About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2013
>>
[2013] ZAFSHC 142
|
|
Pretorius v L & V Prokureurs (A314/2012) [2013] ZAFSHC 142 (22 August 2013)
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Appèlnommer: A314/2012
In
die appèl tussen:-
RENéE PRETORIUS
...............................................................
Appellante
en
L & V PROKUREURS
...........................................................
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
VAN ZYL, R
et
JORDAAN, R
et
SEPATO, WnR
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP:
12 AUGUSTUS 2013
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
JORDAAN, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
22 AUGUSTUS 2013
_____________________________________________________
[1] Die appellante kom in hoër beroep teen ‘n
uitspraak en bevel van ‘n enkelregter van hierdie afdeling.
[2] Die agtergrondsfeite van die aangeleentheid is
redelik eenvoudig. Die appellante was in ‘n geding in die CCMA
deur respondent
prokureurs verteenwoordig en uiteindelik suksesvol
deurdat die CCMA die verweerder, synde appellante se vorige
werkgewer, gelas
het om ‘n bedrag van R125 000,00 aan die
appellante te betaal.
[3] Aangesien die bedrag nie betaal is nie, het die
appellante, verteenwoordig deur die respondent, aansoek gedoen vir ‘n
lasbrief van eksekusie by die Arbeidshof ten einde betaling te
verkry. Uiteindelik het die respondent die lasbrief vir eksekusie
by
die Arbeidshof verkry, maar weier om dit aan die appellante
beskikbaar te bestel vir uitvoering daarvan alvorens die respondent
se rekening van R6 600,00 ten opsigte van die aansoek vir die
verkryging van die lasbrief te betaal. Die respondent het op
‘n
retensiereg op die inhoud van sy lêer gesteun.
[4] Die appellante het die betrokke rekening betwis en
die respondent versoek om dit te laat takseer. Die respondent het
geweier
en aangevoer dat die appellante self die rekening by die
Prokureursorde kon laat takseer. ‘n Toutrekkery oor wie die
rekening
moet laat takseer het ontstaan.
[5] Dit dien vermeld te word dat, om redes wat nie
werklik ter sake is nie, die verhouding tussen die appellante en die
respondent
versuur het tot so ‘n mate dat, volgens die
respondent
“
so ver dit die afhaal van die lasbrief by
die CCMA aanbetref, bevestig ek dat die lasbrief op 12 September 2011
in ontvangs geneem
is. Dit was reeds op daardie stadium ‘n
uitgemaakte saak dat ek onttrek uit beide aangeleenthede”.
Later sê die respondent dat hy, nadat hy die
lasbrief ontvang het, besluit het om summier te onttrek en ‘n
rekening
te lewer.
[6] Onder andere was daar ‘n dispuut oor die
respondent se rekening in ‘n ander aangeleentheid en het
appellante ‘n
klag daaroor by die Prokureursorde ingedien op 9
September 2011, ongeveer drie dae voordat respondent die lasbrief
ontvang het
en nadat verskeie skrywes tussen die partye gewissel is.
[7] Die appellante het verskeie pogings aangewend om die
lasbrief vir eksekusie by die respondent te verkry. Aanvanklik het sy
ontken
dat die respondent ‘n retensiereg het, daarna aangebied
om die bedrag van R60,00 wat op die respondent se rekening voorkom
vir die afhaal van die lasbrief vir eksekusie te betaal. Later is ‘n
kantooronderneming van haar prokureurs aangebied vir
betaling van die
rekening na taksasie daarvan en toe dit alles onsuksesvol was, is ‘n
bankwaarborg vir die bedrag van R6 600,00
aangebied vir betaling
sodra die dispuut met betrekking tot die respondent se rekening
besleg is. Al hierdie pogings was onsuksesvol
en die respondent het
volhard dat hy ‘n retensiereg op die lasbrief behou tot tyd en
wyl sy rekening betaal is.
[8] Die appellante het toe ‘n aansoek gebring na
hierdie hof vir ‘n bevel wat die respondent verplig om die
lasbrief
vir eksekusie te oorhandig teenoor die lewering van
sekuriteit tot bevrediging van die Griffier van hierdie hof vir
betaling van
die respondent se rekening.
[9] Die aanvanklike smeekbedes was
ietwat onbevredigend deurdat daar nie voorsiening gemaak was vir
taksasie of ‘n ander wyse
van beslegting van die geskil met
betrekking tot die rekening nie.
[10] Die appellante se aansoek was geopponeer en
uiteindelik is die appellante se aansoek afgewys met koste. Die
appellante kom
in hoër beroep teen voormelde bevele met verlof
van die Hoogste Hof van Appèl nadat verlof deur die
verhoorregter geweier
is.
[11] In die hof
a quo
en in hierdie hof is namens
die respondent aangevoer dat die appellante se remedie was om:
(i) die respondent se rekening te betaal, haar dokumente
te bekom en dan ‘n klag by die Prokureursorde te lê vir
oorverhaling
van fooie of
(ii) ‘n klag te lê by die Prokureursorde, te
wag tot die Orde ‘n gespesifiseerde rekening by die respondent
aanvra
en dit takseer, die getakseerde bedrag betaal en dan haar
dokumente te verkry.
[12] Soos reeds vermeld, was daar deurentyd ‘n
toutrekkery oor wie die verantwoordelikheid het om die rekening voor
te lê
vir taksasie aan wie ookal die taksasie moet doen.
[13] In die verhoorhof was die hoofsaaklike vraag of die
hof in sy diskresie loslating van die lasbrief vir eksekusie teenoor
die
stel van sekuriteit moet gelas.
[14] Die verhoorhof het bevind dat die respondent met
betrekking tot sy rekening twee dinge kon doen, naamlik hy kon die
dokumente
behou en dagvaar vir betaling van sy fooie totdat die fooie
betaal is of hy kon bloot die dokumente behou uit hoofde van sy
retensiereg
totdat sy fooie betaal is. Die hof merk ook op:
“
Hy kon ook ander stappe neem.”
Ongelukkig meld die hof nie welke ander stappe geneem
kon word nie.
[15] Uit die uitspraak blyk dit dat die hof aanvaar het
dat, indien daar ‘n dispuut oor die rekening was, die korrekte
wyse
van optrede sou wees soos deur die respondent as voorgestelde
remedies vir die appellante voorgehou is, naamlik:
(i) om die rekening te betaal en daarna ‘n klag by
die Prokureursorde in te dien of
(ii) ‘n klag by die Prokureursorde in te dien, te
wag totdat die dispuut besleg is, die rekening wat dan deur die Orde
getakseer
is te betaal en haar dokumente te verkry.
[16] Die verhoorhof neem hierdie houding in op basis
daarvan dat die bewerings van die respondent met betrekking tot die
voormelde
alternatiewe remedies nie spesifiek deur die appellante in
haar repliek mee gehandel is nie. Dit blyk egter uit die stukke dat,
in antwoord op voormelde voorgestelde remedies deur die respondent,
die appellante in repliek aangevoer het dat die respondent
se
vertolking van die regsbeginsels verkeerd is en dat dit inderdaad in
dispuut geplaas is.
[17] Later bevind die hof dat:
“
Onder ander omstandighede sou taksasie die
respondent se oplossing gewees het, maar hier is dit gewens dat
applikant eers die lasbrief
kry en daarna die verdere stappe neem
teen respondent as sy wil, maar voor sy die lasbrief kry, moet sy
eers die rekening betaal.”
[18] Die verhoorhof bevind ook dat dit onprakties en
ongewens is om in die omstandighede soos hierdie waar dit oor ‘n
baie
slegte verhouding tussen partye gaan, met ‘n bankwaarborg
te werk soos deur die appellante aangebied. Die hof bevind dat die
voorwaardes vir uitbetaling moeilik te verwoord blyk te wees.
[19] Dit is gemene saak dat die respondent inderdaad ‘n
retensiereg op die inhoud van sy lêer, insluitende die lasbrief
vir eksekusie, gehad het en ook dat die hof
a quo
se bevinding
gebaseer is op die uitoefening van ‘n diskresie. Weens die feit
dat die hof ‘n diskresionêre bevinding
moes maak, sal ‘n
Hof van Appèl nie maklik inmeng met die verhoorhof se
uitoefening van sodanige diskresie nie, tensy
hierdie hof oortuig is
dat die verhoorhof sy diskresie nie regterlik uitgeoefen het nie, met
ander woorde, indien bevind word dat
die verhoorhof sy diskresie
uitgeoefen het om onvoldoende redes, op grond van foutiewe beginsels
of nie onbevooroordeeld was nie
in sy benadering van die geskil nie
of versuim het om op te tree op onvoldoende gronde.
Sien:
M
inister
of Education, Western Cape, and Others v Governing Body, Mikro
Primary School, and Another
2006 (1) SA 1
(SCA)
te
17C – D;
Shepstone & Wylie and
Others v Geyser NO
1998 (3) SA 1036
(SCA) te 1044J – 1045A.
[20] Daar is verskeie beslissings wat onteenseglik
daarop dui dat ‘n kliënt van sy prokureur kan vereis om sy
rekening
te laat takseer.
Sien onder andere:
Aircraft
Completions Centre (Pty) Ltd v Rossouw and Others
2004
(1) SA 123
(WLD) te 183H – 184B.
In die saak van
Blakes
Maphanga Inc v Outsurance Insurance Co Ltd
2010
(4) SA 232
(SCA) te 240C word eksplisiet bevind:
“
A client is entitled to taxation of his or
her attorney’s account.”
[21] Dit blyk uit die voormelde dat dit die prokureur se
plig is om sy rekening, indien sodanig versoek, op te stel en aan te
bied
vir taksasie. Uiteraard kan ‘n kliënt nie ‘n
kosterekening namens sy of haar prokureur opstel nie. Die feit dat
daardie werkswyse moontlik verdere koste sou meebring, soos deur die
verhoorhof bevind, is myns insiens irrelevant. ‘n Prokureur
is
geregtig om die koste vir die opstel en taksasie van sy rekening te
verhaal. Om derhalwe te bevind dat taksasie in die onderhawige
geval
nie gepas sou wees nie, is nie alleen ongefundeerd nie, maar regtens
verkeerd.
[22] Uit die voorgaande is dit duidelik dat die
appellante se aandrang op taksasie die uitoefening van ‘n reg
was. Redelikheid
of onredelikheid van haar versoek is regtens
irrelevant. Die respondent se weiering om sy rekening voor te lê
vir taksasie
was nie bloot onredelik nie, maar inderdaad onregmatig.
[23] Dit is uit die stukke duidelik dat die appellante
deurgaans bereid was om die rekening, na taksasie, te betaal. Die
respondent
se onregmatige weiering het gelei tot die verdere
ongelukkige verloop van gebeure wat uiteindelik tot die bring van die
aansoek
aanleiding gegee het.
[24] Die verhoorhof se bevinding omtrent welke ander
stappe die appellant moes en kon geneem het, is derhalwe duidelik
verkeerd
en gebaseer op onvoldoende gronde en ‘n foutiewe
siening van haar regte, in besonder haar reg om taksasie te vereis.
Hierdie
mistasting het duidelik die verhoorhof se benadering in die
uitoefening van sy diskresie beïnvloed.
[25] Die verhoorhof verwys, onder andere, ook na ander
geskille tussen die appellante en respondent met betrekking tot ‘n
rekening ten opsige van ‘n ander saak en ten opsigte waarvan
die appellante ‘n klag by die Prokureursorde gelê
het.
Dit, volgens die verhoorhof, en haar stemboodskappe aan die
respondent waarin sy onwelvoeglike skeltaak gebruik het, toon
haar
onredelike houding, aldus die hof
a quo
.
[26] Myns insiens is die dispuut tussen die partye ten
opsigte van ‘n ander rekening en hulle optredes as gevolg
daarvan irrelevant
met betrekking tot die appellante se reg op
aandrang op taksasie. Haar onwelvoeglike stemboodskap kan natuurlik
nie goedgepraat
word nie, maar moet in ag geneem word dat dit geskied
het as gevolg van provokasie deurdat die respondent deurgaans
onregmatig
geweier het om sy rekening te laat takseer.
[27] Gestroop van emosie, was die posisie derhalwe as
volg:
(i) Die appellante was geregtig om aan te dring op
taksasie van die rekening.
(ii) Die respondent was regtens verplig om sy rekening
te laat takseer en nie, soos hy deurgaans volgehou het, dat die plig
op appellante
gerus het nie.
(iii) Deur sy weiering om sy rekening te laat takseer,
frustreer hy appellante se vooruitsig om, na taksasie, die rekening
te betaal
en sodoende besit van haar lasbrief vir eksekusie te
verkry.
[28] Dit is in bogenoemde omstandighede wat die aansoek
en die uitoefening van die hof se diskresie bereg moes word.
[29] Met betrekking tot die gevraagde regshulp en
spesifiek die aanbod om ‘n bankwaarborg te lewer, bevind die
verhoorhof
dat dit eerstens onwenslik is waar partye ‘n slegte
verhouding het en tweedens dat die voorwaardes vir uitbetaling van
sodanige
waarborg moeilik te verwoord is. Wat die eerste aspek
betref, vind ek dit moeilik om te begryp. Sou ‘n waarborg deur
‘n
onafhanklike bank nie juis buite die kader van persoonlike
dispute staan nie? Wat die tweede aspek betref, sien ek nie wat die
probleem met betrekking tot die voorwaardes vir betaling sou wees
nie. Betaling sou bloot geskied indien en sodra ‘n behoorlik
getakseerde rekening gelewer word. Die aard en omvang van sekuriteit
is in elk geval iets wat, luidens die gevraagde smeekbedes,
deur die
Griffier bepaal moet word en nie iets waaroor die hof hom oor hoef te
bekommer nie.
[30] Namens die respondent is betoog dat die rekening
voortspruit uit en verband hou met litigasie in die Arbeidshof en dat
die
Griffier van hierdie hof derhalwe nie die aangewese persoon is om
die sekuriteit te bepaal nie. In terme van die reëls van
die
Arbeidshof, spesifiek reël 24(3), word bepaal dat, by gebreke
aan ‘n ooreenkoms of hofbevel oor die toepaslike tariewe,
die
tariewe van toepassing in die Hoë Hof toepassing sal vind vir
doeleindes van die Arbeidshof.
[31] Hier is geen sprake van ‘n hofbevel of
ooreenkoms met betrekking tot die toepaslike tariewe nie, sodat die
Griffier van
hierdie hof in net so goeie posisie is om die aard en
omvang van sekuriteit te bepaal as die Griffier van die Arbeidshof.
[32] Tydens argument is namens beide partye aangevoer
dat, indien die rekening takseer moet word, dit gedoen behoort te
word deur
die Prokureursorde. Ek is nie oortuig dat dit korrek is
nie. In terme van reël 25(2) van die Arbeidshof kan die Griffier
van
daardie hof enige rekening takseer wat verband hou met
verrigtinge in die betrokke hof en in terme van reël 26 geskied
uitvoering
van die bevele van die hof ooreenkomstig die prosedures in
die Hoë Hof van Suid-Afrika, welke tariewe spesifiek in terme
van
reël 70 van die Eenvormige Hofreëls onder afdeling F
voorsiening maak vir uitreiking van ‘n lasbrief vir eksekusie.
[33] Dit kom my voor dat die aangewese persoon om die
taksasie te doen inderdaad die Griffier van die Arbeidshof sou wees.
Daar
is egter niks wat die partye verhoed om ooreen te kom dat die
rekening deur die Prokureursorde takseer word nie, indien
laasgenoemde
bereid is om dit te doen.
[34] In die totaliteit van die voorgaande omstandighede
is ek oortuig dat die verhoorhof nie sy diskresie regterlik
uitgeoefen het
nie en dat die omstandighede van die saak oorweldigend
regverdiging verleen vir uitoefening van die diskresie in die guns
van die
appellante.
[35] Wat koste betref, is die aansoek genoodsaak primêr
deur die respondent se onregmatige weiering om sy rekening te laat
takseer. Daar is geen rede waarom respondent nie gelas sal word om
die koste van die appèl en die koste van die aansoek
te betaal
nie. In die lig van die feit dat beide partye onnodig hardvogtig
opgetree het en veral die appellante se onbetaamlike
dreigemente
teenoor die respondent, meen ek egter nie dat ‘n bestraffende
kostebevel aangewese is nie.
[36] Ek meen derhalwe dat die volgende bevele verleen
behoort te word:
1. Die appèl slaag en die bevel van die hof
a
quo
word tersyde gestel
2. Die respondent word gelas om die lasbrief vir
eksekusie, soos deur die Arbeidshof uitgereik, aan die applikante se
prokureurs
van rekord te lewer teen die verskaffing van sekuriteit
tot tevredenheid van die Griffier van hierdie hof.
3. Indien respondent versuim om gevolg te gee aan die
bevel in paragraaf 2 hierbo, word die Balju gemagtig om die lasbrief
vir eksekusie
uit besit van die respondent te verwyder en aan
applikante se prokureurs van rekord te lewer.
4. Respondent word gelas om sy rekening voor te lê
vir taksasie deur die Griffier van die Arbeidshof of sodanige ander
bevoegde
instansie as waarop die partye ooreenkom, binne 14 dae na
verlening van hierdie bevel.
5. Respondent word gelas om die koste van die appèl
sowel as die koste van die aansoek te betaal.
_______________
A.F. JORDAAN, R
Ek
stem saam.
____________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam.
_________________
R.M. SEPATO, WnR
Namens
appellante: Adv M.H. Wessels SC
In
opdrag van:
Wessels
& Smith BLOEMFONTEIN
Namens
respondent: Adv D.M. Grewar
In
opdrag van:
L
& V Prokureurs
BLOEMFONTEIN
/spieterse