S v Coetzer (225/05) [2006] ZASCA 42; 2006 (2) SACR 63 (SCA) (29 March 2006)

58 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Sentencing — Consecutive sentences — Interpretation of sections 51(4) of the Criminal Law Amendment Act 105 of 1997 and 280(2) of the Criminal Procedure Act 51 of 1977 — Appellant convicted of multiple counts of robbery with aggravating circumstances and sentenced to 15 years for each count — Appellant contended that sentences should run concurrently from the date of sentencing — Court held that section 51(4) does not exclude the application of section 280(2), which governs the commencement of sentences — Appeal dismissed.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2006
>>
[2006] ZASCA 42
|

|

S v Coetzer (225/05) [2006] ZASCA 42; 2006 (2) SACR 63 (SCA) (29 March 2006)

Links to summary

DIE HOOGSTE HOF
VAN APPèL
VAN SUID-AFRIKA
Rapporteerbaar
Saakno.: 255/05
In die saak tussen:
COETZER,
CORNELIS HENDRIK
Appellant
-
en -
DIE STAAT
Respondent
Voor: STREICHER, BRAND & NUGENT ARR
Verhoordatum: 7 MAART 2006
Gelewer: 29 MAART 2006
Opsomming: Volgorde waarin
vonnisse uitgedien word – art 51(4) van die Strafregwysigingswet
105 van 1997 sluit nie die bepalings
van art 280(2) van
Strafproseswet 51 van 1977 uit nie.
Neutrale sitasie: Hierdie
uitspraak mag na verwys word as Coetzer v Die Staat [2006] SCA 42
(RSA)
UITSPRAAK
STREICHER AR
STREICHER AR:
[1] Die appellant is in die Streekhof
te Pretoria skuldig bevind aan vier klagtes van roof met verswarende
omstandighede en op elke
klagte gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf.
Die Streekhof het egter met `n beroep op die bepalings van art 280(2)
van die Strafproseswet
51 van 1977 beveel dat die vonnisse so
uitgedien moet word dat die appellant effektiewelik 25 jaar
gevangenisstraf uitdien. Op appèl
na die Pretoria Hoë Hof
het die appellant aangevoer dat, ingevolge art 51(4) van die
Strafregwysigingswet 105 van 1997, die
uitdiening van die vonnisse
almal begin loop het op die datum waarop hulle opgelê is, dat
hy in totaal dus slegs 15 jaar gevangenisstraf
moes uitdien en dat
die Streekhof fouteer het om te beveel dat hy effektiewelik 25 jaar
gevangenisstraf moes uitdien. Die Hoë
Hof het bevind dat daar
nie meriete in hierdie betoog was nie en het die appèl van die
hand gewys maar het nietemin aan die
appellant verlof verleen om na
hierdie hof te appelleer.
[2] Artikels 51(2) en (4) van Wet 105
van 1997 lees soos volg:
‘
51(2) Ondanks enige ander wet maar behoudens
subartikels (3) en (6), moet `n streekhof . . . ten opsigte van `n
persoon wat skuldig
bevind is aan `n misdryf bedoel in –
Deel II van Bylae 2, die persoon, in die geval van –
`n eerste oortreder, tot gevangenisstraf vir `n tydperk van
minstens 15 jaar vonnis;
`n tweede oortreder van enige sodanige misdryf, tot gevangenisstraf
vir `n tydperk van minstens 20 jaar vonnis; en
`n derde of verdere oortreder van enige sodanige
misdryf, tot gevangenisstraf vir `n tydperk van minstens 25 jaar
vonnis;
. . .
. . .
Met dien verstande dat die maksimum vonnis wat `n
streekhof ingevolge hierdie subartikel mag oplê, nie meer as
vyf jaar langer
mag wees nie as die minimum vonnis wat hy ingevolge
hierdie subartikel mag oplê.’
(Roof met verswarende omstandighede is een van die
misdrywe bedoel in Deel II van Bylae 2.)
‘
51(4) `n Vonnis in hierdie artikel beoog
word vanaf die datum van vonnisoplegging bereken.’
[3] Artikel 280(1) en (2) van die
Strafproseswet bepaal soos volg:
‘(1) Wanneer iemand by `n verhoor aan twee of meer misdrywe skuldig
bevind word of wanneer iemand wat gevonnis staan te word of
wat straf
ondergaan aan `n ander misdryf skuldig bevind word, kan die hof hom
veroordeel tot die verskillende strawwe vir daardie
misdrywe of, na
gelang van die geval, tot die straf vir so `n ander misdryf, wat die
hof bevoeg is om op te lê.
(2) Bedoelde strawwe, wanneer hulle uit
gevangenisstraf bestaan, neem `n aanvang die een na die verstryking,
tersydestelling of kwytskelding
van die ander in die volgorde wat die
hof gelas, tensy die hof gelas dat sodanige gevangenisstrawwe
saamloop.’
[4] Artikel 32(2) van die Wet op
Korrektiewe Dienste 8 van 1959 wat na vonnisoplegging, met effek
vanaf 1 Oktober 2004, herroep is
deur die Wet op Korrektiewe Dienste
111 van 1998, welke wet in art 39 daarvan `n soortgelyke bepaling
bevat het, het soos volg bepaal:
‘
Wanneer iemand meer as een vonnis van
gevangenisstraf opgelê word of addisionele vonnisse opgelê
word terwyl hy `n tydperk
van gevangenisstraf uitdien, word elke
sodanige vonnis die een na die verstryking, tersydestelling of
kwytskelding van die ander
uitgedien in so `n volgorde as wat die
Kommissaris bepaal, tensy die hof uitdruklik anders gelas of tensy
die hof gelas dat sodanige
vonnisse saam moet loop: Met dien
verstande . . . .’
[5] Die appellant betoog dat artikels
280(2) en 32(2) nie geld in die geval van `n vonnis beoog in art 51
nie en dat meerdere vonnisse
gevolglik ingevolge art 51(4) loop vanaf
die datum waarop hulle opgelê is. Hierdie uitleg van die
appellant het die volgende
eienaardige resultate wat beswaarlik die
bedoeling van die wetgeweer kon gewees het:
As `n persoon terselfdertyd twee
minimum strawwe van vyf jaar elk ingevolge art 51 opgelê word,
kan hy slegs vir vyf jaar
aangehou word. As hy egter vir dieselfde
misdrywe elk `n minimum straf van vyf jaar opgelê word, maar
in die een geval slegs
nadat hy die straf op die ander uitgedien
het, kan hy vir tien jaar aangehou word.
`n Persoon wat 15 jaar
gevangenisstraf uitdien en 10 jaar voor die verstryking van die 15
jaar `n ander misdaad in die gevangenis
pleeg waarvoor die straf
bedoel in art 51(2) minder as 10 jaar is, hoef geen addisionele
gevangenisstraf ten opsigte van daardie
misdryf uit te dien nie.
`n Persoon wat soos die appellant
vier gewapende rowe gepleeg ten opsigte waarvan die gepaste straf
ingevolge art 51 op elke afsonderlike
klagte 15 jaar gevangenisstraf
is, kan nie swaarder gestraf word as `n persoon wat slegs een van
daardie gewapende rowe gepleeg
het nie.
[6] Die appellant se uitleg van art
51(4) is duidelik nie korrek nie. Volgens art 51(4) word die vonnis
wat uitgedien moet word, bereken
vanaf die datum van vonnisoplegging.
Dit beteken egter nie dat `n gevonnisde geag word te begin het met
die uitdiening van sy vonnis
voordat hy inderdaad begin het om sy
vonnis uit te dien nie. Dit beteken slegs dat die gedeelte van die
vonnis wat inderdaad uitgedien
is, bereken word vanaf die datum van
vonnisoplegging. Dit kan gebeur dat `n persoon met die uitdiening van
sy vonnis begin dae of
selfs maande nadat die vonnis opgelê is.
So byvoorbeeld kan dit gebeur dat `n persoon wat op borg vrygelaat is
hangende appèl
en wie se appèl van die hand gewys word,
eers veel later in bewaring geneem word. Die gedeelte wat hy
uitgedien het, sal op
enige stadium ingevolge art 51(4) bereken word
vanaf die datum van vonnisoplegging maar dit beteken nie dat die
gedeelte tussen die
datum van vonnisoplegging en wanneer hy in
bewaring geneem is, gereken sal word as `n gedeelte van die vonnis
wat deur hom uitgedien
is nie. Dit is dus in elke geval nodig om te
bepaal wanneer die uitdiening van die vonnis inderdaad begin het.
Artikel 51(4) handel
geensins met daardie vraag nie en daar is
gevolglik geen basis waarop bevind kan word dat die bedoeling van die
wetgewer met die
artikel was dat artikels 280(2) en 32(2), wat wel
met daardie vraag handel, nie sou geld in die geval van `n vonnis
opgelê
ingevolge art 51 nie. Artikel 280(2) is dus van
toepassing ook op vonnisse in art 51 beoog.
[7] Die appèl word gevolglik
van die hand gewys.
___________________
STREICHER AR
STEM SAAM
:
BRAND AR)
NUGENT AR)