About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2013
>>
[2013] ZAFSHC 68
|
|
S v van Wyk (A58/2013) [2013] ZAFSHC 68 (9 May 2013)
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Appèl Nr: A58/2013
In
die saak tussen:-
DIE STAAT
...............................................................................
Applikant
en
PIETER CHRISTIAAN VAN WYK
........................................
Respondent
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
KRUGER, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
9 MEI 2013
_____________________________________________________
[1] Hierdie is ‘n aansoek deur die Staat ingevolge
artikel 310A van die Strafproseswet om teen ‘n vonnis van ‘n
Streekhof te appelleer gerig aan ‘n Regter in kamers. Die
applikant is aan strafbare mansslag skuldig bevind en tot korrektiewe
toesig ingevolge artikel 276(1)(h) van die Strafproseswet 51 van 1951
gevonnis.
[2] Die feite is nie in geskil: Die applikant is deur
oorledene, ‘n prostituut, genader en gevra vir besigheid. Hy
het ingestem
en hulle is na sy woonstel. Hulle het ‘n drankie
geniet en toe gemeenskap gehad. Toe vra sy dat hy ‘n kunsmatige
penis
of dildo uit haar handsak haal en in haar kan druk, wat hy
gedoen het. Dit blyk toe of oorledene dit baie geniet en sy byt vir
applikant. Hy het haar weggedruk van hom af en het haar mond
toegedruk. Sy is van versmoring dood. Volgens die getuienis van die
dokter, as hy sy hand 10 sekondes korter oor haar mond gehou het, sou
sy moontlik nie gesterf het nie. Applikant was ten tye van
die
voorval op “Anti-Booze” medikasie en saam met die drank
wat hy ingeneem het kon dit ‘n invloed op sy gedrag
gehad het.
[3] Die verhoofhof het by vonnis oplegging in ag geneem
dat (i) geen wapen is gebruik nie; (ii) applikant het oorledene op
geen
ander wyse aangevra nie; (iii) oorledene het geen ander
beserings opgedoen nie; (iv) drank het ‘n rol gespeel. Die
verhoorhof
het die volgende beslissings in ag geneem.
[4] In
S v Noordien
1990 (2) SASR 253
(K)
het die beskuldigde sy vriendin verwurg. Hy is aan strafbare manslag
skuldig bevind en tot 6 jaar gevangenisstraf gevonnis
wat op
uitgebreide voorwaardes opgeskort is. Die beskuldigde in daardie saak
het vir ‘n landdros vertel dat hy die oorledene
gesê het
dat sy die enigste vrou is wat hy ooit liefgehad het. Die afleiding
uit die mediese getuienis was dat oorledene
se hart gaan staan het as
gevolg van die druk op haar nek.
[5] In
S v Potgieter
1994 (1) SASV 61 (A)
was die feite dat die beskuldigde oor ‘n periode van ses jaar
onderwerp is aan afbrekende optrede van
die oorledene, haar man. Sy
is op die dag van die moord deur oorledene aangerand. Sy is deur die
verhoorhof aan moord skuldig bevind
en tot sewe jaar gevangenisstraf
gevonnis. Die Appèlhof vind dat haar omstandighede sodanig is
dat dit nie nodig is dat
sy uit die gemeenskap verwyder hoef te word
nie, en verwys die saak na die verhoorhof terug vir oorweging van
oplegging van korrektiewe
toesig onder artikel 276(1)(h).
[6] In
S v Larsen
1994 (2) SASV 149 (A)
het beskuldigde haar man doogeskiet na neerhalende optrede van sy
kant af oor baie jare. Sy is op verhoor
aan moord skuldig bevind en
tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan helfte opgeskort is.
Daar was ‘n geskiedenis van
aanrandings deur oorledene op die
appellant oor die laaste drie jaar (157b-c). Die Appèlhof vind
dat sy nie in die kategorie
persone val wat uit die gemeenskap
verwyder moet word nie (157e-f), en verwys die saak na die verhoorhof
terug vir oorweging van
oplegging van korrektiewe toesig.
[7] In
S v Ingram
1995 (1) SASV 1 (A) het
die beskuldigde sy vrou, wat ‘n drankprobleem gehad het,
doodgeskiet. Hy is aan moord skuldig bevind
en tot agt jaar
gevangenisstraf gevonnis. Die appèlhof verwys in sy bespreking
van vonnis na korrektiewe toesig en toon
aan dat die wetgewer
onderskei tussen diegegene wat, hoewel hulle gestraf moet word, nie
uit die gemeenskap verwyder hoef te word
nie (9d-e). Die Appèlhof
vind dat die omstandighede in daardie saak nie verwydering van die
beskuldigde uit die gemeenskap
vereis nie, en verwys die saak na die
verhoorhof terug vir die oorweging van oplegging van korrektiewe
toesig onder artikel 276(1)(h).
[8] In
S v Naidoo and Others
2003 (1) SASV
347 (HHA) wys die hof daarop dat daar ‘n wye spektrum gevalle
is wat onder strafbare manslag val. Een tipe
is waar daar ‘n
momentêre verlies aan konsentrasie is, wat ‘n
lewensverlies tot gevolg het. Appèlregter
Marais sê
vonnisoplegging in sodanige geval is een van die moeilikste take in
die regspleging (par [45]), en voeg by:
“
The outcome will often satisfy neither
those close to the deceased nor those close to the accused, being too
lenient in the eyes
of the former and too severe in the eyes of the
latter.”
[9] In
S v Marx
2009 (2) SASV 562 (OKA) is
die 41-jarige beskuldigde op verhoor skuldig bevind om die moord op
sy vrou deur haar met ‘n pistool
te skiet. Hy het skuldig
gepleit. Op die feite het die verhouding tussen appellant en sy vrou
in die loop van hul 19-jaar lange
troue agteruitgegaan het sy hom ook
in die openbaar verneder. Die verhoorhof het hom tot 10 jaar
gevangenisstraf gevonnis waarvan
die helfte opgeskort is. Die volbank
verwys die saak terug vir oorweging van korrektiewe toesig onder
artikel 276(1)(h).
[10] In
S v Shapiro
1994 (1) SASV 112 (A)
het Appèlregter Nicholas in sy bespreking van vonnis as
relevante faktore beskou die feit dat die
beskuldigde geen
geskiedenis van geweld het nie en dat hy nie ‘n gevaar vir die
gemeenskap daarstel nie en hy voeg by:
“
The concatenation of circumstances was
highly unusual and is unlikely to occur again.”
Dieselfde kan in die onderhawige saak gesê word.
[11] Artikel 310A (vir sake verhoor in laer howe) en
artikel 316B (vir sake verhoor in Hooggeregshowe) is by Wet 107 van
1990 in
die Strafproseswet ingevoeg. Die Staat het nog altyd slegs ‘n
beperkte reg gehad om sake in hoër beroep te neem. Artikels
317
en 318 handel met omstandighede wat tot hoër beroep kan lei. In
Attorney-General, Venda v Maraga
1992 (2) SASV 594 (V)
sê oorlede Waarnemende Regter Etienne du Toit (outeur van die
bekende
Commentary on the Criminal Procedure Act
) dat dit
duidelik is dat die wetgewer bedoel het dat die magtiging om verlof
tot appèl teen vonnis aan die staat toe te
staan, spaarsamig
uitgeoefen moet word (609a-b). Die beskuldigde moet slegs aan ‘n
appèl teen vonnis onderwerp word
wanneer daar duidelik
redelike vooruitsigte van sukses op appèl is (609c-d). Die
geleerde waarnemende regter wys daarop
dat by ‘n appèl
teen vonnis oefen die hof van appèl beheer uit oor ‘n
diskresie wat reeds deur die verhoorhof
uitgeoefen is, en slegs waar
dit blyk dat daardie diskresie onredelik, onbehoorlik of on-regterlik
(“unjudicial”) uitgeoefen
is, sal die hof op appèl
inmeng (606c-d). Die verhoorhof se diskresie moet so onbeperk
moontlik bly (606f). ‘n Hof
van appèl sal slegs met ‘n
vonnis inmeng as die vonnis wat die hof van appèl meen die
juiste vonnis is soveel
van die opgelegde vonnis verskil dat van ‘n
gevoel van skok ontstaan (607g-h). As die verhoorhof sy diskresie op
‘n
onredellike ongebalanseerde wyse uitgeoefen het omdat die
vonnis ooglopend onvoldoende, onredelik of ongebalanseerd is
(607e-j).
Die hof van appèl sal inmeng as die verhoorhof sy
diskresie op ‘n willekeurige wyse (“capriciously”)
uitgeoefen
het (607e-f).
SLOT
[12] Die begin-punt is dat eerste oortreders uit die
tronk gehou moet word indien moontlik. Die feite hier is baie
ongewoon, en
sal waarskynlik nie weer met applikant gebeur nie.
Applikant is nie iemand wat uit die gemeenskap verwyder moet word
nie.
[13] Daar is sekere vonnisse wat, as jy die vonnis hoor,
en die feite oorweeg, duidelik verkeerd lyk. So ‘n vonnis is
skokkend
onvanpas. Daar is gevalle waar die voorsittende beampte
wanvoorligtings begaan het deur belangrike oorwegings buite rekening
te
laat of om iets te oorbeklemtoon. Dit sien ‘n hof van appèl
dadelik raak. Hierdie is nie ‘n geval waar daar enige
wanvoorligtings was nie. Die vonnis volg die riglyne neergelê
deur die Hoogste Hof van Appèl en ander Hooggeregshowe.
Die
vonnis is deurdag en gebalanseerd. Daar is geen redelike vooruitsigte
dat ‘n hof van appèl met die vonnis sal
inmeng nie.
BEVEL
[14] Die staat se aansoek om verlof tot appèl
word van die hand gewys.
_____________
KRUGER, R
Uitspraak en Bevel van Regter in kamers: geen
verskyning.
Applikant
se prokureur: Honey Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Respondent:
Die Direkteur: Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/EB