About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2015
>>
[2015] ZANCHC 33
|
|
Plaatjies v Die Staat (66/2012) [2015] ZANCHC 33 (27 March 2015)
IN
DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse
Afdeling, Kimberley)
Nie verslagwaardig
Sirkuleer aan regters
Sirkuleer aan
streeklandroste
Saakno:
/ Case number:
CA & R 66 / 2012
Datum verhoor: / Date
heard:
23 / 02 / 2015
Datum gelewer: / Date
delivered:
27
/ 03 / 2015
In die appèl van:
XOLANI
PLAATJIES
Appellant
en
DIE
STAAT
Respondent
Coram:
Kgomo, RP
et
Lacock,
R
UITSPRAAK OP APPÈL
LACOCK,
R
[1] Die appellant (wat
toe 25 jaar oud was) is op 22 Januarie 2010 in die Streekhof, De Aar,
skuldig bevind aan vier oortredings
van artikel 3 van die
Wysigingswet op die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante
Aangeleenthede) Wet 32 van 2007. Die vier oortredings
is daarna
saamgeneem vir doeleindes van vonnis, en is hy gevonnis tot
lewenslange gevangenisstraf. Die Hof
a quo
per Streekhof
Landdros Venter, het bevind dat die appellant die klaagster meer as
een keer verkrag het, dat die oortredings resorteer
onder die
voorskrifte van artikel 51(1) van Wet 105 van 1997, saamgelees met
Deel I van Bylae 2 van hierdie Wet (dit wil sê
dat die
voorgeskewe minimum vonnis een is van lewenslange gevangenisstraf) en
dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede
aanwesig was wat
haar sou regverdig om ‘n mindere vonnis dan die voorgeskrewe
minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf
die appellant op te lê
nie.
Die
appellant kom nou in hoër beroep teen sowel die skuldigbevinding
en die vonnis hom opgelê.
[2]
Die staatsaak, en soos bewese bevind deur die Streekhof Landdros, kan
kortliks as volg saamgevat word.
2.1
Die klaagster, destyds ‘n 68 jarige vrou, het gewoon in ‘n
drievertrek woning te Blokstraat 12 in die woonbuurt
Barcelona, De
Aar. In dieselfde woning het ook gewoon haar “grootmaak kind”
(N), laasgenoemde se vriend (die appellant)
met wie N in ‘n
saamleefverhouding was, hul 2-jarige kind, asook ‘n 4-jarige
kleinkind van die klaagster en kind van
N, (A).
2.2
Die nag van 17 Oktober 2008 het die klaagster en A op een bed in een
van die slaapkamers in bovermelde woning geslaap. Die appellant
en
die baba was in die kombuis. Die appellant het die kamer waar die
klaagster en A geslaap het, binnegekom, die klaagster se damesbroekie
uitgetrek, aan haar te kenne gegee dat hy gemeenskap met haar wou
hou, en sy vingers drie keer in haar vagina gedruk. Nadat die
appellant sy broek uitgetrek het, het hy gepoog om sy penis in die
vagina van die klaagster te druk, maar kon dit slegs teen daardie
gedeelte van haar liggaam tussen die vagina en die anus druk. Geen
penetrasie van óf die vagina óf die anus het
plaasgevind met die penis van die appellant, en penetrasie van die
vagina van die klaagster het slegs met die vingers van die appellant
plaasgevind.
2.3 Na
aanleiding van die voormelde handelinge van die appellant het die
klaagster geskree, het A wakker geskrik en gesien dat die
appellant
bo-op die klaagster lê. Terselfdertyd het N aan die deur
geklop, het die appellant die deur oopgesluit, en het
daar ‘n
oor-en-weer geskel en geskree losgebreek. A het onder andere aan N
gesê dat die appellant die klaagster wou
molesteer.
[3]
Die appellant het ontken dat hy opsetlik sy vingers in die vagina van
die klaagster gedruk het of gepoog het om sy penis in
haar vagina te
druk. Hy beweer dat hy gedurende die nag die baba wat by hom in die
kombuis geslaap het na die kamer van die klaagster
geneem het en haar
tussen die klaagster en A neergelê het. Terwyl hy die kind
neergelê het, het hy gestruikel en sodoende
op die klaagster
geval. Hy getuig verder dat hy moontlik per abuis sy vingers in die
vagina van die klaagster kon gedruk het toe
hy probeer het om regop
te kom nadat hy op die klaagster geval het.
[4]
Ten aansien van die skuldigbevinding is daar drie aspekte wat
oorweging verg.
[5]
Eerstens ontstaan die vraag of die Landdros tereg die weergawe van
die appellant as vals verwerp het en bevind het dat die Staat
se
weergawe van die gebeure bo redelike twyfel bewys is.
5.1 Na
my mening kan die feitebevindinge van die Landdros hieraangaande
geensins gekritiseer word nie en regverdig dit geen inmenging
nie.
5.2 Sy
het bevind dat beide die klaagster en A geloofwaardige en betroubare
getuies was wat mekaar in alle wesenlike aspekte gestaaf
het.
Daarteenoor het sy bevind dat die weergawe van die appellant so
onwaarskynlik is dat dit as vals verwerp moes word. Ook hierdie
bevinding is myns insiens bo enige kritiek verhewe.
[6]
Tweedens ontstaan die vraag of die Landdros korrek was om te bevind
dat die appellant hom aan drie afsonderlike dade van verkragting
skuldig gemaak het deur sy vingers drie maal in die vagina van die
klaagster te druk, en of die drie handelinge nie deel gevorm
het van
‘n enkele opset om sy vingers in die vagina van die klaagster
te druk nie.
6.1 In
S v BLAAUW
,
1999 (2) SASV 295 (W) is ten aansien van die gemeenregtelike
omskrywing van verkragting, die volgende aangaande meerdere dade
van
penetrasie gesê:
“
Mere
and repeated acts of penetration cannot without more, in my mind, be
equated with repeated and separate acts of rape. A rapist
who in the
course of raping his victim withdraws his penis, positions the
victim’s body differently and then again penetrates
her, will
not, in my view, have committed rape twice. This is what I believe
occurred when the accused became dissatisfied with
the position he
had adopted when he stood the complainant against a tree. By causing
her to lie on the ground and penetrating her
again after she had done
so, the accused was completing the act of rape he had commenced when
they both stood against the tree.
He was not committing another
separate act of rape. Each case must be determined on its own facts.
As a general rule the more closely
connected the separate acts of
penetration are in terms of time (ie the intervals between them) and
place, the less likely a court
will be to find that a series of
separate rapes has occurred.
”
(per
Borchers, R te 300a tot c).
Sien
verder
S v Tladi
,
2013 (2) SASV 287 (HHA) waar die voormelde aanhaling uit Blaauw
(supra) met goedkeuring aangehaal is in paragraaf 12 van die
uitspraak.
6.2 In
die onderhawige saak is dit duidelik dat die appellant se eerste en
tweede gevroetel met sy vingers in die vagina van die
klaagster
telkens onderbreek is deurdat die klaagster hom weggeskop het. Hy
het, aldus die klaagster, onmiddellik ná elke
kortstondige
onderbreking weer voortgegaan om sy vingers in haar vagina te druk.
Dit het telkens gebeur terwyl die klaagster op
haar bed gelê
het. In aggenome die plek en tydsverloop asook die oorsaak vir die
kortstondige onderbrekings van die handeling
van die appellant, sal
dit gekunsteld wees om te bevind dat die appellant op drie
afsonderlike geleenthede die opset gevorm het
om sy vingers in die
vagina van die klaagster te druk. Na my mening is die tersaaklike
gebeure hierin kentekenend van ‘n
enkele opsetlike handeling
(om sy vingers in die vagina van die klaagster te druk) wat by twee
geleenthede momenteel deur die klaagster
onderbreek was.
6.3
Die skuldigbevinding aan drie afsonderlike dade van verkragting was
dus nie geregverdig nie. Soos hieronder aangetoon het hierdie
gevolgtrekking ‘n wesenlike invloed op die vonnis die appellant
opgelê.
[7] Derdens is dit nodig
om die bevinding van die Landdros naamlik dat die druk van sy penis
deur die appellant op die liggaam van
die klaagster tussen haar
vagina en anus as ‘n daad van “penetrasie”
aangemerk kan word, te oorweeg. Die bevinding
van die verhoorhof
hieraangaande lees as volg:
“
Die
Wet op Seksuele Misdrywe Wet 32 van 2007 omskryf seksuele penetrasie
of te wel verkragting in Artikel 3 as volg:
‘
Iemand
wat wederregtelik en opsetlik ‘n handeling van seksuele
penetrasie met ‘n Klaer of Klaagster sonder die toestemming
van
daardie persoon pleeg, is skuldig aan die misdryf van verkragting.’
Die
Wet spel dan ook in die definisie afdeling uit wat seksuele
penetrasie is en word dit omskryf as ‘n handeling in welke
mate
ook al veroorsaak deur die geslagsorgane van iemand in of verby die
geslagsorgane, anus of mond van iemand anders. Die Wet
stip ook
duidelik uit dat verkragting nie meer soos in die Gemenereg slegs
gepleeg word deur ‘n penis wat ‘n vagina
binnedring nie,
maar dat dit ook byvoorbeeld vingers insluit. ‘n Mens mag
moontlik vra, wat beteken die woorde “in
of verby” in
Engels “into or beyond”. Nou hierdie woorde is nie
omskryf deur die wetgewer nie. Myns insiens moet
die Hof die gewone
grammatikale betekenis aan daardie woorde heg. By nagaan van
woordeboeke is dit baie duidelik, en is die woorde
eintlik heel
eenvoudig. ‘In of verby die geslagsoragane en/of anus’
val absoluut binne die kader van dit wat die Klaagster
beweer die
Beskuldigde gedoen het – naamlik hy het gepoog om haar te
penetreer, hy kon dit nie regkry nie en hy het gepoog
om haar te
penetreer met sy penis. Die penis was dus op daardie stadium in die
omgewing van die vaginale area. Die penis het verbybeweeg
tussen die
vaginale area en die anus. Ek is gevolglik oortuig, ook wat aanklag 4
aanbetref, dat die daad wat die Beskuldigde gepleeg
het val binne die
kader van Artikel 3 Wet 32 van 2007.
”
Na my
mening het die Landdros ook hieraangaande ‘n mistasting begaan.
7.1 Artikel 3 van Wet 32
van 2007 (die Wet) lees as volg:
“
Verkragting.
-Iemand
(A) wat wederregtelik en opsetlik ‘n handeling van seksuele
penetrasie met ‘n klaer of klaagster (B) sonder
die toestemming
van B, pleeg, is skuldig aan die misdryf van verkragting.
”
Die
woorde “seksuele penetrasie” word as volg omskryf in die
woordomskrywingsartikel van die Wet:
“”
seksuele
penetrasie”
ook
‘n handeling wat penetrasie, in welke mate ook al, veroorsaak
deur-
(a)
die geslagsorgane van iemand in of
verby die geslagsorgane, anus, of mond van iemand anders;
(b)
enige ander deel van die liggaam van
iemand of, enige voorwerp, met inbegrip van enige deel van die
liggaam van ‘n dier, in
of verby die geslagsorgane of anus van
iemand anders; of
(c)
die geslagsorgane van ‘n dier
in of verby die mond van iemand anders.
”
Die
handelinge in subparagrawe (a) tot (c) van die omskrywing van
“seksuele penetrasie” word voorafgegaan en gekwalifiseer
deur die woorde “’n handeling ... wat penetrasie
veroorsaak.” Wat ookal die handelinge is soos omskryf in
subparagrawe
(a) tot (c) kan dit alleen as “seksuele
penetrasie” aangemerk word indien daardie handelinge neerkom op
penetrasie
(in welke mate ookal). Uit die ondubbelsinnige bewoording van
die artikel is dit duidelik dat “seksuele penetrasie”
nie
sonder penetrasie kan plaasvind nie. Die HAT gee die betekenis van
“penetrasie” as “deurdringing” aan.
Die woord
“penetrate” word in die CONCISE OXFORD DICTIONARY omskryf
as “force a way into or through”.
7.2 Uit hoofde hiervan
kan die “verby beweeg (van die penis) tussen die vaginale area
en die anus” soos deur die Landdros
beskryf geensins as
“seksuele penetrasie” aangemerk word nie, bloot omdat
daar geen penetrasie van watter aard ookal,
plaasgevind het nie.
7.3
Vervolgens vind ek dit nie nodig om te handel met die betekenis van
die woord “verby” soos gebesig in subartikels
(a) tot (c)
van die tersaaklike woordomskrywingsartikel nie. Ek volstaan bloot
daarmee dat dit nooit kan beteken, soos die Landdros
klaarblyklik
geredeneer het, “langsaan verby of naby die geslagorgane, anus
of mond verby beweeg” sonder dat penetrasie
plaasvind nie.
Indien gelet word op die woord “beyond” in die Engelse
teks, wil dit my eerder voorkom asof die Wetgewer
hier penetrasie in
gedagte gehad het wat verder of dieper strek as bloot die
geslagsorgane, anus of mond van ‘n persoon soos
byvoorbeeld tot
in daardie gedeelte van die liggaam geleë agter die
geslagsorgane, anus of mond van ‘n persoon.
7.4
Steun vir die gevolgtrekking naamlik dat “seksuele penetrasie”
per definisie nie deur die Wetgewer bedoel is om
sonder penetrasie
plaas te vind nie, is te vinde in die woordomskrywing van “seksuele
skending” waarvan subartikel
(a)(i) as volg lees:
“”
seksuele
skending”
ook
enige handeling wat-
(a)
direkte of indirekte kontak tussen
die-
(i)
geslagsorgane of anus van iemand of,
in die geval van ‘n vrou, haar borste, en enige deel van die
liggaam van iemand anders
of ‘n dier, of enige voorwerp, met
inbegrip van enige voorwerp wat die geslagsorgane of anus van iemand
of ‘n dier
voorstel of naboots;
”
7.5 Na
my mening kon die appellant, wat betref aanklag 4, hom hoogstens
skuldig gemaak het aan ‘n oortreding van artikel 5
van die Wet
wat as volg lees:
“
Seksuele
aanranding.
- (1) Iemand (“A”)
wat wederregtelik en opsetlik ‘n klaer of klaagster (“B”),
sonder die toestemming
van B, seksueel skend, is skuldig aan die
misdryf van seksuele aanranding.
Aangesien
hierdie handeling van hom myns insiens ook in tyd en plek so nou
verbind is aan die verkragting waarmee hierbo volledig
gehandel is,
meen ek dat ‘n afsonderlike skuldigbevinding aan ‘n
oortreding van artikel 5 van die Wet sal neerkom op
‘n
duplikasie van aanklagtes.
[8]
Opsommerderwys kom ek dus tot die gevolgtrekking dat die
skuldigbevinding van die appellant aan vier afsonderlike aanklagtes
van verkragting ter syde gestel behoort te word en vervang te word
met ‘n skuldigbevinding aan slegs een aanklag van verkragting.
[9]
Die voormelde gevolgtrekking het dan ook tot gevolg dat die minimum
vonnis waaraan die appellant nou blootstaan nie een is van
lewenslange gevangenisstraf nie, maar wel een van 10 jaar
gevangenisstraf. Sien
Artikel 51(2)(b)(i)
van Wet 105 van 1997
saamgelees met Deel III van Bylae 2 tot die Wet. Na my mening is
hierdie Hof in ‘n soortgelyke posisie
as die Verhoorhof om ‘n
gepaste vonnis te oorweeg en sal dit geen doel dien om die
aangeleentheid terug te verwys na die
Verhoorhof om
de novo
vonnis te oorweeg nie.
[10]
Die persoonlike omstandighede van die appellant is as volg deur die
Landdros opgesom:
“
Die
Hof neem hier in aanmerking dat u 25 jaar oud is, alhoewel u
ongetroud is, is u in ‘n saamleefverhouding betrokke met
die
klaagster se kleindogter. Uit daardie verhouding is reeds een kind
gebore en dit blyk dat die getuie swanger is tans. U sê
dan ook
dat u die ander kind aangeneem het, ek sal dit so aanvaar. Die Hof
sal verder meer in aanmerking neem dat u nou ‘n
werk bekom het
en ‘n salaris van R1,100.00 daar kan verdien. Verder meer neem
die Hof in aanmerking dat u graad 10 op skool
voltooi het en dat u by
die Jeug Ontwikkelings Forum betrokke is en die voorsitter is. Die
Hof neem ook in aanmerking dat u ‘n
sieklike moeder het wat
probleme ondervind om te kan loop. Die belangrikste faktor vandag is
sekerlik dan ook die feit dat u vandag
as eerste oortreder voor die
Hof staan. Verder meer neem die Hof in aanmerking, alhoewel dit nie
verder, vreeslik verder geneem
is nie, dat drank in ‘n mate ook
‘n rol kon gespeel het by die pleging van die misdryf.
”
[11]
Vir haar gevolgtrekking dat geen wesenlike en dwingende omstandighede
aanwesig is wat haar sou regverdig om ‘n mindere
vonnis dan die
voorgeskrewe minimum vonnis op te lê nie, het die Landdros as
volg geredeneer:
“
Wesenlike
en dwingende omstandighede is nie deur die wetgewer omskryf nie. Wat
van die Hof geverg word is om na die kumulatiewe
effek van die
strafverswarende en strafversagtende faktore te gaan kyk.
As’t
ware moet die Hof ‘n proporsionaliteit vind tussen die
oortreding gepleeg, of oortredings soos in u geval, en dan
te
besluit, is lewenslange gevangenisstraf gepas of sal dit in die
omstandighede skokkend onvanpas wees
.
(my
nadruk)
Nou
ten einde te bepaal of daar wesenlike en dwingende omstandighede is,
is verskeie hooggeregshofsake nagegaan, maar seer sekerlik
die
belangrikste leiding word gevind in Appèlregter Marais se
uitspraak in
Staat teen Malgas
2001 (1) SASV 496 HHA
waarin die
Geleerde Appèlregter vermeld dat Artikel 51 die klem verskuif
na die misdryf en die publiek se behoefte aan effektiewe
beskerming.
‘n Hof mag nie ligtelik afwyk van die voorgeskrewe vonnis nie.
Alle relevante faktore moet opgeweeg word en na
die uiteindelike
kumulatiewe impak van al die omstandighede moet gekyk word ten einde
te bepaal of dit ‘n afwyking van die
voorgeskrewe vonnis
regverdig. Die Staatsaanklaer het aangevoer dat daar geen sodanige
faktore voor die Hof geplaas is nie en dat
lewenslange
gevangenisstraf in die omstandighede gepas is. U regsverteenwoordiger
het aangevoer dat die Hof die feit dat u as algehele
oortreder voor
die Hof staan, 25 jaar oud is in aanmerking moet neem by die bepaling
van ‘n gepaste vonnis. Nou die feit
dat u ‘n eerste
oortreder is, alleenstaande, is natuurlik reeds verdiskonteer deur
die wetgewer. Daardie feit in isolasie
beskou, is nie genoegsaam om
te bevind dat dit alleen wesenlik en dwingend as omstandigheid
aangemerk kan word nie. Die feit dat
u betreklik jonk is, 25 jaar, is
ook verdiskonteer deur die wetgewer aangesien die wetgewer uitdruklik
uitstip dat in geval van
persone 18 jaar en ouer, sodanige vonnisse
opgelê moet word tensy die Hof bevind dat daar wesenlike en
dwingende omstandighede
is. Myns insiens is hierdie twee faktore en
moontlik tesame met die inname van drank nie genoegsaam om aangemerk
te kan word as
synde wesenlik en dwingend nie.
”
11.1
Eerstens meen ek dat die toets soos aangewend deur die Landdros in
die laaste sin van die eerste paragraaf hierbo aangehaal,
foutief is.
Die korrekte toets is as volg deur die Hoogste Hof van Appèl
geformuleer in
S v MALGAS
,
2001 (1) SASV 469 (HHA) te 482 d tot f:
“
The ultimate
impact of all the circumstances relevant to sentencing must be
measured against the composite yardstick (“substantial
and
compelling”) and must be such as cumulatively justify a
departure from the standardised response that the legislature
has
ordained. In applying the statutory provisions, it is inappropriately
constricting to use the concepts developed in dealing
with appeals
against sentence as the sole criterion. If the sentencing court on
consideration of the circumstances of the particular
case is
satisfied that they render the prescribed sentence unjust in that it
would be disproportionate to the crime, the criminal
and the needs of
society, so that an injustice would be done by imposing that
sentence, it is entitled to impose a lesser sentence.”
11.2
Tweedens kom dit vir my voor dat onvoldoende oorweging deur die
Landdros gegee is aan die aard en erns van die misdryf gepleeg
deur
die appellant. As in gedagte gehou word dat hier die minimum
van geweld gebruik is, die klaagster uiters geringe beserings
opgedoen het, dat die verkragting alleen daarin geleë is dat
penetrasie van die geslagsdele van die klaagster met die vingers
geskied het, en dat die appellant sy manewales gestaak het toe die
klaagster begin skree en die appellant geskel het, kan hierdie
handelinge beslis nie aangemerk word as een van ‘n meer
ernstige geval van verkragting nie. Sien
S
v ABRAHAMS
, 2002 (1) SASV 116 (HHA) te
paragraaf 29.
11.3
Die Landdros het tereg in ag geneem dat die ouderdom, liggaamsbou en
gesondheidstoestand van die klaagster, asook die feit
dat die
appellant in ‘n verhouding met haar kleindogter was en hulle
saam in een huis gewoon het, as verswarend aangemerk
behoort te word.
11.4
Ek is egter van oordeel dat, indien gebalanseerd oorweging gegee word
aan die uiters gunstige persoonlike omstandighede van
die appellant,
die aard van die oortreding soos hierbo mee gehandel, die belange van
die gemeenskap asook die vernederende effek
van die gebeure op die
klaagster, ‘n onreg die appellant aangedoen sal word indien die
minimum voorgeskrewe vonnis hom opgelê
sou word.
[12]
Bygevolg word die volgende bevel hierin gemaak:
1.
DIE SKULDIGBEVINDINGE AAN VIER
AAN-KLAGTES VAN VERKRAGTING WORD TER SYDE GESTEL EN VERVANG MET ‘N
SKULDIG-BEVINDING AAN SLEGS
EEN AANKLAG VAN VERKRAGTING.
2.
DIE VONNIS DIE APPELLANT OPGELê
WORD TER SYDE GESTEL EN VERVANG MET EEN VAN 8 (AGT) JAAR
GEVANGENISSTRAF.
3.
DIE VONNIS WORD TERUGGEDATEER NA 22
JANUARIE 2010.
_________________
HJ LACOCK
REGTER
Ek stem saam.
__________________
F.D. KGOMO
REGTER-PRESIDENT
Vir die Appellant:
Adv. N.M. Mazibukwana (iov Regshulpraad)
Vir die Respondent:
Adv. J. Rosenberg (iov DOV)