, gerig.
Waar die partye, om die een of die ander rede, nie op 'n datum vir vervulling besluit
nie, of waar hulle op 'n datum besluit, maar nie 'n lex commissoria beding nie, kan
probleme ontstaan waar die skuldenaar, teen die verwagting in wat by
kontraksluiting gekoester is, nie op die bepaalde datum, of so gou na kontraksluiting
as wat redelikerwyse moontlik is, voldoen nie. Die onskuldige skuldeiser se regshulp
in so 'n geval was beperk tot 'n eis om voldoening (gepaard met 'n alternatiewe bede
op ontbinding gerig), of tot die mate van verligting voortvloeiende uit die in mora-
stelling van die skuldenaar. Die bedoelde wanprestasie van die skuldenaar het egter
nie 'n terugtredingsreg aan die skuldeiser besorg nie. Dat hierdie leemte tot
onbevredigende resultate kan lei, veral wat moontlike benadeling van die onskuldige
skuldeiser betref, is voor-die-hand-liggend. Die behoeftes van eietydse
handelsverkeer vereis dat vervulling van koopkontrakte van die aard hier onder
bespreking nie aan onredelike vertraging onderhewig behoort te wees nie. Die
inherente billikheid en praktiese nut van 'n regsreël wat 'n terugtredingsreg aan 'n
skuldeiser verleen waar onredelike vertraging in die vervulling van 'n belangrike
kontraksverpligting plaasvind, is allerweë aangevoel (hier te lande en ook elders -
kyk Steyn, op. cit. b1. 24, 117). Dit het daartoe gelei dat ons regspraak, onder
beïnvloeding van Engelse reg, in gepaste omstandighede 'n terugtredingsreg aan 'n
skuldeiser verleen het, waar 'n skuldenaar in mora verkeer het wat die vervulling van
'n belangrike kontraksverpligting betref. Bv., in Young v Land Values, Ltd., 1924
W.L.D. 216,
1972 (2) SA p161
WESSELS AR
is 'n reg van repudiasie verleen op grond daarvan dat die versuim kontrakbreuk van
'n wesentlike verpligting behels het. Op bl. 226 stel Regter TINDALL dit soos volg:
'Though, generally speaking, time is not of the essence in the sale of fixed
property, the seller is bound to pass transfer within a reasonable time, and the
obligation is, in my view, an essential term of the contract. Where the buyer
has placed the seller in mora by calling upon him to pass transfer within a
period which the Court is satisfied is reasonable under all the circumstances
and the seller fails to comply, I think the buyer is entitled to repudiate.
Though the question must be decided according to our own law, it may be
noted that in English law it has been held that where the purchaser has given
reasonable notice fixing the time for delivery of an abstract of title, he can
repudiate if the vendor is still in default at the expiration of the notice; see
Compton V. Bayley, (1892) 1 Ch. 313.'
In sy uitspraak verwys Regter TINDALL, onder meer, na Breytenbach v Van Wijk,
supra. Op bl. 549 van die verslag stel Appèlregter WESSELS die volgende by wyse
van 'n obiter opmerking:
'But assuming, without deciding, the correctness of that view,'
(dat 'n terugtredingsreg ontstaan sodra mora intree)
'the fact remains that the appellant was not duly in mora. Immediate
performance having been impossible and not contemplated, and no date for
transfer having been fixed by the contract, the respondent, if he considered
that sufficient time had elapsed to enable him, on that ground, to procure his
own release should have taken steps - as the civilians express it - to place the
appellant in mora by demanding that transfer should be passed on or before a
specified date, reasonable under the circumstances.'
In Young v Land Values, Ltd., supra, is mora aan kontrakbreuk gelykgestel, terwyl
die obiter in Breytenbach v Van Wyk, supra, eerder op die ontstaan van 'n
terugtredingsreg as gevolg van mora sinspeel.
In Microutsicos and Another v Swart, 1949 (3) SA 715, het hierdie Hof te doen gehad
met 'n geval waar 'n koopkontrak wel 'n tydsbepaling bevat het, maar 'n lex
commissoria nie beding is nie. Op bl. 730 verwys Waarnemende Appèlregter
FAGAN, onder meer, na Steyn, Mora Debitoris, en Breytenbach v Van Wijk, supra,
en besluit:
'For my present purpose it is sufficient to say that, where a time for the
performance of a vital term in a contract has been stipulated for and one party
is in mora by reason of his failure to perform it within that time, but 'time is not
of the essence of the contract', the other party can make it so by giving notice
that if the obligation is not complied with by a certain date, allowing a
reasonable time, he will regard the contract as at an end. I refrain from
dealing with the case where there is no stipulation as to time of performance,
for that would be travelling beyond the issues before us in the present matter.'
Soos blyk uit die Microutsicos uitspraak, het die Hof hom stiptelik tot die betrokke
feitekompleks beperk, nl., 'n koopkontrak met 'n tydsbepaling (sonder 'n lex
commissoria ) en 'n 'notice of rescission' wat na intrede van mora aan die skuldenaar
gerig is, en wat, na oordeel van die Hof, in die omstandighede 'n redelike tyd vir
vervulling gebied het. Die vraag of 'n kennisgewing, na die aard van 'n 'notice of
rescission', op 'n datum voor die intrede van mora aan die skuldenaar gerig kan
word, is nie geopper nie.
Die begrip, 'time is not of the essence of the contract', is aan Engelse
regsterminologie ontleen, en staan in verband met die Engelse regsreël wat
betrekking het op terugtrede, by onredelike versuim, uit 'n koopkontrak van die aard
wat hier ter sprake is. Die leerstuk mora debitoris het natuurlik nie werking in die
Engelse reg nie, hoewel onredelike vertraging in vervulling ('unreasonable delay') as
grondslag dien vir terugtrede waar 'time is not of the essence of the contract'.
1972 (2) SA p162
WESSELS AR
In Halsbury, Laws of England, 3de uitg., band 8, bl. 165, word die volgende gestel:
'282. Notice making time of the essence.
In cases where time is not originally of the essence of the contract, or where a
stipulation making time of the essence has been waived, time may be made
of the essence, where there is unreasonable delay, by a notice from the party
who is not in default fixing a reasonable time for completion and stating that,
in the event of non-completion within the time so fixed, he intends to enforce
or abandon the contract. But the time fixed must be reasonable having regard
to the position of things at the time when the notice is given, and to all the
circumstances of the case.'
By verstryking van 'n redelike tydperk na kontraksluiting kan die onskuldige
skuldeiser, wat moontlike terugtrede beoog, kennis gee aan die skuldenaar dat,
indien hy nie op of voor 'n bepaalde dag voldoen nie (en 'n redelike tydperk stel) hy
(die skuldeiser) die kontrak as ontbind sal beskou. Die Engelse praktyk beoog dus
slegs een kennisgewing, 'n sg. 'notice of rescission', waar daar 'unreasonable delay'
was. Die 'notice of rescission' is ook in ons praktyk in gebruik geneem, maar het niks
met 'n aanmaning van in mora- stelling te doen nie, en moet ook nie daarmee verwar
word nie.
Indien Engelse reg op ons eie reg ingeënt sou word, en die begrip van 'unreasonable
delay' aan mora gelykgestel word, sou dit volg dat 'n 'notice of rescission' slegs
gegee kon word nadat die skuldenaar reeds as gevolg van aanmaning in mora
verkeer. Steyn, op. cit. bl. 108 - 9, huldig die mening dat indien dit blyk dat Engelse
reg geresipieer behoort te word, dit 'met inagneming van die beginsels van ons reg'
moet geskied. Dit sou twee selfstandige kennisgewings vereis, nl., 'n aanmaning,
volgens ons reg, om die skuldenaar in mora te stel (met die gevolglike verhoging en
uitbreiding van sy verpligtinge waarna reeds verwys is), en 'n 'notice of rescission',
volgens Engelse reg, wat ná die in mora- stelling aan die skuldenaar gegee word. Dit
sou in die praktyk meebring dat 'n redelike tydperk vanaf die datum van die
aanmaning moet verstryk voordat die 'notice of rescission' gegee word, wat
nogmaals 'n redelike tydperk moet gun (blykbaar met inagneming van al die
omstandighede wat dán van toepassing is). Waar 'n skuldeiser normaalweg slegs 'n
aanmaning aan die skuldenaar rig wanneer hy besluit dat daar onnodige vertraging
is, sou dit in die praktyk kon meebring dat die skuldenaar uiteindelik drie tydperke
gegun word. Steyn, op. cit. bl. 109, doen aan die hand dat voorligting en leiding
eerder by die Duitse reg gesoek moet word, want al sou daar 'n resepsie uit 'n
vreemde reg plaasvind, 'sou dit volkome' in ons regstelsel pas en alle gevaar vermy
vir botsing met die grondbeginsels van ons reg. Steyn se uiters waardevolle
monografie is in 1929 gepubliseer, en sedertdien het ontwikkeling deur regspraak
voortgeduur.
Die vraag of twee aparte kennisgewings, soos deur Steyn voorgestel is, onontbeerlik
vir die ontstaan van 'n terugtredingsreg geag moet word, is, sover my kennis strek,
nog nie afdoende beantwoord nie. In Hammer v Klein and Another, 1951 (2) SA 101
(AD) op bl. 108A, is die vraag sonder beantwoording ge-opper.
Ek het hierbo daarna verwys dat daar wel 'n leemte in ons reg was, wat daartoe gelei
het dat die regspraak verplig was om 'n reg van terugtrede op grond van mora te
erken in omstandighede waar sodanige verligting nie deur Romeinse - of Romeins-
Hollandsereg geoorloof was
1972 (2) SA p163
WESSELS AR
nie. Soos uit Microutsicos, supra, blyk het hierdie Hof aan mora ' n gevolg gegee wat
vreemd aan Romeins-Hollandse beginsels is, nl., 'n terugtredingsreg na aanleiding
van 'n 'notice of rescission'. M.a.w., mora lei nou nie slegs tot verhoging en
uitbreiding van die skuldenaar se verpligtinge nie, maar ook tot 'n uitbreiding van die
skuldeiser se regte. Na aanleiding van 'n 'notice of rescission' verkry hy dieselfde
terugtredingsreg as wat 'n lex commissoria sou gemagtig het.
Die vraag ontstaan waarom daar op twee aparte kennisgewings en twee aparte
tydperke aangedring behoort te word, waar 'n skuldeiser, na aanleiding van
onredelike vertraging, sou verkies om terug te tree, eerder as om op vervulling aan
te dring? Waar mora ontstaan, het 'n redelike tydperk vir vervulling reeds verstryk, en
het die skuldenaar reeds versuim om sy verpligting volgens ooreenkoms so gou as
redelikerwyse moontlik na kontraksluiting te vervul. Die ontwikkeling wat in ons
regspraak plaasgevind het, dui daarop dat aan mora ' n regsgevolg gegee is bo en
behalwe dié wat voorheen reeds bestaan het, nl., die skuldeiser se reg om
vergoeding te vorder vir skade wat hy as gevolg van mora gely het, en 'n verskuiwing
van die risiko verbonde aan toevallige ondergang van die verkoopte saak. Bykomstig
is daar ook nou 'n keuse vir die skuldeiser om uit die kontrak terug te tree, mits hy
die skuldenaar 'n redelike kennis gegee het. Daar bestaan, na my mening, geen
rede waarom versoening tussen die twee regstelsels bewerkstellig behoort te word
deur die tydperk vir vervulling wat 'n 'notice of rescission' in Engelse reg beoog,
eenvoudig by die tydperk, wat intrede van mora volgens Romeins-Hollandsereg
voorafgaan, aan te las nie. Waar dit, soos hierbo aangedui is, volgens ons regspraak
beoog is dat in bepaalde omstandighede die intreding van mora ' n bykomstige
regsgevolg het, nl., die ontstaan van 'n terugtredingsreg, indien 'n 'notice of
rescission' aan die skuldenaar gerig is, verval die praktiese noodsaaklikheid om op
twee aparte kennisgewings aan te dring. Wanneer 'n skuldeiser, soos hy geregtig is
om te doen, die skuldenaar aanmaan om op of voor 'n sekere dag te voldoen, kan hy
gerieflik in dieselfde kennisgewing meedeel dat, by gebreke aan voldoening binne
die gestelde tydperk, hy hom die reg voorbehou om uit die kontrak te tree. (Kyk De
Wet en Yeats, op. cit. bl. 115). Dit kan, wat die skuldenaar betref, nie onbillikheid in
die hand werk nie; hy word 'n redelike geleentheid gegun om sy verpligting
ooreenkomstig die kontrak te vervul. Dit kan nie gesê word dat 'n skuldeiser langs
hierdie weg deur eensydige optrede 'n lex commissoria aan die skuldenaar opdring
nie. Waar 'n geskil ontstaan aangaande die redelikheid, al dan nie, van die gestelde
termyn, word dit deur 'n hof beoordeel na gelang van al die betrokke omstandighede.
Slegs waar 'n skuldeiser redelik optree wat die kennisgewing betref, kan mora intree,
en slegs dan kan 'n terugtredingsreg uitgeoefen word. By koopkontrakte staan dit die
partye vry, indien hulle verkies, om te beding dat prestasie nie voor 'n bepaalde dag
geverg kan word nie.
Na my mening moet dus besluit word dat, waar 'n skuldeiser moontlike terugtrede as
gevolg van mora beoog hy in die kennisgewing van in mora- stelling die skuldenaar
ook kan meedeel dat, by gebreke aan vervulling binne die gestelde termyn, hy hom
die reg voorbehou om uit die kontrak te tree. Vir sover die kennisgewing op in mora-
stelling
1972 (2) SA p164
WESSELS AR
gerig is, het dit werking volgens die reeds erkende beginsels van die Romeins-
Hollandse reg. Vir sover die kennisgewing op moontlike terugtrede gerig is, slaan dit
slegs op die bykomstige uitbreiding van 'n skuldeiser se regte waar mora intree. Dit
is ook oorbodig om die verlening van hierdie reg tot terugtrede enigsins te koppel
aan beginsels van die Engelse reg wat daarop betrekking het. Dit volg dus uit wat
hierbo bespreek is, dat volgens ons reg, die verstryking van 'n redelike tydperk na
kontraksluiting nie as voorvereiste vir die gee van die gesamentlike kennisgewing
gestel kan word nie.
Ek behandel vervolgens die betoog dat die aanmaning (en die daarby inbegrepe
kennisgewing van ontbinding) regtens kragteloos was aangesien die daarin
bepaalde tydperk waarin verweerder moes voldoen, onredelik was. In hierdie
verband verwys ek, eerstens, na 'n vraag wat nòg in die Hof a quo nòg in hierdie Hof
geopper is, nl., watter party met die bewyslas beswaar is ten aansien van die
geskilpunt betreffende onredelikheid van die tydperk waarin voldoen moet word. In
die reeds aangehaalde artikel van Prof. De Vos, 'Mora Debitoris and Rescission';
1970 S.A.L.J. bl. 304 op bl. 311) word, na aanleiding van die uitspraak in Fluxman v
Brittain, 1941 AD 273, aan die hand gedoen dat die skuldenaar met die bewyslas
beswaar is.
Na my mening is daar 'n aantal gewysdes wat stawing vir hierdie stelling bied. (Kyk
bv., Mackay v Naylor, 1917 T.P.D. 533; Wellington Board of Executors Ltd. v
Schutex Industries (Pty.) Ltd., 1952 (3) SA 170 (C); Rae v Rohrs and Another, 1954
(2) SA 235 (N) op bl. 237C - N). Na my mening sou betoog kon word dat
billikheidsoorwegings 'n besluit dat die skuldenaar met die bewyslas beswaar moet
word, waar hy hom daarop wil beroep dat die aanmaning, weens onredelikheid van
die daarin gestelde tydperk, regtens kragteloos is. (Kyk Fluxman v Brittain, supra op
bl. 295, en Pillay v Krishna and Another, 1946 AD 946 op bl. 954).
In die onderhawige geval, om redes wat hieronder blyk, is dit egter onnodig om
bogenoemde vraag nou af te handel, en is dit moontlik ook onwenslik om dit te doen,
aangesien dit nie in die betoë toegelig is nie. Ek aanvaar vir die doeleindes van
hierdie appèl, ten voordele van verweerder, dat eiser met die bewyslas beswaar is
ten aansien van die vraag of die tydperk in die aanmaning gestel, in die
omstandighede, 'n redelike geleentheid tot voldoening verleen het.
In sy pleit beweer verweerder dat hy
'erken dat hy nie in staat was om voor of op 12 Augustus 1969 transport van
die verkoopte eiendom op naam van die eiser te laat registreer nie, maar sê
dat dit onmoontlik was om dit te doen omdat sy transportakte van die gemelde
eiendom weens omstandighede buite sy beheer verlore gegaan het en hy,
kragtens die bepalings van die Registrasie van Aktes Wet, 47 van 1937,
aansoek moes doen vir die uitreiking van 'n afskrif voordat hy transport kon
gee aan eiser'.
Die waarskynlikhede dui daarop dat die transportakte reeds voor kontraksluiting
soek geraak het, maar dat verweerder toe nie daarvan bewus was nie. Dit blyk uit
die getuienis dat die moontlikheid dat hierdie omstandigheid 'n rol sou kon speel by
die bepaling van 'n tydperk waarin dit redelikerwyse van verweerder verwag sou kon
word om te presteer, glad nie binne die kontemplasie van die partye by
kontraksluiting was nie. Dit blyk, voorts, uit die getuienis dat indien hierdie
1972 (2) SA p165
WESSELS AR
omstandigheid nie sou ingetree het nie, dit waarskynlik is dat verweerder 'n
aansienlike tyd voor selfs 13 Junie 1969 inderdaad sy verpligting sou kon vervul het.
Die Hof a quo het, trouens, bevind dat indien vertraging, wat deur hierdie
omstandigheid veroorsaak is, buite rekening gelaat sou word, die tydperk vir
vervulling wat in die aanmaning gestel is, nie as onredelik aangemerk sou kon word
nie.
Die vraag is dus of dit regtens geoorloof is, by die bepaling deur 'n hof van wat 'n
redelike tydperk vir vervulling sou wees, om enige omstandighede in berekening te
bring wat tydens kontraksluiting nie redelikerwyse binne die kontemplasie van die
skuldeiser sou gewees het as van belang by die berekening van 'n tydperk waarin dit
redelikerwyse verwag sou kon word dat die skuldenaar sy verpligtinge sou kon
vervul nie. 'n Aantal gewysdes staaf, na my mening, die besluit dat omstandig. hede
van so 'n aard nie deur 'n hof in berekening gebring kan word nie. Kyk Adler v De
Waal, 8 N.L.R. 88, 'n uitspraak van die Geheime Raad na aanleiding van 'n appèl
teen die uitspraak van die Natalse Hooggeregshof, 5 N.L.R. 251). Die saak het
gegaan oor beweerde versuim in verband met die lewering van sekere aandele. Op
bl. 80 word dit gestel:
'The seller was bound to deliver the certificates within what would be a
reasonable time in an ordinary contract for sale of shares, and the
reasonableness of the time cannot depend upon circumstances which were
unknown to the buyer, and were not disclosed to him by the seller.'
In Goldschmidt v Adler, 3 S.C. 117, ook 'n geval waar dit gegaan het oor die
redelikheid van die tydperk waarin aandele gelewer moes word, verwys die uitspraak
(op bl. 122) daarna dat,
'... We must look at what is a reasonable time, and we must bear in mind that
when this contract was entered into, the parties knew that there must be some
inevitable delay'.
In Young v Land Values, Ltd., supra, was dit vir die verkopers van vaste eiendom
onmoontlik om binne 'n sekere tydperk transport te gee aangesien hulle nog nie self
transport van die eiendom ontvang het nie. Laasgenoemde feit was by
kontraksluiting nie binne die kennis van die koper nie. Met verwysing na Adler v De
Waal, supra, stel Regter TINDALL dit soos volg op bl. 224,
'... the reasonableness of the time cannot depend upon circumstances which
were unknown to the buyer and were not disclosed to him by the seller'. Ek
verwys voorts na Willowdene Landowners (Pty.) Ltd. v St. Martin's Trust, 1971
(1) SA 302 (T), waar die Voltallige Bank 'n appèl teen 'n uitspraak van Regter
COLMAN aangehoor het (1970 (3) SA 132 (W)). In hoêr beroep was die
enigste geskilpunt die vraag of respondent (die Trust) aan appellant 'n
redelike tydperk tot voldoening verleen het. Op bl. 305G stel Regter
CLAASSEN dit,
'... I am of the opinion that Mr. Philips was correct in submitting that this
principle should be extended to include not only difficulties and delays within
the contemplation of the parties at the time of the contract, but also difficulties
and delays which would have been within the reasonable contemplation of a
reasonable man at the time of the contract'.
Waar daar in hierdie passasie 'n objektiewe beoordeling aan die hand gedoen word,
stem ek saam met die geleerde Regter. Ten einde 'n tydperk vir vervulling te kan
bepaal wat vir sowel die skuldeiser as die skuldenaar redelik sou wees, blyk dit na
my mening noodsaaklik te wees om te let, enersyds, op die kennis wat die partye by
kontraksluiting gehad het van omstandighede wat die tyd vir vervulling sou kon raak
1972 (2) SA p166
WESSELS AR
en, andersyds, op soortgelyke omstandighede wat, hoewel aan een of albei partye
onbekend, nogtans toe redelikerwyse voorsienbaar was as omstandighede wat die
tyd vir vervulling sou kon raak. By oorweging van die vraag of 'n redelike tyd vir
vervulling verleen is, moet daar, eerstens, gelet word op die aanwesigheid van
relevante omstandighede van die aard wat hierbo bespreek is, wat redelikerwys tot
vertraging in vervulling kan lei. Tweedens, moet daar 'n berekening gedoen word, na
aanleiding van die getuienis, van watter tydperk redelikerwys vir vervulling toegelaat
moet word, met inagneming van sodanige relevante omstandighede. By hierdie
berekening moet die posisie, wat betref die tyd wat toegelaat behoort te word, soos
dit by die datum van aanmaning bestaan, in oënskou geneem word. By
kontraksluiting sou die partye besef het dat registrasie van transport noodwendig tyd
neem, en dat die tyd wat redelikerwyse daarvoor toegelaat sou moes word, sou
afhang van omstandighede wat daarop van toepassing is wanneer registrasie
bewerkstellig moet word. Uit die getuienis blyk dat die tydperk van tyd tot tyd wissel.
By sekere kontrakte sou dit redelik kon wees om selfs onvoorsiens en
onvoorsienbare omstandighede in berekening te bring, bv., by koopkontrakte waar
periodieke lewering oor 'n aantal jare geskied, sou die partye gedagtig daaraan wees
dat onvoorsienbare omstandighede die tydperk van vervulling in die toekoms sou
kon raak.
Na my mening blyk dit dus dat die Hof a quo in die huidige saak fouteer het waar dit,
by beantwoording van die vraag of die aanmaning 'n redelike tyd vir voldoening
gegun het, die vertraging veroorsaak deur die noodsaaklikheid om 'n gesertifiseerde
afskrif van die transportakte te verkry in berekening gebring het. Dit blyk uit die
getuienis dat nog eiser nog verweerder besef het, of dat dit redelikerwyse
voorsienbaar was, dat vertraging van hierdie aard lewering van die eiendom vir etlike
maande sou vertraag. Al wat redelikerwyse binne die kontemplasie van die partye by
kontraksluiting kon gewees het, is dat lewering waarskynlik sou kon geskied binne
die tydperk wat normaalweg nodig is vir die afhandeling van transaksies van daardie
aard. (Kyk Celliers v Papenfus and Rooth, supra op bl. 79). Die Hof a quo het bevind
dat die tydperk in die aanmaning gestel 'voldoende was vir normale transport', maar
te kort was 'om eers nog 'n duplikaat van die titelakte te kry'. Deskundiges het by die
verhoor getuig oor wat 'n redelike tyd sou wees in die geval van 'n normale transport
sonder hindernisse van die aard wat in die onderhawige geval vertraging veroorsaak
het. Ek gaan dit nie in detail behandel nie. Die oorwig van getuienis staaf die
bevinding van die Hof a quo dat, by objektiewe benadering, die tydperk van twee
maande wat in die aanmaning vir vervulling toegelaat is, redelik is, indien vertraging
veroorsaak deur die feit dat verweerder se transportakte nie gevind kon word nie,
buite rekening gelaat word. Te meer so, as die aansienlike tydsverloop voor die
datum van aanmaning ook nog in aanmerking geneem word.
In sy pleit, en ook in getuienis deur en namens verweerder afgelê, beroep hy hom
daarop dat sy versuim om binne die voormelde tydperk te voldoen, nie aan sy skuld
te wyte is nie, maar aan die toevallige omstandigheid van 'n verlore transportakte
wat onvermydelike vertraging veroorsaak het, en dit vir hom inderdaad onmoontlik
gemaak het
1972 (2) SA p167
WESSELS AR
om binne die in die aanmaning gestelde tyd te voldoen. Na my mening kan hierdie
verweer nie slaag nie, selfs al sou veronderstel word dat verweerder hom op dié
omstandigheid ter verskoning vir vertraging sou kon beroep indien hy nie skuld
daaraan het nie. Die koopkontrak is reeds op 3 Oktober 1968 onderteken, en
verweerder moes besef het dat sy verpligting, om transport binne 'n redelike tyd te
laat registreer, na vervulling van die opskortende voorwaarde sou ontstaan. Eiser het
homself verbind om 'n 'goedgekeurde bank of ander garansie' vir die bedrag van R5
250 binne 120 dae na 3 Oktober 1968 te verstrek (d.i. voor of op 31 Januarie 1969).
Die deposito van R1 750 is blykbaar nog voor 3 Oktober 1968 betaal. Okkupasie van
die eiendom sou op 1 Februarie 1969 gegee word teen betaling van R50 per maand
huurgeld vanaf daardie datum tot datum van registrasie. Dit sou dus binne die
kontemplasie van verweerder moes gewees het dat dit moontlik te enige tyd na
begin Februarie 1969 van hom geverg sou kon word, afhangende van teenprestasie
aan die kant van eiser, om die nodige stappe te doen ten einde registrasie van
transport te bewerkstellig, en dat hy sy transportakte vir daardie doel sou benodig.
Verweerder was bewus daarvan dat hy nie die transportakte in sy besit het nie.
Nogtans blyk dit dat verweerder (deur sy prokureur) eers op 7 Februarie 1969 'n
poging doen om besit van die transportakte te verkry. Daarna volg verdere
tydrowende (en, na my mening, tydsame) pogings om die transportakte op te spoor,
wat uiteindelik tot om of by 10 Junie 1969 in beslag neem, voordat besluit word om
aansoek te doen vir die uitreiking van 'n gesertifiseerde afskrif daarvan. Die stappe
wat gedoen is om die vermiste transportakte op te spoor, getuig geensins van 'n
besef aan die kant van verweerder van sy verpligting om binne 'n redelike tyd te
presteer nie, veral nie waar in gedagte gehou moet word dat onnodige vertraging,
wat registrasie van transport betref, daartoe kon lei dat die SA Permanente
Bougenootskap die toegestane lening te enige tyd kon terugtrek. Verweerder se
verskoning vir die tydsame optrede, nl., dat eiser sou nagelaat het om verweerder se
aandag op die noodsaaklikheid van spoedige registrasie te vestig, ontbreek aan
oortuigingskrag. Dit blyk na my mening uit die getuienis dat verweerder 'n geruime
tyd voor 13 Junie 1969 (die datum van die aanmaning) besef het dat eiser 'n
opeisbare vordering vir vervulling gehad het, en dat dit sy (verweerder) se plig was
om binne 'n redelike tyd te voldoen. In bogemelde omstandighede is ek oortuig dat
die beweerde onmoontlikheid om binne die redelike tyd, wat in die aanmaning gestel
is, te voldoen, aan verweerder se skuld te wyte is.
Dit volg dus na my mening dat verweerder na verstryking van die tydperk van twee
maande in mora verkeer het, en nog steeds in mora verkeer het toe eiser op 26
Augustus 1969 sy terugtredingsreg uitgeoefen het.
Dit is nie namens verweerder betoog dat, indien die appèl sou slaag, die eiser nie
ook geregtig sou wees om vergoeding ten bedrae van R260,15 te vorder vir die
skade wat hy gely het nie.
Die appèl slaag met gedingkoste, insluitende die koste van twee advokate. Die bevel
van die Hof a quo word deur die volgende bevel vervang:
1972 (2) SA p168
JANSEN AR
Uitspraak ten gunste van eiser ooreenkomstig paragrawe 1, 2, 3 en 4 van sy eis.
TROLLIP, A.R., en MULLER, A.R., het met WESSELS, A.R., saamgestem.
JANSEN, A.R.: Die appellant (hierna eiser genoem) het op 3 Oktober 1968 skriftelik
'n huis van respondent (hierna verweerder genoem) gekoop. Die kontrak het
uitdruklike bepalings van o.a. die volgende strekking bevat:
(1) Dit was onderhewig aan verkryging deur die eiser van 'n 75 persent
lening van 'n bougenootskap;
(2) Eiser sou 'n deposito van R1 750 op ondertekening betaal (onderhewig
aan verbeuring by 'versuim om die vereiste betalings te doen of om enige
voorwaarde' van die kontrak na te kom); betaling sou geskied aan 'n
eiendomsagentskap wat die deposito sou hou 'in trust... hangende
registrasie';
(3) Die saldo van die koopprys van R7 000, nl. R5 250, sou betaal word
'kontant teen registrasie van transport';
(4) 'n 'Goedgekeurde bank of ander garansie' sou 'voorsien word binne 120
dae vanaf datum' van die kontrak;
(5) iser sou 'alle transportkoste, hereregte en ander koste betaal'.
(6) Besit van die eiendom sou aan eiser op 1 Februarie 1969 gegee word,
ten opsigte waarvan eiser 'R50 per maand as huurgeld [sou] betaal op datum
van registrasie'.
Die deposito is betaal en ondanks die datum in (6) hierbo het eiser die huis reeds op
3 Desember 1968 betrek; sy aansoek aan 'n bougenootskap om die nodige lening is
toegestaan en op 11 Februarie 1969 het die bougenootskap se prokureurs aan
verweerder se prokureur geskryf: 'geliewe ons asseblief 'n beskrywing van die
eiendom te laat kry om ons in staat te stel om ons verband dokumente voor te berei,
asook besonderhede van enige waarborge wat u verlang'.
Teen 13 Junie 1969 is transport egter nog nie gegee nie, en eiser se prokureurs het
op daardie datum aan verweerder o.a. soos volg geskryf:
'Tot op datum hiervan het u nog nie toegesien dat die eiendom op naam van
kliënt geregistreer word nie ten spyte daarvan dat kliënt al verskeie
opwagtings by u prokureurs gemaak het en ten spyte daarvan dat hy al
verskeie kere aangebied het om die transportkoste van ongeveer R300 by u
prokureurs se kantoor in te betaal.
Kliënt is nie bereid om hierdie aangeleentheid onbepaald te laat oorstaan nie
en geliewe nou kennis te neem dat u hiermee aangesê word om toe te sien
dat die eiendom op naam van kliënt geregistreer word voor of op die 12de
Augustus 1969 by gebreke waarvan kliënt uit die ooreenkoms sal tree, die
ooreenkoms sal kanselleer en u verantwoordelik hou vir al sy skade wat hy
gely het as gevolg van u kontrakbreuk. Die skade sluit in kliënt se onkoste ten
einde 'n lening te verkry, rente op R1 750 wat inbetaal is by mnre. Schoeman
& van Aarde, en koste van verbeterings wat hy reeds aangegaan het op die
eiendom as bona fide possessor.'
Transport het nog uitgebly, en op 26 Augustus 1969 het eiser se prokureurs die
kontrak skriftelik gekanselleer.
Verweerder het die geldigheid van die kansellasie betwis en vervolgens het eiser
verweerder in die Transvaalse Provinsiale Afdeling gedagvaar om teruggawe van die
deposito van R1 750 (wat intussen deur die eiendomsagentskap aan verweerder
oorbetaal is), rente daarop a tempore morae, skadevergoeding van R260 - 15 en
koste. Na aanhoor van getuienis het die Hof (HIEMSTRA, R.) die tydperk genoem in
die kennisgewing van 13 Junie 1969 te kort bevind en die beweerde kansellasie
ongeldig, en hy het die eis met koste van die hand gewys. Eiser kom hierteen in hoër
beroep.
1972 (2) SA p169
JANSEN AR
Uit die betoog is dit duidelik dat hier beweeg word op 'n gebied waar die beginsels
van Romeins-Hollandse reg en dié van die Engelse reg ineengestrengel is en soms
verwar word, 'n gebied waaroor daar reeds heelwat polemiek gevoer is. Vgl. o.a. I.
van Zijl Steyn, 'Mora debitoris volgens die Hedendaagse Romeins-Hollandse reg',
gepubliseer in 1929; G. A. Mulligan, 'Mora,' 1952 S.A.L.J. 276; Wouter de Vos, 'Mora
Debitoris and Rescission,' 1970 S.A.L.J. 304; De Wet & Yeats, Kontraktereg en
Handelsreg, 3de uitg., bl. 107 - 116; Wessels, Law of Contract, 2de uitg. Para. 2853
e.v.). In 'n poging om helderheid te bekom, is dit wenslik om eers sekere aspekte
van die Romeins-Hollandse reg te bespreek, dan die Engelse reg, en daarna ons
regspraak, alvorens by die feite in die onderhawige geval te kom.
Word die verpligting van die verkoper in die onderhawige geval voorlopig van die
wederkerige koopkontrak losgemaak, dan het mens hier 'n verbintenis om te lewer
sonder 'n tydsbepaling. Vraag is dan wat, volgens Romeins-Hollandse
regsbeginsels, die werking is van daardie verbintenis t.o.v. tydsverloop. As
uitganspunt moet aanvaar word dat die prestasie sodanig is dat dit wesenlik nog
dieselfde prestasie bly of die lewering nou, dan wel later (bv. oor 'n jaar) geskied. Dit
gaan ook nie hier oor die vraagstukke wat ontstaan waar die prestasie van die begin
af objektief onmoontlik is nie of dit word nie, of waar dit blyk dat die skuldenaar nie in
die vermoë is om binne enige bepaalbare tyd te presteer nie, of waar hy nie wil
presteer nie en sy verpligting repudieer. Met hierdie voorbehoude is die posisie soos
volg. Dit skyn duidelik te wees dat in die algemeen by die verbintenis sonder
tydsbepaling die prestasie onmiddellik verskuldig en opeisbaar is. As voorbeeld van
'n ou skrywer wat dit so stel (egter met 'n kwalifikasie) kan de Groot, Inleiding,
3.3.51, geneem word:
'Maer als geen dagh ghestelt en is, soo werd verstaen dat de schuld datelick
magh werden geeischt, ten waer de voldoeninghe, als by voorbeelt de
levering van een huis, nootelick eenigen tijd vereischte.'
Van Zijl Steyn (a.w. bl. 78) sien dit so in:
'Ons reg bepaal dat as partye nie 'n tyd vir vervulling vasgestel het nie, die
skuldenaar onmiddellik of so gou daarna as redelikerwyse moontlik is, aan sy
verpligtinge moet voldoen.'
In Mackay v Naylor, 1917 T.P.D. 533 te bl. 537 - 8, word dit vanuit 'n ander oogpunt
gestel:
'The general rule of law is that obligations for the performance of which no
definite time is specified are enforceable forthwith (Inst., 3.15.2; Dig., 50.17.4
and 45.1.41(1); van Leeuwen, Roman-Dutch Law, 2.3.3; Voet, 45.1.19), but
the rule is subject to the qualification that performance cannot be demanded
unseasonably so as to defeat the objects of the contract or to allow an
insufficient time for compliance (Inst., 3.19.27; Dig., 45.1.60, 73, 137(3).'
Van die twee formelerings is lg. die verkieslikste: eg. Kan die indruk wek dat hy die
skuldenaar sonder meer verplig is om voort te gaan met die prestasie, en dat as hy
dan nie binne redelike tyd presteer nie, hy sy verpligting nie nakom nie en
wanprestasie begaan. Dit is geensins die geval nie. Die ware toedrag van sake is dat
die skuldenaar vanaf die begin daaraan onderhewig is dat die prestasie opgeëis
word, maar voordat dit inderdaad opgeëis word, hoef hy nie te presteer nie. Die
skuldeiser moet die skuldenaar oportuno loco et tempore aanmaan, en dit word soos
volg gekonstrueer: die skuldeiser moet die skuldenaar in kennis stel dat hy op of
voor 'n bepaalde dag moet voldoen, maar hy moet 'n redelike termyn stel (vgl. De
Wet en Yeats, bl. 109 - 10). Of die
1972 (2) SA p170
JANSEN AR
aanmaning (interpellatio) noodwendig skriftelik moet wees en hoe die redelike
termyn bepaal moet word, is nie vrae waaroor nou uitsluitsel gegee hoef te word nie.
Dit skyn egter nie onaanneemlik te wees nie dat die termyn miskien bepaal moet
word na gelang, o.a. of die kontrak besondere haas beoog al dan nie, die tyd wat dit
gewoonlik sou neem om dié soort prestasie te verrig, met inagneming van wat die
partye voorsien het of behoort te voorsien het as moontlik vertragende faktore, en
die voorbereidings wat die skuldenaar redelikerwys reeds behoort te gedoen het,
aangesien hy geweet het dat hy aan opeising van die prestasie onderhewig is. Maar,
moet herhaal word, hieroor word geen vaste mening uitgespreek nie.
Eers na verstryking van die termyn in die aanmaning gestel, kan daar sprake wees
van wanprestasie as die skuldenaar dan nog nie presteer het nie. Soos van Zijl
Steyn, bl. 40 e.v., noem, moet ook aan sekere verdere objektiewe en subjektiewe
vereistes, waaronder die skuldvereiste, voldoen word. As aan al die vereistes
voldoen is, dan begaan die skuldenaar voorts wanprestasie solank hy nie presteer
nie. Hier word bepaaldelik van negatiewe wanprestasie of mora gepraat. Die reg van
die skuldeiser op nakoming bestaan nog steeds onveranderd voort, maar die
skuldenaar se aanspreeklikheid word deur sy mora uitgebrei: hy is nou aanspreeklik
vir enige skade wat die skuldeiser voorts ly vanweë die vertraging, en hy dra
voortaan die risiko van die toevallige ondergang van die saak (van Zijl Steyn, bl. 83
e.v.). Aangesien die verbintenis nog op vervulling gerig is, volg dit dat die skuldenaar
nog steeds verplig en geregtig is om te presteer, en as hy 'n behoorlike aanbod
maak om te presteer, die uitbreiding van sy aanspreeklikheid dan verval (van Zijl
Steyn, bl. 113 e.v.).
Hierdie algemene leerstukke kom ewe te pas op die wederkerige verbintenisse uit 'n
wederkerige kontrak, soos, bv., dié van koop en verkoop. Maar hier ontstaan 'n
verdere vraag: kan die een party van sy verpligtings onthef word vanweë die mora
(in teenstelling tot positiewe wanprestasie) van die wederparty, m.a.w. kan hy uit die
kontrak terugtree, dit kanselleer? Weer eens moet beklemtoon word dat hier nie die
geval bespreek word nie waar die wederparty se prestasie objektief onmoontlik
geword het, of dit blyk dat hy nie in die vermoë is om ooit of binne afsienbare tyd te
presteer nie, of die wederparty sy verpligting repudieer. Volgens van Zijl Steyn, bl.
111 - 112, erken die beginsels van die Romeins-Hollandse reg nie die ontstaan in
die algemeen van 'n terugtredingsreg as gevolg van die mora van die wederparty
nie. Dit volg dat die aangewese regsmiddel nog die eis om nakoming bly, aangevul
deur 'n eis om vergoeding van die skade gely deur die vertraging. Die
terugtredingsreg is dus nie n regsgevolg van mora nie, maar van Zijl Steyn aanvaar
die moontlikheid dat sodanige reg by kontraksluiting beding kan word (uitdruklik of
stilswyend).
Vervolgens moet die Engelse reg behandel word. Die common law het geverg dat 'n
eiser moes bewys
'that all things on his part to be performed had been performed within a
reasonable time, or, where a time was specified in the contract, within the
time so specified and at common law time was thus always of the essence of
the contract'
(Fry on Specific Performance, (1911), 4de uitg., art. 1072). By 'n wederkerige
1972 (2) SA p171
JANSEN AR
kontrak kon dit skynbaar in 'n bepaalde geval daarop neerkom dat 'n party terugtree
op grond van die wederparty se versuim om te presteer binne 'n redelike tyd. Sedert
die Judicature Act, 1873, is die beginsels van Equity egter deurslaggewend op
hierdie terrein. Volgens Fry, art. 1075, is 'time of the essence' as die partye uitdruklik
of stilswyend aldus bepaal het. Hy wys daarop (art. 1079) dat
'time may be implied as essential in a contract, from the nature of the
subjectmatter with which the parties are dealing'.
Na aanleiding van De Waal v Adler, 12 A.C. 141 te bl. 145 - 'n appèl na die Geheime
Raad vanuit Natal - sê hy (art. 1084) die volgende:
'It may here be noticed that where a contract for the sale of shares does not
fix a time for the delivery of the certificates to the purchaser, the vendor's
obligation is to deliver them within a reasonable time; an unreasonable delay
in performance of this obligation may justify the purchaser in refusing to
accept the shares.'
In die reël sou by onstentenis van 'n tydsbepaling, tyd egter nie 'of the essence'
wees nie. Alhoewel die skuldenaar moet presteer binne redelike tyd, en hy na afloop
van die redelike tyd sonder aanmaning 'in default' is en vir skadevergoeding
aanspreeklik is, verkry die skuldeiser nie sonder meer 'n terugtredingsreg nie.
Volgens Equity kan hy dit egter verwerf deur 'n 'notice of rescission' aan die
skuldenaar te rig. Fry, art. 1093, beweer dat dit 'n onlangse ontwikkeling van Equity
is wat in 1821 nog nie erken was nie.
'n Nuttige opsomming van die toepaslike reëls word by die Australiese skrywer
Stonham gevind, The Law of Vendor and Purchaser. Hy skryf:
'1455. If time be not of the essence of the contract initially, one party cannot,
merely of his own volition, make it so, in equity, when it was not so before.
Where a party is not so entitled in accordance with the circumstances
mentioned below, to make time of the essence, by giving an appropriate
notice, a notice purporting to do so is a mere idle formality. The circumstances
under which a party can by notice make time of the essence of the contract
are the following: First, the party giving the notice must be able, ready and
willing to proceed to completion; secondly, at the time when such party gives
such notice purporting to make time of the essence, the recipient must have
been guilty of such default as would have entitled the giver (at common law)
to rescind; thirdly, once the right to serve a notice, of the kind in question, has
arisen, the time allowed by the notice must be a reasonable time. Fourthly,
the recipient must have been guilty of gross, vexatious, unreasonable,
unnecessary or improper delay or default in relation to the contract.
1474. The time prescribed by such notice must be a named time, which is
reasonable; and the notice must state with reasonable explicitness what it is
that is being required to be done, and that if it be not done within the time
prescribed, the party who is giving the notice will treat the contract as at an
end, or will treat himself as entitled to put an end to it. It is a not uncommon
practice to add 'and in this respect time shall be of the essence of the
contract'; but it is not necessary to say so, although it adds a sometimes
desirable emphasis.
1475. When it has been established that the notice itself is not premature, it is
necessary next to consider whether the time limited thereunder is reasonable
and sufficient. This must be judged as at the date when it is given. The object
of such notice is to enable the party in default to cure the delay and put
himself into a position to comply; and ought to fix the longest time that could
be reasonably required for the performance of the acts which remain to be
done; but the whole of the circumstances of the case must be considered,
including the nature of the property sold and the importance of time to the
parties; the previous conduct of the parties; what remains to be done at the
date of notice; the previous delay of the party to whom the notice is given and
the attitude of the innocent party in relation thereto, taking into account not
only conveyancing matters, but also the practical considerations of the ability,
in the circumstances, of the other party to complete, having regard to
reasonable behaviour; that the innocent party has been continually pressing
for
1972 (2) SA p172
JANSEN AR
completion, or previously given similar notices, which he has waived, and that
it is specially important to him to obtain early completion.'
Die grondslag van die terugtredingsreg skyn die billikheid te wees, en bepaling van
die redelike termyn geskied dienooreenkomstig. Aangesien dit 'n buitengewone reg
is wat aldus verwerf word, is dit nie verrassend dat Stonham (met verwysing na 'n
Australiese beslissing) die las om te bewys dat aan al die vereistes voldoen is, op
hom plaas wat die kennisgewing as grond vir sy terugtrede wil gebruik. Dat die
terugtredingsreg self nie 'n normale uitvloeisel van die kontrak of 'n normale
regsgevolg van wanprestasie is nie, moet beklemtoon word: dit is 'n reg wat eers na
wanprestasie op bykomstige gronde verwerf word.
Teen hierdie agtergrond van die Engelse en die Romeins-Hollandse reg moet enkele
van ons beslissings nou besien word. In Murphy v Labuschagne and Another, 1903
T.S. 393 te bl. 399, is aanvaar dat 'the general rule is that mere failure on the part of
the purchaser to pay an instalment due by him does not of itself give the seller the
right to claim rescission...'
Daar word verwys na die uitsonderingsgeval van 'n 'special pact' en gevalle waar
'time was of the essence'. Die Hof bevind die onderhawige geval nie 'n uitsondering
te wees nie, en gaan dus voort:
'That being so, although the plaintiff was in default, Labuschagne had no right
without making a demand and without giving prior notice of rescission, to treat
the contract with plaintiff as lapsed.'
Die Hof het hier klaarblyklik die Engelse 'notice of rescission' in gedagte.
In Breytenbach v Van Wijk, 1923 AD 541 te bl. 549, sê Appèlregter WESSELS o.a.:
'Immediate performance having been impossible and not contemplated, and
no date for transfer having been fixed by the contract, the respondent, if he
considered that sufficient time had elapsed to enable him, on that ground, to
procure his own release should have taken steps - as the civilians express it -
to place the appellant in mora by demanding that transfer should be passed
on or before a specified date, reasonable under the circumstances.'
Ondanks die gebruik van die woord mora, is dit moeilik om die gevolgtrekking te
vermy dat die geleerde Regter hier basies die Engelse 'notice of rescission' in
gedagte het. (Vgl. Kangisser and Another v Rieton (Pty.) Ltd., 1952 (4) SA 424 (T) te
bl. 429D).
In Young v Land Values Ltd., 1924 W.L.D. 216, het die koper van ses erwe teen
maandelikse afbetaling die verkoper on kansellasie van die koopkontrak en
terugbetaling van die bedrae reeds betaal gedagvaar. Die koopkontrak is op 20
September 1923 gewysig deur 'n ooreenkoms dat die koper toe teen betaling van 'n
globale bedrag van £135 transport sou verkry. Daar was geen tydsbepaling nie en
transport moes blykbaar binne redelike tyd geskied. Die koper het dieselfde dag
aangebied om die nodige bankwaarborg te verstrek en sy prokureur het sy
persoonlike onderneming gegee om die transportkoste te betaal. Inderdaad is die
waarborg eers op 8 November 1923 verskaf, maar die vertraging was aan die
verkoper te wyte. Na verskeie navrae deur die koper en ekskuse deur die verkoper,
word lg. op 20 Desember 1923 aangemaan dat (in die woorde van die uitspraak, bl.
223)
'unless transfer were passed within three weeks from that date the plaintiff
would consider himself at liberty to resile from the contract of sale and claim a
refund of the portion of the price paid'.
Transport bly uit ondanks verdere navraag, en op 7 Maart 1924 kanselleer die koper
die kontrak.
1972 (2) SA p173
JANSEN AR
Regter TINDALL stel die vraag:
'Is a delay of four months [d.w.s. vanaf 8 November 1923 tot datum van
kansellasie] under the circumstances unreasonable?'
Hy kom tot die gevolgtrekking dat dit wel die geval is. Hy aanvaar skynbaar verder,
met verwysing na Breytenbach v van Wijk, supra, dat ingevolge die kennisgewing
van 20 Desember die verkoper in mora geplaas is, en gaan dan voort (op bl. 225):
'In my opinion the principles enunciated by Sir JOHN WESSELS in Myers v
Sieradski, ubi supra, support the claim of the buyer to be entitled to resile from
the contract under the circumstances of the present case. The seller's breach
is a failure to do something which - to use the phrase employed by Lord
BLACKBURN in Mersey Steel and Iron Co. v Naylor, Benyon and Co., L.R. 9
A.C. 443 - goes to the root of the contract. That phrase has often been
employed in our Courts; see Yodaiken v Angehrn and Piel, 1914 T.P.D. 254;
Transvaal Cold Storage Co. Ltd. v S.A. Meat Export Co., Ltd., 1917 T.P.D.
413. A breach which goes to the root of the contract might, I apprehend, also
be described as a breach of an essential term; see Weinberg v Aristo
Egyptian Cigarette Co., 1905 T.S. 760, and the article on the actio empti in 31
S.A.L.J., P. 274. Though, generally speaking, time is not of the essence in the
sale of fixed property, the seller is bound to pass transfer within a reasonable
time, and that obligation is, in my view, an essential term of the contract.
Where the buyer has placed the seller in mora by calling upon him to pass
transfer within a period which the Court is satisfied is reasonable under all the
circumstances and the seller fails to comply, I think the buyer is entitled to
repudiate. Though the question must be decided according to our own law, it
may be noted that in English law it has been held that where the purchaser
has given reasonable notice fixing the time for delivery of an abstract of title,
he can repudiate if the vendor is still in default at the expiration of the notice;
see Compton v Bayley, (1892) 1 Ch. 313.'
Die verwysing na Myers v Sieradski, 1910 T.S. 869, is nie so duidelik nie. Dit gaan
aldaar om 'n dienskontrak en die wanprestasie was positief. In die Myers-saak word
weliswaar verwys na die sg. beginsel in Federal Tobacco Works v Barron & Co.,
1904 T.S. 483, maar Regter TINDALL beslis nie Young se geval op daardie basis
nie - anders sou die verwysings in sy uitspraak na in mora- stelling heeltemal
oorbodig wees. Deur die verpligting 'to pass transfer within a reasonable time' as 'an
essential term' te bestempel, sou die geleerde Regter klaarblyklik nie te kenne gee
dat 'time of the essence' is nie, maar wel dat die verpligting om te transporteer
wesenlik tot die kontrak is. Dit is ter sake omdat wanprestasie t.o.v. 'n nie-wesenlike
bepaling nie 'n basis vir 'n terugtredingsreg kan wees nie (Aucamp v Morton, 1949
(3) SA 611 (AD)). Vandaar ook die gebruik van die benaming 'vital term' in
Microutsicos and Another v Swart, 1949 (3) SA 715 (AD) te bl. 730, in 'n passasie
wat later hieronder aangehaal word. Dit skyn vanselfsprekend te wees dat waar
positiewe wanprestasie nie 'n terugtredingsreg sou laat ontstaan nie, negatiewe
wanprestasie dit nog minder kan doen, en dat 'n 'notice of rescission' na aanleiding
van versuim t.o.v. 'n onbelangrike bepaling, daardie bepaling nie tot 'n wesenlike
bepaling kan verhef nie (vgl. Stonham, art. 1458; Mulligan, bl. 290 - 1). Word die
Young- saak in sy geheel besien, dan lyk dit tog (ondanks die verwysing na 'our own
law') of Regter TINDALL hier die Engelse leerstuk van die 'notice of rescission'
toepas.
In Bredenkamp v Du Toit, 1924 G.W.L.D. 15 te bl. 23, is, met 'n beroep op Murphy v
Labuschagne, supra, Halsbury se uiteensetting van die 'notice of rescission' gevolg.
In Britz v Du Preez, 1950 (2) SA 756 (T) te bl. 760 - 1; Kangisser and Another v
Rietcon (Pty.)
1972 (2) SA p174
JANSEN AR
Ltd., 1952 (4) SA 424 (T), en Pretorius v Greyling, 1947 (1) SA 171 (W), word aan
soortgelyke kennisgewings gevolg gegee.
Uit die voorgaande blyk dit dat in ons regspraak al dikwels aanvaar is dat 'n
aanmaning van terugtreding tot 'n terugtredingsreg kan lei. Dit is aan die Engelse
leerstuk van 'notice of rescission' ontleen, en somtyds word daar regstreeks of
onregstreeks verwys na 'n vereiste dat daar voorafgaande 'default' moet wees. (Vgl.
Murphy v Labuschagne and Another; Breytenbach v Van Wijk; Bredenkamp v Du
Toit; Britz v Du Preez ). Dit lyk ook asof in dié sake waar aan sodanige aanmaning
gevolg gegee is, die skuldenaar voor hy die aanmaning ontvang het, reeds vroëer
verneem het dat die skuldeiser vervulling verg en desondanks reeds gesloer het
(Pretorius v Greyling skyn 'n uitsondering te wees). In St. Martin's Trust v
Willowdene Landowner's (Pty.) Ltd., 1970 (3) SA 132 (W) te bl. 135C, verwys
COLMAN, R., uitdruklik na hierdie aspek. Hy noem die 'elapsed period' wat die 'mora
notice' (in die sin van 'n aanmaning van terugtreding) voorafgegaan het en wys op
regsonsekerhede in dié verband. Met sy beslissing dat 'n terugtredingsreg in die
bepaalde geval ontstaan het, bevind hy o.a. dat
'neither during the elapsed period nor during the extended period did the
respondent act with such deligence and vigour as, in my judgment, the
circumstances demanded'
(bl. 137H).
In die geval van 'n verbintenis met tydsbepaling, waar dus dies interpellat pro
homine, is die leerstuk van die 'notice of rescission' ook erken. In Microutsicos and
Another v Swart, 1949 (3) SA 715 (AD) te bl. 730, het Waarnemende Appèlregter
FAGAN die volgende gesê:
'For my present purpose it is sufficient to say that, where a time for the
performance of a vital term in a contract has been stipulated for and one party
is in mora by reason of his failure to perform it within that time, but 'time is not
of the essence of the contract', the other party can make it so by giving notice
that if the obligation is not complied with by a certain date, allowing a
reasonable time, he will regard the contract as at an end.'
Aldus geskied daar in die geval van die verbintenis met tydsbepaling, 'n vereniging
van ons mora- begrip en die Engelsregtelike 'notice of rescission'. As die skuldenaar
eers in mora is, kan die skuldeiser daarna 'n terugtredingsreg verwerf met 'n
aanmaning van terugtreding. Hier word mora dan aan die Engelsregtelike begrip van
voorafgaande 'default' gelykgestel.
Die logika sou voorskryf dat by die verbintenis sonder tydsbepaling mora ook
'default' moet vervang. Trouens, dit is die standpunt van van Zijl Steyn, bl. 108 - 9.
Volgens hom sou dit die Engelsregtelike leerstuk van die 'notice of rescission' met
die Romeins-Hollandse reg versoenbaar maak en vir die beginsels daarvan die
minste gevaar inhou. Dit sou dan volg dat twee aanmanings nodig sal wees alvorens
'n terugtredingsreg kan ontstaan: die Romeins-Hollandse aanmaning om die
skuldenaar in mora te stel en daarna die Engelsregtelike 'notice of rescission'. Soos
van Zijl Steyn ook noem, sou hierdie reëling ooreenstem met dié in die Duitse reg,
wat ook 'n Romeinsregtelike inslag het. Dat die skuldenaar twee kanse moet hê om
te presteer is nie bevreemdend nie - dit is trouens ook so in die Engelse reg. Daar
kan slegs sprake van drie kanse wees as die skuldeiser nie vigilans is nie - hy kan
deur aanmaning die eerste termyn stel sodra die skuld opeisbaar is, en as die
prestasie langer uitbly omdat hy dit nie doen nie,
1972 (2) SA p175
JANSEN AR
moet hy homself verwyt. Maar in ieder geval is dit denkbaar dat die drie kanse
uiteindelik nie noodwendig noemenswaardig meer tyd sal gun as twee nie,
afhangende van die mate waarin by die bepaling van redelike termyne die
voorafgaande tydsverloop inaggeneem kan word.
Die regspraak is egter moeilik te vereenselwig met mora as plaasvervanger van
'default' in alle opsigte by die verbintenis sonder tydsbepaling. Dit kan aanvaar word
dat hier ook, na analogie van die verbintenis met tydsbepaling, die skuldeiser
geregtig sou wees om 'n aanmaning van terugtreding te gee as die skuldenaar reeds
in mora is. Vraag is of die omgekeerde ook waar is, nl. dat die skuldeiser dit nie kan
doen nie tensy die skuldenaar reeds in mora is. In Hammer v Klein and Another,
1951 (2) SA 101 (AD) te bl. 107G - H is daar 'n passasie wat oënskynlik in die rigting
dui, maar by ontleding blyk dit daarop neer te kom dat 'n aanmaning van terugtrede
nie geldig sal wees nie wanneer 'n skuldenaar nie reeds in mora verkeer nie, tensy
die aanmaning ook sou kon dien om die skuldenaar in mora te stel. In casu was die
bankwaarborg waaromtrent dit gegaan het, nog nie opeisbaar toe aanmaning
gedoen is nie. Wat die sake betref waar aan aanmanings van terugtreding gevolg
gegee is (hierbo reeds genoem) is dit wel so dat in die meerendeel van gevalle die
skuldenaars reeds geweet het dat prestasie verlang word en reeds gesloer het toe
hulle aangemaan is, maar dit is nie duidelik dat hulle reeds in mora verkeer het nie,
by ontstentenis van dié soort van aanmaning wat algemeen daarvoor nodig beskou
word nie. Eerder sou hul versuim met die Engelse 'default' ooreenkoms toon.
Al sou die regspraak egter in die algemeen toon dat 'n geldige aanmaning van
terugtreding gegee kan word by die verbintenis sonder tydsbepaling al verkeer die
skuldenaar nie reeds in mora nie, is dit tog duidelik dat in die algemeen die 'default'
vereiste nie heeltemal verval het nie. Trouens, die verontagsaming daarvan sou 'n
ingrypende inbreuk op ons kontraktereg doen, en sou ook strydig met die hele
Engelsregtelike grondslag van die 'notice of rescission' wees. Volgens die Romeins-
Hollandse reg is die skuldeiser geregtig om die skuldenaar aan te maan om te
presteer sodra die skuld opeisbaar is. Presteer die skuldenaar nie binne die gestelde
redelike termyn nie, kan hy daarna in mora verkeer, begaan hy dus (negatiewe)
wanprestasie en dié het sekere regsgevolge. 'n Terugtredingsreg is egter nie een
hiervan nie. Sodanige reg sou slegs beding kon gewees het (lex commissoria ). Sou
die skuldeiser nou te alle tye sy aanmaning ook die gestalte van 'n geldige
aanmaning van terugtreding kon gee, sou dit daarop neerkom, op sy uiterste gestel,
dat die skuldeiser onmiddellik na die kontrak gesluit is 'n dubbele aanmaning kon
gee, wat ontbinding bewerkstellig as die skuldenaar nie binne die gestelde termyn
presteer nie. Wesenlik verkry hy dus 'n lex commissoria waartoe die skuldenaar nie
toegestem het nie en bes moontlik nooit sou toegestem het nie. Sodanige
moontlikheid is nie net onaanneemlik in die lig van die grondbeginsels van ons reg
nie, maar ook heeltemal strydig met die leerstuk van 'notice of rescission' in sy land
van herkoms. In 1879 het FRY, R., in Green v Sevin, 13 Ch. 589 te bl. 599, reeds
gesê:
'It is to be observed that the contract for purchase had limited no time for
completion, and that, therefore, according to the rule in this country, each
party
1972 (2) SA p176
JANSEN AR
was entitled to a reasonable time for doing the various acts which he had to
do. What right then had one party to limit a particular time within which an act
was to be done by the other? It appears to me that he had no right so to do,
unless there had been such delay on the part of the other contracting party as
to render it fair that, if steps were not immediately taken to complete, the
person giving the notice should be relieved from his contract. It has been
argued that there is a right in either party to a contract by notice so to engraft
time as to make it of the essence of the contract where it has not originally
been of the essence, independently of delay on the part of him to whom the
notice is given. In my view there is no such right. It is plain upon principle, as it
appears to me, that there can be no such right. That which is not of the
essence of the original contract is not to be made so by the volition of one of
the parties, unless the other has done something which gives a right to the
other to make it so. You cannot make a new contract at the will of one of the
contracting parties. There must have been such improper conduct on the part
of the other as to justify the rescission of the contract sub modo, that is, if a
reasonable notice be not complied with. That this is the law appears to me
abundantly plain.'
Weliswaar sien de Wet en Yeats, asook de Vos, geen beginselbeswaar teen 'n
dubbele aanmaning nie, maar dit is nie duidelik dat hulle wel die uiterste geval hier
gestel sou aanvaar nie. As die skuldenaar reeds in 'default' is kan daar geen
beswaar teen 'n dubbele aanmaning wees nie.
Op grond van die voorgaande skyn die posisie te wees dat, na aanleiding van die
Engelse reg, in ons regspraak die moontlikheid om deur 'n aanmaning van
terugtreding 'n terugtredingsreg te verwerf aanvaar is ten opsigte van verbintenisse
beide met en sonder tydsbepaling. Die Engelsregtelike vereiste van voorafgaande
'default' (as voorvereiste vir die gee van 'n geldige 'notice of rescission') is ook van
uit die Engelse reg oorgeneem en aangepas. By die verbintenis met tydsbepaling
het mora die plek daarvan ingeneem: dies interpellat pro homine en as by die
vervaldatum nog nie presteer is nie, verkeer die skuldenaar vanaf daardie datum in
mora, en daarna kan 'n geldige kennisgewing van terugtreding gegee word, mits 'n
'redelike' termyn gestel word. By die verbintenis sonder tydsbepaling verkeer die
skuldenaar in ons reg (soos reeds verduidelik nie sonder interpellatio in mora nie; as
die aanmaning egter eers geskied het en as gevolg daarvan die skuldenaar dan in
mora verkeer dan kan 'n geldige aanmaning van terugtreding (wat 'n 'redelike'
termyn stel) sonder meer gegee word. In sodanige geval is die Engelsregtelike
vereiste van voorafgaande 'default' ook bevredig deur die voorafgaande mora. Daar
is egter sake (soos reeds genoem) waarby verbintenisse sonder tydsbepaling,
aanmanings van terugtreding as geldig erken is ondanks die feit dat die skuldenaar
nog nie vooraf deur formele aanmaning in mora gestel is nie. Hier het mora dus nie
die Engelsregtelike voorvereiste van 'default' vervang nie maar aan die ander kant is
die 'default' vereiste nie oorboord gegooi nie: uitdruklik of by implikasie is aanvaar
dat die skuldenaar in 'default' was omdat hy reeds langer as 'n redelike tyd gesloer
het (ondanks dat hy skynbaar nie reeds in mora verkeer het nie omdat nog geen
interpellatio geskied het nie). Hoeveel van die Engelse 'default'-vereiste hier
oorgebly het is nie heeltemal duidelik nie, maar ons regspraak regverdig die stelling
dat nog minstens geverg word dat die skuldenaar geweet het dat prestasie verlang
word en dat hy reeds onredelik lank gesloer het alvorens die kennisgewing van
terugtreding geldiglik gegee kan word. Die posisie volgens ons regspraak kan dus
1972 (2) SA p177
JANSEN AR
as volg opgesom word: in alle gevalle waar 'n skuldenaar reeds in mora verkeer, kan
die skuldeiser 'n terugtredingsreg verwerf deur die skuldenaar 'n aanmaning van
terugtreding te gee. As die skuldenaar nie reeds in mora verkeer nie, kan die
skuldeiser dit nie doen nie behalwe in een uitsonderlike geval: by 'n verbintenis
sonder tydsbepaling kan 'n aanmaning van terugtreding 'n terugtredingsreg laat
ontstaan alhoewel die skuldenaar nie in mora verkeer nie (by ontstentenis van 'n
formele interpellatio ), mits hy in Engelsregtelike 'default' verkeer (wat minstens,
volgens ons regspraak, sou beteken dat die skuldenaar geweet het dat die
skuldeiser prestasie verg en desondanks reeds langer as 'n redelike tydperk gesloer
het).
Hierdie beskouing moet egter nie aanvaar word as enige bevestiging van beslissings
soos Federal Tobacco Works v Barron & Co., supra, nie, wat, gesien skynbaar
grondige kritiek, te gelegener tyd heroorweeg sal moet word. Blote versuim om binne
redelike tyd te presteer word nie nou, by die aanmaning van terugtreding, tot
wanprestasie in die algemeen met 'n terugtredingsreg as direkte regsgevolg verhef
nie, maar word slegs aanvaar as 'n selfstandige grond waarop 'n skuldeiser in
sekere gevalle, deur 'n aanmaning van terugtreding, 'n terugtredingsreg kan verwerf
as die skuldenaar nie reeds in mora is nie maar deur aanmaning ook in mora gestel
kan word.
Die vraag hoe die termyn by 'n aanmaning van terugtrede vasgestel moet word, is al
in ons regspraak behandel in sake soos Young v Land Values, supra; Microutsicos v
Swart, supra; St. Martin's Trust v Willowdene Landowners Ltd., supra. Lg. bespreek
dit die uitvoerigste en moet gelees word in die lig van sekere verdere oorwegings
genoem op appèl (Willowdene Landowners (Pty.) Ltd v St. Martin's Trust,1971 (1)
SA 302 (T)). Met 'n paar algemene opmerkings kan volstaan word. Tussen die
begrip 'redelike termyn' by gewone aanmaning en by aanmaning van terugtreding is
daar 'n wesenlike verskil: by gewone aanmaning is die skuldeiser besig om 'n
kontraktuele reg uit te oefen; by aanmaning van terugtreding wil hy 'n buite-
kontraktuele reg op billikheidsgronde verwerf. Dit volg dat by eg. dit wat die partye by
kontraksluiting voorsien het of moes voorsien het moontlik deurslaggewend is, terwyl
dit nie by lg. die geval sal wees nie. By die aanmaning van terugtreding moet al die
omstandighede in ag geneem word - soos hulle op daardie tydstip heers en in die lig
van wat voorafgegaan het. Om slegs oorweging te skenk aan vertragende faktore
wat voorsienbaar was, sou die toepassing van billikheidsoorwegings te veel aan
bande lê. 'n Opsomming van faktore wat kan geld by bepaling van 'n redelike termyn
kan uit die aard van die saak slegs as leidraad dien, en sou nie as 'n volledige
katalogus beskou kan word nie. (Vgl. Stonham, 1475, hierbo aangehaal).
Daar kan nou tot die onderhawige geval teruggekeer word. Die betoog het
hoofsaaklik gegaan oor twee vrae: of die aanmaning van terugtreding voorbarig was
en of die gestelde termyn redelik was.
Dit is duidelik dat op 13 Junie 1969 toe eiser die aanmaning van terugtrede gedoen
het, hy nog nie 'n 'goedgekeurde bank of ander garansie' verskaf het nie soos in die
kontrak bepaal nie en ook nie 'alle transportkoste, hereregte en ander koste betaal'
het nie. Die verweerder het egter genoeë geneem met die brief van die
bougenootskap
1972 (2) SA p178
JANSEN AR
se prokureurs waarin hy om besonderhede versoek is van enige waarborge wat
verlang word. Trouens, dit was duidelik dat die nodige waarborge op aanvraag
beskikbaar was. Daar was ook geen nodigheid om op daardie stadium die ander
koste te betaal nie, waar dit nog nie eers deur die verweerder beraam was nie. In die
omstandighede kom dit voor dat die kennisgewing van terugtreding nie op hierdie
grond ongeldig was nie. Weliswaar bevat die kennisgewing self nie 'n aanbod om die
waarborg te voorsien nie of die koste te betaal nie, maar in die omstandighede is dit
heel duidelik dat die aanmaning dit behels - daar word verwys na die brief van die
bougenootskap se prokureurs en dat eiser 'al verskeie kere aangebied het om die
transportkoste van ongeveer R300 by u prokureur se kantoor in te betaal'. Dit is ook
nie toe deur die verweerder geopper dat die aanmaning op hierdie grond ongeldig is
nie.
Voorts ontstaan die vraag of verweerder teen 13 Junie 1969 reeds voldoende
versuim het om die moontlikheid van 'n geldige kennisgewing van terugtreding te
skep. Die kontrak is op 6 Oktober 1968 gesluit. Weliswaar was dit voorwaardelik,
maar daar moes die verwagting gewees het dat die lening verkry sou word - reeds
op 3 Desember betrek eiser die huis. Op 11 Februarie 1969 is dit heel duidelik dat
sake so ver gevorder het dat die bougenootskap die nodige waarborge op aanvraag
sou verstrek. Uit die getuienis blyk dit dat, ruimskoots geneem, in die normale loop
van sake, die transport binne drie maande daarna kon geskied het. Die rede waarom
dit nie gebeur het nie, is dat dit toe geblyk het dat die transportakte nie meer by die
bougenootskap was wat 'n verband oor die eiendom gehad het nie. Op 20 Februarie
skryf die hoofkantoor van die bougenootskap vanuit Grahamstad dat die akte in
1962 aan 'n firma prokureurs in Pretoria gestuur is. Verweerder se prokureur doen
navraag en teen ongeveer die einde van die eerste week in April 1969 stel hy vas
dat die akte later vanuit Pretoria weer na prokureurs in Vereeniging gestuur is.
Verdere navrae geskied dan aldaar. Intussen besoek eiser aan die begin van April
verweerder se prokureur en verkry die versekering van hom dat hy (die prokureur) sy
bes doen om die akte te bekom. Aan die einde van April doen eiser weer navraag en
ongeveer 14 dae later weer. Teen 10 Junie 1969 oorweeg verweerder se prokureur
om aansoek om 'n afskrif van die akte te doen, maar op sy beskikbare inligting was
hy toe nog nie seker of die akte wel verlore was nie.
Teen hierdie agtergrond word die aanmaning van terugtreding op 13 Junie 1969
ontvang. Was die verweerder toe in voldoende versuim om die aanmaning te
regverdig? Verweerder het geweet vanaf 11 Februarie dat transport gevra word, en
dit kan aangeneem word dat op 13 Junie 1969 'n redelike tyd reeds verstryk het. (Dit
is egter nie betoog dat verweerder toe in mora was nie - vermoedelik omdat tot op
daardie datum daar nog geen formele interpellatio geskied het nie). Dit sou moeilik
wees om verweerder te verwyt dat hy nie op 11 Februarie reeds geweet het dat die
transportakte soek is nie; hoogstens kan hy verwyt word dat sy prokureur nie ander
mense, op wie se inligting hy moes staatmaak, meer aangedryf het nie en dat hy nie
reeds sekere voorbereidende werk gedoen het nie. Of die versuim in die
omstandighede voldoende 'default' is, vir 'n kennisgewing van terugtreding is
1972 (2) SA p179
JANSEN AR
nie vanselfsprekend nie. Dit sal egter ten gunste van die eiser aanvaar word (sonder
om dit te beslis) dat dit wel die geval is.
Vervolgens moet die vraag behandel word of die gestelde termyn van ongeveer twee
maande 'redelik' was. Dit sou miskien teoreties moontlik gewees het om binne
daardie termyn transport te gelewer het, maar gesien die vermiste akte, die praktiese
moeilikhede om die nodige beëdigde verklarings van mense op verskillende plekke
te verkry, die vertraging verbonde aan die nodige advertensies, ensovoorts, sou dit
baie moeilik gewees het om dit inderdaad reg te kry. Eiser se eie prokureur het
toegegee dat twee maande onbillik kort is as dit alles nog gedoen moes word
(alhoewel hy dit as toereikend vir 'n normale transport beskou het). Die
Verhoorregter was ook hierdie mening toegedaan en dit sou moeilik gaan om van
hom te verskil. Die feit dat 'n termyn in 'n aanmaning van terugtreding in werklikheid
te skraps is, is egter nie noodwendig 'n deurslaggewende aanduiding dat 'n termyn
'onredelik' kort is nie. Waar dit, bv. duidelik is dat meer tyd tog nie sal baat nie, of dat
verdere versuim besondere skade vir die aanmaner sal inhou, is dit denkbaar dat die
termyn nie om daardie rede alleen as onredelik beskou sal word nie. Te geredelike
aanvaarding van 'n moeilik uitvoerbare termyn as 'redelik', sou egter maklik die
aanmaning van terugtreding tot 'n blote kunsgreep verlaag. In die onderhawige geval
is daar nie 'n veelvuldigheid van redes om die kortheid van die termyn te billik nie.
Daar het geen gevaar bestaan dat transport nooit of nie binne afsienbare tyd sou
geskied nie: verweerder was nie onwillig of onvermoënd nie; die enigste
belemmering was die vermiste akte. Wat vewytbaarheid van die verweerder betref
vir die optrede van sy prokureur, het die Verhoorregter die volgende gesê:
'Ek is van mening dat verweerder se prokureur, mnr. Langenhoven, wel hier en daar
'n paar weke kon gespaar het as hy onder die besef van dringendheid was, maar die
algemene prent is tog nie een van onredelike verwaarlosing nie. Hy was afhanklik
van die samewerking van andere, wat by die hele saak geen belang gehad het nie.'
Dit sou moeilik wees om te bevind dat hierdie 'n foutiewe beskouing is. Dit blyk ook
nie dat eiser besig was om voortdurend skade te ly nie, bv. dat in vergelyking met
die rente op die verband en die belastings wat hy na transport sou betaal het, die
betaling van die huurgeld op 'n voortdurende verlies neergekom het nie.
Eiser beroep hom egter veral op die brief van 31 Januarie 1969 waarin die
bougenootskap hom meegedeel het dat 'n lening toegestaan is en waarin die
volgende voorkom:
'Tensy die Vereniging se prokureurs, binne tien dae vanaf die datum van
hierdie kennisgewing voorsien word van, en goedkeur, al die stukke en
besonderhede wat hulle nodig het om die verband te kan registreer kan die
bewilliging van die lening sonder kennisgewing teruggetrek word. Verder
behou die direkteure ook die reg om, om watter rede ook al, die bewilliging te
eniger tyd voordat die verband geregistreer is te kanselleer.'
Versuim sou dus, volgens eiser, die gevaar ingehou het van terugtrekking van die
lening. Dit blyk egter nie dat die bougenootskap voor 13 Junie ongeduld openbaar
het nie. Toe hy die aanmaning gestuur het, het eiser geweet van die vermiste akte
en dat dit die rede vir die vertraging is; dit blyk nie dat hy geweet het die
bougenootskap werklik sy lening sou terugtrek nie. Dat daar wel sodanige gevaar
bestaan het, moet egter aanvaar word. Trouens, op 17 Junie (nadat die aanmaning
reeds afgestuur is) skryf die bougenootskap:
1972 (2) SA p180
JANSEN AR
'Dit spyt ons nou om u mee te deel dat indien die lening nie binne 'n maand
van datum hiervan geregistreer is nie, of indien u ons die versekering kan gee
dat dit in die nabye toekoms geregistreer sal word, sal ons dit moet oorweeg
om van die lening terug te trek. Dit verhoed u natuurlik nie om weer aansoek
te doen vir die lening op 'n tydstip wanneer registrasie kan geskied sonder
enige onnodige tydsverspil nie.'
Die bougenootskap het toe ook inderdaad op 22 Augustus 1969 die lening
teruggetrek. Tog lyk dit waarskynlik uit die getuienis dat as eiser stappe gedoen het
om die bougenootskap gerus te stel dit nie sou gebeur het nie. Bowendien was 'n
heraansoek ooreenkomstig die brief van 17 Junie nie uitgesluit nie.
Word nou die hele posisie in oënskou geneem, soos op 13 Junie 1969 en in die lig
van wat voorafgegaan het, dan blyk dit aan die een kant o.a. dat eiser al meer as 'n
redelike tyd vir transport gewag en dat hy gretig was om dit te kry, dat daar
deurgaans die moontlikheid bestaan het dat die bougenootskap die lening kon
terugtrek; aan die ander kant het eiser nie die moeite gedoen om 'n vroeër tydstip
verweerder in mora te stel nie en aldus homself teen skade as gevolg van die
versuim te vrywaar nie, het hy nie die bougenootskap geraadpleeg nie, en het hy
skielik sonder verdere navraag 'n termyn gaan stel wat vir verweerder dit baie
moeilik, indien nie feitlik onmoontlik nie, gemaak het om betyds te presteer. Ondanks
die lang tydsverloop sedert die 11de Februarie en die feit dat ten spyte van die
vermiste akte spoediger opgetree kon gewees het, wil dit tog blyk dat die gevaar van
die terugtrekking van die lening nie so onmiddellik en onafwendbaar was dat die
eiser gebillik was om op 13 Junie 'n termyn te stel wat nie voldoende tyd vir transport
gelaat het nie. In die omstandighede moet die termyn as onredelik bestempel word
en die aanmaning van terugtreding as ongeldig vir die doel om 'n terugtredingsreg te
laat ontstaan. M.i. moet die appèl met koste afgewys word.
POTGIETER, A.R., het met JANSEN, A.R., saamgestem.
Appellant se Prokureurs: Couzyn, Hertzog en Horak, Pretoria; Naudé en Naudé,
Bloemfontein. Respondent se Prokureurs: Dyason, Douglas, Muller en Meyer,
Pretoria; McIntyre en van der Post, Bloemfontein.
SAFLII Note: This case was originally published by Juta and Company (Pty) Ltd. Juta retains copyright
as far as it subsists.