About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
>>
2015
>>
[2015] ZAGPPHC 147
|
|
Fick v Minister van Polisie (3504/2012) [2015] ZAGPPHC 147 (26 February 2015)
IN DIE HOë HOF VAN
SUID-AFRIKA
(GAUTENG
AFDELING, PRETORIA)
Saakno:
3504/2012
Not
reportable
Not of
interest to other judges
In die
saak tussen:
J C
FICK
.....................................................................................................................
Eiser
en
DIE MINISTER VAN
POLISIE
.....................................................................
Verweerder
UITSPRAAK
D S FOURIE, R:
[1]
Hierdie uitspraak word in Afrikaans gelewer
aangesien die hele verhoor in Afrikaans gevoer is. Die eiser,
‘n 61-jarige
boer van Bloemhof, vorder betaling in die bedrag
van R300 000.00 as algemene skadevergoeding nadat hy op 25
November 2011
deur beamptes in diens van die verweerder sonder ‘n
lasbrief gearresteer en vir ongeveer drie dae aangehou is.
[2]
Alhoewel die verweerskrif hoofsaaklik uit
‘n algemene ontkenning bestaan, word daar in die
voorverhoornotule erken dat die
eiser deur polisiebeamptes sonder ‘n
lasbrief gearresteer en aangehou is, maar die verweerder voer aan dat
die arrestasie
en aanhouding regmatig was. Daar word gesteun op
die bepalings van artikel 40(1)(b) en (e), saamgelees met artikel
50(1)(c)(ii)
en (d)(i) van die Strafproseswet, No 51 van 1977 (par 11
van die voorverhoornotule).
[3]
Dit is gemene saak dat die arrestasie op
Vrydagoggend 25 November 2011 sonder ‘n lasbrief uitgevoer
is deur polisiebeamptes
wat opgetree het in die loop van hulle
diensbestek en in die uitvoering van hul pligte. Die eiser is
aanvanklik by die Bloemhof
polisiestasie aangehou, maar hy is later
na die Hoopstad polisieselle oorgeplaas vir verdere aanhouding tot
Maandagoggend, 28 November
2011.
[4]
Hy het toe in die Landdroshof verskyn
waarna hy op borg vrygelaat is. Die saak teen hom is op 14
Desember 2011 teruggetrek.
Tydens die eiser se arrestasie is
daar op verskeie items beslag gelê welke items later aan die
eiser se seun of die eienaars
daarvan terugbesorg is. Die
kwantum van die eis is later in die bedrag van R95 000.00
ooreengekom.
[5]
Die kerngeskilpunt is die vraag of die
arrestasie en aanhouding regmatig was. Dit sluit in die
redelikheid van die arresterende
beamptes se diskresie om te
arresteer asook sy gevolgtrekking dat daar voldoende getuienis en/of
bewys bestaan het om die arrestasie
te regverdig. In die lig
van die verweerder se erkennings en die feite wat gemeensaak is, het
die partye ooreengekom dat
die beginlas op die verweerder rus.
GETUIENIS VIR DIE VERWEERDER
DU TOIT
[6]
Mnr Du Toit is ‘n boer in die
omgewing van Bloemhof. Hy het getuig dat op 21 November 2011
het hy opgemerk dat daar
by die huis op sy plaas ingebreek was.
Langs die huis was daar ‘n dubbel-as-sleepwaentjie geparkeer.
Hy sien toe dat
die wiele van die sleepwaentjie verwyder is en dat
dit op klippe staan. Hy het toe die voorval by die polisie
gerapporteer.
[7]
Gedurende die vroeë oggendure van 25
November 2011 is hy deur sy buurman gekontak. Toe hy op die
plaas kom vind hy voertuigspore
in die omgewing van die huis.
Hy sien ook dat sy ou bakkiespomp nie meer daar is nie. Volgens
hom was die grond nat
en kon hy die voertuigspore volg. Dit het
hom gelei tot by die eiser se plot. Daar het hy omgedraai en by
die polisiestasie
op Bloemhof gaan rapporteer wat hy gesien het.
Later die oggend is hy, vergesel van sekere polisiebeamptes, terug na
die
eiser se plot. Daar het hulle die eiser aangetref.
[8]
Die polisiebeamptes het toe vir die eiser
gevra of hulle sy plot kan deursoek waarna hy ingestem het.
Daar is verskeie items
gevind wat onder ‘n seil toegemaak was.
Dit was onder andere elektriese motors, kabels wat afgeknip was en
wiele.
Die getuie het drie van die wiele as sy eiendom
geïdentifiseer. Dit was swart geverf en die een wiel se
band is kort
tevore vervang. Hy het die uitkenning in die
teenwoordigheid van die polisiebeamptes gedoen waarna die
polisie op sekere
van hierdie items beslag gelê het.
[9]
Volgens dié getuie het die polisie
in sy teenwoordigheid vir die eiser gevra om ‘n verduideliking
te gee. Hy
sê toe die wiele behoort aan sy seun en dat hy
daarvan kennis dra. Die seun was egter nie teenwoordig nie en
hulle
kon hom ook nie telefonies kontak nie. Die polisie het
toe op die items beslag gelê en die eiser gevra om hulle na die
polisiestasie te vergesel.
[10]
In kruisverhoor is hy na een van sy
polisieverklarings verwys waarin hy melding maak van slegs een wiel
waarvan die velling swart
geverf was. Hy verduidelik dat hy
bedoel het om na net een van die wiele te verwys. Hy het ook
genoem dat alhoewel
hy saam met die polisie op die eiser se plot was,
hy nie heeltyd in die teenwoordigheid van die eiser of die polisie
was nie.
Hy het bevestig dat die eiser aan die polisie gesê
het dat hy nie kennis van die wiele dra nie, maar dat sy seun daarvan
weet.
RAMAKETSI
[11]
Hierdie getuie is ‘n
adjudant-offisier in die Suid Afrikaanse Polisie wat as ‘n
speurder te Bloemhof gestasioneer is.
Hy was die
ondersoekbeampte in hierdie saak. Op 25 November 2011 het
mnr Du Toit by die polisiestasie opgedaag en gesê
hy vermoed
dat van sy eiendom op die plot van die eiser is. Hy en
drie of vier ander polisiebeamptes is toe saam met
mnr Du Toit
na die eiser se plot toe. Aanvanklik het dit gelyk of die eiser
nie tuis was nie, maar hy het later te voet
daar opgedaag.
[12]
Die getuie het homself voorgestel en die
doel van sy besoek verduidelik. Nadat hy toestemming gekry het
om die plek te deursoek
gaan hy na ‘n stoorplek waar hy sekere
goedere onder ‘n seil aantref. Daar was onder andere ‘n
waterpomp,
masjiene, kabels, ‘n boor en wiele. Mnr Du
Toit het drie van die wiele uitgewys en beweer dit is gesteel.
Hy het een daarvan as sy eiendom uitgeken.
[13]
Die getuie het toe vir die eiser gevra om
‘n verduideliking te gee. Die eiser het gesê dat sy
seun die wiele daar
aangebring het en dat hy dit by ‘n vreemde
persoon gekry het. Hy kon nie sê wie daardie persoon was
nie.
Die eiser se seun was ook nie daar nie. Die eiser
het toe probeer om sy seun op ‘n selfoon te kontak, maar dit
was
sonder sukses. Die eiser het verder gesê dat
onbekende persone wat delwers is, die ander goed daar aangebring het.
[14]
Toe hulle die eiser vra waarom stoor hy
goed van onbekende persone, sê hy hulle is van Lichtenburg.
Hy probeer hulle
toe skakel, maar volgens die getuie het dit hulle
verbaas dat hy gepoog het om die onbekende persone te kontak.
Volgens die
getuie het hulle vermoed dat die goedere gesteel is en
was hulle nie tevrede met die eiser se verduideliking nie. Hy
is toe
gearresteer vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere
nadat sy regte aan hom verduidelik is. Daar is ook op die
goedere
beslag gelê.
[15]
Vandaar is hulle na die speurtak toe.
Daar het die eiser probeer om met sy seun asook die mense wat hy
beweer het die eienaar
van die goedere is, in verbinding te tree.
Hy het verduidelik dat die wiele aan hom gegee is, maar het nie die
besonderhede
van daardie persoon gehad nie.
[16]
By die polisiestasie is daar weer gepoog om
‘n sekere persoon te skakel wat na bewering die eienaar van die
goedere was.
Die eiser het sy selfoon gebruik waarna hy dit aan
adjudant-offisier Swart oorhandig het. Adjudant-offisier Swart
het toe
aanvanklik met hierdie persoon in Engels gepraat, waarna die
ander persoon toe oorgeslaan het na Tswana. Die getuie het toe
verder met hierdie persoon gepraat en aan hom verduidelik wie hy is
asook wat die rede vir die oproep was. Die persoon het gesê
hy
is in Witbank en toe die gesprek kort gesny deur af te lui. Die
eiser het beweer dit is een van die persone wat die goedere
daar by
hom gestoor het.
[17]
Hulle was weer eens nie met die eiser se
verduideliking tevrede nie, aangesien die persoon wat na bewering die
eienaar van die goedere
is nie opgedaag het nie en verder ook nie oor
die foon wou praat nie. Hy het toe ‘n
waarskuwingsverklaring van die
eiser geneem en daar is besluit om hom
verder aan te hou tot die Maandag wanneer hy voor die Hof sou
verskyn. Volgens die
getuie het die eiser nie ‘n redelike
verduideliking vir die besit van die goedere gegee nie en daar was
geen rede om mnr
Du Toit se uitkenning nie te glo nie. Die
getuie het ook genoem dat die eiser self nie ‘n delwer is nie.
[18]
In kruisverhoor het die getuie bevestig dat
die eiser nooit daarop aanspraak gemaak het dat die goedere sy
eiendom is nie.
Wat die seun se latere verduideliking betref
het hy gesê dat dit nie vir hom sin gemaak het nie. Hy is
gevra of hy
van ‘n sekere Piet Jacobs gehoor het waarop hy
geantwoord het dat hy dié naam eers op Maandag 28 November
2011 gehoor
het. Hy is toe weer oor die drie wiele uitgevra
waarop hy gesê het dat mnr Du Toit na drie wiele verwys het
waarna
hy toe een daarvan duidelik as sy eiendom kon uitken.
[19]
Volgens die getuie het werknemers van mnr
Du Toit ook die een wiel as sy eiendom uitgewys, maar was onseker oor
die ander twee wiele.
Hy het weer genoem dat die eiser nie in
staat was om hom in verbinding te stel met die persone wat hy beweer
het die eienaar van
die goedere was nie, maar het toegegee dat hy wel
die name van ene Brown en Thabo genoem het. Hy het ook gesê
dat mnr
Du Toit vroeër vir hom van die voertuigspore vertel het,
maar toe hulle daar aangekom het was dit nie meer sigbaar nie.
MAROMU
[20]
Hierdie getuie is ‘n
adjudant-offisier in die Suid Afrikaanse Polisie en gestasioneer te
Bloemhof. Hy was nie betrokke
by die eiser se arrestasie nie.
Hy het verwys na ‘n verklaring rakende ‘n onderhoud met
‘n verdagte (p 51
van die bundel) wat op die eiser
betrekking het. Volgens hom het hy ‘n verduideliking van
die eiser gevra, maar die
eiser het verkies om sy verduideliking in
die Hof te gee. Die eiser het daarna wel op die Maandag in die
Hof verskyn.
SWART
[21]
Adjudant-offisier Swart is ‘n
speurder gestasioneer te Bloemhof. Hy was deel van die groep
wat op die Vrydag die eiser
se plot besoek het. Nadat die eiser
toestemming gegee het is die perseel deursoek. In ‘n
stoor het hulle goedere
gevind wat onder ‘n seil en strooisakke
toegemaak was.
[22]
Mnr Du Toit het toe drie wiele uitgewys wat
soortgelyk was aan die wiele wat by hom gesteel is. Een daarvan
wat swart geverf
was kon hy as sy eiendom uitken. Daar was ook
elektriese pompe en kabels. Die getuie het vermoed dat dit
gesteel kon
wees, aangesien van die pompe se kabels kort by die pompe
afgeknip was. Volgens hom ontvang hulle verskeie klagtes van
boere
en delwers wat beweer dat hulle pompe en kabels gesteel word.
[23]
Die eiser het toe probeer om sy seun met ‘n
selfoon te kontak, maar hy kon hom nie in die hande kry nie.
Volgens die
getuie is die eiser ‘n boer, maar het self nooit
gedelf nie. Hy beweer dat die eiser nie in staat was om ‘n
redelike
verduideliking vir die besit van die goedere te gee nie.
Nadat hulle weg is van die eiser se plot het die getuie oor die
telefoon gepraat met ‘n persoon wat na bewering die eienaar van
die toerusting was. Hulle het in Engels gepraat en toe
die
getuie sê dat hulle op die toerusting beslag gelê het,
het die ander persoon na ‘n vreemde taal oorgeslaan.
Die
getuie het toe die telefoon aan adjudant-offisier Ramaketsi
oorhandig.
[24]
Daarna is die getuie en die eiser na die
getuie se kantoor toe. Daar het hy twee telefoonnommers
afgeskryf. Hy skakel
toe die nommers maar kry geen antwoord
nie. Die getuie het toe weer probeer, maar steeds geen antwoord
gekry nie. Behalwe
vir die naam “Boeta” wat ‘n
verwysing na die eiser se seun is, is geen ander name genoem nie.
[25]
In kruisverhoor is die getuie gevra wat so
onredelik aan die eiser se verduideliking was. Hy het
geantwoord dat hy kon geen
stawing vir die eiser se verduideliking
kry nie. Hy kon ook nie oor die myntoerusting met die betrokke
persone kontak maak
nie. Verder, volgens hom het mnr Du Toit
die een swart wiel positief as sy eiendom geïdentifiseer.
Hy het ook
gesê dat die polisie dan moet optree, aangesien die
goedere verskuif kan word. Hy het bygevoeg dat hy die eiser
reeds
vanaf 1990 “amptelik en nie-amptelik” ken.
[26]
Tydens herverhoor het die getuie bygevoeg
dat daar redelike gronde bestaan het om te vermoed dat die goedere
vinnig gedurende die
nag verwyder is, want “die draad is sommer
so amper teenaan die motor afgeknip”. Op ‘n vraag
van die Hof
wat dit beteken dat hy die eiser “amptelik en
nie-amptelik” geken het, het die getuie gesê dat die
eiser al voorheen
aan veediefstal skuldig bevind is.
GETUIENIS VIR DIE EISER
EISER
[27]
Die eiser het getuig dat hy tans 61 jaar
oud is. Hy is op 25 November 2011 op sy plot gearresteer.
Hy was daardie
oggend besig om lyndrade op sy plot te herstel.
Toe hy voertuie op sy plot sien het hy nader gestap. Hy vind
toe mnr
Du Toit en drie polisiebeamptes binne-in sy een stoor.
Adjudant-offisier Swart was besig om van die huis se kant af nader
te
kom. Adjudant-offisier Swart sê toe daar is skroot by mnr
Du Toit gesteel en stap toe na die stoor toe.
[28]
Volgens die getuie het adjudant-offisier
Ramaketsi gesê hulle is op soek na gesteelde goed. Hy het
toe gesê dat
hy niks daarvan weet nie. Adjudant-offisier
Ramaketsi het toe gevra of hulle die perseel kon deursoek waarna hy
ingestem
het. Hulle is toe weer by die een stoor in waar hy
gevra was wie se eiendom daar lê. Dit is die goed wat
onder
‘n seil toegemaak was sodat die lusern se blare nie daar
kon ingaan nie. Die getuie het toe verduidelik dat die goed
aan
‘n delwery behoort en dat hulle oor drie weke daar sou kom
delf. Daar is ook na pype onder ‘n boom verwys
wat deur
hierdie delwers daar neergesit is.
[29]
Volgens die getuie het hy adjudant-offisier
Ramaketsi meegedeel dat hy oor drie telefoonnommers beskik wat hy kon
skakel.
Hy sê toe nee, dit lyk vir hom die goed is
gesteel. Die getuie het toe die drie telefoonnommers gaan haal
en dit tot
adjudant-offisier Ramaketsi se beskikking gestel.
Volgens hom het die adjudant-offisier nie daarin belang gestel om die
nommers
te skakel nie.
[30]
Hy het gehoor dat mnr Du Toit na wiele
verwys het. Volgens hom het hy toe verduidelik dat sy seun dié
wiele saam met
‘n voertuigwrak vir R2 000.00 by Piet
Jacobs gekoop het en dat hy hom gehelp het om die wrak met wiele na
die plot toe
te bring. Daar was vier wiele, maar een daarvan is
geleen aan ‘n man by ‘n veepos wat ‘n pap wiel
gekry
het. Mnr Du Toit het toe gesê dat dit vir hom lyk
of die een wiel sy eiendom is. Die goedere is toe deur die
polisie in beslag geneem. Hy het toe sy seun geskakel en gesê
die polisie is daar. Volgens hom was al die wiele
silwer, nie
een was swart nie. Hy is toe daar gearresteer waarna hy saam
met die polisie Bloemhof toe is.
[31]
By die speurtak het hy die telefoonnommer
van ‘n sekere Thabo aan adjudant-offisier Swart gegee. Hy
het toe die nommer
geskakel en daarna die telefoon aan
adjudant-offisier Ramaketsi oorhandig. Volgens hom het dit toe
gelyk of die telefoon
“uitgesny het”.
Adjudant-offisier Swart het toe telefonies met sy seun gepraat en hom
versoek om daarheen te
kom. Nadat sy seun daar was het hy weer
gery. Daar is nie met sy seun oor die wiele gepraat nie.
[32]
Volgens die eiser het hy ook in die kantoor
melding gemaak van Thabo asook ‘n sekere Brown wie se
telefoonnommers hy aan adjudant-offisier
Ramaketsi gegee het.
Volgens hom sou Brown bevestig het dat die myntoerusting aan hom
behoort. Adjudant-offisier Ramaketsi
het toe gesê hy kan
self skakel aangesien hulle nou haastig is. Hy is toe daarna
geboei en in die selle aangehou.
Later die Maandag het hy in
die Hof verskyn waarna hy op borg vrygelaat is. Sy seun, Piet
Jacobs en sy swaer was toe ook
daar. Die drie wiele is later
aan sy seun teruggegee.
[33]
Hy het ook verduidelik dat ongeveer agt
jaar voor hierdie voorval was hy in ‘n veediefstalsaak
betrokke. ‘n Man
het hom gevra of hy twee beeste vir ‘n
rukkie by hom kon los. Later het die man hom versoek om die
beeste te verkoop
aangesien hy hulle nie kon vervoer nie. Hy
het toe ‘n spekulant gekontak om die beeste te verkoop.
[34]
In kruisverhoor het hy bevestig dat hy aan
veediefstal skuldig bevind is. Hy het ook bevestig dat mnr Du
Toit die een wiel
as sy eiendom uitgeken het. Hy het nie betwis
dat van die kabels afgeknip was nie. Hy het ook toegegee dat op
die stadium
toe hy gearresteer en opgesluit is, was daar nog nie
bevestiging gekry dat die myntoerusting aan Brown en Thabo behoort
nie.
FICK JUNIOR
[35]
Mnr Fick Junior is die eiser se seun.
Volgens hom was hy die oggend van 25 November 2011 dorp toe om
hondepille te gaan koop.
Die eiser het hom toe geskakel en gesê
dat die polisie die wiele en myntoerusting wil vat.
Adjudant-offisier Swart
het hom later geskakel en versoek om by die
speurtak aan te doen. Toe hy daar aankom is daar nie oor die
wiele gepraat nie
en hy is ook nie gevra om ‘n verklaring
daaroor af te lê nie.
[36]
Volgens dié getuie het die wiele van
‘n voertuig afgekom wat hy by ‘n sekere Jacobs gekoop
het. Daar was
vier wiele, maar een daarvan is vir ‘n
persoon by ‘n veepos geleen. Hy het verder getuig dat hy
self gehelp het
om die delftoerusting daar op die plot af te laai.
Daar is toe ook delwerspermitte aan hulle getoon. ‘n
Sekere
Thabo was die voorman. Hulle het ook pype daar
afgelaai. Die getuie het gedink die myntoerusting behoort aan
hulle.
Hy het geen rede gehad om te dink dat die goed gesteel
is nie.
[37]
In kruisverhoor het hy getuig dat al vier
wiele was silwer en dat nie een swart was nie. Hy het ook
verduidelik dat die myntoerusting
op die plot afgelaai is ongeveer 1½
maand voor die eiser gearresteer is. Hy het toegegee dat die
persone wat die myntoerusting
daar afgelaai het nie weer na die plot
teruggekeer het voor die eiser se arrestasie nie.
BESPREKING
[38]
Daar is namens die eiser betoog dat die
bewyslas op die verweerder rus om die regmatigheid van beide die
arrestasie en die aanhouding
op ‘n oorwig van waarskynlikhede
te bewys. Daar is verder aangevoer dat die verweerder nie
daarin geslaag het om hierdie
bewyslas te kwyt nie en dat die eiser
onregmatig gearresteer en aangehou is. Die betoog lui verder
dat, met inagneming van
die getuienis, die eiser se verduideliking
nie na behore opgevolg is nie en dat sy arrestasie op ‘n
arbitrêre wyse
uitgevoer is. Namens die verweerder is
aangevoer dat die verweerder wel daarin geslaag het om die bewyslas
te kwyt.
Die betoog lui verder dat, met inagneming van die
getuienis, die arresterende beamptes wel oor ‘n redelike
verdenking beskik
het en dat die een wiel wat deur mnr Du Toit
uitgewys is, gesteelde eiendom was.
[39]
Dit is gemene saak dat die eiser sonder ‘n
lasbrief gearresteer en aangehou is. Ek stem saam dat, in die
lig hiervan,
die bewyslas op die verweerder rus om die regmatigheid
van die arrestasie en aanhouding te bewys. Hierdie beginsel is
soos
volg in
Minister of Law and Order &
Others v Hurley & Another
1986 (3)
SA 568
(A) op 589E-F verduidelik:
"An
arrest
constitutes an interference
with the liberty of the individual concerned, and it therefore seems
to be fair and just to require
that the person who arrested or caused
the arrest of another person should bear the onus of proving that his
action was justified
in law.”
[40]
Die verweerder voer aan dat die arrestasie
en aanhouding regmatig was en steun in hierdie verband op die
bepalings van artikel 40(1)(b)
en (e) wat soos volg lees:
"(1)
‘n Vredesbeampte kan iemand sonder lasbrief in hegtenis neem –
...
(b)
wat hy redelikerwys verdink dat hy ‘n in Bylae 1 bedoelde
misdryf gepleeg het, behalwe die misdryf van ontsnapping uit
wettige
bewaring;
...
(e)
wat in besit gevind word van enigiets wat die vredesbeampte
redelikerwys vermoed gesteelde goed te wees of goed te wees wat
op
oneerlike wyse verkry is, en wat deur die vredesbeampte redelikerwys
verdink word ‘n misdryf ten opsigte daarvan te gepleeg
het; “
SUBARTIKEL (1)(b)
[41]
Die vereistes wat deur subartikel (1)(b)
vir ‘n regmatige arrestasie sonder ‘n lasbrief gestel
word, is die volgende:
die arrestasie moes deur ‘n
vredesbeampte uitgevoer word; die vredesbeampte moes ‘n
vermoede of verdenking gehad
het dat die verdagte persoon ‘n
Bylae 1 misdryf gepleeg het; en die vermoede of verdenking moet
op redelike gronde
berus (
Minister of
Safety and Security v Sekhoto
2011 (1)
SASV 315 (HHA) par 6).
[42]
Dit is nie in hierdie saak in geskil dat
die arrestasie deur ‘n vredesbeampte uitgevoer is nie.
Dit is wel in geskil
dat die polisiebeampte wat die arrestasie
uitgevoer het, ‘n redelike verdenking kon gehad het dat die
eiser ‘n Bylae
1 misdryf gepleeg het. In soverre dit
relevant is, verwys Bylae 1 na onder andere inbraak by of betreding
van ‘n perseel,
hetsy ingevolge die gemenereg of ‘n
statutêre bepaling, met die opset om ‘n misdryf te
pleeg; diefstal,
hetsy ingevolge die gemenereg of ‘n
statutêre bepaling; en ontvangs van gesteelde goed
wetende dat dit gesteel
is.
[43]
Volgens die getuienis van adjudant-offisier
Ramaketsi het hy die eiser gearresteer vir besit van vermoedelik
gesteelde goedere.
Hierdie verduideliking, soos ek dit
verstaan, strook nie heeltemal met die inhoud van subartikel (1)(b)
nie. Besit van vermoedelik
gesteelde goedere blyk ook nie
dieselfde te wees as die ontvangs van gesteelde goed wetende dat dit
gesteel is nie. Indien
adjudant-offisier Ramaketsi ‘n
Bylae 1 bedoelde misdryf in gedagte gehad het, soos byvoorbeeld
inbraak by of betreding van
‘n perseel of selfs diefstal, dan
sou ek verwag dat hy daarna moes verwys het, of dat dit duidelik uit
die feite en omringende
omstandighede afgelei kan word.
[44]
Dit word immers deur subartikel (1)(b)
vereis dat die vredesbeampte ‘n redelike verdenking moes gehad
het dat die verdagte
persoon ‘n Bylae 1 misdryf gepleeg het.
Die besit van vermoedelik gesteelde eiendom (in teenstelling met die
ontvangs daarvan
wetende dat dit gesteel is) blyk nie ‘n Bylae
1 misdryf te wees nie en daar kan ook nie uit die feite en omringende
omstandighede
afgelei word dat hy vermoed het die eiser ‘n
Bylae 1 misdryf gepleeg het nie. Ek is gevolglik nie oortuig
dat ‘n
beroep op hierdie subartikel die verweerder ten goede
strek nie.
SUBARTIKEL (1)(e)
[45]
Die verweerder steun verder ook op die
bepalings van subartikel (1)(e). Volgens die
bewoording van hierdie subartikel
blyk die vereistes die volgende te
wees: die arrestasie moes deur ‘n vredesbeampte uitgevoer
word; die verdagte
persoon moet in besit van die goedere gevind
word; die vredesbeampte moet redelikerwys vermoed dat die goed
gesteel is (of
dat dit goed is wat op ‘n oneerlike wyse verkry
is); en dat daar by die vredesbeampte ‘n redelike
verdenking
bestaan het dat die verdagte persoon ‘n misdryf ten
opsigte van daardie goed gepleeg het.
[46]
Dit blyk nie in geskil te wees dat die
goedere ter sprake wel deur polisiebeamptes in besit van die eiser
gevind is nie. Dit
is wel in geskil dat die polisiebeampte wat
die arrestasie uitgevoer het redelikerwys kon vermoed het dat die
goedere gesteel is
asook dat daar by gemelde polisiebeampte ‘n
redelike verdenking kon bestaan het dat die eiser ‘n misdryf
ten opsigte
van daardie goedere gepleeg het.
[47]
Die woorde “redelikerwys vermoed”
en “redelikerwys verdink” se eweknie in die Engelse teks
is “reasonably
suspects”. Die vraag of die vermoede
of verdenking redelik was, moet objektief beoordeel word.
Bosielo AR het
dit soos volg in
Minister
of Safety & Security v Swart
2012
(2) SASV 226 (HHA) op 232 (par 20) verwoord:
"It
is furthermore trite that the reasonableness of the suspicion of any
arresting officer acting under s 40(1)(b) must be
approached
objectively. The question is whether any reasonable person,
confronted with the same set of facts, would form
a suspicion that a
person has committed a sch 1 offence.”
Alhoewel hierdie
dictum
op
subartikel (1)(b) betrekking het, behoort die beginsel daarin
neergelê ewe goed op subartikel (1)(e) van toepassing te
wees.
[48]
Een van die verskille tussen die twee
subartikels het op die verwysing na ‘n “misdryf”
betrekking. In eersgenoemde
geval word na ‘n Bylae 1
bedoelde misdryf verwys, terwyl laasgenoemde geval klaarblyklik op
enige misdryf (gemeneregtelik
sowel as statutêr) betrekking het
wat ten opsigte van die vermoedelik gesteelde goed gepleeg is. (Sien
die woordomskrywing
van ‘n “misdryf” in artikel 1
van die Wet.)
[49]
Die eerste vraag wat dus oorweeg moet word
is of die polisiebeampte wat die arrestasie uitgevoer het
redelikerwys kon vermoed dat
die goedere ter sprake gesteelde goed
is. In hierdie verband bestaan daar die volgende feite wat nie
blyk in geskil te wees
nie: mnr Du Toit het gedurende die betrokke
oggend die hulp van die polisie ingeroep; hy het vir hulle van
die voertuigspore
wat tot by die eiser se plot gelei het, vertel;
op die eiser se plot is sekere myntoerusting, insluitende wiele,
onder ‘n
seil gevind; mnr Du Toit het ten minste een van
die wiele as sy eiendom uitgeken; sekere van die
myntoerusting
se kabels was naby aan die pompe afgeknip; en die
polisie ontvang verskeie klagtes van boere en delwers wat beweer dat
hulle pompe
en kabels gesteel word.
[50]
By ‘n objektiewe beoordeling van
hierdie feite is dit moeilik om nie tot die gevolgtrekking te kom dat
enige redelike persoon,
wanneer hy of sy daarmee gekonfronteer sou
word, ook sou gedink het dat die goedere vermoedelik gesteel is nie.
Wat besonder
van belang is, is mnr Du Toit se direkte uitwysing dat
ten minste een van die wiele sy eiendom is asook die feit dat sommige
van
die kabels naby aan die pompe afgeknip was. Dit kom
verdag voor en sou ‘n vermoede dat die goedere gesteel is,
versterk. Dit is duidelik dat adjudant-offisier Ramaketsi ook so
gedink het – vandaar sy verwysing na die besit van vermoedelik
“gesteelde goedere”.
[51]
Dit is egter nie die einde van die saak
nie. Die tweede vraag wat oorweeg moet word is of die
polisiebeampte wat die arrestasie
en aanhouding uitgevoer het ‘n
redelike verdenking kon gehad het dat die eiser ‘n misdryf ten
opsigte van gemelde goedere
gepleeg het. Daar kan kwalik enige
twyfel bestaan dat adjudant-offisier Ramaketsi se verwysing na die
eiser se “besit
van vermoedelik gesteelde goedere” bedoel
was om ‘n verwysing te wees na artikel 36 van die Algemene
Regswysigingswet,
No 62 van 1955. Dit lui soos volg:
"Iemand
wat in besit gevind word van ander goed as ‘vee’ of
‘produkte’ soos in artikel 1 van die Wet
op Veediefstal,
1959 (Wet No. 57 van 1959, omskrywe, ten opsigte waarvan daar
redelike verdenking bestaan dat dit gesteelde goed
is en wat nie in
staat is om voldoende rekenskap van sodanige besit te gee nie, is aan
‘n misdryf skuldig en by skuldigbevinding
strafbaar met die
straf wat by ‘n veroordeling weens diefstal opgelê kan
word.”
[52] Hierdie is ‘n statutêre
misdryf wat uit sekere elemente bestaan soos in die artikel omskryf.
Daar moet in
hierdie verband in gedagte gehou word dat daar nie van
‘n vredesbeampte verwag word om bo redelike twyfel oortuig te
wees
of te “bevind” dat die persoon aan hierdie misdryf
skuldig is nie. Al wat van hom verwag word is dat hy ‘n
redelike verdenking moes gehad het dat die persoon ‘n misdryf
ten opsigte van gemelde goedere gepleeg het.
[53] Adjudant-offisier Ramaketsi het
getuig dat hulle vir die eiser om ‘n verduideliking gevra het.
Sy verduideliking
het daarop neergekom dat die wiele deur sy seun
daar aangebring was en die myntoerusting deur onbekende delwers.
Hierdie
verduideliking moet nou opgeweeg en beoordeel word in die lig
van die feite wat nie in geskil is nie.
[54] Die goed was onder ‘n seil
gevind. Mnr Du Toit het ten minste een van die wiele as sy
eiendom uitgeken. Die polisiebeamptes
kon nie met sy seun ‘n
gesprek oor die wiele voer nie. Sommige van die myntoerusting
se kabels was naby aan die pompe
afgeknip. Dit skep die indruk
dat die goed haastig verwyder is. Daar kon ook nie bevestiging
gekry word dat die myntoerusting
aan ene Brown en Thabo behoort nie.
Die polisie het verskeie klagtes van boere en delwers ontvang wat
beweer dat hulle pompe
en kabels gesteel word.
[55] Wanneer die eiser se verduideliking
(voor sy arrestasie) in die lig van al hierdie feite oorweeg word, is
ek van oordeel dat
die polisiebeamptes (en meer spesifiek
adjudant-offisier Ramaketsi) nie verkwalik kan word dat hulle nie met
die eiser se verduideliking
tevrede was nie. Die eiser word
onder verdagte omstandighede in besit van vermoedelik gesteelde
goedere gevind. Dit
is in besonder van belang dat hulle op
daardie stadium nie enige bevestiging kon kry wat sy weergawe
ondersteun nie. Ek is
daarom van oordeel dat hulle ‘n
redelike verdenking kon gehad het dat die eiser ‘n misdryf ten
opsigte van gemelde
goedere gepleeg het, naamlik ‘n oortreding
van artikel 36 van Wet 62 van 1955.
[56] Laastens moet daar oorweeg word of
die arresterende beamptes hul diskresie om te arresteer, behoorlik
uitgeoefen het.
Die volgende
dictum
in
Minister of
Safety and Security v Sekhoto
,
supra
, par 39 is van
belang:
"This
would mean that peace officers are entitled to exercise their
discretion as they see fit, provided that they stay within
the bounds
of rationality. The standard is not breached because an officer
exercises the discretion in a manner other than
that deemed optimal
by the court. A number of choices may be open to him, all of
which may fall within the range of rationality.
The standard is
not perfection or even the optimum, judged from the vantage of
hindsight – so long as the discretion is exercised
within this
range, the standard is not breached.”
[57] Daar moet in hierdie verband in ag
geneem word dat die eiser nie summier gearresteer is nie. Daar het
eers ‘n deursoeking
in die teenwoordigheid van die klaer (mnr
Du Toit), die eiser asook ander polisiebeamptes
plaasgevind. Daarna
is die eiser om ‘n verduideliking
gevra wat, vir die redes hierbo genoem, nie aanvaar is nie. Die
eiser is toe gearresteer
en na die speurtak geneem. Daar het
verdere navrae gevolg in ‘n poging om die verduideliking wat
die eiser gegee het,
op te volg. Dit maak op sigself nie die
arrestasie by die plot onregmatig nie (
Duncan v Minister of Law
and Order
1986 (2) SA 805
(A) at 820B-E).
[58] By die speurtak is daar gepoog om
met ‘n sekere Thabo ‘n telefoniese gesprek oor die
myntoerusting te voer, maar
volgens adjudant-offisier Ramaketsi het
dit op ‘n dooie punt uitgeloop. Volgens adjudant-offisier Swart
het hy ook gepoog
om inligting (telefoonnommers) op te volg wat die
eiser aan hom verskaf het, maar ook dit was sonder sukses. Feit
van die
saak is daar kon steeds nie bevestiging vir die eiser se
weergawe verkry word nie. Daar is toe besluit om die eiser aan
te
hou tot die daaropvolgende Maandag wanneer hy voor die hof gebring
sou word.
[59] Met inagneming van al hierdie feite
en omstandighede is ek van oordeel dat die verweerder daarin geslaag
het om te bewys dat
die arresterende beamptes hulle diskresie op ‘n
redelike wyse uitgeoefen het asook dat die eiser se arrestasie en
aanhouding
regmatig was. Gevolglik kan die eis nie slaag nie.
BEVEL
:
Die eiser se eis word van die hand gewys met koste.
D S
FOURIE
REGTER
VAN DIE HOOGGEREGSHOF
PRETORIA
26/2/15