Sentraal-Suid Kooperasie Bpk. v Bessemer Staalkonstruksie (Edms) Bpk. (516/04) [2006] ZASCA 22; [2006] SCA 21 (RSA) (20 March 2006)

60 Reportability
Contract Law

Brief Summary

Contract — Breach of contract — Manufacturer of canola silos liable for direct damages due to defects in silos, but not for consequential damages arising from spoilage of canola seed stored therein — Appellant, a farming cooperative, sought damages from respondent, a steel structure manufacturer, for losses incurred due to alleged defects in silos used for canola storage — Court held that the respondent's warranty only covered the integrity of the silo structures and did not extend to the preservation of the silo contents, thereby limiting liability for consequential damages.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2006
>>
[2006] ZASCA 22
|

|

Sentraal-Suid Kooperasie Bpk. v Bessemer Staalkonstruksie (Edms) Bpk. (516/04) [2006] ZASCA 22; [2006] SCA 21 (RSA) (20 March 2006)

REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN
SUID-AFRIKA
Nie rapporteerbaar nie
Saaknommer : 516 / 04
In die appèl van
SENTRAAL-SUID KOÖPERASIE BEPERK APPELLANT
en
BESSEMER STAALKONSTRUKSIE (EDMS)
BEPERK RESPONDENT
Regbank
: MPATI AP, FARLAM, NUGENT, CONRADIE
en HEHER ARR
Verhoordatum
: 20 en 21 FEBRUARIE 2006
Datum van Uitspraak
: 20 MARCH 2006
SAMEVATTING
Kontrakbreuk. Vervaardiger van canola silo’s
aanspreeklik vir direkte skade weens gebreke in silo’s, maar nie
vir gevolgskade
aan bederf van canolasaad in silo’s te wyte nie.
_________
Neutral citation: This judgment may be referred to
as
Sentraal-Suid Koöperasie Bpk v Bessemer Staalkonstruksie
(Edms) Bpk
[2006] SCA 21 (RSA)
______________________________________________________________________________
U
I T S P R A A K
______________________________________________________________________________
CONRADIE AR
[1] Die appellant (wat met die verlof van Goldstein R voor ons is) is
’n landboukoöperasie wat sake doen in Swellendam en
omliggende
dorpe. Voor die gebeure wat tot hierdie saak aanleiding gegee het,
was ’n belangrike deel van sy bedrywighede die berging
van koring
en gars. Teen 1991 het boere in die appellant se bedieningsgebied
canola begin aanplant. Die canolaplant word gekweek
vir die
herwinning van ’n olieryke tweesaadlobbige saadjie.
[2] Nadat die appellant canolaprodusente ’n tyd lank behulpsaam was
met die lewering van canolasaad aan Cape Oil, ’n onderneming
in
Kaapstad wat olie uit die saad vervaardig, is daar in 1995 deur sy
direksie besluit om ’n eie olievervaardigingsaanleg op die
been te
bring. Vir hierdie doel moes daar bykomstige bergingsfasiliteite
gebou word.
[3] Die respondent is ’n vervaardiger en oprigter van
staalstrukture wat staal silobuise insluit. Sy tender vir die
oprigting van
’n silokompleks is deur die appellant aanvaar en die
silokompleks is mettertyd opgerig. Die appellant vorder
skadevergoeding wat
op sy weergawe uit sekere gebreke in die silo’s
ontstaan. Twee alternatiewe gedingsoorsake word gepleit. In die
hoofeis vorder
die appellant direkte en gevolgskade op grond van
nie-nakoming van ’n uitdruklike waarborgbepaling in sy kontrak met
die respondent.
Die alternatiewe eis is een vir die verhaal van
skadevergoeding, met inbegrip van gevolgskade, op grond van
nie-nakoming van die
regtens inbegrepe waarborg teen verborge gebreke
in die koopgoed. Verreweg die grootste deel van die appellant se
vordering, sowat
R3 400 000, is vir inkomsteverlies as gevolg
van die waardevermindering van die eerste, die 1995/1996 canola-oes,
wat in die
buise sleg geword het. ’n Deel daarvan kon slegs vir
veevoer verkoop word, die res moes weggegooi word.
[4] Regstreekse skade vir herstelwerk en verwante uitgawes weens die
beweerde gebreke, beloop volgens die appellant sowat R500 000.
Aangesien die partye ooreengekom, en die hof
a quo
beveel het,
dat die kwessie van aanspreeklikheid eerste bereg moet word, is die
kwantum van die eise nie nou ter sake nie.
[5] Die silo’s is aangekoop enkel en alleen vir die berging van
canolasaad. In Mei 1995 toe die kontrak vir die oprigting van die
silo’s gesluit is, was canola ’n nuwe produk in Suid-Afrika. Op
daardie stadium is dit onder andere reeds verbou in Australië
en
Kanada, trouens die naam ‘canola’ is ‘n akroniem vir Canada Oil
Low Acidity, ’n ander naam vir raapsaad. Die appellant
se getuienis
by monde van Mnr Johann Pietersen, ’n destydse
assistent-hoofbestuurder produkte en adviesdienste, was dat niemand
by die koöperasie ten tye van die kontraksluiting veel van die
berging daarvan geweet het nie.
[6] Mnr Christiaan Hoogendyk, die besturende direkteur van die
respondent, het tydens ’n vergadering kort voor kontraksluiting
aan
die appellant se verteenwoordigers gesê dat hy nog nooit canola
gesien het nie. Hulle het ’n sakkie canola laat haal
waaruit hy kon
opmerk dat dit klein, swart, vryvloeiende pitjies is. Die kontrak is
dus gesluit deur twee partye wat nie een geweet
het wat die
bergingsvereistes vir canola, in die besonder in ’n plek soos
Swellendam, is nie en boonop elk geweet het dat die ander
nie weet
nie.
[7] Swellendam se klimaat is warm en klam wat veroorsaak dat
oormatige vog en hitte geredelik opbou in die silobuise waarin die
canola
geberg word. Vog en hitte binne-in die buise word veroorsaak
deur die respirasie van die canolasaad, veral in die eerste ses weke
ná inname. Die respirasie gee waterdamp af wat teen die wande
of dak van die buis, of selfs teen koeler materiaal in die buis,
kondenseer en die canola in die silo so vogtig maak dat dit nie meer
vryvloeiend is nie. As die canolasade, deur die groei van swamme
daarop, aan mekaar vaskleef, word koeke of korste gevorm wat by die
lediging van die buis die vrye uitvloei van die canola belemmer
en op
dié wyse onnatuurlike stremming op die stuktuur plaas.
Buitendien begin die sade nou broei in die vogtigheid en hittevorming
word ‘n wesentlike probleem, veral omdat canola teen vyftig grade
celsius reddeloos bederf.
[8] Die enigste manier om die vog- en verhittingsprobleem te voorkom,
is om ’n belugter in elke silo te installeer, ’n waaier
wat lug
deur die silo-inhoud blaas om vogverspreiding in die buisinhoud te
reguleer en die canolasaad koel te hou. ’n Onontbeerlike
hulpmiddel
hierby is moniteringskabels wat in die buise ingelaat word en met
sensors die temperatuur op verskillende dieptes van
die canola meet;
dit gee ’n silo-opsigter die geleentheid om betyds remediërende
stappe te neem as die temperatuur in enige
deel van die buis begin
opbou. Almal weet teen hierdie tyd dat hierdie toerusting in die
eerste plek aangebring behoort te gewees
het en dat canolasilo’s
sonder deurlugters, in Swellendam altans, nie aan hulle doel
beantwoord nie.
[9] Die appellant se standpunt is dat of die respondent nou geweet
het wat die vereistes vir die berging van canola was of nie,
hy
uitdruklik sowèl die integriteit van die silobuise, die
strukture, as die veilige bewaring van canola in die buise gewaarborg
het. Volgens die appellant was die respondent derhalwe verplig om
alles te doen wat vir die nakoming van sy waarborg noodsaaklik
was;
as deurlugters vir die veilige bewaring van die canola gebiedend was,
moes die respondent hulle geinstalleer het. Die waarborg
waarop die
appellant steun, lui soos volg:
‘
Hiermee
bevestig ons dat BESSEMER STAALKONSTRUKSIE (EDMS) BPK alle strukture
wat deur ons opgerig word, waarborg solank dit gebruik
word vir die
doeleindes waarvoor dit ontwerp is.
Graag wys ons daarop dat die silo’s en fondamente deur
raadgewende ingenieurs naamlik Van Wyk en Louw ontwerp word en dat
hulle
die verantwoordelikheid vir die ontwerp teenoor ons dra.’
[10] Die hof
a quo
het die respondent gelyk gegee dat hy
kragtens hierdie waarborg alleen vir die silostrukture
aanspreeklikheid aanvaar het en nie
vir die behoud van die
silo-inhoud nie. As daar na die omringende omstandighede gekyk word,
is ek geneig om saam te stem dat die
waarborg ’n meer beperkte
betekenis dra as wat die appellant daaraan wil gee. Op 1 Junie 1995,
voor die silo’s voltooi is, en
op ’n stadium toe die netelige
kwessie van fondamente vir die silo’s pertinent ter sprake gekom
het, is ’n direksiebesluit
deur die appellant geneem om ‘’n
termyn waarborg vir die buise vir geval insakking sou plaasvind’ te
versoek.
[11] Op 5 Julie 1995, sewe weke ná kontraksluiting, word die
waarborg na aanleiding van hierdie direksiebesluit gegee. Dit
was,
volgens Hoogendyk, bedoel om die appellant se bekommernis met
betrekking tot die doeltreffendheid van die fondamente van die
silo’s
in die onstabiele grondtoestande op die terrein te besweer:
‘
Soos
ek sê die fondamente was op daardie stadium die grootste
probleem toe hulle dit sien maar ek het net gerus gestel dat die
silo’s en die fondamente
doen ons nie met ons eie
berekeninge nie, dit word deur raadgewende ingenieurs ontwerp soos
dit behoort ontwerp te word.’
[12] Die respondent het op geen stadium betwis dat hy vir lekplekke
in die silo’s verantwoordelik was of dat hy vir die swigting
van
die buise aanspreeklik sou wees as hulle nie misbruik word nie.
Trouens, die partye het hierdie aanspreeklikheid van die respondent
deurgaans as vanselfsprekend aanvaar. Hoogendyk het later van tyd toe
daar probleme met die strukture ondervind is, by twee geleenthede
bevestig dat die waarborg geld ten aansien van die gehalte van die
silo’s wat hy verkoop het. Vir my kom dit voor of Hoogendyk
met die
herbevestiging van die waarborg nie meer gedoen het as om die
appellant gerus te stel dat hierdie aanspreeklikheid nie in
gedrang
is nie.
[13] Ten einde die omvang en strekking van die waarborg vas te stel,
is dit belangrik om te sien hoe die partye die waarborg vertolk
het.
Teen die einde van November 1995 het die appellant reeds besef dat
daar probleme met die oorverhitting van ’n massa canola
kan
ontstaan. Omdat silogeriewe teen die begin van Oktober 1995 toe boere
begin aflewer het nog nie gereed was nie, moes die appellant
noodgedwonge canola tydelik in ’n pakhuis berg. Toe dele van
hierdie hoop canola ontstellend warm begin word het, het die
appellant
besef dat gebergde canola deurlug sou moes word. Daar en
dan is besluit om deurlugting in al die silobuise aan te bring om
hierdie
verhittingsprobleem die hoof te bied.
[14] Pietersen het onmiddellik, onder andere by die respondent,
tenders aangevra vir die aanbring van deurlugters en die
gepaardgaande
moniteringstoerusting. Dié van die respondent is
aanvaar. Vergesel van Pietersen, is Hoogendyk na Amerika om ondersoek
te
gaan instel na die mees geskikte belugtingstelsel. Mettertyd is
die gekose deurlugting- en temperatuurmoniteringstelsels aangebring
en is die respondent die ooreengekome prys daarvoor betaal.
[15] Sowat ’n jaar later, in Mei 1997, rig Hoogendyk ’n brief aan
Mnr Swart, die appellant se besturende direkteur, waarin hy
die
volgende stelling maak:
‘
Verder
wil ek u graag daarop wys dat met die aanvang van die Canola kontrak
toe ek die eerste keer met S.S.K. gesels het oor die behoeftes,
is
daar geantwoord op my navraag dat 'n tweede bakkieshyser met
skoonmaker en deurlugting nie nodig is nie. U het my ook 'n sakkie
Canola gegee en gesê dat dit soos water vloei en dat dit nie
teen 'n normale rushoek sal staan met massa lediging en vulling
nie.
Die aanvanklike probleme in die Canolakompleks, toe SSK tog besluit
het om 'n skoonmaker en deurlugtingstelsel in die silo’s
te
installeer het ek aanvaar dat almal nog maar
'n leerkurwe oor die hantering
van Canola deurgaan.’
[16] Die brief is vir kommentaar deur Swart na Pietersen verwys wat
’n skriftelike verslag oor die inhoud daarvan aan hom voorgelê
het. In sy verslag vermeld Pietersen die ‘onvoorsiene probleme met
die opberg van canola’ en voeg daarby ‘[d]it is waar dat
almal
van ons ’n “leerkurwe” met die opberg van canola moet [moes?]
deurgaan en ‘n skoonmaker en deurlugting is later nodig
geag’.
[17] Opvallend afwesig is enige kommentaar wat daarop dui dat
Pietersen die verskaffing van deurlugting as deel van die waarborg
beskou of die versuim om dit te verskaf as kontrakbreuk gesien het.
Trouens, uit wat hy in sy verslag sê is dit duidelik dat
hy met
Hoogendyk saamstem dat altwee van hulle eers later geleer het dat
belugting vir die opberging van canola in Swellendam onontbeerlik
is
en dat hy Hoogendyk nie vir sy destydse gebrek aan kennis verkwalik
nie. Dit is natuurlik korrek, soos die appellant betoog het,
dat ‘n
waarborg wat nie gestand gedoen kan word nie nietemin die gewer
daarvan bind. Dit gaan hier egter nie oor die bindende krag
van die
waarborg nie, maar oor die uitleg daarvan: hoe die respondent dit
bedoel en die appellant dit verstaan het. Die vertolking
van die
waarborg as sou dit beteken dat die respondent onderneem het om toe
te sien dat die inhoud van die silo’s niks oorkom nie,
is een wat
oënskynlik nie in Mei 1997 by die partye opgekom het nie.
[18] Dieselfde oorwegings geld vir die respondent se aanspreeklikheid
vir gevolgskade ingevolge die vervaardiger se versweë
waarborg
teen verborge gebreke. Hierdie is ’n bepaling wat van regsweë
in ’n ooreenkoms inbegryp word as die partye nie
uitdruklik of
stilswyend anders ooreengekom het nie. Soos ek hierbo aangedui het,
is dit uit die optrede van die partye, nadat die
canola van die
1995/96-oes reeds ernstig agteruit gegaan het, duidelik dat hulle nie
bedoel het dat die respondent vir die agteruitgang
aanspreeklik sou
wees nie.
[19] Dit is doenlik om nou te oorweeg of die respondent sy waarborg
met betrekking tot die fisiese integriteit van die silobuise
nagekom
het. Die appellant was ten aansien van verskeie aspekte van hulle
oprigting en funksionering, ontevrede met die silo’s.
Sy saak is
dat agt uit die veertien silo’s foutiewelik van eksentriese eerder
as sentrale inlate voorsien is, dat al die silo’s
gelek het en dat
al die silo’s, behalwe een, op die een of ander tyd en in meerdere
of mindere mate by normale gebruik meegegee
het. Wat die meegee van
die silo’s betref, betoog die respondent dat hulle sterk genoeg
ontwerp en gebou is, maar dat wanbestuur
deur die appellant hulle
laat swig het. Met wanbestuur bedoel die respondent dat daar
toestande in die buise ontwikkel het wat nie
bevorderlik was vir die
integriteit van die strukture nie, en dat die buise oorvul is en
sodoende ’n groter tonnemaat moes akkommodeer
as dit waarvoor hulle
ontwerp is.
[20] Wat betref die skadelike toestande wat as gevolg van die
agteruitgang van die canola in die buise ontwikkel het, stem die
appellant
en die respondent uiteindelik saam dat lekplekke om die
ringbalke van die silo’s nie genoeg water sou binnegelaat het om
noemenswaardig
tot die bederf van die oes by te dra nie, en dat
kondensasie binne-in die silo’s (die natuurlike gevolg van die
respirasie van
die canola) die canola natter gemaak het as wat dit
moes wees en sodoende, in die warm toestande, koek- en korsvorming in
die buise
bevorder het. Dit is ook gemene saak dat hierdie korse (wat
so groot kon word dat hulle ‘n brug van die een wand van die silo
na
die ander vorm) die uitvloei van canola belemmer en sodoende
addisionele spanning op die buise geplaas het.
[21] Die respondent het sonder om teë te stribbel al die silo’s
wat geswig het op sy eie koste herstel. Die koste van hierdie
herstelwerk is dus nie ter sprake nie. Die koste wat wel ter sprake
is, is dié wat deur die appellant aangegaan is om eksentriese
inlate in sekere van die buise aan te pas en verdere verstywers op
vlakke ses en sewe aan te bring om die struktuur van die silo’s
te
versterk.
[22] Buise vier tot sewe en elf tot veertien is van eksentriese
inlate voorsien. Die vermeende probleem met die inlate was dat canola
wat in die gemelde buise gestort is, nie regaf in die buise geval het
nie, maar die buis skeef binnegevloei het sodat die canola,
wat
swaarder was, aan die verste wand gaan lê het, en die kaf en
ander onsuiwerhede geneig was om nader aan die inlaat neer
te sak.
Dit sou dan, volgens die appellant, by lediging van die buis die
uitvloei van die canola versteur en tot swigting van die
buis gelei
het. Die respondent se saak was dat die eksentriese inlate niks met
die swigting of vervorming van die buise te doen gehad
het nie. Ek
dink nie dat bewys is dat die eksentriese stort van die canola tot
die swigting van die buise by die lediging daarvan
bygedra het nie.
Die appellant het egter rede gehad om te glo dat dit die geval was en
het
bona fide
herstelkoste aangegaan om hierdie vermeende
defek reg te stel. Onder die omstandighede behoort die respondent nie
sy vordering ten
aansien hiervan ontneem te word nie.
[23] Die swigting van die buise was volgens die respondent daaraan te
wyte dat hulle te vol gemaak is, dit wil sê tot meer
as
ontwerpkapasiteit gevul is. Ingevolge die kontrak tussen die partye
het die respondent onderneem om aan die appellant te verskaf
‘14
off 9,069x24 Ring elevated silo’s as per OPTION 1A with a total
capacity of 18952m
3
or 12319 tonne based on 650kg/m
3
’.
[24] Elke silo (met ’n kapasiteit van 1 353,7 m
3
) moes
dus kragtens die kontrak 880 ton canola kon berg. Op 28 Junie 1996
skryf die ontwerpingenieur, dr Hennie de Clercq, dat hy
in sy
berekeninge vir die ontwerp van die silo’s aangeneem het dat die
canola (vermoedelik nadat die ligter kafinhoud daarvan in
ag geneem
is) 600 kg/m
3
weeg.
[25] Een van die deskundiges wat oor die waarskynlike redes vir die
swigting van, op een na, al die silo’s getuig het, was professor
G
E Blight. Volgens hom is die digtheid van canola 680 kg/m
3
.
Saamgeperste kaf het ’n digheid van 395 kg/m
3
. Met ’n
kafinhoud van 7% , is die gemiddelde digtheid van die silo-inhoud dus
644 kg/m
3.
Dit is feitlik dieselfde as die 650 kg/m
3
wat die kontrak vermeld maar heelwat meer as dit waarvoor De Clercq
toegelaat het. De Clercq het elke silo ontwerp om 812 ton canola
te
hou, 68 ton minder as die ooreengekome tonnemaat van 880 ton.
[26] Blight stem saam dat 863,7 ton ’n betroubare aanduiding is van
hoeveel canola in ’n buis geberg word as die buisvolindikators
waarmee die silo’s toegerus is, gebruik word. Die buisvolindikator
is ’n elektroniese toestel wat in ’n buis afhang en by die
volmaak daarvan ’n operateur vroegtydig waarsku dat die buis amper
vol is. Die buisvolindikators is egter as gevolg van ’n gebrek
aan
bergplek deur die appellant buite werking gestel (opgebind) sodat die
buise effens voller gemaak kon word. Hulle is nietemin
nie tot bo
volgemaak nie. By wyse van voorbeeld is buis vier tot by die helfte
van die tweede ringband van bo gevul. Dit beteken,
volgens Blight,
dat die bopunt van die canola 536 mm hoër gelê het as wat
die geval by gebruik van ’n buisvolindikator
sou gewees het.
Hierdie bykomstige canola weeg 24 ton, met die gevolg dat 887 ton
geberg is in ’n silo wat volgens kontrak vir
880 ton ontwerp moes
gewees het. Buis vier was dus sewe ton te swaar en ’n halwe meter
te hoog gelaai. Die getuienis is dat buise
voller gemaak is as wat
die geval met werkende buisvolindikators sou wees, maar voller as wat
hierbo beskryf is, is geen een gevul
nie.
[27] Die buisvolindikators is maar net aangebring om te keer dat ‘n
buis wat gevul word nie oorloop nie. Dit was nie bedoel om
‘n buis
teen ineenstorting te beskerm nie. Dit was Pietersen se getuienis en
aanvanklik ook dié van Hoogendyk en weerspieël
myns
insiens die waarskynlikheid. Aanvanklik het Hoogendyk volgehou dat
die oorvolmaak van die silo’s ʼn element van die appellant
se
wanbestuur van die silokompleks was (omdat dit die hoofdoel van die
indikator is om te sorg dat die ontwerpkapasiteit van die
buis nie
oorskry word nie) maar hy het in kruisverhoor toegegee dat die gewig
van bykomstige canola nie ‘heeltemal die kwessie’
was nie. Dit
was kennelik nie ‘heeltemal die kwessie’ nie. Die buise is slegs
met agt ton bo hulle ontwerpkapasiteit gevul en
niemand het aan die
hand gedoen dat hulle met so min speling ontwerp is dat hierdie
effense oorbelading hulle sou laat meegee nie.
[28] Dat daar by die ontwerp van die silo’s min speling gelaat is,
word deur De Clercq toegegee. Op 28 Junie 1996 skryf hy na aanleiding
van ’n terreinbesoek by die silokompleks, ’n volledige verslag
oor swigtings in silo’s vier en sewe aan die respondent. Daarin
maak hy onder andere die volgende stellings:
‘
In
ons berekeninge is aangeneem dat die canola 600kg/m
3
weeg
eerder as die waarde van tot 710kg/m
3
wat deur prof Blight
gevind is.
Die
syfers hierbo genoem toon dat die ontwerp van die verstywers naby die
been gesny is, soos mens van 'n kommersiële ontwerp
kan verwag.
Met
inagneming van alle faktore wat hierbo genoem is, kan gesê word
dat swigting van die verstywers 'n kombinasie was van die
volgende
faktore:
Die kragte in die verstywers kon baie hoog gewees het
al is canola 'n ligter materiaal as koring;
Die verstywers is, ter wille van ekonomie, ontwerp om
nie onnodige spaarkapasiteit te hê nie;
Op plekke is die verstywers effe beskadig of verbuig
gedurende konstruksie...
Onakkuraathede gedurende oprigting...kan veroorsaak dat
die kragte meer op die buitenste flens van die verstywer as die
binneste
flens aangewend is.
Dit is onmoonlik om te sê in hoe 'n mate elk van
hierdie faktore tot swigting bygedra het.’
Onder ‘AANBEVELINGS’ word dan voorgestel:
‘
Ten
einde die eienaar in 'n posisie te stel dat hy 'n stel betroubare
silo’s het, het ons die hele ontwerp hersien. Ons gevolgtrekking
was dat die verstywers op die vlak waar faling plaasgevind het (vyfde
lengte van bo) versterk moet word, asook dié van die
tiende
lengte van bo, ten einde 'n mate van spaarkapasiteit te voorsien.’
[29] Ek is dit met die appellant eens dat hierdie buitegeregtelike
erkennings deur De Clercq op grond van die belangegemeenskap tussen
hulle (wat die appellant se vorderings betref) teen die respondent in
ag geneem kan word.
[30] Die eerste swigtings en wel van buise vier, sewe en nege word
waargeneem in die middel van Februarie 1996. Terselfdertyd neem
Hoogenhout defleksies waar in al die silo’s behalwe nommer vyf.
Hierdie waarnemings lei tot die herstel van die drie beskadigde
silo’s en die gratis versterking deur die respondent van al die
verstywers van al die silo’s by die vyfde en agste seksies. Die
werk word tussen 1 April en 2 September 1996 gedoen.
[31] Van 11 November 1996 tot 17 Februarie 1997 word die
1996/1997-oes in buise een tot sewe, elf en dertien ingeneem. Slegs
buise
agt tot tien, twaalf en veertien is nog met canola van die
1995/1996-oes gevul.
[32] Op 21 Januarie 1997 toe agt honderd ton canola - van die nuwe
oes - van buis vier na buis veertien oorgegooi word, swig buis
vier
(wat toe reeds met ’n deurlugter toegerus is) die tweede keer. Op
daardie stadium is dit gevul met canola van die nuwe oes
wat met
betrekking tot kaf- en voginhoud aan al die vereistes voldoen wat
deur die deskundiges as toereikend vir die veilige berging
van canola
beskou word (lae voginhoud van 7,34% en lae sifselinhoud van 3,91% by
inname).
[33] Terselfdertyd word ʼn swigting waargeneem by silo drie wat ook
van ’n deurlugter voorsien is, en waarvan die inhoud uit 845
ton
canola met ’n voginhoud van 6,81% en sifsels van 3,87% by inname
bestaan. Sowat ’n week later teken Hoogendyk defleksies
in die
verstywers van amper al die silo’s aan.
[34] In die tydperk drie tot sewe November 1997 word canola van die
derde oes (1997/1998) in silo vier gestort. Weer eens is die
vog- en
kafinhoud by inname nie vatbaar vir kritiek nie (5,93% vog en 4,68%
sifsels). Die silo is ook nie oorvol nie: hy hou 856
ton.
Nieteenstaande swig hy weer toe sestig ton canola op 29 Desember 1997
na silo drie oorgegooi word. Die skade is so erg dat daar
nie gewaag
kan word om verder te onttrek nie en gedurende Mei 1998 word die buis
met ’n suigapparaat geledig.
[35] Intussen kom daar op 18 November 1997 ʼn globale swigting van
verstywers vyftien en sestien van silo elf voor, ʼn silo wat ook
met
skoon droë canola van die 1995/1996 seisoen gevul en van ‘n
deurlugter voorsien is.
[36] Die versterking van die verstywers op vlakke vyf en agt van al
die silo’s op aanbeveling van De Clercq het die swigtings-
en
verwringingsprobleme derhalwe nie opgelos nie. Selfs Blight wie se
onpartydigheid nie altyd bo verdenking was nie, was verplig
om toe te
gee dat sy teorieë oor die swigtingsmeganismes (dat swigting
uitsluitlik die gevolg van onnatuurlike belading as gevolg
van kors-
en brugvorming was) nie vir silo vier se latere twee swigtings (waar
daar geen aanduiding van korsvorming was) geld nie.
[37] Swigtings het nie weer by enige van die silo’s voorgekom nadat
die appellant op aanbeveling van sy raadgewers versterkte verstywers
by vlakke vyf en ses van al die silo’s laat aanbring het nie.
Sekere van die vroeëre swigtings was seker aan brugvorming
van
die canola te wyte: dat dit ’n faktor was wat die inherente
ontoereikendheid van die silo’s na vore sou bring, is onbetwisbaar.
Maar in die lig van die feit dat sommige van die silo’s ook geswig
het nadat deurlugters aangebring is en toe canola teen optimum
vogtigheid ingeneem en onsuiwerhede beperk is tot ’n vlak wat al
die deskundiges as aanvaarbaar beskou, is dit redelik om af te
lei
dat daar van die begin af die gevaar bestaan het dat die silo’s van
tyd tot tyd ook vanweë normale beladings op die strukture
sou
meegee omdat hulle ontwerp te kort geskiet het. Aangesien die buise
identies ontwerp en gebou is, is hierdie gevolgtrekking noodlottig
vir die respondent se ontkenning van aanspreeklikheid wat die
herstelkoste van die silo’s betref.
[38] Wat die eerste (hoof)vordering betref, bevind ek dus dat die
respondent homself nie kragtens sy uitdruklike waarborg of kragtens
die waarborg wat van regsweë inbegryp word vir die behoud van
die inhoud van die silo’s verantwoordelik gemaak het nie. Hy
is dus
nie aanspreeklik vir enige deel van die vordering vir verlies aan
inkomste en addisionele koste wat R3 427 523.85 beloop nie.
Hy het
wel vir die integriteit van die strukture verantwoordelikheid geneem
en is dus vir die herstelkoste van die gebrekkige silo’s
aanspreeklik.
[39] Die aanspreeklikheid vir gedingskoste in die hof
a quo
word by ooreenkoms tussen die appellant en die respondent gereël.
Hulle het ooreengekom dat die koste wat hulle met betrekking
tot die
eis vir skadevergoeding ten aansien van die herstel van silo vier,
die versterking van die sesde en sewende seksies van die
verstywers
van al die silo’s, en die modifikasie van die inlate van silo’s
vier tot sewe en elf tot veertien aangegaan het, sestig
persent van
hulle totale koste in die saak bedra en die suksesvolle party ook
geregtig maak op die koste van sy ingenieursdeskundige.
Die koste ten
aansien van die appellant se vordering vir skadevergoeding vir die
beskadiging van die 1995/1996-oes bedra, volgens
die ooreenkoms,
dertig persent. Die orige tien persent is nie ter sake nie. Dit was
om voorsiening te maak vir ’n tweede eis vir
beweerdelik foutief
geinstalleerde hittemoniteringskabels wat laat vaar is.
[40] In die lig van ons bevinding moet dus aan die appellant sestig
persent van sy koste in die hof
a quo
toegeken word. Wat die
partye se koste in hierdie hof betref, is daar geen sodanige
ooreenkoms nie. Die omvang van die oorkonde (wat
aansienlik is)
weerspieël natuurlik die verrigtinge in die hof
a quo
sodat die koste daarvan op die ooreengekome grondslag toegeken kan
word. Verreweg die grootste deel van die appellant se betoog voor
hierdie hof het egter gehandel met die respondent se aanspreeklikheid
vir gevolgskade. Reg sal dus geskied indien die respondent
een derde
van die appellant se koste op appèl betaal, met uitsondering
van die oorkonde waarvan die respondent sestig persent
betaal.
[41] Die appèl teen die bevel van die hof benede word
gehandhaaf en sy bevel word vervang met ʼn bevel dat die respondent
teenoor die appellant aanspreeklik is vir betaling van -
1 die koste van die lediging en herstel van silo vier met inbegrip
van die gelde van die raadgewende ingenieurs;
2 die
koste van die modifikasie van die inlate van silo’s vier tot sewe
en elf tot veertien;
3 die
koste van die versterking van silo’s een tot veertien met inbegrip
van die gelde van die raadgewende ingenieurs;
4 rente
kragtens die Wet op die Voorgeskrewe Rentekoers 55 van 1975 van ’n
datum wat bepaal moet word;
5 sestig
persent van die appellant se gedingskoste in die hof benede met
inbegrip van die gelde van die appellant se ingenieursdeskundige;
6 sestig
persent van die koste van die oorkonde asook een derde van die
appellant se orige koste vir die aanhoor van die appèl.
J H CONRADIE
APPÈLREGTER
SAMESTEMMEND:
MPATI
AP
FARLAM
AR
NUGENT
AR
HEHER
AR