About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
>>
2015
>>
[2015] ZAGPPHC 245
|
|
C.E v J.E en Andere (42949/2013) [2015] ZAGPPHC 245 (26 February 2015)
SAFLII
Note:
Certain
personal/private details of parties or witnesses have been
redacted from this document in compliance with the law
and
SAFLII
Policy
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
/ES
(GAUTENG
AFDELING. PRETORIA)
SAAK NO: 42949/2013
DATUM: 26 FEBRUARY
2015
NOT REPORTABLE
NOT OF INTEREST TO
OTHER JUDGES
IN DIE SAAK
TUSSEN
C[...]
E[...]
..............................................................................................................................
EISERES
EN
J[...]
E[...]
........................................................................................................
1STE
VERWEERDER
J[...] E[...]
N.O.
…............................................................................................
2DE
VERWEERDER
M[...] C[...]
E[...] N.O.
…................................................................................
3DE
VERWEERDER
CATHERINA HESTER
JOHANNA SLIPPERS N.O.
….............................
4DE
VERWEERDER
UITSPRAAK
PRINSLOO, R
[1] Die verweerders
het eksepsie aangeteken teen die besonderhede van eis op grond
daarvan dat dit mank gaan aan die nodige bewerings
om 'n eis-oorsaak
uit te maak.
[2] Om verwarring te
voorkom, sal ek na die eksipiënte verwys as "die
verweerders" en na die respondent as die "eiseres".
[3] Voor my, het mnr
Van der Merwe SC vir die eiseres verskyn en mnr Swart SC vir die
verweerders.
Inleiding
[4] Die eiseres en
die eerste verweerder was voorheen met mekaar getroud. Die huwelik,
binne gemeenskap van goed, is op 17 Februarie
1996 in Pretoria
voltrek.
[5] Een minderjarige
kind is op [...] 2007 uit die huwelik gebore. Dit is 'n seun, M[...]
C[...] E[...].
[6] Die
huweliksverhouding tussen die eiseres en die eerste verweerder het
onherstelbaar verbrokkel. Op 13 Maart 2012, het hierdie
hof 'n
egskeidingsbevel toegestaan met inlywing van 'n skikkingsooreenkoms
tussen die partye wat op 22 Februarie 2012 te Louis
Trichardt
aangegaan is. Die huwelik het dus ongeveer 16 jaar geduur.
[7] Die
skikkingsooreenkoms wat 'n bevel van die hof gemaak is by egskeiding,
is by hierdie besonderhede van vordering, wat die
teiken van die
eksepsie is, aangeheg.
Die eerste deel van
die skikkingsooreenkoms het te doen met M[...] en daar is bepaal dat
sy primêre plek van verblyf by die
eiseres (verweerderes in die
egskeiding) sal wees. Die nodige reelings is getref ten opsigte van
onderhoud en aanverwante sake.
Die tweede deel van
die skikkingsooreenkoms het te doen met die verdeling van die
gemeenskaplike boedel. Breedweg kom dit op die
volgende neer:
(i) Die eiseres (ek
noem haar so al was sy die verweerderes in die egskeiding) kry 'n
aantal roerende bates, insluitende 'n Toyota
voertuig, wat
gespesifiseer is. Die eerste verweerder kry die res van die roerende
bates.
(ii) Die eiseres
ontruim die gemeenskaplike woning voor of op 30 April 2012 en betaal
ook die trekkoste.
(iii) Die eerste
verweerder betaal R350 000,00 binne dertig dae van die egskeiding en
R2 950 000,00 voor of op 28 Februarie 2017.
Hierdie betalings is in
finale vereffening van enige eise wat die eiseres teen die eerste
verweerder mag hê, insluitend onderhoud.
(iv) Die eiseres kry
'n besigheid bekend as The Guest House B&B in Musina. Dit sluit
die klandisiewaarde, roerende bates, krediteure
en debiteure,
dienskontrakte van werknemers en aanverwante sake in. Sy bedryf dan
die besigheid vir haar eie wins en verlies en
huur die perseel waarop
die gastehuis is van die E[...] Familietrust ("die trust").
Die huurkontrak bepaal 'n huurtermyn
van vyf jaar teen R1 000,00 per
maand, wat jaarliks eskaleer. Daama het die eiseres 'n opsie om die
huurkontrak vir nog drie jaar
te verleng.
(v) Die eiseres
bedank as trustee van die E[...] Familietrust.
(vi) Die
egliede het geen verdere eise teen mekaar nie. Waar van toepassing,
moet hulle uitstaande inkomstebelasting
en kapitaalwinsbelasting om
die helfite betaal.
(vii) Die laaste
klousule van die skikkingsooreenkoms, no 14.5, lees soos volg:
"Beide partye
plaas hiermee op rekord en bevestig dat hul van volledige advies
bedien is ten opsigte van die verdeling van
die bates en verdeling
van die gemeenskaplike boedel, insluitende die basis en implikasies
van die ander transaksies en/of terme
hierin vermeld, en dat hul,
nieteenstaande die voormelde, ooreengekom het en instruksies gegee
het om die skikking te formuleer
soos vervat in hierdie ooreenkoms.
Beide partye indemnifiseer hiermee die adviseurs teen enige eise van
welke aard ook al wat mag
voortspruit uit die terme en gevolge van
hierdie ooreenkoms en doen hiermee vrywillig, onvoorwaardelik en
onherroeplik afstand
van enige sodanige eise."
Die bepalings van
hierdie klousule is nie te berde gebring tydens die verrigtinge voor
my wat te doen het met die eksepsie nie.
Dit mag later onder die loep
kom as die verhoor sou voortgaan. Ek laat my nie verder daaroor uit
nie.
[8] Vir huidige
doeleindes, aanvaar ek dat die verdeling toe so plaasgevind het,
alhoewel hierdie onderwerp nie in sulke besonderhede
voor my behandel
is nie:
(i) Die eiseres het
waarskynlik die roerende goed wat op die lys is ontvang. Eintlik is
dit net 'n paar items van 'n persoonlike
aard soos M[...] se
speelgoed en meubels, die voertuig, 'n paar skilderye en meubels en
sketse wat die eiseres by haar ouers gekry
het.
(ii) Die eerste
verweerder sou seker die R350 000,00 betaal het, en die tweede
betaling moet eers in 2017 geskied.
(iii) Ek neem aan
dat die eiseres nog die gastehuis bestuur en die huur stiptelik
betaal.
[9] As my aanname
dat die verdeling reeds plaasgevind het verkeerd is, sal dit nie 'n
wesenlike invloed hê op die uitslag
van hierdie eksepsie nie.
Die E[...]
Familietrust no IT1366/02 ("die trust")
[10] Die trustakte
maak deel uit van die rekord voor my. Die trust is eers in November
2001, meer as vyf jaar na voltrekking van
die huwelik tussen die
eiseres en die eerste verweerder, opgerig. Ek neem aan dat dit
behoorlik geregistreer is in terme van die
tersaaklike wetgewing.
[11] Die aanvanklike
trustees was die eerste verweerder, die eiseres en ene HJViljoen. Die
huidige trustees is die tweede, derde
en vierde verweerders. Ek
aanvaar dat die eiseres as trustee bedank het, soos voorgeskryf in
die skikkingsooreenkoms.
[12] Blykens die
trustakte, is die eerste verweerder die oprigter.
[13] Die
inkomstebegunstigdes is die kapitaalbegunstigdes, hulle bloed- en
aanverwante, en enige trust geskep ten behoewe van die
inkomstebegunstigdes of kapitaalbegunstigdes.
[14] Die
kapitaalbegunstigdes is die eiseres, haar wettige afstammelinge,
enige trust geskep ten behoewe van enige begunstigde of
groep van
begunstigdes van die eiseres en haar afstammelinge en die erfgename
van die eerste verweerder en die eiseres, slegs indien
geeneen van
die eersgenoemde kapitaalbegunstigdes in lewe is by vestigingsdatum
van die trust nie. Die eerste verweerder, as oprigter,
is nie 'n
begunstigde van die trust nie.
Die besonderhede
van eis
[15] In wese kom die
eiseres se saak daarop neer dat die eerste verweerder, voor die
egskeiding, 'n bedrieglike wanvoorstelling
teenoor haar gepleeg het
oor die werklike waarde van die gemeenskaplike boedel. As die getroue
waarde van die gemeenskaplike boedel
aan haar oorgedra is, wat ook
die bates van die trust moet insluit, sou sy nie die
skikkingsooreenkoms aangegaan het nie. Sy voer
aan dat die
skikkingsooreenkoms gevolglik gekanselleer is, of gekanselleer staan
te word, en dat die verdeling van die boedel op
grond van die
korrekte waarde daarvan ten tye van die egskeiding, moet geskied.
[16] Dit is
gerieflik om die tersaaklike gedeeltes van die besonderhede van eis
aan te haal. Dit is 'n lywige dokument en ek sal
net grepe aanhaal
soos dit na my mening relevant is vir doeleindes van hierdie geskil:
“
11
11.1 Die eiseres was
tot haar nadeel beweeg om die voormelde skikkingsooreenkoms,
aanhangsel A, aan te gaan en te onderteken as
gevolg van 'n materiële
wanvoorstelling wat die eerste verweerder aan haar gemaak het.
11.2 Eerste
verweerder was ten tye van die maak van die voorstellings en die
aangaan van die kontrak bewus van die valsheid van
die voorstellings
en het dit gemaak met die bedoeling dat dit die eiseres sou beweeg om
die gemelde kontrak tot haar nadeel aan
te gaan.
12
Besonderhede van
die wanvoorstelling:
12.1 Die eerste
verweerder het aan die eiseres voorgestel dat die waarde van die
gemeenskaplike boedel, wat ingesluit het die waarde
van die bates van
die E[...] Familietrust ongeveer R13 miljoen netto beloop het.
12.2 Die eerste
verweerder het geweet dat die waarde van die bates van die gemelde
boedel binne gemeenskap van goedere, insluitende
die bates van die
Trust, substansieel meer werd was as R13 miljoen, naamlik meer as R40
miljoen.
12.3 Die eerste
verweerder het aan eiseres voorgestel dat hy haar billik sou behandel
en dat haar helfte van die gemeenskaplike
boedel, insluitende die
trust bates, ongeveer R6,5 miljoen moes beloop en het die eiseres
daardie wanvoorstellings geglo en op
daardie basis die bates wat aan
haar toegeken was in terme van aanhangsel B (dit moet eintlik
aanhangsel A lees) aanvaar.
12.4 Indien die
eiseres geweet het dat die waarde van die boedel, insluitende die
trust bates, substansieel meer werd was as R13
miljoen, sou sy nie
die skikkingsooreenkoms, aanhangsel A, aangegaan het en onderteken
het nie en sou sy aangedring het om 'n veel
groter gedeelte van die
bates wat die partye gesamentlik opgebou het gedurende die bestaan
van die huwelik te ontvang.
13
Kansellasie van
aanhangsel A:
Die eiseres het, toe
sy bewus geword het van die voormelde wanvoorstelling, gekies om die
ooreenkoms, aanhangsel A, te kanselleer,
en het gevolglik geweier om
uitvoering aan die ooreenkoms te gee nadat sy van die wanvoorstelling
en haar reg om die ooreenkoms
te kanselleer, bewus geword het,
altematiewelik, kanselleer die eiseres hiermee die gemelde ooreenkoms
en vra 'n bevel ter bevestiging
van die kansellasie daarvan.
14
Restitusie
Die eiseres bied
hiermee aan om die bates wat sy ontvang het in terme van aanhangsel
A, terug te lewer sodat dit deel vorm van die
gemeenskaplike boedel
tussen die partye wat verdeel moet word.
15
Verdeling
van die gemeenskaplike boedel soos op datum van egskeiding.
insluitende
die bates van die E[...] Familietrust:
15.1 In die
vooropstelling is die eiseres geregtig op 'n bevel dat die helfte van
die gemeenskaplike boedel van die partye soos
op datum van egskeiding
aan haar toegeken word.
15.2 Die eiseres is
verder geregtig daarop dat verklaar word dat die bates van die
voormelde E[...] Familietrust geag moet word
om bates van die
gemeenskaplike boedel te wees soos op datum van egskeiding en dat die
trustee gelas moet word om aan haar 'n uitkering
te maak om gevolg te
gee aan die bogemelde.
15.3 Aangesien die
partye nie saamstem oor die verdeling en nie sal saamstem oor die
verdeling en tegeldemaking van die bates van
die gemeenskaplike
boedel, met insluiting van die bates van die Trust soos op datum van
egskeiding nie, vra die eiseres vir die
aanstelling van 'n
likwidateur om die waarde van die gemeenskaplike boedel te bepaal en
om genoegsame bates te identifiseer wat
te gelde gemaak moet word ten
einde die helfite van die waarde van die boedel aan haar uit te
betaal.
16
Grondslag
van die bewering dat die bates van die E[...] Familietrust.
no
IT1366/02. eeag moet word om deel te vorm van die gemeenskaplike
boedel
van die partve ten tve van die egskeiding:
Die eiseres maak
staat op die volgende gronde vir 'n bevel dat die bates van die Trust
geag moet word om deel te vorm van die gemeenskaplike
boedel ten tye
van egskeiding:
16.1 Die eerste
verweerder het tydens die aanvang van die onderhandelinge om 'n
ooreenkoms aan te gaan ter verdeling van die bates
van die
gemeenskaplike boedel tussen die partye, uitdruklik altematiewelik
stilswyend erken dat die bates van die E[...] Familietrust
deel vorm
van die gemeenskaplike bates wat die partye moet verdeel. Eerste
verweerder en eiseres het daarop uitdruklik altematiewelik
stilswyend
ooreengekom dat dit die basis sou wees waarop 'n verdelingsooreenkoms
aangegaan kon word.
16.2 Altematiewelik
en verder tot voormelde:
16.2.1 Die E[...]
Familietrust is deur die eerste verweerder laat oprig tydens die
bestaan van die huwelik tusen die partye en het
aan die eiseres
voorgehou dat die E[...] Familietrust gestig moet word om die bates
wat die partye bymekaar maak te laat groei
in 'n afsonderlike
entiteit en dit te beskerm teen skuldeisers van die gemeenskaplike
boedel. Die eiseres het hierdie voorstel
aanvaar en daama hierop
gehandel tydens die bestaan van die huwelik.
16.2.2 'n Afskrif
van die magtigingsbrief en die trustakte word respektiewelik hierby
aangeheg as aanhangsels Cl en C2.
16.2.3 In terme van
aanhangsels Cl en C2:
16.2.3.1 ('n
Beskrywing van die eerste trustees, ek haal nie alles aan nie.)
16.2.3.2 (Die eerste
verweerder het die bevoegdheid gehad om trustees aan te stel en uit
hulle amp te onthef...)
16.2.3.3 (Die eerste
verweerder sou die reg hê om by wyse van sy testament die
vestigingsdatum ten opsigte van trustfondse
te bepaal en 'n formule
voor te skryf vir die verdeling van die trustfonds tussen die
begunstigdes ...)
16.2.3.4 Te alle
tye, dit wil sê voor, ten tye van en nadat die E[...]
Familietrust gestig was, het die eerste verweerder
aan die eiseres
voorgegee dat hy alle bevoegdhede wat hy in terme van die trustakte
het, sou uitoefen op 'n wyse wat ooreenstem
met die bedoeling van die
partye, naamlik om die E[...] Familietrust as 'n verlenging van hulle
gemeenskaplike boedel te bedryf.
16.3 Tydens die duur
van die huwelik het eiseres geld wat sy verwerf het deur haar ywer
tot beskikking van die E[...] Familietrust
gestel ten einde die
E[...] Familietrust in staat te stel om sy bates te laat groei eerder
as wat bates vir die gemeenskaplike
boedel daarmee bekom was wat dan
binne die gemeenskaplike boedel kon groei ook tot voordeel van die
eiseres.
16.4 Tydens die duur
van die huwelik het die eiseres, sover sy kon, met die eerste
verweerder saamgewerk om die bates van die E[...]
Familietrust te
laat toeneem in waarde.
16.5 Die eiseres het
die eerste verweerder vertrou en het nie aangedring dat die eerste
verweerder die vrug van sy arbeid en besigheidsvemuf
tot voordeel van
die gemeenskaplike boedel moet aanwend nie, aangesien die eerste
verweerder die eiseres laat glo het dat die E[...]
Familietrust
beskou sou word as 'n verlenging van die partye se gemeenskaplike
boedel (en in welke opsig die eerste verweerder
sy beloftes gestand
gedoen het toe dit kom by die basis waarop die partye hulle bates sou
verdeel by egskeiding, soos hierbo uiteengesit).
16.6 Die eiseres het
geld wat sy verdien het aangewend om lenings wat die partye aangegaan
het om bates vir die E[...] Familietrust
te bekom, terug te betaal
aan haar skoonouers en het die Trust aldus in staat gestel om 'n
lening aan te. gaan wat deur die Trust
aangewend is om bates te bekom
met die oog daarop dat dit sou toeneem in waarde binne die Trust.
16.7 Deur verskeie
bates wat die eiseres en die eerste verweerder gedurende die bestaan
van die huwelik bekom het in die Trust te
laat registreer, het die
eiseres en die eerste verweerder nie bedoel om hul eiendomsreg van
die bates aldus bekom aan die Trust
te laat toekom nie en het eiseres
en eerste verweerder die bates van die Trust as hul eie bates beskou
en daarvolgens daarmee gehandel.
Die partye het derhalwe die Trust
bedryf as 'n alter ego van die gesamentlike boedel.
16.8 Sou dit nie
wees vir die oprig en die bestaan van die Trust nie, sou eiseres en
eerste verweerder die bates van die Trust in
hul eie naam bekom het.
16.9 Altematiewelik
tot voorgaande het die eerste verweerder te alle relevante tye die
Trust beskou as sy alter ego en ter verdere
uitbreiding hiervan het
die eerste verweerder totale beheer oor die Trust en dié se
bates geneem en is die Trust nie bestuur
of geadministreer ingevolge
die bepaling van die Wet op die Beheer oor Trustgoed, 57 van 1988
nie.
17
Eeskeidingsbevel:
17.1 Aangesien die
skikkingsooreenkoms ingelyf is by die egskeidingsbevel wat die
huwelik van die eiseres en die eerste verweerder
ontbind het en tot
die mate dat 'n bevel hierin verleen word, behoort die
egskeidingsbevel van eiseres en eerste verweerder dienooreenkomstig
gewysig te word.
17.2 Dit sal in die
beste belang van die minderjarige kind gebore uit die
huweliksverhouding tussen die eiseres en die eerste verweerder
wees
indien 'n bevel ten aansien van die mindeijarige kind verleen word
soos wat hieronder deur eiseres gevorder word.
Weshalwe, terwyl die
eiseres restitusie tender van die bates wat sy ontvang het uit hoofde
van die skikkingsooreenkoms van 22 Februarie
2012, aanhangsel A tot
die besonderhede van vordering, smeek die eiseres vir 'n bevel in die
volgende terme:
1.
Dat verklaar word dat die skikkingsooreenkoms tussen die eiseres en
die eerste verweerder gedateer 22 Februarie 2012, aanhangsel
A tot
die besonderhede van vordering, gevolglik gekanselleer is deur
eiseres op grond van wanvoorstelling en dat dit derhalwe hierby
bevestig word dat die ooreenkoms vemietig is
ab
initio.
2. Dat die
egskeidingsbevel, aanhangsel B tot die besonderhede van vordering,
hiermee gewysig word om die woorde: 'dat die skikkingsooreenkoms
tussen die partye ingehandig hierby 'n bevel van die hof gemaak
word', deurgehaal word en vervang word met die volgende:
(1 tot 5 gaan oor
die beheer en toesig van die minderjarige kind, onderhoud, sy mediese
behoefites, ens).
6. Dit word verklaar
dat die verweerderes, soos op datum van egskeiding, geregtig is op
die helfite van die gemeenskaplike boedel
van die partye.
7. Dit word verklaar
dat dit geag word dat die netto bates van die E[...] Familietrust, no
IT1366/02, soos op datum van egskeiding,
deel vorm van die
gemeenskaplike boedel tussen die partye.
8. Die trustees van
die gemelde Trust word gelas om 'n waardasie te maak van die bates en
laste van die Trust soos op datum van
egskeiding, en om 50% van die
netto bates van die Trust, in spesie en/of in geldwaarde, aan die
verweerderes uit te keer met inagneming
van die tydsverloop vanaf
datum van die egskeiding tot op datum van daadwerklike uitkering aan
die verweerderes.
9. Rente teen die
moratore rentekoers op die kapitaalbedrag wat bepaal word verskuldig
te wees aan die verweerderes vanaf datum
van egskeiding tot datum van
uitkering aan die verweerderes moet ingesluit word by die bedrag wat
deur die Trust aan die verweerderes
betaal moet word.
10. Ingeval die
partye, insluitende die gemelde trustees, nie binne een maand na
datum van die wysigingsbevel ooreenkom nie op die
verdeling van die
gemeenskaplike boedel (insluitende die bates of 'n bedrag geld wat
deur die Trust aan die verweerderes betaal
moet word), word die
President van die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies
versoek om 'n likwidateur te benoem om uitvoering
te gee aan die
verdelingsbevel.
11. Die likwidateur
sal die volgende bevoegdhede hê:
11.1 (Die
likwidateur sal geregtig wees op insae van dokumentasie van die eiser
en verweerderes ...)
11.2 (Die
likwidateur sal geregtig wees op alle dokumentasie van die Trust...)
11.3 (Die eiser en
die verweerderes asook die trustee sal geregtig wees om voorleggings
aan die likwidateur te maak...)
11.4 (Die
likwidateur kan bepaal welke bates aan welke party toegeken moet word
met inagneming van die voorkeure van die partye
...)
11.5 (Die
likwidateur kan 'n finale bedrag bepaal, met inagneming van die
waarde van spesifieke bates wat aan die onderskeie partye
toegeken
is, wat deur die Trust of deur enige van die partye aan 'n ander
betaal moet word ten einde 'n gelykop verdeling van die
gemeenskaplike boedel soos op datum van egskeiding te bewerkstellig
...)
11.6 Die likwidateur
kan verg van enige van die partye om enige spesifieke bate in daardie
party se besit aan enige van die ander
partye te oorhandig vir die
doeleinde om die gelyke verdeling van die gemeenskaplike boedel soos
voormeld te bewerkstellig.
11.7 Die koste van
die likwidateur sal uit die bates van die gemeenskaplike boedel
betaal word.
6. Koste van die
geding, betaal te word deur die eerste verweerder."
Die eksepsie
[17] 'n Eerste grond
van eksepsie is laat vaar, en ek laat my nie verder daaroor uit nie.
[18] Die tweede
grond van eksepsie lees soos volg:
"The second
ground of the exception:
5. The voidness
alternatively the cancellation of the settlement agreement on the
basis of the alleged misrepresentation on which
the plaintiff relies
does not have the legal consequence that the former joint estate of
the parties is resurrected.
6. In law, the
former joint estate of the parties has, as a result of the divorce
order and the subsequent transfer of ownership
of the various assets
and liabilities thereof, been irretrievably dissolved.
7.
The plaintiff does not, and cannot lawfully claim
restitutio
in integrum,
as
-
(a) the community of
property between the parties was irretrievably terminated by the
divorce order; and
(b) the transfer of
ownership of the assets concerned has been finalised and is not
dependent on the existence of a valid and enforceable
obligatory
agreement.
8. In the premises,
there is no legal basis for the plaintiffs claim that the division of
the joint estate must now be effected.
9.
In the premises further, there is no legal basis for the plaintiffs
claim that the assets and liabilities of the E[...] Family
Trust,
'
are/were'
the
assets of the parties and that it should form part of the joint
estate that should now be divided."
Kort oorsig van
die onderskeie argumente wat voorgedra is
[19]
In hulle betoogshoofde, opgestel deur mnr Wagener SC, steun die
verweerders, as ek dit reg verstaan, onder andere op die beginsel
dat, as beide partye ten voile presteer het teenoor mekaar in terme
van 'n ongeldige ooreenkoms, kan die een party nie sy prestasie
terugvorder van die ander nie bloot op die basis dat die ooreenkoms
ongeldig was nie: as die partye presteer en ontvang het presies
dit
waaroor hulle ooreengekom het, behoort die een nie bv toegelaat te
word om sy verpligtinge te ontduik, en sodoende 'n swak
besigheidstransaksie te vermy, bloot omdat die onderliggende
ooreenkoms ongeldig was nie. Die reel kan toepassing vind, ten spyte
van die nie-bestaan van die onderliggende ooreenkoms, as die
bedoeling van die partye bereik is deur die wedersydse prestasie.
Hierdie reel kan nie toegepas word waar die doel van die transaksie
regtens verbode was nie, sien
Legator
McKenna Inc and another
v
Shea and others
2010
1 SA 35
(HHA) paragrawe [26], [28] en [29].
Ek
kan nie sien dat hierdie beginsel toepassing kan vind in 'n geval
waar die een party hom beroep daarop dat hy die transaksie
aangegaan
het op sterkte van 'n bedrieglike wanvoorstelling van die teenparty
nie. Dit is geykte reg dat 'n party geregtig is om
'n kontrak te
kanselleer wat hy aangegaan het omdat hy mislei is om dit te doen
vanweë 'n bedrieglike wanvoorstelling - sien
Christie's
The
Law of Contract in South Africa
6de
uitgawe p281.
Ek het ook nie die
indruk gekry dat mnr Swart op hierdie argument gesteun het nie.
Hierdie argument is
ook een van die pilare waarop die eksepsie gefundeer is - sien bv
paragraaf 7(b) van die eksepsie soos ek dit
aangehaal het.
[20] Dieselfde
argument word eintlik verder ontwikkel met nog 'n argument in die
eksepsie (sien bv paragraaf 5 daarvan) naamlik
dat die nietigheid
altematiewelik die kansellasie van die skikkingsooreenkoms op die
basis van die beweerde wanvoorstelling nie
die regsgevolg kan hê
dat die voormalige gesamentlike boedel herleef nie.
Ek
meen die verweerders is korrek wanneer hulle in hulle betoogshoofde
aandui dat die gemeenskap van goed tot 'n einde kom wanneer
die
egskeiding toegestaan word. Hulle verwys na
Hay
v
Hay
1910
NPD 90
op 91. Hulle voer dan aan, tereg, dat dit daama oorgelaat word
aan die partye om die bates en laste van die gemeenskaplike boedel
te
verdeel. As hulle dit nie regkry nie dan word 'n likwidateur
aangestel om dit te doen.
[21] Ek kry nie die
indruk dat die eiseres die voormalige gemeenskaplike boedel wil laat
"herleef' nie. Die knoop lê
by die verdeling. Sy wil dit
anders laat verdeel as die basis waarop sy ooreengekom het vanweë
die beweerde bedrieglike wanvoorstelling.
Sy wil 'n groter hap hê
uit, wat sy beweer, 'n groter koek is.
Ek meen dus nie dat
daar meriete in hierdie verdere argument is nie.
[22] Wat die eiseres
se saak aanbetref dat sy vra vir die nodige regshulp om die Trust se
bates in te sluit by die gemeenskaplike
boedel vir doeleindes van die
verdeling, lyk dit nie asof daar 'n aparte argument in die eksepsie
voorgedra word nie (sien paragraaf
9). Dit lyk asof die posisie van
die Trust bloot oor dieselfde boeg gegooi word as die ander betoë.
Ek laat my dus nie verder
daaroor uit vir doeleindes van die
oorweging van die eksepsie nie.
[23] Wat oorbly,
soos ek die eksepsie verstaan, is die argument dat die boedel
onherroeplik ("irretrievably") verdeel
is as gevolg van die
egskeidingsbevel en die daaropvolgende oordrag van die onderskeie
bates met die gevolg dat dit nie op die
weg lê van die eiseres
om nou aanspraak te maak op restitusie nie - sien paragrawe 6 en 7(b)
van die eksepsie.
Op hierdie argument
het mnr Swart ook gekonsentreer:
In die eerste plek
het hy aangevoer dat die pleitstuk gebrekkig is omdat die eiseres ook
moes gepleit het dat die eerste verweerder
ook dit wat hy ontvang het
uit die skikkingsooreenkoms moet teruggee, benewens haar eie tender
om wat sy ontvang het
terug te lewer. Dit
moet gepleit word dat die eerste eiser ook sy aandeel wat hy ontvang
het moet teruggee sodat hy daarop kan reageer.
Ek
kon nie gesag vind vir die argument, as ek dit reg verstaan, dat 'n
party wat restitusie eis, ook uitdruklik moet pleit dat die
ander
party, op sy beurt, ook moet teruglewer nie. Mnr Swart het my ook nie
na sodanige gesag verwys nie. In
Amler's
Precedents of Pleadings
deur
Harms, op 116 word die volgende gesê:
"Restitution:
A party need not
tender restitution when claiming for cancellation (with or without
damages). However, a party claiming restitution
when the contract has
been cancelled is obliged to tender restitution or provide a valid
excuse for the failure to tender."
(Sien die gesag wat
aangehaal word.)
In
Christie, op cit,
word
die volgende gesê op 301:
"By
rescinding the innocent party is seeking to set aside the contract
and return to the
status
quo ante.
If
there has been no performance on either side nothing further needs to
be done, but an innocent party who has already paid money
or
delivered goods under the contract will wish to claim their return.
This he is entitled to do, but in claiming restitution he
must also
make or tender to make restitution of whatever he has received."
Daar
is geen aanduiding dat hy ook moet aandring daarop dat die ander
party moet teruggee nie. Myns insiens spreek dit vanself want
die
onderliggende idee van restitusie is dat daar teruggekeer moet word
na die
status quo
ante
wat
beteken dat beide partye moet teruglewer.
Hierdie eerste
argument van mnr Swart is ook nie gepleit as deel van die eksepsie
nie.
Gevolglik, en vir
die redes wat ek genoem het, kan ek nie saamstem met die betoog dat
die pleitstuk vir hierdie rede gebrekkig is
en vatbaar vir 'n
eksepsie nie.
[24] Die tweede
argument wat mnr Swart voorgedra het, wat ook nie gepleit is as deel
van die eksepsie nie, kom daarop neer, as ek
dit reg verstaan, dat as
die eiseres wil hê dat die boedel (of die "koek" soos
mnr Swart dit genoem het) hersaamgestel
moet word moet sy ook pleit
dat die laste in heroorweging moet kom. Die "koek" bestaan
nie net uit bates nie maar ook
uit laste.
Ek meen nie daar is
meriete in hierdie argument nie. Ek meen dit is geykte reg dat die
gemeenskaplike boedel bestaan uit bates en
laste wat alles in
oorweging moet kom by die verdeling. In elk geval, word daar bv
gepleit (in bede 11.2) dat die likwidateur geregtig
sal wees op alle
dokumentasie van die Trust met betrekking tot alle bates en laste van
die Trust ten einde die verdeling behoorlik
te laat geskied. Daar
word ook melding gemaak van die "netto bates" en die "bates
en laste" in bedes 7 en 8.
[25] Die derde
argument wat mnr Swart voorgedra het, wat inderdaad, minstens
gedeeltelik, gepleit is as deel van die eksepsie, slaan
op die
argument dat die verdeling reeds plaasgevind het en onherroeplik is
("irretrievable"). Daar is betoog dat dit
nie "regtens
moontlik" is om twee en 'n half jaar na die egskeiding
restitusie toe te pas en 'n nuwe verdeling teweeg
te bring nie. Van
die laste is dalk al uitgewis en waardes van die bates kon intussen
verander het. Van die bates bestaan dalk
nie meer nie. Dit kan wees
dat die eiseres nie meer die roerende bates wat sy ontvang het besit
nie. Daar is betoog dat die logiese
remedie 'n eis om skadevergoeding
is. Die likwidateur kan net verdeel en nie skade toeken nie.
In
hierdie verband het mnr Van der Merwe, in sy betoog, my onder andere
verwys na
Robson
v
Theron
1978
1 SA 841
(A) op 856D-857E. In
Robson
het
dit gegaan oor die verdeling van die bates van 'n vennootskap. Die
geleerde Appêlregter het egter ook verwys na die algemene
beginsels wanneer dit kom by die verdeling van die bates van
mede-eienaars. Dit het te doen met die
actio
communi dividundo
("verdelingsaksie
tussen mede-eienaars/action for the division of joint property"
- sien Hiemstra en Gonin
Drietalige
Regswoordeboek
2de
uitgawe pi62).
Op 857B-D word die
volgende gesê:
"It
is for purposes of this action immaterial whether the co-owners
possess the joint property jointly or neither of them possesses
it or
only one of them is in possession thereof. ... A court has a wide
equitable discretion in making a division of joint property.
This
wide equitable discretion is substantially identical to the similar
discretion which a court has in respect of the mode of
distribution
of partnership assets among partners as described by
Pothier."
[26] In hierdie
verband is daar namens die eiseres betoog dat die howe 'n praktiese
benadering volg. Die doel is om te verdeel soos
op datum van die
egskeiding. Dit kan jare vat vir die likwidateur om die verdeling af
te handel. Die partye kan in dispuut raak
oor die verdeling en soms
word van die bates selfs weggesteek. Die eiseres het 'n basiese reg
om 'n ooreenkoms te kanselleer wat
op grond van bedrog aangegaan is.
Vir doeleindes van die eksepsie, moet aanvaar word dat alles wat die
eiseres in haar stukke beweer
die waarheid is. Ek sal weer na hierdie
beginsel verwys. Daar is betoog dat dit alles gaan oor die
omstandighede. As die restitusie
bv plaasvind kort nadat die
verdeling geskied het, en wanneer al die bates nog in plek is, word
dit makliker afgehandel as wanneer
daar, soos dikwels die geval is,
deur een van die partye gepleit word dat van die bates verlore gegaan
het of beswaar is ens. Dit
beteken nie dat die verdeling onherroeplik
of "irretrievable" is nie. 'nPraktiese benadering moet
gevolg word en die
likwidateur (of die hof) moet poog om te doen wat
in die omstandighede die billikste is.
[27]
Namens die eiseres is ek ook verwys na
Feinstein
v
Niggli and another
1981
2 SA 684
(A) waar dit ook gegaan het oor
restitutio
in integrum
wat
gevolg het op 'n bedrieglike wanvoorstelling. Op 700F-701A word die
volgende gesê:
"Feinstein
alleged and contended that the respondents were unable to comply with
the rule of
restitutio
in integrum
and
that, in consequence, they were precluded from rescinding the
contract.
The object of the
rule is that the parties ought to be restored to the respective
positions they were in at the time they contracted.
It is founded on
equitable considerations. Hence, generally a court will not set aside
a contract and grant consequential relief
for fraudulent
misrepresentation unless the representee is able and willing to
restore completely everything that he has received
under the
contract. The reason is that otherwise, although the representor has
been
fraudulent,
the representee would nevertheless be unjustly enriched by recovering
what he had parted with
and
keeping
or not restoring what he had in turn received, and the representor
would correspondingly be unjustly impoverished to the
latter extent
... (hier word na verskeie sake verwys) but since the rule is founded
on equity it has been departed from in a number
of varying
circumstances where considerations of equity and justice have
necessitated such departure..."
In
Feinstein
verwys
die geleerde Appêlregter ook na
Van
Heerden
v
Sentrale Kunsmis
Korporasie Bpk
1973
1 SA 17
(A) waar dit ook gegaan het oor
restitutio
in integrum
en
op 31H haal die geleerde Appêlregter met goedkeuring aan uit
die uitspraak in
Harper
v
Webster
1956
2 SA 495
(FC) (Federal Supreme Court, Salsbury) waar die geleerde
Appêlregter Clayden op 502 die volgende sê:
"The
legal position in this case therefore appears to me to be as follows.
That as the plaintiff is seeking restitution of
what he has been
induced to give by fraudulent misrepresentation the general rule
applicable is that he must restore what he has
got. This is based on
an equitable principle similar to that adopted in the English and
Scottish Courts. The South African Courts,
where justice requires it,
have excused the purchaser from the need to make restitution, either
wholly or partially, in a number
of varying circumstances. With the
underlying principle that it is unjust for a man to retain a benefit
he has obtained by his
misrepresentation, and that applies
particularly when he has been fraudulent, there seems to be good
reason, provided that justice
is done also to him, to apply the
principle in a broad way. The general rule that the person seeking
restitution must himself make
restitution always governs, but relief
should not be denied when substantially that restitution can be made
and, in so far as it
falls short of complete restitution,
compensation in money can make good the deficiency. That is the
manner in which justice was
done in the
actio
redhibitoria
..."
[28] Mnr Van der
Merwe het ook beklemtoon, soos ek voorheen aangedui het, dat die
eiseres nie vra dat die gemeenskaplike boedel
moet herleef nie. Dit
het te doen met 'n billike verdeling. Ek is verwys na bedes 6 en 10
van die besonderhede van vordering. Tereg,
is ek ook herinner aan die
beginsel van toepassing by die beoordeling van 'n eksepsie dat die
eksipiënt moet bewys dat die
pleitstuk mank gaan op enige
moontlike vertolking daarvan. Hiema sal ek weer verwys.
[29] Daar is ook
betoog dat die argument dat daar net ruimte is vir 'n eis om
skadevergoedig nie gehandhaaf kan word nie. In hierdie
geval mag die
verdeling meer prakties wees in die sin dat bates oorgedra kan word
aan die eiseres en dat so 'n oordrag nie val
binne die kader van
skadevergoeding nie. Die voorbeeld is genoem dat die eiendom van die
Trust waarop die gastehuis geleë
is, moontlik deur die
likwidateur toegeken kan word aan die eiseres.
[30]
Ek is ook, miskien net terloops, daarop gewys dat dit regtens erken
word dat ook skikkingsooreenkomste tersyde gestel kan word
op grond
van bedrog - sien
Blou
Bui Boorkontrakteurs v McLachlan
1991
4 SA 283
(TPA) op 286D-G.
[31]
Laastens, wat die eis vir inlywing van die trustbates as deel van die
gemeenskaplike boedel betref, het ek reeds aangedui dat
daar, myns
insiens, nie 'n aparte argument hieroor gepleit is vir doeleindes van
die eksepsie nie. Nietemin het mnr Van der Merwe
betoog dat minstens
die altematiewe bewering dat die eerste verweerder te alle tye die
Trust as 'n verlengstuk van sy boedel beskou
het, en as sodanig
hanteer het, genoegsaam is om die afsonderlikheid van die trustbates
te ignoreer. In hierdie verband het hy
my verwys na
Land
and Agricultural Bank of South Africa
v
Parker and others
2005
2 SA 77
(HHA) waar die volgende gesê word op 91B-D:
"It may be
necessary to go further and extend well-established principles to
trusts by holding in a suitable case that the
trustees' conduct
invites the inference that the trust form was a mere cover for the
conduct of business 'as before', and that
the assets allegedly
vesting in trustees in fact belong to one or more of the trustees and
so may be used in satisfaction of debts
to the repayment of which the
trustees purported to bind the trust. Where trustees of a family
trust, including the founder, act
in breach of the duties imposed by
the trust deed, and purport on their sole authority to enter into
contracts binding the trust,
that may provide evidence that the trust
form is a veneer that in justice should be pierced in the interests
of creditors."
Onder die
omstandighede sien ek geen meriete in die argument (as daar een
gepleit is) dat hierdie deel van die eis vatbaar is vir
'n eksepsie
nie.
[32]
Ten slotte is dit gerieflik om weer te kyk na die geykte beginsels
wanneer dit kom by die beoordeling van 'n eksepsie. Daar
is 'n
handige uiteensetting in Erasmus
Suprerior
Court Practice
Bl-151
en verder. Ek haal net tersaaklike dele aan en noem ook nie al die
gewysdes wat in die voetnotas verskyn nie:
"General.
An
exception is a legal objection to the opponent's pleading. It
complains of a defect inherent in the pleading: admitting for the
moment that all the allegations in a summons or plea are true, it
asserts that even with such admission the pleading does not disclose
either a cause of action or defence, as the case may be. It follows
that where an exception is taken, the court must look at the
pleading
excepted to as it stands:... In order to succeed an excipient has the
duty to persuade the court that upon every interpretation
which the
pleading in question, and in particular the document on which it is
based, can reasonably bear, no cause of action or
defence is
disclosed, failing this, the exception ought not to be upheld ... An
excipient is obliged to confine his complaint to
the stated grounds
of his exception. In so far as there can be an
onus
on
either party on a pure question of law it rests upon the excipient
who alleges that a summons discloses no cause of action or
that a
plea discloses no defence; the excipient has the duty to persuade the
court that the pleading is excipiable on every interpretation
that
can reasonably be attached to it. The pleading must be looked at as a
whole. Where there is uncertainty in regard to a pleader's
intention,
an excipient cannot avail himself or herself thereof unless he or she
shows that upon any construction of the pleadings
the claim is
excipiable."
Gevolgtrekking
[33] Vir al die
redes wat ek genoem het is ek van mening dat die eksepsie nie kan
slaag nie.
Koste
[34] Die eiseres het
gevra dat die eerste verweerder die koste moet betaal. Dit kom voor
asof dit die gepaste bevel sal wees. Ek
sien geen ruimte daarvoor om
die ander verweerders, of trustees in hulle verteenwoordigende
hoedanigheid, te belas met 'n kostebevel
nie. Die koste behoort ook
die koste van 'n senior advokaat in te sluit.
Die bevel
[35] Ek maak die
volgende bevel:
1. Die eksepsie word
van die hand gewys.
2. Die eerste
verweerder word gelas om die koste te betaal, wat die koste van 'n
senior advokaat sal insluit, asook die koste van
twee advokate in
soverre die eiseres gebruik gemaak het van die dienste van twee
advokate. Dit word genotuleer dat die tweede advokaat,
mnr Haskins
SC, nie deelgeneem het aan die verhoor as sodanig nie.
W
R C PRINSLOO
REGTER
VAN DIE GAUTENG AFDELING. PRETORIA
42949-2013
GEHOOR OP: 14
OKTOBER 2014
VIR DIE EISERES: J L
VAN DER MERWE SC, BY TYE BYGESTAAN DEUR
M L HASKINS SC
IN OPDRAG VAN:
COXWELL STEYN VISE & NAUDE
VIR DIE VERWEERDERS:
B H SWART SC
IN OPDRAG VAN: ELLIS
SWARTS ING