About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2015
>>
[2015] ZAFSHC 149
|
|
Freshvest Investments (Pty) Ltd v Marabeng (Pty) Ltd (3971/2014) [2015] ZAFSHC 149 (30 July 2015)
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
VRYSTAATSE
AFDELING, BLOEMFONTEIN
Saak
Nr. : 3971/2014
In
die saak tussen:-
FRESHVEST
INVESTMENTS (PTY) LTD
Applikant
en
MARABENG
(PTY) LTD
Respondent
CORAM:
JORDAAN, R
UITSPRAAK
DEUR:
JORDAAN, R
AANGEHOOR
OP:
17, 18
EN 19 JUNIE 2015
GELEWER
OP:
30 JULY 2015
[1]
Applikant het aansoek gedoen vir die likwidasie van respondent
maatskappy. Die aansoek was deur die respondent geopponeer
en
opponerende verklarings geliasseer. Uiteindelik is die aansoek
as ‘n bestrede aansoek aangehoor deur my broeder
Lekale op 4
Desember 2014 en het hy ‘n uitspraak gelewer op 12 Desember
2014.
[2]
Dit blyk dat die wesenlike geskilpunt was die betwisting van die eise
waarop die applikant gesteun het vir sy
locus
standi
om die aansoek te bring.
Die applikant se eis was gebaseer op drie finansieringsooreenkomste
wat onder andere bestaan uit
bate finansieringsooreenkomste gesluit
onderskeidelik die 11de Mei 2012, die 11de September 2012 en ‘n
produksie finansierings
fasiliteitsooreenkoms gedateer 12 September
2012. Hierdie ooreenkomste was almal onderteken deur die
respondent se enigste
direkteur ene Johannes Frederick Naude (junior)
as verteenwoordiger van die respondent. Die enigste
aandeelhouer vir die
respondent was die Kesagole Trust.
[3]
Soos reeds gemeld was die enigste wesenlike vraagstuk die ontkenning
van aanspreeklikheid deur die respondent van die gevorderde
bedrae en
was die vernaamste vraag voor my broeder Lekale of die ontkenning van
aanspreeklikheid deur die respondent op
bona
fide
en redelike gronde gebaseer is.
[4]
In sy uitspraak het my broeder Lekale tereg bevind dat likwidasie
prosedures nie gepas is in gevalle waar ‘n betwiste
vordering
as basis vir likwidasie verrigtinge dien nie. Hy het verder
tereg bevind dat die respondent wat die vordering betwis
slegs hoef
aan te toon dat dit betwis word op
bona fide
en redelike
gronde. Dit is derhalwe nie nodig vir ‘n respondent om
die hof te oortuig dat hy ‘n geldige verweer
het nie maar bloot
dat sy ontkenning van aanspreeklikheid op
bona fide
en
redelike gronde berus sodat ‘n applikant ‘n dagvaarding
kan uitreik vir verhaling van die betwiste vordering.
Uiteindelik het my geleerde kollega bevind as volg:
“
I
am, therefore, persuaded by common cause facts in the present matter
that the respondent disputes the debt on
bona
fide
and reasonable grounds.”
[5]
Die laasgenoemde bevinding moes, soos my kollega tereg bevind het,
die einde van die saak beteken het maar het hy bevind dat:
“
In
the light of the need for speedy finalisation of a matter of the
present nature, the nature and extend of the dispute involved
as well
as the fact that the dispute was not foreseeable on the part of the
applicant, I am convinced that the parties are correct,
in their
alternative submissions, that the
correct
course to follow is for the issue concerning the respondent’s
liability to the applicant to be referred to oral evidence.
In
my judgment the rule in
Badenhorst
(
supra)
is
not applicable because there exists nothing before me to suggest and
it is, further, not the respondent’s case that the
applicant
launched the instant application in order to pressurise the
respondent to pay the debt it was disputing.”
[6]
Die hof gelas uiteindelik dat die dispuut met betrekking tot die
verskuldigheid van die respondent vir die aanhoor van mondelinge
getuienis verwys word en formuleer die dispuut as volg:
“
The
issue to be determined at such a hearing is whether or not the
respondent is indebted to applicant on the basis of asset finance
facility agreement dated 11 May 2012, asset finance facility
agreement dated 11 September 2012 and production finance facility
agreement dated 12 September 2012 all signed by the respondent’s
then sole director.”
Daar
is ook in die bevel voorsiening gemaak vir die liassering van
beëdigde verklarings van beoogde getuies, supoena van getuies
en
blootlegging. Daar is gelas dat die koste, koste in die aansoek
sal wees.
[7]
As gevolg van die feit dat slegs die enkele vraag vir die aanhoor van
mondelinge getuienis verwys is en weens die feit dat my
broeder
Lekale nie beskikbaar was vir die aanhoor van die mondelinge
getuienis op die datums waarvoor dit geplaas is nie, aangesien
hy op
rondgaande hof was, is die saak aan my toegewys vir aanhoring.
Weens die feit dat slegs ‘n enkele aspek van die
hele aansoek
verwys is vir mondelike getuienis was ek
prima
facie
van oordeel dat die saak
inderdaad deelsverhoor is en nie sondermeer deur my aangehoor kan of
behoort te word nie. Om daardie
rede het ek die plaaslike
prokureurs van die partye ingeroep en bevestiging by hulle versoek
dat die aspek omtrent die verskuldigheid
die enigste aspek is waaroor
beslis moet word en dat dit ook bepalend sal wees vir die uitslag van
die aansoek, hetsy ‘n
likwidasie of afwysing van die aansoek.
Beide het aangedui dat dit hulle indruk is dat dit die enigste
uitstaande vraag is
en dat dit bepalend sal wees vir die uitslag van
die aansoek en dat daar nie ander aspekte is wat reeds geargumenteer
is en wat
deur my beslis moet word nie. Op daardie basis het ek
voortgegaan om die aansoek aan te hoor en by aanvang van die aansoek
het nie een van die advokate wat namens die partye optree enigsins
aangedui dat daar ander aspekte is wat beslis moet word nie.
[8]
By aanvang van die verrigtinge het Me Buikman namens die applikant
aangevoer dat die respondent die plig het om met getuienis
te begin
aangesien die dokumentêre getuienis bestaande uit die getekende
finansieringsooreenkomste
prima facie
aandui dat daar ‘n wetlike verskuldigheid is en die respondent
derhalwe moet aantoon dat sy ontkenning van aanspreeklikheid
bona
fide
is en op redelike gronde berus.
Ek het dan ook gelas dat die respondent met die aanbied van getuienis
moet begin.
[9]
Dit dien vermeld te word dat die bewoording van die bevel wat die
geskilpunt vir mondelike getuienis verwys die indruk skep
dat hierdie
hof ‘n finale bevinding moes maak omtrent die verskuldigheid
van die respondent deur óf te bevind dat
daar geen
verskuldigheid is nie óf te bevind dat daar inderdaad ‘n
geldige verskuldigheid en geldige eis ten gunste
van die applikant
is. Om daardie rede het Mnr Greyling namens die respondent
uiteindelik ook betoog dat hierdie hof as ‘n
finale bevinding
moet bevind dat die respondent geen gelde verskuldig is aan die
applikant nie. Me Buikman namens die applikant
het egter, myns
insiens tereg, aangevoer dat die aansoek steeds ‘n likwidasie
aansoek is en die hof nie geroepe is om ‘n
finale bevinding oor
die verskuldigheid te maak nie maar bloot geroepe is om te bevind of
die applikant ‘n
prima facie
saak en derhalwe ‘n
prima facie
geldige eis teen die respondent het, of andersom gestel, of die
respondent se betwisting van die eis
bona
fide
en op redelike gronde berus.
[10]
Myns insiens bly die aansoek een vir ‘n likwidasie en kan dit
nie hanteer word op die basis asof dit ‘n eis vir
betaling is
en ‘n finale bevinding ten opsigte van die aanspreeklikheid van
die respondent gemaak moet word nie. Dit
is derhalwe op daardie
basis wat ek die aansoek hanteer. Die ironie van die
aangeleentheid is egter dat my broeder reeds
bevind het dat die
ontkenning van die skuld op
bona fide
en redelike gronde berus. Ek aanvaar egter vir doeleindes
hiervan dat dit obiter geskied het, andersins sou dit nie nodig
wees
om die dispuut vir mondelinge getuienis te verwys nie, en ek daarom
opnuut dieselfde vraag behoort te beslis.
[11]
Uit die stukke blyk dit dat, nadat die likwidasieaansoek beteken is,
die aandeelhouers van die respondent naamlik die trustees
van die
Kesagole Trust ‘n vergadering belê het, dat Mnr Naude
Jnr. die destydse enigste direkteur van die respondent
bedank het as
direkteur en dat Mnr Francois Jacobus Rossouw, een van die trustees
van die trust aangestel is as enigste direkteur
vir die respondent.
Mnr Rossouw was dan ook die enigste getuie vir die respondent tydens
die aanhoor van getuienis.
Tydens die argument na aanhoor van
die getuienis het Me Buikman namens die applikant argumenteer dat die
formele prosedures met
betrekking tot die aanstelling van Rossouw en
in besonder die resolusie om die aansoek te opponeer namens die
respondent nie prosedureel
in orde is nie en in effek, die respondent
nie behoorlik voor die hof is nie sodat die aansoek inderwaarheid ‘n
ongeopponeerde
aansoek is. Ek kom later daarna terug.
[12]
Soos reeds gemeld het die respondent begin met die aanbied van
getuienis en was Mnr Rossouw die enigste getuie vir die respondent.
Sy getuienis het hoofsaaklik bestaan uit die voorlees van e-pos
korrespondensie tussen die respondent en die applikant en ene Mnr
Tait wat opgetree het namens Naude Jnr. in die aanvanklike soeke na
finansiering. Rossouw was duidelik nie ‘n party
tot die
korrespondensie nie en nadat ek die relevansie van sy getuienis in
daardie opsig bevraagteken het, het die partye ooreengekom
dat
e-posse wat in die bundel bewysstukke wat ingehandig is voorkom,
aanvaar kan word as dit wat dit voorgee om te wees maar dat
slegs die
inhoud van e-posse namens die applikant geskryf as korrek aanvaar
word en nie e-posse wat ontvang is deur die applikant
of deur iemand
anders geskryf is nie. Aangesien die inhoud van geen van die
e-posse werklik in geskil was nie, draai daar
nie veel om hierdie
aspek nie.
[13]
Mnr Rossouw het ook getuig dat die aandeelhouers van die respondent
naamlik die trustees van die voormelde trust geen kennis
gedra het
van hierdie aansoeke om finansiering nie, dit nooit goedgekeur het
nie en dat daar in besonder geen spesiale resolusie
geneem is ten
einde die finansiering goed te keur nie. Laasgenoemde
klaarblyklik met die oog op die bepalings van artikel
45 van die
Maatskappye Wet, Nr. 71 van 2008 met betrekking tot finansiële
bystand aan ‘n direkteur van ‘n maatskappy,
een van die
vernaamste gronde waarop die vordering betwis word deur die
respondent. Die respondent se saak is deurgaans gebaseer
op die
argument dat die betrokke finansiering bedoel was as finansiering aan
Naude Jnr. persoonlik en nie as finansiering aan die
respondent
maatskappy nie.
[14]
Mnr Rossouw namens die respondent het as getuie ‘n goeie indruk
op die hof gemaak alhoewel, soos reeds gemeld, ‘n
groot deel
van sy getuienis werklik uit die voorlees van korrespondensie bestaan
het waartoe hy nie ‘n party is nie en inderdaad
waardeloos is.
Die enigste waarde van sy getuienis is die feit dat hy getuig dat
Naude Jnr., die destydse enigste direkteur
van die respondent, vir
eie rekening privaat geboer het op gehuurde grond en dat die
maatskappy self geen boerdery bedryf het nie
maar inderdaad die
betrokke plaas eiendom grootliks uitverhuur het aan ‘n sekere
Mnr Viljoen, terwyl ‘n deel van die
weiding op die plaas aan
Naude Snr. toegekom het en nie verhuur was nie. Sy getuienis is
derhalwe daarop gerig om aan te
toon dat die bate
finansieringsooreenkomste vir Naude Jnr. persoonlik bedoel was
aangesien dit laasgenoemde was wat boerdery bedryf
het en die
implemente ensovoorts daarvoor benodig het asook die produksie
fasiliteit wat by applikant bekom is, terwyl die respondent
as sulks
geen boerdery bedryf het nie, geen bate finansiering benodig het nie
en ook geen produksie fasiliteite benodig het nie.
[15]
Namens die applikant het slegs Mnr Pieter van As le Roux synde die
besturende direkteur van die applikant getuig. Ook
hy het
volledig na die onderskeie korrespondensie wisseling en dokumentêre
getuienis wat in die bewysstukke vervat is in
sy getuienis verwys.
Hy was ook die persoon wat namens die applikant opgetree het in die
ontvangs van die finansieringsaansoek,
die onderhandelinge met
betrekking daartoe en die finalisering van die onderskeie
ooreenkomste.
[16]
In wese kom Mnr Le Roux se getuienis daarop neer dat die applikant as
beginsel-beleid hoegenaamd nie belangstel in finansiering
van
individue nie. Die enigste entiteite waarvoor die applikant
finansiering verskaf is regspersone of trusts waarvan daar
meer as
drie trustees bestaan. Om daardie rede sou finansiering aan
Naude Jnr. in persoon nooit oorweeg word nie en was dit
uit die
staanspoor die bedoeling om finansiering aan die respondent te
verskaf wat op sy beurt weer finansiering aan Naude sou
verskaf.
[17]
Volgens die objektiewe getuienis bestaande uit hoofsaaklik e-posse en
aanhangsels daartoe het die hele verhaal begin deur ‘n
e-pos
gestuur deur Mnr Tait op 19 Maart 2012 aan die getuie Le Roux wat as
volg lui:
“’
n
Kliënt van my is op soek na finansiering om trekkers te koop.
Die bedrag is R4 800 000,00 vir ‘n tydperk van
26 maande.
Volgens inligting het hy die trekkers nodig om uitvoering te gee aan
‘n 5-jaar landboukontrak wat aan hom
toegeken is. Kan u
dalk help met die verkryging van die finansiering, indien ja, watter
inligting moet ek aan u verskaf.”
Op
die volgende dag die 20st Maart rig Mnr Tait weer ‘n epos aan
Le Roux wat verwys na die onderwerp “Lening JH Naude”.
Aangeheg was sekere inligting wat ook in die bewysstukke voorkom en
wat bestaan uit ‘n afskrif van ‘n dokument getiteld
“
Business Plan for a proposed 5-year
partnership between the Department of Rural Development and Land
Reform farmers/land owners
and Mr Johan Naude
.”
Dit was duidelik ‘n ooreenkoms met
Naude persoonlik en nie met die respondent nie. Voorts was daar
aangeheg sekere kontantvloei
state van Naude in sy persoon.
[18]
Op 22 Maart rig Mnr Le Roux ‘n skrywe aan Mnr Tait waarin die
volgende vermeld word:
“
Ek
kan vir jou bevestig dat ons wel ‘n belangstelling het vir die
voorgestelde transaksie en sal dus in meer detail daarna
wil kyk.”
Dit
dien vermeld te word dat, tot daardie stadium, dit duidelik was dat
die applikant vir die finansiering ‘n privaat persoon
naamlik J
H Naude was en word dit ook so aangetoon in die laasgenoemde epos
vanaf Le Roux. Eers in hierdie epos word melding
gemaak daarvan
dat die applikant slegs finansiering verskaf aan maatskappye, beslote
korporasies of trusts met meer as drie trustees.
Daar word dan
ook ‘n lys aangetoon van inligting wat verlang word wat onder
andere insluit die brief van aanvaarding vanaf
die “Department
of Rural Development and Land Reform” en ander inligting.
[19]
Sonder om in onnodige detail in te gaan blyk dit dat die groot
meerderheid van inligting wat aan die applikant deurgestuur
is
betrekking gehad het op Mnr Naude Jnr. persoonlik, sy finansiële
posisie en sy beplanning met betrekking tot die aankoop
van
implemente.
[20]
Dit blyk onder andere uit die e-posse dat Mnr le Roux op 27 Maart
besonderhede aanvra van die eiendom of plaas wat deur Mnr
Naude
aangebied word as verband. Ook word ‘n werksooreenkoms
tussen Naude persoonlik en Spalding Trust, met betrekking
tot
boerdery bedrywighede, verskaf en versoek Mnr Le Roux ook
besonderhede met betrekking tot die Spalding Trust ooreenkoms en
‘n
brief van die bank met betrekking daartoe. Op 29 Maart stuur Le
Roux weer ‘n epos wat verwys na die aansoek
vir finansiering
vir trekkers en implemente en meld dat daar ‘n moontlikheid
bestaan vir produksie finansiering vir toekomstige
oeste van ongeveer
R7 miljoen.
[21]
Uiteindelik is ‘n ontmoeting en vergadering tussen Naude en Le
Roux gereël waartydens die finansiering bespreek
is.
Volgens Le Roux se getuienis was hy op daardie stadium bewus daarvan
dat die respondent inderwaarheid nie boerdery bedrywighede
bedryf nie
maar dat dit deur Naude in persoon bedryf word. Onder andere
word op die 11de April 2012 ‘n onderneming
deur Nu Pro
Commodities
aan
applikant verskaf met die onderneming om oesopbrengste by Naude te
koop en sessie daarvan aan die applikant te gee.
[22]
Uit al die getuienis blyk dit duidelik dat, op die stadium toe die
onderskeie ooreenkomste gesluit is, Mnr Le Roux namens die
applikant
bewus was daarvan dat die respondent self nie boerdery bedrywighede
bedryf nie, dat Naude Jnr. in persoon boerdery bedrywighede
bedryf en
onder andere ooreenkomste gesluit het soos hierintevore na vermeld
vir welke doel die trekkers, implemente en produksie
finansiering
benodig word. Tydens die vergadering tussen Le Roux en Naude te
Clarens is onder andere die akte van oprigting
van respondent aan Le
Roux oorhandig, waarvolgens dit blyk dat die doel van die maatskappy
was om ‘n koopkontrak wat reeds
aangegaan is ten opsigte van
die betrokke plaaseiendom, wat die eiendom van die maatskappy geword
het, te koop sowel as om sake
te doen in landbou en veeteelt en in
alle vertakkinge van boerdery in die algemeen. Onder andere is
daarin voorsiening gemaak
om vir doeleindes van die maatskappy
handelsvoorraad-bedryfsuitrusting ensovoorts te bekom, om eiendom te
verkoop, verhuur te verbind
ensovoorts en om geld te leen of te
verkry, asook om geld aan enige persoon of maatskappy te leen wat, in
besonder, met die respondent
handel.
[23]
Die feit dat die trekkers en toerusting op naam van Naude persoonlik
aangekoop is word deur Le Roux verduidelik as synde die
feit dat
Naude en nie respondent nie ‘n BTW geregistreerde was en dit
die voordeel sou inhoud dat BTW teruggeëis kon
word. Daar
is egter ooreengekom dat die aangekoopte bates deur respondent
verseker sou word op sterkte van Naude se onderneming
om die bates
later aan die maatskappy oor te dra. Onder andere word later in
Naude se persoonlike finansiële state aangedui
dat hy ‘n
bedrag van ongeveer R9,5 miljoen aan die respondent verskuldig is.
‘n Dienooreenkomstige inskrywing
word egter nie in die
respondent se finansiële state gevind nie.
[24]
Op die getuienis as geheel dui dit oorweldigend daarop dat alle
beskikbare finansiering wat deur applikant beskikbaar gestel
is
aangewend is vir die aankoop van landbou-toerusting en implemente
deur Naude persoonlik, finansiering van produksiekoste aangegaan
deur
Naude in sy persoonlike boerdery en dat geen van sodanige fondse ten
behoewe van die maatskappy of enige bedrywighede van
die maatskappy,
te wete die respondent, aangewend is nie. Mnr Le Roux se
verduideliking dat dit as sulks geskied het op sterkte
van die
voorneme van Naude om die bates en boerdery bedrywighede een of ander
tyd aan die maatskappy oor te dra is moeilik te verstane.
Die
applikant was klaarblyklik nougeset om seker te maak dat alle formele
vereistes in plek is en daar behoorlik geboekstaaf word
wat die
reëlings tussen die partye is. Tog word daar geen formele
onderneming deur Naude vereis om die bates of boerderybedrywighede
of
inkomste daarvan aan die maatskappy oor te dra binne ‘n sekere
tyd of enigsins nie. Onder andere stuur Mnr Le Roux
op die
30ste Mei 2012 ‘n e-pos aan Mnr Tait waarin die volgende onder
andere vermeld word:
“
Ek
is van mening dat hierdie ‘n groot hupstoot vir Johan sal
wees.”
[25]
Soos reeds vermeld, dui die getuienis as geheel oorweldigend daarop
dat die bedoeling deurgaans was om finansiering aan Naude
in sy
persoonlike boerderybedrywighede te voorsien. Die maatskappy,
dit wil sê respondent, is betrek op grond van die
applikant se
beleid om nie aan individue geld te leen nie en tweedens om die
plaaseiendom van die maatskappy beskikbaar te stel
vir doeleindes van
‘n verbandlening as sekuriteit. Mnr Le Roux namens die
applikant was deurentyd ten volle bewus hiervan.
Hy het as
getuie in elk geval nie ‘n goeie indruk gemaak nie. Die
optrede, ten einde finansiering aan Naude te verskaf,
was teenstrydig
met sy getuienis dat finansiering nie aan individue verskaf word nie
(by voorbeeld deur belangstelling in die transaksie
bekend te maak
reeds voordat die bestaan van die maatskappy bekend was) en is direk
teenstrydig met Le Roux se getuienis dat daar
hoegenaamd nie
belanggestel word in besigheid met individue nie. Mnr Le Roux
het bykans geen vraag direk beantwoord nie en
elke vraag met ‘n
beredeneerde lang antwoord ontmoet. Hy is tereg deur ‘n
Mnr Greyling namens die respondent
as ‘n berekende getuie
bestempel.
[26]
Die vraag ontstaan of, in die lig van die voorgaande, die wyse waarop
die transaksie ingekleur was lei tot die nietigheid daarvan
al dan
nie en wat, indien enige, die invloed op die geldigheid van die
ooreenkomste tussen die applikant en die respondent met
betrekking
daartoe was. Namens applikant is geargumenteer dat artikel 45
nie van toepassing is met betrekking tot die ooreenkoms
waarby die
applikant ‘n party is nie en slegs betrekking het op interne
ooreenkomste tussen ‘n maatskappy en direkteure
vir die
voorsiening van finansiering. Ook is aangevoer dat deel van die
maatskappy se akte van oprigtings-doelstellings is
om geld uit te
leen. In die lig daarvan word gesteun op artikel 45(1)(b)(i),
wat die uitleen van geld in die gewone loop
van sake van ‘n
maatskappy, wie se hoofdoel van besigheid die uitleen van geld is,
uitsluit. Wat laasgenoemde betref
is ek oortuig daarvan dat die
hoofdoel van besigheid van die respondent hoegenaamd die uitleen van
geld is nie maar inderdaad die
bedryf van boerdery aktiwiteite en
gepaargaande besigheid. Sekerlik is die respondent nie ‘n
geregistreerde kredietverskaffer
soos deur die wet vereis nie.
Subartikel 6 van artikel 45 bepaal dat ‘n ooreenkom met
betrekking tot die voorsiening
van finansiële bystand tot ‘n
direkteur nietig is insoverre dit strydig is met die betrokke
artikel.
[27]
Namens applikant is geargumenteer dat nietigheid, soos bedoel in die
betrokke subartikel, nie kan slaan op ‘n derde party
wat geld
aan ‘n maatskappy beskikbaar stel en deur die maatskappy weer
aan ‘n direkteur beskikbaar gestel word nie.
Ek stem saam
dat ‘n sterk argument uitgemaak kan word dat die wetgewer nooit
kon bedoel om ‘n leningsooreenkoms tussen
‘n
bona
fide
derde party en ‘n maatskappy
nietig te verklaar indien die
bona fide
derde party onbewus was van die feit dat die geld bekom word vir
doeleindes van ‘n lening aan ‘n direkteur strydig
met die
bepalings van artikel 45 nie. In die onderhawige omstandighede
was dit egter duidelik dat die applikant te alle tye
bewus was
daarvan dat die doel van die lening was om geld aan Naude in sy
persoonlike hoedanigheid as enigste direkteur van die
maatskappy
beskikbaar te stel. Nie alleen het dit nie net betrekking gehad
op ‘n deel van die geld wat aan die maatskappy
voorgeskiet is
nie maar inderdaad op die totaliteit van die bedrag wat sodanig deur
applikant aan die maatskappy geleen en voorgeskiet
is.
[28]
Dit was voorts namens applikant geargumenteer dat die applikant kon
aanvaar dat alle interne voorvereistes nagekom is vir doeleindes
van
die transaksie tussen die maatskappy en Naude as direkteur en
derhalwe ook kon aanvaar dat die voorskrif van ‘n spesiale
resolusie van aandeelhouers soos vervat in subartikel 3 van artikel
45 inderdaad aan voldoen is. Daar is ook geargumenteer
dat die
bekende Turquand-reël tot redding van die applikant in die
onderhawig omstandighede kom.
[29]
Namens respondent is met steun op die uitspraak in die beslissing van
Stand 242 Hendrik Potgieter Road
Ruimsig (Pty) Ltd v Göbel NO
2011 (5) SA 1
(SCA), betoog dat dit die toepassing van die
Turquant-reël uitskakel en ook tot effek het dat die voorskrifte
van artikel
45 met betrekking tot ‘n spesiale resolusie van
aandeelhouers iets meer daarstel as ‘n interne
bestuurshandeling.
Daar is argumenteer dat die bedoeling van
artikel 45 duidelik die beskerming van aandeelhouers is en dat, net
soos in die beslissing
waarna so pas verwys is, die Turquant-reël
nie gebruik kan word om die bepalings van die artikel te omseil nie.
[30]
Weens die aard van die aansoek is dit nie vir my nodig om te beslis
of die nietigheidsbepalings soos vervat in artikel 45 van
die Wet
hierintevore na verwys inderdaad ook sover strek as om ‘n derde
party in die posisie van die applikant in die onderhawige
geval te
dek nie. Ek is wel tevrede dat daar ‘n voldoende sterk
argument uitgemaak kan word dat dit wel transaksies
van hierdie aard,
waar die derde party bewustelik deelneem aan ‘n skema om
finansiering deur die maatskappy aan ‘n
direkteur beskikbaar te
stel, in stryd met die bepalings van artikel 45, met nietigheid
beklee. Dit, tesame met die oorweldigende
aanduiding dat die
ware bedoeling van die partye deurentyd was om finansiering aan Naude
in sy persoon beskikbaar te stel en nie
aan die maatskappy nie en dat
die maatskappy lenings gesimuleerde ooreenkomste was, stel myns
insiens voldoende gronde daar om
te bevind dat die respondent se
ontkenning van aanspreeklikheid teenoor die applikant
bona fide
en op redelike gronde berus.
Na
die aanhoor van getuienis en oorweging van al die beskikbare
getuienis is ek derhalwe nie anders oortuig as wat my broeder Lekale
was tydens die aanvanklike argumentering van die aansoek nie.
[31]
Dit is nodig om met een ander aspek te handel en dit is die argument
namens die applikant tot die effek dat die respondent
nie behoorlik
voor die hof is nie en nie deur ‘n behoorlike resolusie
gemagtig is om die aansoek te opponeer nie. Met
verwysing na
die betrokke resolusies is, soos vantevore vermeld, geargumenteer dat
die aansoek inderdaad nie behoorlik deur die
respondent opponeer word
nie en beskou moet word as ‘n ongeopponeerde aansoek.
[32]
Hierdie is presies die tipe van probleem wat ek voorsien het alvorens
ek die aansoek aangehoor het en die rede waarom ek uitsluitsel
wou
kry omtrent die omvang van geskilpunte wat bereg staan te word.
Wat meer is, indien die respondent nie behoorlik voor
die hof is nie
dan is die aansoek in wese onbestrede. Dit is ondenkbaar dat my
broeder Lekale ‘n onbestrede aansoek
sou verwys vir die aanhoor
van mondelinge getuienis en voorts sou gelas dat die respondent ook
gemagtig word om getuies te dagvaar
en getuienis aan te bied.
Mnr Greyling namens die respondent het aangevoer dat die betrokke
punt uitdruklik tydens die argumentering
van die aansoek voor my
broeder Lekale abandoneer is. Dit is deur Me Buikman ontken.
Hierdie tipe van punt is by uitstek
‘n punt wat aanvanklik
geargumenteer moes word en ‘n bevinding oor verkry moes word,
aangesien dit die verwysing vir
die aanhoor van getuienis totaal
onnodig sou maak indien in die guns van die applikant beslis.
Wat meer is, by die aanvang
van die verrigtinge voor my is geen woord
gerep oor die betrokke punt nie en het ek aanvaar dat, na aanleiding
van my gesprek met
die prokureurs, daar geen ander geskilpunte was as
die vraag of die eis op
bona fide
en redelike gronde betwis word nie. Boonop het Me Buikman by
die aanvang van die verrigtinge argumenteer dat die respondent
moet
begin met die aanbied van getuienis; dieselfde respondent as
wie sy in argument aanvoer, nie behoorlik voor die hof
is nie en na
regte nie aangehoor behoort te word nie.
[33]
Die laas vermelde argument namens die applikant is niks anders as ‘n
laat opportunistiese poging om op tegniese gronde
‘n bevinding
in applikant se guns te verkry sonder dat die respondent hoegenaamd
daarop voorberei was.
In
elk geval het die huidige enigste direkteur van die respondent as
getuie in die saak getuig en het ek geen twyfel dat die respondent
behoorlik voor die hof is en die aansoek op geen wyse as onbestrede
benader kan word nie.
In
die lig van die voormelde omstandighede is ek nie bereid om enige
bevinding tot nadeel van die respondent op laasvermelde grond
te maak
nie.
[34]
In konklusie is ek van mening dat die betwisting van aanspreeklikheid
teenoor die applikant deur die respondent
bona
fide
is en op redelike gronde gebaseer
is. In die lig daarvan kan ‘n aansoek om likwidasie nie
slaag nie.
[35]
Bygevolg word die aansoek afgewys met koste.
_______________
A.F.
JORDAAN, R
Namens
die applikant:
Adv. L. Buikman SC
In
opdrag van:
McIntyre
& Van der Post
BLOEMFONTEIN
Namens
die respondente: Adv. P. J. Greyling
In
opdrag van:
Schoeman
Maree Ing.
BLOEMFONTEIN
/
eb