Reichert v Koopman (129/14) [2015] ZANCHC 46 (18 May 2015)

70 Reportability

Brief Summary

Delict — Assault — Claim for damages arising from alleged assault — Respondent claiming damages for pain and suffering and defamation following an alleged assault by the appellant — Appellant denying the incident occurred and raising jurisdictional issues — High Court affirming the lower court's findings that the assault occurred and dismissing the appellant's counterclaim for defamation — Court emphasizing the credibility of the respondent's testimony and the improbability of the appellant's version of events.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2015
>>
[2015] ZANCHC 46
|

|

Reichert v Koopman (129/14) [2015] ZANCHC 46 (18 May 2015)

Sekere
persoonlike/private besonderhede van partye of getuies in die
dokument is geredigeer in ooreenstemming met die wet
en
SAFLII
se beleid.
IN
DIE Hoë
HOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse
Hoë
Hof, Kimberley)
Rapporteerbaar: Nee
Sirkuleer onder Regters:
Ja
Sirkuleer onder
Landdroste: Nee
Sirkuleer onder
Streeklanddroste: Nee
Saak No:
CA&R
129/14
Saak Aangehoor:
18 /
05 / 2015
Datum gelewer:
18 / 05
/ 2015
In
die saak tussen:
JOHAN
JOHANNES
REICHERT
Appellant
en
MAGGIE
KOOPMAN
Respondent
Coram:
Olivier R et Erasmus WnR
UITSPRAAK
Olivier
R:
[1].
In hierdie aangeleentheid het die
respondent ‘n aksie ingestel in die Landdroshof teen die
appellant vir skadevergoeding.
Dit was gebaseer op beweringe
dat die appellant haar op 29 Januarie 2009 op die plaas Rooifontein
aangerand en beledig het.
[2].
Die eerste eis was vir ‘n bedrag van
R10 000.00 vir die pyn en lyding wat gely is weens die beweerde
aanranding, en ook
vir ‘n verdere bedrag van R15 000.00
vir die aantasting, deur die aanranding, van haar eer en waardigheid.
[3].
Die tweede eis was vir die toekenning van
‘n bedrag van R25 000.00 vir die aantasting wat die
belediging meegebring het
vir die eiseres se eer en waardigheid.
[4].
Beide eise is in die gemelde bedrae
toegestaan.
[5].
Die appellant het ‘n teeneis gehad
vir die aantasting van sy eer en waardigheid, welke teeneis afgewys
is.  Ek sal later
handel daarmee.
[6].
Die kennisgewing van appél maak nie
duidelik of daar ook teen die afwysing van die teeneis geappelleer
word nie, maar ek
sal aanvaar dat dit die posisie is, want daar word
ook in die betoogshoofde namens die appellant hieroor submissies
gemaak.
[7].
Alhoewel dit nooit by wyse van ‘n
spesiale pleit gedoen is nie, en ook nie werklik in enige erns ooit
tydens die verhoor of
voor ons geargumenteer is nie, is daar tog die
punt gemaak namens die appellant deur sy advokaat, Mnr Schreuder, dat
die Landdroshof
te Kimberley nie die jurisdiksie sou gehad het om oor
die aangeleentheid te beslis nie.  Die rede wat daarvoor
aangevoer is,
was dat die beweerde delik in die Landdrosdistrik van
Boshoff plaasgevind het.  Die feit is egter dat dit vasstaan dat
die
appellant gedomisilieerd was binne die regsgebied van die
Landdroshof te Kimberley, en dit sou beslis daardie Landdroshof
bekleë
het met die nodige jurisdiksie.
[8].
Die saak vir die respondent was, baie
breedweg, dat sy op 29 Januarie 2009 na die plaas Rooifontein is
na afloop van onderhandelinge
om die betrokke plaas te verkoop aan
die appellant.  Sy was vergesel van haar [...], Me V., en ‘n
plaasarbeider, Mnr
Phillip Madito.
[9].
Die appellant het daar opgedaag.  Hy
was woedend en het haar aangerand.  Hy het haar aan die nek
gegryp en haar kop herhaaldelik
teen die voertuig gestamp waarmee
hulle na die plaas gery het.  Die appellant het haar op die
grond neergegooi en teen haar
heup geskop.  Hy het haar ‘n

kaffer bitch

genoem en gedreig om haar vrek te skiet as sy weer daar sou kom.
[10].
Die respondent het verder getuig oor die
pyn en lyding wat sy onmiddellik gely het as gevolg van die
aanranding, en ook daarna en
steeds ten tye van haar getuienis, en
ook oor hoe sy daarna in en uit hospitale was, volgens haar weens die
aanranding.  Sy
het getuig dat haar heup en haar rug steeds
gepla het, ongeveer 4 (vier) jaar ná die insident, dat sy nie
meer reg kon dink
en onthou nie en dat sy voortdurend pynpille moes
gebruik.
[11].
Verder het die respondent getuig dat sy
baie hartseer was oor die belediging wat die appellant haar toegesnou
het en dat dit haar
in haar eer en waardigheid aangetas het.
[12].
Die appellant het ontken dat so ‘n
voorval ooit plaasgevind het, hetsy op 29 Januarie 2009 of op
enige ander datum.
Sy saak was dat daar vroeër op die dag
van 29 Januarie 2009 nie bloot onderhandelinge was nie, maar dat die
koopkontrak vir
die verkoop van die betrokke plaas aan hom inderdaad
geteken is.  Volgens hom is hy egter daarna vanaf die kantore
van die
betrokke prokureurs vir die res van die dag huis toe, hier in
Kimberley, en nie na die plaas toe, soos wat die respondent beweer

het, nie.
[13].
Die appellant het verder getuig dat daar in
die dae daarna ander voorvalle plaasgevind het op die betrokke
plaas.  Die een
keer was toe hy moes ingryp toe die verkeerde
samestelling van vee gelaai is om van die plaas te verwyder.
Die ander keer
was toe hy ‘n klagte gelê het dat daar
onwettig gejag word op die plaas en dit toe gelei het tot die
inhegtenisneming
van iemand en tot die betaling van ‘n boete
deur die betrokke persoon.
[14].
Tydens geeneen van daardie voorvalle het
daar egter volgens die appellant ‘n aanranding plaasgevind, of
‘n voorval soos
beskryf deur die respondent, nie.
[15].
Dit was die appellant se saak dat dit die
voorvalle was waarna hy verwys het, en ook finansiële probleme,
wat gemaak het dat
die respondent die vals eise teen hom ingestel
het.
[16].
Hy het aangevoer dat die instel van die
valse eise sy reputasie skade aangedoen het, en hy het breedvoerig
getuig oor sy posisie
in die gemeenskap, die boerderybedryf en in die
sakewêreld.
[17].
Wat betref die Landdros se bevinding dat
die voorval beskryf deur die respondent wel plaasgevind het, is in
die kennisgewing van
appél aangevoer dat die Landdros die
weersprekings tussen die respondent, Me V.en Mnr Madito nie behoorlik
in ag geneem
het nie, dat die Landdros verkeerdelik bevind het dat
die appellant eintlik geen verweer geopper het nie, dat die Landdros
die
kwessie van die bewyslas verkeerdelik benader het, dat die
Landdros verkeerdelik bevind het die appellant se weergawe nie gestel

is in kruisverhoor nie, dat die Landdros nie behoorlike oorweging
verleen het aan die vraag waarom geen kriminele klagte gelê
is
teen die appellant nie en dat die Landdros misgetas het deur
bevindinge te maak oor die appellant se karakter, nog voordat die

Landdros die getuienis klaar oorweeg het.
[18].
Dit is geykte reg dat ‘n Hof van
appél nie ligtelik sal inmeng met die feite- en
geloofwaardigheidsbevindinge van ‘n
verhoorhof nie.  Dit
sal slegs gedoen word waar daar duidelik gefouteer is.
[19].
Mnr Schreuder het aangevoer dat die
respondent, Me V. en Mnr Madito verskil het oor die datum van die
voorval en oor op watter dag
van die week dit sou gebeur het, die tyd
van die voorval, hoe die voorval plaasgevind het en waar presies met
betrekking tot die
posisie van hulle voertuig, waar hulle heen is ná
die voorval en watter beserings die respondent sou opgedoen het.
[20].
Hier hou ek eerstens in gedagte dat die
getuies hulle getuienis ongeveer 4 (vier) jaar na die beweerde
voorval afgelê het.
[21].
Ek hou verder voor oë dat die
respondent as getuie op die Landdros ‘n goeie indruk gemaak het
en dat die Landdros se
geleentheid om onder andere die respondent
waar te neem in die getuiebank ‘n voordeel is wat hierdie Hof
natuurlik nie het
nie.
[22].
Die Landdros het bevind dat die verskille
tussen die getuienis van die respondent en dié van haar
getuies nie wesenlik was
nie.  Die vraag is egter of dit so
eenvoudig is.
[23].
Op die oog af sou seker geargumenteer kon
word dat dit nie belangrik is op watter dag van die week, op watter
datum of presies hoelaat
so ‘n voorval plaasgevind het nie.
Volgens die respondent het dit plaasgevind op dieselfde dag as waarop
hulle by die
prokureur was in verband met die verkoop van die plaas.
Dit was gemenesaak dat daardie besoek aan die prokureur op 29
Januarie
2009 plaasgevind het.
[24].
Die appellant daarenteen het getuig dat hy
daardie dag vanaf die prokureur se kantoor huis toe is, en nooit na
die plaas nie.
[25].
Die respondent was ‘n enkelgetuie vir
soverre dit die getuienis betref dat die voorval plaasgevind het op
dieselfde dag as
wat die besoek aan die prokureur plaasgevind het.
Me V. en Mnr Madito was nie by met die besoek aan die prokureur nie.
[26].
Dit kom uiters onwaarskynlik voor dat die
appellant, waar hulle volgens die respondent een oomblik nog midde in
onderhandelinge
was oor ‘n stuk grond wat hy graag wou koop en
toe vreedsaam uitmekaar is, volgens haar met die verkoop van die
eiendom aan
die appellant nog in die vooruitsig, totaal sonder rede,
ongeprovokeerd en woedend sou opdaag en die respondent so ernstig sou
aanrand.
[27].
Die Landdros het bevind het dat die
appellant angstig was oor vee wat hy wou aflaai, maar dan is daar nie
getuienis dat daar geweier
is dat hy sy vee aflaai nie.  Dit was
ook net die respondent wat getuig het oor die vee wat die appellant
daar sou gehad het
op die betrokke dag en waarvoor hy sou plek gesoek
het.  Haar twee getuies het geen melding gemaak van so iets nie.
[28].
Van nog meer belang egter as hierdie
oënskynlike onwaarskynlikheid is die feit dat die appellant,
saam met sy ontkenning dat
hy op 29 Januarie 2009 op die plaas was,
sê dat hy op ander datums daar was en dat daar op daardie
datums voorvalle van konfrontasie
was oor die verdeling van vee en
die aard van die los goedere wat verwyder kon word deur die
respondent en haar eggenoot, en later
oor familie van die respondent
sonder sy toestemming op die plaas gejag het.  Volgens die
appellant was daardie voorvalle
relatief kort ná 29 Januarie
2009.
[29].
Die voorval van die jag is deur die
respondent erken.  Sy het erken dat daar ‘n arrestasie of
arrestasies plaasgevind
het en dat ‘n boete of boetes betaal
is.  Dit sou aansluit by die appellant se saak dat die plaas op
29 Januarie 2009
reeds aan hom verkoop is, want hy sou op geen ander
basis tog iemand kon aangekla het daarvan dat hy onwettig op die
betrokke grond
gejag het nie.
[30].
Terwyl die respondent en haar [...] getuig
het dat hulle die dag van die beweerde voorval van aanranding na die
plaas is om vee
te gaan voer, het Mnr Madito getuig dat hulle daardie
dag na die plaas is om los goedere te gaan oplaai.  Sy weergawe
bots
dus met dié van die respondent en haar [...], en dit
sluit aan by die weergawe van die appellant tot dié mate
minstens
dat hy dan bevestig dat daar los goed opgelaai is deur die
respondent.  Sy het ontken dat sy ooit weer na die plaas is ná

die gewraakte dag, wat beteken dat die laai van die goedere ook
volgens haar nie op ‘n ander datum kon gebeur het nie.
[31].
Dat hulle, soos Mnr Madito getuig het, goed
gaan oplaai het, sou ook weereens inpas by die appellant se saak dat,
wanneer dit ookal
was wat hulle die goed gaan laai het, dit moes
gewees het nadat die plaas reeds aan hom verkoop is.
[32].
Ek kan in die lig van die voorgaande nie
met die Landdros saamstem dat die appellant die persoon as getuie
moes geroep het wat saam
met hom was die dag toe daar gepraat is oor
die verwydering van goedere nie.  Die appellant het in elk geval
nie, minstens
wat die hoofeis betref, die bewyslas gedra nie.
[33].
Dat dit nie in kruisverhoor aan die
respondent of haar [...] gestel is dat los goed verwyder is nie, neem
dus ook nie die saak verder
nie.  Dit het op die getuienis van
die respondent se eie getuie, Mnr Madito, geblyk.
[34].
Wat betref die besonderhede van die
beweerde aanranding, stem ek nie saam met die Landdros dat geeneen
van die verskille wesenlik
was nie, en kumulatief beskou was die
verskille allermins immaterieel.  Op die appellant se weergawe
was die respondent se
beweringe bloot ‘n fiksie en die
appellant was dus geregtig om die respondent en haar getuies te toets
op die detail van
daardie beweringe.
[35].
Dit is kommerwekkend dat nie een van Me V.
of Mnr Madito weet daarvan dat die appellant die respondent op die
grond gegooi en geskop
het nie.  Dit moes ten aanskoue van hulle
geskied het.  Hulle verskil ook van mekaar, en van die
respondent, oor presies
hoe die appellant andersins die respondent
sou aangerand het, soos bv. oor hoeveel keer hy haar teen die
voertuig sou gestamp het
en oor waar aan haar liggaam hy haar
daartydens vasgehou het.
[36].
In die besonderhede van vordering is beweer
dat die appellant ook die respondent met die oop hand geklap het,
iets waaroor nie een
van die respondent of haar getuies getuig het
nie.
[37].
Die respondent en haar [...] se weergawes
was dat die respondent so ernstig aangerand was dat sy in die
voertuig ingehelp moes word
deur die [...] en Mnr Madito.  Mnr
Madito het ontken dat hy ooit uit die voertuig geklim het.
[38].
Wat betref die beserings wat die respondent
sou opgedoen het, is daar ook verskille.  Op haar weergawe het
niks met haar voet
gebeur nie.  Volgens Me V. het die respondent
egter dadelik gekla dat haar voet seer was weens ‘n skop.
Op die
respondent se weergawe is sy egter op haar heup geskop.
[39].
Dit maak dit vreemd dat geen mediese
getuienis aangebied is wat kon staaf dat die respondent aangerand is
nie.  Volgens haar
is sy reeds die volgende dag na ‘n
dokter en is sy vandaar, en daarna basies pal, in en uit hospitale as
gevolg van die aanranding.
[40].
Die respondent het die betrokke dokter
geïdentifiseer en beskryf as haar dokter.  Daar is geen
suggestie dat hy nie beskikbaar
is was om te getuig nie.  As hy
nie was nie, sou iemand by die hospitaal of hospitale sekerlik
behulpsaam kon gewees het.
[41].
Die afwesigheid van sulke getuienis maak
dit van belang dat Mnr Madito nie, soos Me V., die beweerde besering
aan die respondent
se nek sou gesien het nie.
[42].
Dan is daar ook nog die getuienis oor wat
ná die beweerde voorval gebeur het.  Ek stem nie saam met
die Landdros dat
dit nie belangrik is wat ná ‘n beweerde
voorval gebeur het nie.  Dit is geykte reg dat uit sulke
getuienis afleidings
gemaak kan word oor die voorafgaande gebeure.
[43].
Die respondent sê sy, haar [...] en
Mnr Madito is direk vanaf die plaas na die Boshof polisiestasie om
die voorval te rapporteer.
Haar getuienis was dat hulle vandaar
gestuur is na die Kimberley polisiestasie, omdat vir hulle gesê
is dat die voorval binne
die regsgebied van daardie polisiestasie
plaasgevind het.  Haar getuienis was verder dat, met hulle
aankoms by die polisiestasie
te Kimberley, haar [...] en Mnr Madito
in die voertuig bly sit het terwyl sy in was.  Volgens die
respondent was die polisie
daar se houding egter weer dat die voorval
nie in hulle gebied plaasgevind het nie.
[44].
Me V. en Mnr Madito staaf nie die
respondent hieroor nie.  Volgens hulle is hulle direk vanaf die
plaas na die respondent se
huis.
[45].
Hierdie slaan op die vraag of die
respondent hierdie oënskynlik ernstige voorval gerapporteer het,
wat ‘n mens op die
waarskynlikhede sou verwag, en terwyl ek met
die Landdros saamstem dat dit op die oog af onwaarskynlik lyk dat die
respondent die
getuienis uit haar duim sou gesuig het oor wat die
polisie te Boshof en Kimberley sou gesê het, kan die
weersprekende getuienis
van die ander twee nie bloot geïgnoreer
word nie.
[46].
Dit moet onthou word dat op die appellant
se weergawe die waarskynlikheid juis sou wees dat die respondent geen
so ‘n voorval
sou gaan rapporteer het nie.
[47].
Selfs later, toe die respondent reeds
regsbystand gehad het, is daar oënskynlik nie so ‘n klagte
gelê nie.
[48].

n Scenario dat die respondent glad
nie daardie dag gepoog het om ‘n strafregtelike klagte te lê
nie, sou aansluit by
haar erkenning dat sy ook nie eers daardie aand
vir haar eie man, toe hy tuis gekom het, vertel het dat sy aangerand
is nie.
Volgens die respondent was die rede hiervoor dat sy te
ongelukkig was om hom te vertel, glo omdat haar hart seer was “
om
my lewe so te verloor, al die jare vir my straf met pap en melk om
daardie plaas te behou en hy is net so afgeroof
”.
[49].
Dit is in die eerste plek uiters
onwaarskynlik dat die respondent nie haar eie man sou vertel het van
haar pyn en lyding en haar
vernedering, en van so ‘n ernstige
voorval, nie.
[50].
Tweedens is dit net so onwaarskynlik dat
sy, nieteenstaande daardie hele voorval, dan daarna tog sou
saamgewerk het om die betrokke
plaas aan die appellant te verkoop;
want dit was nooit in geskil nie dat, minstens ten tye van die
verhoor, die plaas aan die appellant
behoort het.
[51].
Derdens maak die rede vir haar versuim om
so te doen, soos deur haar voorgehou, geen sin nie.  Hoekom sou
die verlies van die
plaas veroorsaak het dat sy nie vir haar man wou
vertel het van die aanranding en belediging nie?
[52].
Vierdens sluit hierdie getuienis van die
respondent oor haar hartseer egter weer mooi aan by die appellant se
weergawe dat die plaas
daardie dag van 29 Januarie 2009 reeds
aan hom verkoop is.  Slegs dan sou die respondent daardie aand
‘n rede gehad
het om hartseer te voel om die plaas te verloor.
[53].
Wat verder pla, wanneer dit kom by die
benadering dat ‘n Landdros gewoonlik in ‘n beter posisie
is om te oordeel oor
getuies se voorkoms en gedrag, is die duidelik
vyandige houding jeens die appellant wat reeds tydens die Landdros se
evaluasie
van die getuienis as ‘n geheel uit die uitspraak
straal.
[54].
Die Landdros het bevind dat die appellant
die hele jag-voorval uit proporsie opgeblaas het, dat die appellant
helikopters ontbied
het en dat dit aanduidend sou wees van “
the
type of character the Defendant is
”.
[55].
Daar was geen getuienis dat die appellant
helikopters ontbied het nie.  Dit was sy onbetwiste getuienis
dat hy bloot die Polisie
en vir Natuurbewaring in kennis gestel het
dat iemand jag op die grond, en dat hy nie toe eers geweet het wie
dit was nie.
[56].
Die Landdros het die appellant in haar
uitspraak ook beskryf as ‘n “
strong
cruel male
” en ‘n “
bully
who looks down upon those who happen to be different from him be it
through the colour of their skin or their gender
”.
[57].
Hierdie tipe taal is ongelukkig na my
oordeel nie aanduidend van ‘n onbevange en objektiewe
benadering tot die getuienis as
‘n geheel nie.
[58].
Ek is dus van oordeel dat die Landdros
fouteer het deur te bevind dat die respondent die voorval, in die
besonderhede wat sy beweer
het, op ‘n oorwig van
waarskynlikhede bewys het.
[59].
Wat die teeneis betref, was die bewering in
paragraaf 2 daarvan soos volg:

Die
Eiseres het Verweerder al op verskeie geleenthede en deur middel van
meer as een prokureur beskuldig van aanranding en naamskending
welke
sake telkens van die hand gewys of gestaak is.”
[60].
Daar was geen getuienis hoegenaamd van
verskeie geleenthede waar die appellant al beskuldig was van
aanranding en naamskending en
waar daardie sake telkens van die hand
gewys of gestaak is nie.
[61].
Die teeneis was ook nie voorwaardelik, en
onderworpe aan die afwysing van hierdie hoofeise nie, sodat moontlik
gesê sou kon
word dat daar verwys is na hierdie bepaalde
hoofeise nie.
[62].
Daar is ook nie enige gesag aan ons
voorgehou vir die proposisie dat die afwysing van ‘n aksie ‘n
litigant sondermeer
sal blootstel aan ‘n eis vir naamskending
nie.
[63].
Dit is beslis ook nie hierdie Hof se
bevinding dat die respondent se aksie kwaadwilliglik ingestel is nie,
of met die opset om die
appellant in sy eer en reputasie te krenk
nie.
[64].
Dit is ook nie eers hierdie Hof se
beslissing dat die betrokke voorval nie plaasgevind het nie;
bloot dat dit nie op ‘n
oorwig van waarskynlikhede bewys is
nie.
[65].
Daarom meen ek dat die bevele wat die
Landdros moes gemaak het ten aansien van die hoofeise bevele moes
gewees het van absolusie
van die instansie.
[66].
Na my oordeel was die Landdros dus korrek
in die afwysing van die teeneis.
[67].
Wat betref die koste van die appèl
sal sulke bevele beteken dat die appellant tot ‘n mate
suksesvol was betref die
appèl teen die toestaan van die
hoofeise, ten aansien waarvan eintlik aangevoer is dat hulle afgewys
moes gewees het, en
onsuksesvol ten aansien van die appèl teen
die afwysing van die teeneis.
[68].
Ek meen dat die billike en praktiese
benadering in die omstandighede dan sou wees dat elke party sy eie
koste in die appèl
dra.
[69].
Wat betref die verhoorkoste het die
Landdros eenvoudig gelas dat die appellant die koste moes betaal, wat
sou insluit die advokaatsgelde.
[70].

n Bevel van absolusie van die
instansie sou egter die tegnies korrekte bevel gemaak het dat die
Respondent die koste van haar eise
moes betaal, en dat die appellant
dan die koste van sy onsuksesvolle teeneis moes dra.
[71].
Omdat alles uiteindelik egter maar net, en
nieteenstaande wat gepleit is in die teeneis, gedraai het om een
beweerde voorval en
die gevolge daarvan en van die instel van die
aksie op grond daarvan, meen ek dat die billike benadering ook daar
sou gewees het
om elke party sy eie koste te laat betaal.
[72].
Die volgende bevele word dus hierin
verleen:
1.
DIE APPéL TEEN DIE TOESTAAN VAN DIE
RESPONDENT SE HOOFEISE SLAAG EN DIE BETROKKE BEVELE VAN DIE LANDDROS
WORD TERSYDE GESTEL
EN VERVANG MET DIE VOLGENDE BEVEL:

IN
RESPECT OF BOTH CLAIMS OF THE PLAINTIFF ABSOLUTION FROM THE INSTANCE
IS ORDERED
.”
2.
DIE APPéL TEEN DIE AFWYSING VAN DIE
TEENEIS MISLUK EN DIE AFWYSING DAARVAN WORD BEKRAGTIG.
3.
DIE LANDDROS SE KOSTEBEVEL WORD TERSYDE
GESTEL EN VERVANG MET DIE VOLGENDE:

THE
PLAINTIFF AND THE DEFENDANT SHALL EACH BEAR THEIR OWN COSTS OF THE
ACTION.

4.
ELK VAN DIE PARTYE SAL SY EIE KOSTE VAN DIE
APPÈL DRA.
_____________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE AFDELING
Ek stem saam.
______________________
S ERASMUS
WAARNEMENDE REGTER
NOORD-KAAPSE AFDELING
Nms
Appellant:

Adv. J.J. Shreuder (iov CM DE BRUIN & VENNOTE)
(ELLIOT MARIS
WILMANS & HAY – Nms Eiseres)
Nms
Respondent:
Mnr. C.J. De Jager (iov DE JAGER
PROKUREURS)