About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2015
>>
[2015] ZAFSHC 43
|
|
Bibbey N.O v Dohne (4645/2014) [2015] ZAFSHC 43 (5 March 2015)
IN DIE HOë HOF VAN
SUID-AFRIKA
VRYSTAAT AFDELING,
BLOEMFONTEIN
Saaknommer.: 4645/2014
DATE: 05 MAART 2015
In die saak tussen:
LOUWRENS BIBBEY
N.O
.....................................................................................................
Applikant
En
WILLEM JOHAN ODENDAAL
DöHNE
...........................................................................
Respondent
UITSPRAAK DEUR: DAFFUE, J
AANGEHOOR OP: 5 FEBRUARIE 2015
GELEWER OP: 5 MAART 2015
I INLEIDING
[1] Dit is my taak om ‘n
onsmaaklike dispuut tussen die partye, twee boere van dieselfde
distrik wat veronderstel is om in
rus en vrede met mekaar saam te
leef, te bereg. Dit hou verband met respondent se beweerde
eierigting. Hy het volgens applikant
die reg in sy eie hande geneem
en applikant se besit en toegang tot die landerye op die plaas
Holpan, distrik Frankfort, die eiendom
van respondent, ontneem. Dit
het nie net by een geleentheid gebeur nie, maar by twee geleenthede
binne weke uitmekaar. Applikant
het bygevolg twee spoliasie-aansoeke
op ‘n dringende basis binne dieselfde maand, Oktober 2014, van
stapel gestuur. Dit
was immers planttyd in die Frankfortdistrik.
[2] Hierdie hof is tans geroepe om te
oorweeg of die bevel nisi wat in die tweede spoliasie-aansoek
uitgereik is, bekragtig behoort
te word al dan nie. Voorts moet
bepaal word of respondent voldoende redes aangevoer het waarom hy nie
aan minagting van die hofbevel
van 6 Oktober 2014 – uitgereik
in die eerste spoliasie-aansoek - skuldig bevind en dienooreenkomstig
gevonnis moet word nie.
Respondent het ook ‘n teenaansoek
geloods wat oorweging verdien.
II DIE PARTYE
[3] Die applikant is Louwrens Bibbey
N.O. in sy hoedanigheid as trustee van die Susara Magdalena
Wilhelmina Odendaal Testamentêre
Trust MT2575/99. Die
respondent en eienaar van die plaas Holpan, distrik Frankfort is
Willem Johan Odendaal Döhne. Adv N
Snellenburg het namens
applikant opgetree en Adv JG Gilliland namens respondent.
III DIE AANGEVRAAGDE REGSHULP
[4] Op 22 Oktober 2014 het Van der
Merwe, R die volgende bevele verleen in die tweede spoliasie-aansoek:
“1. Die applikant se nie-nakoming
van die reëls en vorms word gekondoneer en die aansoek word as
‘n dringende aansoek
aangehoor.
2.‘n Bevel nisi word uitgereik
wat die respondent oproep om op 20 NOVEMBER 2014 om 09h30 of so
spoedig daarna as wat die advokate
aangehoor kan word, redes te
verskaf, indien enige, waarom die volgende bevele nie bekragtig moet
word nie:
2.1 Dat applikant se besit van en
toegang tot die landerye op die plaas Holpan herstel word.
2.2 Dat respondent gelas word om
onmiddellik die draadheining op foto “C2” en pale en hek
op foto “C1” wat
deur die respondent aangebring is en wat
die applikant se toegang tot die landerye op die plaas Holpan
frustreer, te verwyder;
2.3 Wat die respondent oproep om redes
aan te voer waarom hy nie skuldig bevind sal word aan minagting van
die Agbare Hof se bevel
gedateer 6 Oktober 2014 en ooreenkomstig die
reg gevonnis sal word nie.
2.4 Wat die respondent gelas om die
koste van die aansoek te betaal.
3. Paragrawe 2.1 en 2.2 hierbo sal dien
as tussentydse bevel met onmiddellike werking hangende finalisering
van hierdie aansoek.
4. Die aansoekstukke en bevel moet
ingevolge die Hofreëls aan die respondent beteken word.”
[5] Die aansoek is uitgestel en die
bevel nisi verleng by ooreenkoms op meer as een geleentheid en is
regsargumente uiteindelik
deur my aangehoor op 5 Februarie 2015.
IV DIE DISPUUT: ’n HISTORIESE
OORSIG
[6] Dit is nodig om nou reeds ‘n
historiese oorsig te gee van die aanloop tot die aanhoor van hierdie
aansoek op 5 Februarie
2015 omdat ek die betrokke feite deeglik in
oorweging sal neem om by my uiteindelike bevindings te kom.
[7] Die Frankfort/Corneliapad, die
S758, loop verby respondent se plaas. Die enigste toegang vanaf
hierdie pad na die plaas en
respondent se lande is by wyse van ‘n
plaaspad wat na respondent se woning direk aan die noordekant daarvan
geleë is.
Daar was te alle tersaaklike tye geen hek aangebring
op die plaaspad waar dit by die S758 aansluit nie.
[8] ‘n Stryery het onstaan tussen
die partye oor applikant se voortgesette besit en okkupasie van die
lande op die plaas Holpan.
Skynbaar het respondent ‘n
huurkontrak met ‘n derde gesluit ten aansien van die lande met
ingang van 1 September 2014,
maar feit bly staan dat respondent
applikant se reg tot besit ontken het tydens die eerste
spoliasie-aansoek. Applikant, aan die
ander kant, het die houding
ingeneem dat die trust oor ‘n geldige huurkontrak beskik en het
voortgegaan om die lande gedurende
September 2014 te bewerk met die
oog op aanplanting van gewasse. Die brief van 12 September 2014
vanaf respondent se prokureur
voorafgaande die eerste
spoliasie-aansoek toon onder andere aan dat respondent sy reg
uitoefen “...om sodanige Huurkontrak
onmiddellik te kanselleer
en besit van die eiendom te neem.” Voorts word applikant
ingelig dat hy “...onmiddellik
moet stop om enigsins verder van
die lande te bewerk.” Hierdie houding word ook duidelik
weerspieël en verwoord in
die voorwaardelike teenaansoek wat
respondent eventueel sou loods waarna spoedig verwys sal word. Op
geen stadium voorafgaande
die eerste spoliasie-aansoek is enige woord
gerep oor respondent se bekommernis ten aansien van sy veiligheid of
sy vee wat in
die openbare pad gekom het of mag kom en die noodsaak
om versperrings in die plaaspad aan te bring nie.
[9] Op 1 en 2 Oktober 2014 het
respondent ‘n hek aangebring op sy plaaspad wat na die lande en
sy plaashuis lei en net waar
dit afdraai vanaf die S758. Die hek is
met ‘n ketting en slot gesluit. Voorts het respondent die
plaaspad afgesper deur
draad te span vanaf die grensdrade na die
betrokke hek. Groot plaasimplimente is sodoende ook verhinder om die
pad te gebruik
omdat die hek te nou is vir sulke implimente.
Respondent het geweier om ‘n sleutel vir die slot aan applikant
te verskaf
nieteenstaande sy versoek. Daar was ‘n dispuut
hieroor, maar dis reeds beslis. Op daardie stadium was die lande
reeds voorberei
en applikant gereed om te plant. Onlangse reën
het ‘n gulde geleentheid daartoe geskep.
[10] Op 6 Oktober 2014 het ek as
diensregter ‘n dringende aansoek aangehoor onder aansoeknommer
4437/2014. Die partye in
daardie aansoek is dieselfde partye wat in
die huidige aansoek voor my figureer. Ek het beslis dat die aansoek
dringend was en
het ‘n bevel nisi uitgereik met keerdatum 6
November 2014. Paragrawe 2 en 3 van die bevel lees soos volg:
“2.1 Dat die applikant se besit
van en toegang tot die landerye bekend as die plaas Holpan en soos
bewerk deur die applikant
in terme van die Huurooreenkoms gedateer 26
Junie 2012 (aanhangsels FV2 tot die funderende eedsverklaring)
herstel word;
2.2 Dat die applikant se besit van die
10 meter Agrico Opvoubare Dis (anders beskryf as ‘n
skottel-grond-verwerkings-impliment)
herstel word.
2.3 Dat die respondent, alternatiewelik
die Balju van die Agbare Hof, gelas word om onmiddellik die heining,
pale, hek, ketting
en slot wat op of gedurende 1 en of 2 Oktober 2014
deur die respondent aangebring is en wat die applikant se toegang tot
die landerye
bekend asdie plaas Holpan soos bewerk deur die
applikant in terme van die Huurooreenkoms gedateer 26 Junie 2012
verhoed, te verwyder.
2.4 Indien die respondent sou weier en
of versuim om aan paragraaf 2.3 hierbo gehoor te gee, dat die
applikant, in die teenwoordigheid
en onder toesig van die Balju van
die Agbare Hof, gemagtig word om onmiddellik die heining, pale, hek,
ketting en slot (wat aangebring
is soos voormeld), te verwyder.
2.5 Dat die respondent gelas word om
die koste vn hierdie aansoek te betaal.
3. Pargrawe 2.1 tot 2.4 hierbo as
tussentydse bevele sal geld met onmiddellike werking, hangende die
afhandeling en uitkoms van
hierdie aansoek.”
[11] Op 22 Oktober 2014 het applikant
weer eens ‘n spoliasie-aansoek gebring deurdat sy besit en
toegang tot dieselfde lande
op die plaas Holpan na bewering versteur
is.
[12] Op 28 Oktober 2014 en dus nadat
applikant reeds ‘n tweede aansoek geloods het soos vermeld, het
respondent sy opponerende
beëdigde verklaring afgelewer in
aansoeknommer 4437/2014 (die eerste spoliasie-aansoek) en ook
terselfdertyd ‘n voorwaardelike
teenaansoek afgelewer.
Respondent se verklaring bots nie net met die weergawe vervat in
korrespondensie nie, maar is opsigself
weersprekend. Hy ontken dat
hy spoliasie gepleeg het en gaan sover om te beweer dat nuwe hekke
aangebring is om die veiligheid
op die plaas op te skerp. Dis
ironies dat hierdie aspek nooit in die voorafgaande korrespondensie
genoem is nie. Respondent weerspreek
homself deur eerstens die
foto’s wat applikant van die hek geneem het en duidelik die
ketting en slot aandui, te ontken en
ook te vermeld dat nie hy of sy
seun die betrokke hek gesluit het nie. Tog meld hy twee paragrawe
later dat die “hek, ketting
en slot is aangebring vir die
opskerping van die veiligheid op die plaas – en definitief nie
opgerig is in ‘n poging
om spoliasie te pleeg nie.” Dis
egter duidelik uit die voorwaardelike teenaansoek dat respondent
aanspraak gemaak het op
die onmiddellike ontruiming van applikant en
die verwydering van al sy implimente vanaf respondent se plaas. Sy
saak was immers
dat applikant nie op sy plaas hoort nie en dat hy
reeds ‘n ander huurkontrak met ‘n derde gesluit het met
ingang van
1 September 2014.
[13] Op 6 November 2014 is die bevel
nisi onder aansoeknommer 4437/2014 bekragtig, respondent gelas om die
koste van die aansoek
te betaal en is die voorwaardelike teenaansoek
met koste van die hand gewys.
[14] Respondent het eers op 21 November
2014, dit wil sê na die aanvanklike keerdatum in aansoek
4645/2014 – die tweede
spoliasie-aansoek - sy beantwoordende
beëdigde verklaring afgelewer. Terselfdertyd is daar weer eens
‘n teenaansoek
afgelewer. Hierdie laat-liassering het
veroorsaak dat die aansoek uitgestel en die keerdatum verleng is ten
einde onder andere
geleentheid te gee vir die liassering van ‘n
repliserende beëdigde verklaring wat op 9 Desember 2014
afgelewer is.
Dit is in wese respondent se verweer in die tweede
spoliasie-aansoek dat geen spoliasie gepleeg is nie. As gevolg van
die feit
dat die hek by foto C2 op die betrokke plaaspad voortdurend
oopgelaat is, het hy geen keuse gehad om dit met draad toe te span om
te voorkom dat sy vee op die openbare pad beland. Hierdie aspek was
ontersaaklik in die eerste spoliasie-aansoek. Volgens respondent
kon
applikant steeds die lande bereik deur die hek op foto C1. Dit is
duidelik, soos wat applikant beweer, dat hierdie betrokke
hek slegs
toegang tot sekere lande verleen en dat dit onmoontlik is vir
vragmotors om daar in te draai as gevolg van ‘n gebrek
aan ‘n
behoorlike draaisirkel. Die motorhek op foto C2 het beslis geen
gewone hek naasliggend daartoe soos wat respondent
beweer nie. Die
foto’s is vanselfsprekend. Respondent het nie die hek langs
die motorhek toegespan met draad nie, bloot
omdat daar nie so ‘n
hek bestaan nie. Wat wel ooglopend is, is dat hy die gedeelte vanaf
die motorhek tot die grensdraad
toegespan het in so mate dat geen
voertuie, vragmotors of plaasimplimente wat te breed is om die
motorhek te gebruik, verder aan
op die plaaspad kon beweeg in die
rigting van respondent se plaashuis nie. Respondent se getuienis oor
die beweerde toespan van
die hek is leuenagtig. Dit is juis
applikant se saak dat hy te alle tersaaklike tye toegang gehad het
deur die opening langs die
motorhek. Dit is ook aanduidend vanuit
die foto’s dat daar ‘n duidelike pad bestaan ter
bevestiging dat die pad langs
die motorhek gereeld gebruik word. Die
motorhek is blykbaar sowat 700 meter vanaf die hek waar die eerste
spoliasie gepleeg is
en op dieselfde plaaspad.
[15] Alhoewel respondent nou skynbaar
bereid is om applikant in sy lande te duld vir doeleindes van hierdie
verrigtinge, hou sy
verweer voorts in dat hy ‘n alternatiewe
roete na die lande aan applikant voorgestel het. Sy teenaansoek is
ook daarop gemik
dat hierdie hof applikant moet beveel om in die
vervolg toegang tot die lande te verkry vanuit die noordelike kant
van sy plaas
– by punt B op sy skets, bylaag OPP1 - en deur die
hek op foto C1. Ek het reeds met applikant se verduideliking
gehandel
insoverre dit toegang deur die hek op foto C1 betref.
Applikant het verskeie foto’s geneem van die pad vanuit die
noordelike
rigting en onder andere onder eed beweer dat dit ‘n
onpraktiese pad en ongeskik vir gebruik deur groot plaasimplimente
is.
Respondent kon hierop antwoord, maar het versuim om dit te doen.
[16] In sy skriftelike betoogshoofde
het Mnr Gilliland volhard met argumente dat geen spoliasie gepleeg is
nie, dat die bevel nisi
opgehef en die spoliasie-aansoek van die hand
gewys behoort te word met koste en dat ‘n bevel ooreenkomstig
die teenaansoek
toegestaan behoort te word. Hy het bygevolg ook
aangevoer dat respondent nie skuldig is aan minagting van die hof nie
en dat applikant
nie geregtig is op enige regshulp in hierdie verband
nie. Tydens die aanhoor van mondelinge argument het Mnr Gilliland
uit die
staanspoor en reeds toe die aansoek geroep is, toegegee dat
respondent inderdaad spoliasie gepleeg het en dat hy nie bereid is om
enige argumente aan te bied om die hof tot die teendeel te probeer
oortuig nie. Hierdie toegewing is korrek en bo alle kritiek
verhewe
met inagneming van die een toegewing deur Mnr Snellenburg gemaak
waarna ek later sal verwys. Dit sal egter steeds vir
my nodig wees
om alle relevante feite in ag te neem ten einde te bepaal of
respondent hom wel skuldig gemaak het aan minagting
van die hof. Mnr
Gilliland het ook volhard met die teenaansoek op die basis dat dit
wel ontvanklik is nieteenstaande die aard
van die proses wat
applikant van stapel gestuur het.
V DIE WESENLIKE FEITE BUITE GESKIL
[17] Sekere feite onder hierdie opskrif
vermeld mag op herhaling neerkom, maar ek bekemtoon dat dit buite
geskil is. Soos vermeld
het ek op 6 Oktober 2014 ‘n bevel nisi
uitgereik met onmiddellike werking. Die volgende dag is die hofbevel
en aansoekstukke
aan die respondent beteken en is applikant se vrye
en ongestoorde toegang tot die lande op die plaas Holpan herstel
insoverre dit
die toegangshek in die betrokke aansoek behels.
[18] Enkele dae na verlening van die
hofbevel van 6 Oktober 2014 het respondent ‘n opening langs die
motorhek op die plaaspad
op die plaas Holpan deur welke opening groot
vragmotors en landbou-implimente toegang verkry het vanweë die
feit dat hierdie
vragmotors en implimente te breed is om deur die
motorhek toegang te kry, met draad en pale toegespan. Die motorhek
is slegs toeganklik
vir gewone voertuie en nie vir breë
landbou-implimente en vragmotors nie. Sodoende is toegang weer eens
versper. Respondent
het in sy beantwoordende beëdigde
verklaring beweer dat die hek op foto C2 met draad toegespan is. Die
motorhek is nie toegespan
nie en daar is nie ‘n gewone hek
langs die motorhek nie. Vanweë die toegewing dat spoliasie
gepleeg is aanvaar ek applikant
se weergawe en is hierdie aspek myns
insiens gemeensaak. Respondent het beweer dat hy die bestaande hek
op foto C2 toegespan het
om te voorkom dat sy vee in die openbare pad
kom, maar dit is so verwerplik dat dit in die lig van Plascon-Evans
verwerp kan word
as vals. Al die betrokke fotos van die toneel,
hetsy geneem en aangebied deur applikant, of deur respondent, toon
duidelik aan
dat die pad langs die motorhek baie meer gebruik word
deur voertuie as die pad wat deur die motorhek loop. Tewens,
respondent
se bewering dat hy die hek met draad toegespan het word
weerspreek deur die objektiewe getuienis. Nóg die foto waarop
hy
steun, nóg die foto wat applikant aangebied het, toon
enigsins ‘n hek langs die motorhek.
[19] Die toespan van die gedeelte langs
die motorhek met draad en pale het op respondent se weergawe
plaasgevind tussen 7 en 11
Oktober 2014 en voordat die hofbevel
verleen is. Dit is natuurlik van alle waarheid ontbloot deurdat die
hofbevel reeds op 6 Oktober
2014 verleen is, die aansoekstukke vooraf
by respondent se prokureur afgelewer is op Saterdag 4 Oktober 2014 en
die hofbevel en
aansoekstukke deur die balju aan respondent beteken
is op 7 Oktober 2014.
[20] Respondent het voorafgaande die
loods van die tweede spoliasie-aansoek korrespondensie gevoer met
applikant deur middel van
hul prokureurs en het hy onder andere
aangebied dat applikant ‘n alternatiewe roete gebruik om by die
lande op die plaas
Holpan uit te kom.
[21] Die teenaansoek is ook daarop
gemik dat respondent gemagtig word om weer eens draad te span en
ysterpale te plant langs die
motorhek soos wat hy gedoen het na
verlening van die bevel nisi in die eerste spoliasie-aansoek en welke
optrede die tweede spoliasie-aansoek
genoodsaak het. Applikant het
in die repliserende beëdigde verklaring wat ook gedien het as
opponerende beëdigde verklaring
tot die teenaansoek insoverre
die hof bereid sou wees om die teenaansoek aan te hoor, dit duidelik
gemaak dat die alternatiewe
roete geheel en al onprakties en nie
beskikbaar is om gebruik te word deur groot plaasimplemente nie. Ten
einde toegang tot die
plaas op hierdie wyse te bekom moet van ‘n
totaal en al ander openbare pad aan die noordekant van respondent se
plaas in
stede van die suidekant daarvan gebruik gemaak word. Nog
nooit in die sewe jaar wat applikant die lande op die plaas Holpan
bewerk
en dus ongestoorde besit van die lande gehad het, was van hom
verwag om hierdie pad te gebruik nie. Anders as wat verwag kon word
het respondent nie hierop geantwoord soos wat hy geregtig was om te
doen nie.
VI SPOLIASIE
[22] Dit is onnodig om die
regsbeginsels met betrekking tot spoliasie volledig uiteen te sit.
Nie alleen het respondent op sy eie
weergawe spoliasie erken nie,
maar het sy advokaat ook uiteindelik en tereg toegegee dat spoliasie
gepleeg is. Dit is egter wenslik
dat daarop gewys word dat die feite
wat veral op die eerste spoliasie-aansoek van toepassing is, eintlik
verbasend nou verband
hou met die feite in Nienaber v Stuckey 1946
(AD) 1049, die toonaangewende uitspraak van sewe dekades gelede.
Daar was ook in
daardie geval ‘n dispuut oor die applikant se
kontraktuele regte en het die respondent ook besluit om applikant se
toegang
tot die lande te verhoed deur ‘n hek te sluit. Dit het
gebeur nadat die lande reeds bewerk is en voordat applikant na die
lande teruggekeer het om te plant. Die mandament van spolie is ‘n
robuuste remedie teneinde die status quo ante te herstel
waar die
applikant onregmatig van sy ongestoorde besit ontneem is. Die
onderliggende meriete van die reg op besit is ontersaaklik
by
beoordeling van die aansoek. Die fundamentele doeleinde is immers om
‘n remedie daar te stel om eierigting of “self-help”
te verbied. Dit word van ‘n applikant in sulke aansoeke verwag
om die basis van sy reg op besit te identifiseer sonder om
‘n
etiket daaraan te heg, maar dit kan ook uit die feite verskaf in die
aansoek blyk. Die identifisering van die reg moet
egter onderskei
word van ‘n aanspraak dat die reg bestaan of dat dit regmatig
in die applikant setel. Sien: Van Rhyn NNO
v Fleurbaix Farm (Pty)
Ltd
2013 (5) SA 521
(WCC) te para [8]. Vergelyk ook ‘n ander
onlangse uitspraak, Gowrie Mews Investments v Calicom Trading 54
2013
(1) SA 239
(KZD) waar die respondent se verweer was dat die
versperring van een ingang na die bekende LM Grill restaurant in
Umhlanga Rocks,
terwyl daar ook ‘n ander ingang bestaan het wat
gebruik kon word, nie op spoliasie neergekom het nie. Gorven R het
te paras
[17] tot [20] van die uitspraak na my oordeel tereg bevind
dat spoliasie wel gepleeg is.
[23] In casu het die respondent nie net
een keer nie, maar ‘n tweede keer spoliasie gepleeg deur nie
weer dieselfde hek wat
hy vantevore opgerig en gesluit het, te sluit
nie, maar deur die oprigting van ‘n versperring oor dieselfde
pad, ‘n
paar honderd meter verder. Hierdie keer is die verweer
nie weer op die nie-bestaan van die huurkontrak gebaseer nie, maar in
besonder
op veiligheid en privaatheid en ‘n ander beskikbare
toegangsroete. As die respondent bereid was om die geykte
regsbeginsels
in ag te neem kon twee bestrede aansoeke met
gepaargaande regskoste verhoed word. Daar is na my oordeel geen rede
waarom die bevel
nisi nie bekragtig behoort te word met betrekking
tot paragrawe 2.1 en 2.2 daarvan nie, met dien verstande dat die
volgende woorde
in paragraaf 2.2 geskrap moet word:
“... en pale en hek op foto C1”
In die lig van die getuienis deur
respondent aangebied het Mnr Snellenburg namens applikant tereg
toegegee dat insoverre respondent
slegs ‘n nuwe hek en pale op
die plek van ‘n bestaande hek aangebring het, respondent nie
spoliasie in daardie opsig
gepleeg het nie.
VII MINAGTING VAN DIE HOFBEVEL
[24] Die vereistes waaraan voldoen moet
word alvorens respondent aan minagting van die hof skuldig bevind kan
word is bondig saamgevat
deur Cameron AR in Fakie NO v CCI Systems
(Pty) Ltd
[2006] ZASCA 52
;
2006 (4) SA 326
(HHA) te para [42] en ek haal aan:
“[42] To sum up –
(a) The civil contempt procedure is a
valuable and important mechanism for securing compliance with court
orders, and survives constitutional
scrutiny in the form of a motion
court application adapted to constitutional requirements.
(b) The respondent in such proceedings
is not an ‘accused person’ but is entitled to analogous
protections as are appropriate
to motion proceedings.
(c) In particular, the applicant must
prove the requisite of contempt (the order; service or notice;
non-compliance; and wilfulness
and mala fides) beyond reasonable
doubt.
(d) But, once the applicant has proved
the order, service or notice, and non-compliance, the respondent
bears an evidential burden
in relation to wilfulness and mala fides;
Should the respondent fail to advance evidence that establishes a
reasonable doubt as
to whether non-compliance was wilful and mala
fide, contempt will have been established beyond reasonable doubt.
(e) A declarator and other appropriate
remedies remain available to a civil applicant on proof on a balance
of probabilities.”
[25] Die doel van minagtingsverrigtinge
is eenvoudig om die hof se eer en waardigheid te verseker deur die
nakoming van hofbevele
af te dwing. Dit is in die openbare belang
dat hofbevele eerbiedig word. Die volgende aanhaling uit die
uitspraak in Laubscher
v Laubscher
2004 (4) SA 305
(T) te 357 word
met eerbied ondersteun:
“It is also said that, where the
judiciary cannot function properly, the rule of law must die. To
protect this, special safeguards
have been in existence for many
centuries, one of these being civil contempt of court.”
[26] Die hofbevel van 6 Oktober 2014
het tussentydse werking gehad op die stadium toe dit oortree is.
Respondent het kennis daarvan
gehad deurdat die bevel tesame met die
aansoekstukke op 7 Oktober 2014 aan hom beteken is, maar desondanks
die feit dat hy deurgaans
deur ‘n prokureur verteenwoordig is,
het hy voortgegaan om die hofbevel te verontagsaam deur bloot die
betrokke plaaspad
‘n ent verder toe te span.
[27] Die vraag wat beantwoord moet word
is of respondent die hofbevel opsetlik en mala fide verontagsaam het
en of hy nie moontlik
voldoende redes aangevoer het om redelike
twyfel daar te stel nie. Dit moet in ag geneem word dat applikant bo
redelike twyfel
moet bewys dat respondent hom aan minagting van die
hof skuldig gemaak het. Daar is in die bepaalde omstandighede ‘n
weerleggingslas
op respondent om aan te toon dat hy nie opsetlik en
mala fide opgetree het toe hy die hofbevel oortree het en niks meer
as dit
nie.
[28] Respondent se bewerings
uiteengesit in die opponerende beëdigde verklaring in hierdie
tweede spoliasie-aansoek is duidelik
weersprekend van die houding wat
hy ingeneem het in die eerste spoliasie-aansoek. Op daardie stadium
het hy die houding ingeneem
dat applikant nie op sy grond hoort nie
en het hy in die voorwaardelike teenaansoek inderdaad ‘n
verbiedende interdik in
hierdie verband aangevra.
[29] In hierdie tweede
spoliasie-aansoek blyk dit dat respondent onder andere beweer dat die
“privaat pad” vir sy eie
veiligheid afgespan is, maar
daarbenewens word ook beweer dat die betrokke hek wat hy op sy
weergawe toegespan het, voortdurend
oopgelos is en veroorsaak het dat
sy vee in die openbare pad kom. Hoe respondent sy veiligheid kan
verseker of die risiko van
gevaar kan verhinder deur sy optrede is
ondenkbaar. Daar is geen veiligheidsomheining rondom sy woonhuis
nie. Padverkeer deur
gewone voertuie en menslike beweging gaan nie
uitgeskakel word nie. Die motorhek is immers steeds daar om deur
enige mens –
rower, moordenaar of vreedsame besoeker –
gebruik te word.
[30] Die respondent het hom ooglopend
nie gesteur aan die eerste hofbevel nie en het klaarblyklik opgetree
in eierigting, opsetlik
en mala fide, ten einde dit vir applikant
onmoontlik te maak om ongestoorde besit ten aansien van die lande op
Holpan uit te oefen.
Volgens Mnr Gilliland sou respondent nie met
voorstelle aangaande ‘n alternatiewe roete vorendag gekom het
as hy die hofbevel
opsetlik en mala fide wou verontagsaam nie. Ek is
tevrede dat respondent na my oordeel ‘n rookskerm probeer
voorhou en dat
indien die hele geskiedenis van die dispuut sedert
Julie 2014 in konteks beskou word, hy hom nie van sy weerleggingslas
gekwyt
het nie.
[31] Die aanbied van ‘n
alternatiewe roete is niks anders as ‘n nagedagtenis ten einde
die gevolge van ‘n minagtingsaansoek
te probeer voorkom nie.
Die teenaansoek is nie bona fide nie. Die motivering daarvoor is
klaarblyklik om minagting van die hof
te ontduik. Die respondent het
ten doel om die lewe vir applikant so moeilik as moontlik te maak en
hy sal so ver as moontlik gaan
om die gebruik van die lande
ongerieflik en onprakties, indien nie onmoontlik, te maak.
Respondent het geen redelike twyfel by
my laat ontstaan nie en ek is
tevrede dat hy hom bo redelike twyfel skuldig gemaak het aan
minagting van die hofbevel van 6 Oktober
2014.
[32] Geen suggestie is in my midde
gelaat met betrekking tot die tipe vonnis wat opgelê behoort te
word nie en sal ek derhalwe
in my diskresie ‘n vonnis oplê
wat voldoende afskrikkingswaarde sal meebring. Gegewe die feit dat
applikant die eienaar
is van onroerende eiendom en waarskynlik enige
redelike boete opgelê te word met gemak sal kan betaal, is ek
van oordeel
dat die enigste gepaste vonnis onder die omstandighede
wat die hof se misnoë sal beklemtoon en as ‘n aansporing
sal
dien aan respondent om in die toekoms hofbevele te gehoorsaam,
gevangenisstraf is. Ek sal egter die gevangenisstraf in geheel
opskort op ‘n gepaste voorwaarde in die hoop dat respondent hom
in die toekoms van eierigting sal weerhou.
VIII DIE TEENAANSOEK
[33] Die teenaansoek het geen meriete
nie. Dit is onhoudbaar en/of prematuur.‘n Respondent kan nie
deur gebruik te maak van
‘n teenaansoek probeer om ‘n
applikant wat deur hom gespolieër is, se regte te ontneem nie.
So ‘n applikant
is geregtig dat die status quo ante eers
herstel word voordat enige dispute met betrekking tot die meriete
aangespreek word. Ek
neem kennis van Mnr Gilliland se argument dat
die eerste hofbevel nie aangeval word en dat die regshulp
daarkragtens verleen nie
met die teenaansoek in gedrang kom nie en
ook dat weens die minagtingsaansoek respondent geregtig is om hom
volledig te verweer
en ook substantiewe regshulp aan te vra wat hy
nie noodwendig sou kon doen indien slegs ‘n spoliasie-aansoek
gebring is nie.
Myns insiens sal so ‘n praktyk die hele doel
van spoliasie wat ‘n spoedeisende en robuuste remedie is,
verydel. Mnr
Gilliland het gesteun op Street Pole Ads Durban (Pty)
Ltd and Another v Ethekwini Municipality
[2008] ZAGPHC 33
;
2008 (5) SA 290
(SCA), maar
myns insiens is die beslissing nie gesag vir sy argument nie.
Vergelyk paras [14], [15] en [16].‘n Uitsondering
op die reël
was van toepassing in gemelde saak omdat die applikant wyer gegaan
het as om bloot op spoliasie te steun en ook
‘n interdik
aangevra het ten aansien van “all the ‘various street
poles in the Ethekwini metropolitan area’
covered by the
disputed agreements.” Binne enkele dae na die bring van die
aansoek in die hof a quo is die saak geskik met
betrekking tot die
spoliasiebewerings en is die geveg voortgesit ten aansien van
applikant se aanspraak op regte voortspruitend
uit die betwiste
ooreenkoms. Vergelyk ook Van Rhyn NNO v Fleurbaix Farm loc cit te
para [8].
[34] Feite sou wel voor die hof geplaas
kon word om aan te toon dat die respondent nie mala fide en opsetlik
was toe hy die hofbevel
verontagsaam het nie, maar hy sou nie verder
as dit kon gaan nie. Selfs al is ek verkeerd met my benadering is
daar in elk geval
nie ‘n behoorlike saak op die stukke
uitgemaak om enige regshulp ten aansien van die teenaansoek te
verleen nie. Daar is
duidelike feitegeskille met betrekking tot die
alternatiewe roete wat aangebied word en het respondent ook versuim
om te repliseer
op applikant se repliserende beëdigde verklaring
(wat ook as opponering tot die teenaansoek gedien het) soos wat hy
sou kon
doen. Ek is nie bereid om met die feitegeskille waarmee ek
gekonfronteer is ‘n bevel in respondent se guns te maak nie.
Ek aanvaar in applikant se guns dat die alternatiewe roete nie geskik
is vir groot landbou-implimente en vragmotors nie en dat
dit tot sy
uiterste nadeel sal wees indien hy gelas sou word om daardie roete te
gebruik. Dit blyk ook duidelik uit die foto’s
wat applikant
aangeheg het. Applikant se weergawe is nie “far-fetched”,
onwaarskynlik of andersins verwerplik nie
en word op die basis van
die riglyne in Plascon-Evans aanvaar. Die gesag waarna Mnr Gilliland
verwys het en wat betrekking het
op serwitute moet in konteks gesien
word. In Van Rhyn and Others NNO v Fleurbaix Farm (Pty) Ltd loc cit
het die volbank bevind
dat ‘n via simpliciter ter sprake was,
dat die eienaar van die dienende eiendom die reg gehad het om die
roete oor sy eiendom
te bepaal, ook die reg gehad het om die roete te
wysig, maar op voorwaarde dat dit nie benadelend vir die eienaar van
die heersende
eiendom is nie. In casu is dit juis applikant se saak
dat die alternatiewe roete tot sy nadeel sal wees en daardie weergawe
het
ek reeds aanvaar. Selfs al sou die beginsel met betrekking tot
serwitute hier toegepas kon word, wat ek nie hoef te beslis nie,
kan
die teenaansoek nie slaag nie.
IX KOSTE
[35] Die kennisgewing van mosie maak
nie voorsiening vir koste op die skaal soos tussen prokureur en
kliënt nie, maar bloot
vir ‘n gewone kostebevel. Dit geld
ook die bevel nisi wat hierin uitgereik is. Mnr Snellenburg het in
sy geskrewe hoofde
en ook in mondelinge betoog aangedring op
prokureur en kliënt koste. Suksesvolle litigante is gewoonlik
“out of pocket”
indien gewone party en party kostebevele
verleen word, welke bevele aan die orde van die dag is. Alhoewel
respondent skuldig is
aan minagting van die hof meen ek tog dat daar
nie meriete is om hom boonop te straf met ‘n bestraffende
kostebevel nie.
Moontlik is ek onnodig benadelend teenoor applikant
wat eintlik wat minagting betref, bloot maar ‘n nuntius is om
die hof
in te lig van minagtende optrede. Tog het applikant steeds
in eie belang opgetree omdat hy finale regshulp verlang het.
Alhoewel
‘n grensgeval, sal ek nie in my diskresie-uitoefening
gehoor gee aan Mnr Snellenburg se pleidooi nie. Dit kon dalk anders
gewees het as applikant uit die staanspoor aanspraak gemaak het op ‘n
bestraffende kostebevel. Respondent sou dan daarmee
kon handel onder
eed en dit kon ook dalk veroorsaak het dat die dispuut ‘n
totaal ander wending geneem het. Soos sake nou
staan, is respondent
verras deur applikant se aanspraak en is dit net niks minder as
billik om slegs gewone kostebevele te verleen
nie.
X REGSHULP
[36] Bygevolg word die volgende bevele
gemaak:
1. Die bevel nisi van 22 Oktober 2014
met die uitsluiting van die woorde “en pale en hek op foto C1”
in paragraaf 2.2
word bekragtig met koste.
2. Respondent word skuldig bevind aan
minagting van die hofbevel van 6 Oktober 2014 uitgereik onder
aansoeknommer 4437/2014.
3. Respondent word gevonnis tot drie
maande gevangenisstraf, welke gevangenisstraf in geheel opgeskort
word op die volgende voorwaarde:
• Respondent moet te alle
tersaaklike tyd en solank as die regshulp verleen in aansoeke
4437/2014 en 4645/2014 van krag is,
daardie bevele stiptelik nakom en
hom daarvan weerhou om applikant se ongestoorde besit van die lande
op die plaas Holpan, distrik
Frankfort, te versteur.
4. Die teenaansoek word van die hand
gewys met koste.
J. P. DAFFUE, J
Namens die applikant: Adv. N.
Snellenburg
In opdrag van: Phatsoane Henney
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent: Adv. J. G.
Gilliland
In opdrag van: Schoeman Maree
BLOEMFONTEIN