About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2014
>>
[2014] ZAFSHC 217
|
|
Scott and Another v S (A188/2013) [2014] ZAFSHC 217 (25 November 2014)
VRYSTAAT HOË HOF,
BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA
Appélnommer :
A188/2013
DATE: 25 NOVEMBER 2014
In die appél tussen:-
MERLYN
SCOTT
...................................................
1ste
Appellant
ISAAC VAN
NIEKERK
..........................................
2de
Appellant
En
DIE
STAAT
..................................................................
Respondent
CORAM: VAN ZYL, R et JAJI, WND R
UITSPRAAK DEUR: VAN ZYL, R
GELEWER OP: 25 NOVEMBER 2014
[1] Die appellante het in die
Streekhof, Bloemfontein, tereggestaan op ‘n aanklag van
verkragting in terme van die tersaaklike
bepalings van die
Strafregwysigingswet (Seksuele Misdrywe en Aanverwante
Aangeleenthede), Wet 32 van 2007, ook saamgelees met die
bepalings
van Artikel 51 en Deel 1 van Skedule 2 van die Strafregwysigingswet,
Wet 105 van 1997. Dit is beweer dat die appellante
op of omtrent 13
Junie 2008 te Bloemfontein wederregtelik en opsetlik ‘n daad
van seksuele penetrasie met die klaagster,
Lilly Neels, ‘n
volwasse vrou, gepleeg het deur haar vaginaal te penetreer en
geslagsgemeenskap met haar te hê sonder
haar toestemming.
[2] Beide die appellante het
regsverteenwoordiging in die Hof a quo geniet. Aanvanklik het beide
appellante skuldig gepleit op
die ten laste gelegde aanklag. Nadat
eerste appellant se verklaring in terme van Artikel 112(2) van die
Strafproseswet, Wet 51
van 1977, uitgelees is in die Hof, het hy
egter sekere aspekte daarvan ontken, waarop die Verhoorhof ‘n
pleit van onskuldig
in terme van Artikel 113 van die Strafproseswet
aangeteken het. Toedie tweede appellant daarop gevra is of hy steeds
skuldig pleit,
het hy aangedui dat hy wens onskuldig te pleit,
aangesien die klaagster toegestem het tot geslagsgemeenskap.
Gevolglik het die
Verhoorhof ook ten opsigte van die tweede appellant
‘n pleit van onskuldig aangeteken.
[3] Na die aanhoor van al die getuienis
is beide die appellante skuldig bevind soos aangekla. Getuienis ten
opsigte van vonnis
is ook aangebied, waarna die Verhoorhof beide die
appellante tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis het. Beide appellante
het aansoek
gedoen om verlof om te appelleer teen die opgelegde
vonnis, waarop sodanige verlof deur die Verhoorhof verleen is.
[4] Ten opsigte van die tersaaklike
gebeure waaruit die aanklag voortspruit, het die Verhoorhof die
volgende feite as bewese aanvaar.
Die appellante en die klaagster
was goed aan mekaar bekend en het hulle in dieselfde omgewing in
Heidedal in Bloemfontein gewoon.
Daar was in besonder ‘n goeie
vriendskap tussen die klaagster en die tweede appellant, tot die mate
dat die klaagster hom
as ‘n broer beskou het. Die aand
voorafgaande die dag van die voorval het die drie van hulle alkohol
genuttig by die eerste
appellant se huis. Later is die klaagster en
die tweede appellant na hul onderskeie huise. Die volgende oggend
het die klaagster
by die tweede appellant se huis opgedaag, hom
meegedeel dat sy ‘n babbelas het van die vorige aand se alkohol
inname en versoek
dat hulle weer na die eerste appellant se huis gaan
ten einde verder te drink. Hulle het dit toe inderdaad gedoen. Op
die klaagster
se eie weergawe het sy naderhand weer onder die invloed
van drank verkeer en so ook die appellante. Later het die twee
appellante
haar op geforseerde wyse gesleep na die eerste appellant
se kamer. Sy het teenkanting gebied, waarop die tweede appellant
haar
voete vasgedruk het terwyl die eerste appellant haar langbroek
uitgetrek het, haar vaginaal gepenetreer het en seksuele omgang met
haar gehad het terwyl sy om hulp geskree het. Nadat die eerste
appellant haar sodanig verkrag het, het die tweede appellant haar
op
soortgelyke wyse verkrag terwyl die eerste appellant haar bene
vasgedruk het. Aangesien die deur van die huis gesluit was,
het die
klaagster, nadat die tweede appellant haar ook aldus verkrag het,
deur ‘n venster van die huis ontsnap. Voordat
sy die perseel
van die eerste appellant se huis verlaat het, het sy die eerste
staatsgetuie, Mnr Eugene Canavan, synde die buurman
van die eerste
appellant, teëgekom. Sy het onmiddellik aan hom rapporteer dat
die twee appellante haar pas verkrag het.
Mnr Canavan het haar na
haar huis geneem waar haar moeder teenwoordig was, waarop hy aan haar
moeder vertel het wat die klaagster
hom meegedeel het. Die klaagster
en Mnr Canavan is daarop na die Heidedal Polisiestasie.
Die Verhoorhof het ook aanvaar dat die
klaagster op geen stadium `n verhouding met enige van die appellante
gehad het nie en dat
sy ook nie vantevore met enige van hulle
seksuele omgang gehad het nie.
[5] Die voorgeskrewe minimum vonnis vir
verkragting deur meer as een persoon in omstandighede soos die
onderhawige, is in terme
van Wet 105 van 1997, lewenslange
gevangenisstraf. Die Verhoorhof het egter bevind, na my mening tereg,
dat hier wesenlike en dwingende
omstandighede bestaan wat die
oplegging van `n mindere vonnis noodsaak en gevolglik 25 jaar
gevangenisstraf vir beide appellante
opgelê. In die verband het
die Verhoorhof bevind dat die feit dat die appellante algeheel eerste
oortreders is en die klaagster
geen ernstige fisiese beserings of
langtermyn emosionele skade opgedoen het nie, kumulatief beskou
sodanige wesenlike en dwingende
omstandighede daarstel. In die geval
van die tweede appellant het die Verhoorhof addisioneel tot
laasgenoemde versagtende faktore,
ook sy persoonlike omstandighede
ten gunste van hom in ag geneem.
[6] Mnr Pretorius, namens die
appellante, het tydens sy betoog gesubmiteer dat hoewel dit wel `n
uiters ernstige misdryf is waaraan
die appellante skuldig bevind is,
die opgelegde vonnis egter in die bepaalde omstandighede van hierdie
saak steeds skokkend swaar
en onvanpas is. Hy het aan die hand gedoen
dat die belange van die gemeenskap en die element van afskrikking
oorbeklemtoon is ten
koste van die appellante. Mnr Pretorius het
onder andere verwys na die beginsels ten opsigte van die diskresie
uitoefening by die
oorweging van `n gepaste vonnis soos dit neergelê
is in S v TOMS; S v BRUCE
[1990] ZASCA 38
;
1990 (2) SA 802
(A) op 806 I:
“Such a discretion permits a
balanced and and fair sentencing, which is the hallmark of
enlightened criminal justice. The
second and somewhat related
principle is that of individualisation of punishment.”
[7] Mnr Lencoe, namens die Staat, het
daarenteen die opgelegde vonnis ondersteun. Hy het gesubmiteer dat
die appellante nie verantwoordelikheid
vir hul dade neem en oopkaarte
met die Verhoorhof gespeel het nie. In plaas daarvan het die
appellante die klaagster se waardigheid
en integriteit aangetas deur
op leuenagtige wyse aan die Verhoorhof voor te hou dat die klaagster
gereeld haar liggaam verkoop
vir geld of drank en dat sy haar in
hierdie geval op die appellante afgedwing het om met haar gemeenskap
te hê, welke gemeenskap
toe met toestemming geskied het. Mnr
Lencoe het voorts aan die hand gedoen dat die tweede appellant in `n
vertrouensverhouding
jeens die klaagster gestaan het, welke hy
geskend en uitgebuit het deur haar te verkrag en boonop vir die
eerste appellant gehelp
het om haar te verkrag terwyl die klaagster
onder die invloed van alkohol was, in plaas daarvan om haar teen die
eerste appellant
te beskerm. Hy het betoog dat die verswarende
faktore die versagtende faktore oorheers.
[8] Voormelde faktore soos deur Mnr
Lencoe uitgelig, stel inderdaad verswarende faktore daar. Verdermeer,
hoewel die appellante
aanvanklik beide skuldig gepleit het, het hulle
nie net hulle pleit na een van onskuldig gewysig nie, maar deurentyd
volhard met
hul ontkenning van die pleging van die misdryf, selfs toe
hulle ter strafversagting getuig het. Onder sodanige omstandighede
kan
die beweerde berou wat hulle in hul getuienis uitgespreek het,
ook nie as ware berou geag word en as strafversagtend ten gunste
van
hulle in ag geneem word nie. Sien S v MATYITYI 2011 (1) SASV 40
(SCA).
[9] Die Staat het die moeder van die
klaagster, Rachel Elizabeth Neels, as getuie geroep om ter
strafverswaring te getuig. Hoewel
dit uit haar getuienis geblyk het
dat die klaagster nie langtermyn fisiese of emosionele skade deur die
voorval opgedoen het nie,
het sy baie emosioneel geraak in die Hof
toe sy getuig hoe hartseer sy is dat die tweede appellant, as die
klaagster se vriend
en `n vriend van die gesin, die klaagster verkrag
het. Sy het getuig dat die res van hul gesin ook hartseer is oor die
insident
en dat sy versoek dat die appellante na behore vir hul dade
gestraf moet word.
[10] Dat die twee appellante aan `n
baie ernstige misdryf skuldig bevind is, staan vas. Vanweë die
aard van die misdryf en
ook die hoë voorkoms daarvan landwyd,
het die gemeenskap beslis `n belang daarby dat die appellante
behoorlik gestraf moet
word, ook om as voorkoming en afskrikking te
dien vir soortgelyke voornemende oortreders.
[11] Soos egter deur Mnr Pretorius ook
betoog, moet die omringende feite en omstandighede van die bepaalde
saak, ook in ag geneem
word. In GUIDE TO SENTENCING IN SOUTH AFRICA,
S.S. Terblanche, 2de uitgawe, op p.129, paragraaf 4.3.5, kom die
volgende tersaaklike
passasie voor:
“There can be no doubt that the
facts particular to a case, remain important. This much is clear from
the requirement that
the sentencing Court must still determine the
culpability and blameworthiness of its own offender. The sentence
must still be in
proportion to the seriousness of the crime committed
by that offender.”
[12] In die onderhawige geval is daar
na my mening addisionele versagtende faktore wat geensins en/of nie
voldoende deur die Verhoorhof
in ag geneem is nie. Beide die
appellante was onder die invloed van alkohol ten tyde van die pleging
van die misdryf en hoewel
dit geensins regverdiging bied vir hul
optrede nie, het dit tot gevolg dat hul morele blaamwaardigheid
minder is. Verdermeer moet
aanvaar word dat die misdryf nie beplan
was nie, maar op die ingewing van die oomblik gepleeg was. Die
appellante het ook nie oormatige
geweld gebruik tydens die pleging
van die misdryf nie. Hoewel die feit dat beide appellante algeheel
eerste oortreders is wel deur
die Verhoorhof in ag geneem was, meen
ek dit moet beklemtoon word dat beide die appellante reeds 36 jaar
oud was ten tyde van vonnis
oplegging. Dit blyk dus dat hulle tot en
met hierdie voorval klaarblyklik nog nie met die gereg gebots het
nie. Na my mening is
hierdie feite aanduidend daarvan dat die
appellante se potensiaal tot rehabilitasie, waarskynlik goed is.
[13] Ek neem in ag dat hierdie misdryf
deur die Wetgewer uitgesonder is as een van die ernstigste tipe
misdrywe, maar die omringende
feite en omstandighede van hierdie saak
het na my mening tot gevolg dat hoewel langtermyn gevangenisstraf
gepas en noodsaaklik
is, die opgelegde vonnis skokkend swaar en
onvanpas is.
Wanneer die kumulatiewe effek van die
totaliteit van die versagtende faktore op gebalanseerde wyse in ag
geneem word teenoor die
verswarende faktore, is ek van oordeel dat `n
termyn van 20 jaar gevangenisstraf gepas is.
[14] Gevolglik slaag beide appellante
se appél teen die opgelegde vonnis, die vonnis word tersyde
gestel en vervang met een
van 20 (twintig) jaar gevangenisstraf ten
opsigte van elk van die appellante, welke vonnis geag moet word
opgelê te gewees
het op 4 Junie 2012.
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam:
N.P. JAJI, WND R
Namens die Appellante: Mnr. K.
Pretorius
In opdrag van: Regssentrum
BLOEMFONTEIN
Namens die Respondent: Adv. M.
Lenkoe
In opdrag van: Die Direkteur van
Openbare
Vervolgings
BLOEMFONTEIN