Klopper v Schreuder (499/05) [2006] ZASCA 100; [2006] SCA 99 (RSA) (12 September 2006)

50 Reportability
Legal Practice

Brief Summary

Advocacy — Legal fees — Agreement for payment of fees contingent on success in litigation — Appellant, an attorney, claimed fees from respondent, a former client, based on an alleged agreement regarding payment terms — Respondent contended that fees were only payable if he won the case — Court found that appellant failed to prove the existence of the alleged agreement and dismissed the claim for fees.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2006
>>
[2006] ZASCA 100
|

|

Klopper v Schreuder (499/05) [2006] ZASCA 100; [2006] SCA 99 (RSA) (12 September 2006)

Links to summary

REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
DIE
HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN
SUID-AFRIKA
Nie Rapporteerbaar
Saaknommer
: 499 / 05
In
die appèl van
E G
KLOPPER APPELLANT
en
N
SCHREUDER RESPONDENT
Regbank
: CONRADIE, CLOETE EN MLAMBO ARR
Verhoordatum
: 31 AUGUSTUS 2006
Datum van Uitspraak
: 12 SEPTEMBER 2006
SAMEVATTING
Vordering vir advokateloon – respondent beweer loon slegs
betaalbaar indien hy saak voor arbeidshof wen – appellante beweer
sy
was by ander gebeurlikhede ook op vergoeding geregtig –
appellante slaag nie daarin om haar weergawe van ooreenkoms te bewys
nie.
Neutral citation: This
judgment may be referred to as
Klopper v Schreuder [2006]
SCA 99 (RSA)
________________________________________________________________
U
I T S P R A A K
________________________________________________________________
CONRADIE AR
[1] Die appellant is 'n advokaat wat met die respondent,
'n eertydse kliënt, in 'n stryd oor die betaling van haar
professionele
gelde betrokke geraak het. In die hof
a quo
het Motata R bevind dat sy nie daarin geslaag het om 'n ooreenkoms
vir die betaling van haar gelde te bewys nie en gevolglik absolusie
van die instansie beveel. Verlof om teen die bevel te appelleer is
deur hierdie hof toegestaan.
[2] Ek skets kortliks die agtergrond van die litigasie.
Die respondent word deur die Ring van Roodepoort van die Nederduitse
Gereformeerde
Kerk as predikant uit die diens van die gemeente
Wilgespruit ontslaan. 'n Appèl na die Sinodale Kommissie van
die Sinode
van die NG Kerk van Wes-Transvaal misluk. Daarna sluit
die respondent aan by die pasgestigte Predikante en Kerklike
Werkersunie
waarby die appellant, as
pro bono
regsadviseur, en
haar eggenoot, 'n emeritus predikant, as enigste ampsdraer, betrokke
is.
[3] In
1997 kom die appellant en die respondent mondeling ooreen dat sy
namens hom in 'n geding teen die kerk op grond van onbillike
ampsontslag sou optree. Die pasgestigte vakbond sou kwalik
bestaansreg hê indien predikante nie binne die kategorie van
werknemers
ingevolge die Wet op Arbeidsbetrekkinge 66 van 1995 val
nie. Die Wet het kort tevore in werking getree en daar het
onsekerheid oor
hierdie kwessie bestaan. Die voorgenome litigasie
sou dus 'n toetssaak wees vir die regmatigheid van die NG Kerk se
kerkorde met
betrekking tot die afdanking van leraars en vanuit
hierdie oogpunt belangrik vir die vakbond.
[4] Twee
aspekte van die reëling wat met betrekking tot koste getref is,
is op die pleitstukke gemene saak. Eerstens, as die
respondent met
'n kostebevel in sy guns slaag, sou die opbrengs daarvan gebruik word
om die appellante se gelde te betaal; wat die
skaal van haar
vergoeding betref, sou sy tevrede wees met die bedrag wat ten aansien
van party-en-partykoste aan die respondent toegeken
word.
Oorbetaling van sodanige bedrag aan die appellante sou dus deur haar
as volle vereffening van haar gelde aanvaar word. Hierdie
aspek van
die ooreenkoms is nie deur die appellante in haar
vorderingsbesonderhede gepleit nie, maar dit blyk uit die getuienis
gemene
saak te wees.
[5] Tweedens,
indien die respondent nie met sy vordering in die arbeidshof slaag
nie, (en daar dus geen kostebevel in sy guns is nie)
is dit sy saak
dat hy niks, of dan niks behalwe 'n onbenullige tien Rand, aan die
vakbond verskuldig sou wees nie. Die appellante
se weergawe soos
aanvanklik gepleit verskil weinig hiervan: 'Verweerder sou nie
aanspreeklik wees vir enige koste van eiseres indien
die verweerder
nie sou slaag in die Arbeidshofaksie nie'.
[6] Die
derde aspek van die geldereëling is omstrede. Die appellante
pleit dat daar aanvanklik ooreengekom is dat indien die
respondent se
eis slaag, maar geen kostebevel deur die arbeidshof gegee word nie,
die respondent en sy 'na afhandeling van daardie
aksie op fooie
ooreen sou kom.'
[7] Hierdie
afspraak is volgens die appellante se besonderhede van vordering op
14 Februarie 1999 op die volgende manier gewysig:
'4.1 Eiseres sou namens respondent [lees, verweerder]
voortgaan met die verskyning in die geskil wat na die Arbeidshof vir
beslegting
verwys is;
4.2 Indien
die Arbeidshof geen kostebevel maak nie of slegs 'n gedeeltelike
kostebevel maak, sou verweerder die getakseerde
prokureur-en-kliëntkoste
van eiseres en haar uitgawes betaal;
4.3 Voormelde
betalings sou geskied uit die opbrengs van siviele aksies wat
verweerder van voorneme was om in te stel teen die respondente
in die
arbeidsaangeleentheid.
4.4 Indien
verweerder van sy reg om sodanig siviele aksies teen die respondente
[lees, verweerders] in die arbeidsaangeleentheid in
te stel, afstand
doen sonder om die eiseres vooraf daarin te ken sou verweerder
aanspreeklik wees vir die getakseerde prokureur-en-
kliëntkoste
en uitgawes van eiseres.'
[8] Die
respondent pleit dat die partye nie aanvanklik of later vir so 'n
gebeurlikheid soos 'n gedeeltelike kostebevel voorsiening
gemaak het
nie en ontken dehalwe al die bewerings met betrekking tot die
wysigingsooreenkoms.
Die eerste element van die beweerde ooreenkoms
(soos gewysig) – die respondent wen sy saak
[9] Soos reeds opgemerk is hierdie aspek onomstrede: as
die respondent sy saak met 'n kostebevel in sy guns wen, is die
appellante
op party-en-partykoste (wat deur die teenkant betaal word)
geregtig en op niks meer nie. Die respondent betaal geen
professionele
gelde of uitgawes nie.
Die tweede element van die beweerde ooreenkoms
(soos gewysig)
-
Die respondent verloor sy saak
[10] In weerwil van die eenstemmigheid op die
pleitstukke, is die appellante se getuienis beduidend verskillend van
die gepleite weergawe.
Sy getuig dat sy gesê het -
' . . .
ek sal vir hom [die
respondent] werk op uitgestelde betaling en ek het ook die terme vir
hom uitgespel. Ek het aan hom gesê
dat indien hy sy saak sou
verloor, sou hy 'n nominale bedrag betaal. Ons sou kyk na my
uitgawes en 'n nominale bedrag bepaal.'
[11] Gedurende Oktober 2002, kort voor die einde van die
getuienisverrigtinge, vra die appellante 'n wysiging van haar
vorderingsbesonderhede
aan. Of die wysiging inderdaad aangebring is,
is nie duidelik nie, maar dit is vir huidige doeleindes onbelangrik.
In die kennisgewing
sit sy die tersaaklike vordering soos volg
uiteen:
'Indien verweerder nie sou slaag in die Arbeidshofaksie
nie, sou die partye op vergoeding ooreenkom aan die einde van die
aksie, welke
'n nominale bedrag kon beloop.'
[12] Die jongste weergawe kom ooreen nóg met die
eerste gepleite weergawe nóg met die appellante se getuienis.
Daar
is 'n verskil tussen 'n 'nominale bedrag' wat uit die oogpunt
van die appellante se uitgawes bepaal word, en 'n 'nominale bedrag'
wat met vergoeding in gedagte bepaal word. Uit die aard van die saak
is 'n onduidelikheid tussen die appellante se pleitstukke en
haar
getuienis benadelend vir 'n saak wat hoofsaaklik op haar eie
betroubaarheid as getuie berus. As hierdie kwessie egter buite
rekening gelaat word, is daar nogtans probleme met die aanvaarding
van hierdie getuienis, waarby ek aanstons kom.
Die derde element
-
die respondent
wen sy saak sonder 'n kostebevel in sy guns
[13] In hierdie opsig stem die appellante se
besonderhede van vordering met haar geuitenis ooreen:
‘
Ek
het toe vir hom gesê indien ons sou wen sou hy definitief ook
kompensasie kry en as hy sou wen sonder 'n kostebevel, want
ek het
vir hom van die begin af gesê veral in die arbeidshof is mens
nooit seker van 'n kostebevel nie, dan sal ek en hy aan
die einde van
die saak onderhandel oor 'n billike fooi of 'n vergoeding aan my en
hy het dit goed gevind so 'n reëling want
hy het op daardie
stadium nie geld gehad om regtig te betaal vir 'n geding nie.'
[14] Wat
presies is regtens die uitwerking van die ooreenkoms waaroor die
appellante hier getuig? Om die bedrag van 'n regsverteenwoordiger
se
vergoeding na afloop van 'n hofgeding te bepaal, is geen
uitsonderlike afspraak nie. Trouens, die bedrag van 'n advokaat se
vergoeding
word in die gewone loop van sake nie vooraf bepaal nie.
Daar is slegs 'n versweë afspraak dat die vergoeding billik sal
wees.
As 'n regsverteenwoordiger en sy kliënt na afloop van 'n
saak nie op 'n billike bedrag ooreen kan kom nie, moet die
takseermeester
'n billike vergoeding bepaal. Die appellante se saak
kom dus daarop neer dat sy (as die respondent wen) in elk geval op
vergoeding
geregtig sou wees: As sukses vir die respondent 'n
kostebevel meebring, sou sy daaruit vergoed word - dit sou haar
enigste vergoeding
wees. As die respondent geen kostebevel verkry
nie sou sy in elk geval vogens billike tariewe vergoed word, met
ander woorde net
soveel soos en (gedagtig daaraan dat
prokureur-en-kliëntkoste teen 'n ruimer skaal as
party-en-partykoste toegelaat word) dalk
selfs meer as wanneer die
respondent met 'n kostebevel sou seëvier
[15] Dit
was die stand van sake toe die appellante op 13 Okotober by Mnr D J
Potgieter aan huis onthaal is. Potgieter is 'n vennoot
in die firma
Louw en Heyl. Sy vrou en die respondent se eggenote was goed
bevriend. Hy en die respondent was kennisse. Hy het
dus op 'n vroeë
stadium van sy geskil met die NG Kerk bewus geword en het dan ook
namens die respondent sekere korrespondensie
aan die Kerk gerig. Toe
die saak in die arbeidshof beland, het die appellante hom gevra of hy
haar sou help aangesien dit haar eerste
groot saak was en hy 'n
ervare arbeidsregprokureur was. Hy het, sê hy, ingestem om
haar te adviseer, maar hom op geen stadium
bereid verklaar om
prokureur van rekord te wees 'in die werklike sin van die woord' nie.
[16] Die
appellante beweer dat die vergoedingsooreenkoms daardie aand teenoor
Potgieter genoem is –
'Daar het ek mooi verduidelik weer vir mnr Potgieter wat
die situasie was en dat ek graag 'n brevet wou hê. Ek het ook
vir
hom verduidelik dat ek op uitgestelde betaling werk vir die
verweerder. Ek het vir hom gesê dat ek die drie termes soos
wat
ek vir hom uiteengesit het netnou, dat dit die terme van die
ooreenkoms is.'
[17] As die appellante inderdaad die bepalings van die
ooreenkoms (soos dit op daardie stadium was) aan Potgieter oorgedra
het, sou
hy die volgende moes verstaan het:
(a) sy word uit die opbrengs van 'n kostebevel betaal as
daar een is;
(b) as daar geen kostebevel is nie, maar haar kliënt
is suksesvol, is sy op haar prokureur-en-kliënt getakseerde
koste
geregtig;
(c) as
haar klient se aksie nie slaag nie, is sy op niks of altemit op die
een of ander nominale bedrag geregtig.
[18] Potgieter ontken egter ten ene male dat gelde
daardie aand ter sprake was. Daar was, sê hy, geen reëling
dat die
appellante 'n rekening aan die respondent sou lewer nie. Hy
het die indruk gehad, hoewel hy nie kon sê waarvandaan hy dit
gekry het nie, dat die appellante
pro amico
optree. Eers op
'n baie laat stadium het daardie indruk verander. Hy het eers die
dag met die arbeidshofuitspraak besef dat die
appellante van voorneme
is om vergoeding te vorder. Indien die appellante se weergawe waar
is, sou dit vir Pogieter glashelder gewees
het dat die appellante se
enigste toegewing was om van haar (volle) vergoeding af te sien as
die respondent verloor.
[19] Potgieter het in sy getuienis toegegee dat hy
fouteer het deur homself as
pro forma
prokureur op rekord te
plaas. In der waarheid het hy hom in die onhoudbare posisie geplaas
waar hy die pligte van 'n prokureur van
rekord op hom geneem het
sonder die voorneme om aan hulle te voldoen. In die besonder het hy
geen voorsorg getref vir betaling van
die appellante se gelde nie.
Die onbeheersde aanvalle wat die appellante in die stukke op hom
loods, is ongeregverdig.
[20]
Die wysigingsooreenkoms
(para 7 hierbo) is volgens die appellante aangegaan op 'n kritieke
stadium van die arbeidsgeding. Dit was
reeds duidelik dat die
respondent sy saak sou wen en die Kerk het reeds 'n skikkingspakket
aangebied wat betaling van die respondent
se getakseerde
party-en-partykoste ingesluit het. Dit is onduidelik wie vir die
verwerping van hierdie skikkingsaanbod verantwoordelik
was. Die
appellante verklaar dat dit op aandrang van die respondente was,
laasgenoemde se getuienis is tot die teendeel.
[21]
Die rede vir die
aanpassing in die geldereëling so beweer die appellant, is juis
dat die respondent geweier het om hierdie skikkingsaanbod
te aanvaar.
Die aanbod was uit die aard van die saak vir die appellante
aanloklik, want sy het geweet dat die respondent nie die
middele het
om haar (teen daardie tyd gedugte) advokateloon te betaal nie. Sy
beweer dat sy die respondent se aandag op die gevolge
van 'n
vewerping van die skikkingsaanbod gevestig het. Sy het hom daarop
gewys dat sy gevaar loop om nie vergoed te word as sy met
die saak
voortgaan nie, en het derhalwe met die respondent ooreengekom dat,
indien die arbeidshof geen kostebevel gee nie, of 'n
kostebevel slegs
ten aansien van 'n gedeelte van die saak verleen, die respondent haar
getakseerde prokureur-en-kliëntkoste
moet betaal.
[22]
Die feit dat die
appellante die wysigingsooreenkoms aanvoer, dui vir my daarop dat sy
van die bepalings van die oorspronklike ooreenkoms
glad nie seker was
nie. Die redelike afleiding hieruit is dat sy daarvan bewus was dat
die oorspronklike ooreenkoms die een was
wat die respondent beweer,
naamlik dat daar in die afwesigheid van 'n kostebevel geen vergoeding
vir die appellante sou wees nie.
Sy moes derhalwe steun vind in 'n
wysigingsooreenkoms wat, as haar weergawe van die oorspronklike
ooreenkoms die juiste een was,
nie nodig sou wees nie: sy het immers,
volgens haar, oorspronklik met die respondent ooreengekom dat hy haar
'n billike vergoeding
sou betaal as daar geen volle kostebevel is
nie.
[23] Dit
is vreemd dat hierdie ooreenkoms nie op skrif gestel of selfs
skriftelik bevestig is nie. Wat duidelik is, is dat dit van
kardinale belang geword het om die loonooreenkoms te dokumenteer.
Dit sou tot voordeel van die appellante strek wat per slot van
sake
haar ooreenkoms moes bewys. Nie-dokumentering sou alleen die
respondent kon baat. Ek vind dit vreemd dat die appellante, immers
'n advokaat, die ooreenkoms wat sy beweer nie daar en dan, al was dit
dan by wyse van 'n brief, gedokumenteer het nie.
[24]
Die afspraak tussen die
partye was dat indien geen kostebevel deur die arbeidshof verleen
word nie, die appellant en die respondent
na afhandeling van die
aksie op vergoeding vir haar ooreen sou kom. Die afspraak moes ook
ten aansien van 'n gedeeltelike kostebevel
gegeld het: geen nuwe
ooreenkoms was nodig nie.
Die aanvullende ooreenkoms waarop die appellante steun,
is dus oorbodig in die lig van die oorspronklike ooreenkoms wat sy
beweer.
Dit werp ook groot twyfel op die appellante se weergawe van
die oorspronklike ooreenkoms. Gedagtig daaraan dat die respondent
ontken
dat die aanvullende ooreenkoms aangegaan is, het ek ernstige
bedenkinge daaroor.
[25] Die
aanvullende ooreenkoms wat die appellant beweer maak buitendien nie
regtens of kommersieël sin nie. Dit is reddeloos
vaag. Niemand
kan uitmaak wat die respondent veronderstel was om te presteer nie.
Beteken die ooreenkoms dat die appellant tevrede
sou wees met wat ook
al die respondent op die verweerders in die arbeidsaksie (en andere?)
verhaal? Of sou sy enige saldo op die
respondente kon verhaal?
Beteken die uitdrukking 'sonder om eiseres vooraf daarin te ken' dat
die respondent slegs die appellante
moes raadpleeg voor hy die eise
terugtrek of beteken dit dat hy haar toestemming moes kry om die eise
terug te trek? En as sy toestemming
verleen om die eise terug te
trek, moes hy nog steeds haar koste vir die arbeidshofsaak betaal?
[26] In haar argumentshoofde voer die appllante aan dat
' . . . sy duidelik aangetoon het dat daar 'n ooreenkoms
tussen haar en haar kliënt [die respondent] bestaan dat hy haar
vir
haar dienste moet vergoed, ongeag die uitslag van die saak in the
Arbeidshof.'
Hierdie
submissie toon die begripsverwarring wat daar by die appellante
heers. Sy verkeer onder die wanindruk dat die ooreenkoms,
soos
gewysig, bepaal dat die respondent onderneem het om 'die Appellante
se rekening onder alle omstandighede te vereffen,' of soos
die
appellante in haar hoofde dit ook stel 'dat hy onderneem het om haar
te betaal ongeag die uitslag van die saak.' Die wysigingsooreenkoms
handel slegs met die gebeurlikheid van 'n gedeeltelike kostebevel,
nie met die geval waar geen kostebevel verleen word of die geval
waar
die respondent die saak verloor nie.
[27] As
die appellante haar ooreenkoms nie op 'n oorwig van waarskynlikhede
bewys het nie, help dit haar saak nie om op swak plekke
in die
respondent se mondering te wys nie. Die swak plekke waarop sy wys –
en ek is nie daarvan oortuig dat hulle nie maar net
debatspunte is
nie – is nie aanduidend daarvan dat die respondent inderdaad
onderneem het om die appellante, kom wat wil, te betaal
nie. In die
eerste plek moet mens onthou dat dit korrek was vir die respondent om
aan andere te sê dat hy die appellante moes
betaal. Hy moes
haar uit die opbrengs van sy kostebevel betaal, dit was volgens albei
partye hulle afspraak. Wat die respondent
nooit laat blyk het nie, is
dat hy die appellante sou betaal indien hy dit nie uit die opbrengs
van 'n kostebevel kon doen nie.
[28] Ek dink nie dat die mededelings van die respondent
aan verteenwoordigers met betrekking tot sy 'regskoste' as
erkennings oor
die ware ooreenkoms aangemerk kan word nie. Hy het
byvoorbeeld probeer om die kerk te oorreed om die appellante se loon
of 'n gedeelte
daarvan te betaal. Wat hy in onderhandelinge gesê
het, weerspieël nie noodwendig die ware verbintenis tussen hom
en die
appellante nie. Sy aanbod om 'n bedrag aan die appellante te
betaal kon net so maklik uit erkentlikheid gedoen gewees het as uit
'n besef dat hy regtens teenoor haar aanspreeklik was.
[29] Die respondent het tydens kruisondervraging in die
arbeidshof verklaar dat hy die appellante se rekening aan die einde
van die
saak en onder alle omstandighede moes betaal. Nadat hy
sekere ontwykende antwoorde met betrekking tot die verstandhouding
tussen
hom en die appellante gegee het, kom die volgende vraag en
misleidende anwoord:
'Daar is nie 'n ooreenkoms dat u onder sekere
omstandighede nie sou hoef te betaal nie?
Nee.'
Die appellant, wat geweet het dat die ooreenkoms –
altans soos sy dit gepleit het – behels het dat die respondent haar
niks sou
betaal as sy aksie nie slaag nie, het nie die onjuistheid
van die antwoord onder die hof se aandag gebring nie. Trouens, sy
het
later verder gegaan en in repliek inligting aan die hof oorgedra
wat die regter as volg saamgevat het:
1
'Me Klopper het naamlik die versekering gegee dat sy
deur 'n prokureur opdrag gegee is en dat sy haar fooie as advokaat
hef, wen of
verloor.'
[30] Hierdie
mededeling aan die hof was onwaar. Op die gepleite weergawe van die
ooreenkoms sou sy niks verdien as die respondent
se eis nie slaag
nie. Op die weergawe wat sy in haar getuienis aangevoer het, sou sy
uitgawes verhaal. Maar sy sou nie 'fooie as
advokaat hef, wen of
verloor', soos die regter na aanleiding van die partye se mededelings
aan hom in sy uitspraak vermeld nie.
[31] Indien die hof sou ervaar dat die respondent
aanspreeklikheid vir koste vryspring as daar geen kostebevel gegee
word nie, kon
dit hom oorreed het om nie 'n kostebevel te gee nie;
dan was die appellante se besoldiging daarmee heen. Dit is uit die
geheel van
die getuienis duidelik dat dit nie is wat enigeen van die
partye wou hê nie. Na my mening was die mededelings van albei
die
partye daarop gerig om die koste-aanspraak te verstewig en dus
die appellante te beskerm. Op daardie stadium was die koste kwessie
juis akuut omdat die kerk se verteenwoordiger betoog het dat geen
koste aan die respondent toegeken behoort te word aangesien daar
nie
'n prokureur van rekord was nie.
2
[32] Teenoor die verwarrende en
komplekse ooreenkoms wat die appellante beweer, staan die
ongekompliseerde een wat die respondent
beweer. Hy kon nie vir die
litigasie betaal nie, dit was van die begin af vir almal duidelik.
Volgens hom was daar geen sprake dat daar oor advokaatsgelde
ooreengekom sou word indien geen kostebevel verleen word nie. Sy
saak
is eenvoudig . As daar 'n kostebevel is, sou die appellante
daaruit vergoed word. Indien daar geen kostebevel is nie, sou sy
kosteloos
optree. Daar is met ander woorde vir die gewone en bekende
gebeurlikheidsgelde, die sogenaamde 'contingency fee', beding.
[33] Heelwat aandag is deur die appellante in die hof
a
quo
op die aard en omvang van Potgieter se betrokkenheid gelê.
Dit is myns insien van geen belang nie. 'n Advokaat wat sonder
bemiddeling van 'n prokureur vir 'n kliënt optree, verontagsaam
die tersaaklike baliereël, iets waarvoor hy of sy as lid
tot
verantwoording geroep kan word. Dit is nie deel van 'n advokaat se
straf dat sy haar aanspraak op vergoeding vir behoorlik gedane
werk
verbeur nie.
[34] Ek is dit met die slotsom van die hof
a quo
eens dat die appellante nie daarin geslaag het om te bewys dat haar
weergawe van die ooreeenkoms waarskynlik die juiste is nie.
[35] Die
appèl word van die hand gewys. Die respondent is geregtig om
sy billike uitgawes met betrekking tot die appèl
op die
appellante te verhaal.
J H CONRADIE
APPÈLREGTER
SAMESTEMMEND:
CLOETE
AR
MLAMBO
AR
1
Die
appellante erken in haar hoofgetuienis dat dit 'n korrekte weergawe
is van wat sy aan die regter oorgedra het.
2
Dit
was hierdie houding van die teenstanders en die appellante se
netelige posisie wat Potgieter op die dwaalspoor van 'n
pro forma
prokureur van rekord gelei het, iets wat hy klaarblyklik by
nabetragting berou het.