About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2013
>>
[2013] ZAFSHC 121
|
|
Lebina v S (A42/2012) [2013] ZAFSHC 121 (27 June 2013)
VRYSTAAT HOË
HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA
Appélnommer:
A42/2012
In
die appèl tussen:-
PERCIVAL
LEBINA
...........................................................................
Appellant
en
DIE
STAAT
_____________________________________________________
CORAM:
RAMPAI, WND RP, EBRAHIM, R
et
VAN ZYL, R
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP:
10 MAART 2013
UITSPRAAK DEUR:
VAN ZYL, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
27 JUNIE 2013
_____________________________________________________
[1] Appellant het in die
Streekhof, Welkom, tereggestaan op ‘n aanklag van verkragting
in terme van die Wysigingswet op die
Strafreg (Seksuele Misdrywe en
Verwante Aangeleenthede), Wet 32 van 2007. Dit is beweer dat hy op of
omtrent 30 Augustus 2008 ‘n
daad van seksuele penetrasie met
die klaagster, Charmaine Maphike, gepleeg het deur seksuele omgang
met haar te hê sonder
haar toestemming. Appellant het onskuldig
gepleit, maar is skuldig bevind en gevonnis tot agt (8) jaar
gevangenisstraf.
[2]
Appellant het by die hof
a
quo
aansoek gedoen
om verlof om te appelleer teen beide sy skuldigbevinding en die
opgelegde vonnis, welke verlof geweier is. Hy het
daarop ‘n
petisie gerig, welke petisie toegestaan is en is verlof verleen om te
appelleer teen beide sy skuldigbevinding
en die vonnis.
[3] Die appèl het
aanvanklik voor Mocumie, R en Danzfuss, Wnd R gedien, waarop hulle
nie eenparigheid kon bereik met betrekking
tot die uitslag van die
appèl nie. Die huidige volbank is daarop gekonstitueer ten
einde die appèl te bereg.
[4] Ter agtergrond kan
vermeld word dat dit uit die totaliteit van die getuienis blyk dat
die klaagster en appellant welbekend is
aan mekaar, deurdat hul twee
gesinne reeds jare in dieselfde straat woonagtig is, die twee gesinne
se lede goed aan mekaar bekend
is en inderdaad huisvriende was. Die
klaagster, wie ongeveer 22 jaar oud was ten tyde van die voorval, het
in haar getuienis na
appellant verwys as “Uncle Percival”.
Appellant was ongeveer 31 jaar oud ten tyde van die voorval. Die
klaagster het
getuig dat op 30 Augustus 2008 tussen ongeveer 11h00 en
12h00 die oggend, was sy alleen tuis en besig om haarself in haar
kamer
te was toe sy ‘n harde klop aan die huis se deur gehoor
het. Sy was bang dat dit ‘n potensiële aanvaller kan wees.
Sy het egter die deur sowel as die sekuriteitsdeur van die huis
oopgesluit en gevind dat dit appellant was. Hy het gevra om “Doom”
insekdoder te leen, waarop sy dit wel aan hom geleen het. Daarna is
appellant weg en is sy terug na haar kamer om haarself verder
te was.
Later het appellant teruggekeer na die huis om die “Doom”
terug te bring, wat sy weer by die deur van die huis
by hom
teruggeneem het. Sy het aanvaar dat hy toe weg is vanaf die huis en
het weer na haar kamer teruggekeer. Die volgende oomblik
het hy egter
sy verskyning in haar kamer gemaak. Hy het haar op haar mond gesoen
en gesê dat hy gemeenskap met haar wou hê.
Sy was verras
deur sy gedrag en het vir hom gesê dat sy dit nie wou doen nie.
Die volgende oomblik het hy haar fisies oorweldig
en op die bed laat
lê. Hy het sy broek afgetrek, bo-op haar gaan lê en haar
penaal gepenetreer, terwyl hy seksuele
bewegings uitgevoer het.
Volgens haar het hy nie in haar ejakuleer nie, maar het sy wel later
tydens die mediese ondersoek gemerk
dat ‘n witkleurige
afskeiding uit haar geslagsdeel kom.
[5]
Die volgende oomblik het haar suster die kamer binnegekom en gesien
wat gebeur het. Appellant het opgestaan en, soos die klaagster
dit in
haar getuienis in hoof gestel het, “
he
straightened out his clothes, he got dressed properly”
.
Haar suster en appellant het toe die slaapkamer verlaat.
[6] Volgens die klaagster
het sy nie vir appellant toestemming gegee om met haar gemeenskap te
hê nie en het hy haar onder
druk geplaas en geforseer om dit te
doen. Sy het egter nie geskree of fisies teruggeveg nie.
[7] Die suster van die
klaagster, Michelle Maphike, het getuig dat sy die oggend van die
voorval oppad was na die huis (waar die
voorval plaasgevind het) en
toe sy naby was, het sy gesien dat appellant die huis verlaat en
oppad is om die erf ook te verlaat,
maar net voordat hy die erf
verlaat het, het hy omgedraai en weer die huis binnegegaan. Kort
daarna het sy ook die huis binnegegaan
deur die oop kombuisdeur en
gemerk dat die klaagster se kamerdeur toe was. Sy het die kamerdeur
oopgemaak en gesien dat appellant
bo-op die klaagster was, met sy
broek afgetrek tot op sy knieë, besig om seksuele omgang met
haar te hê sonder ‘n
kondoom. Hy het opgespring vanaf die
klaagster toe hy van die getuie se teenwoordigheid bewus word, soos
iemand wat geskrik het,
terwyl hy sy broek opgetrek het. Hy het
onmiddellik teenoor die getuie begin om verskoning vra, terwyl hy
haar aangesê het
om stil te bly oor die voorval en niemand
daarvan te vertel nie, aangesien dit ‘n familie-aangeleentheid
was. Op daardie
stadium het die klaagster bang gelyk, maar het sy
niks gesê nie en ook nie gehuil nie.
[8] Die getuie het toe
haar vader gaan roep wat intussen met sy taxi in die straat voor die
huis afgery het. Sy het saam met haar
vader na die huis teruggekeer,
terwyl sy hom oppad daarheen vertel het wat gebeur het. By die huis
gekom, het appellant en sy moeder
ook daar opgedaag, sowel as die
klaagster se moeder. Terwyl hulle almal daar was, het sy weer
verduidelik wat gebeur het en het
dit geblyk dat appellant aggressief
raak jeens haar en haar wou keer om te vertel wat gebeur het.
Eventueel het ‘n vuisgeveg
tussen appellant en haar vader
uitgebreek. Daarna is sy, die klaagster en hul ouers na die polisie
stasie ten einde `n aanklag
van verkragting teen appellant te lê.
[9] Tsepo Petrus Maphike,
die vader van die klaagster en van Michelle Maphike, is ook as getuie
geroep. Sy getuienis het in wese
met dié van Michelle Maphike
ooreengestem insoverre dit die gebeure betref waarby hy betrokke was.
Hy het ook getuig dat
appellant telkens die klaagster se suster wou
keer en tussenbeide wou tree as sy wou vertel wat gebeur het.
[10] Appellant het in sy
eie verdediging getuig. Hy bevestig dat hy inderdaad na die klaagster
se huis gegaan het om “Doom”
insekdoder te leen. Hy het
aan die kombuisdeur geklop, waarop die klaagster die deur oopgemaak
het terwyl sy ‘n nagrok voor
haar liggaam gehou het. Op sy
versoek het sy aan hom die “Doom” gegee, waarop hy
aangedui het dat hy dit gaan gebruik
en dan sal terugbring. Hy is
daarvandaan na sy huis. Hy het later teruggekeer en het buite die oop
kombuisdeur gestaan vanwaar
hy na haar geroep het. Die klaagster het
opgedaag, maar was nakend. Volgens appellant het hy die klaagster
versoek om klere te
gaan aantrek. Terwyl hy gepraat het, het hy die
“Doom” voor hom uitgehou in haar rigting, terwyl hy met
sy gesig weggekyk
het, aangesien hy, volgens hom, nie na haar wou kyk
nie. Die volgende oomblik het sy langs hom gestaan, hom aan die hand
gegryp
en hom aangesê om na iets in haar kamer te gaan kyk.
Volgens appellant het die klaagster hom forseer om saam met haar te
gaan. Toe hulle die slaapkamer binnegaan, het sy die deur toegemaak,
hom gegryp, hom begin soen en het sy hom voor by sy broek aan
sy
lyfband gegryp. Volgens hom het hy probeer loskom van haar, waarop
hulle op die vloer geval het. Daar het hulle langs mekaar
gelê
toe die klaagster se suster opgedaag het. Die klaagster het hom toe
gelos, waarop hy opgestaan het en besef het dat
sy lyfband voor by sy
broek los was. Sy broek was egter steeds om sy middellyf. Hy het
ontken dat sy broek ooit afgetrek was van
sy middellyf en het ook
ontken dat hy seksuele gemeenskap met die klaagster gehad het.
Volgens hom wou die klaagster se suster
nie na hom luister toe hy aan
haar wou verduidelik wat gebeur het nie en het sy hom bloot uit die
slaapkamer gejaag.
[11] Gedurende die
aanbied van die staatsaak, is ‘n J88 regsmediese verslag,
tesame met ‘n beëdigde verklaring
in terme van Artikel
212(4) van Wet 51 van 1997 as Bewysstuk “B” ingehandig.
Hieruit het dit geblyk dat geen sigbare
beserings aan die klaagster
waargeneem kon word nie, ook nie ten opsigte van haar geslagsdele
nie. Daar was egter ‘n nota
op die J88 gemaak dat ‘n
ondersoek van die geslagsdele moeilik was, aangesien die klaagster
nie haar samewerking gegee het
nie. ‘n Afskeiding met ‘n
semen-tipe voorkoms is egter wel waargeneem.
[12] ‘n
Psigiatriese verslag, gedateer 4 Junie 2010, opgestel deur ‘n
mediese praktisyn verbonde aan die Vrystaatse
Psigiatriese Kompleks
is ingehandig as Bewysstuk “C”. Daaruit blyk dit dat sy
gedurende 2006 gediagnoseer is met bipolêre
gemoedsversteuring
en dat sy op datum van die verslag op psigiatriese medikasie ter
behandeling daarvan was.
[13] Wat laasgenoemde
aspek betref, het dit uit die totaliteit van die getuienis geblyk dat
die klaagster inderdaad ‘n depressie
lyer is, welke reeds die
situasie was voor die plaasvind van die voorval, welke depressie
vererger het daarna. Dit het egter weer
verbeter nadat sy
terapie-sessies ondergaan het. In die verband het die hof
a quo
in ‘n gerekonstrueerde uitspraak, onder andere, die volgende
bevindings gemaak:
“
The evidence
before court is that the complainant suffers from a mental illness.
There is no medical evidence before court that
she is indeed a
mentally ill person as classified in terms of the Act. However, the
impression from the family members that testified
is that the
complainant is not mentally sound. A letter from a doctor also
indicates that she has suffered from a bipolar disorder.
The court’s observation of her
also indicated that she was not mentally well. She appeared at times
to be confused and very
tired. …
It was also brought to the attention
of the court during her testimony that she was on medication and
suffered from severe depression
as a result of this incident.
She indeed appeared to be ill.”
Ek moet met Mnr van der
Merwe, namens appellant,
se betoog saamstem dat
die hof
a quo
se
bevinding dat die gesinslede van die klaagster getuig het dat die
klaagster nie geestelik gesond is nie, ongegrond is. Michelle
Maphike
het juis getuig dat die klaagster nie “retarded” is nie
en slegs depressief is. Ook die klaagster se vader
het getuig dat sy
aan depressie ly, maar dat daar geen kommunikasieprobleme tussen
hulle bestaan het as gevolg hiervan nie.
Ek
moet verdermeer ook met Mnr van der Merwe se betoog saamstem dat dit
uit die geheel van die uitspraak blyk dat die hof
a
quo
die weersprekings wat in die
klaagster se getuienis voorgekom het, aan haar geestelike toestand
toegeskryf het of poog toe te geskryf
het. Ook hierdie benadering en
gevolgtrekking is ongefundeerd, deurdat daar geen getuienis is ter
ondersteuning van sodanige gevolgtrekking
nie.
[14] Addisioneel tot
bogemelde aspekte, het die hof
a quo
ook die volgende
wanvoorligtings met betrekking tot die getuienis begaan:
Die hof
a quo
het
bevind dat die klaagster aanvanklik gedurende kruisverhoor duidelik
getuienis gelewer het, maar dat sy gedurende verdere
kruisverhoor
deur appellant se tweede prokureur deurmekaar voorgekom het,
voortdurend moeg was en haar vorige getuienis weerspreek
het. Dit is
egter nie korrek nie. Hoewel dit so is dat appellant se eerste
prokureur onttrek het en hy toe vervang is deur ‘n
ander
prokureur, het dit geskied voordat die klaagster se kruisverhoor ‘n
aanvang geneem het en is sy dus slegs deur een
prokureur
gekruisverhoor.
Voorts het die hof
a
quo
bevind dat dit appellant se weergawe is dat voortspruitend
uit die stoeiery tussen hom en die klaagster, hulle langs mekaar op
die bed beland het totdat die klaagster se suster die kamer
binnegekom het. Dit is egter ook nie korrek nie. Hoewel die
stellings
wat aanvanklik namens appellant aan die staatsgetuies
gemaak was tot dien effekte was dat hulle op die bed beland het, was
dit
appellant se getuienis dat hulle inderdaad op die vloer beland
het.
Dit blyk ook die
bevinding van die hof
a quo
te wees dat die klaagster sou
getuig het dat appellant haar ontklee het. Haar getuienis was egter
dat sy self haar broekie uitgetrek
het. Hoewel dit so is dat sy op
‘n stadium getuig het dat sy onseker is hoe en deur wie haar
broekie uitgetrek is, aangesien
die gebeure onverwags en vinnig
plaasgevind het, was haar uiteindelike antwoord dat sy dit wel self
uitgetrek het, maar dat sy
geforseer was daartoe deur appellant
onder die omstandighede.
[15] Dit is geykte reg
dat wanneer daar `n wanvoorligting met betrekking tot die feite deur
die verhoorhof gemaak is, staan dit
die hof van appél vry om
die feitebevindings van die verhoorhof met betrekking tot
geloofwaardigheid in die geheel of gedeeltelik
te ignoreer of omver
te werp en die hof van appél se eie bevindinge te maak. Sien
R
v DHLUMAYO AND ANOTHER
1948 (2) SA 677
(A) op 705 – 706. Ek
is gevolglik van oordeel dat gegewe die hof
a quo
se bogemelde
wanvoorligtings, in besonder wat betref die hof se foutiewe
benadering ten opsigte van die klaagster se geestelike
toestand en
die invloed daarvan op haar getuienis, ons as hof van appél
opnuut die klaagster se geloofwaardigheid moet beoordeel.
[16] Die klaagster is ‘n
enkelgetuie met betrekking tot die gebeure voordat die klaagster se
suster die slaapkamer binnegekom
het en moet haar getuienis
daaromtrent dus met versigtigheid benader word. Sodra daar egter ‘n
mate van korroborasie bestaan
vir ‘n enkelgetuie se weergawe,
is sodanige getuie nie meer ‘n enkelgetuie nie. Die getuienis
van sodanige getuie moet
dan in totaliteit beoordeel word. Dit is as
volg gestel in
HIEMSTRA’S CRIMINAL PROCEDURE
, A. Kruger
op p. 24-5:
“
When,
however, there is a measure of corroboration, even if it is small,
one is no longer dealing with a single witness (S v Snyman
1968 (2)
SA 582
(A) at 586 – 587). In that case the Court said that
there is no requirement that the Court first decide a single
witness’s
credibility before deciding, on the totality of the
evidence, whether that witness’s evidence can be accepted as
justifying
a conviction. All the evidence should be approached as a
whole”.
[17] Soos deur Mnr van
der Merwe betoog, en tereg deur Mnr Botha, namens die Staat,
toegegee, was die klaagster nie ‘n modelgetuie
nie. Sy het
haarself weerspreek en was haar getuienis nie in alle opsigte
bevredigend nie. Daar was ook sommige weersprekings tussen
haar
getuienis en die van haar suster. In die verband verwys ek na die
volgende:
In haar getuienis in
hoof het sy getuig dat toe sy die deur die eerste keer oopgemaak
het, het sy haar groen nagklere gedra. Later
in haar getuienis in
hoof en dan ook in kruisverhoor, het sy egter getuig dat toe sy die
deur die eerste keer oopgemaak het,
sy nie die nagklere aangehad het
nie, maar dit net voor haar liggaam gehou het. Volgens haar het sy
wel die nagklere aangehad
toe appellant die “Doom”
insekdoder teruggebring het.
Haar getuienis met
betrekking tot welke deure gesluit was en/of toe was en/of oop was
tydens welke gebeure, was redelik deurmekaar
en verwarrend.
In haar getuienis in
hoof het sy getuig dat by die eerste geleentheid het sy haar rug op
appellant gedraai ten einde die “Doom”
te kry en het hy
waarskynlik haar nakende agterkant gesien, terwyl sy gedurende
kruisverhoor getuig het dat hy slegs haar sykant
gesien het.
Ek het reeds verwys na
haar teenstrydige getuienis met betrekking tot wie haar broekie sou
uitgetrek het, hoewel ek ook reeds
vermeld het dat sy ‘n
verduideliking vir haar onsekerheid daaromtrent gegee het met
verwysing na die onverwagsheid en vinnige
aard van die gebeure.
Die klaagster het getuig
dat toe haar suster die kamer binnegekom het, was die verkragting
reeds voltooi en was appellant besig
om sy klere aan te trek.
Volgens die suster se getuienis, was appellant nog besig om die
klaagster te verkrag toe sy die kamer
binnegekom het en het hy juis
as gevolg van haar teenwoordigheid van die klaagster afgespring en
sy broek opgetrek. Dit moet
egter onmiddellik vermeld word dat die
klaagster self ook ietwat later in haar getuienis in hoof
laasgenoemde indruk gewek het
toe sy weer verwys het na die stadium
wat haar suster die kamer binnegekom het en toe getuig het “
and
that’s when uncle Percival got up and straightened out his
clothes”.
Sy het ook in kruisverhoor getuig dat
“
it was because of my sister that he actually stopped
with what he was doing”
wat weereens die indruk
wek dat appellant inderdaad steeds besig was met die beweerde
verkragting op die stadium wat die suster
die kamer binnegekom het.
Die klaagster het getuig
dat toe haar suster die kamer binnegekom het, sy wel die boonste
gedeelte van haar nagklere aangehad
het, hoewel dit moontlik
opgeskuif was. Volgens die suster se getuienis was die klaagster
egter nakend op die stadium wat sy
die kamer binnegekom het.
[18] Mnr van der Merwe
het ook betoog dat dit vreemd opval dat die klaagster getuig dat sy
bang was toe sy die geklop aan die deur
gehoor het aangesien sy
gedink het dat dit moontlik iemand kan wees wat haar kan aanval of
doodmaak; desnieteenstaande het sy steeds
die deur oopgemaak en dit
terwyl sy uiters karig geklee was.
Hoewel hierdie getuienis
op sigwaarde inderdaad vreemd opval, is dit gemeensaak dat appellant
op sy eie inisiatief daar opgedaag
het om die “Doom”
insekdoder te kom leen en dat die klaagster dus nie kon geweet het
wie dit is wat aan die deur klop
nie. Die feit dat sy onder daardie
omstandighede steeds die deur oopgemaak het, hoewel dit vreemde
gedrag was onder die omstandighede,
kan nie op enige wyse afbreuk
doen aan haar geloofwaardigheid nie.
[19] ‘n Aspek wat
ook deur Mnr van der Merwe geopper is, is die feit dat die klaagster
haar nie fisies verset het teen appellant
en/of om hulp geskree het
nie. Laasgenoemde is egter uiteraard nie ‘n voorvereiste vir ‘n
bevinding dat sodanige geslagsgemeenskap
sonder die klaagster se
toestemming plaasgevind het nie. In
CRIMINAL LAW,
C.R. Snyman,
5de Uitgawe, op p. 363 is dit as volg gestel:
“
It is,
however, wrong to assume that a court may find that the act took
place without
Y’s
consent only if he or she offered actual physical resistance or had
expressly stated or shouted his or her opposition
to the act. Just as
Y’s consent to the act may be signified either expressly or
tacitly (by implication), her refusal to
consent may, likewise, be
signified either expressly or tacitly.”
Daar moet ook nie uit die
oog verloor word dat dit die klaagster se getuienis was dat sy wel
mondelings die appellant meegedeel
het dat sy nie met hom gemeenskap
wou hê nie. Terselfdertyd moet in gedagte gehou word dat, soos
ek reeds na verwys het,
sy verduidelik het dat die gebeure onverwags
plaasgevind het en alles baie vinnig gebeur het en sy bang was.
Verdermeer is dit
na my mening duidelik dat gegewe die feit dat die
twee gesinne huisvriende met mekaar was en sy inderdaad vir appellant
as “oom”
aangespreek het, dit duidelik is dat hy in ‘n
gesagsposisie teenoor haar gestaan het en dit ook haar gedrag onder
die omstandighede
kan verduidelik.
[20] Die laaste aspek van
die klaagster se getuienis wat Mnr van der Merwe as vreemd
gestipuleer het, is die feit dat die klaagster
nie onmiddellik na die
voorval die beweerde verkragting aan haar suster of aan haar vader
rapporteer het nie, maar in die kamer
gelê het en gemaak het of
sy slaap. Die hof
a quo
het na my mening tereg daarna verwys
dat rapportering nie ‘n noodsaaklike voorvereiste is vir ‘n
skuldigbevinding op
grond van verkragting nie en dat baie faktore ‘n
rol kon speel daarin dat sy dit nie gedoen het nie. Die klaagster is
nie
spesifiek hieromtrent gedurende kruisverhoor gekonfronteer nie en
is sy dus nie die geleentheid gebied om dit te verduidelik nie.
Na my
mening is dit egter belangrik om in gedagte te hou dat volgens die
Staat se weergawe, die klaagster se suster in ieder geval
gesien het
dat daar gemeenskap tussen appellant en die klaagster plaasgevind het
onder omstandighede waar sy reeds die afleiding
gemaak het dat
appellant inderdaad die klaagster verkrag het waarna sy onmiddellik
haar vader gaan roep het, die vuisgeveg tussen
die klaagster se vader
en appellant uitgebreek het en waarna hulle na die polisiestasie
vertrek het. Daar was dus nie in hierdie
geval werklik ‘n
nodigheid en/of ‘n geleentheid waartydens die klaagster die
gebeure kon of hoef te gerapporteer het
voordat hulle na die
polisiestasie vertrek het nie.
[21] Die volgende aspekte
blyk stawing te verleen aan die Staat se weergawe dat appellant die
klaagster verkrag het (en dat die
klaagster se suster dit gesien
het):
Volgens die klaagster se
suster se onbetwiste getuienis het die klaagster die aand nadat
hulle van die polisiestasie teruggekeer
het aan haar rapporteer dat
appellant haar verkrag het en het sy getraumatiseerd voorgekom. Sy
was nie haar normale self nie
en het bang voorgekom. Dit het vir
ongeveer drie weke voortgeduur en het eers begin verbeter nadat sy
terapie daarvoor ontvang
het. Dit dien ook vermeld te word dat dit
uit die getuienis blyk dat die klaagster se suster saam met die
klaagster hierdie terapie
bygewoon het aangesien sy getuig het dat
die gebeure haar ook negatief affekteer het, maar dat sy self ook
begin beter voel het
na aanleiding van die terapie-sessies.
Die klaagster het
nagmerries ondervind en wanneer appellant se naam genoem was
gedurende gesprekke, het sy bang voorgekom en wou
nie oor hom praat
nie. Sy het ook bang voorgekom wanneer daar oor die komende hofsaak
gepraat is.
Volgens die klaagster se
suster het die appellant, nadat sy die kamer binnegekom het en
appellant opgespring het, onmiddellik
begin verskoning aanbied en
gevra dat hulle nie vir ander moes vertel wat gebeur het nie.
Volgens beide die klaagster se suster
en die klaagster se vader se
getuienis het appellant ook tydens die gesprek in die kombuis wat
die vuisgeveg voorafgegaan het,
deurentyd gepoog om die klaagster se
suster te verhinder om te vertel wat gebeur het.
Ek sal weldra terugkeer
na twee verdere aspekte wat na my mening stawing vir die Staat se
weergawe verskaf.
[22] Wat appellant se
getuienis betref, het Mnr van der Merwe toegegee, na my mening
heeltemal tereg, dat appellant ook nie ‘n
goeie getuie was nie.
Ek verwys vervolgend na, ondre andere, die volgende aspekte:
Ten tyde van die
stellings wat deur appellant se eerste prokureur namens hom aan die
klaagster se suster gemaak was, was dit gestel
dat in die stoeiery
waartydens appellant gepoog het om weg te kom vanaf die klaagster,
hulle op die bed geval het en appellant
bo-op die klaagster geval
het. Teenstrydig hiermee het hy egter getuig dat hulle op die vloer
geval het en dat hulle langs mekaar
geval en gelê het.
Appellant se weergawe
soos dit gestel was aan die klaagster se suster tydens kruisverhoor,
het, soos die hof
a quo
ook
tereg in haar uitspraak bevind het, die indruk verwek van ‘n
verloop van gebeure waartydens die klaagster basies vir
appellant
wou verplig om teen sy sin met haar gemeenskap te hê, soveel
so dat hy gestoei het om vanaf haar te probeer wegkom.
Daarteenoor
was die weergawe van appellant wat aan die klaagster self gestel was
ten tyde van kruisverhoor, onder andere tot
dien effekte dat
appellant die klaagster teruggesoen, dat nadat die klaagster
appellant op die bed gestamp het en hulle saam
op die bed was, hulle
mekaar gesoen het en volgens die stelling, “
that before
the accused could penetrate you, your sister arrived and
interrupted”
, appellant klaarblyklik teen daardie
stadium inderdaad met die klaagster gemeenskap wou gehad het.
In teenstelling met
laasgenoemde weergawe was dit appellant se getuienis onder eed, soos
reeds ter aanvang in hierdie uitspraak
na verwys, dat hy in die
situasie geforseer was deur die klaagster en dat hy op geen stadium
die voorneme gehad het om met haar
gemeenskap te hê nie.
Die hof
a quo
het
ook in haar uitspraak verwys na bogemelde weersprekings.
[23] Wat betref die
klaagster se suster, het die hof
a quo
bevind dat sy ‘n
goeie getuie was. Volgens die hof
a quo
se evaluering van haar
getuienis het sy eerlik voorgekom en het sy nie geblyk enige motief
te hê om appellant valslik te
inkrimineer nie. Ek kan geen fout
vind met hierdie evaluering en gevolgtrekking nie. Die feit dat die
klaagster se suster onmiddellik
nadat sy die gebeure in die
slaapkamer waargeneem het daarop reageer het deur te getuig dat sy
geskok was, onmiddellik haar vader
gaan roep het en, volgens haar
vader, gehuil het toe sy by hom opdaag, is na my mening, op
waarskynlikhede, bevestigend van haar
weergawe van wat sy in die
kamer waargeneem het. In die verband moet dit in gedagte gehou word
dat dit deurentyd appellant se weergawe
was dat sy broek nooit op sy
knieë was nie, maar heeltyd aan sy lyf, al was sy lyfband los.
As dit so was en die klaagster
se suster dan die klaagster en
appellant bloot langs mekaar op die vloer sou aangetref het soos deur
appellant beweer, sou dit
sekerlik nie die klaagster se suster
dermate ontstel het nie. Soos reeds vermeld, verleen appellant se
gedrag nadat die klaagster
se suster die kamer binnegekom het en ook
daarna in die kombuis na my mening verdere stawing aan die klaagster
se suster se weergawe.
Daar is gevolglik na my mening geen rede
waarom die klaagster se suster se getuienis nie aanvaar kan en moet
word nie.
[24] Soos reeds gemeld,
is daar dan na my mening gevolglik twee aspekte wat op wesenlike wyse
stawing aan die klaagster se weergawe
verskaf:
Ten eerste is dit die
klaagster se suster se getuienis wat stawing verleen daarvoor dat
daar geslagsgemeenskap tussen die klaagster
en appellant plaasgevind
het. Gegewe die klaagster se weergawe dat hierdie geslagsgemeenskap
teen haar wil plaasgevind het, aan
die een kant, en appellant se
weergawe dat daar geen gemeenskap tussen hulle plaasgevind het nie,
aan die ander kant, moet dit
dus as bewese aanvaar word dat hierdie
geslagsgemeenskap inderdaad sonder die klaagster se toestemming
plaasgevind het.
‘
n
Tweede en uiters wesenlike aspek van die klaagster se suster se
getuienis wat na my mening essensiële stawing aan die klaagster
se weergawe van die gebeure verskaf en terselfdertyd op wesenlike
wyse appellant se weergawe bo redelike twyfel aantoon as nie
redelik
moontlik waar te wees nie, is die volgende. Op ‘n behoorlike
interpretasie van die klaagster se weergawe, blyk
dit dat appellant
inderwaarheid drie keer by haar woning was, synde die eerste keer
toe hy die “Doom” insekdoder
kom leen het, die tweede
keer toe hy die “Doom” insekdoder teruggebring het,
waarna sy gedink het dat hy weg is,
maar toe kort daarna in haar
slaapkamer sy verskyning gemaak het, laasgenoemde dus die derde
keer. Die klaagster se suster se
getuienis het begin met die
gedeelte waarna ek reeds vroeër in die uitspraak verwys het,
synde dat sy gesien het dat appellant
die huis verlaat en oppad is
om die erf ook te verlaat, maar net voordat hy die erf verlaat het,
hy omgedraai het en weer die
huis binnegegaan het. Hierdie weergawe
het sy by vier verdere geleenthede gedurende kruisverhoor herhaal en
ek wens dit aan te
haal:
“
Look, when I
was approaching the premises, I saw Percival leaving, he was about to
leave the premises but on approaching the gate,
before he went out,
that’s when he turned around and went back into the house.”
OORKONDE
, p. 18,
reëls 15 – 18
“
Look, I have
noticed Percival in the yard all along. First time is when I saw him
about to exit, he went back and later I still
found him there in the
house.”
OORKONDE
, p. 18,
reël 24 tot p. 19, reël 3
“
He never
left the premises, I saw him about to leave then something made him
turn back or turn around, for him to go back into the
house.”
OORKONDE
, p. 19,
reël 6 – 8
“
Look, he
never left the premises as I indicated because I saw him about to
leave then he went back in the house.”
OORKONDE
, p. 19,
reëls 16 - 18
Bovermelde
waarneming
deur die klaagster se suster strook na my mening 100% met die
klaagster se weergawe ten opsigte van dit wat ek hierbo
as die tweede
en derde besoeke deur appellant beskryf het. Op die totaliteit van
die getuienis moet aanvaar word dat die klaagster
se suster nie
gesien het toe appellant die eerste besoek gebring het ten einde die
“Doom” insekdoder te leen nie. Die
enigste redelike
afleiding is egter dat toe die klaagster se suster appellant gesien
het weg van die huis stap oppad om die erf
te verlaat, dit die
geleentheid moes gewees het onmiddellik nadat hy die “Doom”
insekdoder teruggehandig het aan die
klaagster. Voordat hy egter die
erf kon verlaat, het hy teruggedraai en die huis binnegegaan wat, op
waarskynlikhede, die derde
besoek was, synde die geleentheid toe hy
op sy eie die huis binnegegaan het en direk na die klaagster se
slaapkamer gegaan het.
Uit ‘n tydsverloop-oogpunt strook
hierdie beskrywing van die klaagster se suster ook met die klaagster
se weergawe dat sy
na die tweede besoek gedink het dat appellant weg
is van die huis, maar dat hy so te sê onmiddellik daarna sy
verskyning
in haar slaapkamer gemaak het. Waar appellant dus na die
tweede besoek oppad was om die erf te verlaat, maar toe sonder
tussenkoms
van die klaagster op eie inisiatief weer die huis
binnegegaan het, is dit die enigste redelike afleiding dat hy op
daardie stadium
besluit het om seksuele toenadering tot die klaagster
te gaan soek, welke tot die verkragting aanleiding gegee het.
[25] Beoordeel op die
totaliteit van die getuienis en gegewe die stawing van die klaagster
se weergawe, bevind ek dus, soos die
hof
a quo
, maar vir ander
redes, dat die klaagster wel `n geloofwaardige getuie was en dat haar
getuienis aanvaar moet word.
[26] Wat die appellant
betref, was hy nie net leuenagtig nie, maar met inagneming van die
totaliteit van die getuienis kan sy weergawe
na my mening ook nie nie
redelik moontlik waar wees nie.
[27] Gevolglik stem ek
saam met die hof
a quo
se gevolgtrekking dat die Staat bo
redelike twyfel appellant se skuld op die ten laste gelegde aanklag
bewys het. Die appèl
teen die skuldigbevinding kan dus nie
slaag nie.
[28] Wat die opgelegde
vonnis betref, is dit onduidelik uit die gerekonstrueerde uitspraak
ten opsigte van vonnis welke faktore
die hof
a quo
in
aanmerking geneem het vir haar gevolgtrekking dat daar wesenlike en
dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging van ‘n
mindere vonnis dan die voorgeskrewe minimum van tien jaar
gevangenisstraf in terme van Wet 105 van 1997 regverdig en noodsaak.
Uiteraard betwis appellant egter nie hierdie bevinding nie. Die appél
is egter daarop gebaseer dat die agt jaar gevangenisstraf,
skokkend
swaar en onvanpas is.
[29] Wat appellant se
persoonlike omstandighede betref, blyk dit uit die gerekonstrueerde
uitspraak, saamgelees met die petisie,
dat appellant ‘n
eggenote en kind het wat hy onderhou, sowel as sy bejaarde moeder. Hy
ontvang ‘n ongeskiktheidspensioen
wat hy vir hierdie doeleindes
gebruik. Verdermeer is hy 31 jaar oud en was hy verhoorafwagtend
vanaf Augustus 2008 tot November
2010.
[30] Appellant is nie ‘n
eerste oortreder nie. Hy het meerdere vorige veroordelings wat wissel
tussen diefstal, roof, aanranding
met die opset om ernstig te beseer
en bedrog. Hoewel die vorige veroordelings ten opsigte van een
aanklag van roof en een aanklag
van aanranding met die opset om
ernstig te beseer ouer as tien jaar is, word dit steeds in ag geneem
as reflekterend van appellant
se geneigdheid tot geweld.
[31] Van die tersaaklike
verswarende faktore wat tereg deur die hof
a quo
in aanmerking
geneem is by die oorweging van `n gepaste vonnis, blyk uit die
gerekonstrueerde uitspraak, waarmee ek saamstem. Addisioneel
daartoe,
wat betref die aard en die erns van die misdryf, is dit verswarend
dat appellant tot ‘n groot mate in ‘n vertrouensposisie
jeens die klaagster was gegewe die feit dat die twee gesinne
huisvriende was en appellant dermate ouer was as die klaagster dat
sy
hom as “oom” aanspreek. Hy het hierdie
vertrouensverhouding gruwelik misbruik en geskend.
[32] Wanneer die
persoonlike omstandighede van die beskuldigde, die aard en erns van
die misdryf en die belange van die gemeenskap
op ewewigtige wyse in
ag geneem word, kan die opgelegde vonnis na my mening nie geag word
skokkend swaar en onvanpas te wees nie.
Daar blyk ook geen
onreëlmatigheid te geskied het deur die hof
a quo
by die
oorweging van ‘n gepaste vonnis nie. Onder sodanige
omstandighede is daar geen basis waarop met die opgelegde vonnis
ingemeng kan word nie.
[33] Gevolglik word
appellant se appèl teen beide die skuldigbevinding en die
opgelegde vonnis van die hand gewys.
_____________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam:
_________________
RAMPAI, WND RP
Ek stem saam:
________________
EBRAHIM, R
Namens die appellant: Adv
P.L. van der Merwe
In opdrag van:
Bloemfontein Regssentrum
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent:
Adv J.P. du P Botha
In opdrag van:
Direkteur van Openbare
Vervolgings
BLOEMFONTEIN