About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
>>
2016
>>
[2016] ZAGPPHC 898
|
|
Statusfin Finansiële Dienste (Edms) Bpk v Die Trustees van Tyd tot Tyd van die IET Trust en Andere (13156/2011) [2016] ZAGPPHC 898 (11 October 2016)
DIE
GAUTENG AFDELING VAN DIE HOOGGEREGSHOF, PRETORIA
Saak
nr: 13156/2011
DATUM: 11/10/2016
Raporteerbaar: Nee
Van belang vir ander
regters: Nee
Hersien
In
die saak tussen:
STATUSFIN
FINANSIËLE DIENSTE (EDMS)
BPK
Eiser
en
DIE TRUSTEES VAN TYD
TOT TYD
VAN
DIE IET
TRUST
Eerste
Verweerder
M
J C
INGWERSEN
Tweede
Verweerder
M
J C
INGWERSEN
Derde
Verweerder
UITSPRAAK
J
W LOUW, R
[1]
Die eiser verskaf finansiering aan boere vir die verbouing van
somergraan gewasse. Die tweede en derde verweerders (pa
en
seun) was gedurende 2008 die enigste trustees van die IET Trust, ‘n
familietrust wat in die Ventersdorp distrik in Noord-Wes
Provinsie
geboer het en steeds boer. Die trust het op 29 Augustus 2008 by
die eiser skriftelik aansoek gedoen vir finansiering
vir die
verbouing van mielies op die plase Rietfontein (‘n ander
Rietfontein as die een waarop die woonhuis geleë is
waarin die
tweede en derde verweerders woonagtig was), Klippan en
Palmietfontein. Voortspruitend uit die aansoek, het die
eiser
het op 29 Oktober 2008 aan die trust ‘n skriftelike kwotasie
voorsien om finansiering te verskaf in die bedrag van
R615 960.00.
Die derde verweerder het gedurende die voorafgaande
onderhandelinge tussen die eiser en die trust voorgegee
om namens die
trust op te tree en het in die aansoek om finansiering en in die
kwotasie wat hy namens die trust aanvaar en onderteken
het,
gewaarborg dat hy gemagtig is om dit namens die trust te onderteken.
Die eiser het die trust op 30 Oktober 2008 skriftelik
in kennis
gestel dat die aansoek om finansiering goedgekeur is. Die
finale terugbetalingsdatum van die lening was 31 Julie
2009.
[2]
Dit is gemeensaak dat die eiser die volle finansieringsbedrag aan die
trust beskikbaar gestel het deur betalings te maak aan
die
verskaffers van produkte soos saad, kunsmis en diesel wat benodig is
om die mielies te verbou. Dit is ook gemeensaak
dat daar ‘n
swak oesopbrengs was. Die totale opbrengs, wat aan die eiser
gesedeer is, het R231 132.16 beloop.
Die eiser se hoofeis
is vir betaling deur die trust (as eerste verweerder) en die tweede
en derde verweerders, gesamentlik en afsonderlik,
van die bedrag van
R545 705.75, synde die bedrag wat ingevolge die bepalings van
die ooreenkoms deur die eiser se regsadviseur
gesertifiseer is as
verskuldig te wees. Die tweede en derde verweerders word
aangespreek op grond van borgaktes wat deur
hulle onderteken is vir
die skuld van die trust. Die derde verweerder het sy borgakte
onderteken op die dag waarop hy die
aansoek vir finansiering
onderteken het. Die tweede verweerder het veel later, op 25
Januarie 2010, ‘n borgakte onderteken.
[3]
Die derde verweerder het nie verdediging aangeteken nie. Vonnis
is by verstek teen hom toegestaan en sy boedel is sedertdien
gesekwestreer. Die eiser het ‘n aansoek vir summiere vonnis
teen die eerste en tweede verweerders geliasseer. Die eerste
en
tweede verweerders het ‘n opponerende verklaring geliasseer
waarin ontken word dat die tweede verweerder die derde verweerder
gemagtig het om namens die trust die finansieringsooreenkoms met die
eiser te eiser sluit en die betrokke dokumente te onderteken.
Die trustakte bepaal dat besluite van die trust by meerderheidstem
geneem moet word. Dit bepaal verder dat die trustees geregtig
is om een of meer van hulle te magtig om alle dokumente wat nodig is
vir die uitvoering van enige transaksie wat verband hou met
die trust
se sake namens die trust te teken.
[4]
Die eiser het na aanleiding van die opponerende verklaring sy
besonderhede van vordering gewysig deur bewerings by te voeg dat
die
tweede verweerder die derde verweerder uitdruklik, alternatiewelik
stilswyend, gemagtig het om die leningsooreenkoms met die
eiser aan
te gaan. Alternatiewe skuldoorsake is ook bygevoeg. Die
eerste is dat indien dit bevind sou word dat daar
nie ‘n
geldige ooreenkoms tussen die eiser en die trust tot stand gekom het
nie, die eiser, deur die leningsbedrag van R615 960.00
voor te
skiet, met daardie bedrag verarm is, die trust op sy beurt met
daardie bedrag verryk is, en dat die eiser op grond van
die
condictio
sine causa
, alternatiewelik die
condictio indebiti
,
alternatiewelik ‘n algemene verrykingsaksie, geregtig is om,
met inagneming van die bedrae wat deur die trust betaal is,
die
bedrag van R545 705.75 van die trust te verhaal, vir betaling
van welke bedrag die tweede en derde verweerders as borge
aanspreeklik is. Die tweede alternatiewe eis wat bygevoeg is,
is dat die tweede en derde verweerders die trust misbruik het
deurdat
daar geen onderskeid gemaak is tussen die bates van die tweede en
derde verweerders en dié van die trust nie en
dat die bates
van die trust gevolglik uitwinbaar verklaar moet word ten bate van
die eiser.
[5]
Die verwere wat deur die eerste en tweede verweerders gepleit en
geargumenteer is, is opsommenderwys -
[a]
dat die derde verweerder geen magtiging gehad het om die trust te
verbind sonder die toestemming van die tweede verweerder nie;
[b]
dat daar ingevolge die voorwaardes van die kontrak algehele
risikoversekering uitgeneem is ter versekering van die opbrengs
van
die oes waarvan die premies betaal is uit die finansiering wat die
eiser aan die trust bewillig het; dat daar ‘n geldige
eis teen
die versekeraar (Santam) was; dat die eis teen Santam aan die eiser
gesedeer is; en dat die eiser nalatiglik versuim het
om ‘n eis
teen Santam in te stel, welke eis enige moontllike uitstaande skuld
van die trust teenoor die eiser sou uitgewis
het;
[c]
dat die eiser se alternatiewe eis gebaseer op ongegronde verryking
verjaar het;
[d] dat die trust in
elk geval nie verryk is nie.
Die
hoofeis
[6]
Me Petro Erasmus is ‘n finansiële bemarker in diens van
die eiser by die eiser se Rustenburg tak. Sy het getuig
dat sy
sedert 2000 in diens is van die eiser wat tans bekend staan as Obaro
Finansiële Dienste (Edms) Bpk (“Obaro”).
Die
hoofkantoor van die eiser is in Brits en dit het verskeie takkantore.
[7]
Me Erasmus het getuig dat sy na aanleiding van ‘n
telefoonoproep wat sy van die takbestuurder van die eiser se
Magaliesburg
tak, Mnr Jaco Greeff, ontvang het, die tweede en die
derde verweerder by hul woonhuis op die plaas Rietfontein besoek het.
Sy
is deur Mnr Greeff meegedeel dat hy met die tweede
verweerder by die kerk gepraat het en dat dié hom meegedeel
het dat hulle
in finansiering belangstel. Sy het die nommer
geskakel wat aan haar voorsien is en die oproep is deur die derde
verweerder
beantwoord. ‘n Afspraak is gereël vir 29
Augustus 2008. Mnr Greeff het haar na die plaas vergesel.
[8]
Toe hulle op die plaas aankom, het hulle die derde verweerder
ontmoet. Hulle het saam met hom na die kantoor in die woonhuis
gegaan. Daar het sy haar rekenaar en drukker, wat sy saamgeneem
het, uitgehaal en begin om die inligting wat sy benodig het,
en wat
deur die derde verweerder aan haar verskaf is, op die relevante vorms
in te vul. Hulle werk is onderbreek deur ‘n
middagete wat
bedien is. Sy is in die eetkamer aan die tweede verweerder
voorgestel. Die persone wat vir die ete aangesit
het was Me
Erasmus, Mnr Greeff, die tweede en derde verweerders en een of meer
gaste van die tweede verweerder. Me Erasmus
kon nie onthou
hoeveel gaste daar was nie.
[9]
Na die ete is Me Erasmus en die derde verweerder terug na die kantoor
waar hulle verder gewerk het. Die tweede verweerder
het gevra
om verskoon te word. Hy en die gas of gaste is toe daar weg.
Nadat die dokumente deur Me Erasmus voltooi
en uitgedruk is, is dit
deur die derde verweerder onderteken. Die dokumente was ‘n
aansoek om ‘n kredietfasiliteit
(“die aansoek”), ‘n
borgakte en ‘n sessie-ooreenkoms wat voorsiening gemaak het vir
die sessie van die
beoogde oes. Die aansoek was vir ‘n
bedrag van R1 837 000.00 vir die aanplant van wit mielies
op 420 ha.
Die bedrag van die fasiliteit is op ‘n later
datum op versoek van die derde verweerder verminder na R615 950,00
omdat
hy as gevolg van droogte op daardie stadium besluit het om
minder hektare te plant.
[10]
Die derde verweerder het die aansoek twee keer op elke bladsy
geparafeer en dit twee keer aan die einde onderteken. Me
Erasmus se verduideliking hiervoor was dat die derde verweerder
waarskynlik die eerste keer met ‘n blou pen geteken het en
dat
sy hom sou gevra het om weer met ‘n swart pen te teken
aangesien alle dokumente met ‘n swart pen onderteken moes
word. Die borgakte het voorsiening gemaak vir ondertekening
deur die tweede en die derde verweerders. Hulle het dieselfde
voorname maar hul identiteitsnommers, wat op die borgakte deur Me
Erasmus ingevul is, en wat deur die derde verweerder aan haar
verskaf
is, verskil uiteraard. Die borgakte is slegs deur die derde
verweerder onderteken. Die sessie-ooreenkoms het
net vir een
handtekening voorsiening gemaak en dit is ook deur die derde
verweerder onderteken. Op die aansoek en die sessie-ooreenkoms
verskyn die volgende woorde onder die derde verweerder se
handtekening:
“
(indien
die ondertekenaar in ‘n verteenwoordigende hoedanigheid namens
‘n regsentiteit onderteken waarborg hy dat hy
ten volle daartoe
gemagtig is)”.
Die
derde verweerder het verder ‘n kopie van die magtigingsbrief
ingevolge waarvan hy en die tweede verweerder as trustees
van die
trust aangestel is, asook ‘n kopie van die trustakte, aan Me
Erasmus verskaf.
[11]
Dit is gemeensaak dat die tweede verweerder op 25 Januarie 2010
(ongeveer 6 maande nadat die finansieringsbedrag plus rente
terugbetaalbaar was), ‘n borgakte vir die trust se skuld aan
die eiser onderteken het. Hierdie borgakte is ook deur
die
derde verweerder onderteken. Me Erasmus het getuig oor die
omstandighede wat tot die ondertekening van die borgakte aanleiding
gegee het. Sy het gesê dat dit standaard praktyk van die
eiser is dat as daar meerdere trustees is, al die trustees
borg moet
teken vir die trust se skuld. Sy het egter nagelaat om toe te
sien dat die eerste borgakte deur die tweede verweeerder
onderteken
word. Toe die fout agtergekom is, was sy in die moeilikheid by
haar werkgewer. Sy het die derde verweerder
geskakel en ‘n
afspraak gereël. Haar senior, Mnr. Kobus Viljoen, het haar
na die plaas vergesel. Toe hulle
op die plaas kom, het die
derde verweerder en Viljoen uitgestap na die hoenders. Die
trust het op hierdie plaas, wat slegs
ongeveer 40 ha groot is, met
hoenders geboer. Me Erasmus het aan die tweede verweerder verduidelik
dat sy in die moeilikheid was
en hom gevra om haar te help om uit die
moeilikheid te kom. Sy het getuig dat die tweede verweerder
glad nie moeilik daaroor
was nie en dat hy die borgakte geteken het
nadat hy vrae gevra het. Die besonderhede wat sy op die
borgakte ingevul het,
het sy van die tweede en die derde verweerders
gekry.
[12]
Die derde verweerder het getuig dat hy ‘n goeie verhouding met
sy pa het. Sy pa maak egter altyd die finale besluite
en as hy
nee sê, verander hy nie van besluit. Die derde verweerder
het voordat hy saam met sy pa begin boer het, in
die VSA met mielies
geboer. Met sy terugkeer, is hy in die plek van sy ma as
trustee van die trust aangestel en het hy en
sy pa, met gebruikmaking
van die trust as ‘n voertuig, saam begin boer. Afgesien
van die hoenders, het die trust op
ander plase in die omgewing, by
name Klippan en Palmietfontein, met skape en beeste geboer.
Die landerye op Klippan
is 53 ha groot en wanneer daar
tekens van droogte was, is voer soos hawer en radyse daar geplant.
Palmietfontien is volgens
die derde verweerder se skatting ongeveer
200 ha groot en die landerye daarop ongeveer 100 ha. Die derde
verweerder het gedink
dat dit goed sal wees om mielie-boerdery by te
voeg by die ander boerdery aktiwiteite van die trust. Hy het
gesê dat
daar nie voorheen op die plase waarop die trust geboer
het, mielies geplant is nie. Hy het die moontlikheid om mieles
te
plant met sy pa bespreek, maar dié het dadelik nee gesê.
[13]
Die derde verweerder het getuig dat hy deur Me Erasmus gekontak is
vir ‘n afspraak. Sy het hom meegedeel dat sy
by Jaco
Greeff gehoor het dat hy wil mielies plant. Hy het geweet dat
Jaco Greeff die takbestuurder van Obaro op Magaliesburg
was.
Die derde verweerder het nie getuig dat hy vooraf enige gesprek met
Jaco Greeff gehad het nie. Die enigste ander
persoon met wie
Greeff ‘n gesprek oor finansiering kon gehad het, is die tweede
verweerder.
[14]
Oor die besoek van Me Erasmus en die ondertekening deur hom van die
dokumente, het die derde verweerder getuig dat Me Erasmus
inligting
van hom gevra het en dat sy ook vir die finansiële state van die
trust, die trustakte en inligting oor die boerdery
gevra het.
Hy het getuig dat hy vir haar gesê het dat hy ‘n trustee
van die trust is maar dat hy nie vir haar
gesê het dat sy pa ‘n
trustee van die trust is nie. Sy getuienis dat hy nie vir haar
gesê het dat sy pa
‘n trustee is nie, is duidelik
onwaar. Die tweede verweerder se volle name en sy
identiteitsnommer is deur Me Erasmus
op die borgakte wat by daardie
geleentheid deur die derde verweerder onderteken is, ingevul.
Die enigste person by wie sy
daardie inligting kon gekry, was die
derde verweerder.
[15]
Op die eerste bladsy van die aansoek word inligting verlang oor
“
Oeste op hande”.
Teenoor “
Produk”
is die woorde “
Geel Mielies Droe Land”
ingevul.”
Teenoor “
Verbou op (plaasnaam)”
is “
Klaar
geoes”
ingevul en teenoor “
Verwagte oeswaarde”
is “
R680 000.00
” ingevul. Die
tweede verweerder het getuig dat hy hierdie inligting vir Me Erasmus
gegee het maar dat die mielies waarna
hier verwys word, mielies is
wat aangekoop is vir hoendervoer. Hy het in kruisverhoor gesê
dat die mielies in silo’s
was en het nie betwis dat die
inligting wat hy daaroor aan Me Erasmus verstrek het, vals was nie.
[16]
Die derde verweerder het getuig dat sy pa nie teenwoordig was toe Me
Erasmus gedurende Oktober 2008 vir hom die kwotasie vir
die verlening
van finansiering in die bedrag van R615 950.00 gebring het en hy
die kwotasie aanvaar en onderteken het nie.
Sy getuienis was
dat hy alles agter sy pa se rug gedoen het omdat hy geweet het dat sy
pa teen die plant van mielies gekant was.
Dit is in
kruisverhoor aan hom gestel dat indien hy nie wou hê dat sy pa
moet uitvind waarmee hy besig is nie, daar ‘n
risiko was dat sy
pa vir Me Erasmus sou sien en hom dan op heterdaad sou betrap.
Sy onoortuigende antwoord was dat hy nie
so daaraan gedink het nie.
[17]
Na die toestaan van die lening deur die eiser, het die derde
verweerder voortgegaan met reëlings vir die aanplant van
mielies
op Klippan, Palmietfontein en Rietfontein (waarna in getuienis verwys
is as Rietfontein 2 om dit te onderskei van die Rietfontein
plaas
waar die tweede en derde verweerders woonagtig was). In die
geval van Rietfontein 2, het die derde verweerder ‘n
huurkontrak in die naam van die trust aangegaan met die eienaar, Mnr
Ben Wilken. Die derde verweerder het getuig dat hy vir
Wilken,
vir wie die tweede verder goed geken het, gevra het om dit vir
homself te hou en nie vir die tweede verweerder daarvan
te sê
nie. Die plaas Klippan het aan die derde verweerder se ma se
broer, Mnr Neels Meyer, behoort maar wat nie self
op die plaas geboer
het nie. Die bestaande reëling was dat die verweerders die
plaas kon gebruik sonder betaling van
huurgeld en dat hulle net die
plaas in stand moes hou. Die derde verweerder het dit nie nodig
geag om met Mnr Meyer te praat
oor sy plan om mielies op Klippan te
plant nie. Die plaas Palmietfontein het aan die Jenko Trust,
waarvan ene oom Ben (nie
Ben Wilken nie) die trustee was, behoort.
Die derde verweerder se getuienis was dat sy pa die lande van
die plaas by oom
Ben gehuur het. Die ooreenkoms met oom Ben,
wat swaar gekry het, was dat daar nie huurgeld betaal word nie, maar
dat as “ons”
mielies plant, hy die mieliereste vir
veevoer kan kry. Hierdie getuienis is natuurlik strydig met die
derde verweerder se
getuienis dat sy pa gekant was teen die plant van
mielies.
[18]
Die derde verweerder het in kruisverhoor getuig dat sy pa vir Jaco
Greeff geken het as ‘n seuntjie wat saam met die derde
verweerder op skool was. Hy het aanvaar dat Greeff die dag toe
hy saam met Me Erasmus op die plaas was, vir sy pa sou gesê
het
dat hy die takbestuurder van Obaro in Magaliesburg was. Hy is
verwys na Me Erasmus se getuienis dat Greeff by die kerk
vir sy pa
gesê het dat hulle finansiering soek. Sy antwoord daarop
was dat hulle nie in dieselfde kerk is nie.
Hy is toe gevra
waarom hy nie vir die verweerders se advokaat gesê het dat dit
nie die waarheid is nie. Sy antwoord
was dat hy die getuienis
gehoor het maar dat hy nie die vorige dag toe Me Erasmus getuig het,
baie lekker gevoel het nie.
Hy is toe gevra of hy self by ‘n
kerkgeleentheid so ‘n opmerking teenoor iemand gemaak het.
Sy antwoord was “ek
sou seker”. Hy het bygevoeg dat
hy sou gesê het hy wil mielies plant en het verder bygevoeg dat
hy nie kan onthou
wie die persoon is vir wie hy dit gesê het
nie. Ek vind dit baie onwaarskynlik dat die derde verweerder,
indien dit
hy was wat navraag oor finansiering gedoen het, nie kan
onthou of hy met Greeff of iemand anders gepraat het nie. Dit
was
‘n groot projek wat hy na bewering op sy eie aangepak het
om ‘n droom te verwesenlik. Sy aanvanklike oogmerk was
om
420 ha mielies te plant waarvoor hy vir finansiering ten bedrae van
R1 837 000.00 aansoek gedoen het.
[19]
Die derde verweerder het in kruisverhoor toegegee dat sy pa vir Me
Erasmus tydens hulle ontmoeting op die plaas sou gevra het
van waar
af sy kom en dat sy sou geantwoord het dat sy van Obaro of Statusfin
af kom. Hy is daarna gevra oor sy pa se gesprek
met Jaco
Greeff. Die getuienis het soos volg verloop:
“
So
hier kom nou ‘n takbestuurder van ‘n tak aan wat nie
veronderstel is om normaalweg hier uit te kom nie. Korrek?
---
Dit is reg , ja
Dit lyk snaaks.
--- Dit was sy eerste keer. Dit was sy eerste keer wat hy daar
was.
Dit lyk snaaks nê?
--- Ja, dit is vreemd.
Dit is vreemd.
Ja. Goed. So u vader sou hom seker gevra het, my magtig
Jaco nou wat … waarmee kan ons jou
help? Kom kuier jy ‘n
bietjie hier of wat kom maak julle kerels hier? --- Hy sou hom
seker gevra het.
Ja.
En hulle sou seker die eerlike antwoord gegee het nee, ons is hierso
om vir julle
(te)
help
met finansiering. --- Daar is ‘n moontlik … ja hy
kon dit gesê het ja.
Dan het u pa mos
geweet … dan het u pa mos geweet hulle is daar en hulle is
daar om finansiering te oorweeg, nie waar nie?
--- Ek …
hy kon ook … ja, hy kon.
Wel, op die
waarskynlikhede as ons so deur die getuienis gaan, dan sal u met my
saamstem, nie waar nie, dat die mees waarskynlike
ding is dat weens u
vader se interaksie met hierdie twee verteenwoordigers van Statusfin
hy geweet het hulle is daar om finansiering
te bemark? --- Ja,
dat ons praat … wil praat oor mielies.
Ja. Goed.
O, nogal oor mielies ook? --- Ja, want mielies word mos geplant
in die omgewing.
Goed. So met
ander woorde u sê hulle sou … hy sou nie net geweet het
hulle praat … julle gaan oor finansiering
praat nie, maar
julle gaan oor finansiering vir mielies praat, nie waar nie? ---
Nee, ek sou dit nie … nee.
Verander u nou u
getuienis? --- Nee, ek verander nie die getuienis nie.
Ja? Dit is wat
u gesê het. --- Ja, oordat daar mielies geplant word en
‘n koöperasie het so baie dinge
in hom in, dit kon oor
mielies gewees het.
Ja. ---Maar
dit is nie dat dit die … honderd present uitsluitlikis dat jy
net altyd…net oor ‘n mielie
sal praat nie.
Nee,
maar dit sal honderd present oor finansiering wees en miskien oor
mielies. Korrek? --- Ja, dit … ja.”
(My
beklemtoning)
[20]
Hoewel die derde verweerder aan die einde prober terugkrabbel het, is
dit uit sy aanvanklike getuienis duidelik dat die tweede
verweerder
sou geweet het dat die twee verteenwoordigers daar was om te praat
oor finansiering vir die plant van mielies.
Die derde
verweerder is daarna gevra oor die gesprek wat hy later die aand met
sy pa gehad het. Hy het toegegee dat hy vir
sy pa gesê
het dat hy daardie middag met Me Erasmus en Jaco Greeff oor
finansiering vir die plant van mielies gepraat het.
Hy het
egter ontken dat hy vir sy pa gesê het dat hy namens die trust
aansoek gedoen het vir finansiering. Hy het gesê
hy het
maar “
om die ding gepraat”
. Hy kon nie sê
hoe hy daar om gepraat het nie. Dit is weer aan hom gestel dat
uit die gesprek wat hy die aand
met sy pa gehad het, sy pa sou geweet
het dat hy die mense van die eiser gesien het vir finansiering vir
mielies, wat hy erken
het. Hy is toe gevra of sy pa hom daaroor
aangespreek het. Sy antwoord was dat “
die kans is goed
dat hy met my sou gepraat het oor dit en dat ek nie moet aangaan met
dit nie”.
Hy weet egter nie wat hy toe daarop vir sy
pa gesê het nie.
[21]
Hierdie getuienis van die derde verweerder is onoortuigend. Al
die boerdery besigheid wat die tweede en derde verweerders
tot op
daardie stadium gedoen het, is in die naam van die trust gedoen.
Die derde verweerder het gereeld op naam van die
trust aankope vir
die boerdery gedoen. Sy pa het nie ‘n probleem daarmee
gehad nie. Die stroper, planters en
ander implemente wat aan
die trust behoort, en waarvoor die derde verweerder geheel of
gedeeltelik betaal het met geld wat hy in
die VSA verdien het, is
gebruik om inkomste vir die trust te verdien deur op ander boere se
plase plant- en stroopwerk te doen.
Die tweede verweerder moes
geweet het dat indien daar deur die derde verweerder aansoek vir
finansiering vir die plant van mielies
gedoen sou word, dit in die
naam van die trust gedoen sou word. Hy het geen rede gehad om
te dink dat die derde verweerder,
wat nie enige bates van sy eie
gehad het nie, dit in eie naam sou doen nie. Indien die tweede
verweerder so sterk gekant
was teen die plant van mielies soos wat
die derde verweerder, en ook die tweede verweerder, getuig het, sou
mens verwag het dat
die tweede verweerder nie slegs sou gesê
het dat die derde verweerder nie daarmee moet aangaan nie. Hy
sou hom uitdruklik
verbied het om dit te doen.
[22]
Volgens die tweede en die derde verweerders se getuienis, het die
tweede verweerder vir die eerste keer uitgevind van wat die
derde
verweerder mee besig was toe die tweede verweerder op ‘n dag
een van die trust se werknemers met die trekker en ‘n
planter
gekry het op pad van die stoor op Klippan na Rietfontein 2. Dit
was aan die einde van November 2008 toe die derde
verweerder sou
begin het om te plant. Volgens die derde verweerder was sy pa
baie kwaad en moes hy toe met die sak patats
uitkom. Hy het vir
sy pa gesê dat hy in die naam van die trust finansiering by die
eiser gekry het. Daar is vir
hom gevra of sy pa nie toe
voorgestel het dat, aangesien die derde verweerder sonder sy wete en
toestemming opgetree het en die
trust op risiko was, die eiser
geskakel word om die hele ding te stop nie. Sy antwoord was dat
hy vir sy pa gesê het
dat hy versekering by Santam verkry het
en as daar nie ‘n oes is nie, Santam sal betaal. Hy het
dit gesê om sy
pa gerus te stel. Dit het egter uit sy
verdere getuienis geblyk dat die versekering op daardie stadium nog
nie in plek was
nie.
[23]
Dit blyk uit die tweede verweerder se getuienis dat hy nie, toe hy
hiervan uitgevind het, die eiser geskakel het en ingelig
het dat hy
nie geweet het dat die derde verweerder namens die trust vir
finansiering aansoek gedoen het nie, en dat hy as mede-trustee
gekant
was teen die plant van mielies nie. Hy het ook nie gepoog om
die transaksie te kanselleer nie. Dit moet onthou
word dat toe
die tweede verweerder die werker met die trekker en die planter
teëgekom het, daar nog geen mielies geplant was
nie.
[24]
Die derde verweerder was teenwoordig toe sy pa die borgakte op 25
Januarie 2010 geteken het. Sy pa se reaksie teenoor
hom was dat
“ons” hom in ‘n blik druk. Hy kon egter nie
onthou wat sy pa vir die eiser se verteenwoordigers
gesê het
nie. Indien sy pa erg kapsie teen die ondertekening van die
borgakte gemaak het, soos wat die tweede verweerder
getuig het, sou
mens verwag het dat die derde verweerder dit sou onthou het.
[25]
Die derde verweerder het nie as ‘n getuie beïndruk nie.
Hy het oor ‘n belangrike aspek nie die waarheid
gepraat nie,
naamlik dat hy nie vir Me Erasmus op 29 Augustus 2008 gesê het
dat sy pa ‘n trustee van die trust is nie.
Hy het dit
klaarblyklik gesê om sy weergawe te staaf dat hy alles agter sy
pa se rug gedoen het. Hy het egter skynbaar
vergeet dat sy pa
se besonderhede op die eerste borgakte deur Me Erasmus ingevul is en
dat hy die person is wat al die inligting
vir die voltooiing van die
dokumente aan haar verskaf het. Sy getuienis was dat hy gedink
het dat hy gemagtig is om alleen
te teken. Hy het in die verlede met
sy pa se goedkeuring alleen namens die trust gehandel. Dit is die
klaarblyklike rede waarom
hy dit nie nodig geag het dat sy pa die
aansoek onderteken nie, nie omdat hy die transaksie van sy pa wou
wegsteek nie. Die derde
verweerder het probeer voorgee dat hy die
persoon was wat vooraf met iemand oor finansiering gepraat het, maar
kon nie onthou wie
die persoon was en kon geen besonderhede van die
gesprek gee nie. Hy het dit waarskynlik gesê om weg te
kom van Me
Erasmus se getuienis dat Greeff deur die tweede verweerder
vir finansiering genader is.
[26]
Die tweede verweerder is ‘n trustee van die trust sedert die
stigting daarvan. Die huidige trustees is die tweede
verweerder, sy vrou en die derde verweerder se jonger broer.
Die trust begunstigdes is die tweede verweerder, sy vrou en
hulle vyf
kinders.
[27]
Die tweede verweerder het getuig dat hy geheel en al gekant is teen
akkerbou. Op ‘n stadium het die tweede verweerder
en sy
jonger broer hom gevra of hulle mielies kan plant. Sy antwoord
was nee. Hy het gesê dat hy geen aandeel
in die dokumente
gehad het wat deur die derde verweerder onderteken is nie. Die
eerste keer wat hy bewus geword het dat daar
mielies geplant word,
was toe hy die werker met die trekker en die planter langs die pad
gekry het wat hom meegedeel het dat hy
op pad is om mielies te
plant. Hy het daarna vir die derde verweerde gekonfronteer en
was baie kwaad. Hy kan nie onthou
wat die derde verweerder vir
hom gesê het nie. Hy het nie toe vir die eiser enigiets
laat weet nie. Hy het getuig
dat hy homself net van alles
gedistansieer het.
[28]
Die tweede verweerder weet van die geleentheid wat Me Erasmus by
hulle op die plaas geëet het. Hy het gaste gehad
en daar
is gladnie aan tafel oor finansiering gepraat nie. In
kruisverhoor het hy gesê dat hy nie geweet het dat Me
Erasmus
en Jaco Greeff van Statusfin was nie. Hy is gevra of hy nie homself
aan Me Erasmus voorgestel het nie. Sy antwoord
was dat hy haar
gesien het, maar dat hy sy eie gaste gehad het en dat hy nie glo dat
hy eers haar naam gehoor het nie. Hy
het vir Jaco Greeff geken
en het hom gevra na sy ouers. Hy het nie geweet dat Greeff die
takbestuurder van die eiser Magaliesburg
tak was nie. Hy weet
nie wat sy kinders doen nie en het nie vir Me Erasmus of Jaco Greeff
gevra wat hulle daar maak nie.
[29]
Hy is verder in kruisverhoor gevra of hy die derde verweerder later
daardie dag weer gesien het. Hy kon dit nie onthou
nie.
Hy is gevra of hy, toe hy die derde verweerder weer sien, hom gevra
het wat die mense daar kom maak het. Sy antwoord
was dat hy hom
nie met die kinders se besigheid inmeng nie. Hy het dit nie
vreemd gevind dat hy nie geweet het waar die mense
vandaan gekom het
en het ook nie later vir die derde verweerder daaroor gevra het nie.
[30]
Nadat die tweede verweerder uitgevind het dat die derde verweerder
besig was om mielies te plant en hom daaroor gekonfrontweer
het, het
die derde verweerder net vir hom gesê dat hy finansiering
verkry het. Die tweede verweerder het hom nie gevra
by wie hy
die finansiering verkry het of namens wie hy dit verkry het nie.
Hy is gevra of hy nie daarna gedink het dat dit
belangrik was om uit
te vind namens wie die finansiering gedoen is nie. Sy antwoord
was ja, maar dat die derde verweerder
net vir hom gesê het dat
hy nie bekommerd moes wees nie aangesien daar versekering uitgeneem
is. Hy kon nie onthou
of hy uitgevind het by wie die
versekering uitgeneem is nie. Toe hy op ‘n stadium
uitgevind het dat die finansiering
opgeneem is in die naam van
die trust, was hy erg ontsteld. Hy het egter nie daaraan gedink
om uit te vind by wie die finansiering
verkry is of vir hoeveel nie.
Hy wou nie weer ‘n argument met die derde verweerder
ontlok nie.
[31]
Ten spyte van sy beweerde onbetrokkenheid by die mielies, het die
tweede verweerder saam met sy vriend Ben Wilken na die stand
van die
mielies gaan kyk en vir Wilken gesê dat ‘n opbrengs van
meer as 5 of 5,5 ton per ha nonsens was en dat hy,
die tweede
verweerder, ‘n misoes verwag. Die derde verweerder se
getuienis was dat Santam se verteenwoordigers, na
inspeksies wat
hulle gedoen het, van mening was dat die opbrengs 5 tot 5,5 ton per
ha sou wees. Die syfer van 5 tot
5,5 ton per ha het die
tweede verweerder klaarblyklik by die derde verweerder gekry. Die
tweede verweerder is in kruisverhoor
verwys na ‘n verslag van
Santam se verhoudingsbestuurder in Klerksdorp, ene Gideon Roux,
waarin gemeld word dat, nadat die
derde verweerder vir Roux geskakel
het en meegedeel het dat die opbrengs op Rietfontein 2 slegs 1.7 ton
per ha was nadat daar gestroop
is, die tweede verweerder die seuns
gestop het en hulle opdrag gegee het om ‘n opbrengsbepaling aan
te vra op die ander twee
plase. Die tweede verweerder moes dus
bewus gewees het van Santam se vereistes in hierdie verband.
Die tweede verweerder
kon nie onthou dat hy dit gedoen het nie nie,
maar bygevoeg dat enige bobbejaan enigiets op skrif kon stel.
Dit was ‘n
belaglike stelling om te maak en is klaarblyklik
gemaak met die bedoeling om hom te distansieer van enige
betrokkenheid by die
verbouing van die mielies. Indien hy nie
by die verbouing van die mielies betrokke was nie, was hy nie in die
posisie om
enige opdragte aan die seuns te gee nie.
[32]
Oor sy ondertekening van die borgakte op 25 Januarie 2010 het die
tweede verweerder getuig dat Me Erasmus hom geskakel het
vir ‘n
afspraak en dat die tweede verweerder teenwoordig was toe sy en ‘n
man met ligte hare op die plaas aangekom
het. Die tweede
verweerder het getuig dat hy gekant was teen die ondertekening van ‘n
borgakte en dat hy erg kapsie
daarteen gemaak het. Me Erasmus
het hom gevra om asseblief die borgakte te teken want daar was groot
moeilikheid omdat hy
nie aanvanklik as borg geteken het nie.
Die ander persoon het dit ook gesê. Hy het vir hulle gesê
dat as
hy toestemming (vir die transaksie) gegee het, hy borg sou
teken, maar dat hy nie toestemming gegee het nie. Hulle het vir
hom gesê daar sal niks gebeur as hy teken nie, hulle word net
gedruk dat die papierwerk moet regkom. Hy het toe die
borgakte
onderteken. Hierdie getuienis is nie aan Me Erasmus gestel toe
sy gekruisverhoor is nie. Soos gemeld, was
haar getuienis dat
sy aan die tweede verweerder verduidelik het dat sy in die
moeilikheid was en hom gevra het om haar te help
om uit die
moeilikheid te kom en dat die tweede verweerder glad nie moeilik
daaroor was nie en die borgakte geteken het nadat hy
vrae gevra het.
[33]
Die tweede verweerder is gevra of hy aan sy regsverteenwoordigers
gesê het dat hy mislei is om die borgakte te teken.
Hy
het geantwoord dat hy dit vir óf sy advokaat óf sy
prokureur gesê het. Dit is toe aan hom gestel dat
indien
hy dit vir een van hulle sou gesê het, dit as ‘n verweer
gepleit sou gewees het en dat dit iets was wat hy in
die getuiebank
uitgedink het. Hy het nie op een van die twee stellings
geantwoord nie.
[34]
Die tweede verweerder is gevra hoekom hy nie, toe hy gevra is om borg
te teken, gesê het dat die eiser na die versekering
moet kyk en
geweier het om borg te teken nie. Sy antwoord was dat hy
geteken het omdat Me Erasmus vir hom gesê het
dat sy in die
moeilikheid was. Volgens hom het hy nog nie op daardie stadium geweet
dat daar probleme met die versekeringseis was
nie en het hy eers teen
die middel van 2010 daarvan uitgevind het. Toe dit aan hom
gestel is dat indien hy nie geweet het
van die probleme met die
versekering nie, hy nie die borgakte sou geteken het nie, het hy weer
gesê dat hy geteken het omdat
daar vir hom gesê is dat Me
Erasmus in die moeilikheid was en dat sy haar werk gaan verloor.
Toe dit aan hom gestel
is dat sy nie gesê het sy gaan haar werk
verloor nie, het hy saamgestem. Dit was met ander woorde iets
wat hy net daar
in die getuiebank uitgedink het.
[35]
Die tweede verweerder se getuienis dat hy gekant was teen die
ondertekening van ‘n borgakte en dat hy erg kapsie daarteen
gemaak het toe hy gevra is om die borgakte te teken, is waarskynlik
ook iets wat hy in die getuiebank uitgedink het. Toe
hy in
kruisverhoor gevra is waarom dit nie aan Me Erasmus gestel is nie,
was sy antwoord dat hy nie in die hof kon praat nie.
Me Erasmus
se hoofgetuienis is voor die middagete verdaging op die eerste dag
van die verhoor voltooi en haar kruisverhoor het
eers na die
verdaging begin. Daar was dus ruim geleentheid vir die tweede
verweerder om met sy regsverteenwoordigers te kommunikeer
en hulle
van instruksies te voorsien.
[36]
Die tweede verweerder het nie as ‘n geloofwaardige getuie
beïndruk nie. Soos hierbo gemeld, het hy getuienis
gegee
wat hy in die getuiebank uitgedink het. Hy was ontwykend en het
gesê dat hy sekere dinge nie kon onthou nie terwyl
mens sou
verwag het dat hy, in die lig van sy beweerde streng teenkanting teen
die plant van mielies, dit duidelik in herinnering
sou kon roep.
Daar is ‘n poging in herverhoor aangewend om sy gebrekkige
geheue aan sy ouderdom van byna 70 toe te
skryf, maar my indruk was
dat hy helder van verstand is.
[37]
Wat verder van belang is, is die onwaarskynlikhede in die tweede
verweerder asook die derde verweerder se weergawes.
Dit
is na my mening totaal onwaarskynlik dat die tweede verweerder nie
tydens die middagete op 29 Augustus 2008 sou uitgevind het
wie Me
Erasmus is en dat sy en Jaco Greeff van die eiser afkomstig was nie.
Die derde verweerder het beaam dat sy pa dit
waarskynlik vir die
mense sou gevra het. As die tweede verweerder geweet het dat
hulle van die eiser af is, sou hy geweet
het hulle is daar om
besigheid te doen. Die derde verweerder het toegegee dat weens
die tweede verweerder se interaksie met
hierdie twee
verteenwoordigers van die eiser, hy sou geweet het hulle is daar om
finansiering te bemark vir mielies. En as
hy dit geweet het,
was hy klaarblyklik tevrede dat die derde verweerder voortgaan om die
nodige reëlings vir die finansiering
met hulle te tref. Hy
moes ook, soos vroeër gemeld, besef het dat die derde verweerder
dit in die naam van die trust
sou doen aangesien die derde verweerder
nie enige bates van sy eie gehad het nie en alle boerdery besigheid
tot op daardie stadium
in die naam van die trust gedoen is.
[38]
Wat die onwaarskynlikheid van die tweede en derde verweerders se
weergawe dat die tweede verweerder nie geweet het waarmee
die derde
verweerder besig is nie, verder ondersteun, is die daaropvolgende
gedrag van die tweede verweerder. Nadat hy uitgevind
het dat
daar in die naam van die trust aanoek om finansiering gedoen is, het
hy niks gedoen om uit te vind by wie daar aansoek
gedoen is en vir
watter bedrag nie. Toe hy gevra is waarom hy nie navraag gedoen
het nie, was sy antwoord dat die tweede
verweerde hom gerusgestel het
dat daar versekering uitgeneem is. Voordat die derde verweerder
begin het om te stroop, het
die tweede verweerder die mening gevorm
dat daar ‘n misoes sou wees. Soos gemeld, blyk dit uit
die verslag van Santam
se verhoudingsbestuurder dat die tweede
verweerder met hom gepraat het en hom meegedeel het dat hy die derde
verweerder en sy broer
gestop het om verder te stroop en hulle opdrag
gegee het om ‘n opbrengsbepaling op die ander twee plase aan te
vra.
Die tweede verweerder het dus van die versekering geweet
en sou op waarskynlikhede bewus gewees het van die probleem
rondom
die uitbetaling van ‘n versekeringseis op die stadium
toe hy die borgakte in Januarie 2010 onderteken het. Indien hy
nie daarvan bewus was nie, soos wat hy getuig het, sou mens verwag
het dat hy sou geweier om die borgakte te teken en vir die eiser
se
verteenwoordigers gesê het om betaling van die versekeraar te
eis.
[39]
‘n Verdere onwaarskynlikheid dat die derde verweerder agteraf
en sonder die kennis van die tweede verweerder met die
eiser vir
finansiering gereël het, is die feit dat die derde verweerder
met Me Erasmus ‘n afspraak gemaak het om hom
by die huis op die
woonplaas te kom sien. As hy dit agteraf wou gedoen het, is dit
hoogs onwaarskynlik dat hy die ontmoeting
by die plaas sou gereël
het waar sy pa haar sou kon raakloop en navraag doen oor wat sy daar
kom maak. Hy sou sekerlik
dan die ontmoeting op ‘n ander
plek, byvoorbeeld by Me Erasmus se kantoor, gereël het.
Die volgende ontmoeting
met Me Erasmus in Oktober 2008 het weer op
die plaas plaasgevind. Dit is onwaarskynlik dat die derde
verweerder dit so sou
gereël het as die tweede verweerder nie
geweet het waarmee hy besig is nie.
[40]
In
Land
and Agricultural Bank of South Africa v Parker & Others
[1]
het Cameron AR die volgende ten opsigte van familie trusts gesê:
“
[37.1]
As mentioned earlier, within its scope the rule that outsiders
contracting with an entity and dealing in good faith may assume
that
acts performed within its constitution and powers have been properly
and duly performed, and are not bound to inquire whether
acts of
internal management have been regular, may well in suitable cases
have a useful role to play in safeguarding outsiders
from
unwarranted contestation of liability by trusts that conclude
business transactions
[37.2] The inference
may in appropriate cases be drawn that the trustee who concluded the
allegedly unauthorised transaction was
in fact authorised to conduct
the business in question as the agent of the other trustees. (In
Nieuwoudt,
[2]
the matter was sent back for evidence to be heard on how the
farmer there conducted the ordinary business of farming without
being
authorised thereto
by his wife, the other trustee.) Such an inference may in a suitable
case be drawn from the fact that the other
trustees previously
permitted the trustee or trustees in effective charge of affairs free
rein to conclude contracts. A close identity
of interests between
trustee-beneficiaries, as in most family trusts, may make it possible
for the inference of implied or express
authority to be more readily
drawn.”
[41]
Ons het hier te doen met ‘n familie trust wat boerdery
besigheid bedryf en waar dit blyk dat die tweede verweerder in
die
verlede die derde verweerder toegelaat het om besigheid in die naam
van die trust te doen. Die tweede verweerder het
waarskynlik
ook met die uitdruklike of stilsyende toestemming van die derde
verweerder dieselfde gedoen. Hulle het eers van
die bepalings
in die trustakte dat besluite deur ‘n meerderheid van trustees
geneem moet word, bewus geword toe hulle met
hul
regsverteenwoordigers gekonsulteer het nadat die huidige aksie teen
hulle ingestel is. In die lig van al die omstandighede,
die
waarskynlikhede en onwaarskynlikhede hierbo uiteengesit, asook die
onbetroubaarheid van die tweede en derde verweerder se getuienis,
is
hierdie ‘n geval waar dit na my mening met veiligheid aanvaar
kan word dat die tweede verweerder die derde verweerder
uitdruklik of
ten minste stilswyend gemagtig het om namens die trust met die eiser
te kontrakteer vir die finansiering.
Die
versekeringseis
[42]
Daar is na my mening nie meriete in die verweerders se verweer dat
die eiser nalatiglik versuim het om ‘n eis vir die
oesverlies
by Santam in te dien nie, welke eis aldus die verweerders sou geslaag
het en enige skuld van die verweerders sou uitgewis
het. Dit
het uit die getuienis geblyk dat die derde verweerder bewus was van
die polisvoorwaarde dat indien dit by die aanvang
van die stropery
sou blyk dat die opbrengs swak sou wees, Santam gekontak moes word om
‘n opbrengsbepaling te doen voordat
enige mielies
weggery
word. Ten
spyte
van die tweede verweerder se
waarskuwing van ‘n misoes, het die derde verweerder vir ten
minste drie dae voortgegaan om die
totale land op Rietfontein 2 klaar
te stroop voordat hy Santam versoek het om ‘n opbrengsbepaling
op die ander twee plase
te doen. Santam het gevolglik die eis
gerepudieer. Die eiser is deur sy regsverteenwoordigers
geadviseer dat
‘n aksie teen Santam nie sou
slaag
nie, en hulle het daarna die
verweerders se regsverteenwoordigers in kennis gestel dat die eiser
nie van voorneme was om ‘n
aksie teen Santam in te stel nie en,
indien so geadviseer, die trust dit kon doen. Die eiser was
klaarblyklik gewillig om
enige regte wat die eiser ingevolge die
polis gehad het, aan die trust terug te sedeer. Dit is
gemeensaak dat die trust nie
van die aanbod gebruik gemaak het nie.
Gevolgtrekking
[43]
Die gevolgtrekking waartoe ek in die lig van die voorgaande geraak
het, is dat die
derde
verweerder wel die nodige magtiging gehad het om namens die trust die
finansieringsooreenkoms met die eiser te sluit en dat
die verweerders
se verweer dat hy nie die nodige magtiging gehad het nie, verwerp
moet word. Dit is gevolglik nie nodig om met
die eiser se
alternatiewe skuldoorsake te handel nie
[44]
Wat die
quantum
van die eiser se eis betref, steun die eiser
op ‘n sertifikaat wat ingevolge klousule 14.1 van die kontrak
deur Me Lynette
Douglas, ‘n regsadviseur in diens van die
eiser, uitgereik is. Daarvolgens het die verskuldige bedrag op
20 September
2010 R545 705.75 beloop. Die korrektheid van
die sertifikaat is nie tydens Me Douglas se kruisverhoor betwis nie.
Die
partye is dit eens dat die toepaslike moratore rentekoers 15,5%
per jaar is.
[45]
Vonnis word gevolglik teen die eerste en tweede verweerders
toegestaan, as een betaal die ander kwytgeskeld te word, vir:
[a]
Betaling van die bedrag van R545 705.75;
[b] Betaling van rente
op gemelde bedrag teen 15,5% per jaar
a tempore morae
;
[c] Koste van die
geding, insluitend die koste van senior advokaat.
Advokaat vir die eiser:
Adv. M P van der Merwe SC
In opdrag van: Couzyn
Hertzog & Horak, Pretoria
Advokaat vir die 1e en
2e verweerders: Adv. W A F Strydom
In opdrag van: Magda
Kets Prokureur, Pretoria
[1]
2005 (2) SA 77
(SCA)
[2]
Nieuwoudt &
Another NNO v Vrystaat Mielies (Edms) Bpk
2004
(3) SA 486
(SCA)