V v V (2993/2012) [2014] ZAFSHC 107 (5 May 2014)

82 Reportability

Brief Summary

Divorce — Maintenance — Claim for spousal maintenance post-divorce — Eiseres seeks monthly maintenance of R30,000 and coverage of medical expenses — Verweerder acknowledges maintenance obligation but disputes amount and duration — Court considers evidence of parties' financial circumstances and standard of living during marriage — Eiseres' claim for maintenance upheld based on her needs and the parties' lifestyle, with an order for maintenance granted.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2014
>>
[2014] ZAFSHC 107
|

|

V v V (2993/2012) [2014] ZAFSHC 107 (5 May 2014)

SAFLII
Note:
Certain
personal/private details of parties or witnesses have been
redacted from this document in compliance with the law
and
SAFLII
Policy
IN
DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA
VRYSTAATSE
AFDELING, BLOEMFONTEIN
Saaknommer
:  2993/2012
In
die saak tussen:-
P[...]
J[...] V[...]
A[...]
.......................................................................................................................
Eiseres
en
J[...]
P[...] V[...]
A[...]
................................................................................................................
Verweerder
CORAM:
VAN ZYL, R
GELEWER
OP:
5 MEI 2014
[1]
Hierdie is ‘n egskeidingsgeding waarin eiseres die volgende
regshulp teen verweerder vorder:

1.
‘n Bevel van egskeiding;
2. Onderhoud vir
eiseres op die volgende basis:
2.1 ‘n
Maandelikse onderhoud van R30 000-00 per maand tot haar dood,
hertroue of samewoning met ‘n ander man;
2.2 Dat verweerder
aanspreeklik sal wees vir alle redelike mediese-, tandheelkundige- en
oogkundige kostes van die eiseres tot haar
dood, hertroue of
samewoning met ‘n ander man;
2.3 Dat verweerder
aan eiseres beskikbaar stel vir bewoning tot haar dood, hertroue of
samewoning met ‘n ander man ‘n
woonhuis ten bedrae van
R1 300 000-00 te Bloemfontein.
3.
Koste van die geding.”
[2]
In sy teeneis het verweerder ‘n bevel van egskeiding gevorder
en dat eiseres gelas word om die koste van die geding te
betaal.
[3]
By die aanvang van die verhoor het Mnr van Niekerk, namens eiseres,
aangedui dat die geskilpunte tussen die partye in wese behels
die
vraag of eiseres geregtig is op onderhoud en indien wel, vir welke
termyn asook die omvang daarvan.  Nadat Mnr van Niekerk
sy
openingsbetoog gelewer het, het Mnr de Bruyn, namens verweerder,
aangetoon dat verweerder nie betwis dat hy onderhoudspligtig
jeens
eiseres is nie.  Die termyn en die omvang van die onderhoud is
egter steeds in dispuut.
[4]
Die partye is met mekaar getroud op 16 Februarie 2002 te
Johannesburg, buite gemeenskap van goedere en met uitsluiting van die

aanwasbedeling.  Die huweliksertifikaat is ingehandig as
bewysstuk “A”.
[5]
In terme van eiseres se besonderhede van vordering is die
onherstelbare huweliksverbrokkeling teweeggebring deur die volgende

redes:
5.1 Verweerder het
‘n buite-egtelike verhouding aangeknoop en weier om daarvan
afstand te doen.
5.2 Verweerder
verneder en verkleineer eiseres.
5.3 Verweerder het
eiseres versoek om die gemeenskaplike woonhuis te verlaat.
5.4
Verweerder het eiseres meegedeel dat hy nie belangstel in die
voortsetting van die huweliksverhouding nie en ‘n egskeiding

verlang.
In
sy verweerskrif het verweerder erken dat hy ‘n buite-egtelike
verhouding aangeknoop het, maar het hy gepleit dat hy dit
aangeknoop
het nadat die huweliksverhouding tussen die partye reeds
onherstelbaar verbrokkel het.  Aldus sy teeneis is die

onherstelbare huweliksverbrokkeling teweeggebring deur die volgende
feite en omstandighede:

3.1
Deurdat die eiseres voortdurend met die verweerder rusie maak;
3.2 Deurdat die
eiseres dominerend, baasspelerig en aggressief is en deurentyd poog
om die verweerder se sake en in die besonder
sy besigheid oor te
neem, te beheer en te bestuur;
3.3 Deurdat die
eiseres onredelik teenoor die verweerder optree;
3.4 Deurdat die
eiseres weier om die verweerder se kinders of familie te aanvaar,
hulle voortdurend verneder, rusie met hulle maak
en ‘n
verwydering tussen die verweerder en sy kinders en familie probeer
bewerkstellig.
3.5 Deurdat die
eiseres geen liefde en toegeneentheid teenoor die verweerder se
kinders getoon het nie.  Gevolglik was daar
geen goeie en
opbouende verhouding tussen die eiseres en die verweerder se kinders
nie wat ‘n direkte negatiewe effek op
die harmonie in die
huwelik gehad het.
3.6 Deurdat die
eiseres nie in staat was om die verweerder redelike en normale
huweliksvoorregte te bied nie.
3.7 Deurdat die
eiseres onredelik en aggressief teenoor die verweerder se werknemers
opgetree het tot so ‘n mate dat die werknemers
by meerdere
geleenthede gestaak het en gedreig het om te bedank.
3.8
Deurdat die Eiseres sekere werknemers bo ander voorgetrek het wat tot
gevolg gehad het dat die verhouding tussen die werknemers
onderling
en tussen werknemers en bestuurders daardeur benadeel is wat ‘n
direkte invloed op die verweerder se besigheid
gehad het.”
[6]
Beide eiseres en verweerder het getuienis gelewer.  Verder het
Mev Susan van Jaarsveldt, ‘n bedryfsielkundige, deskundige

getuienis namens eiseres aangebied met betrekking tot haar
assessering van eiseres wat betref haar kanse om ‘n betrekking

te bekom en haar verdienvermoë.
[7]
Eiseres en verweerder het omvangryke getuienis gelewer.  Hoewel
ek dit deeglik bestudeer het, is ek nie voornemens om dit
hierin te
herhaal nie.  Ek sal tersaaklike aspekte daarvan verwys soos en
wanneer nodig.  Ek gaan nou slegs in breë
trekke `n
geheelbeeld van die verloop van die partye se lewe gee.
[8]
Eiseres was 32 jaar oud toe sy en verweerder ontmoet het.
Verweerder was wel voorheen getroud, maar was die huidige huwelik

eiseres se eerste huwelik.  Eiseres het matriek geslaag en
beskik oor ‘n kredietdiploma in bankwese.  Sy het ook

sekere kursusse deur middel van Absa bygewoon en het sy slegs twee
vakke gekort vir ‘n gevorderde kredietdiploma op die stadium

wat sy bedank het.  Verweerder het gedurende 1987 betrokke
geraak by Pick n Pay, waar hy aanvanklik as leerling bestuurder

werksaam was en na baie verplasings eventueel teruggekeer het na
Bloemfontein en die Vrystaat Streeksbestuurder van Pick n Pay

geword.  Nadat Pick n Pay se kantore te Bloemfontein toegemaak
het, het verweerder na Johannesburg verhuis.  Die partye
het
sedert ongeveer 2001 as man en vrou saamgewoon.  Toe verweerder
na Johannesburg getrek het, het  eiseres ‘n
oorplasing by
Absa verkry.  Gedurende 2003 het hulle na Vryburg verhuis.
Daar het verweerder die “
franchise

verkry vir ‘n Pick n Pay familie supermark, welke hy toe geopen
het.  Die besigheid is die eiendom van Luhane
Trading (Edms)
Bpk.  Die aandele in die maatskappy setel in die H[...] &
T[...] Trust.  Die P[...] Trust is die kapitaal
en
inkomstebegunstigde van die H[...] & T[...] Trust.  Eiseres,
verweerder en verweerder se kinders is die begunstigdes
van die
P[...] Trust.  Eiseres en verweerder was gesamentlik by die
bestuur van die besigheid betrokke.  Volgens eiseres
het sy ‘n
verskeidenheid van kursusse deurloop ten einde haar werksverpligtinge
in die besigheid te kon verrig.  Sy
was administratiewe
bestuurderes en volgens haar was sy verantwoordelik vir salarisse,
debiteure, krediteure, hoofkantoorvergoeding,
kliënte- en
personeelklagtes, die bestuur van voedsel en higiëne en in
effek, volgens haar, die algemene bestuurder.
Sy het ‘n
salaris vanaf die besigheid ontvang.  Aanvanklik het beide
eiseres en verweerder ‘n maandelikse
salaris van R8 000-00
uit die besigheid ontvang.  Die besigheid is opgebou met die
verloop van tyd en op die stadium
wat eiseres en verweerder uitmekaar
is, gedurende Junie 2012, het beide sy en verweerder R40 000-00
per maand as salaris uit
die besigheid ontvang. Eiseres se salaris is
deurentyd in verweerder se bankrekening gedeponeer.  Volgens
eiseres was die
besigheid ‘n groot sukses wat winsgewendheid
betref.
[9]
Eiseres het getuig dat hulle ‘n luukse leefstyl gehandhaaf
het.  Hulle het ‘n moderne huis te Vryburg aangekoop
in
verweerder se naam wat bestaan uit 4 slaapkamers, 3 badkamers,
studeerkamer en 1 gastetoilet.  Die binneversiering van
die huis
is van die beste en die partye het ook die kombuis oorgedoen en
gemoderniseer.  Verder beskik verweerder ook oor
nog ‘n
huis in Vryburg te De Waalrylaan waar sy broer Jurie woonagtig is.
Die P[...] Trust beskik oor ‘n huis
te Molopoweg in Vryburg
waar die besigheid se slaghuisbestuurder woonagtig is.  Die
slaghuisbestuurder betaal  R5 000-00
per maand ten opsigte
van die huur van die huis en die besigheid betaal R5 000-00.
Verweerder
is ‘n groot liefhebber van Khoi-visse.  Eiseres het ook
hieromtrent ‘n beeld geskets dat daar baie geld
deur Verweerder
aan die visse spandeer is.  Verweerder het onder andere
gedurende 2012 na Japan gegaan om visse te gaan koop
en het hy
ongeveer R200 000-00 hieraan spandeer.  By hulle huis is
die swembad ook in ‘n Khoi-dam omskep, met die
gepaardgaande
onkoste daarvan.
Verweerder
is ook ‘n BMW-motorfiets liefhebber en is hy president van die
plaaslike motorfietsklub.  Hy onderneem gereeld

naweek-uitstappies.
Verweerder
was ook lief om te jag en het hy volgens eiseres ook baie geld
hieraan spandeer, terwyl verweerdervan hierdie uitgawes
ontken het.
Eiseres en verweerder het ook gereeld op luukse vakansies en
naweek-uitstappies gegaan.
[10]
In die algemeen gesproke het eiseres die huwelik as ‘n
gelukkige huwelik bestempel.  So onlangs as 6 Mei 2012 het

verweerder ‘n Mercedes-Benz voertuig aan eiseres gegee as ‘n
verjaarsdag geskenk.  Hoewel die krediettransaksie
ten opsigte
van die voertuig in haar naam geregistreer is, het verweerder die
paaiemente betaal.  Gedurende Julie 2012 het
verweerder egter
vir eiseres meegedeel dat hy ‘n egskeiding verlang.  Dit
was nadat hy ‘n buite-egtelike verhouding
aangeknoop het met
Mev N[...] R[...] (“Mev R[...]”) wie op daardie stadium
te Margate woonagtig was. Hulle is tans
steeds in ‘n verhouding
en het Mev R[...]  en haar kinders intussen na Vryburg verhuis
en is hulle by verweerder woonagtig.
Mev R[...] en haar kinders
is groot perde liefhebbers en neem ook aan perdesport deel.  Dit
het tot gevolg gehad dat verweerder
geld begin spandeer het aan
perde, perde-benodighede en aanverwante onkostes en self ook begin
perdry het.
[11]
Vanweë voormelde omstandighede was eiseres verplig om die
besigheid te verlaat en het sy na Bloemfontein verhuis.
Wat
haar verdienvermoë betref het sy getuig dat sy graag haar eie
besigheid sal wil hê.  Verdermeer het sy ‘n
besering
op haar L4- en L5-werwels en kan sy nie lank staan of lank loop nie.
Indien sy in staat sou wees om ‘n pos
by Pick n Pay te
Bloemfontein te bekom, sal dit ‘n klerkpos wees en nie ‘n
bestuurspos nie.  Dit sal derhalwe
‘n salaris van ongeveer
R6 000-00 tot R7 000-00 per maand as inkomste teweegbring.
[12]
Eiseres het getuienis aangebied met betrekking tot haar verwagte
maandelikse uitgawes aan die hand van ‘n dokument wat
vervat is
in die verhoorbundel, bewysstuk “B”, p. 1.  Die
totaal van hierdie verwagte uitgawes beloop ‘n
bedrag van
R35 658-00.  Ingesluit by hierdie verwagte uitgawes was
huurgeld ten opsigte van ‘n huis of ‘n
meenthuis ten
bedrae van R10 000-00.  Sy het getuig dat dit die huurgeld
is van ‘n meenthuis of ‘n huis van
die standaard waaraan
sy gewoond was om te bly.  Sy het voorts getuig dat sy egter sal
verkies om ‘n eiendom te koop,
anders het dit tot gevolg dat sy
waarskynlik voortdurend sal moet trek wat weer verdere onkostes
teweegbring.  In die verband
het sy navraag gedoen ten opsigte
van 2-slaapkamer meenthuise van die standaard waarin sy belangstel en
beloop die koste daarvan
ongeveer R1 300 000-00.
[13]
Mev van Jaarsveldt het na assessering van eiseres en haar
kwalifikasies  tot die gevolgtrekking gekom dat dit haar
waarskynlik
12 tot 18 maande sal neem om ‘n permanente
betrekking te bekom.  Gegewe haar kwalifikasies en ondervinding
sal sy waarskynlik
slegs ‘n administratiewe of ‘n
klerikale betrekking kan beklee waarvan die gemiddelde salaris per
jaar tussen R16 400-00
en R120 000-00 kan beloop.
[14]
Verweerder het ook getuienis aangebied met betrekking tot faktore wat
tot gevolg het dat die besigheid sedert die stadium wat
eiseres dit
verlaat het, finansieel begin swaarkry het en voorsien hy dat dit in
die toekoms nog verder sal versleg.
TERSAAKLIKE
REGSBEGINSELS:
[15]
Die betaling van onderhoud aan ‘n gade by egskeiding is deur
wetgewing geskep.  In die verband bepaal Artikel 7(2)
van die
Wet op Egskeiding, 70 van 1979, as volg:

7(2)
By ontstentenis van ‘n bevel gegee kragtens sub-artikel (1) met
betrekking tot die betaling van onderhoud deur die een
party aan die
ander kan die Hof, met inagneming van die bestaande of verwagte
vermoëns van elk van die partye, hulle onderskeie

verdienvermoëns, finansiële behoeftes en verpligtinge, die
onderhoud van elk van die partye, die duur van die huwelik,
die
lewenspeil van die partye voor die egskeiding, hulle gedrag vir sover
dit op die verbrokkeling van die huwelik betrekking het,
‘n
bevel ingevolge sub-artikel (3) en enige ander faktor wat na die
oordeel van die Hof in aanmerking geneem behoort te word,
‘n
bevel gee wat die Hof billik ag met betrekking tot die betaling van
onderhoud deur die een party aan die ander vir enige
tydperk deur die
dood of hertroue van die party ten gunste van wie die bevel gegee is,
na gelang die een of die ander eerste plaasvind.”
[16]
Mnr van Niekerk het in sy betoog verwys na die welbekende uitspraak
in
BOTHA v BOTHA
2009 (3) SA 89
(B) par 42 en verder en daarop gewys dat die Hof by
die oorweging van die betaling van onderhoud ‘n diskresie het
om ‘n
vasstelling daaromtrent te maak wat “just”
is.  Mnr van Niekerk het voorts betoog dat ten einde vas te stel
wat
in die onderhawige geval reg en billik is, moet die omstandighede
tussen eiseres en verweerder opgeweeg word.
[17]
In terme van voormelde Artikel 7(2) is die Hof geregtig om

enige
ander faktor wat na die oordeel van die Hof in aanmerking geneem
behoort te word” te oorweeg.  Dit is aanduidend
daarvan
dat die Hof se diskresie in die verband absoluut is.  SIEN
GRASSO v GRASSO
1987 (1) SA 48
(C).
[18]
Wat betref die gewig wat aan ‘n party se wangedrag geheg moet
word by die oorweging van onderhoud, is daar in
BUTTNER
v BUTTNER
2006 (3) SA 23
(SCA) op 37 A
– G met hierdie aspek gehandel en kom die Hof tot die volgende
gevolgtrekking:

In
the English Court of Appeal case of Kyte v Kyte, Purchas LJ stated
the following in relation to s 25(2)(g) of the English Statute:

T
he
Court is entitled, in my judgment, to look at the whole of the
picture, including the conduct of the parties.....which may or
may
not have contributed to the break-down of the marriage or which in
some other way
makes it inequitable to
ignore the conduct of each of the parties.  A clear example of
such a case is where the parties may
each not have been blameless
(almost inevitably in the normal marriage) but where the imbalance of
conduct one way or the other
would make it inequitable to ignore the
comparative conduct of the parties.

I
agree with this approach….  In essence, the misconduct of
one or both of the parties must only be allowed to inference
the
outcome of the case where to disregard it would be unjust.”
(Own emphasis)
[19]
In
ZWIEGELAAR v ZWIEGELAAR
2001 (1) SA 1208
(SCA), in besonder op 121F – I, het die
Hoogste Hof van Appél bevind dat ‘n party se
akkommodasie- of behuisingsbehoeftes
in gepaste omstandighede erken
moet word as deel van sodanige party se redelike onderhoudsbehoefte.
[20]
Alwaar ‘n trust gebruik word as die alter ego van ‘n
party, kan die inkomste en/of bates van daardie trust  in
ag
geneem word by die oorweging van die vraag welke onderhoudsbevel
billik sal wees.  Sien
JORDAAN v
JORDAAN
2001 (3) SA 288
(C) te 299 G –
301 D;
BADENHORST v BADENHORST
2006 (2) SA 255
(SCA).
TOEPASSING
VAN DIE REGSBEGINSELS OP DIE FEITE:
[21]
Na my mening blyk dit duidelik uit die totaliteit van die getuienis,
soos deur Mnr van Niekerk ook betoog, dat die partye in
wese soos
vennote opgetree het in die besigheid.  Beide het baie hard
gewerk om die besigheid te vestig en beide partye het
voordeel
daaruit getrek.  Eiseres het ook ‘n groot rol hierin
gespeel in haar bestuur van die besigheid.  Die bydrae
wat
eiseres gemaak het was dus ook deel van dit wat tot gevolg gehad het
dat die partye ‘n bogemiddelde lewensstandaard kon
handhaaf.
Dit het so goed met die besigheid gegaan dat dit `n lening van R6 000
000.00 in 4 jaar kon afbetaal.
[22]
Aldus eiseres was die partye gelukkig getroud, hoewel verweerder nie
saamstem nie. Uit die totaliteit van die getuienis meen
ek egter dat
dit blyk dat die partye in wese gelukkig getroud was.  Na my
mening blyk dit insgelyks duidelik dat as Mev R[...]
nie in die
prentjie gekom het nie, die partye waarskynlik steeds aldus getroud
sou gewees het.  Verweerder het nog kort voor
hulle uitmekaar
is, duur geskenke vir eiseres gekoop.  In die verband en met
betrekking tot die Mercedes motor waarna ek in
paragraaf 10 hierbo
verwys het, het verweerder getuig dat hy en eiseres gedurende
November 2011 dit bespreek het om ‘n nuwe
motor te koop, wat hy
wel in Januarie 2012 gedoen het en wat toe gedurende Mei 2012
afgelewer is.  Dan getuig hy as volg:

Ek
kon nie voorsien dat daar ‘n breuk gaan kom nie, as ek geweet
het dit gaan gebeur, sou ek nie die Mercedes gekoop het nie.

Na
my mening is dit dus duidelik hieruit dat indien verweerder nie ‘n
verhouding met Mev R[...] aangeknoop het nie, verweerder
en eiseres
steeds bymekaar sou wees.  Ek stem dus met Mnr van Niekerk se
betoog saam dat hierdie wangedrag van verweerder
nie in hierdie
bepaalde geval as ‘n neutrale faktor in die verbrokkeling van
die huwelik beskou kan word nie.  Ek neem
egter ook in ag, soos
deur Mnr de Bruyn betoog, dat die bedrag onderhoud en die termyn nie
sodanig vasgestel moet word dat dit
as strafmaatreël teen
verweerder gebruik word omdat hy op ‘n ander vrou verlief
geraak het nie.
[23]
Uit die getuienis van Mev van Jaarsveldt blyk dit dat eiseres se
verdienvermoë beperk is.  Daarenteen is die verdienvermoë

van verweerder baie groot, veral gegewe dat hy die trusts as sy alter
ego beskou.  Dit blyk duidelik uit die getuienis dat
eiseres in
die toekoms geld uit die P[...] Trust gaan ontvang nie.
Verweerder se huidige en toekomstige verdienvermoë
oortref by
verre dié van eiseres.  Verweerder verdien duidelik
sodanige hoë inkomste dat hy steeds ‘n bogemiddelde

lewenstandaard handhaaf.  Die foto`s in bewysstuk “C”
is ook `n reflektering van hoe verweerder hierdie lewenstyl
met Mev
R[...] deel en geniet.
[24]
Die perde en uitgawes ten opsigte van die perde het, op verweerder se
eie weergawe, slegs in verweerder se lewe gekom as gevolg
van die
teenwoordigheid van Mev R[...].  Uit die getuienis blyk dit
duidelik dat hy verstommende hoë bedrae aan uitgawes
ten opsigte
van perde spandeer het, soms self tot meer as R 100 000.00 per
maand.  In die verband het Mnr de Bruyn, op ‘n
vraag van
myself, toegegee dat insoverre verweerder beweer dat hy nie die
bedrag onderhoud kan bekostig wat eiseres vorder nie,
daar beslis
ruimte is dat hy op sy uitgawes kan afskaal deur onder andere minder
op die perde te spandeer.
[25]
Die netto wins van die besigheid vir die 2012 finansiële jaar,
was ongeveer R1.2 miljoen, wat ‘n gemiddelde inkomste
van
R100 000-00 per maand tot gevolg het.  Dit is nog
addisioneel tot die talle uitgawes van verweerder wat in ieder
geval
reeds elke maand deur die besigheid betaal word. Uit opsommings van
finansiële syfers wat deur `n administratiewe werknemer
van
verweerder self verskaf is, blyk dit duidelik hoe rojaal verweerder
spandeer en leef. Op p. 278 van bewysstuk “B”
word maande
in 2012 uitgebeeld waar verweerder meer as R 500 000.00 per maand
spandeer het; verdermeer in die meeste maande in
ieder geval meer as
R 100 000.00.  Dit blyk onteenseglik en op verweerder se eie
erkenning dat hy die besigheid as sy eie
beskou en die trusts as sy
alter ego en derhalwe die inkomste van die besigheid via die trust na
homself kanaliseer.
Teen
voormelde agtergrond is verweerder se getuienis dat hy nie `n ekstra
R10 000.00 kan bekostig om sodoende `n R1 000 000.00 verband
op die
P[...] trust huis te neem om vir verweerderes `n woning te koop nie,
verregaande.  Daarteenoor het hy ongeveer `n week
voor die
verhoor meer as R30 000.00 betaal vir `n kosmetiese borste operasie
vir Mev R[...].
[26]
Op verweerder se eie weergawe spandeer hy gemiddeld meer as
R100 000.00 per maand die afgelope twee jaar.  Eiseres
is
‘n trustbegunstigde van die P[...] Trust.  Regstegnies
moet die R1.2 miljoen netto wins per jaar die P[...] trust
toekom,
welke inkomste danksy haar en verweerder se harde werk was.  Mnr
van Niekerk het dus betoog dat net uit ‘n billikheidsoogpunt

beskou, eiseres eintlik geregtig behoort te wees op die helfte van
die inkomste, synde R760 000-00 per jaar. Desnieteenstande
het
verweerder haar nou totaal uitgesluit uit die ontvangs van enige
voordele of inkomste vanaf die P[...] trust.
[27]
Mnr van Niekerk het daarop gewys dat wanneer oorweging geskenk word
aan die R30 000-00 per maand wat eiseres vorder, dit
in gedagte
gehou moet word dat verweerder reeds in terme van die Reël
43-bevel R15 000-00 per maand betaal plus verdere
betalings, die
totaal waarvan ongeveer ook R30 000-00 beloop.
[28]
Mnr van Niekerk het betoog dat eiseres se uitgawes nie oordadig of
spandabelrig is nie.  Ek stem hiermee saam, veral gegewe
die
lewenstandaard waaraan sy gewoond was en die lewenstandaard wat
verweerder tans steeds handhaaf.  Teen daardie agtergrond
is dit
‘n gebalanseerde lys van uitgawes. Dit is wel so dat indien ek
sou gelas dat verweerder aan applikant `n woning beskikbaar
stel of
aankoop, die huur-uitgawe van R10 000.00 op haar lys van uitgawes
verval. Daarteenoor sal eiseres egter nou verplig wees
om self die
Mercedes se maandelikse paaiment ten bedrae van ongeveer R8000.00  te
betaal, welke sy nie tot op hede gedoen
het nie en nie by haar lys
van uitgawes ingereken is nie.
[29]
Wat die termyn van onderhoud betref, het Mnr van Niekerk tereg daarop
gewys dat daar geen getuienis is waarop ek kan bevind
dat eiseres
noodwendig binne die volgende drie of vyf of tien jaar,
argumentsonthalwe, in staat sal wees om finansieel op haar
eie voete
te staan nie.  Gegewe eiseres se beperkte verdienvermoë,
stem ek hiermee saam.  Dit moet ook in gedagte
gehou word dat
geen getuienis deur verweerder of namens verweerder aangebied is wat
die bewerings van eiseres se beperkte verdienvermoë,
weerlê
nie.  Onder hierdie omstandighede meen ek dat dit ook reg en
billik sal wees indien verweerder gelas word om
lewenslange onderhoud
aan eiseres te betaal tot en met haar dood, hertroue of samewoning
met ‘n ander man.  Indien daar
intussen veranderde
omstandighede sou opduik wat ‘n wesenlike invloed op een of
beide van die partye se finansiële posisie
het, kan hierdie
bedrag steeds deur die Onderhoudshof gewysig word.
[30]
Wat betref eiseres se vordering ten opsigte van ‘n woning ten
bedrae van R1.3 miljoen te Bloemfontein, het Mnr van Niekerk
tereg
daarop gewys dat Verweerder in wese, gegewe sy werkswyse met die
trusts, oor drie huise in Vryburg beskik.  Verweerder
en Mev
R[...] woon in ‘n luukse woning, welke verweerder getuig het hy
wil verkoop en ‘n ander woning van ongeveer
R1.3 miljoen
aankoop.  Teenoor laasgenoemde het eiseres tans geen heenkome
wat huisvesting betref nie en het sy derhalwe beslis
‘n
onderhoudsbehoefte ten opsigte daarvan.  Ek is verdermeer van
oordeel dat sy, net soos verweerder, geregtig is om
die sekuriteit
van eiendomsreg te geniet.
[31]
Eiseres se bede ten opsigte van die huisvesting soos uiteengesit in
die besonderhede van vordering, versoek nie pertinent eiendomsreg
van
sodanige woning nie.  Mnr van Niekerk het egter versoek en aan
die hand gedoen dat indien nodig, hy sal aansoek doen vir
‘n
wysiging van die tersaaklike bede; alternatiewelik kan dit as
alternatiewe regshulp gevorder word.  In die verband
het Mnr de
Bruyn aangedui dat hy in beginsel nie ‘n beswaar het teen die
wysiging van die tersaaklike vordering van Eiseres
in die
besonderhede van vordering nie.  Mnr de Bruyn het egter
beklemtoon dat in ag geneem moet word dat verweerder aangebied
het
dat hy die huis wat in die naam van die P[...] trust geregistreer is,
sal verkoop en uit daardie opbrengs ‘n deposito
betaal op ‘n
gepaste woning vir eiseres, waarna hy dan sal voortgaan om die
paaiemente te betaal totdat sy ‘n polisuitbetaling
ontvang,
waarna sy verantwoordelik sal wees vir die betaling van die res van
die koopsom.
[32]
Ek stem egter nie saam met Mnr de Bruyn se betoog dat dit ‘n
billike aanbod onder die omstandighede is nie.  Wanneer
die
vereiste van gelykheid en regverdigheid in ag geneem word, is ek in
die uitoefening van my diskresie van oordeel dat sy geregtig
is op
eiendomsreg van ‘n eiendom van min of meer dieselfde waarde as
die eiendom wat verweerder voornemens is om aan te koop
nadat hy sy
huidige huis verkoop het.
KOSTE:
[33]
Mnr van Niekerk het aan die hand gedoen dat indien eiseres suksesvol
is met haar vordering vir onderhoud, sy reeds geregtig
is op koste
van die geding.  Hoewel daar getuienis rondom sekere
onderhandelinge was waartydens verweerder sekere aanbiedinge
sou
gemaak het, is die detail daarvan nie tot my kennis nie en kan ek dit
dus nie in ag neem nie.  Mnr de Bruyn het tydens
sy betoog van
meet af aan toegegee dat indien ‘n onderhoudsbevel toegestaan
word, eiseres geag moet word die suksesvolle
party te wees en behoort
verweerder onder sodanige omstandighede gelas te word om die koste
van die geding te betaal.  Ek
stem ook hiermee saam.  Mnr
van Niekerk het verder versoek dat die koste van die deskundige
getuie spesifiek ook gespesifiseer
en ingesluit word in sodanige
kostebevel.
BEVEL:
[34] Gevolglik word
die volgende bevel gemaak:
1.
`n Bevel van egskeiding
2.
Verweerder word gelas om onderhoud aan
eiseres te betaal en te verskaf op die volgende wyses en terme:
2.1
Maandelikse onderhoud in die bedrag van
R25 000.00 per maand, betaalbaar vanaf  30 Mei 2014 en
daarna voor of op die laaste
dag van elke daaropvolgende maand, welke
onderhoudsverpligting sal voortduur tot eiseres se dood, hertroue of
samewoning met `n
ander man, welke ookal eerste mag plaasvind, waarna
die verpligting verval
2.2
Dat verweerder aanspreeklik sal wees vir die betaling van eiseres se
redelike mediese-, tandheelkundige-,  oogkundige-,

hospitalisasie- en aptekerskoste, welke onderhoudsverpligting sal
voortduur tot eisers se dood,  hertroue of samewoning met
`n
ander man, welke ookal eerste mag plaasvind, waarna die verpligting
verval.
2.3
Dat verweerder gelas word om op aanvraag
deur of namens eiseres die spesifieke bedrag geld beskikbaar stel ten
einde `n spesifiek
geïdentifiseerde en bepaalde woning van haar
keuse teen `n vasgestelde koopprys vir en in die naam van eiseres aan
te koop
as haar uitsluitlike eiendom tot `n maksimum koste van
R1 100 000.00 (een miljoen eenhonderd duisend rand), welke
bedrag
hereregte (indien enige) en oordragskoste ten opsigte van die
eiendom insluit.
4.
Verweerder word gelas om die koste van die
geding te betaal, wat insluit die kwalifiserende fooie van die
deskundige getuie van
eiseres, Me. S. van Jaarsveld, ten opsigte van
die konsultasie(s) met eiseres, die voorbereiding van haar verslag en
haar hofverskyning.
_____________
C. VAN ZYL, R
Namens
die Eiseres: Mnr van Niekerk SC
In
opdrag van:
Honey
Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Namens
die Respondent: Adv J P de Bruyn SC
In
opdrag van:
Schoeman
Maree Ing.
BLOEMFONTEIN