Visser v Engelsman Magabane Ingelyf en 'n Ander (2616/2015) [2016] ZANCHC 34 (28 October 2016)

55 Reportability

Brief Summary

Execution — Condonation — Late filing of opposing affidavit and counter-application — Applicant seeking order for payment of R1.5 million held in trust — Respondents opposing application and filing counter-application for payment — Applicant opposing condonation on grounds of lack of bona fide defense — Court's discretion in granting condonation — Good cause shown for late filing due to health issues of respondent — No prejudice to applicant — Condonation granted to facilitate resolution of family dispute.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2016
>>
[2016] ZANCHC 34
|

|

Visser v Engelsman Magabane Ingelyf en 'n Ander (2616/2015) [2016] ZANCHC 34 (28 October 2016)

IN DIE
HOË
HOF VAN SUID-AFRIKA
(NOORD-KAAP
HOË
HOF, KIMBERLEY)
VERSLAGWAARDIG

NEE
SIRKULEER
ONDER REGTERS         NEE
SIRKULEER ONDER
LANDDROSTE NEE
DATUM AANGEHOOR:
22-06-2016
DATUM VAN
UITSPRAAK:  28-10-2016
In die saak tussen:
2616/2015
JOHANNES
JACOBUS HARMSE
VISSER
Applikant
vs
ENGELSMAN
MAGABANE
INGELYF                                                     1ste

Respondent
GERT
PETRUS
VISSER                                                                            2de

Respondent
CORAM:  WILLIAMS
R:
UITSPRAAK
WILLIAMS
R:
1.
Die
applikant, mnr JJH Visser (Visser junior) doen aansoek (die
hoofaansoek) om ‘n bevel ingevolge waarvan die eerste
respondent,
die prokureursfirma Engelsman Magabane Ingelyf (Engelsman
Magabane) die bedrag van R1.5 miljoen wat deur Engelsman Magabane op
trust gehou word aan hom uitbetaal word gepaardgaande met rente en ‘n
bestraffende kostebevel.  Geen regshulp word aangevra
teen die
tweede respondent, mnr GP Visser (Visser senior) nie, behalwe ‘n
kostebevel indien hy die aansoek opponeer.
2.
Beide
Engelsman Magabane en Visser senior opponeer die hoofaansoek en op sy
beurt het Visser senior ‘n teenaansoek geliasseer
waarin hy vra
vir ‘n bevel dat Engelsman Magabane die bedrag van R1.5 miljoen
aan hom uitbetaal en dat gelas word dat Visser
junior ‘n bedrag
van R515, 789. 47 aan hom betaal wat hy gevorder het, of geregtig is
om te vorder, as Belasting op Toegevoegde
Waarde (BTW) vanaf die
Ontvanger van Inkomste.  Slegs Visser junior opponeer die
teenaansoek
3.
Hier
dien ook voor my ‘n aansoek om kondonasie vanaf Visser senior
vir die laat liassering van sy opponerende eedsverklaring
in die
hoofaansoek sowel as vir die laat liassering van sy teenaansoek en sy
repliserende eedsverklaring in die teenaansoek.
Dit moet ook
net gemeld word dat die teenaansoek in die opponerende eedsverklaring
vervat is.
4.
Die
opponerende eedsverklaring/teenaansoek is agt dae buite tyd
geliasseer en die repliserende eedsverklaring in die teenaansoek

ongeveer drie maande laat.  In beide gevalle het Visser senior
vooraf geweet dat sy eedsverklarings nie betyds geliasseer
sou kon
word nie en het sy prokureurs uitstel versoek vanaf Visser junior se
prokureurs.  In beide gevalle is uitstel geweier
en is daar
op ‘n formele aansoek om kondonasie aangedring.
5.
In
die kondonasiestukke verduidelik Visser senior dat sy opponerende
stukke in die hoofaansoek laat was aangesien hy eers op 14
Januarie
2016 met ‘n advokaat kon konsulteer en dat dit toe geblyk het
dat daar ontbrekende inligting is wat hy eers moes
verkry voordat die
eedsverklaring gefinaliseer kon word.  Die opponerende
eedsverklaring moes geliasseer word op 29 Januarie
2016.  Die
ontbrekende inligting is bekom en op 5 Februarie 2016 het Visser
senior sy eedsverklaring onderteken.  ‘n
Stawende
eedsverklaring vanaf ‘n mnr Johann Engels kon eers op 10
Februarie 2016 bekom word waarna die opponerende stukke
en
teenaansoek op dieselfde datum op die teenkant beteken is.
6.
Ten
opsigte van die repliserende eedsverklaring in die teenaansoek is die
versuim om betyds te lewer verduidelik aan die hand van
die swak
gesondheid van Visser senior, wat 75 jaar oud is.  Hy is van 29
Februarie 2016 tot 2 Maart 2016 gehospitaliseer en
is verskeie toetse
op hom gedoen waarna vasgestel is dat sy hartklep verkalk is.
‘n Hartklepvervangingsoperasie is
op hom uitgevoer op 20 April
2016 waarna Visser senior dan ook ‘n ligte beroerte gehad het.
Hy voer aan dat hy vanaf
Maart tot middel Mei 2016 nie in staat was
om konsultasies met sy regsverteenwoordigers by te woon om die
repliserende stukke voor
te berei nie – en dat hy selfs met
ondertekening van die eedsverklaring gedateer 6 Junie 2016, nog glad
nie gesond was nie
en slegs twee of drie woorde op ‘n slag kon
uiter.
7.
Visser
junior opponeer die aansoek om kondonasie slegs omrede Visser senior
nêrens in sy kondonasieaansoek die aard of grondslag
van sy
verweer openbaar het nie, en dus nie voldoen het aan die vereistes
van Hofreël 27 nie.
8.
Hofreël
27 wat handel met verlenging van tyd, opheffing van belet en
kondonasie bepaal onder subreëls 27(1) en 27(3) dat
goeie redes
of “
good
cause”
aangevoer moet word.  Die twee hoof vereistes vir die gunstige
uitoefening van die Hof se diskresie in die verband is dat
die
applikant in ‘n kondonasie-aansoek ‘n redelike
verduideliking gee vir die versuim en dat hy moet aantoon dat hy
‘n
bona
fide
verweer
het.
9.
In
beginsel sou Visser senior se aansoek om kondonasie seker moes faal
aangesien hy geen melding maak van ‘n
bona
fide
verweer
in sy aansoekstukke nie.  Die Hof het egter ‘n wye
diskresie in die verband.  Daar kan geen twyfel wees
dat
besonder goeie redes aangevoer is vir die versuim nie en dat daar ook
geen benadeling is vir Visser junior nie.  Dit is
na my mening
ook in almal se belang dat die onhoudbare situasie tussen vader en
seun aan weerskante en die prokureurs in die middel,
tot finaliteit
gebring word.  Daarom word kondonasie vir die laat liassering
van Visser senior se stukke toegestaan.
Dit gesê kan
Visser junior nie verkwalik word vir die opponering van die
kondonasie aansoek nie, wat op redelike gronde gedoen
is en is
hierdie ‘n geval waar die suksesvolle party die koste van die
aansoek sal moet betaal.
10.
Die
agtergrond tot die geskil tussen vader en seun kan as volg geskets
word:
10.1
Visser senior het vroeër jare ‘n langtermyn huurooreenkoms
aangegaan met sy oom mnr TC Visser vir die eiendomme
Liebenbergspan
en Lilly’s Dam (die eiendomme) geleë in die distrik van
Fauresmith.  Visser senior het ook ‘n
voorkoopsreg gehad
ten opsigte van hierdie eiendomme.  Na TC Visser se afsterwe het
Visser senior sy voorkoopsreg uitgeoefen.
Oordrag van die
eiendomme in sy naam het egter gesloer aangesien daar ‘n
dispuut ontstaan het tussen die familie/erfgename
van TC Visser en
Visser senior oor die waarde van die eiendomme.
10.2
Terwyl die dispuut tussen Visser senior en die familie van TC Visser
nog hangend was het die Vissers (senior en junior)
mondeling
ooreengekom dat wanneer Visser senior oordrag neem van die eiendomme,
Visser junior daarna die eiendomme sou aankoop
vanaf Visser senior
vir ‘n koopprys van R4.2 miljoen.
10.3
Mnr Frankel  Engelbrecht, ‘n direkteur van  Engelsman
Magabane  en  ook ‘n familielid
van die Vissers, het
vir Visser senior  bygestaan in die dispuut wat  uiteindelik
geskik is  in die Vrystaat Hoë
Hof, Bloemfontein, gedurende
2013.  Die  skikking  is bereik  ten
opsigte van die koopprys  van
die eiendomme plus
rente op die bedrag plus  uitstaande  huurgeld,  wat
‘n  totale  bedrag
van R5 172 030.98 beloop
het.  Visser senior het die skikkingsbedrag betaal met behulp
van Landbank en is ‘n verband
by Landbank geregistreer om die
bedrag plus bankkostes te dek.
10.4
Voorafgaande die afsterwe van TC Visser het Visser junior geboer op
die eiendomme en was daar ook ooreengekom tussen
Visser senior en
Visser junior dat Visser junior die huurgeld ten opsigte van die
eiendomme betaal.
10.5
Die koopooreenkoms tussen Visser senior en Visser junior is op skrif
gestel gedurende 2012 maar is gedateer 14 Februarie
2007, die datum
wat die mondelinge ooreenkoms aangegaan is.  Engelsman Magabane
verduidelik in hul opponerende eedsverklaring,
waarvan Engelbrecht
die deponent is, dat hierdie werkswyse gegrond is op advies van
belastingkundiges en dat dit sou meebring dat
die kapitaalwins op die
eiendomme in die boedel van Visser junior sou val en nie in die
boedel van Visser senior nie.
10.6
Hoe dit ook al sy, die verkooptransaksie tussen Visser senior en
Visser junior is nie spoedig na die oordrag van die
eiendomme in
Visser senior se naam afgehandel nie en het die partye mondeling
ooreengekom dat Visser junior verantwoordelik sou
wees vir die
betaling van die Landbanklening soos op datum van oordrag van die
eiendomme in sy naam, al sou die uitstaande lening
meer as die
koopprys van R4.2 miljoen beloop.
10.7
Gedurende November 2014 het Visser senior ‘n betaling van R1.5
miljoen op die Landbanklening gemaak.  Dit
is hierdie bedrag
waaroor die geskil hoofsaaklik gaan.  Ek keer weer terug hierna
nadat die kronologie van die daaropvolgende
gebeure uiteengesit is.
10.8
Gedurende 2015 het Visser junior die twee eiendomme op ‘n
veiling verkoop vir ongeveer R12 miljoen elk.
10.9
Engelsman Magabane het die koopooreenkomste met die twee kopers van
die eiendomme opgestel en op dieselfde tyd ‘n
addendum tot die
koopooreenkoms tussen Visser senior en Visser junior opgestel wat
gedateer is 4 September 2015.  Hierdie
addendum wat deur beide
partye onderteken is wysig die koopooreenkoms soos volg:
a) okkupasie en besitname
sal plaasvind op 14 Februarie 2007; en
b) as
okkupasierente sal die koper die verkoper se landbankleningsrente
betaal tot en met oordrag van die eiendom in sy naam.
10.10
Engelsman
Magabane is opdrag gegee om toe te sien tot die oordragte van die
eiendomme – eers vanaf Visser senior na Visser
junior en daarna
na die twee nuwe kopers.  Die oordragte het plaasgevind
gedurende Oktober 2015.
10.11
Op 30
Oktober 2015 het Engelsman Magabane ‘n afrekeningstaat aan
Visser junior gestuur wat aantoon dat daar van die totale
verkoopprys
van die eiendomme, benewens die verrekening van oordragkostes en
ander uitgawes wat verband hou met die verkooptransaksie,
en ‘n
bedrag van R5 606 371.98 wat aan Landbank betaal is vir die aflos van
Visser senior se verbandlening oor die eiendomme,
daar ‘n
bedrag van R1.5 miljoen teruggehou is deur Engelsman Magabane met die
inskrywing daarlangsaan aangeteken “
bedrag
belê”.
11.
Engelsman
Magabane voer aan dat Visser senior net na oordrag van die eiendomme
aangedui het dat hy ‘n inbetaling gemaak het
op die
Landbankrekening en dat ‘n bedrag van R1.5 miljoen hom dus
toekom.  Met navrae aan die partye het dit geblyk
dat Visser
junior die betaling as ‘n skenking beskou het.  Engelsman
Magabane meld voorts dat aangesien twee kliënte
in ‘n
dispuut was wat gehandel het oor die oordrag vanaf Visser senior na
Visser junior en die gelde daarvolgens betaalbaar,
hulle besluit het
om die geld in trust te hou totdat die partye ‘n ooreenkoms
bereik of ‘n regter of arbiter daaroor
besluit het.
Aanvanklik was dit in die vooruitsig gestel dat die geld belê
sou word maar toe geeneen van die partye
toestem daartoe nie is die
geld op trust gehou.
12.
Dit
is Visser junior se saak dat hy opdrag gegee het aan Engelsman
Magabane om toe te sien na die oordragtransaksies – vanaf

Visser senior na hom en daarna van hom na die twee kopers.  Dat
sy opdrag deurentyd was dat die netto opbrengs uit die transaksies

aan hom uitbetaal moet word by oordrag van die eiendomme.  Hy
voer aan dat hy nie opdrag gegee het aan Engelsman Magabane
om die
bedrag van R1.5 miljoen, wat deel vorm van die kooppryse van die
eiendomme, te belê of op trust te hou nie en dring
daarop aan
dat die geld hom toekom en aan hom uitbetaal moet word.  Volgens
Visser junior het Visser senior die R1.5 miljoen
aan hom geskenk toe
dit met hom finansieel swaar gaan.  Al sou dit ook ‘n
lening gewees het, wat Visser junior ontken,
beweer hy dat dit niks
met die verkoopstransaksies te doen het nie en het Engelsman Magabane
geen reg om die geld terug te hou
nie.
13.
Visser
senior aan die ander kant ontken dat Visser junior opdrag gegee het
aan Engelsman Magabane vir die oordrag van die eiendomme
vanaf hom na
Visser junior.  Hy beweer dat dit hy was wat die opdrag gegee
het.  Hierdie bewering word ondersteun deur
Engelsman Magabane –
en dat Visser junior slegs opdrag gegee het vir die oordrag van die
eiendomme vanaf sy naam in die name
van die twee kopers.  Visser
senior beweer voorts dat hy en Visser junior ooreengekom het dat
Visser junior volle verantwoordelikheid
sou neem vir die betaling van
die Landbanklening, al was dit in die naam van Visser senior.
Volgens Visser senior kon Visser
junior egter nie die jaarlikse
leningspaaiement gedurende 2014 betaal nie en het Visser senior, ten
einde te verhoed dat hulle
die eiendomme verloor, vee van die GP
Trust (klaarblyklik ‘n familietrust) verkoop om die bedrag van
R1.5 miljoen in die
Landbankrekening te betaal.  Die geld,
volgens Visser senior, was bedoel as ‘n lening aan Visser
junior wat hy, Visser
junior, onderneem het om terug te betaal nadat
die eiendomme verkoop is.  Om hierdie rede het Visser senior op
28 Oktober
2015 ‘n skrywe aan Engelsman Magabane gerig om die
bedrag van R1.5 miljoen aan hom oor te betaal, ooreenkomstig sy
ooreenkoms
met Visser junior.
14.
Dit
is duidelik dat hier ‘n feitegeskil bestaan, maar vir
doeleindes van hierdie aansoek is dit nie van groot belang nie.
Die
vrae wat beantwoord moet word is na my mening eerstens of Engelsman
Magabane redelik opgetree het deur die bedrag van
R1.5 miljoen terug
te hou en tweedens aan wie moet hierdie geld betaal moet word.
15.
Engelsman
Magabane sê in hulle opponerende stukke dat hulle ‘n
mandaat vanaf Visser senior ontvang het vir die oordrag
van die
eiendomme aan Visser junior teen betaling van dit wat aan Visser
senior verskuldig is in terme van die koopooreenkoms tussen
die twee
partye en die addendum daartoe.  Die koopooreenkoms bepaal egter
dat die koopprys die bedrag van R4.2 miljoen beloop,
wat insluit
BTW.  Die addendum bepaal dat Visser junior, as okkupasiehuur
die Lanbankleningsrente betaal tot met oordrag van
die eiendomme in
sy naam.  Hierdie bedrag aan leningsrente is sekerlik bepaalbaar
vanaf aanvangsdatum van die lening tot met
oordragsdatum, maar dit is
nie in die stukke uiteengesit nie.
16.
Dit
spreek vanself dat indien Engelsman Magabane in terme van hulle
mandaat vanaf Visser senior opgetree het hulle ‘n bedrag
van
R4.2 miljoen plus leningsrente aan hom sou moes uitbetaal soos
skriftelik ooreengekom tussen die partye.
17.
Die
mandaat aan Visser senior is egter nie so uitgevoer soos Engelsman
Magabane dit verduidelik nie.  Dit is gemeensaak dat
die volle
uitstaande Landbanklening (met rente) afgelos is met ‘n
gedeelte van die opbrengs van die verkoop van die eiendomme

soos mondeling ooreengekom tussen die Vissers.
18.
Engelsman
Magabane, wat verantwoordelik was vir die opstel van die
koopooreenkoms en die addendum daartoe, verduidelik voorts wat
betref
die gewraakte R1.5 miljoen dat, “
Inderwaarheid
is hierdie bedrag deel van die leningsrente, soos bepaal in die
addendum tot die koopooreenkoms tussen Applikant en
die 2de
Respondent, welke as okkupasierente aan die 2de Respondent betaalbaar
is uit hoofde van daardie ooreenkoms.”
Vandaar,
lei ek af, die bewering vanaf Engelsman Magabane dat die dispuut
handel oor die oordrag vanaf Visser senior aan Visser
junior en die
gelde wat daarvolgens betaalbaar is.
19.
Hierdie
bewering van Engelsman Magabane is egter ongegrond en word nie
ondersteun deur enigeen van die Vissers nie.  Selfs
Visser
senior beweer nie dat die bedrag leningsrente daarstel nie en erken
dat daar geen skriftelike ooreenkoms tussen hom en Visser
junior
bestaan ten aansien van die “
lening”
van R1.5 miljoen nie en dat die bedrag nie in die addendum vervat is
nie aangesien hy vertrou het dat Visser junior, as sy seun,
die geld
aan hom sou terugbetaal.
20.
Die
bedrag van R1.5 miljoen wat min of meer die ekwivalent is van twee
jaarlikse leningspaaiemente val na my mening heel duidelik
buite die
koopooreenkoms en is Visser senior, indien dit as ‘n lening
bedoel was, ten opsigte daarvan slegs ‘n gewone
krediteur van
Visser junior.
21.
Die
mandaat wat Engelsman Magabane gehad het vanaf Visser senior met
betrekking tot die koopooreenkoms is dus ten volle uitgevoer
en kan
hulle nie verantwoordelik gehou word vir enige eise van Visser senior
wat buite die koopooreenkoms val nie.
22. In
Aeroquip SA vs
Gross & others
[2009] 3 All SA 264
(GNP)
te 272-273 paragraaf
13 sê Southwood R die volgende betreffende die aanspreeklikheid
van ‘n prokureur ten opsigte van
gelde wat op trust gehou word:

The
applicant has not referred to any authority that an attorney becomes
personally liable for payment of a debt where he fails
to pay over to
a client’s creditor an amount held by him in trust.  The
contrary appears to be true.  An attorney
who holds an amount of
money in his trust account on behalf of a client is obliged to use it
for no other purpose than he is instructed
by the client.  It is
trite that it must always be available to the client.”
23.
Visser
junior is geregtig op uitbetaling van die R1.5 miljoen wat Engelsman
Magabane weier om aan hom te betaal ten spyte van sy
instruksies tot
die effek en talle aanmanings vanaf sy prokureurs.  Die
feitestel
in
casu
is nie vêr verwyderd van dit in
Dreyer
v Goss
2015 JDR 0011 (GJ) nie en geld die woorde van Gaibie WnR ewe goed
hierin waar hy sê, te bl 5 van daardie uitspraak, dat indien

die prokureur net vir ‘n oomblik teruggestaan het, diep
asemgehaal het en behoorlik gedink het oor die feite van die
aangeleentheid,
hy sou besef het dat sy regsplig suiwer lê by
sy kliënt en nie die kliënt se krediteure nie.  (eie
omskrywing)
24.
In
casu
is
ek van mening dat die familieverband tussen prokureur Engelbrecht en
die strydende partye tot ‘n mate bygedra het tot die
wasigheid
wat verval het oor die feite.  Die betoog namens Engelsman
Magabane dat hulle neutraal staan tot die dispuut en
dat die
opponering van die hoofaansoek slegs slaan op die kostebevel
aangevra, word ietwat teegespreek deur die briewewisseling
met Visser
junior se prokureur en die antwoordende eedsverklaring wat spreek van
‘n mate van vooroordeel ten gunste van Visser
senior.
25.
Ek
meen dat alhoewel dit menslik is om simpatie te hê vir die
bejaarde en sieklike Visser senior wat homself in skuld gedompel
het
om vir Visser junior uit te help, lê die antwoord nie in die
weerhouding van uitbetaling aan Visser junior nie.
Visser
senior se eis lê teen Visser junior en is sy remedie om ‘n
aksie in die verband in te stel teen Visser junior.
26.
Gevolglik
moet bede 1 van die hoofaansoek slaag en is dit dan ook logies dat
Visser senior se teenaansoek, wat betref die oorbetaling
van die R1.5
miljoen deur Engelsman Magabane aan hom, nie kan slaag nie.
27.
Wat
betref die regshulp in die teenaansoek aangevra ten opsigte van die
betaling van BTW in die bedrag van R515,789.47 maak Visser
senior die
bewering dat hy en Visser junior mondeling ooreengekom het dat Visser
junior die BTW ten aansien van die koopprys sou
terugeis en aan
Visser senior oorbetaal om op sy beurt die BTW aan die Ontvanger van
Inkomste te betaal.  Die koopprys van
die eiendomme (R4.2
miljoen) het BTW ingesluit.  In sy teenaansoek verwys Visser
senior na ‘n versoek gerig in hierdie
verband vanaf sy
boekhouer aan Visser junior reeds gedurende Desember 2015 en wat
Visser junior weier om gestand te doen.
28.
Die
boekhouer se e-pos aan Visser junior lees as volg:

Kobus,
Ek
wil net weer terugkom, by die BTW ten opsigte van die Oordrag van
Liebenbergspan.
Die verkoopskontrak
tussen jou en jou pa, stipuleer nie dat die transaksie ‘n
lopende saak is nie, aangesien slegs die eiendom
ter sprake is.
Die
bedrag van R4,2000,000.00 sluit dus BTW van R515,789.47 in.
GP Visser moet dus
hierdie bedrag aan SARS oorbetaal, terwyl jy dit terug eis.
Die
2 bedrae kan nie teen mekaar afgespeel word nie, dus wil ons voorstel
dat jy die BTW namens GP Visser betaal, gesien in die
lig dat jy dit
weer gaan terug eis van SARS.
Laat
weet my asb wat jou besluit is, want die BTW opgawes moet ingedien
word voor 24 Desember 2015.
Groete”
29.
Visser
junior ontken dat so ‘n ooreenkoms met betrekking tot die
betaling van die BTW aangegaan is en voer aan dat daar slegs
‘n
versoek was vanaf die boekhouer, (soos vervat in die e-pos na verwys
hierbo) dat hy die BTW op die transaksie namens Visser
senior
betaal.  Hy ontken dat daar enige verpligting op hom rus om die
BTW namens Visser senior te betaal.
30.
Wat
die BTW betref bestaan daar na my mening ‘n wesenlike
feitedispuut, wat nie op die stukke beslis kan word nie en wat Visser

senior moes voorsien het.  Ek meen in hierdie omstandighede dat
Visser senior nie ‘n saak uitgemaak het vir die regshulp

aangevra nie en kan hy ook nie met hierdie aspek van sy teenaansoek
slaag nie.
31.
Dit
bring my na die koste van hierdie aangeleentheid.  Soos reeds
hierin gemeld is ek van mening dat Visser senior die koste
verbonde
aan die kondonasie-aansoek moet betaal.  Wat die hoofaansoek
betref vra Visser junior dat Engelsman Magabane die
koste van die
aansoek betaal op die prokureur-kliënt skaal vanweë die
feit dat hulle nie net hulle mandaat vanaf Visser
junior verbreek het
nie maar ook hulle statutêre verpligtinge nie nagekom het nie.
Daar word ook betoog dat Visser
senior gesamentlik en afsonderlik met
Engelsman Magabane en op die prokureur-kliënt skaal die koste
van die aansoek moet betaal
aangesien hy die aansoek onnodiglik
geopponeer het in omstandighede waar daar geen substantiewe regshulp
teen hom gevra is nie.
32.
Namens
Engelsman Magabane word aangevoer dat hulle ‘n onskuldige derde
party is wat hulle in die kruisvuur van die dispuut
tussen kliënte
bevind het en in die omstandighede as redelike prokureurs opgetree
het deur die geld op trust te hou.
Dat die opponering van die
aansoek as gevolg van die kostebevel aangevra redelik was en dat
gelas moet word dat Visser junior Engelsman
Magabane se koste moet
betaal, alternatiewelik dat die onsuksesvolle Visser die koste van
Engelsman Magabane betaal.
33.
Ek is
van mening dat in die hoofaansoek eerstens, die koste die uitslag
moet volg.  Na my mening is geeneen van die partye
onskuldig in
hierdie aansoek betrek nie.  Nie die Vissers wat opdrag gegee
het aan Engelsman Magabane om die koopkontrak en
addendum daartoe op
te stel op die manier waarop dit gedoen is nie en ook nie Engelsman
Magabane wat die dokumente so opgestel
het nie.  Op geeneen van
die partye se weergawes stel die skriftelike koopkontrak die ware
bedoeling van die Vissers daar
nie.  Die werkswyse wat gevolg is
in die opstel van die dokumente, vermoedelik om oordragkostes te
beperk, het nou geboemerang
deurdat die verskeie aanvullende
mondelinge ooreenkomste nou in dispuut is.
34.
Tweedens
meen ek nie dat hierdie ‘n geval is waar prokureur-kliënt
koste toepassing vind nie.  Visser senior se
opponering van die
hoofaansoek kan nie as “
onnodig”
beskou word nie aangesien hy ‘n wesenlike belang het by die
regshulp daarin aangevra as gevolg van die eis wat hy ingestel
het by
Engelsman Magabane.  Wat Engelsman Magabane aanbetref, en
alhoewel die aanslag van die opponerende stukke en die gesindheid

waarmee die dispuut hanteer is nie heeltemal onpartydig voorkom nie,
is ek nie van mening dat daar enige kwaadwilligheid vanaf
hulle kant
was nie maar dat hulle eerder onbedag opgetree het.  Ek meen ook
nie daar kan gesê word dat Engelsman Magabane
strydig met hulle
statutêre verpligtinge opgetree het deur die geld op trust te
hou nie.  Geeneen van die partye is
hierdeur onbehoorlik
benadeel of bevoordeel nie en is ‘n bestraffende kostebevel in
hierdie omstandighede onvanpas.
35.
Visser
junior vra voorts dat Engelsman Magabane rente op die bedrag van R1.5
miljoen betaal teen 9% per jaar vanaf 30 Oktober 2015
tot datum van
betaling.  Ek meen egter nie dat so ‘n bevel billik sou
wees in die omstandighede nie.  Soos reeds
na verwys in
paragraaf 11 hierin, het Engelsman Magabane, toe die dispuut ontstaan
het tussen die Vissers, voorgestel dat die bedrag
geld belê
word.  Die Vissers was nie aanneemlik vir hierdie voorstel nie
en kon die geld nie sonder toestemming van
die partye belê word
nie.  Die geld is toe gehou op Engelsman Magabane se
trustrekening waar geen rente verdien word
nie.  Hierdie
bewerings word nie ontken deur Visser junior nie, inteendeel word
daar glad nie daarmee gehandel in sy repliserende
eedsverklaring
nie.  Visser junior meld wel in sy funderende verklaring, met
verwysing na die afrekeningstaat, dat hy nie
toestemming gegee het
dat die geld belê word nie.  Hoe dit ook al sy, Visser
junior kan nie nou, na hy geweier het dat
die geld belê word en
rente verdien, verwag dat Engelsman Magabane uit eie sak rente moet
betaal nie.  Ek meen dat rente
betaalbaar moet wees vanaf datum
van hierdie bevel tot datum van betaling.
Die
volgende bevele word gemaak:
a)
Die
aansoek om kondonasie slaag.  Die applikant in daardie
aangeleentheid, mnr GP Visser, word gelas om die koste van die
aansoek te betaal.
b)
Bede
1 van die Kennisgewing van Mosie in die Hoofaansoek word toegestaan.
c)
Die
eerste respondent word gelas om rente op die bedrag van R1.5 miljoen
te betaal teen 9% per jaar vanaf datum van hierdie bevel
tot datum
van betaling.
d)
Die
eerste en tweede respondente word gelas om die koste van die
Hoofaansoek te betaal gesamentlik en afsonderlik.
e)
Die
Teenaansoek word van die hand gewys met koste.
______________________
CC WILLIAMS
REGTER
Nms
Applikant:

Adv. D De Kock
i.o.v
Botha De Jager Prokureurs/Duncan & Rothman Prokureurs
Nms. 1ste
Respondent:      Adv. J Van Niekerk SC
i.o.v
Engelsman Magabane Ing
Nms 2de
Respondent;        Adv AS
Sieberhagen
i.o.v
Du Toit Prokureurs