About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2015
>>
[2015] ZAFSHC 74
|
|
B v B (3951/2013) [2015] ZAFSHC 74 (16 March 2015)
SAFLII
Note:
Certain
personal/private details of parties or witnesses have been
redacted from this document in compliance with the law
and
SAFLII
Policy
IN
DIE HOë HOF VAN SUID-AFRIKA
VRYSTAAT
AFDELING. BLOEMFONTEIN
Saaknommer.:
3951/2013
In die saak tussen:
M[...]
P[...] B[...]
….............................................................................................................
Applikant
en
S[...]
J[...] B[...]
…............................................................................................................
Respondent
UITSPRAAK
DEUR:
DAFFUE,
R
AANGEHOOR
OP:
29
JANUARIE 2015
GELEWER
OP:
16MAART2015
I
INLEIDING
[1] Twee kinders, ‘n
dogter J[...], tans 12 jaar oud en ‘n seun A[...], tans 10 jaar
oud (“die kinders”),
is die middelpunt van ‘n
dispuut en toutrekkery rondom hul permanente bewoningsreg. Die
kinders word binne enkele maande
13 en 11 jaar oud en is in Graad 7
en Graad 5 onderskeidelik.
II
DIE PARTYE
[2] Applikant is
M[...] P[...] B[...], die vader van die kinders en ‘n
rekenmeester van beroep woonagtig te Bloemfontein.
Hy is
verteenwoordig in hierdie aansoek deur Adv A de Wet. Respondente is
die moeder van die kinders en ‘n prokureur van
beroep woonagtig
te Bloemfontein. Sy is verteenwoordig deur Adv S Grobler.
III
DIE AANGEVRAAGDE
REGSHULP
[3] Applikant
versoek die hof om die akte van dading van 25 November 2011 wat op 1
Desember 2011 ‘n hofbevel gemaak is, te
wysig in die mate dat
die permanente bewoningsreg van die kinders aan hom toegeken word en
dat al die ander regte wat hy tot op
hede geniet uit hoofde van die
hofbevel in die toekoms aan respondente verleen word. Applikant
vorder ook onderhoud in die bedrag
van R1 750,00 per maand per kind
welke bedrag presies dieselfde is as wat hy tans aan respondente
betaal ten aansien van die kinders
uit hoofde van die bestaande
hofbevel en word koste van die aansoek in die kennisgewing van mosie
gevorder.
IV
AGTERGROND
[4] Die partye is op
15 Januarie 2000 met mekaar getroud, welke huwelik soos vermeld op 1
Desember 2011 ontbind is. Slegs die twee
kinders, waarna hierbo
verwys is, te wete J[...] en A[...], is uit die huweliksverhouding
gebore en wel op 8 Mei 2002 en 1 Junie
2004 onderskeidelik.
[5] Op 24 Junie 2011
het applikant ‘n egskeidingsdagvaarding uitgereik onder
saaknommer 2438/2011 waarin hy ‘n bevel
van egskeiding verlang
het en spesifieke ouerlike verantwoordelikhede en regte ten aansien
van die kinders, in besonder dat die
primêre sorg en permanente
bewoningsreg van die kinders aan hom toegeken word onderhewig aan
redelike kontakregte van respondente.
Respondente het ‘n
teeneis geliasseer waarin sy eweneens versoek het dat die permanente
bewoningsreg van die kinders aan
haar toegeken word met redelike
kontak ten gunste van applikant.
[6] Enkele maande
nadat die egskeidingsgeding aanhangig gemaak is, is dit geskik en het
die partye op 25 November 2011 ‘n
skriftelike skikkingsakte
aangegaan wat op 1 Desember 2011 ‘n hofbevel gemaak is.
Daarkragtens is ooreengekom dat beide partye
met die voile ouerlike
verantwoordelikhede en regte van versorging beklee sal word met
betrekking tot die kinders onderhewig daaraan
dat die permanente
bewoningsreg van die kinders aan respondente toegeken word en dat sy
gevolglik verantwoordelik is vir die dag
tot dag versorging van die
kinders, terwyl spesifieke kontakregte aan applikant toegeken is.
[7]
Applikant wil die
status
quo
nou
verander sodat die permanente bewoningsreg van die kinders aan hom
toegeken word. Sy aansoek word geopponeer en is volledige
argumente
deur my aangehoor op 29 Januarie 2015 waarna ek my uitspraak
voorbehou het.
V
DIE WEERGAWES VAN
DIE PARTYE
[8]
Applikant kan uit die aard van die saak nie direkte getuienis aanbied
van wat in die huis van respondente aangaan sedert samewoning
beëindig is nie. Hy is derhalwe daarop aangewese om te steun op
inligting wat hy van die kinders ontvang en tot ‘n mate
sy eie
waarnemings soos ondere andere dat respondente se saamleefmaat, Mnr
Dell, by geleentheid so
“
smoordronk”
was
dat hy
“
beswaarlik
hoorbaar kon praat”.
Desnieteenstaande
het hy toegelaat dat Mnr Dell die kinders na respondente se huis
vervoer in daardie toestand
“
om
enige onaangenaamheid te vermy”
soos
in sy epos waarna ek hieronder verwys uiteengesit. Hy het dit egter
goedgevind om agter hom aan te ry om te verseker dat hulle
veilig
tuiskom. Teenstrydig met wat Mnr Dell sou verkondig, het respondente
skynbaar vroeër met haar huisbediende gereël
dat sy nie die
aand by die huis sou slaap nie. Respondente en Mnr Dell se weergawe
ter opponering van die aansoek is dat hy nie
onder die invloed van
drank was nie, maar dat sy mond oortrek was van koorsblare.
Ex
facie
die
aansoekstukke het nóg respondente, nóg Mnr Dell op
applikant se epos van 27 Februarie 2013, bylaag “C”
tot
die funderende beëdigde verklaring waarin die aantuigings wat
applikant in hierdie verband onder eed maak, uiteengesit
is,
gereageer.
[9] Dit is duidelik
met die deurlees van die aansoekstukke dat die kinders se band met
respondente as hulle moeder versleg het vanaf
die moment toe Mnr Dell
op die toneel verskyn het.
[10] Die applikant
steun op ‘n verslag van die sielkundige, Dr Zendrê
Swanepoel wat die kinders ge-evalueer het aan
die begin van 2013 toe
hulle nog in Graad 5 en Graad 3 onderskeidelik was. Hulle was toe
slegs 10 en 8 jaar oud en soos hierbo
vermeld word hulle eersdaags 13
en 11 jaar onderskeidelik. Drie konsultasies is gevoer op 22
Februarie, 15 Maart en 16 Maart 2013
onderskeidelik. Afsonderlike
onderhoude is met elke kind gevoer. Dit is duidelik dat dit A[...] se
grootste wens is om by die applikant
te woon soos dit ook duidelik
verwoord is teenoor die sielkundige. Jané het ook baie
duidelik laat blyk dat sy veiliger
by applikant voel en dat hy en sy
huidige eggenote dit vir die kinders lekker maak om by hulle te wees
en drukkies en soentjies
uitdeel, terwyl respondente baie op hulle
skree, onnodig raas en Mnr Dell se drankmisbruik hulle ontstel.
Kortom, beide kinders
voel veilig en geborge by applikant en sy
huidige eggenote in direkte kontras met hulle ervarings by
respondente en Mnr Dell.
[11]
Dit is insiggewend dat applikant respondente uitgenooi het om haar
beskikbaar te stel vir ‘n onderhoud met Dr Swanepoel,
maar dat
die uitnodigings van die hand gewys is omdat
“
(o)ns
kliënt is ongelukkig nie beskikbaar op gemelde tyd en datum om
die eensydige gereëlde afspraak met Dr Zendrë
Swanepoel na
te kom nie.” Alhoewel die indruk geskep word dat respondente
bereid sou wees om haar samewerking te gee in die
toekoms word dit
duidelik gemaak in dieselfde skrywe van Horn & Van Rensburg
gedateer 19 Februarie 2013 dat sy uiters
onwillig is om haar
samewerking te verleen en ek haal die volgende aan:
“
Huidiglik
plaas ons op rekord dat ons kliënt nie toestem tot enige
sodanige konsultasies en/of evaluasies van die minderjarige
kinders
alvorens u ons nie voorsien het van die redes daarvoor asook die
verwysingsraamwerk daaraan verbonde nie. Ons kliënt
is uit die
aard van die saak meer as bereid om haarself te onderwerp aan ‘n
evaluasie, sodra ons behoorlik in kennis gestel
(sic) wat die aard en
doel daarvan sal wees. U kliënt het wel by ons kliënt
aangedoen, en gedreig dat die kinders voortaan
by horn moet tuisgaan.
Hy het ook aangedui dat hy formeel gaan aansoek doen hiervoor.”
Die inligting hierin
vervat is verstommend omdat dit duidelik bevestig dat respondente
inderdaad weet dat applikant evaluasies wil
laat doen omdat hy van
oordeel is dat die akte van dading gewysig behoort te word met
betrekking tot die permanente bewoningsreg
van die kinders en daarom
is die tweede laaste paragraaf van die skrywe net so ontstellend:
“
Ons
is van oordeel dat, gesien in die lig van die trauma waardeur die
kinders asook ons kliënt reeds gegaan het gedurende die
loop van
die egskeiding, enige verdere konsultasies en/of evaluasies soos
versoek deur u kliënt ten voile en na behore gemotiveer
word
alvorens ons enigsins dit sal oorweeg om ons kliënt
dienooreenkomstig te adviseer. Ons kan dit uit die aard van die saak
slegs doen wanneer ons u kliënt se aansoek ontvang het.”
Die
opvolgskrywe van Horn & Van Rensburg van 22 Februarie 2013
is ewe onverstaanbaar in die mate dat beweer word dat verhoed
moet
word dat evaluasies deur deskundiges
“
ontaard
in ‘n visvang-ekspedisie”.
Reeds
op daardie stadium word dan beweer dat applikant en sy nuwe eggenote
sowel as applikant se ouers die kinders
“
indoktrineer,
manipuleeren opsteek”.
[12]
Op 12 Junie 2013 het Symington & De Kok aan Horn & Van
Rensburg geskryf en die verslag van Dr Swanepoel aangeheg.
Respondente is versoek om aan te dui watter gekwalifiseerde
kindersielkundiges sy tevrede mee sou wees om ‘n evaluasie te
doen na aanleiding van haar bereidwilligheid verklaar in ‘n
skrywe van 10 Junie 2013. Hierna het Horn & Van Rensburg
die
name van drie deskundiges voorgestel, maar respondente was nie bereid
om verantwoordelikheid vir ‘n gedeelte van die
koste te dra
nie, alhoewel sy tevrede was dat die fooie van die deskundige
eventueel takseerbaar en betaalbaar sal wees as koste
in die geding.
Dit was nie aanvaarbaar nie vir applikant wat daarop aangedring het
dat sowel hy as respondente hulle onderwe'rp
aan evaluasie deur Dr
Swanepoel. Respondente was nie bereid hiertoe nie en het sy
voortgegaan om haar opponerende beëdigde
verklaring af te lewer
waarin sy uit haar pad gegaan het om applikant se optrede deur Dr
Swanepoel van instruksies te voorsien
om ‘n evaluasie van die
kinders te doen, te kritiseer. Volgens haar gaan dit goed met die
kinders, woon hulle in dieselfde
huis waar hulle grootgeword het saam
met die huishulp wat sedert hul geboorte gehelp het om na hulle om te
sien en is sy as moeder
hulle bastion van sekuriteit,
standvastigheid, dissipline, liefde en versorging. Dit sal volgens
haar verkeerd wees om die kinders
nou onmiddellik na die trauma en
angs van die egskeiding verder te ontwrig en behoort die
status
quo
met
betrekking tot hulle permanente bewoningsreg gehandhaaf te word.
Respondente beweer dat nie een van die kinders op enige stadium
teenoor haar laat deurskemer het dat hulle ontevrede is by haar of
met die verhouding tussen haar en Mnr Dell nie. Sy is ook nie
bereid
om die inhoud van Dr Swanepoel se verslag te aanvaar nie.
[13] Respondente se
werksomstandighede veroorsaak dat sy soms uitstedig is, maar is dit
haar saak dat sy voile vertroue het in haar
huishulp, Me Maria Tsiu,
wat reeds 12 jaar by haar werksaam is en wie die kinders na behore
tydens haar tydelike afwesigheid kan
versorg. Sy ontken dat haar
omstandighede na die egskeiding enigsins verander het, alhoewel sy
erken dat sy en Mnr Dell in ‘n
saamleefverhouding betrokke is.
Volgens haar gebruik hulle drank op ‘n matige wyse deur
byvoorbeeld een glasie wyn per maaltyd
in die aand te nuttig.
[14] Volgens
respondente is Jané op die vooraand van haar puberteit en het
sy juis op hierdie stadium haar moeder se liefde
en aandag deurentyd
nodig. Dit is in die kinders se beste belang dat hulle permanent by
haar woonagtig is en sal enige verskuiwing
traumaties wees.
[15] In repliek toon
applikant aan dat wanneer die kinders by horn oorbly, hulle in aparte
kamers slaap, terwyl hulle verkies om
in een kamer onder respondente
se dak te slaap. Hy doen aan die hand dat die rede daarvoor is dat
hulle nie geborge voel nie en
dat dit heeltemal abnormaal vir kinders
van hulle ouderdom is, gegewe dat dit ‘n seun en ‘n
dogter is, om te weier
om in hulle eie kamers te slaap.
[16] Applikant
verwys ook na die akte van dading wat ‘n hofbevel gemaak is in
die egskeidingsgeding van Mnr en Mev Dell waarin
die volgende in
paragraaf 1.4 verklaar word:
“
Sonder
om te erken dat hy horn in die verlede aan enige wangedrag skuldig
gemaak het, onderneem die verweerder om nie gedurende
die uitoefening
van sy kontakregte en wanneer die minderjarige kinders onder sy
beheer is, enige alkohol te gebruik nie.”
[17] Applikant maak
ook die punt dat respondente as gevolg van haar werksomstandighede
baie uitstedig is en soms vir ‘n aantal
dae op ‘n keer
soos blyk uit paragraaf 22 van sy repliserende beëdigde
verklaring.
[18]
Applikant se repliserende beëdigde verklaring is reeds op 26
November 2013 geliasseer. Op 20 April 2014 is ‘n verslag
voorberei deur Me Tertia Spangenberg, ‘n kliniese sielkundige
van Bloemfontein. Daarin beweer sy dat respondente haar gedurende
Oktober 2014 (dit moet wees 2013) gekontak het om ‘n opinie te
verkry ten opsigte van die onderhawige aansoek. Sy het inderdaad
die
aansoekstukke met sielkundige verslag nagegaan en ook gesprekke gehad
met die kinders, respondente se huishulp en haar buurvrou,
respondente self en haar vriend, Mnr Dell. Die kliniese sielkundige
het skynbaar verkies om nie met applikant en sy eggenote te
konsulteer nie. Sy maak dit duidelik dat beide die kinders spontaan
met haar gesels het, dat albei haar meegedeel het dat hulle
eerder by
hulle pa wou bly, maar dat hulle vir ‘n lang tyd bang was dat
as hulle ma daarvan sou uitvind, sy kwaad sou wees.
Beide kinders het
soortgelyke redes as motivering aangevoer, te wete alkoholmisbruik,
die feit dat hulle lekkerder slaap by hulle
pa, derdens dat hulle nie
van Oom Charles (Mnr Dell) hou nie en vierdens dat hulle lekkerder
goed by hulle pa doen. Dit is onseker
wanneer hierdie konstultasies
gevoer is maar moes dit gewees het tussen Oktober 2013 en April 2014
en waarskynlik eerder kort voor
finalisering van die verslag in April
2014. Die effek hiervan is dus dat die kinders oor ‘n tydperk
van ongeveer ‘n
jaar en selfs meer by hulle weergawe gebly het
soos uitgespreek teenoor Dr Swanepoel. Me Spangenberg is van oordeel
dat die kinders
hulle redes soos aan haar verskaf
“
ingeoefen
het” en dat A[...] se weergawe ‘n
“
eggo”
van sy suster s’n is. Jané toon volgens haar duidelike
tekens en simptome van veralgemeende angsversteuring
en beveel sy aan
dat die dogter na ‘n psigiater geneem word. Gedurende April
2014 en skynbaar net voordat die verslag gefinaliseer
is, het Me
Spangenberg weer eens met beide kinders telefoniese gesprekke gevoer
en het hulle tydens hierdie gesprekke hulle redes
weer eens herhaal.
Alhoewel sy van oordeel is dat die
status
quo
ten
aansien van die kinders nie verander behoort te word nie, doen sy aan
die hand dat beide psigoterapie behoort te ontvang en
behoort beide
ouers by die psigoterapie betrek te word sodat hulle as ‘n span
kan saamwerk in die belang van hul kinders.
[19] Die
gesinsadvokaat het ook ‘n verslag voorberei waarin sy gesteun
het op ‘n verslag gedateer 5 September 2014 van
die
huweliksraadgewer, Me M.M.E. May. Dit is insiggewend dat beide
kinders onafhanklik van mekaar aan Me May ‘n versoek gerig
het
om hangende die finalisering van die hofproses by hulle vader, die
applikant te mag inwoon. Dit is duidelik dat die kinders
weer eens
hulle redes wat reeds aan twee ander professionele persone
gekommunikeer is, herhaal het teenoor die gesinsraadgewer.
Sy beweer
dan die volgende:
“
10.5
The children were assessed and their views were given due
consideration. The children are respectively nine and twelve years
old. They are not mature enough to make meaningful decisions that are
in their best interest. The children explanation and reasoning
is
similar and rehearsed, (sic)”
Dit is die weergawe
van die gesinsraadgewer dat sy behoorlike aandag aan die kinders se
uitgangspunte gegee het, maar dit is juis
duidelik dat sy dit nie
gedoen het nie omdat hulle volgens haar te onvolwasse is om besluite
wat in hulle belang is te maak, dat
alhoewel hulle mekaar staaf, hul
weergawes skynbaar ingeoefen is.
[20] Ek is meer
bekommerd dat Me Tshimo of Tshiamo (soos die gesinsraadgewer na haar
verwys) (dalk Me Maria Tsiu?) voorgesê
is wat om te sê en
nie die kinders nie. Volgens hierdie dame drink respondente en Mnr
Dell een glas wyn elk gedurende aandete.
Dit strook toevallig met wat
respondente beweer in haar beëdigde verklaring. Ek vind dit
vreemd dat ‘n huisbediende
oor hierdie inligting sou beskik so
asof sy saam met die huisbewoners aandete nuttig wat in elk geval nie
haar weergawe is nie.
Daar is net geen wyse waarop enige normale mens
kan aanvaar dat een glasie wyn per aandete ‘n probleem kan wees
nie en daarom
is die aanbeveling in paragraaf 10.9 van die
gesinsraadgewer se verslag eenvoudig sinneloos. Dit is egter duidelik
dat die gesinsraadgewer
so ietwat van ‘n vermoede het dat
respondente die kinders afskeep en word die volgende opmerking
gemaak:
“
The
respondent needs to start putting more effort when coming to the
needs of the children and spend quality time with them, (sic)”
VI
SEKERE
REGSBEGIN8ELS
[21] Artikel 28(2)
van die Grondwet bepaal soos volg:
“
28.2
A child’s best interests are of paramant importance in every
matter concerning the child.”
Dit word ge-eggo in
artikel 9 van die Children’s Act, 38 van 2005, wat soos volg
lees:
“
In
all matters concerning the care, protection and well-being of a child
the standard that the child’s best interest is of
paramount
importance, must be applied.”
Sien
ook
Jackson v
Jackson
2002
(2) SA 303
(HHA) te 307I tot 308A en
F
v F
2006
(3) SA 42
(HHA) te para [8],
‘
n
Hof is nie verplig om die verslae van deskundiges, en selfs dan ook
die gesinsadvokaat, eenvoudig klakkeloos te aanvaar nie. Alhoewel
deskundiges die hof se taak in baie gevalle vergemaklik, kan nie
toegelaat word dat ‘n deskundige getuie of getuies die funksie
van die hof vir horn of haar of hulself toe-eien nie. Vergelyk
P
v P
2007
(5) SA 94
(HHA) te para [16] en die gesag waarna met goedkeuring
verwys is.
[22] Hattingh R het
reeds bykans 20 jaar gelede baanbrekerswerk gedoen vir die regte van
vaders. Vergelyk:
Van
der Linde v Van der Linde
1996
(3) SA 509
(O). Ons leef nie meer in die dae toe moeders by die huis
gesit en kinders grootgemaak het nie. ‘n Groot persentasie
vrouens
is deesdae professionele mense en/of op ‘n voltydse
basis werksaam in een of ander verband. Dit is dan ook nie snaaks nie
dat vaders in ‘n baie groter mate as in die verlede betrokke is
by die opvoeding van hul kinders en selfs in baie gevalle
die rol van
“huisman” vertolk. Dit gebeur immers gereeld dat vaders
deesdae skoolkar ry, kinders dokter toe of na sport
en/of kulturele
gebeurtenisse vergesel, kosmaak en andersins na die kinders omsien
wanneer die moeder haar professionele take verrig
en/of vergaderings
en dies meer bywoon. Die geleerde Regter het hom soos volg uitgelaat
te 515C:
“
Die
begrip ‘bemoedering’ is aanduidend van ‘n funksie
eerder as ‘n
persona
en
is hierdie funksie nie noodwendig geleë in die biologiese moeder
nie. Dit behels die teergevoelige gehegtheid wat voortvloei
uit die
aandag wat van dag tot dag bestee word aan die kind se behoefte aan
liefde, fisieke versorging, voeding, vertroosting,
gerustheid,
geborgenheid, bemoediging en onderskraging. Alleenlik die ouer wat
hierdie behoefte kan bevredig sal daarin slaag om
‘n
psigologiese band met die kind te smee in welke ouer se sorg die kind
kan ervaar dat sy bestaan nog veelbeduidend is,
en wat met
toegeneentheid beskut en beskerm word. Bemoedering veronderstel om
onvoorwaardelik liefde te kan betoon sonder om noodwendig'‘n
teenprestasie te verwag.
Bemoedering is nie
net ‘n komponent van die vrou nie, maar ook deel van die man se
wese. In die verlede het die gemeenskap
van mans verwag om daardie
deel van hul persoonlikheid te onderdruk omdat dit nie by die beeld
van die man pas nie. Tradisioneel
was die man die heerser en die
meester, die jagter en wagter, die prediker en verdediger van huis en
haard. Hy moes sover moontlik
emosioneel onbetrokke bly. Die vrou
daarteenoor se bestemmingsfunksie was om kinders te baar, hulle te
versorg en te vertroetel,
om moeder en minnares te wees en daarmee
saam die algehele huishouding na behore te behartig.
Hedendaags het die
man die vrymoedigheid om sy bemoederingsgevoel te openbaar en uit te
leef... Al meer mans is bereid om bemoedering
as deel van hul
persoonlikheid te herken, te erken en uitdrukking daaraan te verleen.
Die toekenning van
bewaring verg ‘n rasionele oordeel gegrond op die feite van
elke saak en nie bloot op die vroeëre
morele waardes nie.”
In
P v P
het
die Hoogste Hof van Appél te paragraaf [26] hierdie beginsels
onderstreep, met goedkeuring aanvaar en afgesluit met die
volgende:
“
The
later approach, it needs be added, is in any event consistent with
the equality principle enshrined in s 9 of our Constitution.”
Kinders
kan natuurlik maklik gemanipuleer word en die een oomblik ‘n
spesieke mening vorm net om die volgende dag of die volgende
week
and^rs oor ‘n onderwerp te voel. Dieselfde sou geld vir hulle
gevoeiens teenoor hulle ouers of broers en susters. ‘n
Hof wat
kinders se mening in oorweging wil neem kan met vrug let op wat
Lombard R aangetoon het met verwysing na ‘n seun
se versugting
om onder bewaring van sy vader geplaas te word in
Meyer
v
Gerber
1999
(3) SA 650
(O) te 656E:
“
Met
ander woorde, dit is nie ‘n emosionele eenogige en irrasionele
uiting van sy frustrasies of kwellinge nie - dit dra ook
die stempel
van ‘n gewigtige besluit waarin hy lank bepeins en gedink het
en nie iets wat hy op die ingewing van die moment
die lig laat sien
het nie.”
In die verlede het
howe verskillende menings uitgespreek met betrekking tot die opinies
van kinders. Dit is onnodig om teenstrydige
uitsprake te behandel
maar is dit duidelik dat artikel 10 van die Children’s Act dit
gebiedend maak om die mening van ‘n
kind in sekere gevalle te
oorweeg en ek haal aan:
“
Every
child that is of such an age, maturity and stage of development as to
be able to participate in any matter concerning that
child has the
right to participate in an appropriate way and views expressed by the
child must be given due consideration.”
[23]
Die Appélhof, soos dit toe geheet het, het onomwonde verklaar
dat bestrede litigase wat verband hou met die belange
van kinders
anders hanteer behoort te word en dat die geykte toets van toepassing
by die beoordeling van bestrede aansoeke, die
Plascon-Evans
toets,
beslis nie slaafs nagevolg kan of mag word nie. Tewens, die hof het
dit soos volg uitgelaat:
“
In
addition it seems to me to be necessary to lay down that where a
parental couple’s access (or custody) entitlement is being
judicially determined for the first time - in other words where there
is no existing court order in place - there is no
onus
in
the sense of an evidentiary burden, or so-called risk of
non-persuasion, on either party. This litigation is not of the
ordinary
civil kind. It is not adversarial. Even where variation of
an existing custody or access order is sought, and where it may well
be appropriate to cast an
onus
on
an applicant,
the
litigation really involves a judicial
investigation
and the Court can call evidence
mero
motu
\
...”
(my
onderstreping.)
Sien
B v S
1995
(3) 571 (A) te 584I - 585A. Die hof gaan as volg voort te 585C - E:
“
That
presupposes, of course, that all the available evidence, fully
investigated, is finally in.
It
follows that if a Court were unable to
decide
the issue of best interests on the papers, it would not let the
matter
rest there.
While
there might often be valid reasons (for example, expense or the
nature of the disputed evidence) for not involving expert
witnesses,
at the least the Court would require, and if necessary call, oral
evidence from the parties themselves in order to form
its own
impression (almost always a vital one) of their worth and commitment.
Because the welfare of a minor is at stake, a Court
should be very
slow to determine the facts by way of the usual opposed motion
approach
(Plascon-Evans
Paints Limited
v
Van Riebeeck Paints (Pty) Ltd
[1984] ZASCA 51
;
1984
(3) SA 623
(A).
That
approach
is not appropriate if it leaves serious disputed issues of
fact
relevant to the child’s welfare unresolved
.”
(my
onderstreping).
[24]
In
Lubbe v Du
Plessis
2001
(4) SA 57
(K) het aldrie die kinders, seuntjies van 10, 8 en 6 jaar
oud onderskeidelik, aangetoon dat hulle eerder by hulle vader, die
applikant
in die aansoek om wysiging van die skikkingsakte, woonagtig
wou wees. Dit was duidelik dat die kinders ‘n sterk band met
mekaar gehad het en nie geskei moes word nie. Die hof het te p. 73 I
bevind dat minstens die oudste kind aan die hand van sielkundige
verslae voldoende volwasse was om
“
an
intelligent and informed judgment on what he subjectively perceives
to be in his best interests” te vorm.
VII
FINALE EVALUERING
VAN DIE WEERGAWES
[25] Applikant en
respondente verskil duidelik van mekaar oor wat in die beste belang
van hulle kinders is. Dit is duidelik dat
applikant uit die
staanspoor toe hy die egskeidingaksie aanhangig gemaak het,
aangedring het op die permanente bewoningsreg van
die kinders.
Skynbaar het hy besef dat hierdie aanspraak sou veroorsaak dat die
partye in ‘n bestrede aksie betrokke sou
raak omdat respondente
in haar teeneis ook aangedring het op permanente bewoningsreg van die
kinders. Die saak sou vir etlike maande
en selfs langer as ‘n
jaar gesloer het indien die waglys vir verhoorsake in ag geneem word.
Hy meld nie in sy aansoek om
welke rede hy bes gegee het nie, maar
die feit is dat hy inderdaad besluit het om respondente haar sin te
gee.
[26]
Binne 13 maande na die egskeiding, dit wil sê, in Januarie
2013, het dit volgens hom duidelik geword dat die kinders
ontevrede
is met die toedrag van sake en het hy die stappe gedoen waarna ek
reeds hierbo verwys het. Ek is nie bereid om te aanvaar
dat die
kinders gesamentlik en/of afsonderlik geindoktrineer en gemanipuleer
is deur applikant en sy familie om valse weergawes
aan drie
verskillende onafhanklike persone oor ‘n tydperk van meer as ‘n
jaar te verskaf nie. Waar daar ‘n rokie
is, is daar ‘n
vuurtjie en uit die mond van die suigeling kom menigmaal die
waarheid. Gegewe die oorvloedige korrespondensie
tussen die partye,
by wyse van epos of andersins deur middel van hulle prokureurs, kan
ek nie anders as om applikant se weergawe
vervat in sy epos van 27
Februarie 2013 en onder eed deur hom bevestig, wat ek in paragraaf 8
supra
behandel
het, as waar te aanvaar nie. Beide respondente en Mnr Dell is
prokureurs en behoort kennis te dra van die gevolge wat mag
ontstaan
as daar nie gereageer word op beskuldigings nie. Stilbly is ook ‘n
antwoord. Die weergawe van respondente en Mnr
Dell ten opsigte
hiervan en soos verwoord in die opponerende eedsverklarings kom
eerder neer op ‘n nagedagtenis en word verwerp
as vals.
[27] Hierdie is nie
gewone aansoekprosedure nie. Mnr Grobler het beweer dat die aansoek^
“ill-conceived” en “ill-advised”
was, dat ‘n
onvolledige saak voor die hof geplaas is en dat hierdie onvolledige
saak in elk geval ‘n “crippling
blow” toegedien is
met die liassering van die gesinsadvokaat se verslag. Hy vra die
retoriese vraag “what has changed?”
sedert die finale
egskeidingsbevel toegestaan is. Dit is duidelik dat minstens een
wesenlike verandering ingetree het. Mnr Dell
het sy intrek by
respondente geneem en dit het daartoe gelei dat daar spanning in
respondente se huis veroorsaak is in so ‘n
mate dat die kinders
baie meer veilig en geborge voel aan huis van applikant en sy huidige
eggenote. Ek kan nie my oë sluit,
soos Me Spangenberg, die
gesinsadvokaat en haar raadgewer, vir die kinders se versugting nie.
Hulle weergawe oor ‘n langdurige
tydperk bly konsekwent. Ek kan
nog verstaan as A[...] as gevolg van sy houding oor sport meer tyd
met sy vader sou wou deurbring
en selfs by hom wil inwoon en daarom
stories uitdink of vatbaar word vir manipulasie, maar dit is
ondenkbaar dat ‘n dogter
van bykans dertien jaar sodanig
opgesweep kan word dat sy verkies om eerder by haar vader te bly. Dit
is na my mening noodsaaklik
dat ‘n onafhanklike deskundige
evauasies doen om hopelik agter die kap van die byl te kom voordat
finale regshulp verleen
word.
[28] Ek besef dat
nie een van die deskundiges of die partye of hulle gades onder
kruisverhoor geneem is nie en dat ‘n mens
met ‘n situasie
te doen het dat papier maar uiters geduldig is. Ek sou ook graag wou
voorkom dat die partye en veral die
kinders weer eens aan enige
ondersoeke deur deskundiges blootgestel word. Tog, en na deeglike
besinning oor ‘n paar weke
wat dit my geneem het om uiteindelik
hierdie uitspraak te skryf, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat
‘n verdere evaluering
onvermydelik is en dat die beste belange
van die kinders daardeur gedien sal word.
[29]
Intussen is ek van oordeel dat die kinders se wense soos
gekommunikeer aan die gesinsraadgewer gehoorsaam behoort te word.
Dit
sal my
prima facie
gevoel,
wat uit die aard van die saak onderhewig is aan heroorweging na
ontvangs van verdere getuienis, bevredig.
Ex
facie
die
weergawe van applikant, soos bevestig deur Dr Swanepoel, is die
kinders alreeds vir meer as twee jaar vasgevang in ‘n
ondraaglike en emosioneel aftakelende situasie. Respondente ontken
steeds enige probleme. Die bevel wat ek van voorneme is om te
maak
sal geen negatiewe uitwerking hê op die kinders se skool- en/of
kulturele en/of sosiale aktiwiteite nie. Die ontwrigting
van ‘n
verskuiwing van die een woning na die ander en ‘n moontlike
latere herverskuiwing is oorweeg, maar ek glo dat
die kinders se
belange ten beste gedien sal word met die bevel wat ek in gedagte
het. Hierdie kwartaal se werksaamhede moet egter
eers voltooi word en
daarom sal die bevel in werking tree op die laaste skooldag van die
kwartaal met inagneming van enige vakansiereëlings
wat die
partye reeds onderling getref het.
[30]
Tydens mondelinge argument het ek dit aan die advokate genoem dat ek
oorweging daaraan skenk om die partye en die kinders te
verwys vir
verdere evaluasie deur ‘n deskundige en het die naam van Me
Enida Badenhorst, ‘n kliniese sielkundige, by
my opgekom. Beide
partye het geen beginselbesware gehad dat hierdie dame gekonsulteer
word nie, alhoewel hulle twee direk teenstrydige
voorstelle in
hierdie verband gehad het. Me De Wet namens die applikant was tevrede
met my voorstel dat ‘n volledige evaluasie
gedoen word deur die
kliniese sielkundige, terwyl Mnr Grobler namens respondente aangevoer
het dat daarteen gewaak behoort te word
om so ‘n bevel te maak
en dat die doeleindes van besoeke aan die kliniese sielkundige bloot
vir terapie en die verskaffing
van ‘n verslag behoort te wees.
Daardie verslag kan dan aan die partye sowel as die gesinsadvokaat
beskikbaar gestel word
vir die indiening van enige verdere verslae
en/of kommentaar. Ek het ook oorweging daaraan verleen om die
aangeleentheid te verwys
vir mondelinge getuienis op die basis soos
uiteengesit in
B_v
S
loc cit
te
588B - H sodat al die deponente wat verklarings hierin afgelê
het en/of verslae afgelewer het, behoorlik gekruisverhoor
kon word en
dat verlof aan die partye verleen word om sodanige verdere getuienis
aan te bied as wat hulle raadsaam sou ag. Sodanige
prosedure het die
potensiaal om ‘n bodemlose put te wees waarin geld onnodiglik
gestort word, terwyl dit net nie regverdig
teenoor die kinders sou
wees om byvoorbeeld ook in die getuiebank te verskyn om hulle
weergawe weer te gee nie. Dit behoort ‘n
laaste uitweg te wees.
Bygevolg het ek tot die gevolgtrekking gekom soos in die bevel
hieronder uiteengesit.
VIII
ONDERHOUD
[31] Applikant het
ook ‘n onderhoudsbevel versoek maar soos ek aan sy advokaat
uitgewys het, is daar geen basis op grond waarvan
sodanige bevel
verleen kan word nie. Applikant het geen uiteensetting gegee van die
onderhoudsbehoeftes van die kinders indien
hulle permanent by horn
woonagtig sou wees nie en voorts is daar ook geen inligting met
betrekking tot respondente se verdienvermoë
voor my geplaas nie.
Bygevolg maak ek geen bevel in hierdie opsig nie.
IX
KOSTE
[32] Beide partye
het aangedring op kostebevele in hulle guns, die applikant in die
geval van ‘n suksesvolle aansoek en die
respondente in die
geval waar ek die aansoek van die hand sou wys. Beide partye tree
klaarblyklik op in belang van hulle kinders
en alhoewel ek meen dat
die respondente onbehoorlik opgetree het deur nie toe te stem tot ‘n
volledige evaluasie deur ‘n
onpartydige deskundige en aangebied
het om by te dra tot die helfte van die koste van sodanige deskundige
nie, en die daaropvolgende
oefening waarskynlik onnodige koste
teweeggebring het, sal ek haar nie penaliseer nie. Ek is van oordeel
dat elke party verantwoordelikheid
moet aanvaar vir sy of haar koste
tot op datum hiervan.
IX
DIE BEVELE
[33] Bygevolg maak
ek die volgende bevele:
1. Die aansoek word
uitgestel tot Donderdag 6 Augustus 2015;
2.
Pendente lite
word
die volgende bevele gemaak:
2.1 Die bewoningsreg
van die kinders word aan die applikant toegeken en sal applikant
verantwoordelik wees vir die dag-tot-dag versorging
van die kinders
met ingang van die laaste skooldag van hierdie huidige skoolkwartaal,
te wete 25 Maart 2015, asook;
2.2 spesifieke
verantwoordelikhede en regte ten aansien van kontak met die kinders
soos uiteengesit in artikel 18(2)(b) van die
Kinderwet word aan die
respondente toegeken op die volgende basis:-
2.2.1 Kontak met die
kinders twee naweke per maand vanaf Vrydag om 13h00 tot en met die
daaropvolgende Sondag om 18h00;
2.2.2 Kontak met die
kinders elke Dinsdag vanaf 13h00 tot 19h30 en elke Woensdag vanaf
13h00 tot 19h30;
2.2.3 Publieke
vakansiedae sal verwissel tussen die partye;
2.2.4 Die partye se
bestaande reeling met betrekking tot die eerskomende Aprilvakansie
sal eerbiedig word en indien geen reelings
getref is nie, sal die
kinders onder die sorg van applikant bly en voorts sal die komende
Julievakansie gelykop tussen die partye
verdeel word;
2.2.5Ten minste drie
ure kontak op die respondente se verjaarsdag asook op die kinders se
onderskeie verjaarsdae;
2.2.6 Kontak op
moedersdag vanaf 09h00 tot en met 17h00 indien moedersdag nie oor ‘n
normale kontaknaweek val nie;
2.2.7 Redelike
telefoniese kontak;
2.2.8 Kontak met die
kinders te alle redelike tye, soos vooraf met die applikant gereël.
3. Die applikant en
respondente word beide gelas om so spoedig doenlik deur middel van
hul prokureurs afsprake te maak met Me Enida
Badenhorst, ‘n
kliniese sielkundige van Bloemfontein, op datums wat beide partye en
die kinders pas ten einde die kliniese
sielkundige in staat te stel
om na ‘n oorweging van al die aansoekstukke en deskundige
verslae, konsultasies met die partye
en sodanige derde partye as wat
sy mag goed vind, ‘n volledige evaluasie te doen met betrekking
tot die vraag aan watter
van die partye die permanente bewoningsreg
van hul kinders toegeken behoort te word, met dien verstande dat
indien Me Badenhorst
nie bereid of in staat is om hierkragtens op te
tree nie, die partye by ooreenkoms ‘n alternatiewe sielkundige
of kliniese
sielkundige moet aanstel om gevolg aan hierdie bevel te
gee, en in ieder geval sal beide partye gesamentlik aanspreeklik wees
vir
die betaling van die deskundige se fooie, onderhewig daaraan dat
dit die hof later sal vrystaan om in die uitoefening van sy diskresie
‘n gepaste kostebevel te maak.
4. Onmiddellik na
ontvangs van die deskundige se verslag moet die partye toesien dat
dit onmiddellik aan die gesinsadvokaat beskikbaar
gestel word aan wie
die reg verleen word om enige verdere verslae uit te bring met dien
verstande dat sodanige verslae beskikbaar
moet wees teen nie later as
1 Julie 2015.
5. Verlof word gegee
aan beide applikant en respondente om voor of op 15 Julie 2015 enige
verdere aanvullende verklarings wat hulle
wens in te dien, te
liasseer.
6. Enige verdere
betoogshoofde moet afgelewer word ooreenkomstig die praktyksreëls
van hierdie afdeling.
7. Elke party is
verantwoordelik vir die betaling van sy of haar eie regskoste tot en
met datum hiervan
J. P. dÁFFUËTR
Namens die
applikant: Adv. A. De Wet
In opdrag van:
Symington & De
Kok BLOEMFONTEIN
Namens die
respondent: Adv. S. Grobler
In opdrag van:
Horn & Van
Rensburg BLOEMFONTEIN