Hlongwane v S (A273/2012) [2013] ZAFSHC 37 (7 March 2013)

65 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Appeal against conviction — Appellant convicted of murdering his wife and theft of his service firearm and cellphone — Evidence included bloodstains on appellant's clothing and circumstantial evidence linking him to the crime — Appellant's defense found to be improbable and lacking credibility — Court upheld the conviction, finding that the state proved guilt beyond reasonable doubt.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2013
>>
[2013] ZAFSHC 37
|

|

Hlongwane v S (A273/2012) [2013] ZAFSHC 37 (7 March 2013)

VRYSTAATSE HOË
HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA
Saak nommer. : A273/2012
In
die appèl tussen:
MANDLA
ALBERT HLONGWANE
..........................................
Appellant
en
DIE STAAT
...........................................................................
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
HANCKE, WND RP
et
RAMPAI, R
et
VAN ZYL, R
_____________________________________________________
UITSPRAAK:
HANCKE, WND RP
AANGEHOOR OP:
4 MAART 2013
_____________________________________________________
GELEWER OP:
7 MAART 2013
[1] Die appellant is op
11 Mei 2011 in die Rondgaande Hof deur Kruger, R skuldig bevind aan
die moord op sy vrou en diefstal van
sy dienspistool en selfoon.
Gemelde klagtes is saamgeneem vir doeleindes van vonnis en is hy tot
22 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Met die verlof van die hof
a quo
kom hy nou hoër beroep teen hierdie skuldigbevindings.
[2] Dit is gemene saak
dat die appellant en die oorledene getroud was en as man en vrou
saamgewoon het te Medicanstraat, Bakenpark,
Bethlehem, waar die moord
gepleeg is op 22 Mei 2007. Ten tye van haar dood het die oorledene
nagdiens gewerk. Die appellant en
die oorledene se seun Vuyo
Hlongwane was tydens die plaasvind van die moord by die skool gewees.
Dit is gemene saak dat die oorledene
op die betrokke datum gedood is
deurdat sy verskeie kere geskiet is terwyl sy in die gemeenskaplike
woning was. Sy is met verskeie
koeëlwonde dood in die sitkamer
van hulle woning aangetref. ‘n Vensterruit van die badkamer van
die woning was gebreek
en het oopgestaan. Menslike voetspore was aan
die buitekant van die woning voor die badkamervenster op die grond
sigbaar gewees.
Daar is 5 x 9mm koeëldoppies in die onmiddellike
omgewing van die liggaam van die oorledene gevind.
[3] Van wesenlike belang
is die feit dat daar beslag gelê is op die volgende klerasie
wat die eiendom is van die appellant,
te wete bewysstuk 1 (skoene);
bewysstuk 3 (broek); bewysstuk 4 (baadjie). Al hierdie klere is die
vorige dag, te wete 21 Mei 2007,
deur die appellant gedra. Gemelde
broek en baadjie het bloedspatsels op gehad en daar was ook
bloedspatsels, in en op die sole
van die skoene gewees. Al hierdie
bloed was afkomstig van die oorledene gewees.
[4] Dit blyk dat die
appellant se amptelike vuurwapen in ‘n versteekte kluis in die
huis toegesluit was. Die appellant se
selfoon en vuurwapen wat deur
die SAPD aan hom voorsien is, het uit die huis verdwyn. Dit is ook
gemene saak dat die gebreekte
badkamervenster en vensterbank,
elektromagneties ondersoek is en dat daar géén
versteuring van stof op die vensterbank
was nie. Wat die selfoon
betref, was dit nie gebruik onmiddellik na die moord van die
oorledene nie en is dit opgetel ongeveer
115 meter van die appellant
se huis na die moord.
[5] Die enigste
geskilpunt in hierdie saak is of die hof
a quo
, inaggenome al
die feite en omstandighede van die saak, geregtig was om te bevind as
enigste redelike afleiding, dat die appellant
die oorledene vermoor
het. Daarby inbegrepe is die vraag hoe die bloedspatsels afkomstig
vanaf die oorledene op die kledingstukke
van die appellant beland het
en of sy weergawe in hierdie verband redelik moontlik waar is.
[6] Die onus is op die
staat om die skuld van die appellant bo redelike twyfel te bewys.
Rex
v Difford
1937 AD 370
te 373. Waar daar geen direkte
getuienis teen die appellant aangevoer is nie, was die verhoorhof
daarop aangewese om afleidings
uit die omstandigheidsgetuienis te
maak.
[7] Mnr Langenhoven,
namens die appellant, het na die
locus classicus
in hierdie
verband verwys naamlik,
Rex v Blom
1938 AD 188
te 202 –
203 waarin daar beslis is dat daar twee kardinale beginsels van
logika dikteer naamlik, eerstens die afleiding wat
gesoek word moet
ooreenstem met al die bewese feite, so nie, kan die afleiding nie
gemaak word nie en tweedens die bewese feite
moet sodanig wees dat
hulle elke redelike afleiding uitsluit behalwe die een wat gesoek
word. As hulle ander redelike afleidings
nie uitsluit nie, moet daar
twyfel bestaan of die afleiding wat gesoek word, die korrekte is.
[8] Indien daar botsende
weergawes bestaan, is die benadering wat gevolg moet word die
volgende:

The proper
approach in a case such as this is for the court to apply its mind
not only to the merits and the demerits of the state
and the defence
witnesses, but also to the probabilities of the case. It is only
after so applying its mind that a court would
be justified in
reaching a conclusion as to whether the guilt of an accused has been
established beyond reasonable doubt.”
(
S v Singh
1975 (1) SA 227
(N) te 228F – H. Vergelyk ook
S v Radebe
1991 (2) SACR 166
(T) te 167J.)
[9] Mnr Langenhoven het
namens die appellant betoog dat daar verskeie aspekte is wat vreemd
voorkom waarvoor daar nie ‘n verduideliking
is nie soos
byvoorbeeld die aanwesigheid van die hamer, die voetspore wat buite
die badkamervenster waarneembaar was, die klossie
hare wat sou
verdwyn het en die ontstekingsredidu wat by die oorledene gevind is
maar nie by die appellant nie. Dit is egter aspekte
wat in
besonderhede behandel is deur die hof
a quo
wat ek nie nodig
ag om hier te herhaal nie, maar wat uiteindelik nie die saak enigsins
verder voer nie.
[10] Wat die
geloofwaardigheid van die staatsgetuies betref is dit nie werklik
tydens die verhoor aangeveg nie en is dit ook nie
voor ons
gekritiseer nie. Daar bestaan ook geen rede waarom enige van die
polisie lede sou saamsweer om valse getuienis teen hulle
kollega op
te maak nie.
[11] Die hof
a quo
het aanvaar dat die appellant aan lede van die SAPD gesê het
dat sy kluis en vuurwapen vermis is. Die getuies Nkomo, Bouwer
en
Qhobosheane het getuig dat die appellant inderdaad gesê het die
kluis en die vuurwapen is weg. Verder het die hof
a quo
die
getuienis aanvaar van reservis Mokoena dat hy die appellant met ‘n
vuurwapen in sy besit gesien het, die oggend van die
23ste Mei 2007,
welke vuurwapen ‘n Z88 is wat soortgelyk is aan die handwapens
wat deur die polisie gebruik word. Appellant
se weergawe in hierdie
verband is dat Mokoena onsin getuig het.
[12] Dit is ook belangrik
om te let op die getuienis van Inspekteur Nkomo, dat hy die
hoofslaapkamer aangetref het soos uitgebeeld
word op sommige van die
foto’s en dat hierdie nie ‘n normale inbraak toneel was
nie. Hierdie getuienis van die Inspekteur
is nie deur die verdediging
betwis nie.
[13] Wat die weergawe van
die appellant betref, is dit in verskeie opsigte onwaarskynlik. Mnr
Botha, namens die respondent het in
argument volledig met al die
onwaarskynlikhede gehandel, maar handel ek slegs met enkeles daarvan.
Sy weergawe dat daar ingebreek
is en dat die inbreker toegang tot die
huis deur die badkamervenster verkry het, word weerspreek deur
objektiewe feite. So ook
is dit onwaarskynlik dat die inbreker
toegang tot die geslote kluis sou gekry het, appellant se vuurwapen
uit die kluis verwyder
terwyl die kluis goed versteek en gesluit was.
[14] Nog meer
onwaarskynlik is die feit dat die inbreker die klere en die skoene
van die appellant verwyder vanwaar dit gebêre
was en dit in die
sitkamer op die vloer en/of banke geplaas het. Dit is vergesog dat
die inbreker sekere dele van die huis onverstoord
laat en die huis na
die inbraak, gesluit verlaat.
[15] Wat die klere
spesifiek betref, is daar verskeie aspekte wat eienaardig voorkom.
Dit kom onwaarskynlik voor dat die inbreker
die klere en skoene van
die appellant so sal plaas dat nadat die oorledene geskiet is, daar
bloed van die oorledene op die klere
en skoene van die appellant sou
beland. Die verdere vraag wat ontstaan is hoekom die appellant wat ‘n
senior lid is van die
SAPD, klere van ‘n moordtoneel van sy
vrou sou verwyder en verskuif, terwyl hy moes besef het dat dit van
kritiese belang
is om glad nie met die moordtoneel te peuter nie.
[16] Volgens Kolonel
Qhobosheane het die appellant op 21 Mei 2007 die klere, synde
bewysstuke 1 – 4 aangehad, welke getuienis
nie betwis is nie.
Hierteenoor verklaar die appellant egter dat hy slegs die baadjie en
die hemp die vorige dag aangehad het.
[17] Die appellant
verklaar in kruisverhoor die volgende:

Toe ek die
huis binnegaan en die broek het op die sofa gelê saam met die
baadjie.”
In kruisverhoor kan hy
nie verklaar hoe die klere daar gekom het nie. Dit blyk ook dat die
skoene eers in kruisondervraging in die
sitkamer geplaas word. Hy
word gevra of hy kan verduidelik hoekom Adjudant Offisier Mostert
getuig het dat sy die klere aangetref
het soos op ‘n sekere
foto van bewysstuk “A” uitgebeeld is. Hy antwoord dat hy
nie weet nie. Eers later toe aan
hom gesuggereer word dat iemand die
klere bymekaar gemaak en in die kamer geplaas het, getuig dat hy die
broek en die hemp na die
kamer geneem het. Hy getuig ook dat hy die
broek en hemp hanteer het en later pas hy sy getuienis aan en
verklaar hy dat hy die
baadjie en broek hanteer het.
[18] Mnr Langenhoven het,
met verwysing na
S v Nkomo
1966 (1) SA 831
(A) te 833C
betoog dat al sou die appellant leuenagtig gewees het dit nie
noodwendig beteken dat hy die pleger is van die ten las
gelegde
misdrywe nie.
[19] In die lig van die
onbevredigende aspekte in die weergawe van die appellant is die
bevinding van die hof
a quo
dat hy ‘n swak getuie was,
geregverdig in die omstandighede.
[20] Dit blyk dus dat
afgesien van die feit dat die appellant ‘n swak indruk in die
getuiebank gemaak het, sy weergawe so
onwaarskynlik en
ongeloofwaardig was dat die hof
a quo
dit tereg as vals bo
redelike twyfel verwerp het. Die onbevredigende aspekte en
teenstrydige getuienis van die appellant dui sterk
op die appellant
se betrokkenheid by die pleging van die ten las gelegde misdrywe.
[21] Mnr Langenhoven het,
na my mening tereg, nie daarop gesteun dat die hof
a quo
enige
wanvoorligtings begaan het nie. Indien die totaliteit van die
getuienis inaggeneem word is ek van mening dat die hof
a quo
tereg bevind het dat die enigste redelike afleiding wat in die
omstandighede gemaak kan word is dat die appellant hom skuldig gemaak

het aan die pleging van hierdie betrokke misdrywe.
[22] Daar is geen appèl
gerig ten opsigte van die vonnis nie en blyk dit ook in orde te wees.
[23] Bygevolg word die
appèl van die hand gewys.
_________________
S. P. B. HANCKE, J
Ek stem saam.
_______________
M. H. RAMPAI, J
Ek stem saam.
______________
C. VAN ZYL, J
Namens die appellant:
Adv. G. T. Langenhoven
In opdrag van:
Vermaak en Dennis
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent:
Adv. J. P. Du P Botha
In opdrag van:
Die Kantoor van die
Direkteur:
Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/eb