About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2014
>>
[2014] ZAFSHC 44
|
|
Farmsecure Livestock (Edms) Bpk v Matsepe N.O. and Others, In Re; Farmsecure Livestock (Edms) Bpk v Meester Van Die Hoë Hof and Others (3338/2013) [2014] ZAFSHC 44 (27 March 2014)
IN
DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA
VRYSTAATSE
AFDELING, BLOEMFONTEIN
Saaknr.
: 3338/2013
In die
saak tussen:-
FARMSECURE
LIVESTOCK (EDMS)
BPK
............................................................
Applikant
en
TSIU
VINCENT MATSEPE
N.O
................................................................
Eerste
Respondent
RUWAYNE
ELRICH SMITH
N.O
............................................................
Tweede
Respondent
SIMON
MALEBO ROMPOPORO
N.O
.....................................................
Derde Respondent
BRIAN
ST CLAIR COOPER
N.O
...............................................................
Vierde
Respondent
MEESTER
VAN DIE HOë
HOF,
...................................................................
Vyfde
Respondent
BLOEMFONTEIN
ABSA
BANK
BEPERK
.................................................................................
Sesde
Respondent
Saaknr.:
3818/2013
In
die saak tussen:-
FARMSECURE
LIVESTOCK (EDMS)
BPK
...........................................................
Applikant
en
MEESTER
VAN DIE HOë
HOF
....................................................................
Eerste
Respondent
TSIU
VINCENT MATSEPE
N.O
...............................................................
Tweede Respondent
RUWAYNE
ELRICH SMITH
N.O
..............................................................
Derde Respondent
SIMON
MALEBO ROMPOPORO
N.O
.....................................................
Vierde Respondent
BRIAN
ST CLAIR COOPER
N.O
................................................................
Vyfde Respondent
ABSA
BANK
BEPERK
....................................................................................
Sesde
Respondent
AANGEHOOR
OP:
13 MAART 2014
UITSPRAAK
DEUR:
VAN DER MERWE, R
GELEWER
OP:
27 MAART 2014
[1]
Bogenoemde twee aansoeke is by ooreenkoms gelyktydig deur my
aangehoor en hierdie uitspraak handel met beide aansoeke.
[2]
Die Bennie van Niekerk Boerdery Trust (die trust) het ‘n
voerkraal bedryf waarin hoofsaaklik beeste afgerond is vir
slagdoeleindes.
Die trust is in hierdie besigheid aanvanklik
finansieel bygestaan deur die applikant in beide aansoeke
(Farmsecure) en later deur
die sesde respondent in beide aansoeke
(Absa). Farmsecure het koopkontrakte aangegaan ten opsigte van
beeste wat in die trust
se voerkraal opgeneem en gevoer is.
Farmsecure maak daarop aanspraak dat dit op hierdie wyse eiendomsreg
van die betrokke beeste
verkry het. Nadat die reëling
tussen Farmsecure en die trust beëindig is, het Absa geld aan
die trust geleen en
voorgeskiet ter finansiering van die aankoop van
beeste vir die voerkraal en daardie lenings is verseker deur twee
algemene notariële
verbande ten gunste van Absa oor die roerende
goed van die trust.
[3]
Op 13 Februarie 2012 het Absa in aansoeknr 596/2012 in hierdie hof ‘n
voorlopige bevel tot perfektering van hierdie algemene
notariële
verbande verkry. Gevolglik het die balju beslag gelê op
‘n groot hoeveelheid beeste in die besit
van die trust.
Daar is ‘n relatief klein verskil tussen die partye met
betrekking tot die getal beeste waarop ingevolge
die
perfekteringsbevel beslag gelê is. Volgens Farmsecure was
op 5782 beeste beslag gelê, terwyl die getal volgens
die
respondente 5768 was. Geriefshalwe verwys ek na die beeste
waarop ingevolge die perfekteringsbevel beslag gelê
is, bloot
as die beeste, tensy die samehang anders aandui. Al die beeste
was gebrandmerk met Farmsecure se geregistreerde
brandmerk, alhoewel
sommige ook ander brandmerke gehad het.
[4]
Die trust het die bekragtiging van die bevel
nisi
in aansoeknr 596/2012 teengestaan, soos ook Farmsecure, aan wie
verlof verleen is om tot daardie aansoek toe te tree.
Farmsecure
het in aansoeknr 772/2012 self ook ‘n bevel aangevra
tot die effek dat Absa verbied moet word om te handel met enige
beeste
wat gebrandmerk is met Farmsecure se geregistreerde brandmerk
en waarvan Farmsecure die eienaar is.
[5]
In beide hierdie aansoeke het Farmsecure gesteun op eiendomsreg van
die beeste. Beide aansoeke is aangehoor op 8 Maart
2012.
Op daardie datum het Claasen WnR die bevel
nisi
in aansoeknr 596/2012 bekragtig en Farmsecure se aansoeknr 772/2012
afgewys met koste. Redes vir die bevele in beide aansoek
is
verskaf op 22 Maart 2012. In beide aansoeke het Claasen WnR
bevind dat Farmsecure nie eiendomsreg van die beeste bewys
het nie.
Verlof om teen hierdie bevele te appelleer is deur die verhoorhof
sowel as die Hoogste Hof van Appèl geweier.
[6]
Op 15 Maart 2012 is die boedel van die trust voorlopig gesekwestreer
en op 19 April 2012 is daardie bevel finaal gemaak.
Die
kurators van die insolvente boedel van die trust (die kurators) is
die eerste tot vierde respondente in aansoeknr 3338/2013
en die
tweede tot vyfde respondente in aansoeknr 3818/2013. Die Meester van
hierdie hof is ook ‘n respondent in elkeen van
die aansoeke
tans voor my.
[7]
Dit is gemeensaak dat al die beeste mettertyd geslag of verkoop is en
dat die totale opbrengs van die beeste (die opbrengs)
die bedrag van
ongeveer R32 miljoen beloop. Die opbrengs is tans onder beheer
van die kurators. Die kurators het die
opbrengs in die eerste
likwidasie- en distribusierekening van die boedel van die trust
opgeneem en in die tweede likwidasie- en
distribusierekening die
opbrengs toegewys aan Absa as preferente krediteur op grond van die
algemene notariële verbande.
[8]
Farmsecure het by die Meester beswaar aangeteken teen die tweede
likwidasie- en distribusierekening. Daar was drie gronde van
beswaar. Die eerste beswaar was dat die rekening nie reflekteer
dat die beeste die eiendom van Farmsecure was nie.
Die tweede
beswaar was gegrond daarop dat Farmsecure op grond van ‘n
sessie van vorderingsregte deur die trust aan Farmsecure
geregtig is
op die opbrengs. Die derde beswaar was dat Absa se eis en
notariële verbande nie geldig is nie. Die
Meester het
geeneen van hierdie besware gehandhaaf nie en het vir Farmsecure
aldus in kennis gestel per brief gedateer 12 September
2013.
[9]
Intussen, op 2 Augustus 2013, het Farmsecure in saaknr 3132/2013
aksie teen die kurators ingestel op grond van die
actio
ad exhibendum
(die aksie).
Farmsecure beweer in sy besonderhede van vordering in die aksie dat
dit die eienaar van die beeste was, dat die
kurators die beeste
vervreem het met kennis van Farmsecure se aanspraak daarop, dat die
partye ooreengekom het dat die opbrengs
afsonderlik gehou sal word
hangende bewys deur Farmsecure van eiendomsreg van die beeste en dat
die opbrengs in elk geval ten minste
die waarde van die beeste
verteenwoordig en eis gevolglik betaling van die kurators van die
bedrag van ongeveer R32 miljoen.
In hul verweerskrif het die
kurators onder andere spesiaal gepleit dat die geskilpunt aangaande
die eiendomsreg van die beeste
finaal deur Claasen WnR beslis is in
beide aansoeknrs 596/2012 en 772/2012 en dus
res
judicata
is.
[10]
In die kennisgewing van mosie in aansoeknr 3338/2013 vra Farmsecure
eerstens ‘n bevel wat die Meester hangende finale
beregting van
die aksie verbied om daardie gedeeltes van die tweede likwidasie- en
distribusierekening van die insolvente boedel
van die trust wat
handel met die opbrengs, goed te keur en tweedens ‘n bevel wat
die kurators hangende die finale beregting
van die aksie verbied om
die opbrengs uit te betaal.
[11]
Farmsecure sê dat aansoeknr 3818/2013 aanhangig gemaak is omdat
die Meester sedertdien met Farmsecure se besware teen
die tweede
likwidasie- en distribusierekening van die boedel van die trust
gehandel het. Omdat Farmsecure die houding inneem
(myns insiens
verkeerdelik so) dat die Meester geen beslissing ten aansien van sy
eerste beswaar gemaak het nie, word in hierdie
aansoek eerstens slegs
gevra dat die Meester se beslissings ten aansien van Farmsecure se
tweede en derde besware tersyde gestel
word. Tweedens word
gevra dat verdere oorweging van hierdie twee besware deur die Meester
oorgehou word tot finale afhandeling
van die aksie. Derdens
word in hierdie aansoek ook ‘n bevel gevra wat die kurators
hangende finale beregting van die
aksie verbied om met die opbrengs
en rente daarop te handel.
[12]
Alhoewel die eerste gedeelte van die kennisgewing van mosie in
aansoeknr 3818/2013, waarin tersydestelling van die Meester
se
beslissings aangevra word, in finale vorm gegiet is, het die advokaat
vir Farmsecure tydens argument dit duidelik gemaak dat
geen finale
bevel aangevra word nie, maar slegs tussentydse regshulp hangende
finale beregting van die aksie. Daar is goeie
redes vir die
standpunt dat Farmsecure nie ‘n finale bevel kan verkry
ingevolge waarvan die Meester se beslissings ten opsigte
van
Farmsecure se tweede en derde besware tersyde gestel word nie.
Farmsecure se saak is dat dit tot kennis van die kurators
die eienaar
was van die beeste. Op sy eie saak kan daar dus geen sprake
wees van ‘n eis vir die opbrengs op grond van
sessie nie en,
soos ek aanstons sal aantoon, het Farmsecure geen
locus
standi
om Absa se eis teen die
insolvente boedel van die trust te bevraagteken nie.
[13]
Die regshulp wat voor my aangevra is, kan dus in twee kategorieë
opgedeel word, elk vir tussentydse regshulp hangende
finale beregting
van die aksie. Die eerste kategorie behels ‘n verbod op
die Meester om hangende die aksie te handel
met daardie deel van die
tweede likwidasie- en distribusierekening wat handel met die opbrengs
en met Farmsecure se gemelde twee
besware. Die tweede kategorie
behels ‘n verbod op die kurators om hangende die aksie met die
opbrengs te handel of
dit aan Absa uit te betaal.
[14]
Aangesien tussentydse regshulp aangevra word, is die eerste vraag of
Farmsecure ten aansien van elke of enige kategorie regshulp
‘n
prima facie
reg
aangetoon het, alhoewel onderworpe aan ‘n mate van twyfel
(“open to some doubt”). Die toets hiervoor
is
welbekend en is soos volg gestel in
Simon
NO v Air Operations of Europe AB and Others
[1998] ZASCA 79
;
1999 (1) SA 217
(HHA) op 228G – H:
“
Insofar
as the appellant also sought an interim interdict
pendente
lite
it was incumbent upon him to
establish, as one of the requirements for the relief sought, a
prima
facie
right, even though open to some
doubt (
Webster v Mitchell
1948
(1) SA 1186
(W) at 1189). The accepted test for a
prima
facie
right in the context of an
interim interdict is to take the facts averred by the applicant,
together with such facts set out by
the respondent that are not or
cannot be disputed and to consider whether, having regard to the
inherent probabilities, the applicant
should on those facts obtain
final relief at the trial. The facts set up in contradiction by the
respondent should then be considered
and, if serious doubt is thrown
upon the case of the applicant, he cannot succeed. (
Gool
v Minister of Justice and Another
1955
(2) SA 682
(C) at 688B--F and the numerous cases that have followed
it.)”
[15]
Die eerste kategorie tussentydse regshulp verg in die eerste plek
prima facie
bewys daarvan dat Farmsecure ‘n reg het met betrekking tot die
tweede likwidasie- en distribusierekening van die insolvente
boedel
van die trust. Artikel 20(2) van die Insolvensiewet 24 van 1936
maak dit duidelik dat wat binne ‘n insolvente
boedel val, is
die eiendom van die insolvent op datum van sekwestrasie en die
eiendom wat die insolvent gedurende sekwestrasie
verkry. Beeste
wat op datum van sekwestrasie in besit van die trust was, maar nie
die eiendom was van ‘n ander, val
dus nie in die insolvente
boedel van die trust nie. Sien
Ruskin,
NO v Thiergen
1962 (3) SA 737
(A)
op 345D – E. Omdat Farmsecure sê dat die beeste te
alle tersaaklike tye die eiendom van Farmsecure was, het
Farmsecure
geen reg of aanspraak om te deel in die insolvente boedel van die
trust nie. Farmsecure se eis vir die opbrengs
is nie ontvanklik
in die insolvente boedel nie. Farmsecure se remedie was om
lewering van sy eiendom met die
rei
vindicatio
te eis. Maar omdat die
beeste reeds vervreem is, sou Farmsecure op sy eie saak geregtig wees
op die opbrengs ingevolge ‘n
ooreenkoms, soos beweer, dat dit
afsonderlik gehou sal word hangende bewys van Farmsecure se
eiendomsreg of omdat dit die waarde
van die beeste verteenwoordig
ingevolge die
actio ad exhidendum
.
Op beide grondslae het Farmsecure nie ‘n eis om te deel in die
insolvente boedel nie en het hy geen belang of aanspraak
in die
likwidasie- en distribusierekeninge daarvan nie. Dat dit so is,
word verder duidelik gemaak deur die bepalings van
artikels 36(5) en
36(6) van die Insolvensiewet.
[16]
Kortom, Farmsecure het op sy eie saak geen
locus
standi
om regshulp ten opsigte van die
likwidasie- en distribusierekeninge van die boedel van die trust te
verkry nie. Dit volg
dat ten aansien van die eerste kategorie
tussentydse regshulp Farmsecure nie oor die eerste hekkie van die
bogemelde toets kom
nie.
[17]
Ten aansien van die tweede kategorie regshulp gaan dit in die eerste
plek oor of Farmsecure ‘n
prima
facie
reg op die opbrengs aangetoon
het. Dit kom voor dat Farmsecure in die aksie ten minste die
volgende sal moet aantoon, naamlik
dat die kwessie van eiendomsreg
van die beeste nie
res judicata
is nie, dat Farmsecure eiendomsreg van die beeste verkry het kragtens
die koopkontrakte waarop dit steun, dat sodanige beeste in
besit van
die trust was ten tye van beslaglegging en dat die opbrengs kragtens
ooreenkoms of andersins ‘n spesiaal geoormerkte
fonds is waarop
Farmsecure op grond van bewys van eiendomsreg van die beeste
aanspraak kan maak. Indien Farmsecure se saak
op enige van
hierdie aspekte onderworpe is aan ernstige twyfel, kan die tweede
kategorie regshulp nie toegestaan word nie.
[18]
Aangesien ‘n interim interdik tans ter sprake is, is dit
aangewese dat ek my so min as moontlik uitlaat oor bogemelde
geskilpunte. Ek behandel gevolglik slegs die kwessie wat ek as
beslissend van die tweede kategorie regshulp beskou.
[19]
Dit blyk uit die getuienis dat Farmsecure en die trust op 21 Junie
2010 ‘n oorkoepelende ooreenkoms (die boederyooreenkoms)
aangegaan het. Ingevolge hierdie ooreenkoms sou die trust met
fondse deur Farmsecure verskaf, vee namens Farmsecure aankoop
en sou
Farmsecure die eiendomsreg van die vee verkry. Die trust sou
die vee dan namens Farmsecure grootmaak en verkoop, waarna
die
koopprys van die vee plus finansieringskoste en ander koste van
Farmsecure minus die vergoeding van die trust vir die dienste
van die
trust bereken ooreenkomstig ‘n voorgeskrewe formule, aan
Farmsecure betaal sou word. Die boerderyooreenkoms
bepaal ook
dat ten opsigte van die aankoop van vee ‘n koopkontrak in ‘n
voorgeskrewe formaat gebruik sou word.
[20]
Die trust het egter nie namens Farmsecure vee aangekoop nie.
Dit het in eie naam vee aangekoop en in besit geneem en
daarna
koopkontrakte in die voorgeskrewe formaat ten aansien van daardie vee
met Farmsecure aangegaan.
[21]
Farmsecure steun voor my in besonder op 16 koopkontrakte vir die
aankoop van beeste wat so tussen Farmsecure en die trust aangegaan
is. Ingevolge elke koopkontrak verkoop die trust ‘n
spesifieke aantal kalwers van 260 kilogram stuk teen ‘n
vasgestelde koopprys aan Farmsecure. Die totale getal kalwers
kragtens hierdie koopkontrakte aangekoop, beloop 6673.
Klousule
9 van elke koopkontrak bepaal soos volg:
“
Eiendomsreg
in en tot die vee sal op Farmsecure Livestock oorgaan teen betaling
van die koopprys. Indien die verkoper en/of
gemelde
verteenwoordiger ten tye van betaling in besit van die vee is, erken
sodanige besitter dat eiendomsreg aldus oorgaan en
stem in om
voortaan die vee vir en namens Farmsecure Livestock as eienaar te
hou.”
Die
koopkontrakte bepaal verder dat herverkoop van die kalwers sal
geskied nie later nie as 210 dae na datum van ondertekening
van
die koopkontrak.
[22]
Die 16 koopkontrakte is gesluit vanaf 14 April 2011 tot 20 September
2011. Volgens die eisdokumente wat Farmsecure in
die insolvente
boedel ingedien het, het betaling van die koopprys aan die trust
nooit later geskied dan sewe dae na datum van ondertekening
van die
betrokke koopkontrak nie, meestal binne ‘n korter tydperk.
Die koopprys in terme van die koopkontrak gedateer
20 September 2011
is hiervolgens op 21 September 2011 betaal. Dus, indien
eiendomsreg van die betrokke beeste telkens wel
op datum van betaling
van die koopprys oorgegaan het, moes daardie beeste ten minste vanaf
daardie datum in besit van die trust
en die voerkraal gewees het.
[23]
Die oogmerk van ‘n voerkraal is om beeste so vinnig en goedkoop
as moontlik slaggereed te kry en te laat slag.
Beide die
kurators en Absa sê in hul opponerende verklarings dat die
afrondingstydperk in ‘n voerkraal ongeveer 120
dae is.
Hierdie getuienis is nie deur Farmsecure in geskil geplaas nie.
Indien die beeste wat ingevolge die 16 koopkontrakte
aangekoop is, op
13 Februarie 2012 nog in die trust se voerkraal was, sou die beeste
wat laaste aangekoop is ten tye van die perfekteringsbevel
reeds byna
vyf maande in die voerkraal gewees het en al die ander beeste vir
langer tydperke, tot so lank as ongeveer tien maande.
Dit is in
die hoogste mate onwaarskynlik, veral in lig daarvan dat dit ook
onbetwis is dat die trust ongeveer 1200 beeste per maand
bemark het.
Hierby moet in ag geneem word dat Farmsecure na 21 September 2011
geen betaling aan die trust gemaak het nie,
dat die trust vanaf 28
September 2011 aangehou het om beeste vir die voerkraal aan te koop
en dat Absa ter finansiering van daardie
aankope tot 5 Januarie 2012
ongeveer R24 miljoen aan Farmsecure geleen en voorgeskiet het.
In die omstandighede is daar myns
insien ernstige twyfel daaroor of
enige beeste waarvan Farmsecure uit hoofde van die koopkontrakte
eiendomsreg kon verkry het,
teen 13 Februarie 2012 nog in die besit
van die trust was. Vir hierdie rede kan die tweede kategorie regshulp
nie toegestaan word
nie.
[24]
Namens Farmsecure is in die alternatief gevra dat beide aansoeke vir
verhoor of vir mondelinge getuienis verwys word om saam
met die aksie
aangehoor te word. Dit is duidelik dat reël 6(5)(g) aan my
‘n diskresie verleen om sodanige bevele
te maak. Dit is
logieserwys belangrik om by die uitoefening van die diskresie te
oorweeg of die bevel enige praktiese sin
of effek sal hê.
Hierdie vraag moet beoordeel word op die grondslag dat die aksie
slaag. Myns insiens sal dit
sinneloos wees om enige van die
twee aansoeke voor my vir verhoor of mondelinge getuienis te verwys
om saam met die aksie aangehoor
te word. Indien die aksie
slaag, sal Farmsecure kragtens finale bevel onafhanklik van die
insolvente boedel op die opbrengs
geregtig wees en sal daar geen nut
vir enige van die twee kategorieë tussentydse regshulp wees nie.
[25]
Gevolglik word beide aansoeke afgewys met koste, insluitende die
koste van twee advokate.
C.H.G.
VAN DER MERWE, R
Namens die
applikant: Adv W.R.E. Duminy SC
en
D.J. Coetsee
In
opdrag van:
Kramer
Weihmann Joubert Ing
BLOEMFONTEIN
Namens
respondente: Adv F.H. Terblanche SC
en
J.W. Steyn
In
opdrag van:
Rossouws
Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Namens Absa
Bank: Adv J.P. de Bruin SC
en
P.J.T. de Wet
In
opdrag van:
Symington
& De kok
BLOEMFONTEIN