About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2015
>>
[2015] ZANCHC 47
|
|
Scheffers v S (103/2014) [2015] ZANCHC 47 (30 January 2015)
IN
DIE Hoë HOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Hoë Hof,
Kimberley)
Rapporteerbaar:
Nee
Sirkuleer
onder Regters: Ja
Sirkuleer
onder Landdroste: Nee
Sirkuleer
onder Streeklanddroste: Nee
Saak
No: CA&R 103/2014
Saak
Aangehoor: 26/01/2015
Datum
gelewer: 30/01/2015
In
die saak tussen:
SCHEFFERS,
JACO
KWAAIMAN
Appellant
en
DIE
STAAT
Respondent
Coram:
Lacock R et Olivier R
UITSPRAAK
Olivier
R:
[1].
Die appellant Mnr Jaco Scheffers het saam met twee ander
beskuldigdes, die een sy broer Mnr Pieter Scheffers en die ander Mnr
Ronnie Hendricks, in die Streekhof te De Aar tereggestaan op
aanklagte van roof met verswarende omstandighede en moord. Die
appellant
is skuldig bevind op die aanklag van moord, maar
vrygespreek op die aanklag van roof, terwyl sy twee medebeskuldigdes
op beide
aanklagte vrygespreek is.
[2].
Daar is bevind dat die moord met voorbedagte rade gepleeg is en dat
dit dus vir vonnisdoeleindes ressorteer het onder die bepalings
van
Deel I van Bylae 2 tot die Strafregwysigingswet . Die voorgeskrewe
vonnis vir so ‘n moord is lewenslange gevangenisstraf,
en dit
is die appellant inderdaad opgelê nadat bevind is dat daar geen
wesenlike en dwingende omstandighede was wat ‘n
afwyking van
daardie voorgeskrewe vonnis regverdig het nie.
[3].
Die oorledene is dood weens drie steekwonde wat hy aan sy nek
opgedoen het tydens ‘n voorval laat die nag van 23 September
2010 in die Residentia woongebied te De Aar.
[4].
Dit was die vervolging se saak, hoofsaaklik by monde van Me
Emmarentia Lubbe, Mnr Isak Gordon Adams en Me Glenys Christie
Maropeng, dat die appellant en sy twee medebeskuldigdes daardie nag
die oorledene gekonfronteer het, eers in ‘n stegie of
‘n
sogenaamde gang en daarna in ‘n straat genaamd Patryslaan. Die
appellant sou geld van die oorledene geëis
het, terwyl sy
medebeskuldigdes die oorledene toe onderskeidelik met ‘n byl en
‘n mes bedreig het. Die getuienis was
dat die oorledene toe
weggehardloop het, dat die appellant hom gejaag het, dat die
oorledene geval het en opgestaan het en verder
gehardloop het, maar
dat hy uiteindelik geval het waar die appellant hom toe daar die
voormelde fatale beserings toegedien het.
[5].
Die appellant het in pleitverduideliking betrokkenheid by die dood
van die oorledene ontken. Uit stellings in kruisverhoor
aan die
staatsgetuies het dit geblyk dat sy saak was dat hy nie die betrokke
aand saam met sy medebeskuldigdes beweeg of verkeer
het nie en
geensins betrokke was by die gebeure in die stegie of in Patryslaan
nie, en dat hy eers na afloop van alles afgekom
het op die oorledene
waar hy reeds beseer gelê het.
[6].
Mnr. Cloete, die advokaat vir die appellant, het sy aanval op die
skuldigbevinding in sy betoogshoofde beperk tot kritiek op
die
getuienis van Lubbe, Adams en Maropeng en het betoog dat die
weersprekings in hulle getuienis, en in veral die geval van Adams
en
Maropeng tussen hulle getuienis en hulle polisieverklarings, gesien
moet word teen die agtergrond daarvan dat die identiteit
van die
persoon wat die oorledene gedood het in geskil was en dat hulle
getuienis daarom versigtig benader moes gewees het.
[7].
Daar was inderdaad weersprekings, ondermeer oor waarmee die appellant
gewapen sou gewees het toe hy agter die oorledene aan
is en oor of
hy, toe hy die oorledene uiteindelik die beserings sou toegedien het,
op of langs die oorledene sou gesit het terwyl
die oorledene daar
gelê het.
[8].
Adams het in sy verklaring glad nie die naam van die appellant
vermeld as een van die persone wat die oorledene gekonfronteer
het
nie. Hy het in sy verklaring bloot die appellant se broer (en
medebeskuldigde) geïdentifiseer as die persoon wat die
oorledene
met die mes bedreig het voordat die oorledene weggehardloop het. Hy
het hom egter nie in sy verklaring uitgelaat oor
of hy enige van die
ander twee persone wat die oorledene gekonfronteer het herken het of
sou kon identifiseer nie. Die betrokke
verklaring lyk na ‘n
tipiese voorbeeld van die berugte onvolledigheid van baie
polisieverklarings, wat immers nie bedoel
is om ‘n presiese en
volledige weergawe te wees van wat die getuie mag getuig nie , eerder
as na ‘n aanduiding van
Adams se gebrekkige waarnemings of van
sy oneerlikheid. Adams het in elk geval toe weggehardloop en het nie
die toediening van
die fatale beserings waargeneem nie.
[9].
Maropeng, wat wel ook hierdie deel van die gebeure aanskou het en wat
vir Lubbe daarin gestaaf het dat die appellant die persoon
was wat
die oorledene die steekwonde toegedien het, het in haar
polisieverklaring na die persoon wat die oorledene gedood het verwys
as ‘n onbekende persoon. Sy het egter in haar getuienis
verduidelik dat sy dit so gestel het omdat sy nie die appellant
by
name geken het nie, hoewel sy hom al voorheen oor ‘n lang
periode periodiek in De Aar gesien het.
[10].
Wat betref die kritiek teen die getuienis van Lubbe en Maropeng oor
waarmee die appellant gewapen sou gewees het toe hy agter
die
oorledene aan is, was dit gemenesaak dat die oorledene as gevolg van
steekwonde beswyk het. Die byl sou volgens die getuienis
ook aan die
een kant daarvan ‘n skerp punt, in teenstelling met die plat
lem of kapgedeelte aan die ander kant, gehad het.
Of die steekwonde
daardeur, of met ‘n mes, toegedien is of kon gewees het, was
nie die geskilpunt nie. Die geskilpunt was
bloot wie dit toegedien
het, en nie waarmee nie.
[11].
Die Streeklanddros het al drie hierdie getuies waargeneem en het
hulle beskou as geloofwaardige getuies. Hierdie geleentheid
wat die
Streeklanddros gehad het om in die atmosfeer van die verhoor die
getuies persoonlik waar te neem is juis die vernaamste
rede waarom
daar nie op appél ligtelik ingemeng sal word met ‘n
verhoorhof se feitebevindinge nie .
[12].
Ook in die lig van wat volg, is ek hoegenaamd nie oortuig dat die
Streeklanddros verkeerd was in haar bevinding dat die appellant
die
persoon was wat die oorledene gedood het nie.
[13].
Beide Lubbe en Adams het die appellant voor die voorval reeds vir
jare geken en het verduidelik op watter basis. Dit opsigself
al
verlaag die risiko van ‘n foutiewe identifikasie aansienlik .
[14].
Alhoewel die beligting in die stegie swak was, was Patryslaan, en die
spesifieke plek daar waar die oorledene gedood is, helder
verlig.
[15].
Al drie hierdie getuies het die geleentheid gehad om die drie
aanvallers nie net in die stegie waar te neem nie, maar ook
daarna in
Patryslaan, waar hulle ondermeer gesien het hoe die appellant se
broer die oorledene met ‘n mes bedreig het; iets
wat nie van
die kant van die betrokke medebeskuldigde in geskil was nie.
[16].
Lubbe en Maropeng het daarna nog aanskou hoe die appellant die
oorledene gejaag het tot waar hy hom gedood het, en het dus
nog
verdere geleentheid gehad om hom waar te neem.
[17].
Beide van hulle was redelik naby toe hulle die toediening van die
steekwonde aanskou het.
[18].
Lubbe se beskrywing van die appellant se blou Dickey langbroek en wit
tekkies is nie alleen onbetwis gelaat nie, maar is inderdaad
gestaaf
deur die getuienis van Sersant Roelofse, wat die appellant kort ná
die voorval by ‘n taverne gearresteer het
en hom so geklee
aangetref het.
[19].
Die forensiese getuienis was dat daar toe bloed van die oorledene op
daardie broek en tekkies, en ook op die appellant se
hemp, was.
[20].
Dan is daar die getuienis van Mnr De Bruin dat hy die drie
beskuldigdes wel vroeër die aand saam aangetref het by ‘n
taverne in die omgewing, strydig met die stelling namens die
appellant dat hy nooit daardie aand saam met die ander twee
beskuldigdes
beweeg of verkeer het nie. De Bruin se getuienis was
verder dat hy toe na ‘n ander taverne geloop het, waar die
beskuldigde
Hendricks hom met ‘n byl probeer kap het voordat
die appellant die byl geneem het en die appellant en die ander twee
beskuldigdes
toe daar weg is, dit wil sê steeds die drie van
hulle saam.
[21].
De Bruin se getuienis was dat die appellant later teruggekeer het,
dat hy toe senuweeagtig was en dat De Bruin toe bloed op
die
appellant se tekkies waargeneem het. Die appellant is, soos reeds
gemeld, by daardie taverne aangetref met, onder andere,
die tekkies
met bloed daarop.
[22].
De Bruin het laastens getuig dat hy later ook aangehou is en dat hy
toe op ‘n stadium in dieselfde sel as die appellant
aangehou
is. Sy getuienis was dat die appellant daar vir hom gesê het
dat hy valslik moes verklaar dat die appellant die
hele aand saam met
hom by die taverne was, omdat die appellant dit volgens hom so getuig
het in sy borgaansoek.
[23].
Geen rede is voorgehou vir waarom hierdie getuienis van De Bruin nie
aanvaar moes gewees het nie.
[24].
‘n Transkripsie van die getuienis van die appellant tydens die
borgaansoek toon duidelik dat hy wel daar beweer het
dat hy die hele
aand saam met De Bruin verkeer het, net soos wat hy vir De Bruin in
die sel gaan vertel het.
[25].
Ek meen dat die Streeklanddros korrek was in die bevinding dat daar
‘n verdoemende prima facie saak teen die appellant
uitgemaak is
deur die vervolging, waarop die appellant verkies het om nie onder
eed te antwoord nie. Sy verduideliking, by monde
van sy destydse
regsverteenwoordiger, dat die oorledene se bloed op sy klere beland
het toe hy op hom afgekom waar hy gelê
het en reeds beseer was,
is nie getuienis onder eed nie. Dit beteken dat die getuienis van
Lubbe en Maropeng oor hoe die oorledene
se bloed op die appellant se
klere beland het, die enigste getuienis onder eed daaroor is en
onweerlê bly.
[26].
Of die appellant op die oorledene gesit het toe hy hom beseer het of
langs sy kop gehurk of gekniel het, maak nie saak nie,
want op enige
so ‘n wyse sou die oorledene se bloed inderdaad op die
appellant se klere en skoene kon gekom het.
[27].
Na my oordeel is daar dus geen basis vir inmenging met die bevinding
dat die appellant die persoon is wat die oorledene die
fatale
beserings toegedien het nie.
[28].
Daar is ook nie gronde vir inmenging met die bevinding dat die moord
gepleeg is met die direkte opset om te dood nie; nie
met al die
steekwonde in ‘n area soos die nek en in die afwesigheid van ‘n
ander verduideliking van die kant van die
appellant nie.
[29].
Ek meen egter dat daar geen gronde was vir die bevinding van
voorbedagte rade nie. Dat die appellant die oorledene ongeprovokeerd
aangeval het, regverdig nie die afleiding dat hy die dood van die
oorledene beplan het nie. Alhoewel hy die voordeel van die twyfel
gekry het op die aanklag van roof, is alle aanduidings dat hy wel
beoog het, en moontlik selfs beplan het, om geld by die oorledene
te
vat. Sy kru eis dat die oorledene geld oorhandig, met die
aanvanklike konfrontasie en voordat die oorledene begin vlug het,
en
sy krappery in die oorledene se sak nadat hy hom beseer het, dui
daarop. Daar is egter geen enkele aanduiding dat die appellant
verder ook in elk geval boonop die dood van die oorledene vooraf
besluit of beplan het nie. Indien dit die geval was, sou ‘n
mens verwag het dat hy die oorledene reg aan die begin al sou
aangeval het, en nie eers bloot sou geëis het dat die oorledene
sy geld moes oorhandig nie.
[30].
Die getuienis van Lubbe dat die appellant, om homself te bewapen,
eers die byl by die beskuldigde Hendricks gevat het voordat
hy die
oorledene agterna gesit het, militeer ook teen so ‘n afleiding.
Indien die appellant van die begin af beplan het
om self die
oorledene te dood, sou hy homself van die begin af bewapen het.
[31].
Dat die appellant, toe die oorledene besluit het om weg te hardloop,
hom gejaag het en toe gedood het, regverdig ook nie,
alleenstaande of
selfs saam met die ander getuienis, ‘n afleiding van
voorbedagte rade nie. Dit is ewe versoenbaar met impulsiewe
optrede.
[32].
Dat die appellant die oorledene die wonde toegedien het met die
direkte opset om hom te dood, sou ook nie noodwendig beteken
dat die
moord met voorbedagte rade gepleeg is nie.
“
Dolus directus and
premeditation / preplanning are not synonymous. While premeditation
obviously results in dolus directus, the
converse is not true.”
.
[33].
In die afwesigheid van ‘n bevinding van voorbedagte rade, sou
die voorgeskrewe vonnis van lewenslange gevangenisstraf
nie van
toepassing gewees het nie. Daar is in elk geval geen aanduiding dat
enige van die appellant of sy medebeskuldigdes vooraf
ingelig is dat
dit die saak vir die vervolging sou wees dat die moord met
voorbedagte rade gepleeg is en dat daar dus ‘n
vonnis van
lewenslange gevangenisstraf voorgeskryf sou wees uit die geval van ‘n
skuldigbevinding van moord nie. Me Mabaso,
die advokaat vir die
respondent, het dan ook heel tereg toegegee dat die bevinding van
voorbedagte rade foutief was.
[34].
Daar is namens die appellant aan die hand gedoen, met welke submissie
Me Mabaso saamgestem het, dat die aangeleentheid, in
die geval van ‘n
bekragtiging van die skuldigbevinding maar ‘n inmenging met die
bevinding van voorbedagte rade, na
die Streeklanddros terug verwys
moet word vir die heroorweging van vonnis teen die agtergrond van ‘n
voorgeskrewe vonnis
van 20 (twintig) jaar gevangenisstraf, in die lig
daarvan dat die appellant se vorige veroordelings een van moord
insluit . Ek
meen dat dit inderdaad in die omstandighede die
wenslike bevel sou wees.
[35]. In
die omstandighede word die volgende bevele dus hierin gemaak:
1. DIE APPÈL TEEN DIE
SKULDIGBEVINDING MISLUK EN DIE APPELLANT SE SKULDIGBEVINDING OP DIE
AANKLAG VAN MOORD WORD BEKRAGTIG.
2. DIE APPÈL TEEN DIE VONNIS
SLAAG, DIE VONNIS VAN LEWENSLANGE GEVANGENISSTRAF WORD TERSYDE GESTEL
EN DIE AANGELEENTHEID
WORD VIR DIE HEROORWEGING VAN VONNIS NA DIE
STREEKLANDDROS TERUGVERWYS.
_____________________
C
J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Ek
stem saam.
______________________
H
J LACOCK
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Nms
Applikant/Eiser: Adv. J P Cloete
Nms
Respondent/Verweerder: Adv. J Mabaso