About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2014
>>
[2014] ZAFSHC 229
|
|
FHB Du Pisani Riviera Boerdery BK v Big Sky Carriers (Pty) Ltd (3197/2014) [2014] ZAFSHC 229 (4 December 2014)
VRYSTAATSE HOË
HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Saaknommer:
3197/2014
In die aansoek van:-
FHB
DU PISANI RIVIERA BOERDERY BK
…......................................................
Applikant
en
BIG
SKY CARRIERS (PTY) LTD
…......................................................................
Respondent
AANGEHOOR
OP
:
4
DESEMBER 2014
CORAM
:
KRUGER, R
GELEWER
OP
:
11
DESEMBER 2014
[1]
Hierdie is ‘n aansoek vir die voorlopige likwidasie van die
respondent. In die Funderende Eedsverklaring steun die
applikant op artikel 344(f) van die Maatskappyewet 61 van 1973
(waarvan Hoofstuk 14 wat likwidasies reël steeds van krag is,
“die wet”) wat bepaal dat ‘n maatskappy deur die
hof gelikwideer kan word as die maatskappy nie in staat is om
sy
skulde te betaal nadat ‘n aanmaning onder artikel 345 van die
wet aan hom beteken is en hy vir drie weke versuim het om
te betaal.
Die respondent se prokureurs het op applikant se aanmaning
gereageer en ontken dat die bedrag opeisbaar en betaalbaar
is, en die
houding ingeneem dat dit ‘n uitdruklike bepaling van die
kontrak tussen die partye was dat betaling aan die applikant
afhanklik daarvan was dat respondent betaling van die kontrakteur aan
wie die dienste gelewer is, ontvang. Omdat die respondent
nog
nie betaling van die kontrakteur ontvang is nie, sê respondent
dat sy skuld aan applikant, wat hy erken in die bedrag
van
R482 213,85, nie verskuldig is nie.
[2]
In sy betoog het Mnr Badenhorst ook op artikel 344(c) van die wet
gesteun, wat ‘n grond vir likwidasie daarstel as die
respondent
sy besigheid vir ‘n hele jaar gestaak het. Mnr Danzfuss,
vir respondent, sê dat die applikant nie
nou op gronde kan
steun wat nie in die funderende eedsverklaring vervat is nie, want
die respondent is nie hof toe geroep om op
daardie bewering te
antwoord nie (
Administrateur, Transvaal,
and Others v Thaletsane and Others
[1990] ZASCA 156
;
1991
(2) SA 192
(A) te 195-196;
Payslip
Investments Holdings CC v Y2K Tec Ltd
781 (K) te 788E-I. In repliek het Mnr Badenhorst toegegee dat
artikel 344(c) nie as grond vir likwidasie gebruik kan word
nie, maar
aangevoer dat die feit dat die respondent op sy eie weergawe nie meer
besigheid doen nie, in ag geneem moet word wanneer
die diskresie
oorweeg word om te likwideer al dan nie. In die
funderende eedsverklaring is daar ‘n hofie “Just
and
equitable”, hoewel nie na artikel 344(h) verwys word
waarvolgens ‘n maatskappy gelikwideer kan word as dit reg
en
billik is. Mnr Badenhorst het in sy betooghoofde en betoog nie
na artikel 344(h) verwys nie, maar volgens sy betoog sal
dit reg en
billik wees dat die hof sy diskresie moet uitoefen om die respondent
te likwideer.
[3]
Die feite is eenvoudig. Die respondent is ‘n algemene
vervoerkontrakteur. Gedurende April tot Mei 2012 het
die
respondent die applikant as sub-kontrakteur aangestel om steenkool te
vervoer. Respondent het ook ‘n ander entititeit,
Trio
Vervoer as sub-kontrakteur aangestel. Die hoofkontrak was
onderhandel tussen die respondent en ‘n Beslote Korporasie
wat
handel gedryf het as KZN Coal, maar respondent se kontrak is toe met
Sabotshane Investments BK (Sabotshane) gesluit.
Respondent se
deponent sê:
“
Die
moontlikheid was voorsienbaar dat die respondent moontlik op die
stadium wat betaling gedoen moes word, nog nie fondse ontvang
het om
te betaal nie en geen ander bron van inkomste sou gehad het waaruit
die fondse genereer sou kon word nie. Gevolglik
is ooreengekom
dat respondent betaling sal doen eers nadat respondent betaling
ontvang het.
”
Respondent
se ooreenkoms met KZN Cole was dat respondent tweemaal per maand
betaling sou ontvang, en respondent se deponent sê
dan:
“
10.2
Ek het gevolglik namens die respondent met mnr du Pisani namens die
applikant ooreengekom dat die respondent die
applikant sal betaal 7
dae nadat respondent betaling ontvang het.
”
In
die repliserende eedsverklaring sê die applikant se deponent:
“
3.3
The Applicant was informed by the Respondent that payments would be
made every 14 days and on that basis did the Applicant accept
its
appointment on the basis that payments would be made to the Applicant
15 days after invoice;
3.4
I confirm that payments were not honoured as undertaken by the
Respondent and did the Respondent request payment extension for
a
week on 20 April 2012, during the discussion with my wife;
...
4.5
As a result of the request an extension was granted for a week, which
the Respondent failed to honour and as a result the Applicant
refused
to transport any further loads.
”
[4]
Op 9 April 2012 het die respondent opgemerk dat die rekords ten
opsigte van die vragte wat vervoer is vanaf Sabotshane kom en
nie van
KZN Cole nie. Toe is besluit dat die respondent as
subkontrakteur vir Sabotshane sou optree, dus het die respondent
op
11 April 2012 ‘n skiftelike subkontrakteurs ooreenkoms met
Sabotshane gesluit. Die eerste betaling moes op 12 April
2012
plaasgevind het, maar dit het nie gebeur nie. Teen 20 April
2012 was steeds geen betaling ontvang nie. Applikant
het na 20
April 2012 nog drie vragte vervoer en op 2 Mei 2012 aan die besigheid
onttrek. Die respondent se enigste besigheid
was hierdie
kontrak, en het geen ander bron van inkomste gehad nie. Respondent
heg ‘n bladsy aan van die subkontrakteurs
ooreenkoms wat hy met
Trio Vervoer gehad het waarin bepaal word dat Trio op die laaste dag
van die maand betaal sou word “mits
Big Sky Carriers betaling
ontvang vanaf KZN Coal”. Die deponent sê die
insluiting van so ‘n klousule, dat
betaling afhanklik is van ‘n
ander betaling, is ‘n baie algemene verskynsel in die vervoer-
en konstruksie bedryf.
Ter stawing verwys hy na ‘n
onderneming van prokureurs wat ook afhanklik gestel word van die
ontvangs van betaling.
(Waarborge deur prokureurs uitgereik is
anders van van aard, want die prokureur is nie in die bedryf nie, die
prokureur tree
namens die kliënt op en betaal gewoonlik met die
kliënt se geld.)
[5]
Mnr Danzfuss sê dat by uitoefening van die diskresie om ‘n
likwidasiebevel uit te reik al dan nie moet al die feite
in ag geneem
word, en hy noem die volgende faktore:
(i)
Geen skuld is opeisbaar nie. (In repliek ontken die applikant dat hy
aangestel is op die basis dat hy net betaal wou word as
die
respondent betaling ontvang. Hy sê hy is nie in die
bedryf van die finansiering van ander entiteite in die
vervoerbesigheid
nie. Dit is dus nie gemeensaak dat die geld
nie opeisbaar is nie.)
(ii)
Die respondent het net twee skuldeisers, synde die applikant en Trio
Vervoer. Applikant in die bedrag van R482 213,85,
en Trio
Vervoer vir R1 487 592,46.
(iii)
Sabotshane is R4 174 946,76 aan respondent verskuldig.
Daardie eis is die onderwerp van ‘n geding wat
in die
Noord Gauteng Hooggeregshof ingestel is, waar geen verweerskif nog
geliasseer is nie. Die respondent sê dit
is ‘n
bestrede aksie wat deur die respondent se aandeelhouers gefinansier
word omdat die respondent oor geen fondse daarvoor
beskik nie.
(iv)
Mnr Danzfuss sê dat omdat die respondent hierdie bate het van
meer dan R4 miljoen, sal niemand bevoordeel word deur likwidasie
nie.
(v)
Die hof moet vra wie deur likwidasie bevoordeel sal word. Mnr
Danzfuss sê niemand.
(vi) Respondent sê
hy het al sy skulde betaal.
[6]
Namens applikant voer Mnr Badenhorst aan dat die feitelike situasie
waarin die respondent hom bevind ‘n voorlopige likwidasiebevel
regverdig. Die omstandighede is die volgende:
(i)
Die respondent erken dat hy applikant R482 213,85 skuld, maar sê
dat daardie geld nie opeisbaar is nie.
(ii)
Die respondent doen sedert April 2012 geen sake nie.
(iii)
Die respondent het sy voertuie wat almal deur finansiering gerugsteun
was, verkoop om die finansieringskoste af te los en
om volgens die
respondent se deponent die bedryfskapitaal posisie van die respondent
te verbeter. Dis nie heeltemal duidelik
wat bedoel word met
“bedryfskapitaal” nie, want respondent dryf op sy eie
weergawe sedert April 2012 nie meer handel
nie.
(iii)
Die respondent is besig met ‘n
quasi
-likwidasie-proses
wat hy self reguleer.
(iv)
Die respondent is vaag oor die saak in Noord-Gauteng. Hy meld
nie die eisoorsaak nie. Hy meld wel dat geen verweerskrif
nog
geliasseer is nie. Dit sal waarskynlik nog baie lank duur om
daardie saak af te handel. Mens kan nie beoordeel
wat die
respondent se kanse op sukses in daardie litigasie is nie. In
Sunny South Carriers (Pty) Ltd v Mbanga
NO and others
[2001] 1 All SA 474
(HHA)
paras [37]-[41] was die vraag of daar kwaadwilligheid was met die
instel van likwidasie prosedure terwyl litigasie hangende
was tussen
dieselfde partye bespreek. Hier is dit nie dieselfde partye
nie. Daar is geen sprake van kwaadwilligheid
van die applikant
nie.
(v)
Op respondent se eie weergawe is hy kommersieël insolvent, want
hy doen geen sake nie, en het nie fondse om sy litigasie
in Pretoria
te finansier nie, dit word volgens hom deur sy aandeelhouers gedoen.
[7]
Nou is die vraag of applikant ‘n
prima facie
saak
uitgemaak het dat die respondent insolvent is, en of die respondent
die aansoek op
bona fide
en redelike gronde bestry (
Kalil v
Decotex (Pty) Ltd and Another
1988 (1) SA 943
(A) te 980, die
sogenaamde “Badenhorst reël”). Die vraag wat
na my mening oorweeg moet word is wat die aard
van die reëling
tussen die partye was met betrekking tot betaling. Is dit so
vergesog dat dit op die stukke verwerp
kan word? As die
respondent se weergawe nie op die stukke verwerp kan word nie, het
die applikant nie ‘n
prima facie
saak bewys nie, en kan
die aansoek onder artikel 344(f) nie slaag nie, want daar is nie ‘n
opeisbare skuld nie. As
die aansoek op
bona fide
en
redelike gronde bestry word, kan dit nie slaag nie. Die
bewyslas op die respondent is nie om te bewys dat hy niks aan
die
applikant verskuldig is nie, maar bloot om te bewys dat die
verskuldigdheid op
bona fide
en redelike gronde bestry word
(
Kalil
(
supra
) te 980 B-D). Die respondent sê
dat die bepaling dat die hoofkontrakteur eers sal betaal nadat hy
betaling van die
opdraggewer ontvang het, algemeen voorkom in die
vervoerbedryf.
[8]
Likwidasie is ‘n basis vir die invordering van skuld, maar
gewoonlik is dit die laaste metode wat die skuldeiser gebruik.
Die
skuldeiser moet eers sy skuld bewys. Die skuldeiser mag nie
likwidasie-prosedure gebruik om die skuldenaar te intimideer
nie, of
as ‘n maklike manier om sy skuld te bewys nie, hoewel die
begeerte om die skuldenaar te probeer intimideer nie altyd
opsigself
‘n grond om die aansoek te weier sal daarstel nie (
Easton
Investment Co (Pvt) Ltd v Edwards
1967
(2) SA 83
(RS) te 89 G). Die applikant spreek nie in sy stukke
die vraag aan waarom hy vir meer as twee jaar gewag het om sy skuld
in te vorder nie, en waarom hy nou likwidasie-prosedure gebruik
eerder as om die respondent te dagvaar. Applikant het die
prosedure om ‘n aanmaningsbrief onder artikel 344(f) gebruik,
maar daarop het die respondent se prokureurs gereageer en die
basis
aangedui waarop die skuld betwis word. In die antwoordende
eedsverklaring sê die respondent dat hy reeds sedert
2012 nie
meer handel dryf nie, wat op die oog af ‘n likwidasiegrond van
artikel 344(c) daarstel, maar die respondent het
nie die kans gehad
om op so ‘n aansoek te reageer nie. Dit is jammer vir
applikant dat hy nie kan steun op artikel
344(c), dat respondent nie
vir ‘n jaar handel gedryf het nie. Dit lyk asof dit is
wat applikant moet doen; sy aansoek
grond op artikel 344(c), sodat
die respondent kans kry om daarop te reageer. Billikheid vereis
dat hierdie aansoek oorweeg
moet word met inagneming van die
volledige feite soos deur beide partye uiteengesit met betrekking tot
artikel 344(c).
[9]
Die gepaste bevel in die huidige saak lyk vir my iets soortgelyks aan
die bevel in
Investec Bank Ltd v Lewis
2002 (2) SA 111
(K) waar daar twyfel was oor die bewys van die skuld
en of ‘n sekwestrasie-bevel toegestaan moes word. Die hof
(per
Griesel R) bevind dat, omdat die drempel vir die respondent om
in sy opposisie te slaag so laag is, dit onbillik sou wees om op
daardie stadium die applikant met ‘n kostebevel te penaliseer
(120A-B). Die hof stel dan die aansoek
sine
die
uit en gee die applikant die
geleentheid om binne ‘n maand aksie in te stel. Hier lyk
’n soortgelyke roete gepas,
om die applikant die geleentheid
te gee om sy aansoek aan te vul deur op die grond vermeld in
artikel 344(c) te steun, naamlik
dat respondent nie vir ‘n jaar
handel gedryf het nie. Of die applikant kan ook besluit om
dagvaarding uit te reik.
[10]
BEVEL
1.
Die aansoek word
sine die
uitgestel.
2.
Verlof word aan die applikant verleen om sy stukke binne 30 dae na
hierdie bevel aan te vul deur te steun op die likwidasiegrond
vermeld
in artikel 344(c) van die Maatskappyewet 61 van 1973, of enige ander
likwidasiegronde, of om aksie teen die respondent
in te stel binne 30
dae na hierdie bevel.
3.
Die tydperke bepaal in die hofreëls reël die verdere
verloop van die verrigtinge.
4.
Koste word voorbehou vir beslegting in enige verdere verrigtinge.
Indien die applikant geen verdere stappe binne 30 dae
neem nie,
word geag dat hierdie aansoek met koste afgewys is.
______________
A.
KRUGER,
R
Namens Applikant:
Adv. D. J. Badenhorst
In opdrag van:
Phatshoane
Henney
BLOEMFONTEIN
Namens Respondent:
Adv. F.W.A. Danzfuss SC
In
opdrag van:
Spangenberg
Zietsman & Bloem
BLOEMFONTEIN