About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
>>
2015
>>
[2015] ZAGPPHC 173
|
|
Van Der Schyff and Another v Minister van Polisie and Others (22899/2012,23000/2012) [2015] ZAGPPHC 173 (4 March 2015)
IN DIE HOë
HOF VAN SUID-AFRIKA
(GAUTENG
AFDELING, PRETORIA)
Saakno:
22899/2012
23000/2012
Not
reportable
Not of
interest to other judges
Date: 4
March 2015
In die saak tussen:
J F VAN DER
SCHYFF
........................................................................................................
Eerste
Eiser
G
BOTHA
...........................................................................................................................
Tweede
Eiser
en
DIE MINISTER VAN
POLISIE
.
...............................................................................
Eerste
Verweerder
KONSTABEL
MADUNA
.........................................................................................
Tweede
Verweerder
DIREKTEUR VAN
OPENBARE
VERVOLGINGS
................................................
Derde
Verweerder
UITSPRAAK
D S FOURIE, R:
[1] Hierdie uitspraak
word in Afrikaans gelewer aangesien die hele verhoor in Afrikaans
gevoer is. Daar is aanvanklik twee
veskillende aksies wat uit
dieselfde voorval ontstaan het teen die verweerders ingestel. By die
aanvang van die verhoor en op versoek
van die partye is daar
ingevolge Reël 11 ‘n konsolidasie van aksies gelas
waarna die verrigtinge as een verhoor
voortgesit is.
[2] Die partye het
ook by ooreenkoms ‘n dokument voorberei (bewysstuk “A”)
waarin die geskilpunte en die feite
wat gemeensaak is, uiteengesit
word. Beide eisers het daarna hul vorderings teen die tweede en
derde verweerders teruggetrek
asook eis nommer 2 (kwaadwillige
vervolging) teen die eerste verweerder laat vaar. Daarop het
eerste verweerder sy spesiale
pleit (van nie-voldoening aan die
statutêre voorskrifte) ook laat vaar. Dit laat beide eisers met
‘n vordering vir
betaling van skadevergoeding vir beweerde
onregmatige arrestasie en aanhouding.
[3] Die partye is dit
eens dat die relevante tydperk van aanhouding vir beide eisers
ongeveer 4 dae was. Daar is verder ooreengekom
dat beide vorderings
slegs vir die betaling van algemene skadevergoeding is en dat geen
spesiale skade gevorder word nie.
Daar het gevolglik slegs twee
geskilpunte oorgebly, naamlik die vraag of die arrestasie en
aanhouding van beide eisers onregmatig
was en indien wel, wat die
skadevergoedingsbedrag vir elke eiser behoort te wees.
GETUIENIS VIR
DIE EISERS
:
EERSTE EISER
[4] Mnr Van der
Schyff het getuig dat hy 60 jaar oud is en as ‘n sakeman vir
homself werk. Op Donderdag 7 April 2011
was hy by sy huis,
besig om aandete te geniet. Teen ongeveer 20h30 het hy sirenes
gehoor en toe hy uitgaan sien hy polisievoertuie
met blou ligte asook
ongeveer agt polisiebeamptes voor sy huis. Hy was op daardie
stadium ‘n lid van die plaaslike
gemeenskapsforum wat hulle
pligte in samewerking met die polisie uitgevoer het.
[5] Hy is in kennis
gestel dat die polisie ‘n verklaring van hom verlang met
betrekking tot ‘n aanranding wat die vorige
Saterdagaand glo
plaasgevind het. Hy is toe versoek om die polisiebeamptes vir
die doel na die polisiestasie te vergesel.
By die polisiestasie
is hy na ‘n konferensiekamer geneem waar hy meegedeel is dat hy
nou nêrens heen sal gaan nie,
aangesien die man wat aangerand
was, oorlede is. Geen lasbrief vir sy arres en aanhouding is
aan hom getoon nie.
[6] Hy is nie
toegelaat om terug te gaan huis toe nie. Hy het toe die
voorsitter van die gemeenskapsforum geskakel om hom
van die gebeure
in te lig. Hy is in die polisieselle tot Maandag 11 April 2011
aangehou. Daarna is hy vir die eerste
keer voor ‘n hof
gebring wat sy verdere aanhouding gelas het. Hy is daarna vir
ongeveer 32 dae in die Pretoria Sentraalgevangenis
aangehou waarna
die klag van moord teen hom teruggetrek en hy vrygelaat is.
[7] Gedurende die tyd
wat hy in die polisieselle aangehou was moes hy aanvanklik een sel
met ongeveer 8 mense gedeel het.
Hy moes op ‘n dun
matras, bekend as ‘n selmat, op die grond slaap en was bang
aangesien hy nie veilig gevoel het nie.
Sy kos het hoofsaaklik
uit pap in die oggend en vier snye brood vir middag en aandete
bestaan. Na ongeveer 2 dae is hy op
eie versoek na ‘n
enkelsel oorgeplaas. Die toiletgeriewe was glad nie aanvaarbaar
nie en die stort was vuil.
Hy het wel besoeke van sy vrou en
dogter ontvang. Dit het hom ontstel toe sy dogter uit skok
tydens die eerste besoek vir
hom gelag het.
[8] In kruisverhoor
het hy beweer dat hy onder valse voorwendsels van ‘n verklaring
wat hy moes aflê na die polisiestasie
geneem is. Hy het
ook genoem dat sy familie wat kos gebring het, nie toegelaat was om
dit vir hom te gee nie. Hy het
bygevoeg dat gedurende die tyd
wat hy ‘n sel met ander mense moes deel hy min geslaap het,
aangesien hy bang was wanneer
dit donker geword het.
TWEEDE EISER
[9] Mnr Botha is ‘n
34-jarige dieselwerktuigkundige. Hy het getuig dat gedurende
die vroeë oggendure van Saterdag
30 April 2011 het hy ‘n
“gehamer” teen sy huis se voordeur gehoor. Toe hy
oopmaak was daar ongeveer 12
polisielede wat hulle vuurwapens op hom
gerig het. Hulle het nie gesê waarom hulle dit doen nie.
Slegs hy en
sy vrou was tuis. Hy is daar geboei en by die
voordeur uitgestoot terwyl iemand gesê het “hardloop
ons
wil jou skiet”. Terwyl hy na ‘n vangwa geneem
is, het sy buurman nader gekom en gevra of hy kan help. Die
polisie het toe vir hom gesê: “Gaan terug of ons
arresteer jou ook”.
[10] Hy is toe in ‘n
vangwa geplaas waarna hulle ook na ander lede van die
gemeenskapsforum se huise gery het. Die tweede
eiser was op
daardie stadium ook ‘n lid van die gemeenskapsforum.
Tydens sy arrestasie by die huis is daar wel beweer
dat die polisie
‘n lasbrief het, maar hy het dit nooit gesien nie. Hulle
het toe by ‘n motorhawe stilgehou.
Sy skoonouers het daar
aangekom en vir die polisie gevra waarom hulle hom gearresteer het.
Volgens hom het hulle toe gesê:
“Dis niks van julle
besigheid nie, staan terug anders arresteer ons jou ook.”
Hulle is toe van daar af na die
polisiestasie toe.
[11] By die
polisiestasie is hy in ‘n sel saam met ongeveer 8 tot 10 ander
mense geplaas. Dit was ongeveer 1:15 die
oggend. Daar is
vir hom gesê dat hy ‘n medepligtige in ‘n moordsaak
is. Nog steeds het hy geen lasbrief
gesien nie. Hy moes
op ‘n dun matras sonder ‘n kombers slaap. Hy kon
egter nie slaap nie aangesien hy vir
sy lewe gevrees het.
[12] Sy kos in die
oggend het uit mieliepap en swart tee bestaan. Later is hy ook
brood gegee, maar dit was oud en het soos
“toast” gelyk.
Sy vrou het hom besoek maar sy is nie toegelaat om kos vir hom te gee
nie. Op Sondagmiddag
1 Mei 2011 is hy ingevolge ‘n
dringende hofbevel vrygelaat hangende die finalisering van ‘n
uitkenningsparade wat op
3 Mei 2011 sou plaasvind. Tydens die
uitkenningsparade is hy “uitgewys” waarna hy toe weer
gearresteer en in
die polisieselle aangehou is. Volgens hom het
die toilette sleg geruik en is hy later van ‘n skoonmaakmiddel
voorsien
om dit te ontsmet. Tydens besoeke moes hy agter ‘n
glasvenster sit.
[13] Woensdagoggend
is hy voor ‘n hof gebring waarna die saak vir ‘n verdere
7 dae uitgestel is. Daar is gelas
dat hy in aanhouding moes
bly. Na verstryking van hierdie tydperk is hy meegedeel dat die
saak teen hom teruggetrek is.
Volgens hom het hierdie voorval
bygedra tot die verbrokkeling van sy huwelik. Tydens
kruisverhoor het hy toegegee dat daar
verskeie ander redes vir die
verbrokkeling van sy huwelik bestaan het. Hy het ook
verduidelik dat sy prokureur voor sy arrestasie
versoek was dat hy ‘n
uitkenningsparade moes bywoon.
SAAK VIR DIE
EERSTE VERWEERDER
:
[14] Na sluiting van
die eisers se saak is die eerste verweerder se saak gesluit sonder om
enige getuies te roep. Daar is
ook op geen stadium verwys na of
gesteun op die bestaan van ‘n lasbrief vir die arres en
aanhouding van die eisers nie.
AANSPREEKLIKHEID
VAN DIE EERSTE VERWEERDER
:
[15] Volgens die
getuienis van beide eisers moet ek aflei dat hulle sonder ‘n
lasbrief gearresteer en aangehou is. Geen
weersprekende
getuienis deur die eerste verweerder is voorgelê nie. Ek
moet derhalwe tot die gevolgtrekking kom dat
beide arrestasies en
aanhoudings sonder ‘n lasbrief uitgevoer is. In die lig
hiervan het daar ‘n bewyslas op
die eerste verweerder gerus om
die regmatigheid van die arrestasies en aanhoudings te bewys.
Hierdie beginsel is soos volg
in Minister of Law and Order &
Others v Hurley & Another
1986 (3) SA 568
(A) op 589E-F
verduidelik:
"An
arrest constitutes an interference with the liberty of the individual
concerned, and it therefore seems to be fair and
just to require that
the person who arrested or caused the arrest of another person should
bear the onus of proving that his action
was justified in law.”
[16] Ingevolge die
bepalings van artikel 40(1) van die Strafproseswet 51 van 1977
kan ‘n vredesbeampte onder sekere omstandighede
iemand sonder
‘n lasbrief in hegtenis neem. Die gronde soos daarin
vermeld is egter nie outomaties op elke arrestasie
van toepassing
nie. Daar moet getuienis aangebied word wat ‘n Hof op ‘n
oorwig van waarskynlikhede sal oortuig
dat die arrestasie en
aanhouding regmatig was.
[17] Die eerste
verweerder het geen sodanige getuienis aangebied nie en derhalwe ook
nie daarin geslaag om die bewyslas te kwyt
nie. Ek bevind
gevolglik dat die arrestasie en aanhouding vir die tydperk van 4 dae
in beide gevalle onregmatig was.
Soos reeds hierbo genoem,
hierdie is ‘n tydperk wat tussen die partye ooreengekom is,
klaarblyklik omdat die eisers se verdere
aanhouding daarna ingevolge
‘n hofbevel geskied het.
OMVANG VAN
SKADEVERGOEDING
:
[18] As vertrekpunt
het die eisers se advokaat na sekere faktore verwys wat in aggeneem
moet word by die oorweging van skadevergoeding.
Hy het na Law
of Damages, 2de Uitgawe, Visser et al, p 472 verwys waar die
geleerde skrywers die volgende samevatting gee:
"In
deprivation of liberty the amount of satisfaction is calculated by
the Court ex aequo et bono. Factors which can
play a role are
the circumstances under which the deprivation of liberty took place;
the presence or absence of improper
motive or ‘malice’ on
the part of the defendant; the harsh conduct of the
defendants; the duration and
nature (e.g. solitary confinement)
of the deprivation of liberty; the status, standing, age and
health of the plaintiff;
the extent of the publicity given to the
deprivation of liberty; the presence or absence of an apology or
satisfactory explanation
of the events by the defendant; awards
in previous comparable cases; the fact that in addition to
physical freedom,
other personality interests such as honour and good
name have been infringed; the high value of the right to
physical liberty;
the effects of inflation; and the fact
that the actio iniuriarum also has a punitive function.”
[19] Dit is ook
belangrik om die doel van enige toekenning wat gemaak moet word,
asook hoe dit bepaal moet word, in die regte perspektief
te plaas.
Bosielo WAR (soos hy toe was) het dit soos volg in Minister of Safety
and Security v Tyulu
2009 (5) SA 85
(HHA) op 93 (par 26)
verwoord:
"
In
the assessment of damages for unlawful arrest and detention, it is
important to bear in mind that the primary purpose is not
to enrich
the aggrieved party but to offer him or her some much-needed solatium
for his or her injured feelings. It is therefore
crucial that
serious attempts be made to ensure that the damages awarded are
commensurate with the injury inflicted. However,
our courts
should be astute to ensure that the awards they make for such
infractions reflect the importance of the right to personal
liberty
and the seriousness with which any arbitrary deprivation of personal
liberty is viewed in our law. I readily concede
that it is
impossible to determine an award of damages for this kind of injuria
with any kind of mathematical accuracy. Although
it is always
helpful to have regard to awards made in previous cases to serve as a
guide, such an approach if slavishly followed
can prove to be
treacherous. The correct approach is to have regard to all the
facts of the particular case and to determine
the quantum of damages
on such facts. ...”
[20] Met inagneming
van hierdie dictum en voordat ek die feite en omstandighede van die
eisers se saak oorweeg, is dit wenslik om
kortliks ook na sommige
beslissings wat die partye se advokate aan my voorgehou het, te
verwys: In Louw v Minister
of Safety and Security 2006 (2) SASV
178 (T) was die eisers vir ‘n tydperk van 20 ure onregmatig
aangehou. ‘n
Bedrag van R75 000.00 is aan beide van
hulle gedurende Augustus 2004 toegeken. Volgens Koch, The
Quantum Yearbook 2014,
pp 2 en 3, was die monetêre waarde
van so ‘n toekenning R134 000.00 gedurende 2014. In
Olivier v Minister
of Safety and Security
2009 (3) SA 434
(WPA) was
die eiser, ‘n superintendent in die Suid-Afrikaanse
Polisiediens, vir ‘n tydperk van 5 tot 6 ure onregmatig
aangehou. Skadevergoeding in die bedrag van R50 000.00 is
gedurende Februarie 2008 aan hom toegeken. Volgens Koch,
supra,
was die monetêre waarde van hierdie toekenning R69 000.00
gedurende 2014.
[21] In Rudolph v
Minister of Safety and Security
2009 (5) SA 94
(HHA) was die eiser
vanaf 17h00 op die Vrydag tot 12h00 die volgende Dinsdag onder
vernederende omstandighede onregmatig aangehou.
‘n Bedrag
van R100 000.00 is gedurende Maart 2009 deur die Hoogste Hof van
Appèl toegeken. Volgens Koch,
supra, was hierdie
toekenning se monetêre waarde R129 000.00 gedurende 2014.
In Masisi v Minister of Safety and
Security 2011 (2) SASV 262 (GNP)
was die eiser vir ‘n tydperk van ongeveer 5 ure onregmatig
opgesluit. Hy is skadevergoeding
ten bedrae van R65 000.00
gedurende Desember 2010 toegeken. Volgens Koch, supra, was die
monetêre waarde van hierdie
toekenning R80 000.00
gedurende 2014.
[22] Met verwysing na
onder andere hierdie gesag het beide advokate aan die hand gedoen
(sonder om ‘n skikking te bereik)
dat ‘n bedrag van
R120 000 gepaste skadevergoeding vir elk van die eisers behoort
te wees. Ek aanvaar sonder twyfel
dat hulle na deeglike
oorweging tot hierdie slotsom gekom het, maar ek kan ongelukkig nie
daarmee saamstem nie. Ek is egter
nie aan hulle submissies
gebonde nie en sal gevolglik die aangeleentheid verder moet oorweeg
waarna ‘n vasstelling gemaak
sal word. Die gesag hierbo
na verwys is slegs riglyne om ‘n hof behulpsaam te wees met die
vasstelling van skadevergoeding.
Dit is egter steeds belangrik
om te let op die feite en omstandighede van elke betrokke geval. Dit
beteken dat daar geïndividualiseer
moet word met inagneming van
die algemene beginsels en riglyne hierbo na verwys.
[23]
Beide
eisers se arrestasie en aanhouding spruit voort uit dieselfde
voorval. Albei moes aan die Polisie bekend gewees het,
aangesien hulle lede van ‘n gemeenskapsforum was wat hulle
pligte in samewerking met die Polisie uitgevoer het. Die
eerste
eiser is van sy huis af weggelok onder die voorwendsel dat hy ‘n
verklaring moes gaan aflê, terwyl die tweede
eiser op ‘n
brutale wyse in boeie ten aanskoue van sy buurman weggeneem is.
Albei is in die nag gearresteer en verder
aangehou.
[24] In beide gevalle
bespeur ek arrogansie en venynigheid in die optrede van die betrokke
lede van die Polisie. In albei
gevalle is daar met groot
bravade by die eisers se huise opgedaag. Dit is opmerklik dat
geen redes aangevoer is waarom die
arrestasies nou juis in die nag en
sonder ‘n lasbrief uitgevoer moes word nie. Die eerste
eiser, ‘n man van amper
60 jaar op daardie stadium, word sonder
meer tussen ander vermeende misdadigers in ‘n sel gestop.
Vir die tweede eiser
word daar spottenderwys gesê dat hy moet
weghardloop sodat hulle hom kan skiet. Hy is toe later ook saam
met
verskeie ander vermeende misdadigers in ‘n sel
opgesluit.
[25] Albei eisers is
onder uiters onaangename omstandighede vir vier dae lank aangehou.
Nie een van hulle was toegelaat (vir
welke rede ookal) om die kos wat
vir hulle gebring was, te eet nie. Toilet- en wasgeriewe was
glad nie na wense nie.
Die voorval moes tot ‘n mindere of
meerdere mate ‘n negatiewe invloed op hulle gesinslewe gehad
het. Verder,
hulle arrestasie en aanhouding sou in alle
waarskynlikheid vroeër of later ook in die omgewing waar hulle
woonagtig was, bekend
geword het.
[26] In Masisi v
Minister of Safety and Security, supra, het Makgoka R daarop gewys
dat ‘n individu se reg op vryheid een
van die belangrikste
waardes is wat gekoester moet word. Waar die arres boonop met
kwaadwilligheid gepaard gaan, behoort
‘n hoër bedrag
aan skadevergoeding toegeken te word. Hy het dit soos volg
geartikuleer (par 18):
"The
right to liberty is an individual’s most cherished right, and
one of the foundational values giving inspiration
to an ethos
premised on freedom, dignity, honour and security. Its unlawful
invasion therefore strikes at the very fundament
of such ethos.
Those with authority to curtail that right must do so with the
greatest of circumspection, and sparingly.
In Solomon v Visser
& Another
1972 (2) SA 327
(C), at 345C-E, it was remarked that,
where members of the police transgress in that regard, the victim of
abuse is entitled to
be compensated in full measure for any
humiliation and indignity which result. To this I add that,
where an arrest is malicious,
the plaintiff is entitled to a higher
amount of damages than would be awarded, absent malice.”
[27] Ek vereenselwig
myself met hierdie dictum. Die skadevergoeding wat toegeken
moet word, moet in verhouding staan met die
arrogante en venynige
wyse waarop die betrokke lede van die Polisie teenoor die eisers
opgetree het, die vernedering wat hulle
moes ondergaan, die uiters
onaangename tydperk van 4 dae waartydens hulle in aanhouding verkeer
het en die trauma wat hulle moes
verduur. Aan die ander kant
moet ek ook in gedagte hou dat die oogmerk van die toekenning nie
moet wees om die eisers op
enige wyse te verryk nie, maar om
genoegdoening aan hulle te gee vir dit wat hulle moes deurmaak.
Met inagneming van al hierdie
omstandighede, is ek van oordeel dat
die eisers elk op ‘n bedrag van R135 000.00 geregtig is.
BEVEL
:
Ek maak die volgende bevel: Die eerste verweerder word gelas om:
(1)
R135 000.00 aan die eerste eiser (J F van der Schyff) te betaal;
(2)
R135 000.00 aan die tweede eiser (G Botha) te betaal;
(3)
rente a tempore morae op elk van voormelde bedrae te betaal, bereken
vanaf datum van vonnis tot datum van betaling;
(4)
die koste van beide eisers te betaal.
_________________________
D S
FOURIE
REGTER
VAN DIE HOOGGEREGSHOF
PRETORIA
Datum:
4 Maart 2015
VAN DER SCHYFF & BOTHA
V MIN V POLISIE & ANDERE