About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2013
>>
[2013] ZAFSHC 190
|
|
Fish v S (A166/2013) [2013] ZAFSHC 190 (23 December 2013)
IN
DIE HOë HOF VAN SUID-AFRIKA
VRYSTAATSE
AFDELING, BLOEMFONTEIN
Appélnommer
: A166/2013
In die
appél tussen:-
DISEBO
SANNAH
FISH
..................................................
Appellant
en
DIE
STAAT
...................................................................
Respondent
CORAM:
VAN
ZYL, R
et
REINDERS,
WND R
AANGEHOOR
OP:
4
NOVEMBER 2013
UITSPRAAK
DEUR:
VAN
ZYL, R
GELEWER
OP:
23
DESEMBER 2013
[1]
Appellant het tereggestaan op ‘n aanklag van moord deurdat dit
beweer is dat sy op 27 Oktober 2008 wederregtelik en opsetlik
vir
Puseletso Piet Phukuntsi (hierinlater na verwys as “die
oorledene”) gedood het. Appellant het onskuldig gepleit,
maar
is op 31 Januarie 2013 skuldig bevind op die ten laste gelegde
aanklag. Sy is op 2 Mei 2013 gevonnis tot twaalf jaar gevangenisstraf
waarvan vier jaar gevangenisstraf opgeskort is vir ‘n tydperk
van vier jaar op sekere voorwaardes.
[2]
Verlof om te appelleer teen beide die skuldigbevinding en opgelegde
vonnis is op die dag van vonnisoplegging deur die hof
a quo
verleen. Die hof
a quo
het voorts op dieselfde dag borg
aan appellant verleen, welke borg vasgestel was in die bedrag van
R4 000.00, tesame met verdere
voorwaardes, en is die borggeld
dieselfde dag betaal.
[3]
Dit dien vermeld te word dat hoewel die verrigtinge in die hof
a
quo
in
engels plaasgevind het, het dit ten tyde van die aanhoor van die
appèl geblyk dat al die belanghebbende partye by die
aangeleentheid afrikaans-sprekend is en het ek dit daarom goedgedink
om die uitspraak ook in afrikaans te doen.
[4]
Ten tyde van die pleit-verrigtinge, het appellant se
regsverteenwoordiger ‘n pleitverduideliking namens appellant op
rekord gestel wat as volg lees:
“
...indeed
the accused did murder the deceased, however it was in self defence.”
[5]
By die aanvang van die verhoor is dit deur die staat en die
verdediging aangedui dat die ketting-getuienis ten opsigte van die
hantering van die liggaam van die oorledene nie in dispuut geplaas
word deur die verdediging nie en is die regsgeneeskundige
lykskouingsverslag
insgelyks by ooreenkoms tussen die staat en die
verdediging ingehandig as Bewysstuk “A”. Verdermeer is ‘n
foto-album
met agt foto’s by ooreenkoms ingehandig as Bewysstuk
“B”.
[6]
Daar was geen ooggetuie tot die gebeure tussen appellant en
respondent wat tot die oorledene se dood aanleiding gegee het nie.
Die tersaaklike gebeure wat op appellant se weergawe uit haar
getuienis geblyk het, kan opsommenderwys as volg saamgevat word.
Appellant en die oorledene was in ‘n liefdesverhouding vir
ongeveer een jaar en ses maande. Die oggend van die voorval,
tussen 06h00 en 06h30, het appellant na die huis van die oorledene
gegaan. Sy het aan die deur geklop en die oorledene het die
deur
oopgemaak. Toe die oorledene sien dat dit appellant by die deur
was, het hy haar na buite gestoot, waarop sy hom gevra
het waarom hy
dit doen. Sy het hom daarop teruggestoot binne-in die huis in. Die
huis het uit twee vertrekke bestaan, synde ‘n
kombuis en ‘n
slaapkamer. Die tersaaklike deur het toegang tot die kombuis verleen.
Sy het deurgestap na die slaapkamer terwyl
oorledene in die kombuis
gebly het. By die deur van die slaapkamer het sy opgemerk dat daar ‘n
ander vrou, Mampho Moloi (“Mampho”),
in die slaapkamer
was, besig om haarself te was.Appellant het toe ‘n mes (wat sy
later as ‘n tipe “steakmes”
van ongeveer 20 cm
lank, handvatsel ingesluit, beskryf het) gegryp wat op ‘n kas
in die kombuis gelê het en het die
slaapkamer binne gegaan. Sy
was kwaad op daardie stadium en wou Mampho met die mes dreig. Mampho
het probeer vlug en het sy (Mampho)
oor die bed gespring. Sy het by
die slaapkamer uitgehardloop, terwyl appellant nog in die beperkte
spasie tussen die bed en die
spieëlkas was. Hierdie toneel in
die kamer word uitgebeeld op Bewysstuk “B”, foto 2. Toe
appellant omgedraai het
met die bedoeling om agter Mampho aan te
hardloop, het sy opgemerk dat die oorledene by die deur van die kamer
gestaan het met
‘n vuurwapen in sy hand. Sy het ‘n geluid
gehoor soortgelyk aan ’n vuurwapen wat gespan word en het sy
gesien
dat hy die vuurwapen oplig en in haar rigting wys. Die
oorledene was ‘n polisie beampte en het volgens appellant altyd
sy
vuurwapen in die kluis gehou as hy tuis was, waarvan slegs die
oorledene die kombinasie-kode van die slot geken het. Sy het gedink
dat die oorledene haar gaan skiet en het sy het in die oorledene se
rigting beweeg en sy hande gegryp in ‘n poging om die
vuurwapen
by hom af te neem. Hulle het gestoei oor die vuurwapen. Dit het
gebeur terwyl sy steeds die mes in haar hand gehad het.
Als het baie
vinnig gebeur. Die volgende oomblik het sy gestruikel en geval en het
die oorledene bo-op haar geval. Sy het opgemerk
dat hy beseer was en
dat sy vol bloed was, waarop sy hom van haar afgestoot het. Die
oorledene het toe nog geleef. Die mes en die
vuurwapen het daar in
dieselfde omgewing op die grond geval. Appellant het na die hoofhuis,
geleë op dieselfde perseel, gehardloop
om hulp te gaan soek.
In die hoofhuis het sy die eerste staatsgetuie, Lerato Inocengtia Dry
(“Lerato”) geroep,
waarna hulle terug is na waar die
oorledene gelê het. Lerato het toe weer op haar beurt die
tweede staatsgetuie, synde haar
moeder, Mosele Francina Dry
(“Francina”), gaan roep waarop die twee staatsgetuies
teruggegaan het na die slaapkamer
van die oorledene. Daar het
hulle die appellant aangetref met ‘n vuurwapen in haar hand en
het sy gedreig om haarself
te skiet. Lerato het toe hulp by die bure
gaan soek. Die vuurwapen is na ‘n gestoeiery, waartydens ‘n
skoot afgegaan
het, van appellant afgeneem ten einde te verhoed dat
sy selfmoord pleeg. Dit blyk uit die regsgeneeskundige
lykskouingsverslag,
Bewysstuk “A”, dat die oorsaak van
dood ‘n steekwond in die bors van die oorledene was, welke
steekwond as volg
in paragraaf 4.2 van die verslag beskryf word:
“
Stab
wound left upper-central chest, 37 by 16 mm in size. It was not
possible to ascertain if only one or both edges of the wounding
weapon were sharp. The said weapon passed to the decedent’s
right and slightly inward and slightly downward to enter the
pericardial sac of the heart and incise the main pulmonary artery.
The
length of the wound track was 45 mm.”
[7]
Die twee staatsgetuies se getuienis kan soos volg saamgevat word.
Lerato het getuig dat sy die oorledene geken het deurdat die
oorledene twee kamers by haar ouerhuis gehuur het. Haar ouerhuis,
waar sy self ook woonagtig is, is die hoofhuis op die perseel,
terwyl
die oorledene twee kamers aan die agterkant van die hoofhuis gehuur
het. Die oorledene was `n polisie beampte en dra sy
kennis daarvan
dat hy sy vuurwapen in ‘n kluis in sy huis gebêre het.
Appellant was ook aan Lerato bekend, deurdat
sy gereeld die perseel
besoek het en deur die oorledene aan Lerato voorgestel was as sy
vriendin met wie hy ‘n verhouding
gehad het. Die oggend van die
voorval om ongeveer 06h00 was sy wakker gemaak deur ‘n geklop
aan die deur. Toe sy oopmaak,
het sy appellant by die deur gevind wat
gesê het
“
Come
and see what I did”.
Volgens
Lerato het sy aan appellant gevra wat sy gedoen het, waarop appellant
aan haar gesê het
“
I
killed Pina”
,
synde die oorledene. Appellant het baie erg gehuil. Hulle is toe na
die slaapkamer van die oorledene, waar die oorledene op die
grond
gelê het, hoewel hy nog lewend was. Lerato het daarop aan
appellant gevra wat gebeur het, waarop appellant, aldus Lerato
se
getuienis, gesê het dat sy die oorledene gesteek het omdat sy
hom saam met ‘n ander meisie gevind het. Uit kruisverhoor
het
dit geblyk dat Mampho ook op daardie stadium in die kamer was. Lerato
het getuig dat appellant se klere vol bloed was, maar
dat sy nie
enige bloed op die vloer gesien het nie. Lerato het daarop na die
hoofhuis gehardloop, waar sy haar moeder, Fracina,
geroep het. Sy en
haar moeder is terug na die slaapkamer van die oorledene. Daar het
hulle gevind dat appellant ‘n vuurwapen
gehad het. Sy het
gedreig om haarself te skiet. Lerato het toe die hulp van die bure
gaan inroep en toe sy terugkeer saam met die
buurman, het hulle
gevind dat haar moeder in ‘n stoeiery gewikkel was met
appellant ten einde te poog om die vuurwapen af
te neem sodat
appellant nie selfmoord pleeg nie. In hierdie proses het daar ‘n
skoot uit die vuurwapen afgegaan. Daarna het
Lerato se moeder wel
daarin geslaag om die vuurwapen af te neem.
EVALUERING
VAN DIE GETUIENIS IN VERGELYKING MET DIE BEVINDINGS IN DIE UITSPRAAK
VAN DIE HOF
A
QUO
:
[8]
Die hof
a
quo
het
appellant se weergawe van die gebeure verwerp, wat klaarblyklik
insluit `n verwerping van die weergawe dat die oorledene ten
tyde van
die voorval ‘n vuurwapen hanteer het, soos blyk uit p. 125,
reël
19
tot p. 126, reël
8
van die oorkonde:
“
And
as I have indicated it would be improbable in the circumstances that
the accused was faced with imminent danger because if the
deceased
was having a firearm in his possession, being a police officer, he
would not have any difficulties in fighting the accused
succesfully.
It is an acceptable fact and undisputed fact that the accused was
filled with anger and frustration as she was overwhelmed
with
jealousy on the day in question and it would render it very easy for
her to do whatever, even to stab the deceased out of
anger or
frustartion on the day in question. The court rejects the accused`s
version to the effect that she was acting in self-defence
on that day
in question as she has failed to show to the court that she was faced
with imminent danger on the day in question.”
[9]
Buiten dat bogemelde gevolgtrekkings duidelik ongefundeerde
spekulasie bevat, word dit na my mening ook nie deur die getuienis
gesubstansieer nie. Dit is in ieder geval ook nie vir die appellant
om te “
show”
of
te bewys dat sy wel aldus bedreig was nie – dit is vir die
staat om te bewys dat sy nie gedreig was nie. Die bewyslas rus
op die
staat om bo redelike twyfel die afwesigheid van appellant se verweer
te bewys.
[10]
Wat betref die vraag of die oorledene die vuurwapen in sy hand gehad
het soos appellant getuig het, aldan nie, is daar eerstens
die
direkte, onbetwiste getuienis van appellant tot dien effekte, waarna
ek reeds verwys het. Dit is ook gemeensaak dat die oorledene,
as
polisie beampte, wel `n vuurwapen besit het. Appellant se weergawe
met betrekking tot die gebeure word ook gestaaf deur die
feit dat dit
gemeensaak is dat die oorledene se vuurwapen wel op die toneel
teenwoordig was, gegewe dat appellant gedreig het om
met daardie
vuurwapen selfmoord te pleeg. Dit moet ook gesien word teen die
agtergrond van appellant se onbetwiste getuienis
dat die
oorledene die vuurwapen in `n kluis by sy huis gebêre het
waarvan slegs hy die kombinasie-kode geken het. Die
enigste manier
wat appellant dus in besit van die vuurwapen kon gekom het, gebaseer
op die getuienis, is as die oorledene die vuurwapen
uit die kluis
gehaal het en dit dus hanteer het voordat dit in appellant se besit
gekom het. Verdermeer moet ook in gedagte gehou
word dat dit nooit in
die hof
a
quo
deur
die staat betwis en aan appellant gestel was dat die oorledene nie
die vuurwapen hanteer het die dag van die voorval nie.
Daarom
het Mev Giorgi, namens die staat, ook op verantwoordelike wyse
toegegee dat aanvaar moet word dat die oorledene wel die
vuurwapen
hanteer het die dag van die voorval en dat die appèl op
sodanige basis beslis moet word. Sy het egter gesubmiteer
dat die
oorledene homself met die vuurwapen bewapen het om homself teen
appellant te beskerm en nie om haar te bedreig nie. Vanweë
die
afwesigheid van enige ander ooggetuies, is daar egter nie getuienis
wat hierdie submissie van Me Giorgi ondersteun nie.
[11]
In die aanloop tot die hof
a
quo se
klaarblyklike
bevinding dat die oorledene nie die vuurwapen hanteer het nie, het
die hof
a
quo
ook
bevind dat hoewel die teenwoordigheid van die vuurwapen gedurende
stellings aan die staatsgetuies geblyk het, was daar in ieder
geval
nie melding gemaak van `n dreigende gevaar voordat appellant
nie self onder eed getuig het nie. (Uitspraak, p. 120,
reël19
tot p. 121, reël13) Wanneer die getuienis in totaliteit oorweeg
word, blyk herdie feite bevinding na my mening
nie korrek te wees
nie. Dit was reeds in kruisverhoor aan Lerato gestel dat die stoeiery
tussen appellant en die oorledene
plaasgevind het omdat hy die
vuurwapen in sy hande gehad het en sy dit by hom wou afneem. Wanneer
dit in perspektief gesien word
saam met haar pleitverduideliking, is
dit tog duidelik dat die stoeiery oor die vuurwapen ontstaan het
omdat appellant op daardie
stadium gevoel het dat haar lewe bedreig
word.
In appellant se getuienis
het sy uiteraard die gebeure in meer detail verduidelik en blyk dit
duidelik dat toe sy die oorledene
genader het en oor die vuurwapen
gestoei het, sy gedink het dat haar lewe in gevaar verkeer. In die
verband verwys ek, onder andere,
na die volgende uittreksels uit die
oorkonde:
“
...When you
saw the deceased holding the firearm what came to your mind, what did
you think?......I thought he was going to shoot
me because he was
facing my direction whilst carrying it.”
(Oorkonde,
p. 52, reëls 9 – 12)
“
Were you not
afraid of approaching somebody who is holding a firearm?......At that
stage, as I said, I could not think straight
and the reason that led
me to go to him is because he was facing my direction.
.......
Lady,
how was Pina holding the firearm?...He was lifting it towards me...it
was shortly after he cocked it.”
(Oorkonde
p. 61, reëls 5 – 17)
“
...What is
exactly the truth?......He was holding a firearm. He cocked it and
after he had cocked it he lifted it, facing my direction
and I
thought he was going to shoot me and which is why I proceeded towards
him.”
(Oorkonde,
p. 62, reël 19 – 23)
“
At that time
did you feel like you had to do anything in your powers to hold off
the danger?.....Yes, which is why we scuffled over
this firearm.”
(Oorkonde,
p. 73, reëls 4 –6)
In
ieder geval, indien appellant die opset gehad het om die oorledene te
dood, sou sy, op waarskynlikhede, eerste en onmiddellik
die oorledene
met die mes aangeval het en nie vir Mampho nie. Sy blyk egter eers
die oorledene te genader het op die stadium wat
sy gedink het dat hy
haar gaan skiet.
[12]
Wat betref die wyse waarop die steekwond deur die oorledene opgedoen
was en die vraag of appellant se weergawe in die verband
redelik
moontlik waar kan wees, is die eerste aspek wat oorweeg moet word die
inhoud van die pleitverduideliking in vergelyking
met die weergawe
van appellant wat aan die staatsgetuies gestel is en deur haar onder
eed getuig is.
[13]
Die pleitverduideling wat namens appellant op rekord gestel was, is
reeds in paragraaf 4 hierbo aangehaal. Met verwysing daarna,
is daar
in die hof
a
quo se
uitspraak
vermeld dat die pleitverduideliking die indruk by die hof verwek het
dat op die stadium wat appellant die oorledene gesteek
het, sy in
selfverdediging opgetree het. Daarteenoor, aldus die hof
a
quo
,
het appellant se weergawe verander toe sy onder eed die eerste keer
getuig dat sy nie weet hoe die oorledene die steekwond opgedoen
het
nie. (Oorkonde, p. 120, reël 19 tot p. 121, reël
13.)
Mev Giorgi het ook aan die hand gedoen dat die verskil aanduidend is
van die ongeloofwaardigheid van die appellant.
[14]
Na my mening moet die getuienis egter weereens meer in totaliteit
oorweeg word. Hoewel die tersaaklike pleitverduideliking
namens
appellant op rekord gestel was, was dit reeds gedurende die
kruisverhoor van Lerato in perspektief geplaas deur die volgende
verduideliking deur appellant se regsverteenwoordiger, soos dit
voorkom op p. 25, reëls 9 – 21 van die oorkonde:
“
Your
Worship, just to put things into perspective. Maybe I have used the
incorrect word by saying ‘murdered’ in the
plea
explanation. The correct word should be ‘stabbed’, Your
Worship, not ‘murdered’. It is a case
of semantics,
Your Worship. Let me put it that way....at the time when the accused
was struggling, wrestling for this firearm with
the deceased, that
is when the fell, the deceased fell on top of the accused, the
accused stabbed the deceased in the process...”
(
sic)
[15]
Soos reeds vermeld, het die hof
a
quo
bevind
dat aangesien appellant in haar pleitverduideliking erken het dat sy
die oorledene gesteek het, maar haar getuienis tot
dien effekte
was dat sy nie weet hoe die oorledene gesteek is nie, dit `n
wesenlike aanpassing in appellant se getuienis daarstel.
Na my mening
het die hof
a
quo
fouteer
met hierdie bevinding. Uit die stellings wat van meet af aan aan
Lerato gemaak was, blyk dit dat appellant se weergawe toe
reeds was
dat sy erken dat die mes in haar hand was toe die oorledene gesteek
is (by implikasie dat sy hom dus gesteek het), maar
dat sy nie weet
hoe dit gebeur het nie, deurdat die oorledene gesteek is in die
proses wat hulle gestoei het oor die vuurwapen
en die oorledene op
appellant geval het. Dit was nie, soos die hof
a
quo
bevind
het, `n nuwe weergawe toe appellant onder eed getuig het nie. Die
volgende stellings was deur appellant se regsverteenwoordiger
aan
Lerato gemaak in die verband:
“
And they
struggled with the said firearm whilst the knife was still in the
accused`s possession...No comment.
The
deceased fell on top of the accused as the accused ...(inaudible) or
rather her clothes got blood on them.”
(Oorkonde,
p. 22, reëls 6 – 9)
“
Now...(indistinct)
like that, at the time when the accused was struggling, wrestling for
this firearm with the deceased, that is
when they fell, the deceased
fell on top of the accused, the accused stabbed the deceased in the
process.”
(Oorkonde,
p. 25, reëls 18 – 22)
Appellant
se getuienis onder eed was toe wesenlik dieselfde, deurdat dit
duidelik blyk uit haar getuienis dat sy nie weet hoe en
op watter
stadium die oorledene gesteek is met die mes in haar hand nie, maar
dat sy slegs die bloed opgemerk het nadat hy op haar
geval het en toe
besef het dat die oorledene in hierdie proses gesteek is.
[16]
Die hof
a
quo
het
voorts die volgende bevinding gemaak met betrekking tot die steekwond
wat die oorledene opgedoen het, soos dit voorkom in die
uitspraak op
p. 123, reël
23
tot p. 124, reël 2 en weer op p. 125, reëls 13 – 18:
“
The
improbability that has been noted by the court is that could the
struggle with a firearm resulting in fatal stabbing wound with
a
knife which could result in 4.5 cm deep wound on the deceased’s
chest?” (
sic)
“
It
will be improbable to struggle over the firearm as well as the knife
being being in her hand at that point in time and with a
stab wound
that was sustained by the deceased on his chest, that was 4.5 cm
deep. The only inference that this court can draw is
that the force
was applied when that wound was inflicted.” (
sic)
[17]
Soos deur Me Bezuidenhout, namens appellant, betoog, en deur Mev
Giorgi toegegee, het die hof
a quo
hier `n mistasting begaan
deurdat daar geen getuienis is wat hierdie bevinding regverdig of
ondersteun nie. Geen mediese- of ander
getuienis is hieromtrent
aangebied nie. Dit is weereens blote spekulasie, maar wat as ‘n
feit gekonstateer word.
[18] Verdermeer het die
hof
a quo
na my mening ook fouteer deur geensins die
moontlikheid te oorweeg dat die oorledene die wond kon opgedoen het
in die proses toe
hy op die oorledene geval het nie. Soos tereg deur
Me Bezuidenhout betoog, is dit `n redelike moontlikheid dat oorledene
met die
val in die mes wat in die hand van appellant was, geval het.
Die
getuienis van beide die staatsgetuies en appellant was tot dien
effekte dat appellant se klere vol bloed was aan die voorkant
daarvan, veral by haar bors, terwyl daar geen bloed op die vloer van
die kamer voorgekom het nie. Dit strook met en staaf appellant
se
weergawe dat die oorledene bo-op haar geval het, sy toe die bloed
gesien het en sy toe die oorledene van haar afgeskuif het.
Dit pas
ook in met ‘n moontlike scenario waar die oorledene in die mes
geval het toe hy bo-op appellant geval het. Hierdie
getuienis is
egter verkeerdelik geensins deur die hof
a
quo
in
aanmerking geneem in die evaluering van die getuienis nie.
[19]
Lerato het getuig dat appellant, toe sy Lerato gaan roep het, gesê
het dat Lerato moes kom kyk wat sy (appellant) gedoen
het. Toe Lerato
aan haar vra wat sy gedoen het, het sy geantwoord “
I
killed Pina”.
Sy
het ook getuig dat toe hulle by die oorledene was, appellant gesê
het dat sy die oorledene gesteek het omdat sy hom saam
met ‘n
ander vrou betrap het. Francina het ook getuig dat appellant aan haar
gesê het
“
I
killed Pina”.
Appellant
ontken egter hierdie weergawe en het getuig dat sy slegs aan Lerato
gesê het dat Lerato moet kom kyk wat sy gedoen
het.
Lerato
is met die inhoud van haar getuie-verklaring, bewysstuk “C”,
gekonfronteer in kruisverhoor, aangesien sy in daardie
verklaring,
ooreenkomstig appellant se weergawe, slegs vermeld het dat appellant
aan haar gesê het dat sy moes kom kyk wat
sy gedoen het. Die
hof
a
quo
het
hieromtrent bevind dat Lerato in kruisverhoor getuig het dat die
verklaring nie aan haar teruggelees was nie. Gevolglik het
die hof
a
quo
geen
waarde aan hierdie teenstrydigheid in Lerato se getuienis geheg nie.
By
nalees van Lerato se getuienis vind ek nie sodanige getuienis ten
opsigte van die teruglees nie. Dit blyk eerder dat sy in haar
getuienis spesifiek bevestig het dat die inhoud van die verklaring
met haar gekontroleer was, deurdat sy bevestig het dat
“
and
whenever this person wrote down whatever you said, did the person
confirm with you this is what you are saying”.
Na
my mening stel Lerato se getuienis in die verband teenoor die inhoud
van haar verklaring nie net `n wesenlike weerspreking daar
nie, maar
staaf die inhoud van die verklaring juis appellant se
ontkenning van hierdie getuienis.
`n
Verdere aspek hieromtrent wat geensins deur die hof
a quo
in
ag geneem is by die oorweging van hierdie deel van die getuienis nie,
is dat dit beide staatsgetuies en appellant se getuienis
was dat die
oorledene nog geleef het op daardie stadium. Appellant het dit ook
vasgestel en geweet voordat sy vir Lerato gaan roep
het. Gegewe dat
appellant nog geleef het, is dit na my mening onwaarskynlik dat
appellant sou gesê het dat sy die oorledene
doodgemaak het.
[20]
Selfs al sou ten gunste van die staat aanvaar word dat sy dit wel
gesê het, neem dit na my mening steeds nie die staat
se saak
verder nie. So ‘n mededeling sou ook steeds gestrook het met
appellant se weergawe van die gebeure, aangesien dit
vasstaan dat sy
dood op een of ander wyse deur die mes wat in haar hand was,
veroorsaak is. So al sou appellant gesê het
dat sy die
oorledene doodgemaak het, het dit egter steeds nie tot gevolg dat sy
noodwendig die vereiste opset gehad het om die
oorledene te dood nie.
[21] Wat betref die
gestoei oor die vuurwapen ten einde dit van appellant af te neem om
te verhoed dat sy selfmoord pleeg, verskil
die staatsgetuies se
weergawe van die van appellant. Volgens die staatsgetuies was dit
Francina wat dit by haar afgeneem het, terwyl
appellant getuig het
dat dit ene Temba was wat met haar gestoei het en dit afgeneem het.
Na my mening draai daar nie veel om hierdie
aspek van die saak nie.
Dit blyk duidelik uit beide staatsgetuies en appellant se getuienis
dat hulle almal emosioneel, geskok
en verward was op daardie stadium
en is dit menslik dat iemand onder die omstandighede ‘n fout
kan begaan hieroor. Dit is
egter gemeensaak dat appellant gedreig het
om haarself te skiet, dat so stoeiery plaasgevind het en dat die
vuurwapen by appellant
afgeneem was nadat ‘n skoot afgegaan
het.
[22] Laastens moet ek
vermeld dat die staat nie vir Mampho as getuie geroep het nie. Hoewel
dit nie bekend is of sy die voorval
tussen appellant en die oorledene
waargeneem het nie, was dit Lerato se getuienis dat sy in die kamer
was toe Lerato saam met appellant
daar aangekom het. Die
staatsaanklaer het tydens ‘n uitstel van die verhoor aangedui
dat Mampho as getuie geroep gaan word
en dat haar getuienis baie lank
gaan wees. Die staatsaanklaer het ook die hof versoek om haar as
getuie te waarsku om die volgende
hofsitting by te woon. By die
volgende verskyning het die staatsaanklaer egter skielik aangedui dat
hy haar nie meer as getuie
gaan roep nie. Dit val vreemd op.
[23] Wanneer die
totaliteit van die getuienis in ag geneem word, blyk dit dus
appellant se weergawe te wees dat sy vir Mampho by
appellant betrap
het, dat sy ‘n mes geneem het en haar daarmee wou dreig, dat
Mampho weggehardloop het, dat appellant toe
`n vuurwapen in sy hand
gehad het wat hy oorgehaal en op haar gerig het, dat sy gevoel het
haar lewe is in gevaar deurdat sy gedink
het dat hy haar gaan skiet
en toe in selfverdediging die vuurwapen by appellant wou afneem
terwyl sy steeds die mes in haar hand
gehad het, dat hulle gestoei
het oor die besit van die wapen, dat sy oor iets gestruikel het en
geval het, dat die oorledene bo-op
haar geval het, dat sy toe gesien
het dat hy beseer is en sy vol bloed is, dat sy hom van haar
afgestoot het en dat hoewel sy erken
dat die steekwond in hierdie
proses veroorsaak moes gewees het deur die mes wat sy in haar hand
gehad het, weet sy nie hoe en wanneer
dit gebeur het nie. Dit kon
selfs gebeur het dat die oorledene in die mes geval het. Die opdoen
van die steekwond was dus ‘n
ongeluk terwyl sy in
selfverdediging opgetree het en het sy nie die opset gehad om die
oorledene te dood nie.
Op
die totaliteit van die getuienis, kon daar na my mening nie bevind
gewees het dat appellant se weergawe nie redelik moontlik
waar is
nie; inteendeel, daar is nie substantiewe getuienis wat dit
weerspreek nie, maar daar is wel getuienis wat stawing aan
haar
weergawe verleen. Die hof
a
quo
het
fouteer deur te bevind dat die staat appellant se skuld bo redelike
twyfel bewys het en is appellant dus geregtig op haar vryspraak.
Vanwee hierdie bevinding is dit uiteraard nie nie nodig om met die
appèl teen die vonnis te handel nie.
[24] Gevolglik slaag
appellant se appel en word haar skuldigbevinding en die opgelegde
vonnis tersyde gestel.
_____________
C.
VAN ZYL, R
Ek
stem saam:
____________________
C.
REINDERS, WND R
Namens
die Appellant: Adv. I. Bezuidenhout
In
opdrag van:
Matee
Prokureurs
Bloemfontein
Namens
die Respondent: Adv. S. Giorgi
In
opdrag van:
Direkteur
van Openbare
Vervolgings
Bloemfontein