About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2016
>>
[2016] ZANCHC 77
|
|
White en Kheis Munisipaliteit (1828/2016) [2016] ZANCHC 77 (9 February 2016)
IN
DIE Hoë
HOF
VAN SUID-AFRIKA
(NOORD-KAAPSE
AFDELING, KIMBERLEY)
Rapporteerbaar:
Nee
Sirkuleer
onder Regters:
Ja
Sirkuleer
onder Landdroste:
Nee
Sirkuleer
onder Streeklanddroste:
Nee
Saaknommer:
1828/2016
Saak
Aangehoor:
02/12/2016
Datum
Gelewer:
09/12/2016
In
die saak tussen:
BRANDON
ANDREW
WHITE
Applikant
en
KHEIS
MUNISIPALITEIT
Respondent
Coram:
Olivier
R
UITSPRAAK
Olivier
R:
[1].
Die
applikant, Mnr Brandon Andrew White, het ‘n aksie ingestel teen
die respondent, die Kheis Munisipaliteit, as die eerste
verweerder,
en teen Mnr Jan Mouton as die tweede verweerder.
[2].
Die
skuldoorsaak waarop daarin gesteun word, is dat die applikant skade
gely het weens beserings wat hy opgedoen het in ‘n
botsing wat
volgens hom veroorsaak is deur die teenwoordigheid van die tweede
verweerder se perd in ‘n pad. Die eerste
respondent word
aanspreeklik gehou op grond van die nie-nakoming van ‘n
beweerde regsplig om die heining langs die betrokke
pad in stand te
hou.
[3].
Weens
die bepalings van die
Wet
op die Instel van Regsgedinge teen Staatsorgane
[1]
(“
die
Wet
”)
was die applikant in die omstandighede verplig om binne 6 maande ná
die betrokke ongeluk aan die respondent kennis
te gee van die
voorgenome eis. Die ongeluk het na bewering op 4 April 2010
plaasgevind, maar die statutêre kennisgewing,
in die vorm van
‘n skrywe deur die applikant se prokureur, is eers versend op
15 Februarie 2011, meer as 10 maande na die
datum van die ongeluk.
[4].
In
die besonderhede van vordering het die applikant die bewering gemaak
dat die betrokke statutêre vereiste nagekom is.
In
reaksie hierop het die respondent slegs gepleit dat kennis geneem
word van die betrokke bewering. Dit is dus nie ontken
nie.
Die versuim om dit te ontken sou argumenteerbaar ingevolge Eenvormige
Hofreël 22(3) geag moes word ‘n erkenning
te wees van die
betrokke bewering in die besonderhede van vordering. Ek vermoed
egter dat die rede waarom die applikant nooit
gepoog het om die
respondent aan die geagte erkenning gebonde te hou nie, is omdat daar
ooglopend, minstens wat betref die periode
wat verstryk het voordat
kennis gegee is, nie voldoen is aan die voorgeskrewe periode
waarbinne sodanige kennis gegee moes gewees
het nie.
[5].
Op
2 Maart 2016 het daar ‘n Reël 37 konferensie plaasgevind,
waar die applikant verteenwoordig is deur sy prokureur,
Mnr Van
Niekerk van Elliott Maris Wilmans & Hay, Kimberley, en die
respondent deur Mnr Groenewaldt van Towell & Groenewaldt
Prokureurs, Kimberley. By daardie geleentheid, en op ‘n
vraag van Mnr Van Niekerk, het Mnr Groenewaldt aangedui dat
die
respondent nie op daardie stadium bereid was om voldoening aan die
betrokke bepalings van die Wet te erken nie. Die twee
prokureurs het toe ooreengekom, onder andere, dat Mnr Van Niekerk ‘n
afskrif van die betrokke kennisgewing, en ook redes
waarom dit nie
binne 6 maande gegee is nie, aan Mnr Groenewaldt sou voorsien, wat
dan op sy beurt sou aandui watter nadeel die
respondent daardeur gely
het of sou ly.
[6].
Op
23 Maart 2016 het Mnr Van Niekerk dan ook in hierdie verband ‘n
skrywe gerig aan Mnr Groenewaldt. In breë trekke
is in die
betrokke skrywe die volgende voorgehou as redes vir die feit dat die
statutêre kennisgewing laat was:
6.1
Daar is gemeld dat die applikant vir ‘n periode van 76 dae na
die ongeluk in
die hospitaal was, tot ongeveer die middel van
Julie 2010.
6.2
Verder is dit gestel dat die applikant “
nog
nie van so ‘n aard gewees
(het)
om
enigsins aandag te gee en/of om instruksies aan ‘n Prokureur te
gee nie
”
omdat hy:
6.2.1
‘n breinbesering opgedoen het “
en
nog nie normaal was nie
”;
6.2.2
nie kon loop nie;
6.2.3
vanaf 16 Julie 2010 tuis fisioterapie moes kry vir ongeveer 3
maande;
en
6.2.4
onbewus was van die betrokke statutêre vereiste.
6.3
Dit is gestel dat die applikant “
so
vroeg as wat hy moontlik daartoe in staat kon gewees het om ‘n
Prokureur te sien en die nodige afspraak hierin gelewer
het
”;
wat dit ook al mag beteken het.
[7].
Mnr
Groenewaldt is versoek om op grond van hierdie inligting die laat
kennisgewing te aanvaar, soos wat die Wet dan ook voor voorsiening
maak, in welke geval die applikant nie sou nodig gehad het om die Hof
te nader om die laat kennisgewing te kondoneer nie.
[8].
Die
gemelde skrywe is op 8 April 2016 opgevolg deur ‘n verdere
skrywe waarin die respondent se prokureur op terme geplaas
is om teen
nie later nie as 13 April 2016 aan te dui of die respondent
bereid sou wees om die laat statutêre kennisgewing
te aanvaar.
Die betrokke skrywe het verder gelui dat, indien die respondent nie
bereid sou wees om in te stem tot die aanvaarding
van die laat
kennisgewing nie, die Hof genader sou word om kondonasie, en ook om
‘n bestraffende kostebevel teen die respondent.
[9].
In
‘n skrywe gedateer 13 April 2016 het Mnr Groenewaldt toe
uitgelig dat Mnr Van Niekerk in die skrywe van 23 Maart
2016 nie
gemeld het wanneer die applikant dan toe wel ‘n prokureur gaan
spreek het nie. Verder is uitgewys dat daar ook geen
bewyse verskaf
is vir die bewering dat die applikant, eerstens, ‘n
breinbesering gehad het en, tweedens, as gevolg daarvan
nie ‘n
prokureur van instruksies kon voorsien nie. Dit is ook gemeld dat die
skrywe van 23 Maart 2016 nie die vertraging
tussen middel Julie 2010
en Februarie 2011 verduidelik het nie. Mnr Groenewaldt
het die applikant se prokureur
ook uitgenooi om teen 26 April
2016 rekords van die tyd wat hy by die werk afwesig was met
siekverlof, ter stawing van die
verduideliking beskikbaar te stel.
[10].
Mnr
Van Niekerk se reaksie hierop was ‘n skrywe gedateer 14 April
2016, wat eers op 26 April 2016 per hand afgelewer
is by Mnr
Groenewaldt se kantoor. Daarin het hy eenvoudig betwis dat die
periode tussen Julie 2010 en Februarie 2011
nie in sy skrywe van
23 Maart 2016 verduidelik is nie. Mnr Van Niekerk het in
die betrokke skrywe gehandel met die onbeskikbaarheid
van
hospitaalrekords, maar geen melding gemaak van die bestaan, aldan
nie, van rekords van siekverlof by die applikant se
werkgewer nie.
Hy het origens bloot maar weer verwys na die verduidelikings vervat
in die skrywe van 23 Maart 2016,
en nie gepoog om enige verdere
besonderhede as dit te verstrek nie.
[11].
Eers
ongeveer 4 maande later, op 18 Augustus 2016, het die applikant
die funderende eedsverklaring in hierdie aansoek onderteken,
en is
die betrokke aansoek uitgereik op 24 Augustus 2016. Daar
is geen duidelike rede in die stukke vir hierdie vertraging
nie.
Die stelling is deur die applikant gemaak dat sy prokureur probeer
het om die hofaansoek te vermy. Of hierdie
stelling ook sou
geslaan het op hierdie periode en vertraging, is nie heeltemal
duidelik nie, maar selfs al sou dit, sou daar eweneens
geen detail
gewees het van daardie pogings nie.
[12].
In
hierdie aansoek word kondonasie van die nie-nakoming van die betrokke
statutêre bepalings versoek, met gepaardgaande regshulp,
en dan
ook dat die respondent gelas moet word om die koste van die aansoek
te betaal op die skaal van prokureur en kliënt.
[13].
Op
20 September 2016, en ooglopend nadat die aansoek beteken is,
het Mnr Groenewaldt skriftelik aangedui dat die regshulp met
betrekking tot kondonasie nie geopponeer sou word nie, maar dat die
respondent nie bereid was om die koste van die aansoek te betaal
nie. Daar is in die betrokke skrywe verwys na die algemene
beginsel dat ‘n party wat ‘n vergunning verlang, die
koste daaraan verbonde behoort te betaal. Die aanbod is egter
gemaak, nietemin en op daardie stadium, dat elke party sy eie
koste
betaal. Daardie aanbod is nie aanvaar nie en dit is nie meer op
hierdie stadium op die tafel nie.
[14].
Op
22 September 2016 het Mnr Van Niekerk in ‘n skrywe
gereageer. Die aanbod is nie aanvaar nie. Mnr Van Niekerk
het verder in die skrywe aan Mnr Groenewaldt gesag voorgehou dat,
anders as in ander gevalle waar ‘n party kondonasie verlang,
die howe in gevalle soos hierdie al kostebevele toegestaan het teen
instansies wat onredelik geweier het om laat of gebrekkige
kennisgewing te aanvaar, en so op ‘n onredelike wyse aansoeke
om kondonasie genoodsaak het. Daar is weereens versoek
dat die
respondent instem om die applikant se koste te betaal, by gebreke
waaraan die applikant, so is berig, die inhoud van die
betrokke
skrywe aan die hof sou openbaar.
[15].
Wat
die meriete van die aansoek om kondonasie betref, het die applikant
in sy funderende eedsverklaring nou ver meer inligting verstrek
oor
die versuim as wat Mnr Van Niekerk voorheen in korrespondensie bereid
was om te doen. Ek sal hierna terugkeer.
[16].
Dit
blyk nou dat ‘n baie groot deel van die vertraging, en
spesifiek ook dan tot ‘n groot mate in die periode vanaf
middel
Julie 2010 tot Februarie 2011, veroorsaak is deur die versuim van die
applikant se aanvanklike korrespondent-prokureur,
wat oor daardie
periode verstandelik geaffekteer is deur ‘n siekte wat intussen
sy lewe geëis het.
[17].
Omdat
dieselfde prokureur toe ook uiteindelik die statutêre
kennisgewing opgestel en versend het, sou dit waarskynlik ook
daardie
siektetoestand gewees het wat gelei het tot die totale gebrek aan
besonderhede in daardie kennisgewing. Dit het nie
eers
besonderhede vervat oor waar en wanneer die ongeluk na bewering
gebeur het nie.
[18].
Die
respondent het hom egter nog nooit beroep op daardie gebrek aan
besonderhede nie, en het ook nooit die houding ingeneem dat
die
respondent daardeur benadeel is nie.
[19].
Die
respondent het nie ‘n antwoordende eedsverklaring afgelewer nie
en het inteendeel sedertdien by monde van Mnr Groenewaldt
en by wyse
van submissies in sy hoofde van betoog, uitdruklik toegegee,
weereens, dat kondonasie verleen behoort te word.
Hierdie, na
my oordeel, is ‘n billike en verantwoordelike toegewing.
[20].
Ek
meen dus dat die regshulp in paragrawe 1 en 2 van die kennisgewing
van mosie toegestaan behoort te word.
[21].
Die
opponering deur die respondent van hierdie aansoek gaan egter nou
uitsluitlik oor koste, en dit het die applikant al teen 20 September
2016 geweet. Die applikant het verkies om nie die aanbod te
aanvaar dat elke party sy eie koste dra nie en het verkies om
hierdie
aansoek voort te sit op die basis dat die respondent onredelik was om
nie in te stem tot die aanvaarding van die laat kennisgewing
nie.
Dit is op hierdie basis wat die applikant verlang dat die respondent
die koste van die aansoek moet betaal, ook nou
tot op datum en
geopponeerd, en verder steeds dat daardie koste op ‘n
bestraffende skaal toegestaan moet word.
[22].
Die
eenvoudige vraag is dus of die respondent en sy prokureur Mnr
Groenewaldt wel so onredelik was deur nie in reaksie op die inligting
wat Mnr Van Niekerk aan hom voorgehou het namens die applikant, toe
te stem tot die aanvaarding van die laat kennisgewing nie.
[23].
Soos
wat sal blyk, was Mnr Groenewaldt hoegenaamd nie onredelik in sy
reaksie nie. Selfs al sou hy moontlik ook die algemene
benadering tot koste in aansoeke om kondonasie verkeerdelik beskou
het as ongekwalifiseerd toepaslik op gevalle ingevolge die Wet,
het
die brief van 23 Maart 2016 in elk geval geensins voldoende
besonderhede verstrek nie, onder omstandighede waar ‘n
mens op
die oog af sou verwag het sulke besonderhede beskikbaar sou gewees
het, indien dan nie aan Mnr Van Niekerk nie, wel aan
die prokureur
wat op daardie stadium sy korrespondent was. Andersins kon Mnr
Van Niekerk minstens in daardie skrywe verduidelik
het waarom verdere
besonderhede rakende die aard van die abnormaliteit en die stadium
waarop wel instruksies ontvang is om stappe
te neem teen die
respondent, nie beskikbaar was op daardie stadium nie. Selfs op
die stadium toe Mnr Groenewaldt duidelik
verdere besonderhede versoek
het, is geen so ‘n verduideliking deur Mnr Van Niekerk
voorgehou nie.
[24].
Wat
het die stelling, wat eintlik ook maar meer ‘n konklusie was as
‘n feitestelling, dat die applikant ná sy
ontslag uit
die hospitaal nie “
normaal
”
was nie, beteken? Die applikant verduidelik nou inderdaad in sy
funderende eedsverklaring dat hy geheueverlies gehad
het. Wat
het Mnr Van Niekerk verhoed om minstens dit dan as ‘n
verduideliking aan te bied, indien nie in sy skrywe
van 23 Maart
2016 nie, dan minstens in sy skrywe gedateer 14 April 2016?
[25].
Waarom
het Mnr Van Niekerk nie, toe Mnr Groenewaldt hom so versoek het,
gereageer deur bewyse te verskaf van die applikant se afwesigheid
by
sy werk in die tersaaklike periode nie, of minstens dan darem
verduidelik dat ook dit nie moontlik was nie? Dit blyk nou
duidelik, uit die applikant se funderende eedsverklaring, dat hy wel
lank by sy werk afwesig moes gewees het.
[26].
Hoe
sou die feit dat die applikant op ‘n stadium nie kon loop nie,
hom verhoed het om tydig kennis te gee van sy eis?
[27].
Watter
verduideliking is op daardie stadium vir Mnr Groenewaldt gegee vir
die periode tussen middel Julie 2010 en Februarie 2011?
Hoe sou
die feit dat die applikant in daardie tyd ongeveer 3 keer tuis
fisioterapie moes ondergaan het, in sy weg gestaan het om
tydig
kennis te gee?
[28].
‘
n
Ander baie relevante faktor, wat ook nou eers in die applikant se
aansoek na vore gekom het, is die rol wat die ongesteldheid
van die
applikant se destydse prokureur gespeel het. Waarom kon Mnr Van
Niekerk nie al teen 23 Maart 2016 hieroor behoorlike
instruksies
gehad het van sy korrespondent nie, want dan sou hy al toe die siekte
van die applikant se destydse prokureur in sy
skrywe aan Mnr
Groenewaldt kon gemeld het.
[29].
Hoekom
het Mnr Van Niekerk nie in die betrokke skrywe vir Mnr Groenewaldt
vertel wanneer daar dan die eerste keer met ‘n prokureur
gepraat is nie. Daar is ook nie gemeld wanneer die applikant
dan weer “
normaal
”
genoeg was om te kon instruksies gee aan ‘n prokureur nie.
Dit sou mos ooglopend gehelp het om te oordeel of
daar by die eerste
redelike geleentheid kennis ingewin is van die statutêre
vereiste, en toe daaraan voldoen is.
[30].
Daar
is ook nie eers in die betrokke skrywe melding daarvan gemaak dat dit
eintlik die applikant se vader was wat die betrokke prokureur
aanvanklik genader het nie. Dit blyk nou eers uit die
funderende verklaring.
[31].
Dit
blyk, van selfs meer belang, ook nou uit ‘n skrywe
[2]
dat die applikant se korrespondent-prokureurs al so lank terug as op
13 Augustus 2010 aan Mnr Van Niekerk berig het dat die applikant
se
vader reeds aan hulle instruksies gegee het. Dat die applikant
se vader prokureurs genader het, kon al opsigself ‘n
baie sterk
aanduiding daarvan gewees het dat die applikant self nie op daardie
stadium in staat was om so te doen nie. Nou
moes die respondent
en sy prokureur egter eers in die funderende eedsverklaring sien hoe
en wanneer die applikant se vader gaan
regsadvies inwin het.
Mnr Van Niekerk sou uit die skrywe van 13 Augustus 2010 mos geweet
het wanneer en deur wie instruksies
gegee is.
[32].
Dat
die applikant se vader wel al op 4 Augustus 2010 sy
korrespondent-prokureurs gaan raadpleeg het, laat die vraag ontstaan
hoe
die applikant se beweerde tydelike onvermoë om instruksies
te voorsien ‘n verduideliking sou kon gewees het vir die feit
daar vanaf Augustus 2010 tot Februarie 2011 nie kennis gegee kon word
aan die respondent nie. Hoekom sou die vereiste kennisgewing
nie op die vader se instruksies gegee kon gewees het nie? Daar
is eenvoudig geen verduideliking hiervoor nie.
[33].
Dit
gaan egter selfs nog verder as dit. Die applikant se vader het
die korrespondent-prokureur in Olifantshoek ongeveer 4
maande na die
ongeluk gaan sien, en dus nog ruim voor die verstryking van die
voorgeskrewe 6 maande periode. Dit blyk nou, eweneens
uit
korrespondensie waarvan afskrifte aangeheg is by die applikant se eie
funderende verklaring, dat die Olifantshoek prokureur
toe na
aanleiding daarvan in die skrywe van 13 Augustus 2010 vir Mnr Van
Niekerk versoek het om te adviseer oor die wenslikheid
van stappe
teen die respondent. Mnr Van Niekerk het eers op 14 Oktober
2010, byna 2 weke na die verstryking van die 6 maande
periode,
gereageer in ‘n skrywe waarin hy geadviseer het dat stappe
regtens moontlik was en, van meer belang, dat die 6 maande
periode
reeds verstryk het en dat hulle “
mettertyd
(indien hulle later die punt opper) aansoek
(kon)
doen
vir Kondonasie
”.
[34].
Die
6 maande periode het dus verstryk nadat die aangeleentheid byna 2
maande al in die hande was van Mnr Van Niekerk, en daar is
selfs tot
op hierdie stadium geen verduideliking hiervoor nie.
[35].
Wat
ook hieruit duidelik is, is dat die beweerde onkunde van die
applikant geensins ‘n verduideliking sou kon gebied het onder
die omstandighede van hierdie geval nie.
[36].
Die
feit dat die Wet dit vir instansies soos die respondent moontlik maak
om laat kennisgewing te aanvaar, beteken darem ook nie
dat ‘n
litigant soos die applikant nie minstens redelike inligting aan so ‘n
instansie moet verstrek om te verduidelik
waarom die kennisgewing
laat was nie.
[37].
Na
my oordeel kan Mnr Groenewaldt se weiering, wat gekwalifiseer was tot
die mate dat hy wel oop was vir die voorlegging van verdere
inligting, hoegenaamd nie aangemerk word as onredelik nie.
Inteendeel, na my oordeel sou dit selfs as roekeloos aangemerk
kon
word indien hy bereid sou gewees het om toe te stem tot laat
aanvaarding van die kennisgewing, namens sy kliënt, op die
basis
van die tipe inligting wat Mnr Van Niekerk aan hom voorgehou het in
die brief van 23 Maart 2016.
[38].
Indien
daardie tipe verduideliking al was wat in hierdie aansoek en in
die funderende eedsverklaring aan die Hof voorgehou
is vir doeleindes
van ‘n aansoek om kondonasie, sou die aansoek heel waarskynlik
onsuksesvol gewees het. Net hoe gebrekkig
daardie inligting in
die omstandighede was, blyk duidelik uit die besonderhede wat nou na
vore gekom het in die funderende verklaring.
[39].
Na
my oordeel was die respondent volkome geregtig om, in die
omstandighede en op die inligting wat Mnr Van Niekerk bereid was om
te verskaf, daarop aan te dring dat die applikant by wyse van ‘n
beëdigde verklaring, en in ‘n aansoek, die Hof
nader om
die betrokke kondonasie te versoek.
[40].
Die
applikant het toe die aansoek gebring en, soos wat ek reeds aangedui
het, in die eedsverklaring baie meer besonderhede verstrek
van waarom
die statutêre kennisgewing laat gegee is. Dit was op
sterkte van daardie inligting wat Mnr Groenewaldt toe
wel namens sy
kliënt aangedui het dat die toestaan van kondonasie nie
geopponeer sou word nie, maar die applikant het verkies
om
desnieteenstaande die aansoek voort te sit net ten aansien van koste.
[41].
Daar
is na my oordeel geen rede hoegenaamd waarom die respondent enige
koste van die aansoek moet dra in die omstandighede van hierdie
geval
nie, laat staan nog bestraffende koste. Dit is destemeer nou
nog die geval waar die respondent nou genoodsaak was om
verdere koste
aan te gaan in die opponering van hierdie aansoek, wat in wese toe
net gegaan het daaroor dat die respondent gelas
moet word om
bestraffende koste te betaal.
[42].
Die
billike posisie ten aansien van koste, na my oordeel, sal inteendeel
wees dat die applikant gelas word om die koste van die
aansoek te
betaal, insluitende dié van die respondent, soos wat ook nou
in die betoogshoofde en by die aanhoor van argument
namens die
respondent versoek is.
[43].
Mnr
Botha, die advokaat vir die applikant, het die respondent daarvoor
verkwalik dat omgedraai is, vanaf ‘n aanbod dat elke
party sy
eie koste betaal, na die standpunt dat die applikant die koste van
die aansoek moet betaal. Na my oordeel kan die
respondent glad
nie daaroor verwyt word nie. Toe die applikant die aanbod
geweier het dat elke party sy eie kostes betaal,
het die posisie
gebly dat die applikant oppad Hof toe was vir ‘n bevel dat die
respondent ook die applikant se koste moes
betaal, en wel op ‘n
bestraffende skaal. Die respondent kon in die omstandighede
niks anders doen nie as om die aansoek
te opponeer. Gelukkig
vir die applikant het die respondent besluit om so te doen op die
applikant se eie stukke, anders was
daar ook nog die koste verbonde
aan antwoordende stukke.
[44].
Bygevolg
word die volgende bevele hierin gemaak:
1.
DIE
APPLIKANT SE NIE-NAKOMING VAN DIE BEPALINGS VAN ARTIKEL 3(1)(a) VAN
DIE WET OP DIE INSTEL VAN REGSGEDINGE TEEN SEKERE STAATSORGANE,
40
VAN 2002, WORD GEKONDONEER.
2.
VERLOF
WORD AAN DIE APPLIKANT VERLEEN OM SY EIS TEEN DIE RESPONDENT VOORT TE
SIT OP DIE PLEITSTUKKE SOOS BETEKEN EN GELIASSEER ONDER
SAAKNOMMER
429/2013.
3.
DIE
APPLIKANT WORD GELAS OM DIE KOSTE VAN DIE AANSOEK TE BETAAL.
_____________________
C
J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Nms Applikant:
ADV.
C H BOTHA
(Elliott Maris
Wilmans & Hay Prokureurs)
Nms Respondent:
MNR S J GROENEWALDT
(Towell &
Groenewaldt Prokureurs)
[1]
40 van 2002
[2]
Aangeheg by die applikant se funderende
eedsverklaring.