About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2015
>>
[2015] ZAFSHC 18
|
|
Botes v Country Bird (Edms) Bpk (818/2006) [2015] ZAFSHC 18 (26 January 2015)
IN DIE Hoë
HOF VAN SUID-AFRIKA
VRYSTAATSE
AFDELING, BLOEMFONTEIN
Saaknommer: 818/2006
In
die saak tussen:-
FREDERICH
FERDINAND BOTES
.......................................................................
Eiser
en
COUNTRY
BIRD (EDMS) BPK
….....................................................................
Verweerder
CORAM:
VAN ZYL, R
GELEWER
OP:
26 JANUARIE 2015
[1] Verweerder het
aansoek gedoen vir absolusie van die instansie na die sluiting van
eiser se saak. Die aksie is vir skadevergoeding
voortspruitend uit
beweerde kontrakbreuk deur verweerder ten opsigte van ‘n
skriftelike kontrak gesluit tussen die partye
op of omtrent 3
Augustus 2000 te Jacobsdal. Ten tyde van die sluiting van die
kontrak het eiser persoonlik opgetree, terwyl
verweerder deur ene Mnr
Hodgson verteenwoordig is. ‘n Afskrif van die kontrak is
aangeheg tot die besonderhede van
vordering.
[2]
Die partye het reeds gedurende hul Reël 37(4)-samesprekings
ooreengekom dat kwantum en meriete geskei word en voorts ooreengekom
wat die geskilpunte rakende die meriete is. Ek het gevolglik by
die aanvang van die verhoor by ooreenkoms tussen die partye
ooreenkomstig die bepalings van Hofreël 33(4) gelas dat kwantum
en meriete geskei word en voorts gelas dat die meriete van
die aksie
ooreenkomstig paragraaf 2.2 van eiser se tweede Reël 37(4)
Vraelys gedateer 15 September 2014, eerste bereg word.
[3]
Voormelde paragraaf 2.2 lees as volg:
“
Die
enigste relevante geskilpunte, rakende die meriete, is vervat in
paragrawe 3.5.4, 3.5.5, 4, 5.1, 5.2, 6, 7.1, 7.2 en 7.3 van
eiser se
besonderhede van vordering gelees met die relevante paragrawe van
verweerder se pleit op hierdie paragrawe.”
Vanweë
die feit dat die pleitstukke na my mening ‘n wesenlike rol
speel in die beregting van hierdie aansoek om absolusie,
ag ek dit
noodsaaklik om voormelde paragrawe, asook enkele addisionele
paragrawe, hierin te herhaal. Dit dien vermeld te
word dat Mnr
Claasen, namens eiser, na die sluiting van eiser se saak en nadat Mnr
Oosthuizen, namens verweerder, reeds die aansoek
om absolusie geloods
het, aansoek gedoen het om die besonderhede van vordering te wysig.
Die voorgenome wysiging was nie deur Mnr
Oosthuizen teengestaan nie.
Die wysiging slaan op paragraaf 4 van die besonderhede van vordering
deurdat paragrawe 4.2 tot
4.4 daartoe bygevoeg is. Daarop het
verweerder ook die verweerskrif dienooreenkomstig gewysig. Ek gaan ek
dus die tersaaklike paragrawe
van die besonderhede van vordering in
die gewysigde vorm aanhaal:
“
3.5
Eiser verwys na (die kontrak) asof hierin volledig herhaal is.
Onder andere bepaal (die kontrak):
3.5.1
dat die ooreenkoms vir ‘n aanvanklike periode van vyf jaar
aangegaan word beginnende op 31 Augustus 2000;
3.5.2
na vyf jaar sal die kontrak vir ‘n onbepaalde periode voortduur
met die reg van wedersydse skriftelike opsegging van
ses
kalendermaande;
3.5.3
kragtens die ooreenkoms sou eiser kuikens ontvang vanaf verweerder en
grootmaak en aan verweerder lewer teen ‘n ooreengekome
berekende bedrag;
3.5.4
verweerder sou aan eiser betaling laat geskied in ooreenstemming met
die kontrak en na aftrekking van die kostestruktuur,
wat die
vervoerkoste soos prys van kuikens en die prys van voer insluit;
(
sic
)
3.5.5
verweerder mag die kostestruktuur rakende prys van kuikens en
vervoerkoste jaarliks aanpas met die voorbehoud dat dit nie
eiser se
winsmarge mag erodeer nie.
4.
4.1
Op of omtrent Februarie 2004 het verweerder die kostestruktuur
aangepas en op so ‘n wyse dat dit eiser se
winsmarge
totaal erodeer
het. (Eie beklemtoning)
4.2
Alternatiewelik tot 4.1 het die verweerder die kostestruktuur met
betrekking tot die vervoerkoste van braaikuikens, wat tot
ongeveer
Februarie 2004, op ‘n eenvormige basis, met kruissubsidiëring
deur alle kontrakgroeiers betaal, gewysig;
4.3
Die wysiging het behels dat die eenvormige kostestruktuur gewysig is,
sodat elke kontrakgroeier sy eie daadwerklike vervoerkoste
van
braaikuikens betaal, sonder enige kruissubsidiëring.
4.4
Voormelde stel wesenlike kontrakbreuk daar wat Eiser geregtig gemaak
het om die kontrak te kanselleer.
5.
5.1
Op 10 Maart 2004 en 16 Maart 2004 het eiser skriftelik aan verweerder
kennis gegee dat hierdie aanpassings van die kostestruktuur
‘n
netto-verlies
veroorsaak en dit vir eiser onmoontlik maak om aan te gaan. Op 3
Augustus 2004 het eiser se prokureur skriftelik aan verweerder
berig
dat hierdie wysiging van die kostestruktuur wat eiser se
winsmarge
totaal erodeer
het, kontrakbreuk
daarstel. Afskrifte van hierdie skriftelike kennisgewings word hierby
aangeheg, gemerk Aanhangsels “B”,
“C” en “D”
onderskeidelik. (Eie beklemtonings)
5.2
In ‘n ongedateerde skrywe waarin erweerder antwoord op
Aanhangsels “B” en “C” hierbo na
verwys,
bevestig verweerder dat dit nie meer vir eiser of vir verweerder
lonend sal wees om met die ooreenkoms voort te gaan nie
en deel
verweerder vir eiser mee dat hierdie siklus (siklus 109) as eiser se
laaste siklus beskou sou word en dat verweerder geen
verdere kuikens
by eiser sal plaas nie. Hierdie skrywe van verweerder word
hierby aangeheg, gemerk Aanhangsel “E”.
6.
Verweerder
het versuim om eiser tegemoet te kom of hierdie kostestruktuur te
wysig sodat dit nie eiser se winsmarge erodeer nie.
7.
7.1
Verweerder het versuim om hierdie kontrakbreuk tydig of enigsins te
remedieer nieteenstaande die voorafgaande skriftelike kennisgewings.
7.2
Volgens Aanhangsel “C” het verweerder ondubbelsinnig
kennis gegee van sy bedoeling om nie sy verpligtinge in terme
van die
kontrak na te kom nie of dat die kontrak beëindig is, en het
verweerder daardeur die kontrak beëindig.
7.3
Eiser het hierdie repudiëring van die kontrak deur verweerder
aanvaar, alternatiewelik die kontrak gekanselleer, alternatiewelik
word dit hiermee gekanselleer.
7.4
Weens verweerder se kontrakbreuk het eiser skade gely....”
[4]
Dit is doelmatig om op hierdie stadium te vermeld dat klousule 10.4
van die kontrak as volg lees:
“
Country
Bird will be entitled to amend the costs as set out in Annexure “A”
annually on the first day of Country Bird’s
financial year in
order to bring it in line with general industry standards, based on
genetic and technical progress. The
producer’s profit
margin will not be eroded provided that his performance improves in
line with the industry progress.
Country Bird shall notify the
producer of any such amendment not later than 1 (one) month prior to
the implementation date of such
amendment.”
[5]
Bogemelde aangehaalde paragrawe 3.5.4 tot 4.1 van die besonderhede
van vordering is deur verweerder in sy gewysigde verweerskrif
ontken. Addisioneel daartoe het verweerder, onder andere, met
verwysing na klousule 10.4 van die kontrak (wat in paragraaf
6.1.9
van die verweerskrif aangehaal is) ook gepleit dat op ‘n
behoorlike interpretasie van die kontrak:
“
6.2.1
The ‘costs’, referred to in paragraph 6.1.9 above, do not
include the transport cost of feed and broiler chickens
from the
plaintiff’s premises to the defendant’s abattoir;
6.2.2
The provisions of clause 10.4 of the agreement (as set out in
paragraph 6.1.9 above) have no bearing on the transport costs
of feed
and broiler chickens;
6.2.3
The provisions of clause 10.4 of the agreement (as set out in
paragraph 6.1.9 above) is only applicable if the defendant
unilaterally amends the costs, as set out in Annexure “A”
and not under circumstances where such costs are amended by
agreement
between the parties.”
In
die alternatief het verweerder bewerings gepleit ter ondersteuning
van ‘n vordering van rektifikasie ten opsigte van klousule
10.4. Verdermeer het verweerder gepleit dat eiser lid was van
die sogenaamde Kontrakgroeiers Assosiasie en dat die terme
van die
kontrak met verwysing na die vervoerkoste van die braaikuikens by
ooreenkoms tussen die Assosiasie en verweerder gewysig
is en dat
eiser aan daardie wysiging gebonde is. Verweerder het derhalwe
ontken dat hy die terme van die kontrak verbreek
het en/of dat hy die
kontrak repudieer het.
[6]
Klousule 2.6.3 van die kontrak verwys na ‘n dokument “Annexure
“A” ” wat as volg gedefinieer word:
“
The
document marked as such, attached hereto and which document sets out
production standards, costs and the remuneration schedule.”
Klousule
5.4 van die kontrak lees as volg:
“
Country
Bird will produce day-old chickens and deliver same at the premises
at the costs as specified in Annexure “A”
subject to the
provisions of sub-clause 10.4 of this agreement.”
Klousule
10.1 daarvan bepaal as volg:
“
The
producer is entitled to compensation for delivered broiler chickens,
calculated on the nett weight thereof in accordance with
the specific
formula and by taking into account further costs, as set out in
Annexure “A”.”
Ek
het reeds klousule 10.4 van die kontrak aangehaal.
[7]
Daar is onsekerheid/’n dispuut rondom welke Aanhangsel “A”
(waarna in die kontrak verwys word) aangeheg was
tot die kontrak.
Vir doeleindes van die beregting van die absolusie-aansoek aanvaar ek
dat dit waarskynlik die Aanhangsel
“A” is wat voorkom op
p. 34 van die verhoorbundel, Bewysstuk “A”. Dit het
uit die getuienis geblyk
dat verweerder na elke groei-siklus aan
eiser ‘n verrekeningstaat verskaf het waarin op gedetailleerde
wyse alle tersaaklike
inligting met betrekking tot die bepaalde
siklus uiteengesit is en ‘n berekening gedoen is van die bedrag
wat verweerder
aan eiser verskuldig was vir daardie bepaalde siklus.
Aangeheg tot elk van hierdie verrekeningstate was ‘n Aanhangsel
“A” wat volledig voltooi was met die tersaaklike
inligting, getalle en bedrae van daardie siklus. Aanhangsel
“A”
het dus telkens verskil van siklus tot siklus. Die Aanhangsel
“A” wat egter op p. 34 van Bewysstuk
“A”
voorkom, bevat wel al die inligting met betrekking tot alle aspekte
wat in berekening gebring word ten einde die
vergoeding van eiser te
bepaal, maar bevat nie getalle en berekende bedrae nie. Dit blyk dus
dit na my mening ‘n roneo vorm
te wees wat bloot vir die eiser
met kontraksluiting kon aandui wat die kostestruktuur is, hoe alles
bereken word en wat alles in
verrekening gebring word aan die einde
van ‘n siklus ten einde die vergoeding van eiser te bepaal. Die
sewende kolom op laasgenoemde
Aanhangsel “A” dui die
volgende “
deductions”
aan:
“
7.1
Day-old chicks: Actual expense as financed by Country Bird
(amount will change with price fluxuations).
7.2
Feed: Actual expense as financed by Country Bird (amount will
change with price fluxuations).
7.3
Medication/Vaccines: Actual expense as financed by Country Bird
(amount will change with price fluxuation).
7.4
Transport: R0.129 per broiler (amount will change with price
fluxuations).
7.5
Catching: R0.07 per broiler
7.6
Cleaning materials: Actual expense as financed by
Country Bird (amount will change with price fluxuations).”
[8] Die eiser het
self getuig, waarna eiser se saak gesluit is. Die getuienis namens ‘n
eiser aangebied word gewoonlik vir
doeleindes van ‘n
absolusie-aansoek aanvaar, wat ek dan ook in hierdie geval doen. Ek
oorweeg dus hierdie absolusie aansoek
op grond van eiser se weergawe.
[9]
Ek is nie voornemens om die getuienis van die eiser hierin te herhaal
nie. Ek gaan slegs met die aspekte daarvan handel
wat na my
mening relevant is vir doeleindes van hierdie uitspraak.
[10]
Die groot punt van dispuut in hierdie aangeleentheid, soos dit
tans voor die Hof dien, is die vervoerkoste van die braaikuikens
vanaf eiser se perseel tot by verweerder se abattoir. Dit is
die item wat by 7.4 van Aanhangsel “A” aangedui
word as
“transport R0.129 per broiler (amount will change with price
fluxuations)
”
. Dit is
gemeensaak tussen die partye dat op die stadium wat die partye die
kontrak gesluit het, die koste daarvan by wyse
van kruissubsidiëring
deur al die kontrakgroeiers betaal was, met ander woorde elke
kontrakgroeier het dieselfde tarief betaal
ongeag hoe ver sy/haar
perseel vanaf die abattoir geleë was. Dit is voorts
gemeensaak dat gedurende die tydperk
wat daar wel uitvoering aan die
kontrak gegee was tussen die partye, laasgenoemde transportkoste van
tyd tot tyd verhoog en verlaag
is deur verweerder, waaraan eiser hom
gebonde geag het en dit aldus betaal het. Dit is verdermeer
gemeensaak dat die kostestruktuur
gedurende Februarie 2004 (siklus
109) gewysig is tot dien effekte dat daar geen kruissubsidiëring
meer bestaan het nie en
elke kontrakgroeier sy eie daadwerklike
vervoerkoste moes betaal gebaseer op die afstand van sy/haar perseel
vanaf die abattoir.
Aangesien eiser se perseel relatief ver
(Jacobsdal) geleë was vanaf die abattoir (Botshabelo), het dit
tot gevolg gehad dat
die vervoerkoste wat vanaf sy vergoeding deur
verweerder afgetrek is, drasties toegeneem het.
DIE
HOOFVORDERING:
[11] Die eerste
basis waarop eiser se vordering ooreenkomstig sy pleitstukke berus,
welke voor die wysiging van die pleitstukke
die uitsluitlike basis
van sy vordering was, is dat die wyse waarop verweerder die
kostestruktuur aangepas het, kontrakbreuk
daargestel het deurdat
dit tot gevolg gehad het dat eiser se winsmarge totaal erodeer is. Ek
handel vervolgens met die hoof
basis waarop Mnr Oosthuizen verweerder
se aansoek om absolusie ten opsigte van hierdie vordering van eiser
soos uiteengesit in
paragraaf 4.1 van die besonderhede van vordering
(“hoofvordering”), gegrond het. Mnr Oosthuizen het
daarop gewys
dat die bewering ten opsigte van die totale
erodering van eiser se winsmarge in paragraaf 4.1 van die
besonderhede van vordering
voorkom en in paragraaf 5.1 daarvan
herhaal is. Hy het gesubmiteer dat dit nie vir my nodig is om ‘n
beslissing te maak oor
presies wat “erodeer” beteken nie,
aangesien die basis waarop eiser sy saak gepleit het tot dien effekte
is dat eiser
se winsmarge
totaal
erodeer is. Dit is, aldus Mnr
Oosthuizen se betoog, ook eiser se saak soos uiteengesit in sy nadere
besonderhede, p. 101 van die
pleitstukke, waar aangedui is dat ten
opsigte van die voorafgaande ses siklusse eiser se gemiddelde wins
R41 428-85 per siklus
was, terwyl die kosteverhoging tot gevolg
sou hê dat die koste per siklus met R42 705-60 sou styg.
Mnr Oosthuizen het
voorts gesubmiteer dat die getuienis wat eiser
aangebied het om hierdie bewerings te staaf, slegs met twee aspekte
gehandel het.
Dit was eerstens die getuienis met betrekking tot die
verhoging van die vervoerkoste van die braaikuikens wat ‘n
bedrag
van ongeveer R20 000-00 per siklus beloop het en tweedens
eiser se getuienis dat hy verneem het dat die vervoer van die voer
R80-00 per ton sou styg, wat dan bereken op die basis van 144 ton
voer wat eiser getuig het hy per siklus benodig, ‘n bedrag
van
R11 280-00 sou beloop. Hoewel dit Mnr Oosthuizen se
submissie was dat bogemelde syfers van R41 428-85, R20 000-00
en R11 280-00 nie behoorlik bewys is nie, het hy aangedui dat hy
bereid is om dit aldus te aanvaar vir doeleindes van sy argument
ten
opsigte van die absolusie aansoek. Hy het voorts aangedui dat vir
doeleindes van hierdie argument hy ook ten gunste van
eiser
aanvaar dat “other costs” in klousule 10.4 van die
kontrak inderdaad die vervoerkoste insluit (hoewel dit steeds
deur
verweerder betwis word). Mnr Oosthuizen het gevolglik aan die
hand gedoen dat indien eiser se weergawe aanvaar sou word
dat hy ‘n
gemiddelde wins van R41 428-85 per siklus gemaak het, bogemelde
totale styging in die koste ten bedrae van
R31 280-00, nie tot
gevolg sou hê dat eiser se wins in totaal geërodeer sou
word, synde die saak wat deur hom gepleit
is, nie.
[12]
Vir doeleindes van hierdie eerste basis waarop die aansoek om
absolusie berus, aanvaar ek ten gunste van eiser, sonder om dit
te
bereg, dat die “costs” soos dit in Aanhangsel “A”
voorkom en waarvoor in klousule 10.4 van die kontrak
voorsiening
gemaak word vir die verhoging daarvan, inderdaad die vervoerkoste van
die braaikuikens insluit.
[13]
Ek moet met Mnr Oosthuizen se voormelde interpretasie van die
pleitstukke saamstem. “Erodeer” word gedefinieer
as, onder andere, “afknaag” en “langsaam
wegvreet”. Die feit is egter dat eiser inderdaad die
hoofvordering
gepleit het op die basis dat die aanpassing in die
kostestruktuur eiser se winsmarge totaal erodeer het, met ander
woorde totaal
uitgewis het, ten spyte daarvan dat klousule 10.4 van
die kontrak slegs na “
erode
”
verwys en nie na totale erodering nie. Sien paragrawe 4.1 en
5.1 van die besonderhede van vordering. Dit was
ook die basis
van die aanmaningskrywe wat eiser se destydse prokureur namens hom
aan verweerder gerig het op 3 Augustus 2004.
Sien p. 32 van die
pleitstukke. ‘n Berekening is dan voorts in eiser se nadere
besonderhede gedoen met betrekking tot die
effek wat sekere
kosteverhogings op eiser se gemiddelde wins sou gehad het en is dit
bereken dat eiser se gemiddelde wins vir die
voorafgaande ses
siklusse R41 428-85 per siklus beloop het, terwyl die kosteverhoging
R42 705-60 per siklus sou beloop, met
die gevolg dat eiser se
totale wins geërodeer sou word. Sien paragraaf 1.4 van eiser se
nadere besonderhede, p. 87 van die
pleitstukke, saamgelees met
Aanhangsels “FFB3(a)” tot “(f)” en “FFB4”,
p. 95 tot p. 101 van
die pleitstukke. Aldus eiser se getuienis
sluit laasgenoemde berekenings nie eers die verhoging in die
vervoerkoste van die
voer in nie.
[14]
Eiser is in ‘n geval soos hierdie gebonde aan sy pleitstukke.
In
MINISTER OF SAFETY AND SECURITY v
SLABBERT
[2010] 2 All SA 474
(SCA) is
dit as volg gestel op 478, par [11]:
“
The
purpose of the pleadings is to define the issues for the other party
and the court. A party has a duty to allege in the
pleadings
the material facts upon which it relies. It is impermissible
for a plaintiff to plead a particular case and seek
to establish a
different case at the trial. It is equally not permissible for
the trial court to have recourse to issues
falling outside the
pleadings when deciding a case.”
[15]
Uit paragraaf 3.5.5 van eiser se besonderhede van vordering,
saamgelees met die nadere besonderhede, blyk dit dat dit op die
pleitstukke eiser se saak was dat die koste van die dagoud kuikens
ook verhoog het vanaf R109 185-44 per siklus tot R131 232-50
per
siklus en dat dit ook een van die faktore was wat tot die beweerde
totale erodering van eiser se winsmarge aanleiding gegee
het.
Sien paragrawe 1.1, 1.2 en 1.3 van eiser se nadere besonderhede,
gelees met Aanhangsels “FFB1” en
“FFB2”
daartoe, p. 86 tot p. 87 en p. 90 tot p. 94 van die pleitstukke. Die
eiser het in sy getuienis in hoof egter
geen getuienis aangebied oor
die verhoging in die pryse van die dagoud kuikens nie.
Inteendeel, sy getuienis in hoof was
op ‘n wyse aangebied tot
die spesifieke strekking dat die verhoging in die koste van die
dagoud kuikens nie deel is van sy
saak nie. Gedurende
kruisverhoor is dit dus dienooreenkomstig beperk deur Mnr Oosthuizen
en was eiser genoodsaak om dit aldus
te bevestig. Dit is vir my
onbegrypbaar waarom getuienis hieromtrent nie in eiser se getuienis
in hoof aangebied is nie.
Dit het egter tot gevolg dat hierdie
faktor se verhoogde syfer nie meer op gesteun kan word deur die eiser
ter bewys van ‘n
totale erodering van sy winsmarge nie.
[16]
Verdermeer, wat betref die berekening deur eiser van sy gemiddelde
wins oor die tydperk van siklusse 104 tot 109, moet ek saamstem
met Mnr Oosthuizen se submissie dat geen van sodanige syfers wat
daarin gebruik is, behalwe die syfers wat direk van die onderskeie
verrekeningstate vir die tersaaklike siklusse afkomstig is, deur
eiser bewys is nie. Ek aanvaar egter vir doeleindes van
hierdie
aansoek wel hierdie syfers en ag die gemiddelde wins van eiser as
R41 428-85 per siklus te gewees het.
[17]
Die eiser het inderdaad slegs ten opsigte van twee aspekte getuienis
aangebied ter bewys van die bewering dat sy winsmarge
uitgewis was as
gevolg van ‘n aanpassing in die kostestruktuur. Ten
eerste was dit die getuienis ten opsigte van die
staking van
kruissubsidiëring wat betref die vervoerkoste van die
braaikuikens wat tot gevolg gehad het dat die koste ten
opsigte
daarvan gestyg het vanaf R10 368-00 tot R30 392-60 per
siklus. Tweedens was dit die getuienis dat eiser
verneem het
dat die vervoer van die voer gaan styg met R80-00 per ton, wat dan op
die basis van ongeveer 145 (nie 140 soos deur
Mnr Oosthuizen betoog
nie) ton voer wat eiser getuig het hy gemiddeld per siklus benodig,
‘n bedrag van R11 600-00 (nie
R11 280-00 nie) per siklus
beloop. Geen tittel of jota getuienis is egter aangebied oor hoe die
totale beweerde verhoogde koste
van R41 428-85 saamgestel en bereken
is nie en is geen ander komponent daarvan bewys nie.
[18]
Ek is bereid om te aanvaar dat die verhoogde vervoerkoste
voortspruitend uit die staking van kruissubsidiëring wel
behoorlik
bewys is gegewe dat dit die berekening is wat deur
verweerder self gedoen was. Wat die verhoging in die
vervoerkoste van
die voer betref, is dit insgelyks tereg deur
Mnr Oosthuizen betoog dat dit uit ‘n bewysregtelike oogpunt
geensins bewys
is nie. Ek is egter wel bereid, soos deur Mnr
Oosthuizen aan die hand gedoen, om dit aldus te aanvaar vir
doeleindes van
hierdie aansoek om absolusie.
[19]
Wanneer die verhoging in die vervoerkoste ten opsigte van die
braaikuikens voortspruitend uit die staking van kruissubsidiëring,
synde die bedrag van R20 024-60 per siklus, in ag geneem word,
tesame met die verhoging in die vervoerkoste van die vervoer
ten
bedrae van R11 600-00 per siklus, beloop dit ‘n totale
bewese (of geag bewese te wees) verhoging van R31 624-60
per siklus.
Op die aanvaarde gemiddelde wins van R41 428-85 per siklus,
sou dit dus nie tot gevolg hê dat
eiser se winsmarge
totaal geërodeer word soos deur eiser in paragraaf 4.1 van sy
besonderhede van vordering gepleit nie.
[20]
Gegewe die basis waarop eiser die Hof ten opsigte van hierdie
vordering genader het, het eiser die bewyslas gedra om te bewys
wat
die aanpassings in die kostestruktuur was, wat die
kosteverhogings as gevolg daarvan beloop het en dan ook in besonder
dat dit sy winsmarge totaal erodeer het. In
SCHMIDT
BEWYSREG, SCHMIDT & RADEMEYER
, 4de
Uitgawe, op p. 90 tot 91 word die beginsels ten opsigte van absolusie
van die instansie as volg uiteengesit:
“
Indien
die eiser die bewyslas dra, kan die verweerder, sodra die eiser sy
saak afgesluit het, om absolusie aansoek doen. Word
die aansoek
toegestaan, delf die eiser die onderspit in die sin dat die remedie
waarop hy aanspraak gemaak het, nie toegestaan
word nie. Maar
die uitspraak is nie
res iudicata
nie:
die eiser kan altyd weer op dieselfde grond aksie instel.
....Die doel van die absolusie aansoek is duidelik.
Wanneer die
eiser (indien hy die bewyslas dra) al sy getuienis aan die Hof
voorgelê het, en dit blyk dat daardie getuienis
nie die
potensiaal het om ‘n bevinding in sy guns te bewerkstellig nie,
sou dit onsinnig wees om die proses te laat voortgaan.
Waarom
moet die verweerder hom verset teen ‘n saak wat hom nie bedreig
nie? Die maatstaaf wat vir die aansoek gebruik
word moet dus
daarop gerig wees om te bepaal of die eiser se getuienis die
potensiaal vir ‘n bevinding in sy guns het.
Hierdie
maatstaaf (by absolusie) word gewoonlik van die by afsluiting van die
verhoor onderskei deur by eersgenoemde te vereis dat
die eiser se
getuienis sodanig moes wees dat ‘n redelike persoon ten gunste
van die eiser kan (“
could
”
of “
might
”
) beslis... Die maatstaaf is dus ‘n rapsie laer as ‘n
prima facie
saak: die getuienis hoef nie ‘n antwoord te verg nie.
Nogtans moet dit die moontlikheid van ‘n bevinding
van die
eiser inhou: ‘n redelike Hof moet daarop ten gunste van
die eiser kan bevind. ...Anders gestel, die eiser
se getuienis
moet by die absolusie stadium ‘n redelike moontlikheid van
sukses vir hom inhou.”
[21]
Onder die omstandighede het eiser ten opsigte van hierdie vordering
dus nie getuienis voorgelê op grond waarvan ‘n
redelike
Hof ten gunste van die eiser kan bevind nie en moet die aansoek om
absolusie van die instansie ten opsigte van die hoofvordering,
toegestaan word.
[22]
Enkele ander gronde vir die aansoek om absolusie ten opsigte van die
hoofvordering was in die alternatief tot bogemelde basis
deur Mnr
Oosthuizen betoog. Vanweë die gevolgtrekking waartoe ek
nou reeds gekom het, is dit nie nodig om met daardie
alternatiewe te
handel nie.
DIE
ALTERNATIEWE VORDERING:
[23]
Die alternatiewe basis van eiser se vordering is daargestel deur die
wysiging van paragraaf 4 van die besonderhede van vordering,
soos
uiteengesit in paragrawe 4.2 tot 4.4 daarvan (“die alternatiewe
vordering”). Die essensie daarvan is dat
eiser beweer dat
die wysiging van die eenvormige kostestruktuur ten opsigte van die
vervoerkoste van die braaikuikens wat deur
alle kontrakgroeiers
betaal was deur kruissubsidiëring uit te skakel met die
resultaat dat elke kontrakgroeier sy eie daadwerklike
vervoerkoste
van die braaikuikens moet betaal gebaseer op die afstand tussen
sy/haar perseel en die abattoir met `n gevolglike
drastiese verhoging
in die koste daarvan, wesenlike kontrakbreuk daargestel het wat eiser
geregtig gemaak het om die kontrak te
kanselleer.
[24]
Mnr Oosthuizen het betoog dat alvorens daar sprake van sodanige
kontrakbreuk kan wees, die kwessie van kruissubsidiëring
van die
vervoerkoste ‘n term van die kontrak moes wees. Daar is
egter, aldus Mnr Oosthuizen se betoog, geen sodanige
term in die
kontrak nie en is daar ook nie sodanige term gepleit in die
besonderhede van vordering nie.
[25]
Dit is inderdaad so dat `n party wat op ‘n kontrak steun die
terme (uitdruklike terme en stilswyende terme) daarvan moet
beweer en
bewys. Geen sodanige term, hetsy uitdruklik of stilswyend, is
pertinent deur eiser gepleit in die besonderhede
van vordering nie.
Onder sekere omstandighede kan ‘n party egter steeds op ‘n
aspek steun wat nie spesifiek gepleit
is nie. In voormelde
uitspraak van
MINISTER OF SAFETY AND
SECURITY v SLABBERT
is dit as volg
gestel op 474, para [12]:
“
There
are, however, circumstances in which a party may be allowed to rely
on an issue which was not covered by the pleadings.
This occurs
when the issue in question has been canvassed fully by both sides at
the trial. In South British Insurance Co.
Ltd v Unicorn
Shipping Lines (Pty) Ltd, this Court said:
‘
However,
the absence of such an averment in the pleadings would not
necessarily be fatal if the point was fully canvassed in evidence.
This means fully canvassed by both sides in the sense that the Court
was expected to pronounce upon it as an issue’.”
In
ERASMUS SUPERIOR COURT PRACTICE
,
Farlam
et al
op p. J1-130 is dieselfde opsommenderwys as volg uiteengesit:
“
However,
since pleadings are made for the Court, not the Court for the
pleadings, it is a duty of the Court to determine what are
the real
issues between the parties and, provided no possible prejudice can be
caused to either party, to decide the case on these
real issues.
In this regard the Court has a wide discretion. The Court must
look at the substantial issue between the
parties and not blindly
follow the
ipsissima verba
of the pleadings.”
[26]
Na my mening is hierdie aspek, soos deur Mnr Claasen betoog, wel
“
fully canvassed
”
deur eiser se getuienis, beide in hoof en in kruisverhoor.
Gevolglik kan daar geen benadeling vir verweerder wees
indien hierdie
aspek wel bereg word, hoewel dit nie spesifiek as ‘n term van
die kontrak in die besonderhede van vordering
gepleit is nie.
[27]
Uit die getuienis blyk dit eiser se saak te wees dat Aanhangsel “A”
soos dit voorkom op p. 34 van Bewysstuk
“A”, deel
gevorm het van die kontrak gegewe die definisie van Aanhangsel “A”
en die verwysings daarna in
die kontrak self. Aldus eiser se
getuienis is die vervoerkoste van die braaikuikens soos wat dit in
Aanhangsel “A”
uiteengesit is, en selfs soos dit van tyd
tot tyd gewysig was, van meet af aan en deurentyd tot en met siklus
108 bereken op die
basis dat kruissubsidiëring geld. Aldus
sy getuienis is die vervoerkoste van die braaikuikens ‘n
wesenlike term
van die kontrak wat dwarsdeur die industrie eenvormig
toegepas was vir alle kontrakgroeiers.
[28]
Indien ek laasgenoemde getuienis van eiser aanvaar vir doeleindes van
die aansoek om absolusie van die instansie, soos ek verplig
is om te
doen, blyk dit na my mening getuienis daar te stel op grond waarvan
‘n redelike Hof ten gunste van eiser kan bevind
dat ‘n
verhoging van die vervoerkoste van die braaikuikens as gevolg van die
wysiging van die berekeningswyse daarvan deur
kruissubsidiëring
te staak, wesenlike kontrakbreuk deur verweerder daargestel het.
Hierdie interpretasie van eiser word
na my mening verder ondersteun
deur die voorsiening wat in Aanhangsel “A” gemaak word
dat “amount will change
with price fluxuations
”
.
Laasgenoemde is wat in die verlede gebeur het toe die vervoerkoste
van tyd tot tyd verhoog en verlaag was, maar dit blyk
prima
facie
nie voorsiening te maak vir ‘n
wysiging in die berekeningsmetode of die basis waarop dit bereken
word nie (synde dit waarop
die staking van kruissubsidiëring
neerkom).
[29]
Mnr Oosthuizen het verder aan die hand gedoen dat selfs indien
aanvaar of bevind sou word dat die staking van kruissubsidiëring
ten opsigte van die vervoerkoste van die braaikuikens ‘n
wysiging van die kontrak daargestel het, dit uit die getuienis van
die eiser blyk dat dit by ooreenkoms geskied het deur middel van die
Kontrakgroeiers Assosiasie waarvan eiser lid was en aan wie
se
onderhandelings en besluite eiser gebonde was. In die verband het Mnr
Oosthuizen na die getuienis van eiser gedurende kruisverhoor
verwys
en aan die hand gedoen dat eiser al die relevante dokumentasie en
notules hieromtrent erken het, dat eiser hom gebonde geag
het en
inderdaad gebonde was aan die besluite geneem deur die assosiasie en
dat eiser erken het dat die komitee van die assosiasie
geregtig was
om namens hom as kontrakgroeier met verweerder te onderhandel. Mnr
Oosthuizen het voorts aan die hand gedoen dat hoewel
eiser nie
persoonlik die (beweerde) skriftelike wysiging onderteken het nie,
dit wel namens hom onderteken was wat tot gevolg het
dat dit voldoen
aan die bepalings van die nie-wysigings klousule van die kontrak.
[30]
Mnr Claasen het betoog dat daar nog `n totale vakuum bestaan wat
betref die Kontrakgroeiers Assosiasie se status en bevoegdhede,
wat
insluit die bevoegdhede van die komitee en die voorsitter daarvan. Hy
het voorts gesubmiteer dat die regsgeldigheid van die
spesifieke
besluit en onderhandelinge wat betref die wysiging van die
kostestruktuur met betrekking tot die vervoerkoste van die
braaikuikens, sowel as van die skrywe daaromtrent onderteken deur Mnr
Van Rensburg namens die kontakgroeiers soos eiser, ook net
blote
bewerings is sonder enige getuienis ter bewys daarvan.
[31]
Ek moet met Mnr Claasen se betoog saamstem. Die toegewings wat deur
eiser hieromtrent gemaak was in kruisverhoor, was meestal
daarop
gebaseer dat hy geen persoonlike kennis dra van wat aan hom gestel
was nie en dan toegewings gemaak het met antwoorde soos
“ek
dink so” op wesenlike stellings soos dat die besluit met
betrekking tot die wysiging in die vervoerkoste berekening
op `n
vergadering geneem was by wyse van meerderheidsbesluit. Sulke tipe
toegewings het nie noodwendig tot gevolg dat daar enige
bewyswaarde
aan die tersaaklike stellings kleef nie.
[32]
Vir doeleindes van die oorweging van `n aansoek om absolusie van die
instansie, is ek nie oortuig dat eiser ten opsigte van
sy
alternatiewe vordering, op die getuienis soos dit tans staan,
nie `n redelike moontlikheid van sukses het nie. Ek ag
dit onder die
omstandighede dus ook nie nodig om met die regsvraag met betrekking
tot die vraag of iemand anders namens eiser
`n wysiging van die
kontrak regsgeldiglik kon onderteken, te handel nie.
KOSTE:
[33]
Hoewel uiters volledige argumente aan my voorgehou was met betrekking
tot `n gepaste kostebevel, is ek van mening dat gegewe
dat `n
gedeelte van die aansoek om absolusie nie suksesvol was nie en die
verhoor dus voortgesit gaan word, dit gepas is dat die
koste van die
totale aansoek oorstaan vir latere beregting.
[34]
Gevolglik word die volgende bevele gemaak:
1.
Die aansoek om absolusie van die instansie
word toegestaan ten opsigte van die hoofvordering vervat in paragraaf
4.1 van die besonderhede
van vordering.
2.
Die aansoek om absolusie van die instansie
word van die hand gewys ten opsigte van die alternatiewe vordering
vervat in die res
van paragraaf 4 van die besonderhede van vordering.
3.
Die koste van die aansoek om absolusie van
die instansie staan oor vir latere beregting.
4.
Die saak word uitgestel na 17, 18 en 20
Februarie 2015 vir voortsetting van die verhoor.
______________
C. VAN ZYL, J
Namens Eiser:
Adv. J. Y.
Claasen SC
In
opdrag van:
Symington
& de Kok Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Namens
Verweerder:
Adv. H.F. Oosthuizen
In
opdrag van:
Phatshoane
Henney Ing.
BLOEMFONTEIN