About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2007
>>
[2007] ZASCA 17
|
|
Wessels v Die Meester van die Hooggeregshoof Bloemfontein en Andere (216/2006) [2007] ZASCA 17; [2007] SCA 17 (RSA) (23 March 2007)
Links to summary
DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN SUID-AFRIKA
RAPPORTEERBAAR
Saaknommer : 216/2006
In die
saak tussen :
GEORGE
FREDERIK WESSELS NO ...................... APPELLANT
en
DIE MEESTER VAN DIE
HOOGGEREGSHOF, BLOEMFONTEIN EERSTE ...................... RESPONDENT
FREDERIK JOHANNES THEODORUS
BEZUIDENHOUT (JNR) ...................... TWEEDE RESPONDENT
JACOMINA JOHANNA GROBLER
...................... DERDE RESPONDENT
JEREMIAS JACOBUS ANDRIES
BEZUIDENHOUT ...................... VIERDE RESPONDENT
WILHELMINA CECILIA RAUTENBACH
...................... VYFDE RESPONDENT
FREDDIE RAUTENBACH
...................... SESDE RESPONDENT
REINETTE RAUTENBACH
...................... SEWENDE RESPONDENT
ESMERELDA BEZUIDENHOUT
...................... AGTSTE RESPONDENT
JOHANNA ELIZABETH NEL
...................... NEGENDE RESPONDENT
PATRICIA BEZUIDENHOUT
...................... TIENDE RESPONDENT
FREDERIK BEZUIDENHOUT (JNR)
...................... ELFDE RESPONDENT
CORAM : BRAND, VAN HEERDEN
et
COMBRINCK ARR
DATUM : 15 FEBRUARIE 2007
GELEWER : 23 MAART 2007
Neutral citation: This judgment may be referred to as
Wessels NO v Die Meester
[2007]
SCA 17 (RSA)
Samevatting: Gesamentlike testament wat verval het by
die dood van die testatrise – in beginsel kon testateur dit
laat herleef
in latere kodisil – herlewingsbedoeling aan die
kant van testateur egter nie bewys nie.
_______________________________________________________
UITSPRAAK
BRAND AR
/
BRAND AR
:
[1] Hierdie is 'n appèl teen die uitspraak van Van der Merwe R
in die Bloemfonteinse Hooggeregshof. Die vrae waarom dit wentel,
is
in die breë soos volg: het 'n gesamentlike testament wat die
testateur vroeër saam met sy vooroorlede eggenoot verly
het, by
haar dood verval? Indien wel, kan die testateur dit in beginsel op
een of ander wyse laat herleef? Indien wel, het dit in
hierdie saak
gebeur? Die feite waaruit hierdie vrae ontstaan het, blyk uit wat
volg.
[2] Die appellant is die eksekuteur in die boedel van wyle F J T
Bezuidenhout ('die testateur') wat op 7 Maart 2004 oorlede is. Op
18
Januarie 2002 het die testateur en sy vooroorlede eggenote ('die
testatrise'), met wie hy binne gemeenskap van goedere getroud
was, 'n
gesamentlike testament gemaak. Die bemakings in die testament is nie
heeltemal so duidelik nie. In der waarheid lyk dit of
dieselfde bates
soms aan meer as een erfgenaam bemaak is. Hoewel dit nie die vrae is
waaroor uitsluitsel gegee hoef te word nie,
is dit tog 'n aanduiding
van onkunde en verwarring aan die kant van die testateur en sy
adviseurs wat, soos aanstons sal blyk, wel
ter sake is.
[3] Die kernbemakings in die testament gaan duidelik uit van die
veronderstelling dat die testatrise die testateur sal oorleef. So
bepaal die inleiding tot klousule 2: 'Ons bemaak spesiaal die
opbrengs van ons beleggings en kontant, indien die Testateur die
eerste
te sterwe kom soos volg: . . . .' Klousule 3(a) begin weer
met: 'Ons bemaak spesiaal indien die Testateur eerste te sterwe kom
aan
ons kleinseun Freddie Rautenbach al ons vaste eiendom . . .' Vir
geval die testateur die langslewende sou wees, word voorsiening
gemaak in klousule 8. Dit bepaal heel bondig: 'Indien die Testatrise
eerste te sterwe mag kom, benoem en stel ons hiermee aan die
Testateur as die enigste erfgenaam.'
[4] Soos vroeër aangedui, het die testatrise toe inderdaad
eerste te sterwe gekom. Na haar oorlye is haar boedel beredder
ooreenkomstig
die bepalings van die gesamentlike testament. Bygevolg
het die testateur in effek die hele gesamentlike boedel ontvang; sy
helfte
uit hoofde van die huwelik binne gemeenskap van goed en haar
helfte uit hoofde van klousule 8 van die gesamentlike testament.
Daarna
het hy op 7 Mei 2003 'n kodisil verly ('die eerste kodisil').
Dit lui soos volg:
'Ek, die ondergetekende,
FREDERICK JOHANNES THEODORUS BEZUIDENHOUT
maak hiermee hierdie KODISIL wat deel sal vorm van my
Testament gedateer 18 JANUARIE 2002.
1
Die bemaking in terme van Klousule 3(a) is verder
onderhewig aan die bepaling dat my kleinseun, FREDDIE, maandeliks 'n
bedrag van
R1 000,00 (EEN DUISEND RAND) sal betaal aan JOHANNA
NEL, vanaf datum van my afsterwe tot datum van haar afsterwe.
2
Die res van my Testament bly onveranderd.'
[5] Op 11 Junie 2003 verly die testateur 'n tweede kodisil. Soos in
die eerste kodisil, verklaar hy ter inleiding uitdruklik dat
die
kodisil deel sal vorm van 'my Testament gedateer 18 JANUARIE 2002'.
In die eerste klousule bemaak hy spesifiek 'n Datsun-bakkie
en 'n
televisiestel aan sy vriendin, Johanna Nel, waarna hy weer in
klousule 2 afsluit met 'Die res van my Testament bly onveranderd.'
[6] Onmiddellik na die tweede kodisil het die testateur, nog steeds
op 11 Junie 2003, ook 'n derde kodisil verly. Na sy oorlye kon
die
oorspronklike van hierdie dokument egter nie gevind word nie. Om dié
rede het die Meester geweier om die derde kodisil
te aanvaar, welke
besluit nie deur enige een van die party aangeveg is nie. Geen poging
is ook deur enigiemand aangewend om by wyse
van 'n aansoek ingevolge
a 2(3) van die Wet op Testamente 7 van 1953 ('die Wet') die derde
kodisil met regskrag te laat beklee nie.
Omdat die inleidende
gedeelte van die derde kodisil in die uitspraak van die hof
a quo
en in argument ter sprake gekom het, haal ek dit aan sonder om
daarmee toelaatbaarheid of relevansie te kenne te gee. Dit lui soos
volg:
'Ek, synde die enigste erfgenaam kragtens die
gesamentlike Testament gedateer 18 JANUARIE 2002 bepaal dat alle
bemakings en voorwaardes
van gemelde Testament mutatis mutandis
onmiddellik van krag sal word en van toepassing sal wees by my
afsterwe behalwe . . ..'
Op die 'behalwe' volg dan sekere uitdruklike wysigings van die
bemakings in die gesamentlike testament van 18 Januarie 2002.
[7] Na sy aanstelling as eksekuteur in die boedel van die testateur,
het die appellant die standpunt ingeneem dat die testament van
18
Januarie 2002, saamgelees met die eerste en tweede kodisille, as die
testament van die oorledene beskou moet word. Daarteenoor
was die
eerste respondent, synde die Meester, van oordeel dat die testateur
in wese, op enkele onsaaklike uitsonderings na, sonder
enige
testament gesterf het en dat sy boedel gevolglik intestaat moes
vererf. Dit het die appellant genoop om die Hoogeregshof in
Bloemfontein te nader vir 'n bevel wat daarop neerkom dat sy
standpunt bekragtig word.
[8] Diegene wat, benewens die Meester, as respondente in die aansoek
gesiteer is, val breedweg in twee kategorieë: aan die eenkant,
dié wat deur die bemakings in die gesamentlike testament, soos
gewysig deur die eerste twee kodisille, bevoordeel word en,
aan die
anderkant, dié wat groter voordeel uit intestate vererwing sou
trek. Slegs die tweede en derde respondente, wat uiteraard
in die
laasgenoemde groep val, het die aansoek betwis en terselfdertyd 'n
teenaansoek gebring waarin hulle gevra het vir 'n verklarende
bevel
dat die boedel van die testateur intestaat moet vererf. Die hof
a
quo
het die appellant se hoofaansoek van die hand gewys en die
teenaansoek toegestaan. Daarteen kom die appellant nou in hoër
beroep
met die verlof van hierdie hof.
[9] 'n Nuttige vertrekpunt by die oorweging van die geskilpunte is
die aanvaarde beginsel dat, in 'n geval soos die onderhawige,
waar
daar geen boedelsamesmelting is nie, 'n gesamentlike testament, ten
spyte van sy 'gesamentlike' vorm, eintlik maar neerkom op
twee aparte
testamente, wat in een dokument vervat is, waarin die testateur en
testatrise elkeen oor sy of haar eie boedel beskik.
In so 'n geval
staan dit die langslewende vry om te enige tyd, ook na die
eerssterwende se dood, weer 'n testament te maak waarin
opnuut oor sy
of haar bates beskik word. Die feit dat die langslewende intussen die
voordele van die eerssterwende se bemakings aanvaar
het, doen aan
hierdie vryheid geen afbreuk nie (sien bv
Rhode v Stubbs
2005
(5) SA 104
(HHA); M M Corbett, Gys Hofmeyer en Ellison Kahn,
The
Law of Succession in South Africa
2 uitg (2001) pp 436-7).
[10] 'n Meer pertinente vraag vir doeleindes van die onderhawige is
egter: wat is die posisie as 'n testateur wat geregtig was om
na die
dood van die testatrise 'n nuwe testament te maak, uiteindelik self
te sterwe kom sonder om dit te doen? Volgens aanvaarde
beginsels hang
die antwoord op dié vraag daarvan af of die testateur sy
beskikking oor sy gedeelte in die gesamentlike testament
onderworpe
gestel het aan die gebeurlikheid dat hy eerste te sterwe kom. Indien
nie, bly sy gedeelte, by ontstentenis aan 'n nuwe
testament,
eenvoudig voortbestaan en is dit steeds van krag by sy dood (sien bv
De Klerk v Estate De Klerk
1950 (3) SA 62
(T) op 66G-67H). Is
die testateur se gedeelte van die testament egter wel onderworpe
gestel aan die voorwaarde dat hy eerste te sterwe
kom, sal dit by die
vooroorlye van die testatrise verval. By gebreke aan 'n nuwe
testament sal sy boedel dan intestaat vererf (sien
bv
Estate
Coaton v The Master
1915 CPD 318
;
Ex parte Wessels NO and
Lubbe
1954 (2) SA 225
(O) op 229D-G; Corbett
et al, op cit
,
pp 439-440).
[11] In die onderhawige geval is die wesenlike bemakings uitdruklik
onderworpe gestel aan die vooroorlye van die testateur. Daarbenewens
bepaal klousule 8 onomwonde dat, in geval die testatrise eerste te
sterwe sou kom, die testateur die enigste erfgenaam sal wees.
Inderwaarheid word dus geen voorsiening gemaak vir wat by die
testateur se dood moet gebeur indien hy die langslewende sou wees
nie.
Die duidelike veronderstelling skyn te wees dat hy in dié
geval, na die dood van die testatrise, 'n nuwe testament sou maak.
Gevolglik stem ek saam met die bevinding van die hof
a quo
dat
die gesamentlike testament by die oorlye van die testatrise verval
het.
[12] Nietemin is die appellant se saak juis dat die testateur
duidelik die bedoeling gehad het dat die testament van 18 Januarie
2002, soos gewysig of aangevul deur die latere twee kodisille, sy
testament sou wees. Ietwat anders gestel, was die testateur se
duidelike bedoeling dus, volgens die appellant se argument, dat na
die afsterwe van die testatrise dieselfde tersaaklike bepalings
in
die gesamentlike testament, soos gewysig deur die kodisille, as sy
eie testament moes geld.
[13] In die konteks van die erfreg, dien dit egter weinig doel om van
die 'duidelike bedoeling van die testateur' te praat tensy
daardie
bedoeling uit 'n geldige testament blyk. Of, soos Wessels RP dit
gestel het in
Re Estate Marks
1921 TPD 180
op 185:
'It seems to me that [the Roman Dutch
jurists] attached great importance to the real intention of the
testator, provided that his
intention was expressed in a testamentary
disposition executed with such due solemnity as the law requires
. . .'
[14] Aangesien die gesamentlike testament by die dood van die
testatrise verval het, is die status daarvan analoog aan dié
van 'n herroepe testament. Tensy die testateur dit weer op een of
ander wyse kon en inderdaad laat herleef het, is dit van geen krag
en
werking meer nie. In dié geval sal enige bedoeling wat daaruit
mag blyk dus onsaaklik wees. Namens die appellant is twee
wyses, in
die alternatief, aan die hand gedoen waarop herlewing van die
vervalle testament inderdaad geskied het, te wete, (a) by
wyse van
die herinstelling daarvan in die twee latere kodisille,
alternatiewelik, (b) by wyse van die inlywing deur verwysing daarna
in die twee kodisille.
[15] Die vrae wat voortspruit uit hierdie betoog is analoog aan dié
wat ontstaan het in
Moses v Abinader
1951 (4) SA 537
(A). Die
feite van
Moses
was in breë trekke soos volg: die
erflater het op 6 Augustus 1948 'n testament verly waarin hy sy hele
boedel aan sy twee stiefbroers
bemaak het. 'n Paar dae later, op 12
Augustus 1948, verly hy 'n tweede testament. Daarin herroep hy sy
eerste testament en bemaak
hy helfte van sy boedel aan sy twee
stiefbroers en die ander helfte aan die appellant, mev. Moses. Op 5
Julie 1949 verly hy 'n kodisil
waarin hy 'n bepaling van die eerste
testament wysig sonder om hoegenaamd na die tweede te verwys. Op
grond van hierdie feite word
toe deur een van die stiefbroers,
Abinader, betoog dat die eerste testament, soos gewysig deur die
kodisil, as die erflater se laaste
wilsbeskikking aanvaar moet word.
[16] Schreiner AR gaan uit van die standpunt dat onderskei moet word
tussen herinstelling van 'n herroepe testament en inlywing of
inkorporering daarvan as deel van 'n latere testament. Laasgenoemde,
so het hy (op 546H-547G) bevind, was weens die formaliteitsvereistes
vir 'n geldige testament, wat indertyd van toepassing was (synde
vervat in Ordonnansie 14 van 1903 (Transvaal)) nie moontlik nie.
Hierteenoor was herlewing deur herinstelling by wyse van 'n latere
testament, volgens Schreiner AR, in beginsel wel moontlik (op
543B-544C), mits aan die volgende twee vereistes voldoen word:
eerstens moet die dokument waaruit die testateur se
herinstellingsbedoeling
blyk, self behoorlik verly wees (544B);
tweedens moet die testateur se bedoeling om die testament te laat
herleef duidelik uit die
nuwe dokument blyk (544B-F). Oor die tweede
vereiste laat hy hom onder meer soos volg uit (op 544G-545A):
'The difficulty I have in agreeing with
that decision [of the court below] arises from the fact that it
appears to treat the recognition
. . . of a revoked will as if it
were the same thing as an intention to make it effective, which
revival requires. The view of the
Provincial Division . . . does not
seem to me to be correct. Revival is the intentional act of bringing
to life that which was dead;
there is no rule of law which makes
recognition of a revoked will an operative equivalent to revival. The
question is one of fact,
whether, there was as [an?] intentional act
of revival; and for recognition to establish such an act the testator
must know that
his will if not revived is dead and inoperative.'
[17] Wat die feite van die
Moses
-saak betref kom Schreiner AR
dan tot die volgende slotsom (op 546G-H):
'Since the will of the 6th August was revoked by that of
the 12th August the
onus
lay
upon the party who alleged that the former had been revived to prove
such revival. In order to discharge that
onus
he had to show that the terms of the codicil, read in
the light of the circumstances at the time, created a balance of
probabilities
that the testator executed the codicil with knowledge
at that time that the will of the 6th August had been revoked and was
then
of no effect. As it seems to me to be at least as probable that
the testator had in July, 1949, lost sight of the fact, if he had
ever fully appreciated it, that his second will had completely
revoked the first, the
onus
was
in my view not discharged.'
[18] Soos Schreiner AR, was Van den Heever AR ook die mening
toegedaan dat die statutêre formaliteitsvereistes vir 'n
geldige
testament geen ruimte laat vir die herlewing van 'n herroepe
testament by wyse van inlywing deur verwysing in 'n latere testament
nie. Anders as Schreiner AR, kom hy egter tot die slotsom dat
herlewing deur herinstelling, volgens ons gemene reg soos aangevul
deur wetgewing, insgelyks nie moontlik was nie. Die enigste manier
waarop 'n testateur, volgens Van den Heever AR se siening, 'n
herroepe testament kan laat herleef, is om dit weer opnuut te verly
(op 552B-C).
[19] Greenberg AR, met wie Fagan AR saamgestem het, was van oordeel
dat die saak suiwer op die feite beslis kon word. In die verband
was
hulle dit met Schreiner AR eens, dat die testateur se indruk dat sy
eerste testament nog geldig was, in die pad gestaan het van
'n
herlewingsbedoeling (op 542A-B). Derhalwe het hulle dit onnodig
gevind om tot die debat aangaande die moontlikheid van herlewing
deur
herinstelling toe te tree. Wat die uitslag van die appèl
betref, kom Hoexter AR ook tot dieselfde slotsom as dié
van sy
vier ampsbroers. Hoewel sy standpunt nie so duidelik blyk uit sy
bondige uitspraak nie, wil dit tog lyk of hy Van den Heever
AR se
siening aangaande herinstelling van 'n herroepe testament deel (op
533G-534H).
[20] Na
Moses
het die vraag aangaande die moontlike
herinstelling van 'n testament wat herroep is (of verval het) sigself
nog nie weer in hierdie
hof voorgedoen nie. Ook in die Hooggeregshof
is nog geen pertinente antwoord daarop gegee nie. In twee beslissings
is
obiter
aanvaar dat herlewing deur herinstelling in beginsel
wel moontlik is, maar dat 'n herlewingsbedoeling nie op die feite van
daardie
sake bevind kon word nie (sien
Estate Gonsalves v Pataca
1957 (4) SA 585
(T) op 590G-591A;
Raabe v The Master
1971 (1)
SA 780
(T) op 781H). In
Loureiro v The Master
1981 (4) SA 248
(N) is wel gelas dat 'n testament wat vroeër herroep was as die
testateur se uiterste wilsbeskikking aanvaar moet word, op grond
daarvan dat dit deur herinstelling vervat in 'n latere kodisil
herleef het. Aangesien hierdie bevel egter op onbestrede basis en
sonder enige beredenering toegestaan is, dra dit nie werklik tot
oplossing van die probleemstelling by nie.
[21] Daarteenoor is rigtinggewende bydraes gelewer deur akademiese
skrywers (sien bv N J van der Merwe & C J Rowland
Die
Suid-Afrikaanse Erfreg,
6 uitg (1990) pp 199-204; Corbett
et
al, op cit
111; J C Sonnekus '
Herlewing van herroepe testament
– vereistes
'
1981 TSAR 284
; N J Wiechers '
Herlewing van
herroepe testament
'
(1982) 45 THRHR 80).
Al hierdie skrywers
ondersteun die standpunt van Schreiner AR in
Moses
en doen aan
die hand dat dit bo dié van Van den Heever AR aanvaar moet
word.
[22] Ek glo die tyd het aangebreek dat hierdie hof standpunt oor die
aangeleentheid inneem. Veral met die voordeel van akademiese
insette
in die tyd wat sedert
Moses
verloop het, lê die keuse,
myns insiens, voor die hand, naamlik dat ons die standpunt van
Schreiner AR moet aanvaar. Die algemene
uitgangspunt in ons reg is
van oudsher dat effek gegee moet word aan die bedoeling van 'n
testateur wat uitdrukking gevind het in
'n geldig verlyde testament
(sien bv Wessels RP in
Re Estate Marks
supra
op 185).
Aan beide die elemente van geldige verlyding en bedoeling word,
ooreenkomstig Schreiner AR se benadering, erkenning verleen.
As nie
aan albei voldoen is nie, het herlewing nie plaasgevind nie en bly
die herroepe testament sonder krag. Geldige verlyding word
vereis ten
opsigte van sowel die testament wat herroep is en die herinstellende
testament. Op die aanvaarding dat 'n testateur sy
bedoeling om 'n
herroepe testament te laat herleef in 'n geldig verlyde testament of
kodisil te kenne gegee het, ontstaan die vraag
welke doel dit sou
dien om, soos Van den Heever AR, daarop aan te dring dat die
testament wat herroep is, weer opnuut verly moet
word. Geldige
verlyding is 'n historiese feit wat nie deur die herroeping van die
testament ongedaan gemaak is nie. Soos Van der
Merwe en Rowland
op
cit
204 dit stel:
'Herroeping beteken slegs dat die
behoorlike verlyde instrument nie meer die uiterste wilsbeskikking
van die testateur verteenwoordig
nie. Klop die testateur se uiterste
wense op 'n later stadium weer met dié soos in die herroepe
testament weergegee, is daar
geen rede waarom die herroepe testament
nie opnuut regskrag kan kry indien die testateur met inagneming van
die nodige testamentsformaliteite,
sy begeerte in dié verband
kenbaar maak nie.'
[23] In die onderhawige geval gaan dit uiteraard nie oor 'n testament
wat herroep is nie, maar oor een wat verval het. Ek glo egter
nie dat
dit in beginsel enige verskil maak nie. By herlewing behoort
dieselfde beginsels en vereistes vir albei te geld. My slotsom
is dus
dat dit, in beginsel, wel vir die testateur moontlik was om die
vervalle gesamentlike testament in die latere kodisille te
laat
herleef. Dit lei tot die feitevraag – het hy dit inderdaad
gedoen? Aan die geldige verlydingsvereistes is daar duidelik
voldoen.
Die gesamentlike testament van 18 Januarie 2002 sowel as die twee
latere kodisille was behoorlik verly.
[24] Die probleem ontstaan met die bedoelingsvereiste. Die verhoorhof
se bevinding was dat die appellant hom nie van sy bewyslas
gekwyt het
om 'n herlewingsbedoeling aan die kant van die testateur te bewys
nie. Vir sy redenasie wat tot hierdie benadering gelei
het, het die
hof onder meer steun gevind in die inleiding van die ongeldige derde
kodisil (wat in para [6] hierbo aangehaal word).
Die rol wat aan
hierdie dokument toegeken is blyk uit para 15 van die hof
a quo
se
uitspraak. Dit lui soos volg:
'Ek word in hierdie gevolgtrekking
versterk deur die bepalings van die derde kodisil. In die derde
kodisil is van uitdruklike bewoording
gebruik gemaak om 'n bedoeling
van herlewing of inlywing weer te gee. Die afwesigheid van sodanige
uitdruklike bepaling in die eerste
kodisil wat kort tevore verly is
en die tweede kodisil wat op dieselfde dag verly is, is na my mening
gevolglik bevestigend van die
afwesigheid van 'n bedoeling van
herlewing of inkorporering van die bepalings van die vervalle
testament.'
[25] Ek stem saam met die appellant se beswaar teen die aanwending
van die derde kodisil vir interpretasie doeleindes. Aangesien
hierdie
dokument nie as geldige testamentêre geskrif aanvaar is nie,
kan dit nie op enige wyse gebruik word ter bepaling van
die testateur
se bedoeling nie en dus ook nie om 'n uitleg te gee aan geldige
testamentêre geskrifte nie. Nietemin moet die
hof se
uiteindelike gevolgtrekking myns insiens onderskryf word. Ek vind ook
niks in die bewoording van die eerste en tweede kodisille
wat dui op
'n bedoeling aan die kant van die testateur, dat die gesamentlike
testament van 18 Januarie 2002 wat verval het weer moet
herleef nie.
Inteendeel, soos ek hierdie twee kodisille lees, het die testateur
waarskynlik geglo dat die gesamentlike testament
voortbestaan het en
derhalwe steeds geldig was. Hy verwys immers daarna as 'my testament'
wat hy dan deur aanvulling wysig terwyl
hy die 'res' onveranderd
laat. Die onbeholpe formulering van die testament as geheel dui
voorts op die reële moontlikheid dat
hy verkeerde regsadvies
ontvang het aangaande die voortgesette geldigheid van die
gesamentlike testament.
[26] So gesien, is die onderhawige saak nie op die feite te onderskei
van
Moses
nie. Die redenasie van Schreiner AR, met wie twee
van sy ampbroers op hierdie punt saamgestem het, is dus eweneens hier
van toepassing.
Volgens hierdie redenasie sluit 'n verkeerde indruk
aan die kant van 'n testateur dat sy testament nog geldig is, 'n
herlewingsbedoeling
uit. Namens die appellant is aan die hand gedoen
dat dit darem 'n hoogs tegniese houding is om in te neem. Ek stem nie
saam nie.
Vir al wat ons weet kon die testateur heel anders opgetree
het indien hy geweet het dat die gesamentlike testament nie meer
geldig
is nie en dat hy gevolglik 'n vrye keuse het om oor sy boedel
te beskik soos hy wil. Hiervolgens is die onafwendbare slotsom dus
dat die appellant nie daarin geslaag het om 'n herlewingsbedoeling
aan die kant van die testateur te bewys nie.
[27] Dit bring my by die appellant se alternatiewe betoog dat die
testateur die gesamentlike testament laat herleef het deur dit
by die
latere kodisille in te lyf. Soos ek egter reeds vroeër aangedui
het, was die een aangeleentheid waaroor die regters in
Moses
dit eens was, dat inlywing deur verwysing nie ingevolge die statutêre
formaliteitsvereistes vir 'n geldige testament wat indertyd
van
toepassing was, kon plaasvind nie. Voorts blyk die algemeen aanvaarde
standpunt te wees dat die huidige Wet (van 1953) geen verandering
aan
hierdie posisie teweeg gebring het nie (Sien bv Corbett
et al
op cit
pp 66-68; Van der Merwe en Rowland
op cit
pp 302;
LAWSA
1
st
Re-issue Vol 31 para 240).
[28] In die algemeen gesproke, is die probleem wat die erkenning van
inlywing deur verwysing in die weg staan, die feit dat selfs
waar
beide die herroepe (of vervalle) testament en die herinstellende
testament elkeen op sy eie behoorlik verly was, hulle gewoonlik
nie
in teenwoordigheid van dieselfde getuies en by dieselfde geleentheid
deur die testateur onderteken is nie (sien bv
Estate Orpen v
Estate Atkinson
1966 (2) SA 639
(C) 645A-C). Na die toevoeging
van a 2(3) tot die Wet in 1992, is aan die hand gedoen dat hierdie
probleme ondervang kan word deur
die hof vir kondonasie van die
formaliteitsgebreke te nader (sien bv Corbett
et al op cit
pp 68;
Francois du Toit
'Enkele gedagtes rondom artikel 2(3) van die Wet
op Testamente van 1953, inlywing deur verwysing en die herlewing van
herroepe testamente'
(1997) 60
THRHR
101).
Aangesien daar
egter in hierdie saak geen aansoek in terme van a 2(3) was nie, kom
hierdie moontlikheid nie ter sprake nie.
[29] Wat die appellant wel aangevoer het, was dat die onderhawige
saak van die 'normale' te onderskei is deurdat dieselfde twee getuies
toevallig teenwoordig was toe die gesamentlike testament en die twee
kodisille geteken is. Of dit werklik 'n verskil maak, hoef egter,
na
my oordeel, nie beslis te word nie. Soos ek dit sien, is daar 'n
ander onoorkomelike struikelblok in die pad van die appellant
se
argument gebaseer op inlywing deur wysiging. Dit is dat,
ooreenkomstig die bewoording van die kodisille, die testateur nooit
bedoel
het om die gesamentlike testament by die kodisille in te lyf
nie. Sy verklaarde bedoeling was immers om die gesamentlike
testament,
wat volgens sy indruk, steeds 'n afsonderlike, geldige
bestaan gevoer het, te wysig. Ook in hierdie opsig stem ek derhalwe
met die
verhoorhof saam.
[30] Om hierdie redes word die appèl van die hand gewys met
koste, welke koste uit die boedel van wyle F J T Bezuidenhout
betaal
moet word.
..................................
F D J BRAND
APPÈLREGTER
STEM SAAM
:
Van Heerden AR
Combrinck AR