SAFLII Note: This case was originally published by Juta and Company (Pty) Ltd. Juta retains copyright
as far as it subsists.
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
CULLINAN APPELLANT
V
NOORDKAAPLANDSE AARTAPPELKERNMOERKWEKERS KOÖPERASIE BPK
RESPONDENT
Parallel citation: 1972 (1) SA 761 (A)
Coram: Ogilvie Thompson HR, Rumpff AR, Potgieter AR, Jansen AR en Rabie AR
Heard: September 9, 1971
Judgment: November 22, 1971
UITSPRAAK
Case Information
Appèl teen 'n beslissing in die Noord-Kaapse Afdeling (DE VOS HUGO, R.P.). Die
feite blyk uit die uitspraak van POTGIETER, A.R.
G. A. Coetzee, Q.C. (bygestaan deur M. D. J. Steenkamp ), namens die appellant:
Die leerstuk ten opsigte van verkryging van regte deur 'n versweë prinsipaal
(undisclosed principal) is alreeds vir bykans 'n eeu deel van ons geldende reg. Kyk
Lippert & Co. v Desbats, 1869 Buch. 189; O'Leary and Another v Harbord, 5 H.C.G.
op bl. 11 e.v.; Wingrove v Goodchild, 6 H.C.G. op bl. 166; Judelson & Cohen v
Bootha and Others, 1913 T.P.D. op bl. 750; Avis v Highveld Supply Stores, 1925 AD
410; Natal Trading and Milling Co. v Inglis, 1925 T.P.D. op bl. 726 - 7; Chappell v
Gohl, 1928 CPD op bl. 51; Martian Entertainments (Pty.) Ltd. v Berger, 1949 (4) SA
op bl. 603; Miller en 'n Ander v Pienaar, 1968 (3) SA op bl. 204D - 205E; de Villiers &
Macintosh, Law of Agency, 2de uitg., bl. 232 - 234; Halsbury, band (1), bl. 169 en
228; Bowstead on Agency, 13de uitg., bl. 272 - 280. Wanneer 'n regsreël so
ingeburger is, is dit nie die funksie van hierdie Hof om dit te verwyder nie, maar is dit
die taak van die Wetgewer indien so 'n stap die aangewese is na behoorlike
ondersoek. Kyk Tjollo Ateljees (Edms.) Bpk. v Small, 1949 (1) SA op bl. 860;
Kroonstad Westelike Boere Ko-op. v Botha, 1964 (3) SA op bl. 570H - 572C. Daar
het egter gedurende
1972 (1) SA p762
die afgelope eeu geen regterlike stemme daarteen opgegaan nie en dit word aan die
hand gedoen dat dit 'n handige deel van ons reg is wat nut het in die handelsverkeer
en eerder verder uitgebou en verfyn kan word. 'n Agent is regtens bevoeg om vir
meer as een verklaarde prinsipaal op te tree. Die mate van sy gebondenheid teenoor
derdes wissel in verhouding met die mate van sy deelname in die agentskap. Kyk De
Villiers & Macintosh, supra op bl. 41; Voet, 17.1.10 (Gane, Select. Voet, band 3, bl.
204); Chiappini v George, 1 Menz 303. Dit is regtens bevoeg vir 'n persoon om deels
as agent vir ander persone en deels vir homself in een en dieselfde kontrak op te
tree. Dit gebeur dikwels dat een vennoot homself verbind terwyl hy ook die
vennootskap en ander vennote verteenwoordig en sodoende die vennootskap en die
ander vennote bind. Kyk Eaton & Louw v Arcade Properties (Pty.) Ltd., 1961 (4) SA
op bl. 240. In hierdie opsig is daar geen prinsipiële verskil in die regsposisies van
versweë en geopenbaarde prinsipale nie. In die Hof a quo is gesteun op American
Restatement (Agency ), para. 187, 305. Sien ook Beckhusen v Hamblet, (1901) 2
Q.B. 18; May v Angeli, (1897) 13 L.T.R. 568; Dunlop Tyre Co. Ltd. v Selfridge & Co.
Ltd., 1915 A.C. 847. Hierdie Amerikaanse algemene stellings het nie
oortuigingswaarde nie. Daar kan alleen 'n splitsing van aksie wees indien daar slegs
een reg van aksie ontstaan het, maar indien daar meer as een aksie bestaan, dan
kan daar nie sprake van splitsing van 'n reg van aksie wees nie. 'n Ondeelbare
vordering kan nie gedeeltelik gesedeer word nie, en die rede daarvoor is juis die feit
dat dit 'n enkele ondeelbare vordering is. Kyk Spies v Hansford & Hansford Ltd.,
1940 T.P.D. op bl. 7; Blaikie & Co. Ltd. v Lancashire, N.O., 1951 (4) SA op bl. 573;
Lief, N.O. v Dettman, 1964 (2) SA op bl. 275F; Windrum v Neunborn, 1968 (4) SA op
bl. 294A. Maar indien daar van die begin af meer as een vorderingsreg tot stand
gekom het en daardie vorderingsregte word apart, maar elkeen in sy geheel
gesedeer, dan druis dit nie in teen bogemelde beginsel nie. Vgl. De Villiers &
Macintosh, supra, bl. 11 - 12; Marsh v Van Vliet's Collection Agency, 1945 T.P.D. op
bl. 30. Die feit dat daar alternatiewe vorderingsregte vir die respondent om die
koopprys van die moere te verhaal tot stand gekom het, kan nie regtens verhoed dat
daar ten opsigte van hierdie versweë prinsipale meer as een kontrak tot stand
gekom het nie. Dit beteken slegs dat die respondent meer as een alternatiewe
vorderingsreg verkry het vir verhaal van die koopprys wat hy na wense kan uitoefen.
Natal Trading & Milling Co. v Inglis, supra op bl. 727. Die feit dat daar in Judelson &
Cohen v Bootha and Others, supra op bl. 750, beslis is dat die Romeinse Hollandse
reg nie 'n sessie van regte deur die agent aan sy prinsipaal vereis het nie, beslis niks
meer as dat dit nie vir agent nodig is om van sy regte aan sy versweë prinsipale te
sedeer nie want sodanige regte ontstaan de jure. Dit is ook nie gesag vir die stelling
dat daar slegs een kontrak tot stand kan kom nie.
M. E. Kumleben, S.C. (bygestaan deur N. M. Zietsman ), namens die respondent:
Volgens die leerstuk van die 'versweë prinsipaal' verkry die versweë prinsipaal
kontraktuele regte, wat hy mag uitoefen, waar sy 'agent' 'n kontrak sluit met die
bedoeling om as agent namens hom op te tree, hoewel hy uiterlik in eie naam
gehandel het. De Villiers & McIntosh, The law of Agency in South Africa, 2de uitg.,
bl. 234. Hierdie
1972 (1) SA p763
leerstuk druis in teen erkende beginsels van kontrakte - en verteenwoordigingsreg:
waar twee kontrakterende partye in eie naam 'n kontrak sluit behoort daar 'n
regsverhouding slegs tussen hulle twee te ontstaan. De Wet & Yeats, Kontraktereg
en Handelsreg, 3de uitg., bl. 87. Daarna behoort die erkende en doeltreffende reëls
van cessie (en delegasie) vir die oordrag van regte (en verpligtinge) te geld. Die feit
dat die identiteit van die partye 'n wesentlike bestanddeel van 'n ooreenkoms is,
word deur hierdie leerstuk oor die hoof gesien. De Wet & Yeats, supra, bl. 89; Bird v
Sumerville and Another 1961 (3) SA te bl. 203D - E. Dit verontagsaam ook die
erkende beginsel dat dit by kontraksluiting die openbaarde mededeling is wat die
inhoud van 'n kontrak bepaal en nie die reservatio mentalis van een kontrakterende
party nie. Vg. Ocean Cargo Line Ltd. v F. R. Waring (Pty.) Ltd., 1963 (4) SA te bl.
653. Vir verdere kritiek op hierdie leerstuk word na die volgende gesaghebbendes
verwys: De Wet & Yeats, supra, bl. 87 - 89; Bowstead on Agency, 13de uitg., bl. 273;
The Law Quarterly Review, band 3, (1887), bl. 359; band 12 (1898), bl. 204; Corbin
on Contracts, band 3, para. 603, bl. 623. Die nodigheid vir hierdie leerstuk is ook te
betwyfel aangesien dieselfde voordeel of doel deur cessie (of delegasie) bereik kan
word. Enige uitbreiding, of verdere toepassing, van hierdie leerstuk is ongewens en
onnodig. Waar 'n kontrakterende party ('die agent') uiterlik en wesentlik een kontrak
sluit ontstaan daar inderdaad net een ondeelbare vordering, wat hy mag afdwing.
Volgens hierdie leerstuk mag 'n ander persoon (die 'versweë prinsipaal') dit in die
genoemde omstandighede toeeien. Daar is steeds een vorderingsreg maar 'n
vervanging van persona vind plaas. Vgl. Corbin, supra, para. 603, bl. 624. Enige
erkenning van 'n afsonderlike vorderingsreg aan verskeie versweë prinsipale sal
neerkom op 'n splitsing van hierdie een vorderingsreg en 'n vermenigvuldiging van
aksies tot nadeel van die ander kontrakterende party. Vgl. Spies v Hansford &
Hansford Ltd, 1940 T.P.A. te bl. 7, 9; Blaikie & Co. v Lancashire N.O., 1951 (4) SA te
bl. 576A - D; De Wet & Yeats, supra, bl. 183; Windrum v Neunborn, 1968 (4) SA te
bl. 294A - C. Hierdie vergelyking met die regsreël in verband met gedeeltelike cessie
is des te meer toepaslik indien aanvaar word dat die leerstuk eintlik as 'n vorm van
cessie beskou moet word of op die grondslag van cessie verklaar moet word.
Bowstead, supra, art. 89, bl. 273 en 274; Corbin, supra, bl. 624; Judelson & Cohen v
Bootha and Others, 1913 T.P.D. bl. 750. Indien die moontlikheid van verskeie
afsonderlike versweë prinsipale aanvaar word, sal hierdie leerstuk met 'n verdere
anomalie belas word. Regstreeks inter partes ontstaan daar slegs een vorderingsreg
(wat die 'agent' nie deur gedeeltelike cessie of andersins mag 'opsplits' nie). Maar,
op 'n aanvaarding van appellant se stelling, word afsonderlike vorderingsregte erken
waar ander persone (die versweë prinsipale), tussenby tree. Gevolglik word die reg
aan slegs een prinsipaal (d.w.s. een kontrakterende entiteit) verleen om tot 'n
ooreenkoms toe te tree. Deur 'n 'kontrakterende entiteit' word bedoel een persoon of
'gesamentlike mede-skuldeisers'. Vgl. Voet 19.1.1 (Gane se vertaling, band 3, bl.
375); De Wet & Yeats, supra te bl. 93. Ons skrywers handel nie pertinent met die
regsvraag nou in geskil nie. Dit is egter betekenisvol dat hulle konsekwent na 'n
versweë prinsipaal verwys wat in sekere omstandighede die kontraktuele regte mag
uitoefen. Dit word aan die hand
1972 (1) SA p764
POTGIETER AR
gedoen dat dit tot 'n mate steun verleen aan die mening hierbo uiteengesit. Vlg. De
Villiers & McIntosh, supra, bl. 234. Daar is wel prinsipieël 'n verskil tussen die
regsposisie van versweë prinsipale en dié van openbaarde prinsipale. Simon v
Breeker, 1904 T.S. te bl. 750. Sien ook Restatement of the Law of Agency (1933)
para. 305, bl. 681, 682; para. 187, bl. 433. 'n Vennoot, wat namens die vennootskap
as versweë prinsipaal optree, handel namens die vennote as 'n entiteit (d.w.s. die
vennote is gesamentlike mede-reghebbendes). Slegs in dié sin handel hy ook
'namens homself' en daar is regtens geen beswaar daarteen nie.
Coetzee, Q.C., in repliek.
Cur. adv. vult.
Postea (November 22).
Judgment
POTGIETER, A.R.: Appèl in hierdie saak is aangeteken teen die bevel van die
REGTER-PRESIDENT van die Noord-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof van
Suid-Afrika, wat sekere eksepsies gehandhaaf het en beveel het dat sekere
gewraakte dele van die verweerskrif en teeneis geskrap word. Ingevolge art. 20 (3)
van die Wet op die Hooggeregshof, 59 van 1959, het die partye ooreengestem dat
die appèl direk voor hierdie Hof dien.
In die Hof a quo het respondent (hierna 'eiser' genoem), 'n kooperatiewe vereniging
wat handel dryf te Douglas as verskaffers van aartappelmoere, appellant (hierna
'verweerder' genoem) aangespreek vir betaling van die bedrag van R7 500 plus 6
persent rente a tempore morae. In sy konklusie van eis beweer eiser dat gedurende
Januarie 1969 hy en verweerder 'n ooreenkoms aangegaan het waarvolgens eiser
aan verweerder 3 000 kissies saadaartappel-moere verkoop het teen 'n koopprys
van R7 500 welke koopprys op aanvraag deur verweerder betaalbaar was. Voorts
word dit beweer dat eiser die voornoemde saadaartappel-moere gedurende Januarie
1969 aan verweerder gelewer het en dat laasgenoemde weier om die koopprys aan
eiser te betaal. In sy verweerskrif beweer verweerder dat eiser aan hom meer
verskuldig is as die koopprys en verwys na sy teeneis. Daarin beweer verweerder
o.a. dat, hoewel hy met eiser 'n koopkontrak aangegaan het ten opsigte van 3 000
kissies saadaartappels, hy in werklikheid opgetree het namens homself en namens
twee versweë prinsipale, 'n sekere Strydom en 'n sekere de Lange. Sy bewering is
dat hy namens Strydom 2 500 kissies gekoop het en namens homself en de Lange
elk 250 kissies. Weens 'n siekte in die gelewerde saadaartappels het al drie van
hulle skade gely en die twee versweë prinsipale het elkeen sy reg op
skadevergoeding teenoor eiser aan verweerder gesedeer.
In sy nadere besonderhede tot die teeneis beweer verweerder dat hy as agent vir die
twee ander persone opgetree het; dat hy nooit aan eiser bekend gemaak het dat hy
namens hulle opgetree het nie; en dat hy slegs een koopkontrak met eiser
aangegaan het.
Teen die verweerskrif het eiser eksepsie aangeteken op grond daarvan dat dit geen
verweer openbaar nie en wel om die volgende redes:
'(a) Dit word verkeerdelik beweer dat die twee 'versweë prinsipale'
aanspreeklik is vir die koopprys van die balans van 2 025 kissies.
1972 (1) SA p765
POTGIETER AR
(b) Insoverre verweerder staatmaak op die bewerings in sy teeneis en die
beweerde skade gely deur die gemelde twee persone en sessie van hulle
vorderingsregte aan verweerder om aanspreeklikheid vir betaling van die volle
koopprys ontken, verwys eiser na die kennisgewing van eksepsie tot die
teeneis en die redes daarin vermeld word hierin herhaal.'
Voorts het eiser eksepsie aangeteken teen die teeneis wat gebaseer is op skade
gely deur die gesegde Strydom en de Lange ten bedrae van R67 341 en R5 306 en
die sessie van sodanige vorderinge aan verweerder op grond daarvan dat geen
skuldoorsake openbaar word nie en dat dit regtens ongegrond is om die redes
hieronder uiteengesit;
'(a) Verweerder beweer dat een koopkontrak tussen hom en eiser gesluit is
waarin hy in eie naam asook as agent vir Strydom en de Lange, synde
versweë prinsipale ('undisclosed principals'), opgetree het en dat daardeur die
gesegde drie persone regte ingevolge die gemelde regshandeling verkry het.
(b) Dit is regtens onbevoeg vir 'n agent of verteenwoordiger om afsonderlik
namens meer as een versweë prinsipaal ('undisclosed principal') op te tree en
daardeur enige kontraktuele regsverband tussen die ander kontrakterende
party en sodanige prinsipale te skep of, alternatiewelik, om daardeur enige
vorderingsregte ten gunste van sodanige prinsipale te laat ontstaan.
(c) Dit is regtens onbevoeg vir 'n agent of verteenwoordiger cm in een
koopkontrak deels as prinsipaal en deels namens een of meer onbepaalde
prinsipale op te tree en daardeur enige kontraktuele regsverband tussen die
ander kontrakterende party en die gemelde prinsipaal of prinsipale te skep of,
alternatiewelik, om enige vorderingsregte ten gunste van sodanige prinsipaal
of prinsipale te laat ontstaan.
(d) Uit hoofde van die voorafgaande is dit regtens ongegrond om te beweer
dat enige regte ingevolge die sessie aan verweerder oorgedra is.
(e) Die leerstuk van die 'versweë prinsipaal' vorm nie deel van ons reg nie en
geen regte ingevolge die gemelde koopkontrak word deur òf Strydom òf de
Lange synde 'undisclosed principals' verkry nie.'
In die alternatief het eiser aansoek gedoen vir deurhaling van sekere paragrawe in
die verweerskrif en teeneis. Die aansoek vir deurhaling is klaarblyklik afhanklik van
die beslissing op die eksepsies en gevolglik is in die Hof a quo en in hierdie Hof
argumente slegs ten opsigte van die eksepsies gerig.
'n Ontleding van die pleitstukke toon dat eers uit die verweerskrif dit geblyk het dat
verweerder nie slegs namens homself die ooreenkoms met eiser gesluit het nie,
maar dat dit aangegaan is namens homself en namens Strydom en de Lange.
Laasgenoemde twee persone was dan versweë prinsipale tydens die kontraksluiting.
Wat die eerste grond van die eksepsie teen die verweerskrif betref het die Regter a
quo heeltemal tereg, na my oordeel, beslis dat dit 'n misvatting is, aangesien dit
duidelik is dat dit nie in die verweerskrif beweer word dat die twee 'versweë
prinsipale' aanspreeklik is vir die koopprys van die 2 025 kissies moere nie, maar dat
die onderskeie kopers daarvoor verantwoordelik is. Hierdie verkeerde grond van
eksepsie affekteer egter nie die eksepsies as geheel nie en dit word daar gelaat.
Die Regter a quo het die pleitstukke geanaliseer en het soos volg voortgegaan:
'Volgens hierdie analise is die posisie dus dat die verweerder, wat
verantwoordelikheid vir die koopprys betref, in sy pleit net verantwoordelik vir
sy deel van die 3 000 kissies moere aanvaar en aan die eiser vir Strydom en
de Lange aanwys as die kopers wat vir die restant van die koopprys van die
moere verantwoordelik is, en dat die verweerder in sy teeneis, namens
homself en Strydom en de Lange, teen die eiser al die eise konsolideer wat
hyself en Strydom en de Lange, uit hoofde van die koopkontrak vir die 3 000
kissies, teen die eiser mag hê. Wat verantwoordelikheid vir die koopprys
betref staan
1972 (1) SA p766
POTGIETER AR
die eiser en Strydom en de Lange dus as debiteurs teenoor die eiser apart
maar wat skadevergoeding betref staan hulle as krediteurs in naam van die
verweerder saam teenoor die eiser. Die toeleg is klaarblyklik dat die eiser die
hele alternatiewe prestasie van skadevergoeding ten opsigte van die hele
besending kissies uit hoofde van die cessie van regte aan die eiser moet
vergoed en dat die eiser daarteen net die eiser se pro rata deel van die
koopprys kan verhaal en dat hy vir Strydom en de Lange afsonderlik vir hulle
pro rata dele van die koopprys moet aanspreek. As hulle sou weier om te
betaal dan sou die eiser verplig wees om afsonderlike aksies teen hulle in te
stel. In sulke aksies sal die partye dan gebonde wees aan die bepalings van
die ooreenkoms wat tussen die eiser en die verweerder aangegaan is.'
Hoewel die Regter a quo sekere bedenkinge uitgespreek het of die leerstuk van die
'undisclosed principal' deel van ons reg is, het hy desnieteenstaande aanvaar dat dit
wel die geldende reg is.
Die Regter a quo het voorts bevind dat die regte van 'n agent en sy prinsipaal
alternatiewe regte is en dat 'n derde party die een of die ander van hulle kan
aanspreek en wel vir die hele prestasie; en dat die een of die ander van hulle die
derde party kan aanspreek vir die hele vordering wat teen sodanige party mag
ontstaan as gevolg van die kontrak wat deur die agent aangegaan is. Die kontrak
tussen die derde party en die agent, so gaan hy voort, skep vir elkeen van hulle 'n
enkele skuldoorsaak en elkeen het dus 'n enkele vorderingsreg teenoor die ander.
Die derde party (d.w.s. die eiser in die onderhawige saak) het dus die reg om die
hele vordering waarop hy geregtig is, van die agent (die verweerder in die
onderhawige saak) as die enigste party waarvan hy weet te verhaal. So ook het die
verweerder sy vorderingsreg teen die eiser. Ten besluite het die Regter a quo bevind
dat net so min as wat 'n enkele vorderingsreg nie sonder toestemming van die
debiteur gedeeltelik gesedeer kan word nie, net so min kan 'n krediteur deur 'n
debiteur gedwing word om, sonder die krediteur se toestemming, deel van die
vorderingsreg wat die krediteur teen die debiteur het van ander persone te gaan
verhaal.
In hierdie Hof het mnr. Coetzee, ten behoewe van appellant, aangevoer dat, wat ook
al die posisie in die Romeins-Hollandse reg was, die Howe in Suid-Afrika reeds vir
meer as 'n honderd jaar aanvaar het dat die leerstuk van die 'undisclosed principal',
soos dit in die Engelse reg bestaan, ook die gangbare reg in Suid-Afrika is. Mnr.
Kumleben, ten behoewe van respondent, het daarop gewys dat, volgens erkende
beginsels van die Romeins-Hollandse reg, dié leerstuk in daardie regstelsel geen
aanwending kan vind nie. Hy het ook die Hof se aandag gevestig op kritiek wat in
Suid-Afrika, sowel as in Engeland, waar die leerstuk ontstaan het, daarteen
opgewerp is. Hy het egter uitdruklik verklaar dat hy nie betoog dat die leerstuk nie
deel van ons reg is nie, dog dat dit streng beperk moet word tot een versweë
prinsipaal.
Dit skyn asof dié leerstuk nooit deel van die Romeins-Hollandse reg uitgemaak het
nie en dat dit ontleen is aan die Engelse reg. (Sien de Wet en Yeats, Kontraktereg
en Handelsreg, 3de uitg., bl. 87; Voet, 17.1.9, en 14.3.6; Schorer se aantekening nr.
36 op de Groot, Inleyding, 3.1.31).
Sover vasgestel kan word uit die gewysdes is die leerstuk in Suid-Afrika vir die
eerste maal toegepas in die saak van Lippert and Co. v Desbats, 1869 Buch. 189.
Ofskoon Romeins-Hollandse reg sowel as Engelseregtelike gesaghebbendes
aangehaal is, het die Hof die Engelse reg aanvaar en beslis dat die versweë
prinsipaal regte verkry het uit
1972 (1) SA p767
POTGIETER AR
'n ooreenkoms wat tussen sy agent en 'n derde persoon aangegaan is. In 1888 het
die beslissing van O'Leary and Another v Harbord, 5 H.C.G. 1, gevolg. Die Hof het
erken dat Voet, 17.1.9, 'n ander mening daarop nahou, dog het hom gebonde geag
om Lippert se saak te volg. Ná hierdie gewysde is die Engelse leerstuk eenvoudig
gevolg asof dit deel is van ons reg. (Sien Judelsen and Cohen v Bootha and Others,
1913 T.P.D. 747; Natal Trading and Milling Co. v Inglis, 1925 T.P.D. 724 op bl. 726;
Chappell v Gohl, 1928 CPD 47 op bl. 51; Don Shoe Co. (Pty., O.F.S. ) v Goodman
Bros., 1931 OPD 26, en ander gewysdes in die Provinsiale en Plaaslike Afdelings).
In hierdie Hof is in twee gewysdes, sonder dat enige argument in dié verband
aangehoor is, sonder meer veronderstel dat die leerstuk deel van ons reg is. (Sien
Avis v Highveld Supply Stores, 1925 AD 410; Muller en 'n Ander v Pienaar, 1968 (3)
SA 195 (AD) op bl. 204E).
Ten spyte van die feit dat die leerstuk reeds vir meer as twee eeue in die Engelse
regstelsel toegepas word, is daar van oudsher af al kritiek daarteen uitgeoefen
aangesien dit in dié stelsel, net soos in die Romeins-Hollandse reg, indruis teen die
basiese beginsels van die kontraktereg en aangesien daar bykans tevergeefs
gesoek word na 'n basis wat as rede gevind kan word vir die ontstaan van die
leerstuk. (Sien The The Quarterly Review, band 3 (1887), bl. 359; The Law Quarterly
Review, band 12 (1896), bl. 204; The Law Quarterly Review, band 14 (1898), bl. 2;
Bowstead on Agency, 13de uitg., bl. 273; S. J. Stoljar, The Law of Agency, bl. 228
e.v.; G. H. L. Fridman, The Law of Agency, bl. 72).
Dit ly geen twyfel nie dat, wanneer 'n regsreël uit 'n ander regsisteem ingevoer word
en daardie regsreël in stryd is met die grondbeginsels van ons reg, na my oordeel,
gewoonweg 'n beroep gedoen sou kon word op wat hierdie Hof self in Regal v
African Superslate (Pty.) Ltd., 1963 (1) SA 102 (AD) op bl. 120, aangaande die
Engelse reg van 'nuisance', en die beslissings van ons Howe daaromtrent, gesê het,
as ook op wat hierdie Hof, in S. v Bernardus, 1965 (3) SA 287 (AD) op bl. 296 tot
298, aangaande die versari- leer verklaar het.
Ofskoon, soos ek reeds opgemerk het, die leerstuk van die versweë prinsipaal
inderdaad indruis teen die grondbeginsels van ons reg, is die onderhawige myns
insiens nie 'n geval waar ingegryp en die leerstuk oorboord gegooi kan word nie, en
wel om die redes wat ek hieronder uiteensit.
Die aantal gewysdes waarin die beginsel erken is en wat loop oor 'n lang periode, is
'n aanduiding dat die beginsel al vir byna honderd jaar in die handelsverkeer
toegepas is. Ek reken ook dat hierdie Hof kennis daarvan kan neem dat in die
praktyk dit al vir byna honderd jaar toegepas is op die gebiede van agentskap en
koop en verkoop, wat 'n aansienlike deel uitmaak van die alledaagse
handelsverkeer. Ongetyfeld is daar in die resente verlede talle transaksies
aangegaan waar partye tot sodanige transaksies regte verkry het en verpligtinge
aangegaan het as gevolg van die toepassing van dié leerstuk. Indien hierdie Hof
derhalwe nou sou beslis dat dit nie geldende reg is nie, sou sodanige partye tot
sulke transaksies skielik voor die feit te staan kom dat vermeende regte en
verpligtinge nie meer bestaan nie. So 'n beslissing deur hierdie Hof
1972 (1) SA p768
POTGIETER AR
sou retrospektiewe uitwerking hê en, anders as by 'n wetvoorskrif, kan bestaande
regte en verpligtinge nie bewaar word nie. (Vgl. The Mine Workers' Union v Prinsloo,
1948 (3) SA 831 (AD) op bl. 852).
Om die redes hierbo genoem is ek van oordeel dat die betrokke leerstuk so
ingeburger is dat hierdie Hof verplig is om dit as geldende reg te beskou. Trouens
mnr. Kumleben het tereg ons aandag gevestig op art. 16 van die Wet op Hereregte,
40 van 1949. Hy het ook verwys na die beslissing van hierdie Hof in Wendywood
Development (Pty.) Ltd. v. Rieger and Another, 1971 (3) SA 28. In dié saak is die
betekenis van sekere artikels uit vóór - Unie wetgewing bespreek asook art. 16 van
die Wet op Hereregte. Hy het aan die hand gedoen dat die leerstuk onder
bespreking deur die betrokke wetgewing by implikasie aanvaar is. In dié beslissing
word verwys na art. 30 van Wet 5 van 1884 (K) sowel as na die aanhef en art. 8 van
Wet 15 van 1855 (K). Art. 16 van die Wet op Hereregte, 40 van 1949, is verwant aan
die bogenoemde vóór-Unie wetgewing en luis soos volg:
'(1) Waar eiendom verkoop word aan iemand wat namens iemand anders
optree, moet die persoon wat aldus optree die naam en adres van die
prinsipaal namens wie hy optree aan die verkoper of sy agent openbaar -
(i) indien die verkoping by veiling geskied, onmiddellik na aanname deur die
afslaer van sy aanbod; of
(ii) indien die verkoping op 'n ander wyse dan by veiling geskied, onmiddellik
na sluiting van die koopkontrak.
(2) Iemand wat in gebreke bly om aan die bepalings van sub-art. (1) te
voldoen, word vir die betaling van die hereregte wat ten opsigte van die
verkryging van die betrokke eiendom betaalbaar is. vermoed die eiendom vir
homself te verkry het tensy die teendeel bewys word.'
Op bl. 39 van die Wendywood- saak het DIEMONT, WN - A.R., gesê:
'Sec. 30 of the Cape Act deals with the case where the purchaser discloses
that he has a principal but does not name him, whereas sec. 16 of the Union
Act deals with the case where there has been no disclosure of a principal
whatsoever.'
Hieruit blyk dit duidelik dat art. 16 van die Hereregtewet die bestaan van die betrokke
leerstuk aanvaar. Hiermee is ek dit eens. Ek kan my nouliks voorstel dat art. 16 op
dié wyse opgestel sou gewees het indien die Wetgewer nie aanvaar het dat 'n agent
regtens namens 'n versweë prinsipaal 'n koopkontrak kon sluit nie. Dit wil my dus
voorkom of die Wetgewer die bestaan van die leerstuk van die versweë prinsipaal
aanvaar. Of dit geregverdig is om die vroeëre wetgewing en art. 16 elk so eng uit te
lê soos in die passasie in Wendywood se saak hierbo aangehaal en of dit die juiste
en enigste grond is waarop die twee versoen kan word, hoef ek my nie uit te spreek
nie.
In die verbygaan kan daarop gewys word dat die reël skynbaar nie onbillike of
onregverdige gevolge vir kontrakterende partye tot stand gebring het nie. Trouens,
ofskoon selfs in die Amerikaanse en Engelse reg daar kritiek uitgeoefen is op dié
leerstuk, word tog ook aanvaar dat, vir sover dit die handelsverkeer betref, dit in die
praktyk doeltreffend werk. In Corbin on Contracts, 2de uitg., para. 603, bl. 623, wat
oor die Amerikaanse reg handel, sê die outeur:
'The agent who contracts as principal is bound exactly as if he were principal.
The other contractor gets everything that he contemplates; somewhat more,
indeed, for on disclosure of the agent's principal, he can hold that party also. It
is true that the undisclosed principal can also enforce the contract against
him. This comes as a surprise, and may give some disagreeable sensations;
but this is not regarded as so serious as to cause injustice. The law of agency
developed in that fashion in spite of objections often made; and such is the
result. The fact that the undisclosed principal can sue on the contract
1972 (1) SA p769
POTGIETER AR
does not change in any way the terms or conditions of that contract. If the
contract required a performance by the ostensible principal who made the
contract, that requirement persists throughout. The matter is dealt with exactly
as it is in the case of assignment; and the undisclosed principal sues exactly
as if he were an assignee. No more than in case of assignment is there a
mistake of parties.'
In Fridman on Agency, wat handel oor die Engelse reg, sê die outeur:
'This anomalous doctrine has been heavily criticised as being 'unsound',
'inconsistent with elementary principles' and 'unjust'. However, its origin, while
uncertain, seems of reasonable antiquity, substantial solidity and eminent
judicial respectability.'
Om die voorafgaande redes is ek die mening toegedaan dat die betrokke leerstuk as
geldende reg beskou moet word.
Die advokaat vir eiser het in oorweging gegee dat, gesien die twyfelagtige gronde
waarop die leerstuk berus, dit nie uitgebrei moet word nie om toe te laat dat 'n agent,
wat in sy eie naam met 'n derde party kontrakteer, in werklikheid vir meer as een
versweë prinsipaal optree wat tot gevolg het dat daar, wat hulle betref, afsonderlike
en oneweredige verpligtinge en regte teenoor die derde party tot stand kom.
Die advokaat vir verweerder, daarenteen, het betoog dat, sodra aanvaar word dat
sodanige regte en verpligtinge ten opsigte van een versweë prinsipaal tot stand kom,
daar in beginsel geen beletsel is dat sodanige verpligtinge en regte kan ontstaan
waar 'n agent optree namens meer as een versweë prinsipaal nie. Hy het voorts in
oorweging gegee dat 'n agent regtens bevoeg is om vir meer as een verklaarde
prinsipaal op te tree en dat daar geen prinsipiële verskil is in die regsposisies van
versweë en geopenbaarde prinsipale nie. In die onderhawige geval, so lui die
betoog, het appellant bedoel dat daar drie kontrakte tot stand moes kom en indien
appellant as agent vir Strydom en de Lange as genoemde prinsipale opgetree het,
sou daar drie kontrakte tot stand gekom het. Die vraag word dan gestel waarom daar
net een kontrak tot stand gekom het indien appellant namens homself en as agent
vir Strydom en de Lange as versweë prinsipale opgetree het.
In die onderhawige geval blyk dit duidelik uit die verweerskrif en die teeneis dat
verweerder (die agent) in sy eie naam gekontrakteer het met eiser, dog in
werklikheid afsonderlik namens homself vir die lewering van 250 kissies moere, vir
de Lange vir 250 kissies en vir Strydom vir 2 500 kissies moere, opgetree het. Dit sal
dus nie nodig wees om, in die onderhawige saak, te besluit wat die regsposisie sou
wees indien verweerder namens homself en de Lange en Strydom gesamentlik 3
000 kissies saadaartappels van eiser gekoop het nie.
Daar dien op gelet te word dat die leerstuk ook in Amerika toegepas word. Mnr.
Kumleben het verwys na die Engelse beslissing in Beckhusen v Hamblet, (1901) 2
K.B. 73, en May v Angeli, 13 T.L.R. 568, ter ondersteuning vir sy submissie dat die
leerstuk beperk moet word tot een versweë prinsipaal. Mnr. Coetzee het
staatgemaak op die beslissing in Scott v Norten, (1901) 2 K.B. 726, ter
ondersteuning vir sy submissie dat die leerstuk wel twee of meer versweë prinsipale
toelaat. Al drie hierdie beslissings handel egter oor die Londense effektebeurs en
bied nie ondersteuning vir enige van die advokate se stellings nie. Geen ander
Amerikaanse, Engelse of Suid-Afrikaanse beslissings is deur enige van die advokate
aangehaal nie ter ondersteuning van òf die beperking van die leerstuk tot een
versweë prinsipaal òf die uitbreiding
1972 (1) SA p770
POTGIETER AR
daarvan tot meer as een versweë prinsipaal. Die volgende opmerkings van Fridman,
The Law of Agency, bl. 173, mag miskien daarop dui dat selfs in Engeland die
leerstuk beperk word tot een versweë prinsipaal, of in ieder geval dat daar gewaak
word teen die uitbreiding daarvan:
'All these varied and imaginative theories do not completely explain this
strange, peculiarly English doctrine. Perhaps the most satisfying attitude to
adopt is that the idea of the undisclosed principal is an anomaly, introduced
into and accepted by the common law for reasons of mercantile convenience
and rigorously controlled by the common law, so far as its scope and effects
are concerned, lest this unusual relaxation of the strict attitude of the common
law with regard to personal contracts be allowed to cause undue subversion...'
Vir sy submissie dat die leerstuk beperk moet word tot een versweë prinsipaal het
mnr. Kumleben gesteun op American Restatement of the Law (Agency) (1958),
para. 305, en die kommentaar daarop. Ofskoon dit lyk asof 'n beperkende houding
daarop nagehou word ten opsigte van die leerstuk, vind ek dit onnodig om op die
Amerikaanse reg in te gaan, aangesien die presiese inhoud daarvan vir my nie
heeltemal duidelik is nie en omdat dit nie vir doeleindes van hierdie beslissng nodig
is nie.
Ek is van oordeel dat die probleem opgelos kan word op ons eie algemene
regsbeginsels. In dié verband, meen ek, dat daar in die eerste plek van die
standpunt uitgegaan moet word dat die Engelse leerstuk van die 'undisclosed
principal' op twyfelagtige grond berus en dat dit in elk geval indruis teen die basiese
beginsels van ons kontraktereg, nl. dat slegs die werklike partye wat 'n kontrak sluit
regte daaronder verkry en verpligtinge ten opsigte daarvan aangaan. Dat 'n persoon
derhalwe regte kan verkry en verpligtinge kan aangaan ten opsigte van 'n ander
persoon met wie hy inderdaad nie kontrakteer het nie, druis in teen die basiese
beginsels van ons kontraktereg. Bygevolg sou dit onwenslik wees om die omvang en
trefwydte van die leerstuk van die 'undisclosed principal' uit te brei sodat 'n agent
wettiglik met 'n derde party kan kontrakteer namens meer as een versweë prinsipaal
wat uit hoofde van sodanige kontrak regte kan verkry en verpligtinge kan aangaan.
Daar is egter ook ander gronde waarom dit nie volgens ons regsbeginsels toegelaat
behoort te word dat 'n agent afsonderlik namens meer as een versweë prinsipaal in
dieselfde kontrak met dieselfde derde party kan kontrakteer nie.
Waar 'n derde persoon 'n enkele kontrak sluit met 'n ander persoon sonder dat hy
bewus daarvan is dat die persoon as agent optree, is die derde persoon geregtig om
te verwag dat hy met een persoon kontrakteer en dat daar teen hom slegs een
enkele vorderingsreg bestaan. Indien die agent in werklikheid namens een versweë
prinsipaal gekontrakteer het, verkry sodanige prinsipaal slegs een enkele
vorderingsreg en kan slegs daardie prinsipaal dit teenoor die derde party afdwing.
Enige erkenning van 'n afsonderlike vorderingsreg wat deur meer as een versweë
prinsipaal verkry kan word omdat die agent toevallig so opgedra is en so
gekontrakteer het, sou daarop neerkom dat die een vorderingsreg opgesplits word
en kan lei tot 'n vermenigvuldiging van aksies tot nadeel van die derde party en wat
hy nooit voorsien het by kontraksluiting nie. In 'n geval soos die onderhawige kon
verweerder
1972 (1) SA p771
POTGIETER AR
denkbaar bv. namens 100 aartappelboere opgetree het, elk vir lewering van 'n aantal
kissies moere, wat sou beteken het dat eiser gekonfronteer kon word met 100 aksies
vir skadevergoeding. Onteenseglik moet dit tot sy nadeel strek en daarom is dit
noodsaaklik dat die leerstuk streng beperk word tot een versweë prinsipaal, of
moontlik meer as een as hulle gesamentlik optree. Soos hierbo opgemerk is dit egter
vir doeleindes van dié saak nie nodig om verder op die kwessie van gesamentlike
optrede in te gaan nie.
Mnr. Kumleben het, na my mening tereg, aan die hand gedoen dat die regsreël dat
'n enkele vordering nie gedeeltelik gesedeer kan word nie, as analogie kan dien om
die stelling, wat ek in die voorafgaande paragraaf gemaak het, te onderskraag. In die
gewysde van Verkouteren v Rubesa, 1917 T.P.D. 274 op bl. 275, het MASON, R.,
verklaar:
'To my mind it is not competent to a person who has obtained judgment
against a defendant to cede some specific portion of the claim to another
party and to give that other party a right to recover by a separate action. To
illustrate it, it is clear that, speaking generally, any right can be ceded.
Suppose a man owes £50 on a grocer's account; the grocer is not entitled to
cede fifty separate pounds of that amount to fifty separate persons, so as to
constitute fifty separate claims against the debtor. The result of allowing any
such proceeding would be to give an opportunity of inflicting great injustice;
where a man incurs one debt to one creditor, he would be liable to as many
creditors as the original creditor chose to create.'
Hierdie saak is gevolg in die gewysde van Spies v Hansford and Hansford, Ltd.,
1940 T.P.D. 1, waar SCHREINER, R., op bl. 8 die volgende opmerkings maak:
'Although MASON, J., was dealing with what might be regarded as the special
case of a judgment he illustrated his reasoning by reference to the case of an
ordinary debt for £50 which he indicated could not be split up into portions and
ceded to a number of different persons, as this would impose a greater
burden on the debtor than he would otherwise be subject to. If, for instance,
he were not in a position to pay the amount he could be subjected to the costs
of a number of actions.'
Dergelike opmerkings het gekom van SHAW, R., in die saak van Blaikie & Co., Ltd. v
Lancashire, N.O., 1951 (4) SA 571 (N) op bl. 576. Kyk ook Duke v Allen and Others,
1953 (3) SA 702 (N) op bl. 703; Voet, 18.4.13. Die grondslag vir die reël dat 'n
gedeelte van 'n skuld nie gesedeer kan word sonder toestemming van die
skuldenaar nie, is dus dat die posisie van die skuldenaar beswaar kan word deurdat
hy deur meerdere aksies teen hom gekonfronteer kan word. Indien 'n kontrak
aangegaan word deur 'n derde party met 'n agent in sy eie naam ontstaan daaruit
een enkele vorderingsreg wat die agent nie sonder toestemming mag sedeer nie.
Indien sodanige agent inderdaad opgetree het namens meer as een afsonderlike
versweë prinsipaal sou die derde party se posisie desgelyks beswaar word deurdat
daar dan meer as een aksie teen hom ingestel kan word.
'n Verdere oorweging, wat die uitbreiding van die leerstuk tot meer as een versweë
prinsipaal teenwerk, is die volgende: wanneer die versweë prinsipaal ontdek word,
het 'n skuldeiser 'n keuse om òf die agent òf die prinsipaal aan te spreek. (Kyk Natal
Trading and Milling Co. Ltd. v Inglis, 1925 T.P.D. 724 op bl. 727). Indien toegelaat
word dat die agent namens meer as een versweë prinsipaal optree, sou dit beteken
dat die skuldeiser sal moet kies tussen 'n agent, wat denkbaar niks mag besit nie, en
'n veelheid van skuldenaars as prinsipale waarby hy elke skuldenaar vir sy pro rata
deel sal moet aanspreek.
1972 (1) SA p772
POTGIETER AR
Mnr. Coetzee se submissie dat daar geen verskil is tussen die geval waar die agent
afsonderlik namens geopenbaarde prinsipale optree en die geval waar die feit dat hy
namens prinsipale optree nie geopenbaar word nie, is, na my oordeel, onhoudbaar.
Waar die prinsipale geopenbaar word, weet die derde party dat die agent namens
verskeie persone kontrakteer en dat, aangesien meer as een kontrak gesluit word,
daar meer as een vorderingsreg teen hom tot stand kom. Hy kan derhalwe nie kla as
daar dan meer as een aksie teen hom ingestel word nie. Indien hy met een persoon
onderhandel en een kontrak gesluit word, is hy geregtig om te verwag dat net een
vorderingsreg teen hom tot stand sou kom, selfs al sou hy in gedagte moes gehou
het dat die betrokke persoon denkbaar as agent vir een versweë prinsipaal opgetree
het by kontraksluiting.
Op grond van die voorgaande is ek derhalwe die mening toegedaan dat de Lange en
Strydom geen regte uit die kontrak, wat tussen eiser en verweerder aangegaan is,
verkry het nie, en dat die sessie van vermeende regte aan verweerder ongeldig is.
Die eksepsies teen die verweerskrif en teeneis en die aansoek om deurhaling van
die paragrawe daarin vermeld is dus gegrond.
Die appèl word met koste afgewys, welke koste dié van twee advokate insluit.
OGILVIE THOMPSON, H.R., RUMPFF, A.R., JANSEN, A.R., en RABIE, A.R., het
saamgestem.
Appellant se Prokureurs: Elliott, Maris, Wilmans en Hay, Kimberley; Davidson en
Marais, Bloemfontein. Respondent se Prokureurs:Duncan en Rothman, Kimberley;
McIntyre en van der Post, Bloemfontein.
SAFLII Note: This case was originally published by Juta and Company (Pty) Ltd. Juta retains copyright
as far as it subsists.