Mafika Farming (EDMS) Bpk v Van Rooyen and Others (4893/2014) [2015] ZAFSHC 158 (14 August 2015)

55 Reportability
Land and Property Law

Brief Summary

Property Law — Access rights — Dispute between neighboring brothers regarding access routes to farms — Applicant sought urgent interdict to remove barriers and allow access — Respondent contended that the application extended beyond spoliation and included prohibitory and mandatory interdicts — Court found that the applicant's request encompassed broader relief than initially claimed, allowing for a comprehensive examination of the issues at hand.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2015
>>
[2015] ZAFSHC 158
|

|

Mafika Farming (EDMS) Bpk v Van Rooyen and Others (4893/2014) [2015] ZAFSHC 158 (14 August 2015)

IN
DIE HOë HOF VAN SUID-AFRIKA
VRYSTAAT
AFDELING, BLOEMFONTEIN
Saaknommer.:
4893/2014
In
die saak tussen:
MAFIKA
FARMING (EDMS)
BPK
Applikant
en
JOHANNES
CORNELIS VAN ROOYEN
1st Respondent
CHRISTINA
HELENA BARTHOLOMINA
VAN
ROOYEN N.O.
2de
Respondent
ELIZABETH
CATHARENE VAN DER LINDE-
ANDERSON
N.O.
(In
hulle hoedanighede as trustees van die PH
Van
Rooyen & Seuns
Trust)

3de Respondent
JOHANNES
CORNELIS VAN ROOYEN N.O.
4de Respondent
CHRISTINA
HELENA BARTHOLOMINA VAN
ROOYEN
N.O.
5de Respondent
ELIZABETH
CATHRINE VAN DER LINDE-
ANDERSON
N.O.
(In
hul hoedanighede as trustees van die
JayceeTrust)

6de Respondent
UITSPRAAK
DEUR:
DAFFUE, R
AANGEHOOR
OP:
30 APRIL 2015
GELEWER
OP:
14 AUGUSTUS 2015
I
INLEIDING
[1]
Die essensie van die dispuut besleg te word is ‘n rusie tussen
broers.  Koning Salomo het etlike
millennia
gelede verkondig dat die Here sewe dinge verafsku, een waarvan iemand
is wat rusie stook tussen broers.  Vergelyk Spreuke
6 vers 19.
Tog het hy by geleentheid ook gesê dat as jy moeilikheid het,
is ‘n buurman wat naby is meer werd
as ‘n broer wat ver
is.  Vergelyk Spreuke 27 vers 10.  In
casu
is die broers boonop nog bure ook maar dit verhoed hulle nie om te
stry oor toegangsroetes oor die een se plaas nie.  Die
Van
Rooyen familie van Clocolan het met mekaar in geding getree en
hierdie Hof moet nou die dispuut besleg.
II
DIE
PARTYE
[2]
Mafika Farming (Edms) Bpk is die applikant in hierdie aansoek.
Petrus Hendrik van Rooyen, ook bekend as Boeks (en hieronder
so na
hom verwys te word), is ‘n mede-direkteur en -aandeelhouer en
het die funderende, repliserende en tripliserende beëdigde

verklarings namens die applikant afgelê.  Die ander
direkteure van die applikant is Mev Sovia Susara Wilhemina van Rooyen

(Mev SSW van Rooyen), Mnr Petrus Jooste van Rooyen (Piet) en Mnr Joel
Louw Marais.  Adv N Snellenburg het die aansoek namens
applikant
voor my geargumenteer.
[3]
Mnr Johannes Cornelis van Rooyen (Hans), Mev Christina Helena
Bartholomina van Rooyen en Mev Elizabeth Cathatrina van der Linde

Anderson in hulle amptelike hoedanighede as die trustees van die PH
van Rooyen en Seuns Trust is aanvanklik as eerste,
tweede en derde
respondente gesiteer.  Later en na liassering van die
antwoordende beëdigde verklaring is dieselfde drie
persone in
hulle verteenwoordigende hoedanighede as trustees van die Jaycee
Trust gevoeg as vierde tot sesde respondente onderskeidelik.

Adv D J van der Walt SC het namens respondente verskyn.
[4]
Ek sal voortaan na applikant as sodanig verwys en na respondente in
die enkelvoud as respondent behalwe wanneer ek uitdruklik
verkies om
na ‘n bepaalde persoon te verwys wat dan geïdentifiseer
sal word soos hierbo uiteengesit sonder om enigsins
disrespekvol te
wees.
III
DIE
AANGEVRAAGDE REGSHULP
[5]
Applikant het ten doel gehad om op ‘n dringende basis aansoek
te doen op 5 November 2014 vir regshulp soos uiteengesit
in paragrawe
2 en 3 van die Kennisgewing van Mosie wat ek hiermee volledig
aanhaal:

2.
Dat ‘n bevel
nisi
uitgereik word deur hierdie Agbare Hof, keerbaar op 4 Desember 2014
of met keerdatum soos deur hierdie Hof bepaal vir die Respondente
om
aan te voer waarom die volgende bevel nie finaal gemaak moet word
nie:
2.1
Dat Respondente die versperrings en/of strukture en/of heining wat
die hek geleë op die pad tussen die
plase Windhoek/Umpukane
toespan, verwyder;
2.2
Dat die Respondente die hek geleë op die Umpukane/Rheebokberg
pad te die werkswinkel oopsluit en verbied
word om hierdie hek te
sluit;
2.3
Dat Respondente die koste van hierdie aansoek betaal; en
2.4
Verdere en/of alternatiewe regshulp.
3.
Dat die regshulp soos na verwys in paragraaf 2.1 en 2.2 hierbo dien
as ‘n interim interdik
met onmiddellike werking en effek,
hangende die finale beregting van hierdie aansoek op die keerdatum.”
[6]
Die Kennisgewing van Mosie is gedateer 5 November 2014 en die
aansoekstukke is daardie oggend om 08h40 op respondent se prokureurs

beteken.  Die aansoek is geplaas vir verhoor om 11h00 daardie
oggend wat dus ‘n uiters beperkte tyd aan respondent verleen

het om te reageer.
[7]
Alhoewel die applikant in die funderende beëdigde verklaring
voorgee om suiwer en bloot alleen op die mandament van spolie
te
steun, is ek van oordeel dat respondent korrek was in sy siening dat
applikant wyer gegaan het en inderdaad ten doel gehad het
om
verbiedende en gebiedende interdikte aan te vra.  Dit het, aldus
die toepaslike regsbeginsels soos deur respondent ge-argumenteer,
die
deur oopgelaat om applikant se reg op interdikte in geskil te plaas
en dus omvangryke verklarings te liasseer wat dit andersins
nie
geregtig sou wees om te doen nie.  Ek handel later weer hiermee.
IV
DIE
REGSPROSESSE VANAF BETEKENING VAN DIE AANSOEK
[8]
Op 5 November 2014 is die volgende bevele by ooreenkoms uitgereik:

WORD
DIT GELAS DAT:  (By ooreekoms)
1.
‘n Bevel nisi uitgereik in terme waarvan die respondent
opgeroep word om op 11 Desember 2014 om 09h30
of so spoedig daarna as
wat die saak aangehoor kan word, voor hierdie Hof redes aan te voer
waarom:
1.1
Die respondent nie gelas sal word om die heining wat die hek, geleë
op die grensdraad tussen die plase
Windhoek en Umpukane, tans
versper, te verwyder nie.
1.2
Die respondente nie gelas sal word om die dubbelswaaihoek, op die pad
tussen die plase Umpukane en Rhebokberg
en geleë ten weste van
die werf van Umpukane, oop te sluit nie.
1.3
Die respondente nie verbied sal word om die dubbelswaaihek, op die
pad tussen die plase Umpukane en Rhebokberg
en geleë en weste
van die werf van Umpukane te sluit nie.
1.4
Die respondente nie gelas sal word om die koste van hierdie aansoek
te betaal nie.
2.
Hangende die beregting van die bevel nisi word die hierna gemelde
tussentydse bevele gemaak:
2.1
Die respondente word gelas om op of voor 17h00 op 6 November 2014 die
heining wat tans oor die pad in die
hekopening op die grens tussen
die plase Windhoek en Umpukane aangebring is, te verwyder en te
vervang met ‘n draadhek wat
oor die volle wydte van die
betrokke pad sal strek.
2.2
Die respondente word gelas om die voormelde draadhek te sluit deur
middel van ‘n ketting wat om die
hekpaal aan die westekant van
die draadhek en om die naasliggende paal van die draadhek strek en
deur middel van twee slotte, wat
aan die onderskeie punte van die
ketting in die laaste skakels van die ketting aangebring sal word en
wat inmekaar sluit, te sluit.
2.3
Die respondente word gelas om ‘n stel sleutels van een van die
gemelde slotte te die kantoor op die
werf van Umpukane vanaf 16h30
tot 17h00 op 6 November 2014 aan die applicant beskikbaar te stel.
2.4
Die applikant sal verplig wees om hierdie stel sleutels binne die
voormelde tydsduur, dit wil sê tussen
16h30 tot 17h00, op 6
November 2014 af te haal.
2.5
Die applikant sal geregtig wees om die gemelde pad tussen Windhoek en
Umpukane redelikerwys vir doeleindes
van sy boerdery te gebruik,
onderhewig daaraan dat die draadhek te alle tye nadat dit gebruik is
op die voormelde wyse gesluit
sal word en gesluit sal bly.
2.6
Die respondente word gelas om die dubbelswaaihek op die pad tussen
Umpukane en Rhebokberg, geleë ten
weste van die werf van
Umpukane, op of voor 17h00 op 6 November 2014 te sluit deur middel
van ‘n ketting wat om die naasliggende
punte van die twee
swaaihekke aangebring sal word en deur middel van twee slotte wat aan
die onderskeie punte van die ketting in
die laaste skakels van die
ketting aangebring sal word en wat inmekaar sluit, te sluit.
2.7
Die respondente word gelas om ‘n stel sleutels van een van die
gemelde slotte te die kantoor op die
werk (
sic)
van Umpukane tussen 16h30
tot 17h00 op 6 November 2014 aan die applikant beskikbaar te stel.
2.8
Die applikante sal verplig wees om hierdie stel sleutels binne die
voormelde tydsduur, dit wil sê tussen
16h30 tot 17h00 op 6
November 2014 af te haal.
2.9
Die applikant sal geregtig wees om die gemelde pad tussen Umpukane en
Rhebokberg waarop die gemelde dubbelswaaihek
aangebring is,
redelikerwys vir doeleindes van sy boerdery te gebruik, onderhewig
daaraan dat die dubbelswaaihek te alle tye nadat
dit gebruik is op
die voormelde wyse gesluit sal word en gesluit sal bly.
2.10
Die respondente sal verplig wees om, indien hulle die gemelde
dubbelswaaihek sou gebruik, sodanige hek op die voormelde
wyse te
sluit en gesluit te hou.
3.
Die respondente sal hulle antwoordende beëdigde verklarings,
indien enige, op of voor 18 November 2014
om 15h00 aflewer.
4.
Die applikant sal sy repliserende beëdigde verklarings, indien
enige, op of voor 27 November 2014 om 15h00
aflewer.
5.
Die applikant sal sy argumentshoofde om 12h00 op of voor 3 Desember
2014 aflewer.
6.
Die respondente sal hulle argumentshoofde om 11h00 op of voor 5
Desember 2014 aflewer.”
[9]
Die ooreenkoms aangegaan en in die hofbevel vervat het dus heelwat
wyer gegaan as die aangevraagde regshulp.  Daar is ook
op 11
Desember 2014 ‘n bevel verleen onder aansoeknommer 5317/2014
ingevolge waarvan eerste, tweede en derde respondente
in hulle
onderskeie hoedanighede as trustees van die Jaycee Trust gevoeg is as
vierde, vyfde en sesde respondente onderskeidelik.
Na liasering
van die antwoordende en repliserende beëdigde verklarings
ingevolge voormelde hofbevel is die keerdatum by meer
as een
geleentheid verleng totdat dit uiteindelik tot 30 April 2015 verleng
is.  Daar is ook op 5 Maart 2015 verlof aan respondent
verleen
om ‘n dupliserende beëdigde verklaring af te lewer.
[10]
Op 24 April 2015 is ‘n aansoek afgelewer deur applikant
ingevolge waarvan verlof versoek is om ‘n tripliserende

beëdigde verklaring af te lewer.
[11]
Die aansoek is op 30 April 2015 geargumenteer en is uitspraak
voorbehou.
[12]
Respondent is vroeër ‘n geleentheid gegun om te antwoord
op sogenaamde nuwe bewerings in die repliserende beëdigde

verklaring.  In die dupliserende beëdigde verklaring het
respondent aspekte opgehaal wat applikant genoop het om verlof
te
versoek om daarop te antwoord by wyse van ‘n tripliserende
beëdigde verklaring.  Ek het ook hierdie aansoek
wat enkele
minute se hoftyd in beslag geneem het aangehoor.
[13]
Ek meen dit is in belang van geregtigheid dat die partye toegelaat
behoort te word om alle feite wat hulle meen relevant is
voor die hof
te plaas.  Ek is bygevolg bereid om die verklaring toe te laat
wat ek hiermee doen, sonder om daardeur te kenne
te gee dat die
aspekte daarin geopper werklik ‘n wesenlike bydrae tot die
beregting van die aansoek kan lewer.  Die
aansoek is nie formeel
geopponeer nie en geen opponerende beëdigde verklaring is
afgelewer nie.  Mnr Van der Walt het
bloot enkele submissies
gemaak tydens sy betoog waarom die tripliek nie toegelaat behoort te
word nie.  Bygevolg is ek nie
bereid om applikant te gelas om
enige koste verbonde aan die opponering van die betrokke aansoek te
betaal nie.  Applikant
word dus gelas om die koste van die
aansoek te betaal op ‘n ongeopponeerde basis.
V
DIE
WESENLIKE ONBETWISTE FEITE
[14]
Menige aantuigings is oor en weer deur die partye gemaak en heelwat
aspekte is in dispuut.  Die blote liassering van dupliserende
en
tripliserende beëdigde verklarings verskaf meer as voldoende
bewys van die dispute en onderlinge twis.
[15]
Ek sal in hierdie uitspraak konsentreer op die feite buite geskil en
is dit nodig om ‘n historiese perspektief te gee.
[16]
Piet en Boeks (vader en seun), is beide direkteure van applikant soos
hierbo uiteengesit.  Piet en Hans van Rooyen (Hans
synde
gesiteer as eerste en vierde respondent in sy hoedanigheid as trustee
van die twee trusts) is broers.  Tweede respondent
is die
eggenote van Hans en hul seun Fanie en skoondogter Helene het ook
stawende beëdigde verklarings hierin afgelê.
Dus is
die geveg nie alleen tussen broers wat ook bure is nie, maar ook
tussen skoonsusters en neefs.
[17]
Piet van Rooyen is in applikant se hoek van die bokskryt en Hans van
Rooyen is in respondent se hoek.  Hulle het geen
ander broers
nie.  Dit blyk uit die ontbindingsooreenkoms waarna ek later
verwys dat Piet reeds 76 jaar oud is terwyl Hans
so pas 67 jaar oud
geword het.
[18]
Aanvanklik het Piet en Hans ‘n boedery bedryf deur middel van
die PH van Rooyen & Seuns Trust, maar die laaste aantal
jare is
die boedery deur hulle bedryf deur middel van die Umpukane
Besigheidstrust (“UBT”).  Hierdie gesamentlike

boerdery het geduur van ongeveer 1980 tot 30 Junie 2012.
[19]
Die boerdery is bedryf op verskeie plase behorende aan onder andere
die twee vermelde trusts, mev Van Rooyen, Piet en mev SSW
van Rooyen
(Piet se eggenote).
[20]
Op 15 Desember 2011 is ‘n skriftelike ontbondelingsooreenkoms
gesluit tussen die twee broers, Piet en Hans, in hulle
persoonlike
hoedanighede sowel as trustees van verskeie trusts.  Daarvolgens
sou elkeen en sy groep soos daarin geïdentifiseer
voortaan sy
eie pad loop en sy eie boerdery op afsonderlike plase bedryf.
[21]
Die plase waarop voortaan geboer sou word is geïdentifiseer as A
& B vaste eiendomme.  Sekere onderverdelings
en
konsolidasies het plaasgevind en tans bestaan die A vaste eiendomme
uit die plase Voorspoed, Rheeboksberg en Mooihoek (laasgenoemde
plaas
synde ‘n konsolidasie van Windhoek en ‘n gedeelte van
Hilton), terwyl die B vaste eiendomme bestaan uit die plase
Charisma,
Dunegan en Umpukane.  Ek sal hierin steeds verwys na Windhoek in
stede van Mooihoek omdat die partye aldus na die
betrokke plaas
verwys teneinde verwarring te voorkom.  Hans het die reg bekom
om ‘n keuse te maak tussen die twee groepe
plase en het die B
vaste eiendomme gekies.
[22]
Die ontbondelingsooreenkoms handel redelik omvangryk met reëlings
ten aansien van die verdeling van sommige van die eiendomme,

voorkoopsregte en verwysing na arbitrasie in die geval van dispute,
maar bevat geen bepalings met betrekking tot die registrasie
van
serwitute van reg van weg nie.  Dit is ook duidelik dat die
ooreenkoms ‘n sogenaamde “geen wysigings”-klousule

bevat en dat ooreengekom is dat die skriftelike dokument die gehele
ooreenkoms tussen die partye daarstel.
[23]
Applikant het na ontbondeling toegang verkry oor respondent se plase
deur gebruik te maak van twee hekke, te wete ‘n
draadhek op die
grens tussen Windhoek en Umpukane (punt C op bylaag R2: die
satelietfoto) en ‘n dubbelswaaihek naby die plaaswerf
op
Umpukane, synde te punt E op bylaag R2.  Die gebruik van die
toegangsroetes en veral die wyse waarop dit toegelaat is sowel
as die
aard van die reg is in geskil.  Daarmee word later gehandel.
[24]
Dit is buite geskil dat toe die broers nog saam geboer het op die
verskillende plase deur middel van die betrokke trusts, die
roetes in
dispuut wel gebruik is vir etlike jare.  Met ontbondeling het
die situasie egter verander.
[25]
Die volgende getuienis aangebied deur respondent en soos blyk uit
e-posse onder eed bevestig dui daarop dat respondent wel
toegang aan
applikant se verteenwoordigers en/of werknemers verleen het oor sy
grond en die leser word veral gewys op die voorwaardes
wat aan
gebruik gekoppel is:
25.1
dit is respondent se saak dat “
die
twee hekke, onderhewig aan beheer en beperking en ingevolge
vergunning geskied het.”
25.2
die hekke is van tyd tot tyd na keuse van respondent met slotte
gesluit;
25.3

applikant se
werknemers en verteenwoordigers ‘n boek moet voltooi wanneer
hulle deur die dubbelswaaihek beweeg”;
25.4
die draadhek by punt C is telkens oop- en toegesluit om deurgang te
bewerkstellig en het applikant afsonderlik toestemming
versoek tydens
elke geleentheid, behalwe in uitsonderingsgevalle soos met die
damherstelwerk en ek verwys na e-posse tussen die
partye vanaf 6
November 2013 tot 13 Februarie 2014 en pertinent die e-pos namens
Piet wat soos volg lees;

Oom
Piet sê baie dankie, hy waardeer.  Hy reken dit (die
damherstelwerk) behoort nie langer as twee weke te neem nie.”
Piet het op daardie
stadium op Umpukane gewoon en het geriefshalwe toegang deur die
draadhek bekom. Die sleutel vir die dubbelswaaihek
moes elke keer
afgehaal word om toegang te verleen in die gevalle waar die hek
gesluit was;
25.5
reeds op 19 Augustus 2013 word applikant se prokureurs deur
respondent se prokureurs in kennis gestel dat applikant se
werknemers
hulle nie steur aan die vergunningsvereistes vir deurgang oor
respondent se grond nie en dat die bergpad op Umpukane
toegesluit
gaan word om die vereistes vir deurgang af te dwing en is twaalf
vereistes op rekord geplaas in paragraaf 5.1.7 van
die brief;
25.6
op 7 Oktober 2013 is ‘n verskoning per e-pos namens respondent
aangeteken weens ‘n misverstand ten opsigte
van die inteken van
applikant se drywers waarop  Mnr Louw Marais, ‘n direkteur
van applikant, die volgende dag antwoord
per e-pos en die volgende
versoek rig:

Ons
by Mafika sal dit waardeer as julle kan help met die riglyne sodat
onderstaande nie weer gebeur nie.  Hierdie misverstande
is
onnodig en aangesien die plantseisoen op hande is en ons die Umpukane
pad baie gaan gebruik sal dit voordelig wees om hierdie
dinge so gou
moontlik uit te klaar.”
Hierop
het Helene namens respondent op dieselfde dag geantwoord en verwys na
die bestaande reëling dat elke dag in- en uitgeteken
moet word
(duidelik ten aansien van die dubbelswaaihek wat ook deur
Telkomwerknemers gebruik word), die skrywe van 19 Augustus
2013
(duidelik die prokureursbrief) en dit is ook opnuut bevestig dat die
sleutel telkens by die kantoor terugbesorg moet word.

Voorstelle is ook versoek vir moontlike wysigings van die vereistes;
25.7
na aanleiding van navrae is applikant se Mnr Louw Marais op 22
Oktober 2013 ingelig dat ‘n addendum met betrekking
tot
toegangsvereistes voorberei is om vir die gerief van applikant se
werknemers te dien tydens plant- en oestyd.  Ek moet
ook meld
dat met e-poskorrespondensie die e-posse telkens ook vir aandag van
Boeks en ander lede van die applikant se groep aangestuur
is.
E-posse oor en weer gestuur op 6 November 2013 toon aan dat applikant
by die respondent se reëlings ingeval het
en selfs ook in ‘n
geval ‘n uitsondering op die reël versoek het.  Op 13
Februarie 2014 het respondent aangedui
dat die vergunning misbruik
word en is onder andere gedreig om die draadhek op die grens toe te
span.  Applikant het hierop
gereageer en geensins die bewerings
en aansprake betwis nie.  ‘n Versoek is bloot gerig dat
die draadhek nie toegespan
moet word nie terwyl Piet steeds toesig
hou oor die damherstelwerk.  Verdere e-posse in Maart en April
2014  bevestig
die samewerking tussen die partye met betrekking
tot toegang en die neergelegde vereistes.
[26]
Gedurende die begin van 2014 het applikant aansoek gedoen
ooreenkomstig die Ordonnansie op Paaie, 4 van 1968 om twee paaie
oor
respondent se plaas Umpukane as openbare paaie te laat verklaar.
Hierdie aansoek het nie geslaag nie.  Ek neem hierdie
aspek
geensins verder vir doeleindes van die beregting van hierdie aansoek
nie.
[27]
Applikant steun vir sy aanspraak op regshulp daarop dat spoliasie
gepleeg is deurdat respondent op 31 Oktober 2014 die hek
tussen die
plase Windhoek en Umpukane toegespan en ook die dubbelswaaihek tussen
Umpukane en Rheeboksberg gesluit het.  Hierdie
hekke is
onderskeidelik te punte C en E op bylaag R2 waarna hierbo verwys is.
[28]
Dit is buite geskil dat die draadhek op die grens tussen Windhoek
(applikant se eiendom) en Umpukane (respondent se eiendom)
by punt C
op bylaag R2 toegespan is op 31 Oktober 2014.  Daar is ‘n
dispuut oor hoe en deur wie dit plaasgevind het
en of spoliasie
daardeur gepleeg is, ‘n aspek wat later hanteer sal word.
[29]
Die dubbelswaaihek by punt E is ook toegesluit, maar op die basis
soos uiteengesit in die e-posse waarna verwys is en soos
bevestig
deur respondent onder eed.  Daar is hieroor ook ‘n dispuut
en dit sal ook later hanteer word.
[30]
Alhoewel applikant se weergawe van die toegangsroetes so vaag
uiteengesit is in die funderende beëdigde verklaring dat
ek met
die deurlees daarvan geen benul gehad het wat bedoel word nie - ek
verwys spesifiek na paragraaf 12 - het die feitlike situasie

klinkklaar geword by die deurlees van respondent se antwoordende
beëdigde verklaring en bylae en veral bylaag R2, synde die

satelietfoto.
[31]
Dit is in dispuut of daar ‘n ander geskikte roete is vanaf
applikant se plase na die plato bo-op Rheeboksberg, synde
die
plaasgrond waarop applikant boer.  Dit is applikant se saak dat
hierdie aspek ontersaaklik is vanweë die aanspraak
op die
mandament van spolie terwyl respondent van oordeel is dat dit
geregtig is dat hierdie aspek bereg word omdat applikant wyer
gegaan
het in sy aanspraak as om bloot op die mandament van spolie staat te
maak.  Ek hanteer hierdie aspek later.
[32]
Dit is wel duidelik dat applikant in die verlede toegang verkry het
tot die plato op Rheeboksberg vanaf Windhoek deur die draadhek
by
punt C oor Umpukane, die eiendom van respondent en van laasgenoemde
plaas deur die dubbelswaaihek by punt E.
VI
DIE
MANDAMENT VAN SPOLIE
[33]
Op die veronderstelling dat die aangeleentheid suiwer en alleen bereg
behoort te word aan die hand van die regsbeginsels ter
sprake by die
mandament van spolie hanteer ek bygevolg die relevante beginsels.
[34]
Teneinde hom met sukses op die mandament van spolie te kan beroep
moet ‘n applikant die volgende beweer en bewys:
34.1
Dat hy in vreedsame en ongestoorde besit van die saak was;
34.2
Dat die respondent spolie gepleeg het deur die saak onregmatiglik uit
die besit van die applikant te neem.
Sien
Yeko
v Qana
1973 (4) SA 735
(A) te 739 E en die algemene bespreking deur C G van
der Merwe,
Sakereg
,
2de uitg, p 129 en verder.
[35]
Die Grondwethof het verlede jaar die regsbeginsels met betrekking tot
die mandament van spolie soos vervat in etlike beslissings
van die
destydse Appélhof en die Hoogste Hof van Appél
herbevestig in
Ngqukumba
v Minister of Safety and Security
2014 (5) SA 112
(CC), en ek haal enkele uitreksels uit paragrawe [10]
tot [13] aan:

[10]
The essence of the mandament van spolie is the restoration before all
else of unlawfully deprived possession to the possessor.
It finds
expression in the maxim spoliatus ante omnia restituendus est (the
despoiled person must be restored to possession before
all else). The
spoliation order is meant to prevent the taking of possession
otherwise than in accordance with the law. Its underlying
philosophy
is that no one should resort to self-help to obtain or regain
possession. The main purpose of the mandament van spolie
is to
preserve public order by restraining persons from taking the law into
their own hands and by inducing them to follow due
process.
[11]
........
[12]
A spoliation order is available even against government entities for
the simple reason that unfortunately excesses by those
entities do
occur. Those excesses, like acts of self-help by individuals, may
lead to breaches of the peace: that is what the spoliation
order,
which is deeply rooted in the rule of law, seeks to avert. The likely
consequences aside, the rule of law must be vindicated.
The
spoliation order serves exactly that purpose.
[13]
It matters not that a government entity may be purporting to act
under colour of a law, statutory or otherwise. The real issue
is
whether it is properly acting within the law. After all, the
principle of legality requires of state organs always to act in
terms
of the law.  ..... All that the despoiled person need prove is
that—
(a)
she was in possession of the object; and
(b)
she was deprived of possession unlawfully.”
[36]
Die reg op die gebruik van ‘n pad, selfs nie alleen en op sy
eie nie, kwalifiseer vir doeleindes van besit.  Die
Appélhof
het jare gelede reeds in
Nienaber
v Stuckey
1946 AD 1049
te 1056 bevind dat eksklusiewe besit nie ‘n
vereiste is vir ‘n aanspraak op die mandament van spolie nie.
Dit
is ook nie nodig dat die pad elke dag gebruik hoef te word nie en
aaneenlopende besit of gebruik is dus nie ‘n vereiste nie.

Vergelyk ook
Willowvale
Estates CC and Another v Bryanmore Estates Ltd
1990 (3) SA 954
(W) te 956H en verder.
[37]
Die regsbeginsels is duidelik.  Bitter min verwere kan ge-opper
word deur ‘n respondent wat te kampe het met ‘n
applikant
se aanspraak op die mandament van spolie.  Die beginsel is
immers:
Spoliatus
ante omnia restituendus est
,
dit wil sê
die applikant moet eers weer in besit van die saak gestel word en
daarna mag ‘n geveg op tou gesit word om
die regte op grond
waarvan applikant die saak besit, te ondersoek en te beslis.
Bygevolg is ‘n teenaansoek vir ‘n
verklarende bevel dat
die applikant geen reg van weg oor respondent se eiendom het nie,
afgewys in
Willowvale
loc cit
.
[38]
Alhoewel ‘n applikant in verrigtinge ingevolge die mandament
van spolie daarop mag steun dat sy besit ontstaan het weens

byvoorbeeld ‘n huurkontrak, maar dit duidelik is dat sy
aanspraak op regshulp geleë is in sy besitverlies op onregmatige

wyse, sal die aanspraak gebaseer op die mandament van spolie oorweeg
word aan die hand van die voormelde twee vereistes en nie
teneinde te
bepaal of die applikant oor kontraktuele regte uit hoofde van die
huurkontrak beskik nie.  Sien byvoorbeeld
Gowrie
Mews Investments CC v Calicom Trading 54 (Pty) Ltd and Others
2013 (1) SA 239
(KZD) en
Nienaber
v Stuckey
loc
cit.
[39]
In
Fischer
and Another v Ramahlele and Others
2014 (4) SA 614
(HHA) het die Hof met verwysing na die besitsvereiste
te 624I bepaal dat ten einde die beskerming van die mandament van
spolie
te geniet, die applikant se besit vreedsaam en ongestoord moes
wees en dat die fisiese besit stabiel en van voldoende duur moes
wees
alvorens die reg kennis daarvan sal neem.
[40]
Indien daar aan die vereistes van die mandament van spolie voldoen
word, gelas die hof bloot besitsherstel deurdat die feitelike
posisie
waarvan die applikant onregmatig ontneem is, herstel word.
Vergelyk
Plaatjie
and Another v Olivier NO and Others
1993 (2) SA 156
(O) te 159F.  Die gespolieerde applikant kan
egter nie in ‘n beter of sterker posisie geplaas word as waarin
hy voorheen
was nie.
VII
REGSBEGINSELS
TER SPRAKE IN AANSOEKPROSEDURE
[41]
In aansoekprosedure bevat die beëdigde verklarings beide die
pleitstukke sowel as die getuienis en die partye se aansprake
moet
duidelik daaruit blyk.  Vergelyk
Minister
of Land Affairs and Agriculture and Others v D & F Wevell Trust
and Others
2008 (2) SA 184
(HHA) te 200B – E.
[42]
Indien finale regshulp versoek word is die hof verplig om
feitegeskille te beslis op die weergawe van die respondent en daardie

feite beweer deur die applikant wat nie betwis word nie, tensy die
respondent se weergawe nie ‘n
bona
fide
en
werklike feitedispuut daarstel nie of so onwaarskynlik en/of vergesog
en/of leuenagtig is dat dit op die stukke verwerp behoort
te word.
Vergelyk
Plascon
Evans Paints Ltd v Van Riebeeck Paints (Pty) Ltd
[1984] ZASCA 51
;
1984 (3) SA 623
(A) te 634H – 635C en ook
Wightman
t/a JW Construction v Headfour (Pty) Ltd and Another
[2008] ZASCA 6
;
2008 (3) SA 371
(HHA) te paras [12] en [13].
VIII
EVALUERING
VAN DIE FEITE EN REGSARGUMENTE
[43]
Mnr Snellenburg het geargumenteer dat die besit van die pad voor
besitsontneming nie in dispuut is nie en blyk dit duidelik,
selfs op
respondent se weergawe, dat daar besitsontneming was.
[44]
Applikant moet die twee vereistes waarna hierbo verwys is bewys
alvorens hy op regshulp geregtig is.  Dit is duidelik
dat
applikant se deponent steun op die gebruik van verskeie privaatpaaie
oor die verskillende plase oor ‘n lang tydperk sedert
die tyd
toe Piet en Hans van Rooyen nog saam geboer het.
[45]
Die applikant se registrasienommer is 2012/056409/07 en dit is
aanduidend dat dit dus eers in 2012 geregistreer is, dit wil

nadat die ontbondelingsooreenkoms gesluit is.  Vir doeleindes
van applikant se aanspraak op vreedsame en ongestoorde
besit is dit
derhalwe irrelevant wat die feitelike posisie voor totstandkoming van
applikant was en is die hof slegs geroepe om
na die situasie sedert
registrasie van applikant te kyk.
[46]
Geen regshulp word aangevra deur Boeks of Piet van Rooyen in hulle
persoonlike hoedanighede nie.  Dit is dus irrelevant
dat Piet en
Hans en/of hul families reeds sedert 1980 saam geboer en die
onderskeie privaatpaaie, insluitend die pad in dispuut,
gebruik het.
Boeks beweer dat die pad tussen Windhoek en Umpukane deur die
draadhek te punt C op bylaag R2 reeds vir 14 jaar
gebruik is.
Dit mag so wees, maar dit is nie aldus deur applikant gebruik wat toe
nog nie eens bestaan het nie.
[47]
Respondent steun daarop dat sekere vergunnings onderhewig aan
voorwaardes van gebruik verleen is aan applikant se verteenwoordigers

en/of werknemers.  Daardie weergawe kan nie verwerp word nie
omdat die bewerings in die antwoordende beëdigde verklaring

gestaaf word deur e-posse wat oor ‘n tydperk sedert 2013
gestuur is tussen die strydende Van Rooyen familie.  Ek het

reeds vroeër daarna verwys.  Hierdie e-posse, soos bevestig
onder eed, dui onteenseglik daarop dat die vergunnings onderhewig
was
aan bepaalde voorwaardes en dat applikant bereid was om die pad
onderhewig aan die voorwaardes te gebruik.
[48]
Ter opsomming is dit respondent se saak, wat nie vergesog,
onwaarskynlik, leuenagtig of enigsins vaag is nie, dat applikant

nooit in vreedsame en ongestoorde besit was van die toegangsroete oor
Umpukane deur die hekke te punte C en E nie.  Toegang
is
deurgaans beheer.  Die besit of reg van gebruik was nie stabiel
en/of van voldoende duur nie.  Applikant het my nie
oortuig dat
dit in vreedsame en ongestoorde besit was nie.  Die optrede van
respondent met betrekking tot die dubbelswaaihek
kan ook nie
aangemerk word as onregmatige besitsontneming nie en die tweede
vereiste van die mandament van spolie is ook nie bewys
ten aansien
van die roete deur hierdie hek nie.
[49]
Die betrokke draadhek by punt C is by uitsondering gebruik en telkens
nadat daar vooraf toestemming daarvoor verkry moes word
deur
applikant.  Dit was altyd gesluit en toe daar ‘n tydelike
vergunning aan Piet verleen is waarna in die e-posse
verwys is, is ‘n
sleutel aan hom beskikbaar gestel.  In gewone omstandighede sou
die blote toespan van ‘n hek
oor ‘n pad wat op ‘n
vreedsame en ongestoorde wyse deur ‘n applikant gebruik is op
spoliasie neerkom.  Dit
is immers duidelik.  In
casu
is die feite sodanig dat ek nie sodanige bevinding kan maak nie.
Applikant het ook wat hierdie hek en die betrokke toegangsroete

betref nie enige van die twee vereistes bewys nie.
[50]
Anders as wat die geval is ten aansien van respondent se weergawe wat
gestaaf word deur die e-posse waarna ek verwys het en
wat ek aanvaar
vir doeleindes van die beregting van die aansoek, is ek nie bereid om
respondent se weergawe met betrekking tot
die toespan van die hek by
punt C te aanvaar nie.  Dit is duidelik dat applikant se
werknemer in ‘n bedenklike posisie
gelaat is en dat hy geen
ander keuse gehad het as om gehoor te gee aan die opdrag van Hans van
Rooyen se seun om die hek toe te
span nie.  Die betrokke
werknemer het opgetree sonder magtiging van applikant en ek sou
verwag dat respondent die nodige broederliefde
betoon deur applikant
te kontak, die probleme te verduidelik en ook aan te toon waarom die
hek toegespan gaan word.  Om nou
op ‘n werknemer van
applikant se optrede te steun is vergesog en verwerplik.  Feit
is egter dat applikant nie vreedsame
en ongestoorde besit gehad het
nie en dat dit reeds vroeg in 2014 in kennis gestel is van respondent
se oogmerk om die draadhek
toe te span en geen beswaar is toe geopper
nie.
[51]
My bevinding met betrekking tot die toespan van die draadhek doen
egter nie afbreuk aan my vroeëre bevinding dat applikant
nie
aangetoon het dat dit ‘n vreedsame en ongestoorde besit van die
toegangsroete deur die hek by punt C was nie.  Applikant
se
verteenwoordigers en/of werknemers het geen reg gehad om hierdie
toegangsroete na willekeur en sonder uitdruklike vooraf toestemming

te gebruik nie.  Die hek was altyd gesluit en die sleutel in
respondent se besit, behalwe vir die tydperk toe Piet van Rooyen

toesig oor die dambouery gehou het en vooraf verlof aan hom verleen
is.  Ek het reeds bevind dat die vereistes wat bewys moet
word
om met die mandament van spolie te slaag nie bewys is ook ten opsigte
van hierdie draadhek en die betrokke toegangsroete nie.
[52]
Opsommenderwys wens ek die volgende opmerkings te maak.  Die
maatreëls wat te alle tersaaklike tye en minstens vanaf
2013 tot
en met die bring van die aansoek in November 2014 gegeld het ten
aansien van die dubbelswaaihek by punt E was ook beperkend
op
applikant se gebruik van hierdie hek en dus is ook die toegangsroete
oor respondent se plaas Umpukane deur die betrokke hek
aldus beperk.
Dit word bygevolg bevind dat applikant geen vreedsame en ongestoorde
besit gehad het met betrekking tot die
toegangsroete deur die
dubbelswaaihek by punt E nie en dat dit voortdurend gebonde was aan
reëls wat ingestel is en eerbiedig
moes word.  Een so reël
was altyd dat die hek van tyd tot tyd gesluit sou word, maar dat die
sleutel beskikbaar was vir
applikant se verteenwoordigers en/of
werknemers ten einde toegang te verkry.  Voorts is in- en
uitgang van drywers  van
voertuie gemonitor deur middel van
inskrywings in ‘n boek wat vir hierdie doel aangehou is.
[53]
Daar is meriete in respondent se aanspraak soos ook gesubmitteer deur
mnr Van der Walt dat die dispuut bereg behoort te word
op die basis
dat applikant permanente interdikte versoek en dat die aansoek op
daardie basis hanteer en bereg behoort te word en
nie bloot
simplisties ooreenkomstig die beginsels ter sprake by die mandament
van spolie nie.  Indien ek aldus sou bevind,
wat ek meen ek
geregtig sou wees om te doen, is dit duidelik dat applikant wel die
plato bokant Rheeboksberg kan bereik deur nie
oor respondent se grond
vanaf Windhoek deur punt C te beweeg nie, maar deur gebruik te maak
van onder andere die toegangsroete
oor die plaas Dunegan en vandaar
deur die hek by punt E na die berg te beweeg.  Daar is minstens
twee alternatiewe roetes
beskikbaar oor respondent se gronde sonder
om gebruik te maak van die deurgang by punt C.  Eweneens kan
applikant, soos dit
in die verlede gedoen het, gebruik maak van die
roete vanaf sy eie grond na die plato op Rheeboksberg, minstens wat
sommige voertuie
betref.  Indien ek alleenlik geroepe was om die
aangeleentheid te beslis op grond van die vereistes ter sprake by
permanente
interdikte, sou ek applikant se aansoek in elk geval
afgewys het omdat die vereistes nie bewys is nie.  Ek meen nie
dat dit
nodig is om die tersaaklike getuienis, argumente en
regsbeginsels enigsins te ontleed en volledig uiteen te sit nie in
die lig
van my bovermelde bevindings.
IX
KOSTE
[54]
Die algemene reël is dat koste die uitspraak volg.
Respondent is dus in beginsel geregtig daarop dat die aansoek
met
koste van die hand gewys word.  Ek het egter ‘n diskresie
in hierdie verband wat ek regtens behoort uit te oefen.
Die
gedrag van ‘n litigant kan ‘n rol speel in die oorweging
van kostebevele.  In
casu
is ek van oordeel dat respondent – en dan bedoel ek al die
trustees – nie alleenlik hardvogtig opgetree het deur nie
uit
die staanspoor maatreëls in te stel soos waarop ooreengekom is
op 5 November 2014 spesifiek dan ten opsigte van die hek
by punt E
nie, maar ook deur op onnodige wyse ekstra koste te veroorsaak deur
applikant te verplig om hulself as trustees van die
Jaycee te voeg as
vierde, vyfde en sesde respondente tot die geding.  Alhoewel ek
bevind het dat spoliasie nie gepleeg is
nie, het ek min twyfel dat
die toespan van die draadhek by punt C en die wyse waarop dit
plaasgevind het, die vuurhoutjie was wat
die kruitvat aan die brand
gesteek en tot die loods van die aansoek gelei het.  Na my
oordeel behoort respondent gepenaliseer
te word in der mate dat hulle
slegs geregtig sal wees op vyftig (50) persent van hul koste ter
opponering van die aansoek.
X
DIE
TOEKOMS
[55]
Alhoewel die applikant onsuksesvol is, is dit nie die einde van die
saak nie.  Dit sou die applikant vrystaan om die dispuut
na
arbitrasie te verwys of om hierdie hof te nader deur onder andere
aanspraak te maak op ‘n reg van weg, in welke vorm ookal.

Dit blyk uit die stukke dat verdere litigasie geantisipeer word met
betrekking tot applikant se beweerde reg van weg oor respondent
se
eiendom.  Ek is die versekering gegee deur mnr Van der Walt
tydens sy argument en nadat hy instruksies bekom het, dat respondent

wel bereid is om in die toekoms toegang oor hul plaas te verleen aan
applikant se verteenwoordigers en/of werknemers deur gebruikmaking

van die alternatiewe roete oor die plaas Dunegan en vandaar deur die
dubbelswaaihek by punt E.  Hierdie benadering blyk ook
uit die
verklarings wat namens respondente afgelewer is.  Die partye sou
moontlik alle verdere geskille in hierdie verband
kon oplos deur
nieteenstaande my uitspraak die tussentydse ooreenkoms van 5 November
2014 te eerbiedig.  Die koste van 26
Februarie 2015 het
oorgestaan vir latere beregting.  Ek dra nie kennis van enige
feite waarom ‘n aparte kostebevel verleen
behoort te word nie
en is geen argumente in hierdie verband aangevoer nie.  Die
bevel wat ek van voorneme is om te gee maak
voorsiening daarvoor dat
gemelde koste koste in die geding sal wees.
XI
BEVEL
[56]
Bygevolg word die volgende bevel verleen:
Die
bevel
nisi
uitgereik op 5 November 2014 word opgehef en die aansoek van die hand
gewys met koste insluitende die verspilde koste van 26 Februarie
2015
welke koste oorgestaan het vir latere beregting, met dien verstande
dat respondente slegs geregtig is op vyftig (50) persent
van hulle
getakseerde party en party koste ter opponering van die aansoek.
______________
J.
P. DAFFUE, R
Namens
die applikant:
Adv. N. Snellenburg
In opdrag van:
Lovius Block
BLOEMFONTEIN
Namens
die respondente:        Adv. D. J.
van der Walt SC
In opdrag van:
Phatshoane Henney Inc.
BLOEMFONTEIN
/ebeket