About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2014
>>
[2014] ZAFSHC 45
|
|
Prinsloo v Road Accident Fund (904/2006) [2014] ZAFSHC 45 (27 March 2014)
IN
DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA
VRYSTAATSE
AFDELING, BLOEMFONTEIN
Saak
Nr. : 904/2006
In
die saak tussen:-
HC
PRINSLOO
..................................................................................................
Eiser
en
PADONGELUKKEFONDS
..................................................................
Verweerder
AANGEHOOR:
20 FEBRUARIE 2014
UITSPRAAK
DEUR:
C. REINDERS, WnR
GELEWER
OP:
27 MAART 2014
[1]
Hierdie aksie spruit voort uit ‘n insident op 21 April 2001
waartydens die Eiser as voetganger beseer is toe hy deur ‘n
motor getref is (hierna genoem “die insident”). Die
Verweerder as statutêre versekeraar in terme van die
Padongelukkefondswet
56 van 1996 word aangespreek vir skade weens die
liggaamlike beserings wat Eiser opgedoen het as gevolg van die
voormelde insident.
[2]
Die meriete is bereg op ‘n persentasie van 80/20 ten gunste van
die Eiser. Met die aanvang van die verhoor ter beregting
van
die kwantum is ek meegedeel dat ‘n ooreenkoms tussen die partye
bereik is met betrekking tot paragraaf 6 van die Eiser
se Gewysigde
Besonderhede van Vordering, en wel as volg:
1.
Reeds gelede
mediese uitgawes R 114 541,23
2.
Algemene Skade
R 350 000,00
3.
‘
n
Onderneming deur die verweerder in terme van art 17(4)(a) van Wet 56
van 1996 vir die Eiser se toekomstige mediese uitgawes.
[3]
Die enigste oorblywende hoofde van skade wat deur my bereg moet word
is derhalwe die Eiser se eis vir sy verlies aan verdienste
(soos
verwoord in paragraaf 6), beide vir reeds gelede asook toekomstige
skade. ‘n Bundel dokumente getiteld “Bundel
vir Hof”
is aan my opgehandig en gemerk as Bewysstuk “A”. Twee
verdere dokumente is opgehandig en onderskeidelik
Bewysstuk “B”
en “C” gemerk. Namens die Eiser het hyself en mnr Pieter
Cohen (Cohen), ‘n vorige werknemer
van die Eiser, getuig. Die
Verweerder het geen getuies geroep nie.
[4]
Soos vermeld in par [3] hierbo het die Eiser gedagvaar vir ‘n
verlies aan verdienste (loss of income). Voor my is egter
deurentyd
getuienis aangebied en submissies gemaak deur beide partye waartydens
die terme verlies aan verdienste en verlies aan
verdienvermoë
(loss of earning capacity) afwisselend gebruik is. Mnr Berry namens
die Verweerder het deeglike en omvattende
hoofde van betoog
opgehandig waarin hy deurentyd gebruik gemaak het van die term
verlies aan verdienvermoë. Prof Ebben van
Zyl,
bedryfsielkundige, het ‘n volledige verslag uitgebring en blyk
die volgende voorts uit die gesamentlike notule van die
partye se
deskundiges: dat dit nie in geskil is dat die Eiser as gevolg van die
beserings wat hy opgedoen het sekere fisiese take
nie meer kan
uitvoer nie en dat dit gemeensaak is dat die Eiser weens sy fisies
beperkings ‘n plaasbestuurder aangestel het
om hom by te staan
sedert Maart 2002 (met n basiese salaris en byvoordele wat insluit
gratis behuising, water en elektrisiteit
en telefoongebruik
(“byvoordele”), en dat die Eiser derhalwe vergoed moet
word vanaf 2002 tot en met 65-jarige ouderdom
vir die plaasbestuurder
se aanstelling indien ‘n verlies aan inkomste bewys sou word.
Die deskundiges kom tot die volgende
slotsom:
“
We
agree that mr Prinsloo has suffered various losses such as his loss
of earning capacity stated above.”
[5]
Met verwysing na
Rudman v Road
Accident Fund
2003 (2) HHA par [10]
laat Blignaut J in
Heese obo Peters v
Road Accident Fund
2012 (6) SA 496
(WCC) par [61] hom as volg uit :
“
It
is now firmly established that a claim sometimes described as one for
the loss of earnings is in fact a claim for the loss of
the
claimant’s earning capacity, which is an asset in his estate.”
[6]
Ek is derhalwe tevrede dat die aard van die Eiser se eis wat deur my
bereg moet word ‘n eis is vir sy verlies aan reeds
gelede
verdienste en toekomstige verdienvermoë. Hierdie skade wat
gely is en sal word deur die Eiser as direkte gevolg
van sy beserings
tydens die insident, word deur die bedryfsielkundiges in monetêre
waarde omgesit as die uitgawe ten opsigte
van die aanstel van ‘n
plaasbestuurder.
[7]
Ten tyde van die opdoen van die beserings soos bevestig deur die
ortopediese chirurg Dr JJ Fourie, het die Eiser ‘n vee-
en
eierboerdery bedryf, welke hy tans steeds doen. Dr Fourie se
regsmediese verslag is onbetwis en blyk dit dat Eiser beserings
opgedoen het aan sy linkerknie, -enkel en –voet,
blaasbeserings, asook ‘n ernstige pelvisfraktuur wat hom met ‘n
wanbelyning en verkorting van sy regter onderste ledemaat gelaat het.
[8]
Eiser het getuig dat hy weens die beserings wat hy opgedoen het nie
meer kan perdry, hardloop, op ongelyke terreine beweeg nie,
swaar
voorwerpe optel of vooroor kan buk nie. Dit bring mee dat hy nie meer
fisiese take van die boerdery kon behartig soos voor
die insident
nie. Hy kon (en kan steeds) onder meer nie plaasimplemente diens
(sweiswerk, herstel van windpompe, draadhekke), voertuie
herstel
(omruil van wiele, enjins), skape hanteer (dosering, inenting) of die
hoenderbesigheid se fisiese hantering (loop op ongelyke
hoenderhokvloere, op hurke sit, sweiswerke en dies meer) behartig
nie.
[9]
Hoewel sy vader al “afgetree” het uit die boerderybedryf,
het hy hom (die Eiser) aanvanklik na die insident te hulp
gesnel met
hierdie fisiese take tot met sy afsterwe in November 2001. Op 18
Maart 2002 het Eiser ‘n plaasbestuurder, Cohen,
aangestel om
fisiese take op die plaas te verrig. Cohen was sy “hande en
voete” op die plaas en in sy diens tot 21
Oktober 2011. Vanaf 1
November 2012 het me Michelle Lemmer (Lemmer) die funksie van
plaasbestuurder gehad (met gebruik van ‘n
bakkie en
gratis brandstof, maar sonder die byvoordele), terwyl Kobus Fourie
(Fourie) as sodanig in diens geneem word op
1 Desember 2012 tot
huidiglik.
[10]
Pieter Cohen getuig dat hy aangestel was as plaasbestuurder sedert 31
Oktober 2002 tot 27 Oktober 2011. Hy bevestig dat die
bedrae, soos
uiteengesit in Bewysstuk “A”, aan hom betaal is as
salaris en dat hy ook byvoordele ontvang het. Hy beraam
laasgenoemde
konserwatief op sowat R2 500 per maand, en is dit ook die bedrag
wat deur die aktuaris gebruik is vir berekeninge.
[11]
Albei getuies het my beïndruk as eerlike getuies en het ek geen
rede om hul getuienis in twyfel te trek nie.
[12]
Ten tyde van die insident was die Eiser, sy vader en sy broer lede
van die HT Prinsloo en Seun Beslote Korporasie (BK). Na
die Eiser se
vader se afsterwe aan die einde van daardie jaar het die Eiser en sy
broer elkeen ‘n vyftig persent ledebelang
gehad in die
voormelde BK wat Cohen se salaris betaal het. Sedert 13 Junie 2003 is
die Eiser egter die enigste lid van Hennie Prinsloo
Boerdery BK (ook
bekend as Helpmekaar Boerdery) wat Cohen se salaris vanaf 1 Julie
2003 betaal, asook die opvolgende plaasbestuurders
se salarisse.
[13]
Eiser het getuig dat die rede waarom hy die boerdery as ‘n BK
bedryf, is op finansiële advies dat die BK ‘n
belastingkorting kan kry weens registrasie as ‘n
kleinsakeonderneming en verdermeer die gunstige belastingkoers van
30%.
Voorts hou dit die voordeel in van kontinuïteit. Hy
alleen beskik oor die BK se bates. Die salaris wat aan die
plaasbestuurder moet betaal word verminder die totale wins van die
BK. Hy gee egter toe dat die bedrag wat betaal moet word ten
opsigte
van die plaasbestuuder, nie noodwendig as winsdeling aan hom
uitgekeer sou word nie, maar dat hy dit kon herinvesteer as
kapitaal-
of bedryfsuitgawes van die BK. Aangesien Eiser die enigste lid is van
die BK maak dit geen verskil of die plaasbestuurder
deur homself of
die BK betaal word nie.
[14]
Dit is gevestigde reg dat daar in ‘n eis om ‘n verlies
aan verdienvermoë, ‘n ondersoek gedoen word na
die vraag
of die Eiser se vermoë om ‘n inkomste te verdien, welke
beskou word as deel van sy boedel, nadelig geraak
is
deurdat
sy boedel verminder het
en, indien wel,
of hy geregtig is op vergoeding tot die mate waartoe sy boedel
(patrimony) verklein is, soos bevestig in
Commercial
Union Assurance Co v Stanley
1973(1) SA 699 (A) op 705 A - C;
Santam
Versekerings-maatskappy Bpk v Beyleveldt
1973 (2) SA 146
(A) op 150 B - D,
Dippenaar
v Shield Insurance Co Ltd
1979 (2)
SA 904
(A) 917B - D;
Rudman
supra
op
241F - G.
[15]
Dat die Eiser as gevolg van die beserings wat hy opgedoen het, nie
meer in staat is om sekere take op sy plaas te verrig nie,
is gemene
saak. Dat hy gevolglik van die hulp van ‘n plaasbestuurder
gebruik moet maak, is ook nie in geskil nie. Trouens,
die verlies aan
verdienste wat die Eiser gely het en verliese wat hy gaan ly in die
toekoms, word deur die deskundiges in monetêre
waarde omgesit
as die vergoedingspakket wat aan die plaasbestuurder betaal moet word
vir sy dienste. (
Blyth v Van den
Heever
1980 (1) SA 191
Corbett AR
op 226 F)
[16]
Die getuienis moet egter verder gaan en aantoon dat hierdie verlies
aan verdienvermoë van die Eiser ‘n verlies daargestel
het
wat sy boedel verklein het en gaan verklein. Mnr Berry namens die
Verweerder, het die Eiser verkwalik daarvoor dat hy nie in
staat was
om ‘n persentasie te kon koppel aan die hoeveelheid van die
fisiese werk wat Cohen oorgeneem het nie, maar staan
dit vas dat die
Eiser nie meer in staat is om fisiese arbeid te verrig na sy
beserings nie en blyk dit dat die totale hoenderboerdery
se fisiese
take deur die plaasbestuurder verrig moet word. Die bemarking en
aflewering word deur sy vrou en ‘n kantoordame
gedoen. Die
minimale bestuursfunksie (Eiser het aangedui dat sy boerdery sodanig
klein is dat dit nie die aanstel van ander hulp
buiten die
plaasbestuurder regverdig nie) van die boerdery word deur die Eiser
hanteer.
[17]
Dit is gemeensaak dat die plaasbestuurder se salarispakket nog altyd
deur ‘n beslote korporasie betaal is. Die vraag
is derhalwe of
hierdie bedrag noodwendigerwys en outomaties die verlies is van die
Eiser. Die totale vergoedingspakket van
die plaasbestuurder
stel ‘n werklike geldelike verlies (actual pecuniary loss)
daar.
In
Santam
Versekeringsmaatskappy Bpk
supra
is by monde van Rumpff AR as volg gestel op 150 B - D:
“
In
‘n saak soos die onderhawige word daar namens die benadeelde
skadevergoeding geëis en skade beteken die verskil tussen
die
vermoënsposisie van die benadeelde voor die onregmatige daad en
daarna.”
[18]
Mnr Berry het aangevoer dat die verlies wat gely is die van die BK,
en nie die Eiser se verlies is nie. Hy het swaar gesteun
op
Rudman
supra
waar
die Hoogste Hof van Appèl die bevel gehandhaaf het van ‘n
laer hof waarin die Eiser se eis vir n verlies aan
verdienvermoë
afgewys is. Die afsonderlikheid van die maatskappy as regsentiteit en
die Eiser se boedel is ook beklemtoon.
Die Hoogste Hof van Appèl
het egter by monde van Jones AR as volg geartikuleer in par [13]:
“
For
present purposes I am prepared to accept the proposition (without
pronouncing finally upon it) that in appropriate circumstances
a
farmer in Rudman’s position, who operates through a “family
company” may be able to proof and quantify his
personal loss in
a delictual claim with reference to the loss of income suffered by
the company, provided that he does not fall
into the trap of
regarding the loss to the company as automatically and necessarily
equivalent to his personal loss.”
[19]
Mnr Steenkamp, namens die Eiser, het argumenteer dat
Rudman
te onderskei is van die feite
in casu
.
Hoewel Rudman ‘n boer was, was hy ook ‘n jagter en
nie
die enigste direkteur of aandeelhouer in die maatskappy waarvan hy
die besturende direkteur was nie
. Dit
was ‘n familiebesigheid waarvan ‘n trust met Rudman self,
sy vrou, twee seuns, prokureur en boekhouer as trustees
en
begunstigdes, die leeueaandeel aandeelhouding in die maatskappy gehad
het. Die eis was vir verlies aan verdienste en toekomstige
verdienvermoë spesifiek weens ‘n vermindering in die
inkomste wat gegeneer was. Verdermeer was hy nie in staat om aan
te
toon dat die vermindering sy verdienvermoë waarvoor hy gedagvaar
het, neergekom het op ‘n verlies vir homself deurdat
sy eie
boedel (patrimony) verarm het nie. Rudman kon steeds voortgaan om sy
magtige ryk uit te brei.
[20]
Mnr Berry het voorts geargumenteer dat die Hoogste Hof van Appèl
in
Raath v Nel
2012 (5) SA 273
HHA die beginsels in
Rudman
supra
uitgebrei het na trusts en bevind het dat die verlies gely deur ‘n
trust nie noodwendig ‘n verlies vir die Eiser daarstel
nie.
Nel, ‘n sakeman wat veral in die motorhandel besighede besit
het, het ‘n narkotiseur gedagvaar vir ‘n mislukte
mediese
prosedure wat hom met fisiese en psigiese beperkinge gelaat het. Nel
se eis was vir die verlies aan inkomste wat
sy maatskappy, Koos Nel
Auto, gely het. Ten tyde van die mislukte mediese prosedure was Nel
die enigste aandeelhouer van Koos Nel
Auto, maar het hy net minder as
‘n jaar later sy aandeelhouding en leningsrekening in hierdie
maatskappy sowel as al sy ander
besighede, aan die Koos Nel Trust
verkoop. Hierdie familietrust het bestaan uit Nel, sy vrou (en na
haar oorlye sy dogter) en sy
ouditeur. Nel was nie ‘n
kapitaalbegunstigde nie maar na die diskresie van die trustees wel ‘n
inkomstebegunstigde.
Die argument deur Nel se regsverteenwoordiger
dat die verlies gely deur Nel se persoonlike boedel bestaan het uit
sy verlies om
met ‘n bate in sy boedel te handel (naamlik die
reg om te handel met geld aan homself, of sy kleinkinders as
kapitaalbegunstigdes),
is verwerp. Die hof het voorts onderskei
tussen die periode voor en na die oprigting van die trust, en bevind
dat Nel wel kon aantoon
dat hy ‘n persoonlike verlies gely het
in die tydperk
voor
die trust se totstandkoming deurdat sy leningsrekening in die trust
meer werd sou wees indien die Koos Nel Auto, die maatskappy
waarvan
Nel die enigste aandeelhouer was
, nie
verlies gely het as gevolg van die mislukte mediese prosedure nie.
Dit is heeltemal te begrype dat Nel nie kon handel met
die trust se
bates nie in die lig daarvan dat hy deur wetgewing en die gemene reg
verbied word. (
Raath
supra
op
279 par [14])
[21]
Die eiser moet bewys sy boedel is nadelig geraak. Mnr Berry het
toegegee dat die Eiser se verdienvermoë beswaar
is, maar was van
oordeel dat die Eiser se boedel nie verklein is nie. Volgens hom kon
die Eiser nie enige verlies aantoon nie omdat
hy steeds maandeliks ‘n
ledesalaris (trekking) gevorder het ten spyte van sy fisiese
beperkinge na die insident. Mnr Berry
het argumenteer dat die Eiser
se inkomste na die insident nie verminder het nie, maar inteendeel
jaarliks verhoog het. Hierdie
submissie is egter nie heeltemal korrek
nie. Uit die finansiële state soos vervat in Bewysstuk “B”
blyk dit dat
Eiser se jaarlikse ledesalaris gefluktueer het.
2001:
R195 362
;
2002:
R274 663;
2003:
R102 059;
2004:
R 132 791;
2005:
R109 278;
2006:
R203 052;
2007:
R 314 927;
2008:
R 319 517;
2009:
R 230 722;
2010:
R 134 000;
2011:
R 130 769;
2012:
R 130 422.
In
die lig van ekonomiese invloede is hierdie fluktuasie verstaanbaar.
Die Eiser het getuig dat die ledesalaris wat hy trek
uit die BK
aangewend word vir persoonlike uitgawes wat gedek moet word.
[22]
Mnr Steenkamp het, myns insiens heeltemal korrek, argumenteer dat
Eiser se inkomste bestaan uit ‘n netto salaris en wins,
en dat
dít wat betaal moet word aan die plaasbestuurder, minder is
wat in sy beursie beland in die lig daarvan dat hy die
enigste lid is
van die BK. Soos wat hy dit gestel het, dit bly uiteindelik die Eiser
wat moet “pa staan” vir hierdie
addisionele uitgawe. Dit
is gemeensaak dat die boerdery Eiser se enigste bron van inkomste is.
[23]
Ek is van oordeel dat hierdie geval ‘n voorbeeld is van gepaste
omstandighede waar ‘n Eiser wel kan aantoon dat
die verlies wat
deur die BK gely is, ‘n verlies vir sy persoonlike boedel is.
Die boerdery wat bedryf word in die Hennie
Prinsloo Boerdery Bk, is
nie ‘n familiebesigheid, hetsy ‘n BK, maatskappy of
trust, waarin enigiemand buiten Eiser
self ‘n belang het nie.
Daar is derhalwe inderdaad ‘n direkte verband tussen skade wat
die BK ly en skade wat Eiser
ly.
Die
salaris wat aan die plaasbestuurder betaal moet word asook enige
byvoordele, is ‘n bedrag wat die Eiser minder kry as
wat hy sou
gekry het indien die aanstel van ‘n plaasbestuurder nie nodig
was as gevolg van die insident nie. Soos wat dit
gestel word in
Otto
v Road Accident Fund
[2004] 2 All
SA 328
(W):
“
To
me this case seems to be stronger than that of a person who operates
through a family company in as much as for practical purposes
he is
the beneficial owner of the company’s property which may truly
be said to be his alter ego. There would have been no
difficulty in
the way of his recovering damages sustained by the business had Otto
acquired it in his own name. Why therefore should
it make a
difference that he thought it fit instead to adopt the expedient of
acquiring the business in the name of a company?
The recognition by
the law of a company as a distinct legal entity with its own
personality came about for economic and commercial
reasons. To
disentitle the Plaintiff from compensation on dogmatic grounds would
be legalistic in the extreme.”
[24]
Die Eiser dra die bewyslas om die bedrag van sy skade aan te toon en
sal enige onsekerhede hieromtrent tot sy nadeel en nie
tot dié
van die Verweerder wees nie.
[25]
Mnr Berry het argumenteer dat die eiser sy eis moet kwantifiseer en
dat Eiser nie hiermee suksesvol was nie. Met die uitsondering
van
enkele aspekte wat ek weldra sal aanspreek, is ek egter tevrede dat
die Eiser wel sy verlies kon kwantifiseer. Eiser het toegegee
dat hy
wel ‘n salaris ontvang het tydens die tydperk wat hy na die
insident herstel het, en moet die bedrag van R 64 340,00
derhalwe afgetrek word by die somtotaal van historiese skade. Wat
reeds gelede verlies betref het die aktuaris mnr IW Morris die
salarisse betaal aan die plaasbestuurders plus byvoordele van R
2 500,00 gebruik as basis vir sy berekeninge. Ek het reeds
aangedui dat ek hierdie kwantifisering van die byvoordele aanvaar.
Die salarisse was in ‘n handgeskrewe loonregister aangeteken
en
het die Eiser data verkry van die sogenaamde “Africlock”
inkloksisteem. Wat Cohen se salaris betref blyk dit dat
vir die
tydperk vanaf sy indiensneming totdat Eiser sy eie BK gestig het, die
HT Prinsloo en Seun BK (met Eiser en sy broer as
lede) Cohen se
salaris betaal het. Hierdie bedrag beloop R42 798,07, en in die
lig van par [23] hierbo trek ek dit tesame
met die byvoordeel van
R2 500,00 per maand in totaliteit af van Cohen se totale salaris
van R 513 383,77 (Bewysstuk “A”).
Lemmer se salaris
word bereken op R7000,00 per maand (vanaf November 2011 tot November
2012, dus R84 000,00), maar was die
totale bedrag aan haar
betaal inderdaad R 58 338,96 (Bewysstuk “A”) en moet
hierdie verskil in berekening gebring
word. Lemmer se byvoordele het
ook verskil van die ander twee plaasbestuurders en word dit deur my
in ag geneem wanneer ek berekeninge
maak. Fourie se salaris van R
68 617,99 is onbetwis (Bewysstuk “A”).
[26]
Mnr Steenkamp het toegegee dat die werklike verlies gely deur die
Eiser “iewers lê tussen die aktuaris se
berekeninge
en die bedrae soos hierbo vermeld.” Wat toekomstige
verlies betref is ek tevrede dat hierdie bedrag aanvaar
kan word en
is daar alreeds vir gebeurlikhede (contingencies) voorsiening gemaak.
[27]
Dit is n onbenydenswaardige taak om ‘n juiste berekening te
maak van die skade wat Eiser gely het, dog onthef dit my
nie van die
verpligting wat hieromtrent op my rus nie. Hoewel dit die ideaal is
om ‘n wiskundige berekening te maak in plaas
van ‘n
afgeronde skatting, (
Southern
Insurance Association Ltd v Bailey NO
1984 (1) SA 98
(A) op 114A) het ek gepoog om so na as moontlik aan
die aktuaris se berekeninge (verslag gedateer 18 Februarie 2014,
aftreeouderdom
65) te bly, inaggenome die aftrekkings soos hierbo na
verwys, en is die afgeronde berekening waartoe ek kom as volg:
Reeds
gelede verlies: R 530 000,00
Toekomstige
verlies: R 625 890,00
[28]
Wat koste betref het mnr Berry toegegee dat die Eiser grootliks
suksesvol was met sy eis, maar het aangevoer dat die Verweerder
op
die dag van die verhoor eers die kwantum van sy skade gewysig het en
dat die reeds gelede mediese uitgawes insgelyks op die
dag van die
verhoor geskik is. Ek is egter tevrede dat die Eiser substansieel
suksesvol was en sien geen rede om af te wyk van
die reël dat
koste die geding behoort te volg nie.
[29]
Gevolglik word die volgende bevele verleen:
1.
Die Verweerder word gelas om 80% van die
volgende bedrae te betaal:
1.1
Eiser se reeds gelede mediese uitgawes ten
bedrae van R 114 541,23.
1.2
Algemene skade ten bedrae van R 350 000,00.
1.3
Reeds gelede en toekomstige verlies ten
bedrae van R 1 155 890,00.
2.
Rente op die voormelde bedrae teen 15,5%
per jaar bereken vanaf datum van vonnis indien betaling nie binne 14
dae geskied nie.
3.
Die Verweerder word gelas om aan Eiser ‘n
sertifikaat van onderneming in terme van artikel 17(4) van die
Padongelukkefondswet
56 van 1996 te verskaf ooreenkomstig die
Verweerder se onderneming om 80% van alle toekomstige mediese- en
hospitalisasiekoste,
soos bedoel in die betrokke artikel, te dek.
4.
Koste van die geding, welke koste sal
insluit die koste van die deskundiges Prof EE van Zyl, Dr HJ Cilliers
en Mnr IW Morris.
C. REINDERS, WnR
Namens
Eiser: Adv Steenkamp
In opdrag van:
Symington
& De Kok
BLOEMFONTEIN
Namens
Verweerder: Adv Berry
In
opdrag van:
Webbers
BLOEMFONTEIN