About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2014
>>
[2014] ZAFSHC 218
|
|
Mncina v S (A279/2013) [2014] ZAFSHC 218 (25 November 2014)
VRYSTAAT HOË HOF,
BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA
Appélnommer :
A279/2013
DATE: 25 NOVEMBER 2014
In die appél tussen:-
BONGANI PETRUS
MNCINA
...................
Appellant
En
DIE
STAAT
.................................................
Respondent
CORAM: VAN ZYL, R et JAJI WND R
UITSPRAAK DEUR: VAN ZYL, R
GELEWER OP: 25 NOVEMBER 2014
[1] Appellant het as beskuldigde 1 van
vier beskuldigdes in die Streekhof, Heilbron, tereggestaan op ‘n
aanklag van roof met
verswarende omstandighede, gelees met die
bepalings van Artikel 51 van Wet 105 van 1997. Ooreenkomstig die
gewysigde klagstaat
is dit beweer dat appellant en die ander drie
beskuldigdes op 12 Augustus 2004 vir Simon Matla (“die klaer”),
‘n
28-jarige man, van R2 500-00 kontant beroof het, ten tyde
waarvan ‘n vuurwapen deur appellant en die ander beskuldigdes
gebruik is. Appellant en die ander drie beskuldigdes het
regsverteenwoordiging in die Hof a quo geniet. Hulle het onskuldig
gepleit.
Na sluiting van die staatsaak is ‘n aansoek in terme
van Artikel 174 van die Strafproseswet, Wet 51 van 1977, ten opsigte
van beskuldigdes 2, 3 en 4 toegestaan, waarop die beskuldigdes
onskuldig bevind en ontslaan is. Appellant is egter na die aanbied
van getuienis en die sluiting van sy saak skuldig bevind en gevonnis
tot 15 jaar gevangenisstraf.
[2] Appellant het by die Hof a quo
aansoek gedoen om verlof om te appelleer teen beide die
skuldigbevinding en opgelegde vonnis,
welke aansoek van die hand
gewys is. Daarop het hy ‘n soortgelyke petisie tot hierdie Hof
gerig, waarop verlof om te appelleer
slegs ten opsigte van die
opgelegde vonnis toegestaan is.
[3] Die klaer was werksaam by ‘n
taverne. Die aand van die voorval was hy en Mnr Mzwake Ngema, die
tweede staatsgetuie, alleen
in die taverne waar hulle gesit en gesels
het. Tussen ongeveer 19h00 en 20h00 het beskuldigdes 2 en 3, wie
bekend was aan die
klaer en Mnr Ngema, die taverne binnegekom en na
‘n bepaalde persoon gesoek. Hulle het daarna weer die taverne
verlaat.
Na ongeveer vyf minute het appellant en ‘n ander
onbekende persoon die taverne binnegekom. Appellant was nie aan
hulle
bekend nie. Hulle het navraag gedoen rondom die prys van bier,
waarop beide weer die taverne verlaat het. Kort daarna het appellant
weer die taverne binnegekom, die deur toegemaak, ‘n vuurwapen
uitgehaal en vir die klaer en Mnr Ngema beveel om op die grond
te lê.
Volgens die klaer was dit ‘n pistool wat reeds gespan was.
Appellant het gevra waar die geld was, waarop die
klaer sy kop van
die grond opgelig het en met sy hand gewys het na waar die geld was.
Op daardie stadium het nog ‘n persoon
die deur oopgemaak en
binnegekom. Mnr Ngema het sy kop opgelig om te kyk wie die taverne
binnegekom het, waarop appellant hom
met die vuurwapen oor sy kop
gekap het. Appellant en die ander persoon het toe die geld en
bottels brandewyn geneem en die taverne
verlaat. Volgens die klaer
was die geld meer as R2 000-00, hoewel die presiese bedrag aan hom
onbekend is, aangesien hy nog besig
was om die geld te tel. ‘n
Ambulans is ontbied en Mnr Ngema is na die hospitaal geneem waar hy
‘n aantal hegsteke
aan die agterkant van sy kop ontvang het.
Beide die klaer en Mnr Ngema het op 11 Julie 2008 vir appellant op ‘n
identifikasieparade
uitgewys, welke identifikasieparade gehou was
deur Inspekteur Fondeni, wie ook as getuie geroep was. Die
identifikasieparade-vorm
ten opsigte van hiervan is ingehandig as
bewysstuk “A”, waaruit dit blyk dat beide die klaer en
Mnr Ngema vir appellant
uitgewys het sonder om te twyfel.
[4] Hoewel hierdie uitspraak nie handel
met die skuldigbevinding van appellant nie, kan ek volledigheidshalse
vermeld dat ek oortuig
is dat die skuldigbevinding in orde is.
[5] Wat die opgelegde vonnis betref,
het die Verhoorhof die tersaaklike minimum vonnis soos voorgeskryf in
Artikel 51 van Wet 105
van 1997, opgelê. Die Verhoorhof was
verplig om die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar
gevangenisstraf in die onderhawige
geval op te lê gegewe sy
bevinding dat daar nie wesenlike en dwingende omstandighede bestaan
wat die oplegging van ‘n
mindere vonnis regverdig en noodsaak
nie. Sien S v MALGAS 2001 (1) SASV 469 (SCA).
[6] Mnr Makhene, namens appellant, het
in sy betoogshoofde sterk daarop gesteun dat gegewe dat die misdryf
reeds in Augustus 2004
gepleeg was en die verhoor eers gefinaliseer
is op 18 November 2010, dit ‘n onregverdigbare lang vertraging
in die finalisering
van die verrigtinge daarstel. Hy het in sy
betoogshoofde aan die hand gedoen dat dit sodanige erge benadeling
vir appellant daargestel
het dat die Verhoorhof fouteer het deur dit
nie ten gunste van appellant in aanmerking te neem by die oorweging
van ‘n gepaste
vonnis nie. In die verband het Mnr Makhene in
sy betoogshoofde die submissie gemaak dat hierdie vertraging in die
finalisering
van die verhoor, tesame met die persoonlike
omstandighede van appellant, kumulatief wesenlike en dwingende
omstandighede daarstel
op grond waarvan die verhoorhof ‘n
mindere vonnis dan die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar
gevangenisstraf moes oplê.
Ten tyde van die aanhoor van die
appèl het ek aan Mnr Makhene uitgewys dat dit uit die
J15-klagstaat blyk dat appellant
eers op 10 Julie 2008 gearresteer
was en hoewel dit nie uit die rekord blyk waarom appellant en die
ander beskuldigdes eers gedurende
Julie 2008 gearresteer is nie, het
dit tot gevolg dat daar nie sodanige lang oponthoud in die
finalisering van die verhoor as sulks
was nie. In reaksie hierop en
met Mnr Makhene se nalees van voormelde datum van arrestasie, het hy
onmiddellik aangedui dat hy
nie met hierdie punt volhard nie, na my
mening heeltemal tereg.
[7] Wat appellant se persoonlike
omstandighede betref, is die volgende gedurende die verhoor namens
appellant voor die Hof geplaas:
7.1 Appellant was met vonnisoplegging
26 jaar oud en derhalwe 20 jaar oud ten tyde van die pleging van die
misdryf;
7.2 Appellant is nie getroud nie, maar
het ‘n kind van 3 jaar oud, welke kind by sy (die kind se)
moeder woon, wie skoolgaande
en werkloos is.
7.3 Appellant het Graad 11 op skool
geslaag.
7.4 Ten tyde van sy arrestasie was
Appellant werksaam en het ‘n maandelikse inkomste van ongeveer
R4 400-00 verdien. Hy was
op daardie stadium reeds twee jaar
werksaam by die tersaaklike werkgewer.
7.5 Appellant was vir ‘n tydperk
van ongeveer een jaar en tien maande as verhoorafwagtende in
hegtenis.
[8] By nalees van die Verhoorhof se
uitspraak ten opsigte van vonnis blyk dit dat wat voormelde
persoonlike omstandighede van appellant
met betrekking tot sy
ouderdom betref, die Verhoorhof slegs verwys het na die feit dat
appellant ten tyde van vonnisoplegging 26
jaar oud was en toe gemeld
het “dus is dit nie ‘n faktor wat in aanmerking geneem
kan word nie”. Soos tereg
deur Mnr Makhene uitgewys, het die
Verhoorhof dus klaarblyklik nie in ag geneem dat appellant slegs 20
jaar oud was ten tyde van
die pleging van die misdryf en dus nog
relatief jonk was nie.
[9] Die verdere voormelde persoonlike
omstandighede van appellant is egter wel deur die Verhoorhof in ag
geneem by die oorweging
van die vraag of daar wesenlike en dwingende
omstandighede bestaan.
[10] Die Verhoorhof het voorts die
volgende verswarende faktore in ag geneem:
10.1 ‘n Vuurwapen is gebruik ten
tyde van die pleging van die misdryf en is daar ‘n toename in
hierdie tipe misdrywe
in die Verhoorhof se tersaaklike regsgebied.
Die Hof het onder andere verwys na die uitsprake in S v VALLEY 1998
(1) SASV 417
(WLD) en S v MOHASE 1998 (1) SASV 185 (O).
10.2 Die misdryf was beplan.
10.3 Appellant toon geen tekens van
berou nie.
10.4 Appellant het ‘n goeie
betrekking beklee, maar ten spyte daarvan steeds die misdryf gepleeg.
10.5 Appellant het tersaaklike vorige
veroordelings met elemente van oneerlikheid en geweld soos in die
onderhawige geval. Appellant
is op 26 September 2001 skuldig bevind
aan aanranding en beboet tot R400-00 of 40 dae gevangenisstraf,
waarvan R300-00 of 30 dae
gevangenisstraf opgeskort is vir vier jaar
op sekere voorwaardes. Op 23 Oktober 2003 is appellant skuldig
bevind aan een aanklag
van roof en een aanklag van diefstal, welke
gepleeg is op 6 Mei 2003. Hierdie twee klagtes is saamgeneem vir
vonnisdoeleindes
en is appellant gevonnis tot vier jaar
gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar op voorwaarde dat appellant
nie weer skuldig bevind
word aan roof of diefstal gepleeg ten tyde
van die tydperk van opskorting nie.
[11] Mnr Lenkoe, namens die Staat, het
gedurende sy betoog en met verwysing na die uitspraak in S v RAMMOKO
2003 (1) SASV 200 (SCA),
toegegee dat hoewel die onderhawige misdryf
uiters ernstig van aard is, die omringende feite en omstandighede
sodanig is dat dit
nie die ernstigste graad van roof met verswarende
omstandighede daarstel nie. Hy het egter terselfdertyd betoog dat
laasgenoemde
feit uitbalanseer of negeer word deur appellant se
vorige veroordeling van roof, in besonder gegewe die tyd dat die
opskortingstermyn
van die gevangenisstraf ten opsigte daarvan opgelê,
nog nie eers verstryk het ten tyde van die pleging van die
onderhawige
misdryf nie. Inteendeel, die onderhawige misdryf is
gepleeg minder as ‘n jaar na die vonnisoplegging ten opsigte
van appellant
se vorige veroordeling van roof.
[12] Laasgenoemde aspek ten opsigte van
appellant se vorige veroordelings is duidelik ook deur die Verhoorhof
as erg verswarend
in aanmerking geneem, heeltemal tereg so. Die
Verhoorhof het dit egter verder geneem. Uit die oorkonde blyk dit
dat die Verhoorhof
die staatsaanklaer versoek het om vas te stel of
appellant se vorige veroordeling van roof een van gewone roof of roof
met verswarende
omstandighede is. Sy was voorts versoek om die saak
oorkonde te kry vir oorweging van die inwerkinstelling van die
opgeskorte
vonnis. Hoewel geen terugvoering hieromtrent uit die
oorkonde blyk nie, was daar klaarblyklik wel op die een of ander wyse
terugvoering
gegee, aangesien die Verhoorhof as volg opmerk ten tyde
van sy vonnis uitspraak op p. 117, reëls 11 tot 25 van die
oorkonde:
“Die Hof neem kennis dat u ook
skuldig bevind is op 23/10/2003 aan roof. Die Hof weet nie of dit
roof met verswarende omstandighede
was of wat die omstandighede is
nie. In daardie geval is u vier jaar gevonnis wat vir vyf jaar
opgeskort is. Nou volgens ‘n
mededeling van die Staat kan
hierdie vonnis nie opgespoor word in Sebokeng waar dit opgelê
is nie, met ander woorde ons weet
nie of dit roof met verswarende
omstandighede of gewone roof was nie, en daarom sal die Hof dit nie
vat as roof met verswarende
omstandighede nie, dus sal die Hof u nie
vandag onder die wet vat dat u ‘n minimum vonnis van 20 jaar
gevangenisstraf moet
opgelê word nie, omdat u ‘n tweede
oortreder is nie.”
Die Verhoorhof het dan as volg
voortgegaan op p. 121, reëls 1 tot 3 en p. 121, reël 10 tot
p. 122 reël 4:
“Die Hof weet dan nie of dit
gewapende roof was, roof met verswarende omstandighede of wat nie, en
ook aan diefstal. ...
Dan, alhoewel die Hof normaalweg in aanmerking
neem dat ‘n opgeskorte vonnis in werking gestel sal word, soos
in hierdie
geval, lyk dit asof daar nie so ‘n aansoek sal wees
nie, in die lig dat die dokumentasie oor u vorige saak te Sebokeng
blykbaar
alreeds vernietig is. So ek glo nie die aanklaer sal
afskrifte van hierdie saakrekord kan bekom om aansoek doen vir die
inwerkingstelling
van die vonnis nie. So die tydperk wat u wel in
hegtenis aangehou is, is so gering dat die Hof dit nie rêrig
kan in aanmerking
neem as genoegsaam weens dwingende omstandighede om
af te wyk van die voorgeskrewe vonnis nie. Veral in die lig van sou
die rekord
beskikbaar gewees het u heel moontlik tot 20 jaar
gevangenisstraf minimum gevonnis moes word, is die Hof tevrede dat
die vorige
veroordelings maak, daar is drie van hulle van
oneerlikheid en geweld, dat u ‘n vonnis regverdig van eintlik
sê meer
as 15 jaar en daarom is die Hof tevrede dat indien die
minimum vonnis opgelê word van 15 jaar dit ‘n korrekte
vonnis
en die mees billikste vonnis sal wees.”
[13] Uit die bogemelde aanhalings blyk
dit ten eerste vir my dat die Verhoorhof by die oorweging van ‘n
gepaste vonnis die
ingesteldheid gehad het dat appellant se vorige
veroordeling van roof waarskynlik ‘n vorige veroordeling van
roof met verswarende
omstandighede is en dat die Verhoorhof se
subjektiewe vertrekpunt dus was dat 20 jaar gevangenisstraf eintlik
die tersaaklike voorgeskrewe
minimum vonnis in hierdie geval is. Dit
word in besonder bevestig deur die volgende aanhaling, welke ek reeds
hierbo aangehaal
het, maar wat ek meen beklemtoon moet word, soos dit
voorkom op p. 121, reël 20 tot p. 122, reël 4 van die
oorkonde:
“Veral in die lig van sou die
rekord beskikbaar gewees het u heel moontlik tot 20 jaar
gevangenisstraf minimum gevonnis moes
word, is die Hof tevrede dat
die vorige veroordelings maak, daar is drie van hulle van
oneerlikheid en geweld, dat u ‘n vonnis
regverdig van eintlik
sê maar meer as 15 jaar en daarom is die Hof tevrede dat indien
die minimum vonnis opgelê word
van 15 jaar dit ‘n
korrekte vonnis en die mees billikste vonnis sal wees.”
[14] Daar is uiteraard geen basis of
regverdiging vir voormelde ingesteldheid en wyse van benadering van
die Verhoorhof nie. Die
tersaaklike bewese vorige veroordeling teen
appellant is gewone roof en het die Verhoorhof fouteer deur op grond
van spekulasie
die vonnis te oorweeg asof appellant eintlik maar ‘n
vorige veroordeling van roof met verswarende omstandighede het.
[15] Verdermeer, hoewel die Verhoorhof
tereg kennis geneem het van en aandag gegee het aan die feit dat
appellant ‘n opgeskorte
vonnis het wat as gevolg van die
onderhawige misdryf in werking gestel kan word, het die Verhoorhof na
my mening fouteer deur te
aanvaar dat dit nie sal gebeur nie “in
die lig dat die dokumentasie oor u vorige saak te Sebokeng blykbaar
alreeds vernietig
is”. Weereens blyk daar na my mening geen
basis vir hierdie aanvaarding te wees nie. Soos vroeër
aangehaal blyk dit
op p. 117, reëls 15 tot 17 van die oorkonde
dat die aanklaer bloot nie die nodige dokumentasie ten opsigte van
die vonnis
kon opspoor in Sebokeng waar dit opgelê was nie.
Daar kan beslis nie op grond daarvan tot die gevolgtrekking gekom
word
dat die saakrekord noodwendig vernietig is nie – so ‘n
gevolgtrekking is weereens blote spekulasie. Na my mening moes
die
Verhoorhof steeds die kumulatiewe effek wat sal ontstaan indien die
opgeskorte vonnis wel in werking gestel sou word, oorweeg
het. Dit
moes òf as ‘n faktor in ag geneem gewees het by die
oorweging van ‘n gepaste vonnis; alternatiewelik,
moes ‘n
gepaste bevel daaromtrent gemaak gewees het. In GUIDE TO SENTENCING
IN SOUTH AFRICA, 2nd Edition, SS Terblanche,
op p. 183, paragraaf 3.3
is dit, met verwysing na ‘n veelvoud van regspraak, as volg
gestel:
“Therefore, if the sentencing
officer now imposing sentence observes that there is a suspended
sentence on the offender’s
record of previous convictions, and
that the conditions of the suspended sentence might have been
breached by the current offence,
she should consider whether a
cumulative effect will develop if the suspended sentence were to be
put in operation. If it will,
the Court imposing the current
sentence may order the current sentence to run concurrently with the
suspended sentence, should
it be put into operation. Making the
order conditional in this fashion ensures that it becomes effective
only if the suspended
sentence is in fact put into operation.”
[16] Soos reeds vermeld, het die
Verhoorhof dit ook as ‘n verswarende faktor in ag geneem dat ‘n
vuurwapen gebruik was
ten tyde van die pleging van die misdryf.
Hoewel dit weliswaar so is dat die gebruik van ‘n ander, minder
gevaarlike wapen
ten tyde van roof steeds roof met verswarende
omstandighede daar sal stel en dit daarom ‘n verswarende faktor
is indien ‘n
vuurwapen, as uiters gevaarlike wapen, gebruik
word, moet daarteen gewaak word dat die gebruikmaking van ‘n
vuurwapen nie
op onbehoorlike wyse oorbeklemtoon word nie. In die
verband moet in gedagte gehou word dat die wetgewer reeds by wyse van
die
Strafregwysigingswet, Wet 105 van 1997, roof met verswarende
omstandighede as ‘n ernstige misdryf uitgewys het en daarom
word ‘n swaar vonnis van 15 jaar gevangenisstraf vir ‘n
eerste oortreder, alreeds as vertrekpunt gebruik. Dit sluit
dus
reeds gevalle in waar daar van ‘n vuurwapen gebruik gemaak is.
[17] Die Verhoorhof het voorts op p.
119, reël 18 van die oorkonde, bevind dat by die oorweging of
daar wesenlike en dwingende
omstandighede bestaan, “uit die
misdaad self daar geen faktore (is) nie”. Ek kan nie hiermee
saamstem nie. Hoewel
roof met verswarende omstandighede uiteraard ‘n
baie ernstige misdryf is, is daar verskillende grade van erns van
sodanige
misdrywe. Die objektiewe erns van die misdryf speel ‘n
baie belangrike rol in die oorweging van ‘n gepaste vonnis en
moet daar behoorlik oorweging aan geskenk word. Sien S v MAHOMOTSA
2002 (2) SASV 435 (SCA); RAMMOKO v DIRECTOR OF PUBLIC PROSECUTIONS,
supra, en S v NKOMO 2007 (2) SASV 198 (SCA). In die onderhawige
geval is die omringende feite en omstandighede na my mening sodanig
dat dit nie geklassifiseer kan word as die ernstigste of ergste graad
of kategorie van roof met verswarende omstandighede nie.
Hoewel die
vuurwapen as wapen gebruik is, is dit nie afgevuur nie. Die besering
wat Mnr Ngema toegedien is, is, hoewel ernstig,
nie sodanig ernstig
as wat in baie ander gevalle van roof met verswarende omstandighede
aangetref word nie. Hoewel dit so is dat
die klaer en Mnr Ngema
weerlose slagoffers was en dit ‘n substansiële bedrag geld
is wat geroof is, het dit nie gepaard
gegaan met uitermatige geweld
nie.
[19] Na my mening het die bogemelde
mistastings deur die Verhoorhof tot gevolg gehad dat hy ‘n
vonnis opgelê het wat
in die omstandighede van hierdie geval,
skokkend swaar en onvanpas is.
[20] Verdermeer is daar ook na my
mening die volgende versagtende faktore teenwoordig wat addisioneel
tot dit wat die Verhoorhof
reeds vermeld het, ten gunste van
appellant in ag geneem moet word:
20.1 Appellant was slegs 20 jaar oud
ten tyde van die pleging van die misdryf en derhalwe relatief jonk
met die gevolg dat die moontlikheid
van rehabilitasie nie uitgesluit
kan word nie.
20.2 Appellant was werksaam ten tyde
van sy arrestasie en hoewel dit ook as verswarende faktor in ag
geneem word, is dit aanduidend
daarvan dat appellant wel ‘n
nuttige landsburger kan wees.
20.3 Vanweë die feite en
omstandighede reeds hierbo genoem, is die onderhawige geval nie van
die ernstigste graad van roof
met verswarende omstandighede nie.
[21] Voormelde versagtende faktore,
tesame met die persoonlike omstandighede van appellant reeds vermeld
in paragrawe 7.2, 7.3 en
7.5 hierbo, stel na my mening kumulatief
wesenlike en dwingende omstandighede daar wat die oplegging van ‘n
mindere vonnis
dan die voorgeskrewe minimum van 15 jaar
gevangenisstraf regverdig en noodsaak. Na ‘n ewewigtige
oorweging van al die relevante
feite en die elemente van
strafoplegging, is ek van mening dat 10 jaar gevangenisstraf ‘n
gepaste vonnis is.
[22] Met in agneming van hierdie vonnis
is ek tevrede dat indien die opgeskorte vonnis in werking gestel sou
word, die kumulatiewe
effek van die twee vonnisse nie onbehoorlik sal
wees nie. Gevolglik is ek nie voornemens om enige bevel te maak ten
opsigte van
samelopende uitdiening indien die opgeskorte vonnis in
werking gestel sou word nie.
[23] Gevolglik word die volgende bevel
gemaak:
23.1 Appellant se appèl teen die
opgelegde vonnis slaag, die opgelegde vonnis word tersyde gestel en
vervang met een van
10 (tien) jaar gevangenisstraf;
23.2 Laasgenoemde vonnis moet geag word
opgelê te gewees het op 18 November 2010.
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam:
N.P. JAJI, WND R
Namens die Appellant: Adv. J.S.
Makhene
In opdrag van: Regssentrum
BLOEMFONTEIN
Namens die Respondent: Adv. M.
Lenkoe
In opdrag van: Die Direkteur:
Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN