Williams v S (CA & R 50/2012) [2013] ZANCHC 36 (1 November 2013)

60 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Rape and Assault — Appeal against conviction and sentence — Appellant and co-accused found guilty of rape and assault of the same complainant — Appellant's defense hinged on denial of involvement — Complainant's testimony corroborated by medical evidence and witness accounts — Appellant's claims of innocence contradicted by his presence at the scene and inconsistencies in his version — Court upheld conviction and life sentence, finding no compelling reasons to deviate from prescribed penalties for serious offenses involving multiple perpetrators.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2013
>>
[2013] ZANCHC 36
|

|

Williams v S (CA & R 50/2012) [2013] ZANCHC 36 (1 November 2013)

Rapporteerbaar:
Ja /
Nee
Sirkuleer
onder Regters:
Ja
/ Nee
Sirkuleer
onder Landdroste: Ja /
Nee
Sirkuleer
onder Streeklanddroste: Ja /
Nee
IN DIE HOË HOF
VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Hoë
Hof, Kimberley)
Saak No: CA & R
50/2012
Aangehoor: 28/10/2013
Gelewer: 01/11/2013
In
die saak tussen:
WILLIAMS,
JOHN THABISHO
......................................................................
Appellant
en
Die Staat
................................................................................................
Respondent
Coram: Williams R et
Olivier R
UITSPRAAK
Olivier R:
[1]
Die
appellant, mnr John Thabisho Williams, en mnr W D Fish (“
beskuldigde
2
”) het in die Streekhof tereggestaan op aanklagte van
onsedelike aanranding (aanklag 1) en verkragting (aanklag 2) op
dieselfde
klaagster. Hulle het op beide aanklagte onskuldig gepleit.
[2]
Die
appellant het geen pleitverduideliking verstrek nie.
[3]
Beskuldigde
2 het ter verduideliking van sy pleite ontken dat hy die klaagster
onsedelik aangerand of verkrag het. Hy het aangevoer
dat hy die
appellant en die klaagster agtergelaat het by ʼn drinkplek,
terwyl die appellant besig was om die klaagster aan
te rand en te
beskuldig daarvan dat sy ʼn hangertjie van hom sou gevat het. Hy
het later die appellant by laasgemelde se huis
gevind. Daar het hulle
gekuier en gesels. Daarna is beskuldigde 2 na sy eie huis om te gaan
slaap.
[4]
Die
appellant en beskuldigde 2 is op beide aanklagte skuldig bevind. Die
aanklagte is saamgeneem vir doeleindes van vonnis en beide
van hulle
is gevonnis tot lewenslange gevangenisstraf.
[5]
Die
appellant kom nou in hoër beroep teen sy skuldigbevindings en
vonnis. Hy is skuldig bevind en gevonnis voor die wysiging
van
Artikel 309(1)(a) van die Strafproseswet
1
en
het daarom weens die vonnis van lewenslange gevangenisstraf
outomaties verlof tot appèl teen sy skuldigbevindings en
vonnis
2
.
[6]
Die
klaagster se weergawe was kortliks dat sy en vriendinne die betrokke
middag by die kuierplek was. Die appellant en beskuldigde
2 was ook
op ʼn stadium daar, maar hulle is op ʼn latere stadium daar
weg. Toe sy vandaar geloop het na die karavaan waarin
haar kêrel
mnr Sicele Mguye gewoon het en op haar gewag het, is sy in die veld
voorgekeer deur beskuldigde 2. Toe sy hom
gevra het wat hy daar doen,
het hy die geantwoord nie. Die appellant het toe ook tevoorskyn gekom
. Die appellant het haar toe
aan die bors gegryp. Daarna het hulle
haar neergegooi en hulle het toe beide met haar gemeenskap gehou
terwyl sy op haar sy gelê
het, die appellant van vooraf en
vaginaal en beskuldigde 2 van agteraf en anaal. Tussendeur het hulle
haar herhaaldelik geslaan
en het die appellant haar gebyt ook. Daar
is ook sand in haar mond gestop om te voorkom dat sy skree.
[7]
Hulle het
haar op ʼn stadium op haar versoek om te gaan urineer, gelos. Sy
het toe weggehardloop, maar hulle het haar weer
gevang.
[8]
Beskuldigde
2 het haar toe weer verkrag. Die appellant het ‘n groot klip
opgetel. Hy wou dit op haar kop gooi, maar beskuldigde
2 het hom
gekeer.
[9]
Sy is toe
weer gelos om te gaan urineer. Sy het toe weer weggehardloop en
geskree in die hoop dat Mguye haar sal hoor. Dit het
gebeur en toe
Mguye aankom, het die appellant en beskuldigde 2 gevlug. Dit wat
betref die klaagster se weergawe.
[10]
Dit het in
kruisverhoor van die klaagster aan die lig gekom dat die appellant se
saak was dat hy saam met die klaagster vanaf die
drinkplek beweeg het
omdat hulle ʼn afspraak gehad het om met mekaar gemeenskap te
gaan hou. Daar in die veld, en dus op die
toneel waarna die klaagster
ook maar verwys het, het beskuldigde 2 toe egter opgedaag en die
appellant geskop. Toe die appellant
daarna weer tot sy sinne gekom
het, het hy gevind dat beskuldigde 2 besig was om die klaagster te
verkrag. Toe sy pogings om beskuldigde
2 te keer misluk, is die
appellant volgens hom daar weg.
[11]
Dat die
klaagster daar in die veld aangerand en verkrag is, was dus nie op
die appellant se weergawe in geskil nie. Wat in geskil
was, was of hy
daarby betrokke was.
[12]
Dat die
bevindinge van die dokter wat die klaagster later ondersoek het, klop
met haar beskrywing van hoe sy aangerand en verkrag
is, neem dus nie
die saak teen die appellant werklik veel verder nie.
[13]
Aan die
ander kant kan daar ook eintlik geen sprake van wees dat die
identiteit van die appellant as ʼn persoon wat daar in
die veld
in die klaagster se teenwoordigheid was, in geskil was nie. Hy het
homself met sy eie weergawe op daardie toneel geplaas.
Dit is nie
asof die appellant se weergawe, byvoorbeeld, was dat hy die klaagster
in die veld alleen gelaat het voordat sy aangeval
is nie, wat die
moontlikheid dalk sou oopgelaat het dat sy toe foutiewelik een van
haar twee aanvallers daarna aangesien het as
die appellant. Die
appellant se weergawe het hom reg by die klaagster geplaas op die
oomblik van die aanval op haar deur twee persone.
[14]
Op die
appellant se weergawe sou die klaagster hom blatant valslik moes
betrek het in ʼn valse verhaal dat sy nie net deur
beskuldigde 2
verkrag en aangerand is nie, maar inderdaad deur beide die appellant
en beskuldigde 2.
[15]
Die
klaagster was ʼn enkel getuie oor wat daar in die veld met haar
gebeur het en oor wie dit was wat haar aangeval het.
[16]
Haar
getuienis is nie vry van kritiek nie.
[17]
Sy het
byvoorbeeld in getuienis ontken dat ʼn hangertjie ooit ter sprake
was, maar dit het geblyk dat haar polisieverklaring
wel ‘n
verwysing bevat het na so ʼn insident. Dit raak egter glad nie
die geskil tussen haar en die appellant nie, want
dit was ook nie die
appellant se saak dat daar so ʼn insident was nie. Die insident
rondom die hangertjie was ʼn deel van
beskuldigde 2 se weergawe.
[18]
Nie een van
die ander getuies wat ook by die drinkplek was, het oor so ʼn
insident getuig nie.
[19]
Die
klaagster het haar ook weerspreek oor presies watter tyd van die dag
die aanval plaasgevind het en, meer spesifiek, oor hoe
donker dit toe
al was. Omdat die appellant se identiteit as ʼn persoon wat wel
daar in die veld in die klaagster se teenwoordigheid
was toe sy
aangeval is nie in geskil was nie, raak hierdie eweneens nie dit wat
betreffende die appellant inderdaad in geskil was
nie. Dit is immers
nooit deur of namens die appellant gesuggereer dat daar ná sy
vertrek ʼn verdere persoon op die toneel
kon verskyn het wat toe
saam met beskuldigde 2 die klaagster aangeval het nie.
[20]
Die
klaagster het ook kleigetrap oor hoeveel alkohol sy by die kuierplek
ingeneem het. Ook dit is egter nie relevant sover dit
die appellant
betref nie. Daar is of was tog geen suggestie deur of namens hom dat
die klaagster se waarnemingsvermoë so aangetas
is dat sy as
gevolg daarvan later gedink het dat die appellant en beskuldigde 2
haar beide aangerand en verkrag het, soos deur
haar beskryf, terwyl
dit eintlik net beskuldigde 2 was nie. Op die appellant se weergawe
sou die klaagster inderdaad leuenagtig
en vals moes gewees het in
haar ontkenning dat sy en die appellant afgespreek het om gemeenskap
te hou, dat beskuldigde 2 toe daar
die appellant kom skop het en dat
beskuldigde 2 die enigste een was wat haar aangerand het en verkrag
het.
[21]
Die
streeklanddros het bevind dat die klaagster ʼn goeie indruk
gemaak het as ʼn getuie en ek kan geen basis vind vir inmenging

met daardie bevinding nie.
[22]
Daar
bestaan na my oordeel in elk geval wesenlike stawing vir die
klaagster se getuienis, ook vir sover dit op die appellant se

weergawe in geskil was.
[23]
Op die
appellant se weergawe kan die getuienis van die klaagster dat twee
persone weggehardloop het toe Mguye aangekom het, nie
waar wees nie.
Op die appellant se weergawe het hy die klaagster daar in die veld
gelaat met net een persoon by haar, naamlik beskuldigde
2. Die
klaagster se getuienis in hierdie verband is egter gestaaf deur
Mguye, wat gesien het hoe twee mans weghardloop.
[24]
Volgens
die appellant was die klaagster nie nakend toe hy en sy daar in die
veld gemeenskap wou gehad het nie. Net haar broek was
volgens hom af.
Volgens die klaagster is sy egter heeltemal naak agtergelaat deur
haar twee aanvallers en het hulle met haar klere
in hulle besit
gevlug. Dit kan seker geargumenteer word dat beskuldigde 2 op die
appellant se weergawe die klaagster verder kon
uitgetrek het,
alhoewel die appellant dit nie pertinent getuig het nie. Die feit is
egter dat Mguye ook getuig het dat die klaagster
heeltemal naak was
toe haar aanvallers gevlug het.
[25]
Op
die appellant se weergawe het hy nooit gedreig om ʼn klip op die
klaagster se kop te gooi nie. Alhoewel beskuldigde 2 in
ʼn poging
om hom van die toneel in die veld te distansieer beweer het dat dit
by die kuierplek gebeur het, bevestig sy weergawe
tog dat die
appellant dit wou gedoen het en dat hy die appellant moes keer.
[26]
Die
appellant het homself ook in ʼn wesenlike opsig weerspreek. Daar
is eers namens hom gestel dat hy al besig was om met die
klaagster
gemeenskap te hê toe beskuldigde 2 hom daar kom skop het. Later
was sy weergawe dat hy nog nie die klaagster gepenetreer
het op die
stadium toe beskuldigde 2 op die toneel verskyn het nie.
[27]
In
kruisverhoor namens die appellant is dit op ʼn stadium aan die
klaagster gestel
3
dat,
toe die appellant

bykom”
na
die skop, hy die klaagster se kêrel aangehardloop sien kom het
en dat dit was wat hom laat weghardloop het. Toe hy gekruisverhoor
is
namens beskuldigde 2 het hy ontken dat dit so gebeur het en beweer
dat hy bloot weggestap het van die klaagster en beskuldigde
2 af en
dat beskuldigde 2 hom toe nog gevolg en gedreig het
4
.
Interessant genoeg sou beide hierdie weersprekende weergawes egter
inpas daarby dat twee persone saam van die klaagster af wegbeweeg
het
toe Mguye aangekom het.
[28]
Ook
op die getuienis en feite dus sien ek geen rede om met die
streeklanddros se aanvaarding van die klaagster se weergawe en
verwerping
van die appellant se weergawe in te meng nie.
[29]
Die
appellant en beskuldigde 2 het duidelik beplan en saam opgetree in
alles wat daar gebeur het en gevolglik behoort beide
skuldigbevindings
bekragtig te word.
[30]
Die
streeklanddros het bevind dat daar geen wesenlike en dwingende
omstandighede was wat ʼn afwyking regverdig het van die
voorgeskrewe vonnis van lewenslange gevangenisstraf wat gegeld het
weens die feit dat die klaagster meer as een keer deur as meer
as een
persoon verkrag is.
[31]
Namens
die appellant is betoog dat sy persoonlike omstandighede
onderbeklemtoon is en dat die erns van die misdaad oorbeklemtoon
is.
Daar is verwys daarna dat die appellant maar ongeveer 22 jaar oud was
toe die misdade gepleeg is, dat die appellant byna 2
jaar
verhoorafwagtend in hegtenis verkeer het, dat hy ongetroud was met
geen kinders nie en by sy ouers gewoon het, dat hy werksaam
was as ʼn
arbeider en met sy inkomste van R1500.00 per maand ook sy ouers
gehelp het en dat hy ‘n algehele eerste oortreder
was.
[32]
Ek
is bevrees dat hierdie faktore, en self dan die appellant se status
as ʼn algehele eerste oortreder en die periode wat hy
verhoor
afwagtend in hegtenis was, hopeloos oorskadu word deur die erns van
sy optrede daardie aand. Wat betref die appellant se
ouderdom, was
daar geen getuienis dat hy onvolwasse was nie, laat staan nog dat dit
‘n rol sou gespeel het in die pleging
van hierdie misdade. Die
appellant was ten tye van die misdade al 22 jaar oud
5
[33]
Ek
het reeds daarna verwys dat hy en beskuldigde 2 duidelik die aanval
bepan het. Volgens die klaagster het hulle selfs om die een
of ander
rede hemde met mekaar geruil voor hulle haar daar in die veld ingewag
het.
[34]
Die
appellant se deelname aan die onderwerping van die klaagster aan die
vernedering van ʼn gelyktydige vaginale en anale penetrasie
deur
twee verskillende mans, is moreel afstootlik en walglik om dit
sagkens te stel.
[35]
Dat
die appellant toe in die proses die klaagster geslaan het en gebyt
het, was verdere laakbare gedrag wat besoek moet word met
ʼn
vonnis waarvan die erns die afkeur sal weerspieël wat sulke
optrede by die normale gemeenskap daar buite sal verwek.
[36]
Dat
die appellant toe nog die klaagster met ʼn klip op haar kop wou
gooi, is uiters ernstig. Indien beskuldigde 2 hom nie gekeer
het nie,
kon hy op nog ernstiger aanklagte tereggestaan het. Die klaagster
het, soos reeds gemeld, dit beskryf as ʼn groot
klip.
[37]
Die
feit dat die appellant betreklik lank verhoorafwagtend in hegtenis
verkeer het, moet in elk geval gesien word in die lig van
die feit
dat die voorgeskrewe vonnis lewenslange gevangenisstraf is, en dat
hier in die afwesigheid van wesenlike en dwingende
omstandighede nie
sprake sou wees van een of ander bepaalde termyn van gevangenisstraf
waarteen die periode wat die appellant verhoorafwagtend
in hegtenis
verkeer het, afgespeel sou kon word nie.
6
[38]
Selfs
wanneer dit in ag geneem word, egter, is die voorgeskrewe vonnis van
lewenslange gevangenisstraf

compellingly
the only manner that justice can be dispensed”.
7
[39]
Na
my oordeel is daar dus ook in die appél teen die vonnis geen
meriete nie.
[40]
Ek
maak dus die volgende bevel hierin:
Die appèl
teen aansien van die skuldigbevindings en die vonnis word afgewys en
beide die skuldigbevindings sowel as die vonnis
word bekragtig.
_____________________
C J OLIVIER
REGTER
Ek stem saam.
______________________
C C WILLIAMS
REGTER
Nms Appellant: Adv P J Cloete
Namens: Regshulpsentrum ,
KIMBERLEY
Nms Respondent: Adv N A Mxabo
Namens: Direkteur van Openbare
Vervolgings, KIMBERLEY
1
51
van 1977
2
S
v Chake
, ‘n tot nog toe
ongerapporteerde uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl op
30 September 2013 onder saakno 205/13
(Opgeneem in SAFFLI onder die
verwysing
[2013] ZASCA 141)
en
S v Alam
2011 (2) SACR 553
(WCC).
3
Oorkonde:
bladsy 101, reëls 11 tot 12
4
Oorkonde:
bladsy 227, reels 1 tot 13
5
S
v Matyityi
2011 (1) SACR 40
(SCA) para
[14]
6
Vergelyk
S v ET
2012(2)
SACR 478(WCC
)[18]
en
S v M
2007(2)SACR0(W)[110]-[114].
7
Vergelyk
Director of Public Prosecutions,
Kwazulu-Natal v Ngcobo and Others
2009
(2) SACR 361
(
SCA
)
para [27]