About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2014
>>
[2014] ZAFSHC 117
|
|
Jakobo v Grimbeek (380/2013) [2014] ZAFSHC 117 (7 August 2014)
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Saaknommer:
380/2013
In
die saak tussen:-
MZIWANDILE
ALFRED JAKOBO
…..........................................................................................
Eiser
en
JOHANNES
PETRUS LOUIS GRIMBEEK
…...................................................................
Verweerder
AANGEHOOR
OP
:
29
JULIE 2014
CORAM
:
KRUGER, R
GELEWER
OP
:
7
AUGUSTUS 2014
[1] Die
eiser spreek die verweerder, ‘n prokureur, aan omdat verweerder
nie sy eis tydiglik of enigsins by die Padongelukkefonds
ingedien het
nie. Die verweerder het ‘n spesiale pleit van verjaring
geopper en daardie pleit is ingevolge Eenvormige
Hofrëel 33(4)
geskei vir afsonderlike beregting, en hierdie uitspraak handel slegs
met die spesiale pleit van verjaring. Albei
partye het getuies
geroep. Mnr Grobler het die verweerder geroep en Mnr Röntgen het
die eiser, eiser se vader en skoonseun
se getuienis aangebied.
[2]
Relevante datums:
17 Desember 1983 Eiser se geboortedatum.
25 Januarie 2001 Botsing
waaruit eiser se eis ontstaan.
13 Februarie 2001 Verweerder
ontvang R250 van eiser se vader.
25 Maart 2005
Verweerder sluit sy lêer, en dit is inmiddels vernietig.
17 Desember 2004 Eiser word 21 jaar oud.
17 Desember 2007 Eiser se eis teen die
Padongelukkefonds verjaar.
17 Desember 2007 Verjaring van eiser se eis
teen verweerder begin loop.
17 Desember 2010 Verjaringsdatum van eiser
se eis teen verweerder.
6 Februarie 2013
Dagvaarding op verweerder beteken.
[3]
Artikel 12(1) en (3) saamgelees met artikel 11(d) van die
Verjaringswet 68 van 1969 bepaal dat verjaring begin loop sodra die
skuldeiser kennis dra van die identiteit van die skuldenaar en van
die feite waaruit die skuld ontstaan, of sodra die eiser deur
die
beoefening van redelike sorg sodanige kennis kon bekom:
“
12
Wanneer verjaring begin loop
(1) Behoudens die bepalings van sub-artikels (2), (3) en
(4), begin verjaring loop sodra die skuld opeisbaar is.
(2) ....
(3) ‘n Skuld word nie geag opeisbaar te wees
voordat die skuldeiser van die identiteit van die skuldenaar en van
die feite
waaruit die skuld ontstaan, kennis dra nie: Met dien
verstande dat ‘n skuldeiser geag word sodanige kennis te dra
indien
hy dit deur die beoefening van redelike sorg kon bekom.”
[4] Mnr
Grobler sê die verweerder steun op die alternatief, naamlik dat
die eiser deur die beoefening van redelike sorg die
identiteit van
die verweerder en die feite waaruit die skuld ontstaan kon bekom
het. Die verweerder dra die bewyslas om kennis,
werklik of
geag, te bewys, maar minder getuienis is nodig om ‘n
prima
facie
saak daar te stel omdat die feite binne die besondere
kennis van die eiser val (
Union Government (Minister of
Railways) v Sykes
1913 AD 156
op 173 soos aangehaal in
Gericke v Sack
1978 (1) SA 821
(A) op 827 C-G).
[5] Die
verweerder het getuig dat hy in Parys praktiseer. Sy lêer
is in 2005 gesluit en vernietig, voor dagvaarding
beteken is. Hy
het geen rekords. Hy kon hier en daar inligting vind, ondermeer
‘n ou prokurasie (wat nie onderteken
is nie) en sy ou trust
kwitansie boek. Die eiser se vader het by ‘n goeie kliënt
van verweerder gewerk, ongeveer
200 meter van verweerder se kantoor
af. Hy aanvaar dat die eiser en sy vader as gevolg van sy
kontak met daardie kliënt
by hom uitgekom het. Verweerder
sê die lêer kon om verskeie redes gesluit gewees het,
byvoorbeeld gebrek aan
instruksies of omdat dit nie ‘n
bona
fide
eis was nie.
[6] In
kruisondervraging is die verweerder gevra of hy nog sy dagboeke vir
2001 het. Hy antwoord dat hy nie weet nie, hy sal
moet kyk. Hy
sien nie mense sonder afspraak nie, behalwe in dringende gevalle. Dis
moontlik dat hy ‘n gebeurlikheidskontrak
oor hierdie eis
aangegaan het. Verweerder se praktyk het alleenstaande
rekenaars, en hy kon geen rekord vind dat sodanige
kontrak oorweeg of
aangegaan is nie. Die verweerder het nie by die Prokureursorde
navraag gedoen oor of daar moontlik ‘n
kansellasie was van so
‘n moontlike gebeurliksheidskontrak. Mnr Grobler het
beswaar gemaak oor vrae oor ‘n moontlike
gebeurlikheidskontrak,
waarop Mnr Röntgen geantwoord het dat, as daar ‘n
gebeurlikheidskontrak was, staan dit vandag
steeds. Die
verweerder weet nie of daar sodanige kontrak was nie. Dis in
kruisondervraging gestel dat die betaling
van R200 wat op grootboek
getoon word (Bundel bl 2) as ‘n betaling aan “Sup.
Boitumelo” namens ‘n ander
kliënt gedoen is, en nie
aan die hospitaal soos wat verweerder gesê het nie. Die
verweerder het nie meer ander
rekords wat met hierdie betaling handel
nie. Die verweerder is uitgevra oor die ongetekende “Spesiale
prokurasie”
(Bundel Bl 3), wat verweerder nie kon onthou nie.
Hy kon geen korrespondensie vind nie. Dis gestel dat die
verweerder
die hospitaalverslag gekry het en niks verder nie. Die
verweerder antwoord dat hy met die kliënt sou gekommunikeer het,
hy sou die eiser of moontlik eiser se vader geskakel het. Op
hierdie stadium het Mnr Grobler weer beswaar gemaak teen die
kruisondervraging en gesê dat die nalatigheid van die prokureur
nie tans voor die hof is nie, waarop Mnr Röntgen geantwoord
het
dat dit die plig van ‘n prokureur is om met sy kliënt
skakel.
[7] Dis
in kruisondervraging aan die verweerder gestel dat ‘n prokureur
nie bloot die lêer van ‘n kliënt
kan sluit nie.
Hierop reageer die verweerder dat hy nie die lêer net sou
gesluit het nie. Op die stelling dat
daar vir vier jaar (vanaf
2001 tot 2005) ‘n doodse stilte op hierdie lêer was,
antwoord die verweerder dat hy nie weet
wat in daardie tyd gebeur het
nie. Hierdie is die kern van die aanval op die verweerder, en
sy reaksie daarop. Dis
moeilik vir die verweerder om te bewys
wanneer die eiser kennis van die feite gekry het waarop die eis
gebaseer is. Die verweerder
getuig dat hy vir sy kliënte
sê hulle moet onmiddellik reageer. Hierdie getuienis is
nie weerspreek nie. Die
verweerder getuig dat hy nie die
meriete van die eis onthou nie.
[8] As
die eis nie ‘n
bona fide
eis was nie, sou die verweerder
moontlik nie met die eis voortgaan nie. Die verweerder weet nie
of dit hier so ‘n geval
was nie. Hy gee toe dat as dit
nie ‘n
bona fide
eis was nie, sou hy die kliënt die
kans moes gegee het om na ‘n ander prokureur te gaan. Dit
word aan verweerder
gestel dat hy vir die eiser en sy vader gesê
het hulle moet hom los, hy weet wat hy doen. Verweerder getuig dat sy
kantoor
baie derde party eise hanteer, hy weet nie aan wie hierdie
saak toegewys was nie. Hy het nie die lêer by hom nie, en
weet nie wat gebeur het met eiser se saak nie.
[9]
Namens eiser is drie getuies geroep. Eiser se vader het eerste
getuig. Hy het by ‘n kliënt van die verweerder
gewerk naby verweerder se kantore, en hy en die eiser, wat in ‘n
rolstoel was, het die verweerder kort na die ongeluk gaan
sien. Die
verweerder wou R250 hê om met die saak aan te gaan. Geen
dokumente is onderteken nie. Met sy
tweede besoek aan
verweerder se kantoor het eiser se vader net die R250 by ontvangs
daar gaan inbetaal. Sy getuienis is teenstrydig
oor sy derde
besoek. Hy getuig aanvankliik dat nie lank nadat hy die geld
inbetaal het, was hy weer by verweerder, wat hom
toe meegedeel het
dat hy aangaan met die saak, en dat hy die polisie en hospitaal moet
nader. Die verweerder het nie gesê
hoe lank dit sou duur
nie. Daarna het eiser se vader, eiser, en eiser se swaer,
Thabatha, weer vir verweerder gaan sien.
By hierdie geleentheid
het eiser se swaer die praatwerk gedoen, en vir verweerder gevra
wanneer die eis gaan klaarkom. Eiser
se vader sê dat
verweerder baie mooi met hulle gepraat het, maar beide eiser en
Thabatha sê verweerder het gesê
hulle moet hom los, hy
ken sy werk. Eiser se vader getuig dat hy baie vertroue in die
verweerder gehad het.
[10] In
kruisondervraging getuig eiser se vader dat eiser gedurende 2012 oor
die radio gehoor het dat die Padongelukkefonds mense
aanmoedig om
hulle eise verder te voer. Eiser se vader sê hy was kwaad
vir sy seun. Eiser het toe sy huidige prokureur
van rekord gaan
spreek. Eiser se vader getuig dat hy nie weet of eiser ooit by
die verweerder navraag gedoen het oor die
vordering met sy saak nie.
Eiser se vader bevestig dat na die konsultasie waar hulle drie
by die verweerder was, ongeveer
‘n jaar of anderhalf jaar na
die botsing, het hy nooit weer by die verweerder navraag oor die
vordering met die saak gedoen
het nie. Hy het in die verweerder
geglo.
[11]
Thabatho, die skoonseun, se weergawe van die vergadering by die
verweerder verskil van eiser se vader s’n. Volgens
hom
was die verweerder kwaad toe hy hom vra oor die vordering met die
saak. Verweerder het gesê hy ken sy werk, hulle moet
loop. In
teenstelling met eiser se vader wat getuig dat verweerder vriendelik
was, getuig Thabatho dat verweerder kwaad was
en hulle uit sy kantoor
gejaag het, en gesê het hulle gaan hom nie leer om sy werk te
doen nie. Dis moeilik om
hulle getuienis te versoen.
Thabatho bevestig dat hy nooit navraag gedoen het oor die vordering
met eiser se saak by verweerder
nie.
[12]
Eiser self het laaste getuig. Hy en sy vader het die verweerder
gaan spreek. Die verweerder het gesê dat
hy alles sou
doen, hulle sou help, op voorwaarde dat hulle R250 betaal. Eiser
het die verweerder drie keer gesien. Eiser
getuig dat tydens
die derde vergadering, toe sy swaer by was en skynbaar die
hoof-segsman was, was verweerder se stem baie hoog,
en hy het gesê
hy hanteer hierdie tipe sake, dit neem lank. Hy getuig dat die
verweerder baie kwaad was. Hy sluit
sy kruisondervraging af met
die erkenning dat vanaf 2002 tot 2012 het hy niks aan die eis gedoen
nie. Hy getuig dat hy net
stilgebly het.
[13] In
sy betoog het Mnr Röntgen na verskeie sake verwys om te toon dat
die prokureursberoep ‘n verantwoordelike profesie
is, wat groot
vaardigheid van sy lede verg (
Waar v Louw
1977 (3) SA
297
(O) op 304 D-E per MT Steyn). In
Ditedu v Tayob
2006 (2) SA 176
(W) het die eiser se prokureur sy eis teen die
Padongelukkefonds van R472 172 vir R5 013 geskik. Sy
was ‘n
42 jarige leek. Die eiseres was onbewus van die
prokureur se nalatigheid toe sy haar geld ontvang het. Sy moes
volgens
die verweerder op die laatste in 2001 geweet het van haar
eis. Goldstein R kon nie bevind dat eiseres nie redelike sorg
aan
die dag gelê het nie, en wys die verjaringspleit af.
Truter and Another v Deysel
2006 (4) 168 (HHA)
het oor mediese nalatigheid gegaan. Daar handhaaf die hof die
spesiale verjaringspleit, en bevind dat
verjaring begin loop sodra
die eisoorsaak voltooi is. Die verdere konsultasie van eiser
met ander deskundiges het nie die
aanvang van verjaring vertraag nie.
In
Mienzana v Goodrick and Franklin Inc
2012 (2)
SA 433
(FB) het dit gegaan oor ‘n eis teen die
Padongelukkefonds wat prokureurs laat verjaar het. Die feite
was dat die prokureurs
14 briewe gestuur het, wat op die
waarskynlikhede nie by eiser uitgekom het nie. Rampai R vind
dat die uitstuur van daardie
briewe nutteloos was. Die
prokureur wat met die saak gewerk het, het 34 maande gehad om die
omstandighede van die eis te
ondersoek, wat sy nie gedoen het nie.
Sy het nie gedoen wat redelikerwys van die deursnee prokureur
verwag kan word nie (
Mouton v Die Mynwerkersunie
1977
(1) SA 119
(A) te 142 G-H per Wessels AR). Hoewel die einde van die
verjaringstyd duidelik in sig was, het die prokureur in die
Mienzana
-saak niks gedoen nie (par [98]).
[14]
Mnr Röntgen verwys na
Van Zijl v Hoogenhout
2005
(2) SA 93
(HHA). Die feite daar was ongewoon en het gehandel
met seksuele handelinge wat die verweerder teen die eiseres gepleeg
het
terwyl sy minderjarig was. Die getuienis het daarop gedui
dat weens haar emosionele en geestelike toestand kon sy niks vroeër
doen nie. Heher AR beklemtoon dat verjaring onredelike gebrek aan
optrede penaliseer nie die onvermoë om op te tree nie (par
[19]).
[15] In
Road Accident Fund v Advocate Ele Myhill NO
(506/2012)
[2013] ZASCA 73
(29 May 2013) was die vraag of die skikking van twee
minderjariges se eise teen die Padongelukkefonds as bindend aanvaar
moes word
of tersyde gestel moes word. In daardie saak het mens
met die optrede van ‘n voog te doen gehad. Die botsing
het in 1997 plaasgevind, toe die twee eisers onderskeidelik twee jaar
en vier maande oud was. Aanbiedinge van ongeveer 10%
van die
eisbedrae is ontvang en skynbaar in 1999 aanvaar. Tien jaar
later het die respondent, ‘n praktiserende advokaat
opdrag
gekry om die toekennings ter syde te laat stel. Na oorweging
van die feite beslis Leach AR dat die toekennings ter
syde gestel
moet word, veral omdat die toegekende bedrae so klein was. In
die huidige geval blameer die eiser nie sy vader
nie. Trouens,
sy vader het hom na die verweerder geneem, en die verweerder se fooi
gaan betaal. Die eiser was reeds
sedert 2004 meer as 21 jaar
oud, en kon sy eie sake behartig. Die eiser was 17 tydens die
fietsongeluk.
[16] In
McLeod v Kweyiya
2013 (6) SA 1
(HHA) het die
Hooggeregshof ‘n spesiale verjaringspleit afgewys, welke
beslissing deur die Hoogste Hof van Appèl bekragtig
is. Die
hof vind dat daar geen rede vir die respondent was om te glo dat die
bedrag wat namens haar verhaal is, te min was
nie. Die hof vind
ook dat daar geen basis was om te bevind dat, toe sy 21 jaar oud
geword het, sy opeens moes geweet het,
sonder enige tussenbeide
tredende faktor, dat haar eis vir te min geskik was nie. Die
hof vind dat daar geen basis was waarop
sy eerder kon gemeen het dat
sy ‘n eis teen die appellant gehad het nie. Die verjaringspleit
word dus afgewys.
[17]
Wat die getuienis van die eiser en sy swaer betref dat die verweerder
hulle hard aangespreek het en uit sy kantoor gejaag het,
is dit
moeilik om te bepaal wat werklik gebeur het. Die eiser se vader
sê die verweerder het mooi met hulle gepraat.
Dis nooit
aan die verweerder gestel dat hy die drie uit sy kantoor gejaag het
tydens die laaste konsultasie in 2001 of 2002
nie. Mens kry die
indruk dat die getuienis oor die uitjaag moontlik ‘n latere
versinsels deur die eiser en sy swaer
is. Mnr Röntgen, ‘n
ervare regspraktisyn, het nie aan die verweerder gestel dat hulle
twee dit sou kom sê
nie.
[18]
Die feite in
Gunase v Anirudh
2012 (2) SA 398
(HHA) was
dat die respondent, ‘n voetganger, in 1992 raakgery is deur ‘n
motor. In 1993 het hy opdrag aan die
appellant, ‘n
prokureur, gegee. Hy het later weer die appellant se kantore
besoek, dit was gesluit en hy is meegedeel
dat die appellant getrek
het na ‘n ander perseel. Later het hy verneem dat die
appellant ophou praktiseer het. Gedurende
Maart 2005 is hy
meegedeel dat sy lêer verlore was. Op 28 April 2005 het
respondent sy prokureur van rekord gespreek
en haar versoek om die
derdeparty eis oor te neem. In Januarie 2006 het respondent
behoorlik opdrag gegee met al die dokumente
en ‘n lêer is
geopen. Dagvaarding is in Oktober 2008 uitgereik. Die
ongeluk het in 1992 plaasgevind en
die eis teen die Padongelukkefonds
het dus in 1995 verjaar. Brand, AR bevind dat die respondent sy
prokureur in 2001 gesien
het, en ook in daardie jaar gesien het die
kantoor is gesluit. Van Julie 2001 tot April 2005 het hy niks
gedoen nie, hy sê
omdat hy nie geweet het wat om te doen nie.
Brand AR vind dat, by toepassing van ‘n objektiewe
standaard van sorg,
as die respondent redelike sorg aan die dag gelê
het, sou hy kort nadat hy gesien het dat appellant ophou praktiseer
het
as prokureur, geweet het dat die appellant nie sy eis ingedien
het nie. Hy sou op die laaste gedurende Mei 2005 geweet het
sy
eis is nie by die Padongelukkefonds ingedien nie. Die Hoogste
Hof van Appèl vind dus dat die verjaringspleit moes
geslaag
het want dagvaarding is eers in 2008 uitgereik.
[19] In
die huidige geval het die respondent vanaf 2002 tot 2012, nadat hy in
2004 meerderjarig geword het, niks gedoen het nie.
In hierdie
geval, anders as in die
Gunase
-saak, was die verweerder
se kantoor heeltyd oop, en is dit steeds oop, 200 meter van eiser se
vader se werksplek. Bowendien
is die verweerder eiser se vader
se werkgewer se prokureur. Tog het eiser, of sy vader of sy
swaer, geen navrae daar gedoen
nie, vir nagenoeg tien jaar.
[20]
Die rede waarom verjaring as verweer bestaan is omdat mense se
geheues vervaag en dokumente wegraak of vernietig word. As
dit
gebeur kan ‘n hof nie meer die eis behoorlik beoordeel nie.
Dis presies wat hier die geval is. Dit kan nie
verweerder
verwyt word dat hy sy lêer gesluit het nie. Die eiser het
vir ‘n periode van byna tien jaar niks gedoen
nie. Mens
kan spekuleer oor die redes waarom die verweerder nie die eis
ingedien het nie, maar daar is geen rekords nie.
In die
omstandighede is daar nie ‘n basis om te vind dat die
verweerder nie sy plig as prokureur nagekom het nie, want
hy, en die
hof, weet nie watter stappe hy geneem het nie.
[21]
Die benadering van Mnr Grobler namens verweerder was dat eiser vir
nagenoeg tien jaar niks aan sy eis gedoen het nie, en dat
verweerder
nie meer ‘n lêer het, en nie meer onthou wat gebeur het
nie. Mnr Röntgen, daarinteen, steun op
die feit dat die
prokureursamp ‘n belangrike een is, en dat ‘n prokureur
groot sorg aan die dag moet lê in die
hantering van sy sake.
Die eiser se probleem is dat die feite rondom wat die prokureur
gedoen het, as gevolg van tydsverloop
nie meer vasgestel kan word
nie. Dis waarom die leerstuk van verjaring in ons reg bestaan,
omdat tydverloop nadelig kan wees
vir mense wat nie onthou nie en nie
meer rekords het nie. Daarom kyk mens na die redelikheid van
die vertragings aan die
kant van die eiser. Daar is baie sake
waar die hof lang vertragings goedgekeur het, bv. in die
Van
Zijl
-saak, (
supra
) waar die eiseres weens haar
emosionele en geestelike toestand prakties onder ‘n beletsel
was. Daar was geen skuld
in haar vertraging nie. Die
feite van die onderhawige geval is dat eiser kort na die ongeluk die
verweerder gaan spreek het
saam met sy vader. Hy was twee keer
weer daar. Hy het reeds in 2004 meerderjarig geword. Die
getuienis dui daarop
dat eiser se swaer ook behulpsaam was met die
eis, deurdat hy die konsultasie by die verweerder gevoer het. Uit
die swaer
se getuienis is dit duidelik dat hulle nie alles vir
soetkoek opgeëet het wat verweerder hulle vertel het nie. Hulle
verduidelik nie waarom hulle nie die verweerder weer gaan spreek het
na die konsultasie toe, volgens die eiser en die swaer, die
verweerder hulle uit sy kantoor gejaag het nie. As die
tydsverloop nie so lank was nie, en die verweerder se lêer nie
vernietig was nie, sou mens moontlik die redes vir daardie uitjaag
(as dit gebeur het) kon vind, en sou mens moontlik kon bepaal
wat toe
gebeur het. Daardie rekords bestaan nie meer, deur geen skuld
van die verweerder nie. Die eiser kon en moes
vroeër
opgetree het. Die reg verwag van ‘n skuldeiser soos die
eiser om redelik en wakker soos ‘n redelike
persoon op te tree,
en nie agteroor te sit in traak-my-nie-agtige niksdoen nie (
Macleod
v Kweyiya
2013 (6) SA 1
(HHA) op 6 D-E).
[22]
Dit word die verweerder verwyt dat hy nie die saak met die eiser
opgevolg het nie, maar die punt is dat die lêer vernietig
is,
en die verweerder het nie ‘n manier waarop hy kan vasstel wat
hy of die eiser in daardie tydperk gedoen het nie. Dis
waarom
verjaringswetgewing bestaan, want geheues vervaag en dokumente word
vernietig. Dis presies wat hier gebeur het. Die
verweerder
onthou nie wat gebeur het nie, en die dokumente is vernietig. Dis
onbillik om in die omstandighede meer van die veweerder
te verwag as
wat hy voor die hof geplaas het.
[23]
Die feite in die
Mienzana
-saak (
supra
) is anders
as die feite in die huidige saak. In die huidige saak weet mens nie
wat gebeur het nie. Die verweerder getuig
dat hy nie die lêer
goedsmoeds, lukraak, sonder rede en sonder dat hy stappe geneem het
nie sou sluit nie. Weens die
lang tydsverloop, en omdat die
rekords nie meer bestaan nie, weet mens nie wat daardie rede was of
watter stappe die verweerder
geneem het nie. Die verweerder kan
nie onder daardie omstandighede aanspreeklik gehou word nie.
[24] In
die huidge geval het die eiser aan geen onvermoë gely nie, soos
in
Van Zijl
(
supra
). Hy het in 2004
meerderjarig geword. Hy was bewus van sy eis. Hy en sy vader
het die respondent gespreek, en ook sy
swaer was by die laaste
konsultasie met die verweerder teenwoordig, en het ‘n aktiewe
rol gespeel. Die eiser het vir nagegnoeg
tien jaar niks gedoen nie.
Hy het vanweë ‘n radioberig besluit om sy eis verder
te voer.
[25]
Die eiser moes meer doen as om bloot passief te wees. Hy word
ingevolge die Verjaringswet drie jaar gegun om navrae te
doen. “If
she could have acquired this knowledge by acting diligently, her
inertia, ineptitude or indifference would
not excuse her delay”
(
Gericke v Sack
(
supra
) te 832 C-D). ‘n
Party kan nie voordeel trek uit sy eie vertraging nie (
Uitenhage
Municipality v Molloy
[1997] ZASCA 112
;
1998 (2) SA 735
(HHA) te 742 A-D. Dit
word geag dat die eiser kennis van die identiteit van die verweerder
en die feite waarop die eis gebaseer
is gehad het, as hy dit kon doen
deur die uitoefening van redelike sorg. Die vraag is of ‘n
redelike persoon in eiser
se posisie die identiteit van die
verweerder en die feite waarop die eis gebaseer is sou vasgestel het
(
Drennan Maud & Partners v Pennington Town Board
[1998] ZASCA 29
;
1998 (3) SA 200
(HHA) op 209 F-G. Dit vereis dat die eiser
wakker moet wees en soos ‘n redelike persoon optree. Die
eiser was
nie wakker nie en die verweerder was geregtig om sy rekords
te vernietig. Die verjaringspleit moet slaag.
[26]
BEVEL
1. Die spesiale pleit van verjaring word met koste
gehandhaaf.
2. Die eis word met koste van die hand gewys.
______________
A.
KRUGER, R
Namens
Eiser:
Mnr K.M. Röntgen (Snr)
In opdrag van:
McIntyre & Van Der Post
BLOEMFONTEIN
Namens
Verweerder: Adv. J.F. Grobler
In opdrag van:
Symington & De Kok
BLOEMFONTEIN