About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2014
>>
[2014] ZAFSHC 245
|
|
Ngoma v S (A102/2014) [2014] ZAFSHC 245 (2 December 2014)
IN
DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA
VRYSTAATSE
AFDELING: BLOEMFONTEIN
Appélnommer
: A102/2014
In
die appél tussen:-
XOLISILE
CHRISTIAAN NGOMA
….................................................................
Appellant
en
DIE
STAAT
…........................................................................................................
Respondent
CORAM:
VAN ZYL, R
et
TSATSI,
WND R
UITSPRAAK
DEUR:
VAN ZYL, R
AANGEHOOR
OP:
13 OKTOBER 2014
GELEWER
OP:
2 DESEMBER 2014
[1]
Appellant het in die streekhof, Welkom, tereggestaan op twee
aanklagte, synde:
1. Aanklag 1:
Oortreding van die bepalings van Artikel 120(6)(a) van die Wet op die
Beheer van Vuurwapens, 60 van 2000 (“die
Wet”) –
die onwettige rig van `n vuurwapen, deurdat dit beweer is dat
appellant op of omtrent 26 Desember 2011 wederregtelik
‘n
vuurwapen, te wete ‘n 9mm parabellum pistool, op ‘n ander
persoon, Gabriel Rantoa, gerig het sonder goeie
rede om dit te doen;
2.
Aanklag 2: Oortreding van die bepalings van artikel 3 van die Wet,
soos saamgelees met die bepalings van artikel 51 van die
Strafregwysigingswet, 105 van 1997 – die onwettige besit van ‘n
vuurwapen, deurdat dit beweer is dat appellant op of
omtrent 26
Desember 2011 wederregtelik in besit was van voormelde pistool.
[2]
Appellant het regsverteenwoordiging geniet in die hof
a
quo
. Hy het onskuldig gepleit,
maar is skuldig bevind op beide aanklagte. Daarop is appellant
gevonnis tot 5 jaar gevangenisstraf
op aanklag 1 en 15 jaar
gevangenisstraf op aanklag 2. Appellant het by die verhoorhof
aansoek gedoen om verlof om teen sy
vonnisse te appelleer, welke
aansoek van die hand gewys was. Daarop het appellant ‘n petisie
tot hierdie hof gerig en is
verlof verleen om teen beide die
opgelegde vonnisse te appelleer.
[3]
Ten opsigte van die tersaaklike gebeure waaruit die twee aanklagte
voortspruit, het die verhoorhof die staat se weergawe aanvaar.
Appellant het na die klaer in aanklag 1 se woning gegaan om vas te
stel wat die redes was vir die bakleiery tussen appellant en
die
klaer se broer die vorige dag. Appellant het toe ‘n
vuurwapen op die klaer gerig, waarop die klaer weggehardloop
het.
Appellant het die klaer agternagesit, maar nadat die klaer ‘n
polisie voertuig gestop het wat toevallig verby
gery het, het
appellant weggehardloop. Hy is eventueel gearresteer met die
vuurwapen in sy besit. ‘n Verklaring
in terme van artikel
212 van die Strafproseswet, 51 van 1977, is deur die staat as
bewysstuk “A” ingehandig, en het
die verdediging die
korrektheid van die inhoud daarvan erken. Dit is ‘n
balistiese verslag ten opsigte van die vuurwapen
wat in appellant se
besit gekry is en wat in die verslag beskryf is as “one 9mm
parabellum calibre Lorcin model L9 semi-automatic
pistol with serial
number L129204 and a magazine”. Die pistool is ook
getoets en blyk dit uit die verslag dat dit in
‘n normaal
werkende toestand was.
[4]
Wat aanklag 1 betref, is die strafbepaling soos vervat in die Wet ‘n
maksimum van 10 jaar gevangenisstraf. Soos
reeds gemeld, is
appellant 5 jaar gevangenisstraf ten opsigte van hierdie aanklag
opgelê. Wat aanklag 2 betref, het
die verhoorhof die
tersaaklike minimum vonnis van 15 jaar gevangenisstraf soos
voorgeskryf in artikel 51 van die Strafregwysigingswet,
Wet 105 van
1997, opgelê. Dit het gevolg op die verhoorhof se
bevinding, aan die hand van die uitspraak in
S
v Malgas
2001 (1) SACR (SCA), dat
daar nie wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die
oplegging van ‘n mindere vonnis noodsaak
nie.
[5]
Mnr Van der Merwe, wie namens die appellant verskyn het, hoewel Mnr
Pretorius die betoogshoofde opggestel het, het aan die hand
gedoen
dat die verhoorhof fouteer het deur nie al die versagtende faktore in
ag te neem nie en ook deur die versagtende faktore
wat wel in ag
geneem is, individueel te oorweeg in plaas van kumulatief. Hy het
gesubmiteer dat die vonnis opgelê op aanklag
2, skokkend swaar
en onvanpas is. Hy het voorts betoog dat die verhoorhof fouteer
het deur nie te gelas dat die vonnisse
op aanklagte 1 en 2 samelopend
uitgedien moet word nie.
[6]
Mnr Bontes, namens die staat, het die opgelegde vonnisse ondersteun,
maar van meet af aan toegegee dat die verhoorhof fouteer
het deur nie
te gelas dat die vonnisse samelopend uitgedien moet word nie,
aangesien dit tot gevolg het dat die effektiewe vonnis
van 20 jaar
gevangenisstraf, skokkend swaar en onvanpas is. Hy het egter
gesubmiteer dat die vonnis van 15 jaar gevangenisstraf
ten opsigte
van aanklag 2, ‘n gepaste vonnis is en dat daar nie enige
gronde is om daarmee in te meng nie.
[7]
Dit is geykte reg dat elke saak op sy eie meriete beoordeel moet word
en dat daar deeglike oorweging aan alle relevante faktore
gegee moet
word. In
S v SMM
2013 (2) SACR 292
(SCA) het Majiedt, AR hierdie beginsel weer
beklemtoon op p. 297, paragrawe [13] en [14]:
“
[13]
...I hasten to add that it is trite that each case must be decided on
its own merits. It is also self-evident that sentence
must
always be individualised, for punishment must always fit the crime,
the criminal and the circumstances of the case.
It is equally
important to remind ourselves that sentencing should always be
considered and passed dispassionately, objectively
and upon a careful
consideration of all relevant factors. Public sentiment cannot
be ignored, but it can never be permitted
to displace the careful
judgment and fine balancing that are involved in arriving at an
appropriate sentence. Courts must
therefore always strive to
arrive at a sentence which is just and fair to both the victim and
the perpetrator, has regard to the
nature of the crime and takes
account of the interests of society. ...
[14]
... There is consequently increasing pressure on our courts to impose
harsher sentences primarily, as far as the public is
concerned, to
exact retribution and to deter further criminal conduct. It is trite
that retribution is but one of the objectives
of sentencing. It
is also trite that in certain cases retribution will play a more
prominent role than the other sentencing
objectives. But one cannot
only sentence to satisfy public demand for revenge – the other
sentencing objectives, including
rehabilitation, can never be
discarded altogether, in order to attain a balanced, effective
sentence.”
[8]
Wat ook essensieel is by die oorweging van die vraag of daar
wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging
van ‘n
mindere vonnis noodsaak, is dat die versagtende faktore kumulatief
beoordeel moet word en nie individueel nie.
Sien
S
v SMM
,
supra,
op p. 302, paragraaf [26].
[9]
By nalees van die verhoorhof se uitspraak op vonnis, is dit duidelik
dat fouteer is deurdat die versagtende faktore wat wel
deur die hof
in ag geneem was, individueel beoordeel was en nie kumulatief nie.
Dit blyk uit p. 62 van die oorkonde, reëls
11 tot 19:
“
Die
Hof moet die verswarende en die versagtende omstandighede teen mekaar
opweeg. Al wat ter versagtende omstandighede teen
mekaar
opweeg. Al wat ter versagting in u guns tel is dat daar nie ‘n
skoot afgegaan het en die klaer ernstig beseer
of gedood is nie.
Verder is dit ook so dat die feit dat u ‘n eerste oortreder is
nie ‘n wesenlike en dwingende
omstandigheid is nie, u
persoonlike omstandighede maak geen wesenlike en dwingende
omstandighede uit nie, die Hof kan dus nie wesenlike
en dwingende
omstandighede bevind wat ‘n ligter straf regverdig nie.”
[10]
Addisioneel tot laasgenoemde, moet ek met Mnr Van der Merwe saamstem
dat daar versagtende faktore is wat geensins deur die
verhoorhof in
ag geneem is nie en ander wat nie behoorlik in ag geneem is nie. Na
my mening bestaan daar die volgende versagtende
faktore:
10.1 Die appellant
was 24 jaar oud ten tyde van die pleging van die misdrywe, ongetroud
en het graad 10 geslaag;
10.2 Hoewel
appellant 2 vorige veroordelings het, is dit nie relevant tot die
onderhawige misdrywe nie en moet appellant dus as
‘n eerste
oortreder beskou word, soos die verhoorhof ook tereg gedoen het.
10.3 Appellant het
die vuurwapen op die klaer gerig na aanleiding van die klaer wat hom
by sy huis gaan konfronteer het. Daar
was dus nie vooraf
beplanning nie.
10.4
Geen skote is afgevuur nie en die klaer het dus nie enige fisiese
beserings opgedoen nie. Indien appellant wel die bedoeling
gehad het
om skote af te vuur, het hy voldoende tyd gehad om dit te doen, wat
nie gebeur het nie.
[11]
Teenoor laasgenoemde faktore is dit so dat appellant skuldig bevind
is aan ernstige misdrywe wat voortgespruit het uit die
feit dat
appellant in besit was van ‘n ongelisensieërde vuurwapen,
‘n probleem wat algemeen in die land voorkom
en wat ly tot die
pleging van ander ernstige misdade. Dit het wel tot gevolg dat die
gemeenskapsbelang na vore tree, maar moet
dit steeds op ewewigtige
wyse saam met al die ander faktore in ag geneem word.
[12]
Na oorweging van al die relevante feite, faktore en omstandighede, is
ek oortuig dat die kumulatiewe effek van die versagtende
faktore
sodanig is dat dit wesenlike en dwingende omstandighede daarstel wat
die oplegging van ‘n mindere vonnis regverdig
en noodsaak.
Met die oplegging van ‘n termyn van 15 jaar gevangenisstraf,
het daar na my mening ‘n onreg geskied.
Dit is juis in
S
v Malgas
,
supra,
paragraaf [25], beslis dat onder sodanige omstandighede ‘n
mindere vonnis opgelê moet word.
“
If
the sentencing court on consideration of the circumstances of the
particular case is satisfied that they render the prescribed
sentence
unjust in that it would be disproportionate to the crime, the
criminal and the needs of society, so that an injustice
would be done
by imposing that sentence, it is entitled to impose a lesser
sentence.”
[13]
Dit is insiggewend dat in
S v
Thembalethu
2009 (1) SACR 50
(SCA),
synde juis die uitspraak waarin beslis is dat die tersaaklike minimum
vonnis voorgeskryf in Wet 105 van 1997, ook op die
onwettige besit
van `n semi-outomatiese pistool van toepassing is, in wese ook bevind
is dat gevangenisstraf van 15 jaar disproportioneel
tot die misdryf
is. In daardie geval was die omringende omstandighede baie
ernstiger as in die onderhawige geval. Daar
was ‘n
rooftog uitgevoer waartydens die tersaaklike pistool gebruik was om
‘n skoot af te vuur op die klaer in die
poging tot moord
aanklag. Desnieteenstaande is as volg op p. 58, paragraaf [17]
van die uitspraak bevind:
“
The
learned magistrate found no such circumstances (substantial and
compelling circumstances) but ordered that 11 years of the 15-year
sentence imposed in respect of count 2 should run concurrently with
the sentence on the count of robbery thereby tempering that
which
would otherwise have been a very harsh sentence. This is a sound
approach.
It also avoids the
disproportion referred to in
Sukwazi
that would otherwise occur in relation to different calibre weapons,
some equipped with semi-automatic or automatic mechanisms
and others
not
.”
(Eie
beklemtoning.)
[14]
Gevolglik is ek van oordeel dat daar ingemeng moet word met die
vonnis op aanklag 2. Wat betref die vonnis ten opsigte
van
aanklag 1, meen ek nie dat daar ‘n basis is waarop daarmee
ingemeng kan word nie en het Mnr Van der Merwe ook nie aldus
betoog
nie.
[15]
Verdermeer is ek oortuig dat selfs nadat met die vonnis op aanklag 2
ingemeng word, die vonnisse in ieder geval samelopend
uitgedien
behoort te word ten einde die kumulatiewe effek daarvan te temper
Indien dit nie aldus gelas word nie, sal die termyn
van effektiewe
gevangenisstraf weereens skokkend swaar en onvanpas wees.
[15]
Gevolglik word die volgende bevele gemaak:
1. Die opgelegde
vonnis van 5 (vyf) jaar gevangenisstraf op aanklag 1 word bekragtig;
2. Die opgelegde
vonnis van 15 jaar gevangenisstraf op aanklag 2 word ter syde gestel
en vervang met een van 6 (ses) jaar gevangenisstraf;
3. In terme van
artikel 280(2) van die Strafproseswet, Wet 51 van 1977, word dit
gelas dat die vonnis opgelê op aanklag 1
samelopend uitgedien
moet word met die vonnis opgelê op aanklag 2.
4. Bogemelde
vonnisse moet geag word opgelê te gewees het op 4 Julie 2013.
_____________
C.
VAN ZYL, R
Ek
stem saam:
__________________
E.
K. TSATSI, WND R
Namens
die appellant: Mnr. P. Van der Merwe
In
opdrag van:
Regssentrum
BLOEMFONTEIN
Namens
die respondent: Mnr. D. W. Bontes
In
opdrag van:
Direkteur:
Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN