About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2015
>>
[2015] ZANCHC 40
|
|
Cordier Handelaars Bk v Ludik (444/2014) [2015] ZANCHC 40 (18 September 2015)
Sekere
persoonlike/private besonderhede van partye of getuies in die
dokument is geredigeer in ooreenstemming met die wet
en
SAFLII
se beleid.
IN
DIE Hoë
HOF
VAN SUID-AFRIKA
(NOORD-KAAPSE
AFDELING, KIMBERLEY)
Saak No:
444/2014
Saak Aangehoor:
11/09/2015
Datum
gelewer: 18/09/2015
In
die saak tussen:
CORDIER
HANDELAARS
BK
Applikant
(Registrasienommer:
2009/035915/23)
en
PIETER
HENDRIKUS GYSBERTUS
LUDIK
Respondent
(Identiteitsnommer:
6.....)
Coram: Olivier R
UITSPRAAK
Olivier
R:
[1].
Hierdie
is in ‘n aansoek om sekerheidstelling ingevolge Eenvormige
Hofreël 47. Die applikant, Mnr P H G Ludik,
is die
verweerder in ‘n aksie waarin die respondent, Cordier
Handelaars BK, hom aanspreek vir skade wat hy na bewering veroorsaak
het in sy bestuur van die respondent se besigheid.
[2].
Die
applikant het aanvanklik ‘n kennisgewing afgelewer waarin
versoek is dat sekuriteit gestel moet word in die bedrag van
R150 000.00, maar het later ‘n verdere kennisgewing
afgelewer waarin versoek is dat sekuriteit gestel moes word in die
bedrag van R350 000.00.
[3].
Die
respondent het kennis gegee dat aanspreeklikheid vir die verskaffing
van sekuriteit betwis word en hierdie aansoek is toe op
28 September
2014 afgelewer op die prokureurs vir die respondent. Daar is
egter nie op daardie stadium ‘n antwoordende
eedsverklaring
afgelewer nie.
[4].
Gedurende
Maart 2015 is die aansoek blykbaar uitgestel vir
skikkingsonderhandelinge tussen die partye, vermoedelik rondom die
kwessie
van sekuriteit, en die aansoek het toe op 11 September 2015
weer voor my gedien.
[5].
Intussen,
en wel so laat as op Vrydag 4 September 2015, het die respondent toe
wel ‘n antwoordende eedsverklaring afgelewer,
met ander woorde
slegs 4 (vier) hofdae voor die verhoordatum. Die kennisgewing
van mosie is in die lang vorm en dit het dus
op die respondent geroep
om binne 5 (vyf) dae ná 28 September 2014 kennis te gee van
enige voorneme om die aansoek te opponeer
en, indien so, om dan binne
‘n verdere 15 (vyftien) dae ‘n antwoordende
eedsverklaring af te lewer
[1]
.
[6].
Die
applikant se advokaat, Mnr Janse van Rensburg, het by die aanhoor van
die aansoek beswaar gemaak teen die toelating van die
antwoordende
eedsverklaring, en in die alternatief versoek dat, indien die
verklaring tog toegelaat sou word, die aansoek op die
respondent se
kostes uitgestel word vir die applikant om te repliseer.
[7].
Eers
toe het Mnr Jankowitz, die advokaat vir die respondent, van die balie
aansoek gedoen om kondonasie vir die laat liassering
van die
verklaring. Daar was geen substantiewe aansoek om kondonasie
nie. Selfs indien kennis geneem sou word van die
inhoud van die
betrokke verklaring, het dit geen verduideliking bevat vir die
versuim om dit betyds, of minstens heelwat vroeër,
te liasseer
nie.
[8].
Mnr
Jankowitz het toegegee dat hy ook nie van die balie so ‘n
verduideliking kon gee nie, waaruit sekerlik afgelei moet word
dat
geen sodanige verduideliking aan hom oorgedra is by wyse van
instruksies nie. Mnr Jankowitz het ook nie, byvoorbeeld,
versoek dat die respondent die geleentheid gebied word om so ‘n
verduideliking te verskaf nie.
[9].
Die
inhoud van die betrokke verklaring is sodanig dat die applikant
beslis daarop sou wou repliseer. Mnr Jankowitz het egter
ook
nie, in reaksie op Mnr Janse van Rensburg se alternatiewe betoog, te
kenne gegee dat die respondent die verspilde koste van
so ‘n
uitstel tender nie.
[10].
In
die omstandighede was daar geen basis hoegenaamd waarop die
respondent se flagrante versuim en verbreking van die Hofreëls
gekondoneer kon word nie en het ek die aansoek om kondonasie afgewys,
tesame met enige koste daardeur teweeggebring.
[11].
Dit
het beteken dat die aansoek bereg moes word op die applikant se
stukke alleen.
[12].
In
beide die applikant se kennisgewings ingevolge Hofreël 47 is die
gronde waarop die applikant gesteun het in sy versoek vir
die
verskaffing van sekuriteit soos volg uiteengesit:
“
1.
Die Eiser is ‘n Beslote Korporasie;
2.
Die Eiser het besigheid gestaak gedurende Desember 2013 en doen geen
ander besigheid wat ‘n inkomste
verdien nie;
3.
In die lig van bogemelde het die Eiser se substratum weggeval en sal
Eiser waarskynlik nie ‘n kostebevel
kan betaal indien die Eiser
onsuksesvol is nie.
”
[13].
In
sy funderende eedsverklaring het die applikant basies bloot dieselfde
drie beweringe byna woordeliks herhaal, en het hy dan ‘n
vierde
bewering bygevoeg, naamlik dat die respondent “
beskik
oor geen bates nie en het verskeie uitstaande skuldeisers
”.
[14].
Wat
in die eerste plek opval, is die totale afwesigheid van selfs net ‘n
bewering rakende die vooruitsigte van sukses van
die respondent se
aksie of van die applikant se verweer. Die funderende
eedsverklaring bevat nie eers ‘n versoek dat
die applikant se
verweerskrif of teeneis in hierdie verband ingelees moet word nie.
[15].
Mnr
Janse van Rensburg het aan die hand gedoen dat ek nietemin in hierdie
verband kan kennis neem van die pleitstukke. Sou
dit gedoen
word, sou dit die applikant se saak in hierdie verband glad nie
bevorder nie. Dit is omdat die applikant, in reaksie
op die
gedetailleerde beweringe in die besonderhede van vordering van
nalatige optrede aan sy kant, bloot ‘n ontkenning gepleit
het.
Die verste wat hy gegaan het, was om te beweer dat hy saam met die
respondent se rekenmeester, Mnr Roux, opgetree het.
Dit is
gevolglik onmoontlik om uit die applikant se beweringe in sy
pleitstukke enige afleiding te maak met betrekking tot sy
vooruitsigte om die aksie suksesvol te verdedig.
[16].
Dit
blyk nie in geskil te wees dat die respondent se besigheid gestaak is
nie, maar dit sou natuurlik nie opsigself die afleiding
kon regverdig
dat die respondent nie in staat sou wees om ‘n kostebevel na te
kom nie.
[17].
Ek
kan nie saamstem met Mnr Janse van Rensburg se betoog tot die
teendeel nie. Dat die respondent nie meer ‘n inkomste
mag
hê nie, beteken nie dat dit nie geld het nie, en ook nie dat
dit nie genoeg bates het waaruit ‘n kostebevel bevredig
sou kon
word nie.
[18].
Mnr
Janse van Rensburg het ook betoog, met verwysing na
Northbank
Diamonds Ltd v FTK Holland BV and Others
[2]
,
dat die feite rondom die respondent se finansiële posisie in die
uitsluitlike kennis val van Mnr Cordier, wat 66.6% van die
ledebelang
in die respondent hou en wat, tot die uitsluitding van die applikant,
sedert Desember 2013 alleen in beheer is van ondermeer
die respondent
se finansiële rekords. Mnr Janse van Rensburg het betoog
dat die applikant daarom kon wegkom met die
minimum beweringe, soos
wat hy in fundering gemaak het.
[19].
Hierdie
is natuurlik nie vervat in die applikant se funderende
eedsverklaring, waarin hy immers veronderstel was om sy saak uit
te
maak
[3]
, nie. Die
applikant het op geen stadium verklaar dat hy nie oor kennis beskik
van die respondent se finansiële sake
nie. Inteendeel, hy
het hom dan uitgelaat oor die respondent se krediteure, hoewel vaag.
[20].
Uit
die pleitstukke blyk dit dat die applikant self 33.3% ledebelang in
die respondent het. Hy het die dag tot dag bestuur
van die
respondent behartig. Soos wat hieronder ook na verwys sal word,
blyk dit ook elders uit die pleitstukke dat die applikant
volgens
homself oor meer kennis beskik van die respondent se sake en bates as
bloot net dat dit nie meer besigheid doen nie.
[21].
Word
oorweging verleen aan die vierde grond wat nou bygevoeg is, bykomstig
tot die gronde in die applikant se kennisgewings, blyk
dit onnodig
vaag te wees.
[22].
Soos
reeds gemeld, blyk dit uit die pleitstukke dat die applikant ‘n
ledebelang hou in die respondent, en dit is onbetwis
dat hy vanaf
November 2011 tot November 2013 betrokke was by die daaglikse bestuur
van die respondent, en ondermeer gemoeid was
met voorraadopnames.
[23].
Hoe
sou die applikant onder sodanige omstandighede nie byvoorbeeld meer
besonderhede kon gegee het oor die “
verskeie
uitstaande skuldeisers
”
waarna hy in die bykomstige grond verwys nie? Hy verduidelik
ook dan nie waarom hy nie, byvoorbeeld, minstens ‘n
aanduiding
kan gee van wat die totaal van daardie vorderings sou beloop nie.
Hy voer ook nie in sy verklaring aan dat hy
nie oor die vermoë
beskik om hierdie besonderhede te verskaf nie.
[24].
Die
applikant se bewering dat die respondent oor geen bates beskik nie,
is direk strydig met die inhoud van sy teeneis. Daarin
het hy
verwys na “
die
besigheidsperseel van die
”
respondent in Kuruman, wat opsigself reeds op die oog af ‘n
bate kon wees, en het hy verder gegaan en verwys na die
respondent se
voorraad “
en
ander bates
”.
[25].
Dit
is van belang om daarop te let dat die applikant se aansoek geloods
is ‘n geruime tyd nadat die teeneis afgelewer is.
Indien
die applikant gemeen het dat sake met betrekking tot die respondent
se voorraad en bates kon verander het in daardie periode,
het niks
hom verhoed om daarmee, of minstens met sy vermoede, te handel in sy
funderende eedsverklaring nie.
[26].
Mnr
Janse van Rensburg het betoog dat die voorraad en bates waarna die
applikant in sy teeneis verwys het al kon verdwyn het sedert
Mnr
Cordier beheer daaroor geneem het. Die applikant dra egter die
bewyslas om aan te toon dat daar rede is om te glo dat
die respondent
nie koste sal kan betaal nie
[4]
,
en dit is eenvoudig nie goed genoeg om op hierdie wyse te bespiegel
nie
[5]
; nie dat die applikant
self eers in sy funderende eedsverklaring probeer het om op sulke
spekulasie te steun nie. Die applikant
het ook, soos reeds
gemeld, nooit die bewering gemaak dat hy deur omstandighede verhoed
is om meer besonderhede te verskaf nie.
[27].
Mnr
Janse van Rensburg het verder betoog dat die verwysing in die teeneis
na die respondent se besigheidsperseel, ook vertolk kon
word as ‘n
verwysing na ‘n gehuurde perseel en nie noodwendig as ‘n
verwysing na ‘n perseel wat die eiendom
van die respondent is
nie. Dit mag moontlik wees, maar dit is weereens nie
verduidelik deur die applikant in sy funderende
eedsverklaring nie.
[28].
Na
my oordeel het die applikant nie in fundering naastenby genoeg gedoen
om hom van sy bewyslas te kwyt om aan te toon dat daar
rede is om te
glo dat die respondent nie koste sal kan betaal nie en dat die
respondent dus
prima
facie
aanspreeklik gehou moet word vir die stel van sekuriteit.
[29].
Mnr
Janse van Rensburg se betoog, met verwysing na
Equitable
Trust and Insurance Co. of SA Ltd v Registrar of Banks
[6]
,
dat die respondent finansiële state moes openbaar het, gaan nie
op nie. Die applikant het nie
prima
facie
aangetoon dat daar rede is om te glo dat die respondent nie koste sal
kan betaal nie, en daar was niks vir die respondent om te
weerlê
nie. Die applikant het ook nooit, soos in daardie geval, beweer
dat hy sonder sulke state nie werklik meer inligting
kon gee van die
respondent se finansiële posisie nie.
[30].
Die
applikant het ook geen bewering gemaak dat die bedrag van R350 000.00
toe inderdaad deur die Griffier vasgestel is as die
bedrag van die
sekuriteit nie. Hy toon nêrens aan dat ook die omvang van
hierdie bedrag in geskil is nie. Tog
verwag hy, volgens bede 1
van die kennisgewing van mosie, dat die Hof nou sekuriteitstelling in
hierdie bedrag moet gelas.
[31].
Al
wat die applikant in hierdie verband in sy funderende eedsverklaring
aanvoer, is dat ná konsultasie met sy prokureur en
advokaat
dit geblyk het dat die saak meer omvangryk sou wees (vermoedelik as
wat aanvanklik gemeen is toe sekuriteit van R150 000.00
versoek
is) en dat sy prokureur daarom toe sekuriteit van R350 000.00
versoek het.
[32].
Alhoewel
sy prokureur hierdie bewering bevestig, het nie een van hulle verder
gegaan en verduidelik hoe hulle by die bedrag van
R350 000.00
uitgekom het nie. Inteendeel, dit is glad nie eers enige van
hulle se bewering dat hulle tydens die konsultasie
so ‘n bedrag
bereken of beraam het nie. Die applikant se bewering (en
gevolglik dit wat sy prokureur dus bevestig)
is nie tot hierdie effek
nie. Die applikant het bloot verklaar dat die verhoogde
sekuriteit versoek is nadat hulle tot die
gevolgtrekking gekom het
dat die saak meer “
omvangryk
”
is en vyf tot ses dae kon duur. Al wat afgelei kan word, is dat
hulle tot die slotsom moes gekom het dat ‘n
hoër bedrag
van sekuriteit benodig word, en al wat die applikant dan verklaar is
dat sy prokureur toe die bedrag van R350 000.00
aan sekuriteit
versoek het.
[33].
Daar
is dus geen deskundige getuienis voor my in hierdie verband nie
[7]
.
Daar kan sekerlik nie op hierdie tipe beweringe verwag word dat die
Hof maar self moet uitwerk of R350 000.00 die billike
bedrag sal
wees nie. Dit sou baie maklik gewees het vir die applikant se
prokureur om uiteen te sit hoe die betrokke bedrag
bereken en
saamgestel is, of vir die applikant om dit in sy funderende
eedsverklaring uiteen te sit op advies van sy prokureur
en advokaat
(en daardie beweringe dan te laat bevestig deur die prokureur).
Ook ten aansien van die omvang van die verlangde
sekuriteit het die
applikant dus nie ‘n saak uitgemaak nie.
[34].
Daar
is geen rede waarom die koste nie in hierdie geval die uitslag sal
volg nie.
[35].
Bygevolg
word die volgende bevel hierin gemaak:
DIE AANSOEK OM
SEKURITEITSTELLING WORD AFGEWYS MET KOSTE.
_____________________
C
J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Nms Applikant /
Verweerder: Adv F G
Janse van Rensburg
In opdrag
van:
Van De Wall & Vennote
Nms Respondent /
Eiser:
Adv
D C Jankowitz
In opdrag
van:
Hugo Mathewson & Oosthuizen Ing.
[1]
Die kennisgewing van mosie is
onderteken op 27 September 2014, maar om een of ander rede dra dit
die Griffier se stempel met ‘n
datum van 28 Oktober 2014.
[2]
2003 (1) SA 189
(NmS) op 194F - G
[3]
Vergelyk
Democratic
Alliance v Kouga Municipality and others,
[2014] 1 All SA 281
(SCA) para [18]
[4]
Artikel 8 van die
Wet op Beslote Korporasies
,
69 van 1984;
Belizca Investments 5 CC t/a
Mica Hardware & Building Supplies v UCKG Properties
,
2004 (4) SA 197
(TKH) para [27]
[5]
Northbank Diamonds Ltd v
FTK Holland BV and Others, supra
,
op 194E - F
[6]
1957 (1) SA 689
(T) op 691D -
E
[7]
Vergelyk
Nederlandsche
Z.A. Hypotheek Bank v Mears
,
1913 TPD 704
op 706;
Avenue
Shipping Co. Ltd. v S.A. Railways and Harbours and Another
,
1936 CPD 486