About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
>>
2016
>>
[2016] ZAGPPHC 722
|
|
Monsanto South Africa (Pty) Ltd v Vectobiz (Pty) Ltd and Another (20699/2015) [2016] ZAGPPHC 722 (18 August 2016)
IN
DIE HOë HOF VAN SUID-AFRIKA
(GAUTENG
AFDELING, PRETORIA)
SAAK
NOMMER: 20699/2015
Datum: 18/8/2016
Reportable:
No
Of
interest to other judges: No
Revised.
In
die saak tussen:
MONSANTO
SOUTH AFRICA (PTY) LTD
EISER
EN
VECTOBIZ
(PTY) LTD
EERSTE VERWEERDER
JOHAN
MARTIN LIEBENBERG
TWEEDE VERWEERDER
UITSPRAAK
TOLMAY,R:
INLEIDING:
[1] Die
eiser (Monsanto), ‘n maatskappy wat spesialiseer in die
verskaffing van mieliesaad aan boere, eis betaling van ‘n
bedrag van R1 097 855-48 plus rente en koste op ‘n skaal soos
tussen prokureur en kliënt van die verweerders.
[2] Eerste
verweerder (“Vectobiz”) is ‘n maatskappy wat sedert
ongeveer Desember 2011 mielieboerdery aktiwiteite
bedryf en wat
verskeie mieliesaadbestellings geplaas het by die eiser deur sy
gemagtidge verteenwoordiger die tweede verweerder
(“Mnr
Liebenberg”). Vectobiz het deel gevorm van die sogenaamde
Profert groep. Ramiscene (Pty) Ltd (Ramiscene) en Sceniblox
(Pty) Ltd
(Sceniblox) was ook maatskappye in die groep.Ramiscene het ‘n
naamsverandering ondergaan en het later bekend gestaan
het as Waltpro
(Pty) Ltd (Waltpro). Al hierdie maatskappye het boerdery aktiwiteite
bedryf en saad bestel by Monsanto. Die meesterbrein
van die groep was
Mnr Abrie van der Walt. Mnr Liebenberg was die skoonseun van Mnr van
der Walt. Mnr van der Walt is egter intussen
oorlede.Waltpro het 51%
aandele in Vectobiz gehou en Mnr Shawn Pretorius het 49% aandele in
Vectobiz gehou.
[3] Mnr
Liebenberg word as borg aangespreek vir die beweerde verskuldigheid
van Vectobiz aan die eiser.
[4] Die
eiser beweer dat saad bestel en gelewer is aan Vectobiz en dat
Vectobiz versuim het om die verskuldigde bedrag te betaal.
Die
verweerders ontken dat die saad gelewer is aan Vectobiz. Die
verweerders beweer dat die saadbestelvorm geteken op die naam
van
Vectobiz deur Mnr Shawn Pretorius, (“Mnr Pretorius”),
slegs ten doel gehad het om saad te reserveer, nie vir Vectobiz
nie,
maar vir die boerderyaktiwiteite van Mnr Pretorius, wat sy
boerderyaktiwiteite beoefen het in die entiteit bekend as Shawn
Pretorius Beesboerdery Bk.
[5] Die
verweerders betwis nie dat Mnr Pretorius in die naam van Vectobiz ‘n
bestelling kon plaas nie, maar voer aan dat dit
goed verstaan was dat
hierdie bestelling niks meer sou wees as ‘n tydelike
reservering van saad nie. Die verweerders voer
aan dat daar ‘n
vaste praktyk was dat alle bestellings finaal bekragtig moes word
voor lewering en dat lewering van saad
alleen kon plaasvind
ooreenkomstig Mnr Liebenberg se instruksies. Die verweerders voer aan
dat die eiser nie geregtig was om leweringsinstruksies
van Mnr
Pretorius te aanvaar nie.
[6] Mnr
Liebenberg voer aan dat hy nie gebonde is aan die borgstelling waarop
die eiser staatmaak nie. Die borgstelling is vervat
in ‘n
kredietaansoek wat Mnr Liebenberg op 23 Augustus 2012 namens Vectobiz
geteken het. Hy beweer dat hy geen bedoeling
gehad het om enigiets
meer te doen as om namens Vectobiz ‘n kredietaansoek te teken
nie.
DIE
GETUIENIS:
[7] Namens
die eiser het Mnr Mann en Mnr Reichel getuig.
[8]
Mnr Mann het getuig dat hy as verteenwoordiger vir eiser gewerk
het. Vectobiz het deel gevorm van die sogenaamde Profert
Groep wat
klaarblyklik ‘n groot rolspeler in boerdery aktiwiteite in die
Ventersdorp – Potchefstroom area was. Die
eiser het groot
besigheid met die groep gedoen. Mnr Liebenberg was volgens Mnr Mann
die persoon waarmee hy geskakel het vir bestellings
van Vectobiz
sowel as ander maatskappye in die Profert groep.Mnr Liebenberg het
bestellings geplaas, en kredietaansoeke geteken.
Hy het getuig dat
daar in 2012 aansienlike uitbreiding in die Profert groep voorsien is
wat sou insluit dat ander boere betrek
sou word. Twee aspekte is
volgens my belangrik in die verband. Eerstens, Mnr Shawn Pretorius is
volgens Mnr Mann glad nie op hierdie
stadium as een van daardie boere
geïdentifiseer nie en daar was tweedens ook geen getuienis dat
die gemagtigde persoon om
bestelling te plaas namens die Profert
groep iemand anders as Mnr Liebenberg sou wees nie, ten spyte van die
uitbreiding van die
boerderyaktiwiteite van die groep.
[9] Mnr
Mann het getuig dat dit die praktyk van die eiser was dat bestellings
vir saad deur kliënte geplaas sou word op ‘n
voorlopige
basis. Vectobiz en ander maatskappye in die Profert groep en ook
ander kliënte sou so ‘n bestelling plaas.
Hierdie
bestellings was egter net om eiser in staat te stel om ‘n
raming van die saad wat gelewer sou moes word in ‘n
seisoen te
maak. Die bestelling sou bevestig word voordat lewering plaasvind.
Geen aanspreeklikheid het gevolg uit die eerste bestelling
nie en dit
kon te enige tyd kanselleer word. Hy het getuig dat die bestellings
deur Mnr Liebenberg geteken is ten spyte daarvan
dat daar verskeie
bestuurders op die verskillende plase van Vectobiz en die res van die
Profert groep was. Geen lewering sou plaasvind
volgens hom alvorens
Mnr Mann nie weer met Mnr Liebenberg gepraat het en hy die bestelling
bevestig het nie. Kredietaansoeke sou
voltooi word deur kliënte
nadat die voorlopige bestellings ontvang is. Mnr Liebenberg het die
kredietaansoek namens Vectobiz
geteken.
[10] Gedurende
die betrokke seisoen was die aanvanklike bestellings van Vectobiz vir
saad groot aangesien voorsien is dat sekere
staatsgronde gehuur sou
word om bewerk te word. Hierdie het egter nie realiseer nie en die
bestellings is op die ou einde nie uitgevoer
nie.
[11] In
die kredietaansoeke wat deur Mnr Liebenberg onderteken is en wat
volgens Mnr Mann by hom afgelewer is en ‘n paar dae
later terug
ontvang is, is ‘n klousule vervat waarin die ondertekenaar
namens die entiteit wat aansoek doen vir krediet homself
as borg
verbind.
[12] Mnr
Mann het getuig dat op die stadium toe Mnr Liebenberg bestellings
geplaas het, hy glad nie bewus was van enige betrokkenheid
van Mnr
Shawn Pretorius by Vectobiz nie.
[13] Die
bestelling waaroor hierdie saak gaan se oorsprong was egter nie by
Mnr Mann of Mnr Liebenberg nie. Mnr Mann getuig dat
hy op ‘n
dag deur Mnr Reichel ‘n verteenwoordiger van Monsanto in die
Lichtenburg area, gebel is, wat hom gevra het
of hy Mnr Liebenberg
ken want hy moet hom gaan sien. Volgens Mnr Reichel het ‘n
kliënt van hom, Mnr Pretorius, ‘n
aanduiding gegee dat hy
saad deur Vectobiz gaan aankoop. Mnr Reichel het hom versoek om saam
met hom na Mnr Liebenberg te gaan.
Hy het telefonies ‘n
afspraak met Mnr Liebenberg gerëel.Hy en Mnr Reichel het Mnr
Liebenberg by Profert se kantore in
Potchefstroom gaan sien. Volgens
hom het Mnr Liebenberg by die geleentheid gesê dat Mnr
Pretorius saad deur Vectobiz kan
aankoop en ook daarvoor kan teken.
Volgens Mnr Mann het daar behalwe vir bogenoemde geen verdere
bersprekings op die dag plaasgevind
nie. Ek vind die getuienis vreemd
want volgens Mnr Mann self moes alle ander bestellings deur Mnr
Liebenberg goedgekeur word en
is hierdie proses nougeset gevolg en
mens sou verwag dat daar ten minste ‘n verduideliking sou wees
vir die afwyking van
die algemene gebruik en dat die terme en
voorwaardes waarop Mnr Pretorius bestellings kon plaas bespreek sou
word.Hy getuig dat
as gevolg van die feit dat Mnr Pretorius, wat Mnr
Reichel se kliënt was, ‘n bestelling sou plaas deur
Vectobiz wat groter
was as die wat deur Mnr Liebenberg geplaas is,
sou Mnr Mann ook die voordeel van Vectobiz se bestellings as deel van
sy portefeulje
verloor. Dit sou egter later blyk dat die Vectobiz
bestelling wat deur Mnr Liebenberg op daardie stadium, geplaas was,
veel groter
was as dié van Mnr Pretorius. Gevolglik weerspreek
die feite die korrektheid van Mnr Mann se getuienis.
[14] Mnr
Reichel, eiser se verteenwoordiger in die Lichtenburg area het getuig
dat hy 14 jaar ‘n verteenwoordiger van die
eiser is. Mnr
Pretorius wat op die stadium ‘n groot en bekende boer in die
Lichtenburg omgewing was het onder die naam Shawn
Pretorius Bees
Boerdery Bk geboer. Mnr Pretorius het ook die Massey Ferguson
agentskap in Lichtenburg gehad. Hy het ‘n kredietaansoek
by
eiser ingevul vir die bestelling van saad toe hy met eiser begin
besigheid doen het gedurende Augustus 2010. Uit hoofde van
die
aansoek is krediet aanvanklik aan Mnr Pretorius verleen en het hy
inderdaad saad van die eiser aangekoop vir die 2011/2012
seisoen.
[15] In
2013 het Mnr Pretorius ‘n voorlopige bestelling vir saad by
eiser geplaas, maar hy het nie sy rekening by eiser vir
die vorige
jaar se saad vereffen nie. Hy moes gevolglik ‘n skulderkenning
teken waarin sekere betalings voorwaardes vervat
was. Die
skulderkenning wat deur Mnr Pretorius geteken is, was vir die bedrag
van ± R2.5 miljoen. Mnr Pretorius het nie
sy verpligting
teenoor eiser in terme van die skulderkenning nagekom nie en die
tjeks wat deur hom gegee is ter betaling daarvan
is gedishonereer.
As gevolg van Mnr Pretorius se wanbetaling kon hy geen verdere saad
op krediet van eiser aankoop nie Toe Mnr
Reichel Mnr Pretorius
meedeel dat geen verdere krediet aan hom toegestaan sou word nie, het
Mnr Pretorius hom meegedeel dat hy
daardie jaar deur Vectobiz saad
sou koop. Mnr Pretorius het hom versoek om Mnr Liebenberg te skakel
om die reëling te bevestig.
Die streeksverteenwoordiger, Mnr
Engelbrecht het Mnr Reichel meegedeel dat Mnr Liebenberg Mnr Mann se
kliënt was. ‘n
Afspraak is toe gemaak om Mnr Liebenberg in
Potchefstroom te gaan sien.Op daardie stadium, het hy nie enige
kennis van Vectobiz
gehad nie.
[16] Mnr
Reichel, Mnr Engelbrecht en Mnr Mann is toe na Potchefstroom om Mnr
Liebenberg te gaan sien. Volgens hom het Mnr Mann
die afspraak met
Mnr Liebenberg gemaak. Hulle is na Potchefstroom waar Mnr Liebenberg
tydens die vergadering gesê het dat
Mnr Pretorius die grootste
bestelling van Vectobiz gaan plaas en dat bestellings vir Vectobiz
voortaan deur Mnr Pretorius geplaas
moes word. Volgens hom was daar
ook ‘n ander persoon van die Oos-Transvaal teenwoordig wie se
besigheid ook deur Mnr Mann
hanteer is. Mnr Mann het in sy getuienis
niks oor die teenwoordigheid van of Mnr Engelbrecht of hierdie
persoon gesê nie,
en ook nie dat Mnr Liebenberg sou gesê
het dat Mnr Pretorius die grootste bestelling sou plaas nie en in die
toekoms bestellings
vir Vectobiz sou plaas nie. Die feite sou toon
dat dit ook nie korrek was nie. Mnr Liebenberg se bestellings was op
daardie stadium
groter en is eers heel later kanselleer.
[17] In
opvolging van bogenoemde gesprek is Mnr Reichel terug na Mnr
Pretorius en is die bestelling op 11 September 2012 onderteken
deur
Mnr Pretorius en daar is uitvoering aan die bestelling gegee. Die
saad is aan Mnr Pretorius gelewer in Lichtenburg by sy Massey
Ferguson agentskap. Die woorde “Shawn se eie lande” is in
manuskrip op die bestelling aangebring nadat hierdie bestelling
nie
betaal is nie het Mnr Reichel geen verdere besigheid met Vectobiz of
Mnr Pretorius gedoen nie.
[18] Die
beskrywing op die bestelling naamlik “Shawn se eie lande”
kom vreemd voor as die weergawe van Mnr Reichel aanvaar
word. As Mnr
Pretorius namens Vectobiz boer, soos Mnr Reichel getuig het, waarom
is hierdie nota enigsins nodig? Mnr Reichel kon
geen aanvaarbare
verduideliking vir hierdie nota gee nie.
[19] Onder
kruisverhoor sê hy dat tydens die gesprek in Potchefstroom
bespreek is dat Mnr Pretorius voortaan die boerdery
van Vectobiz sou
hanteer. Die getuienis klop nie met Mnr Mann se getuienis nie en
strook nie met die feit dat Mnr Mann na hierdie
gesprek nog
bestellings vir Vectobiz geplaas het onder instruksie van Mnr
Liebenberg nie. Mnr Mann het ook nie getuig dat al Vectobiz
se
besigheid voortaan deur Mnr Pretorius hanteer sou word nie. Dit is
verder uiters onwaarskynlik dat Mnr Liebenberg dit sou gesê
het
veral gesien in die lig van die feit dat Verctobiz klaarblyklik op
verskeie plase geboer of beoog het om te boer, waar Mnr
Pretorius
glad nie betrokke was nie.
[20] Hierna
getuig Mnr Liebenberg namens die verweerder. Hy getuig dat hy ‘n
direkteur van Vectobiz was, asook van die maatskappye
Ramiscene (wat
later Waltpro geword het), en Seniblocks wat almal deel van die
Profert groep gevorm het. Tydens sy betrokkenheid
by Vectobiz en die
ander 2 maatskappye was sy funksie om operasioneel in beheer van die
doen en late op die verskillende plase
te wees. Daar was bestuurders
op die verskillende plase wat omgesien het na die dag tot dag
bedrywighede op die plase, maar hulle
het instruksies van hom ontvang
ten aansien van wat gedoen moes word. Hy was beslis dat niemand
behalwe hyself saad bestellings
geplaas het of gemagtig was om saad
bestellings te plaas nie. Sy getuienis was ook dat Mnr Abrie van der
Walt streng kontrole oor
die aktiwiteite van die maatskappye en oor
sy handelinge gehou het.
[21] Hy
getuig dat Mnr Pretorius ‘n 49% aandeel in die maatskappy
Vectobiz gehad het en Waltpro het ‘n 50% aandeel gehad.
Die
Profert groep het ‘n 50% aandeel in Waltpro gehad en ‘n
entiteit genaamd Hamwalt het die ander 50% aandeel in Waltpro
gehou.
Hy het getuig dat Mnr Shawn Pretorius huurkontrakte gehad het ten
aansien van sekere staatsgronde en die idee was dat Vectobiz
via Mnr
Pretorius op die staatsgronde sou boer. Daar is gevolglik ‘n
aandeelhouersooreenkoms tussen Mnr Pretorius en Ramiscene
(later
Waltpro) aangegaan wat tot gevolg sou hê dat Vectobiz op
hierdie gronde sou boer. In terme van die aandeelhouersooreentooms
sou Mnr Liebenberg die van dag tot dag bestuur onder toesig van die
direksie uitoefen. Die ooreerkoms bepaal ook dat besluite van
die
direkteure slegs van krag sal wees indien dit goedgekeur is deur ‘n
meerderheid van die direkteure. Mnr Pretorius het
egter geen rol
gespeel in die bestuur van Vectobiz nie en het ook geen rol gespeel
in die besluitneming ten aansien van die boerderyaktiwiteite
op die
plase nie. Hy het wel geboer in die naam van Shawn Pretorius
beesboerdery, maar nie Vectobiz of Mnr Liebenberg het enige
rol in
daardie boerdery gespeel nie.
[22] Mnr
Liebenberg sê dat hy van ongeveer 2005/2006 bekend was met Mnr
Mann. Hy getuig dat ten spyte van die feit dat daar
ander persone was
wat op die plase geboer het en dat byvoorbeeld Mnr Marius Cornelius
wat ‘n landboukundige en boer was en
ook betrokke was in die
Profert groep en ‘n bestuursposisie in een van die maatskappye
beklee het, het hy wat Mnr Liebenberg
was alle bestellings vir saad
geplaas en was niemand anders gemagtig om dit te doen nie. Die proses
was dat as ‘n plaasbestuurder
byvoorbeeld saad benodig sou daar
‘n aanvraag of rekwisisie wees en hy sou dit dan goedkeur of
nie. Daar sou konsultasie
met die betrokke plaasbestuurder wees oor
die hoeveelheid en tipe kultivar maar dan sou Mnr Liebenberg met Mnr
Mann konsulteer
en die bestelling plaas en teken. Voor aflewering sou
Mnr Mann hom kontak en sê dat die saad reg is en vra of
Monsanto dit
kan aflewer.
[23]
Hy getuig dat ten aansien van die 2012 bestellings hy bestelling
35246 vir saad geteken het. Die bestelling was vir R3
436 234-86 en
is geteken op 19 Julie 2012 vir die maatskappy Sceniblox.Op dieselfde
dag teken hy bestelling 35247 vir Vectobiz
in die bedrag van R1 681
291-20. Op 20 Augustus 2012 teken hy bestelling 35315 vir Vectobiz
vir ‘n bedrag van R5 304 798-10.
Op hierdie bestelling word
aangedui dat die bestelling die vorige bestelling 35241 vervang en
dit word 2 keer geteken deur hom.
Hy getuig dat die verwysing na no
35241 verkeerd is aangesien daar nie so ‘n bestelling vir
Vectobiz was nie en dat dit inderdaad
bestelling 35247 vervang het.
Die groot bestelling was geplaas omdat op daardie stadium voorsien is
dat sekere staatsgronde in
die Brits omgewing bekom sou word waarop
Vectobiz sou boer. Dit is belangrik om te let daarop dat hierdie
feite Mnr Mann se getuienis
dat Mnr Pretorius se bestelling die
grootste was as onwaar bewys.
[24] Dit
is op hierdie stadium wat Mnr Liebenberg die kredietaansoek geteken
het wat die klousule bevat het wat hom as borg aanspreeklik
maak. Hy
getuig dat hy nie die dokument enigsins gesien het as ‘n
borgkontrak wat hom aanspreeklik sou maak vir die skuld
van Vectobiz
nie.
[25] Hy
getuig dat hy geen kennis gedra het van die bestelling wat op 11
September 2012 deur Mnr Shawn Pretorius in die bedrag van
R3 966
138-00 in die naam van Vectobiz geplaas is nie.
[26] Hy
het wel geweet dat Mnr Shawn Pretorius dalk ‘n bestelling in
die naam van Vectobiz kon plaas, maar hy gee ‘n
agtergrond tot
hierdie bestelling wat direk teenstrydig is met die getuienis van Mnr
Mann en Mnr Reichel.Hy getuig dat gedurende
laat Augustus of vroeg
September 2012 hy ‘n oproep van Mnr Mann ontvang het. Mnr Mann
het Mnr Liebenberg meegedeel dat hy
‘n gesprek met Mnr Reichel
gehad het en dat Mnr Reichel gesê het dat Mnr Pretorius in die
proses is om krediet by Monsanto
te kry en hulle wil, klaarblyklik
voor die aansoek goedgekeur is, vir hom saad reserveer en of hulle
Vectobiz kan gebruik om solank
die saad te reserveer. Sodra sy
rekening goedgekeur is sal die saad oorgedra word na Mnr Pretorius se
rekening. Mnr Liebenberg
het nie ‘n probleem met die rëeling
gehad nie, aangesien hy geweet het dat geen aanspreeklikheid
voortvloei uit die
reservering van die saad nie, maar het spesifiek
gesê dat die saad op Mnr Pretorius se rekening gelewer moet
word sodra sy
rekening goedgekeur is. Niemand het hom laat weet dat
die bestelling van 11 September 2012 geplaas is en dat die saad
gelewer is
aan Mnr Pretorius nie. Niemand het ook gesê dat daar
moontlik probleme met die goedkeuring van die krediet sou wees nie of
dat Mnr Pretorius se tjeks by meerdere geleenthede gedishonoreer is
nie. Dit is belangrik om daarop te let dat nie Mnr Reichel
of Mnr
Mann getuig het dat Mnr Liebenberg op enige stadium ingelig is oor
Mnr Pretorius se wanbetalings en swak krediet rekord
by Eiser nie.
Mnr Liebenberg getuig dat, as hy bewus was van die stand van sake,
sou hy nie toestemming gegee het dat die saad
op Vectobiz se naam
gereserveer word nie.
[27] Op
25 September 2012, dus na Mnr Pretorius se bestelling onder bestelno
35667, word ‘n bestelling geplaas op Vectobiz
se naam en deur
Mnre Mann en Liebenberg geteken vir R1 084 490-00. Op hierdie
bestelling word dit aangedui dat die bestelling alle
vorige
bestellings vervang. Die rede waarom die bestelling aangepas is, was
omdat die plan om op staatsgronde in die Brits omgewing
aan te plant
nie gerealiseer het nie. Hierdie bestelling is ook eventueel
gekanselleer omdat die grond waarop die saad geplant
sou word nie
beskikbaar geword het nie. Hy getuig dat hy nooit deur Mnr Mann
ingelig is van Mnr Pretorius se bestelling of dat
Vectobiz nou onder
Mnr Reichel val nie. Die feit dat hierdie bestelling geplaas is
weerspreek Mnr Reichel se getuienis dat Mnr
Pretorius Vectobiz se
boerdery sou hanteer. Dit is ook eers op hierdie stadium wat die
bestelling van 20 Augustus 2012 vir R5 304
798-10 gekanselleer is,
dus kon Mnr Pretorius nie voor hierdie datum die groter bestelling
gehad het wat die verskuiwing van Vectobiz
na Mnr Reichel sou
regeverdig nie.
[28] Mnr
Liebenberg getuig dat Vectobiz nooit engie huurkontrakte met Mnr
Pretorius aangegaan het om op sy grond in die Lichtenburg
area te
boer nie.
[29] Volgens
die aandeelhouersooreenkoms het Mnr Pretorius nooit
verteenwoordigheidsbevoegdheid namens Vectobiz gehad nie. Mnr
Liebenberg het ook daarvolgens nie die bevoegdheid gehad om Mnr
Pretorius te magtig om Vectobiz te bind nie.
[30] Mnr
Liebemberg was nie bewus dat enige saad op Vectobiz se naam aan Mnr
Pretorius gelewer is nie. Hy het vir die eerste keer
hiervan bewus
geword gedurende Maart/April 2013. Hy het bewus geword van die
rekening toe Mnr Mann hom skakel en sê dat daar
nog bedrae
uitstaande is ten aansien van Ramiscene en Sceniblox en dat hulle dit
moet bespreek. Hy het dit nie verstaan nie, maar
het ingestem om dit
by Mnr Andrew Maher wat ook by Monsanto in diens was, te bespreek.
Volgens hom was die streeksbestuurder Mnr
Engelbrecht, Mnr Mann, Mnr
Maher, hyself en ‘n finansiële persoon van Monsanto wat hy
nie kon identifiseer nie, teenwoordig
by die vergadering. Hy het sy
rekonsiliasiestate van Ramiscene en Sceniblox by hom gehad en is dit
bespreek. Aan die einde van
die gesprek is gesê dat daar ook
nog Vectobiz se rekening was. Hy was stomsgeslaan aangesien, volgens
hom al Vectobiz se
bestellings gekanselleer was. Hy is toe meegedeel
dat daar ongeveer R3 miljoen uitstaande was. Hy het gesê dat
dit nie sy
saad is nie, maar Mnr Pretorius se saad. Mnr Maher het toe
aangedui dat dit niks met hom te doen het nie. Die vergadering het
klaarblyklik
geen oplossing gebring nie en Mnr Liebenberg getuig dat
hy uiters onsteld daar weg is.
[31] Die
Profert groep het nog in 2013 met Monsanto besigheid gedoen, maar
daarna glad nie as gevolg van die feit dat Vecobiz en
Mnr Liebenberg
toe aansgespreek is vir die uitstaande rekening ten aansien van die
saad gelewer aan Mnr Pretorius. Mnr Mann en
die nuwe
streeksbestuurder het Mnr Liebenberg in 2014 besoek en wou besigheid
met hom doen maar Mnr Liebenberg het as gevolg van
die insident
geweier om verder met Monsanto besigheid te doen.
[32] Tydens
kruisverhoor het Mnr Barrie namens die eiser baie klem gelê op
die verhouding wat Mnr Pretorius met die Profert
groep gehad het. Die
doel daarmee was klaarblyklik om ‘n basis vir die bewys van
oënskynlike magtiging te lê.
Mnr Liebenberg het egter
volhard met sy weergawe dat niemand behalwe hy bestellings kon plaas
en bekragtig nie. Daar is ook getuienis
gelei dat Mnr Opperman, Mnr
Pretorius en Mnr Liebenberg direkteure van Vectobiz was, maar beide
Mnr Liebenberg en Mnr Mann het
getuig dat alle bestellings deur Mnr
Liebenberg hanteer is en niemand anders nie. Daar kan dus nie sprake
wees dat Monsanto onder
die indruk was dat Mnr Pretorius in sy
hoedanigheid as direkteur bestellings kan plaas nie, hierdie saak
staan of val volgens my
by die vraag of of die vergadering in
Potchefstroom plaasgevind het en of magtiging gegee is dat Mnr
Pretorius bestellings kon
plaas.
[33] Daar
word in kruisverhoor aan Mnr Liebenberg gestel dat sy vorige
prokureurs van rekord by ‘n voorverhoor erken het dat
Vectobiz
die saad by Monsanto bestel het en aan Vectobiz gelewer is. Hy
volhard dat dit nie korrek is nie en dat die prokureurs
nie met hom
gekonsulteer het ten aansien van die antwoorde nie. Die getuienis van
al die getuies van die eiser was dat die saad
bestel is deur Mnr
Pretorius, weliswaar in die naam van Vectobiz. Ek aanvaar Mnr
Liebenberg se getuienis dat die erkenning nooit
deur hom gemaak is
nie.
[34] Dit
blyk dat 3 betalings van R500 000-00 elk gemaak is ten aansien van
die aanvanklike verskuldigde bedrag en dit het die eisbedrag
verminder tot die bedrag in die pleitstukke. Volgens Mnr Liebenberg
is die betalings deur Mnr Pretorius in die naam van Shawn Pretorius
Beesboerdery Bk gedoen. Dit is nie deur die Monsanto betwis nie. Hy
getuig dat Vectobiz se direkteur, Mnr Opperman en prokureur
Sias van
Rensburg Profert se prokureur in opdrag van Mnr van der Walt gepoog
om die slegte skuld van Vectobiz se naam af te kry,
dit verduidelik
volgens hom die korrespondensie en verwysings na Vectobiz gedurende
hierdie tyd en die pogings van Vectobiz se
verteenwoordigers om die
saak op te los. Dit het die getuienis in hierdie saak afgesluit.
DIE
TOEPASLIKE REGSBEGINSELS
[35] Dit
is gemeensaak dat die eiser die bewyslas dra. Dit is ook gemeensaak
dat Vectobiz aansoek om krediet by die eiser gedoen
het en dat
krediet toegestaan is. Die vraag is of die eiser bewys het dat Mnr
Shawn Pretorius die nodige volmag hetsy uitdruklik
of oënskynlik
gehad het om Vectobiz te bind.
[36]
Die aandeelhouers stel dit duidelik dat besluite deur ‘n
meerderheid
van
direkteure geneem moet word. Dit bepaal ook dat Mnr. Liebenberg die
bestuur behartig onder toesig en beheer van die direksie.
Daar was
geen getuiens gelei dat ‘n meerderheid van direkteure magtiging
verleen het dat Mnr. Pretorius bestellings kon plaas
nie. Mnr
Liebenberg kon dus nie volmag verleen nie en gevolglik moet Monsanto
oënskynlik volgmag bewys.
[37] Wanneer
bepaal moet word of eiser daarin geslaag het om die bestaan van
oënskynlike volmag te bewys moet noodwendigerwys
na die
weergawes van die eiser en verweerder gekyk word. Eerstens moet
bepaal word of eiser oënskynlike volmag op ‘n
oorwig van
waarskynlikhede bewys het. In hierdie geval is daar twee direk
teenstrydige weergawes. Aan die een kant het Mnr Mann
en Mnr Reichel
getuig dat die volmag vir Mnr Pretorius om bestellings namens
Vectobiz te plaas by die vergadering wat na bewering
in Potchefstroom
plaasgevind het gegee is. Aan die ander kant het Mnr Liebenberg
ontken dat daar enigsins so ‘n vergadering
was en dat hy op
enige stadium volmag verleen het dat Mnr Pretorius bestellings kon
plaas. Die saak staan of val by die vraag of
die Eiser se getuienis
aanvaar kan word dat die vergadering in Potchefstroom plaasgevind het
en dat Mnr. Liebenberg by die vergadering
magtiging verleen het.
[38] Mnr
Mann getuig dat hy sy beste kliënt kwyt is as gevolg van Mnr
Pretorius se groter bestelling by Vectobiz. Hierdie getuienis
kan nie
waar wees nie, want op die stadium toe Mnr Pretorius sy bestelling
plaas was daar ‘n bestaande bestelling van Mnr
Liebenberg vir
Vectobiz van meer as R5 miljoen teenoor Mnr Pretorius se bestelling
van net meer as R3 miljoen. Die bestellings
van Mnr Liebenberg namens
Vectobiz is eers na die beweerde vergadering in Potchefstroom
gekanselleer soos reeds hierbo uiteengesit.
Gevolglik moet Mnr Mann
se getuienis in hierdie verband verwerp word.
[39] Mnr
Mann en Mnr Reichel se weergawes verskil ten aansien van wat presies
by die beweerde vergadering in Potchefstroom plaasgevind
het. Volgens
Mnr Mann is net gesê dat Mnr Pretorius bestellings op Vectobiz
se naam kan plaas, terwyl Mnr Reichel sê
dat Mnr Pretorius
voortaan Vectobiz se boerdery sou behartig. Die getuienis van Mnr
Reichel en Mnr Mann word weerspreek deur die
feite. Mnr. Mann en Mnr.
Reichel verskil ook ten aansien van wie by die vergadering
teenwoordig was. Die eiser se getuienis gee
dus botsende weergawes
ten aansien van wat in Potchefstroom gebeur het en wie daar was. Dit
veroorsaak dat ek die Eiser se getuienis
ten aansien van die
vergadering in Potchefstroom moet verwerp.
[40] In
die lig van al die getuienis vind ek dit onwaarskynlik dat Mnr
Liebenberg sonder meer en sonder behoorlike bespreking sou
toestem
dat Mnr Pretorius voortaan bestellings namens Vectobiz sou kon plaas.
Dit was direk teenstrydig met die gebruik wat deur
die jare gegeld
het en die onbetwiste getuienis dat ten spyte van die feit dat daar
verskeie persone betrokke was in die verskillende
entiteite wat deel
gevorm het van die Profert groep, slegs Mnr Liebenberg bestellings
kon plaas. Dit is ook teenstrydig met wat
beide Mnr Mann en Mnr
Liebenberg getuig het oor Mnr van der Walt se beheer oor die groep se
aktiwiteite. Ek kan nie sien dat Mnr
Liebenberg sondermeer magtiging
aan Mnr Pretorius sou gee sonder Mnr van der Walt se goedkeuring nie,
veral in die lig daarvan
hy volgens die aandeelhouers ooreenkoms nie
die magtiging gehad het om dit te doen nie.
[41] Op
die bestelling in Vectobiz se naam wat deur Mnr Shawn Pretorius
geteken is kom die woorde “Shawn se eie lande”
voor. Dit
blyk dus duidelik dat hierdie saad nie bedoel was vir Vectobiz se
boerdery nie en was Mnr Reichel duidelik bewus daarvan.
Mnr Reichel
kon ook nie in sy getuienis ‘n bevredigende verduideliking vir
die aantekening gee nie.
[42] Wat
die waarskynlikhede verder in die guns van die verweerder laat kantel
is die feit dat nie Mnr Mann of Mnr Reichel ooit
Mnr Liebenberg
ingelig het oor Mnr Pretorius se swak betalingsrekord nie. Mens sou
verwag dat in die lig van die jarelange verhouding
met die Profert
groep ten minste Mnr Mann oop kaarte sou speel met Mnr Liebenberg.
[43] Ek
vind Mnr Liebenberg se weergawe meer waarskynlik naamlik dat hy gevra
is om saad te laat reserveer onder Vectobiz se naam.
Hy het geweet
dat dit nie bindend is nie en die feit dat Mnr Pretorius ‘n
direkteur van Vectobiz was en bande met die Profert
groep gehad het
verduidelik waarom hy bereid was om in te stem dat die saad
gereserveer word.
[44] Die
blote feit dat Mnr Pretorius bande met die groep gehad het en aandele
van 49% in Vectobiz gehou het beteken nie dat hy
daarom gemagtig of
oënskynlik gemagtig was om bestellings namens Vectobiz te plaas
nie. Daar is geen getuienis voor my gelei
wat sodanige afleiding sou
regverdig nie. Dit is ook teenstrydig met die terme van die
aandeelhouersooreenkoms.
[45] Na
my mening het die eiser nie geslaag om oënskynlike volmag te
bewys nie. Die vereistes vir oënskynlike volmag is
in ‘n
aantal sake van die Hoogste Hof van Appèl uiteengesit . In die
lig egter dat ek die weergawe van die eiser verwerp
is dit na my
mening nie nodig om met die vereistes te handel nie. Ek bevind dus
dat die vergadering in Potchefstroom nie plaas
gevind het nie en dat
geen voorstelling gemaak is deur Mnr Liebenberg dat volmag verleen is
aan Mnr Pretorius om bestellings te
plaas nie.
[46] Ek
is van oordeel dat ek hierdie saak op die waarskynlikhede moet beslis
. In die lig van die feite heirbo uiteengesit moet
die eiser se
weergawe verwerp word as onwaarskynlik. Die eiser se getuies het
mekaar weerspreek ten aansien van wat in Potchefstroom
gebeur het, en
die feite soos openbaar in die bestellings weerspreek die eiser se
weergawe. Ek bevind dus dat geen vergadering
soos deur eiser se
getuienis beweer in Potchefstroom plaasgevind het nie. Aan die ander
kant is Mnr Liebenberg se weergawe meer
waarskynlik en het hy nooit
van sy weergawe afgewyk nie. Ek aanvaar sy getuienis dat daar nie ‘n
vergadering in Potchefstroom
was nie.
[47] In
die lig van my bevinding is dit nie vir my nodig om met die borgskap
te handel nie.
GEVOLGTREKKING:
[48] In
die lig van die feite en die bevindings waartoe ek geraak het moet
die eiser se eis van die hand gewys word.
[49] In
die lig van voormelde maak ek die volgende bevel:
49.1 Die eiser se eis teen die
verweerders word van die hand gewys; en
49.2 Die eiser word gelas om die
verweerders se koste te betaal wat insluit die koste van twee
advokate.
____________________
R
G TOLMAY
REGTER
VAN DIE HOë HOF
DATUM
VAN VERHOOR: 26 MEI – 1 JUNIE 2016
DATUM
VAN UITSPRAAK: 18 AUGUSTUS 2016
PROKUREURS
VIR EISER: SMIT SEWGOOLAM INC
ADVOKAAT
VIR EISERS: ADV BARRIE (SC)
PROKUREURS
VIR VERWEERDERS: WILLEM COETZEE ATTORNEYS
ADVOKAAT
VIR VERWEERDERS: ADV M VAN DER MERWE (SC)
ADV
DE BEER