About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2016
>>
[2016] ZAFSHC 210
|
|
P v P (3854/2016) [2016] ZAFSHC 210 (4 November 2016)
Sekere
persoonlike/private besonderhede van partye of getuies in die
dokument is geredigeer in ooreenstemming met die wet
en
SAFLII
se beleid.
IN THE HIGH COURT
OF SOUTH AFRICA,
FREE STATE
DIVISION, BLOEMFONTEIN
Saaknr :
3854/2016
Reportable: No
Of interest to other
judges: No
Circulate: No
In
die saak tussen:
F.
S.
P.
Applikant
en
E.
P.
Respondent
AANGEHOOR:
3 NOVEMBER 2016
UITSPRAAK
DEUR:
DAFFUE, R
GELEWER
OP:
4 NOVEMBER 2016
I
INLEIDING
[1]
Die partye, beide tans woonagtig te Pretoria, is in ‘n
egskeidingsgeding betrokke. Die saak is aanhangig gemaak
toe
hulle nog in Vrede in die Vrystaat woonagtig was. Die huidige
litigasie spruit voort uit respondent se weiering om applikant
se
kontakregte ten aansien van hul minderjarige kinders, W., 5 jaar, en
F., 3 jaar, te gehoorsaam.
II
DIE AANGEVRAAGDE REGSHULP
[2]
Applikant het op 22 Augustus 2016 ‘n aansoek laat uitreik
ingevolge waarvan versoek word dat respondent skuldig bevind
en
gevonnis word weens haar minagting van ‘n hofbevel verleen op 5
Mei 2016 onder aansoeknr 1347/2016. Voorts word
verlang dat
respondent gelas word om die voormelde hofbevel te eerbiedig totdat
dit gewysig word. ‘n Kostebevel word
ook versoek.
[3]
Die aansoek word opponeer en na liassering van die onderskeie
verklarings is mondelinge betoog gister aangehoor. Ek kan
net
meld dat ek by ooreenkoms tussen die partye ‘n verklaring van
respondent se prokureur in ontvangs geneem het as deel
van die
getuienis voor my nieteenstaande die feit dat dit laat en buite orde
afgelewer is. Myns insiens neem die inligting
daarin vervat die
saak nie enigsins verder nie.
III
DIE GESKILPUNT
[4]
Mnr Reinders namens respondent het aangevoer dat die hofbevel waarop
applikant steun, verval het en dat applikant dus versuim
het om die
eerste vereiste om met ‘n minagtingsaansoek te slaag, te
bewys. Ek meen nie dat hy korrek is nie en
na my mening is die
enigste werklike geskilpunt of applikant daarin geslaag het om bo
redelike twyfel te bewys dat respondent die
hofbevel opsetlik en
mala
fide
verontagsaam het.
IV
DIE WESENLIKE FEITE
[5]
Applikant is die eiser in ‘n egskeidingsgeding wat hy teen
respondent as verweerder aanhangig gemaak het onder saaknr
913/2016.
As gevolg van probleme wat hy klaarblyklik ervaar het om kontak met
die kinders te bewerkstellig, het hy op 29
Maart 2016 ‘n
aansoek ingevolge reël 43 laat uitreik. Hy het versoek dat
hy toegelaat word om die kinders vir
alternatiewe naweke by hom te
neem en ook dat die Gesinsadvokaat gelas word om ondersoek in te stel
na sy kontakregte. Respondent
het ook ‘n teenaansoek
geloods, maar uiteindelik is die volgende bevel op 5 Mei 2016
uitgereik en ek verwys slegs na die
relevante gedeeelte:
“
The
applicant is to have the children on alternate weekends form (sic)
14h00 on Friday to 18h00 on Sunday.
(Interim
only until family advocate report received)
,
the family advocate to investigate urgently.”
(my
beklemtoning.)
[6]
Op 19 Mei 2016 het die partye samesprekings met ‘n maatskaplike
werker verbonde aan die kantoor van die Gesinsadvokaat
te Betlehem
bygewoon. Na aanleiding van ‘n mediasieproses het die
partye ‘n ooreenkoms bereik wat gestalte gevind
het in die
aanbevelings van die Gesinsadvokaat gedateer 24 Junie 2016. Ek gaan
nie nou hierdie aanbevelings uiteensit nie, maar
bevestig dat dit in
my bevel geïnkorporeer sal word. Punt van die saak is dat
wyer kontakregte by ooreenkoms aan applikant
toegeken is as dit
vervat in die voormelde hofbevel.
[7]
Die applikant het wel kontakregte geniet na die hofbevel en
konsultasie met die Gesinsraadgewer, maar beslis nie so gereeld
soos
verwag kan word of op die tye aanvanklik op ooreengekom nie.
Dit is wel so dat die indruk gewek word dat respondent
wou hê
dat applikant by haar program moes inpas. Tog het sy ‘n
program ten aansien van naweekbesoeke opgestel
wat strek vanaf die
naweek van 10 tot 12 Junie tot die naweek van 30 September tot 2
Oktober. Haar instruksies aan applikant
soos dit verskyn in die
rooster, Bylaag FS2, bevestig tot ‘n groot mate haar
manipulerende houding, maar dit is nie nodig
om verder hierop uit te
brei nie.
[8]
Die spreekwoordelike bom het gebars na aanleiding van ‘n skrywe
van respondent se prokureurs gedateer 2 Augustus 2016
waarin beweer
is dat die kinders se terapeut, Me Elise Fourie, aanbeveel het dat
applikant se toegangsregte onmiddelik gestaak
moet word omdat dit in
die beste belang van die kinders sou wees. Fourie se
kontakbesonderhede is verstrek en is applikant
versoek om met haar in
verbinding te tree soos wat die terapeut versoek het. Ek moet
dit op hierdie stadium duidelik maak
dat daar ‘n geskil bestaan
tussen Fourie aan die een kant en respondent en haar prokureur aan
die ander kant ten aansien
van wat presies Fourie se aanbeveling
was. Respondent se weergawe soos verwoord in haar prokureur se
skrywe is dat Fourie
geadviseer het dat applikant se toegangsregte
opgeskort moet word. Dit word deur Fourie betwis. Ek is
nie van voorneme
om hierdie geskil te probeer besleg nie omdat dit
duidelik blyk dat ook Fourie ernstige bedenkinge gehad het oor
applikant se rol
in die kinders se emosionele toestand.
[9]
Applikant was in telefoniese kontak met Fourie, maar dis gemeensaak
dat hy nie ‘n afspraak gemaak het om die saak volledig
met haar
te bespreek nie.
[10]
Na aanleiding van Fourie en haar prokureur se advies het respondent
die houding ingeneem soos blyk uit die korrespondensie.
Sy maak
dit dan ook duidelik in haar beantwoordende verklaring dat sy
onkundig is wat die reg betref en staatgemaak het op die
advies wat
sy ontvang het.
[11]
Fourie se weergawe aan respondent is nie op rekord geplaas by wyse
van ‘n bevestigende eedsverklaring nie en het respondent
op
hoorsê gesteun wat moontlik ontoelaatbaar verklaar sou kon
word. Hoe dit ookal sy, applikant het verkies om Fourie
se
weergawe, vervat in ‘n e-pos aan applikant se prokureur, op
rekord te plaas en maak dit dus deel uit van die getuienis
voor my.
Fourie het baie duidelik bevestig dat sy wou hê dat applikant
dringend met haar kontak moes maak. Volgens
haar is die kinders
ernstig ontwrig en het sy opgemerk dat dit baie sleg met die kinders
gaan telkens nadat hulle applikant besoek
het. Ek wil dit
duidelik maak dat dit nie vir my nodig is om ‘n oordeel te fel
en/of om te probeer bepaal waarom die
kinders aldus getraumatiseerd
is soos beweer word nie. Feit is bloot dat Fourie se advies aan
respondent en haar prokureur
gekommunikeer is en dat verdere aksie
toe geneem is soos vermeld.
[12]
Binne enkele dae na die 2de Augustus het applikant die huidige
aansoek geloods. Hierna en tot en met die aanhoor van
die
aansoek het applikant weer kontak met die kinders gedurende twee
naweke gehad wat natuurlik heeltemal teenstrydig met die hofbevel
is. Dit blyk ook uit die repliserende eedsverklaring dat
applikant na die loods van die aansoek verdere probleme ervaar het
om
kontak met die kinders te maak tydens geleenthede deur hul skool
gereël om juis ouerbetrokkenheid te verseker. Ek
neem
kennis hiervan, maar is ook bedag daarop dat respondent nie daarop
kon antwoord sonder om spesiale verlof van die Hof te verkry
nie.
[13] Ek het ‘n
gedeelte van die hofbevel van 5 Mei 2016 beklemtoon. Dit kon
onsekerheid bewerkstellig het en Mnr Reinders
het ook hiervan gewag
gemaak. Volgens applikant het hy eers op 6 Oktober 2016 in besit
gekom van die Gesinsadvokaat se verslag.
Respondent het nie
aangedui wanneer sy dit ontvang het nie. Dit is duidelik dat
die verslag gedateer 24 Junie 2016 op dieselfde
dag afgelewer is by
die Streekshof te Bethlehem. Daardie Hof is nie gemoeid met die
geskil tussen die partye nie. Daar
bestaan geen rede om te
vermoed, wat nog te sê, om te bevind dat op die stadium toe
applikant sy aansoek geloods het, die
verslag reeds deur een of albei
die partye ontvang is nie. Dit kan dus nie geargumenteer word dat dit
toe reeds verval het nie.
V
REGSBEGINSELS
[14]
Meer as ‘n halfeeu gelede het ‘n volbank regters die
geleentheid gehad om ‘n bykans soortgelyke feitestel
te
oorweeg. Die geskil het gewentel om die appellant (vader) se
houding deur te verhoed dat sy dogter terugkeer na Engeland
waar die
moeder aan wie beheer en toesig toegeken is, woonagtig was. Ek
verwys na
Clement v Clement
1961(3) SA 861 (TPD).
Die Hof het dit duidelik gemaak dat die werklike vraagstuk nie
minagting van die hof was nie, maar
die terugkeer van die dogter na
Engeland. Reeds in hierdie beslissing is dit duidelik gemaak te
865H-866A dat alvorens ‘n
persoon skuldig bevind kan word aan
minagting van ‘n hofbevel, aangetoon moet word dat die persoon
nie alleenlik opsetlik
opgetree het nie, maar ook die hofbevel
mala
fide
verontagsaam het. Die hof het bevind dat appellant net
aan homself gedink het en ook ‘n taktiese voordeel wou behaal
deur die dogter in Suid-Afrika te hou, maar dat dit ook moontlik was
dat hy in haar beste belang opgetree het. Die beslissing
is
telkemale nagevolg en ook onlangs in
Frankel Max Pollak
Vinderine v Menell Jack Hyman Rosenburg
[1996] ZASCA 21
;
1996 (3) SA 355
(AD)
te 367H.
[15]
Die
locus
classicus
is tans
Fakie
NO v CCII Systems (Pty) Ltd
[2006] ZASCA 52
;
2006
(4) SA 326
(SCA). Die hof het weer eens beklemtoon dat opset en
mala
fides
bewys
moet word en soos volg voortgegaan in paragrawe 9 en 10:
“
A
deliberate disregard is not enough, since the non-complier may
genuinely, albeit mistakenly, believe him or herself entitled to
act
in the way claimed to constitute the contempt. In such a case,
good faith avoids the infraction. Even a refusal
to comply that
is objectively unreasonable may be
bona
fide
(though
unreasonableness could evidence lack of good faith………..Honest
belief that non-compliance is justified
or proper is incompatible
with that intent
(the
intentional violation of the court’s dignity, repute or
authority.)”
[16] Die person wat van
minagting beskuldig word hoef nie meer die afwesigheid van opset en
mala fides
te bewys op ‘n oorwig van waarskynlikhede
nie, maar om skuldigbevinding vry te spring is dit genoegsaam om
getuienis aan te
bied wat redelike twyfel saai. Dit is dus nou die
applikant wat die hof bo redelike twyfel moet oortuig hiervan. Sien
Fakie
paras 23 en 42 en vergelyk ook die
onlangse beslissing van die Konstitusionele Hof in
Pheko v
Ekurhuleni City
2015 (5) SA 600
(CC) te paragrawe 28 –
37 waar die beginsels vervat in
Fakie
onderskryf is.
VI
EVALUASIE VAN DIE GETUIENIS AAN DIE HAND VAN DIE REGSPRAAK EN
SUBMISSIES VAN ADVOKATE
[17]
Dit was nog altyd as ‘n voldoende verweer in minagtingsaansoeke
beskou indien die beweerde oortreder op regsadvies gesteun
het vir
sy/haar aksie of versuim om op te tree en daardeur ‘n hofbevel
oortree. Volledige getuienis moet egter hieroor aangebied
word. Vgl
Cillers
et al,
Herbstein & Van Winsen: The Civil
Practice of the High Courts in South Africa
, 9de uitg,
vol
2 te 1110.
[18]
Die beginsel behoort na
Fakie
nog groter trefkrag te
weeg te bring. Op hierdie stadium van ons regsgeskiedenis moet
slegs maar redelike twyfel bestaan
of die beweerde oortreder opsetlik
en
mala fide
gehandel het.
[19]
Indien ek respondent se optrede gade slaan deur die bril van Cameron
AR (soos hy toe was) in
Fakie
en ook let op die feite wat voor die volbank in
Clement
gedien
het, is ek nie oortuig, nieteenstaande Me Van Niekerk namens
applikant se sterk en oortuigende betoog, dat respondent
skuldig is aan minagting nie. Mnr Reinders, daarenteen het
aangevoer dat ek daarteen moet waak om ‘n skuldigbevinding
te
laat gebruik as ‘n hefboom vir moontlike toekomstige optrede.
Ek het min twyfel dat die partye uit hul pad gaan
om die wêreld
so moeilik as moontlik vir mekaar te maak en dat die kinders as die
voetsoldate in hul oorlog gebruik word.
Ek het ook gelet op die
antagonistiese trant van die onderskeie prokureurs in hul
korrespondensie in soverre met die Prokureursorde
en selfs
strafregtelike vervolging gedreig is en net weer tot die besef gekom
dat mediasie deur ‘n kundige wat nie daarop
ingestel is om die
“beste vir sy/haar kliënt te beding” verpligtend
gemaak behoort te word in hierdie tipe
gedinge. Instede daarvan
dat vuur geblus word, word dit eerder gestook. Respondent kan
nie van alle blaam onthef word
nie. Ek het lank getob oor ‘n
moontlike skuldigbevinding. Daar is egter net genoeg twyfel in
my gemoed weens
die getuienis ingebring ten aansien van die kinders
se emosionele probleme, maar ek bevestig weer eens dat ek nie
daardeur aanvaar
dat applikant daarvoor verantwoordelik is nie.
Dit kan bloot ook toegeskryf word aan die algemene optrede van die
partye
teenoor mekaar en/of die ontwrigting as gevolg van die
verhuising en nuwe omstandighede. Ek aanvaar vir doeleindes
hiervan
dat respondent, soos ook geadviseer, geglo het dat sy in die
beste belang van die kinders optree. Vergelyk
Clement
supra.
[20]
Instede daarvan om met die terapeut in behoorlike gesprek te tree,
of, indien haar objektiwiteit dan ernstig betwyfel is, toe
reeds
aanspraak te maak daarop dat deskundige hulp ingeroep word soos wat
die partye nou gedoen het, het applikant verkies om die
weg van die
meeste weerstand te volg en etlike duisende Rande se regskoste aan te
gaan om sy sin te kry. Ek het egter in
beginsel baie simpatie
jeens applikant en sy frustrasies is verstaanbaar. My bevele
sal hopelik ver genoeg gaan om hom behulpsaam
te wees om sy regmatige
kontakregte uit te oefen en te verseker dat probleme uitgeskakel
word.
[21]
Ek besef dat bevele wat met die beste bedoelings gemaak word, net
doeltreffend kan wees as die betrokkenes die nodige ingesteldheid
en
respek daarteenoor en jeens mekaar het. Ek het hier juis die
respondent in gedagte wat moet besef dat indien sy haar skuldig
sou
maak aan oortreding van my bevele, sy heel moontlik die prys sal moet
betaal. Sy mag dalk nie so gelukkig wees dat sy
weer die
voordeel van twyfel verkry nie. Sy behoort haar te gedra soos
van ‘n primêre versorger verwag word en
te verseker dat
applikant sy kontakregte uitoefen ooreenkomstig die bevele verleen te
word. Dit is nie aangewese dat sy op
‘n dominerende wyse
besluit hoe sy ‘n hofbevel sal nakom nie.
[22]
Die partye het intussen opdrag gegee aan ‘n kliniese deskundige
van Pretoria, Dr Henk Swanepoel, wie hul opdrag aanvaar
het soos
meegedeel vanaf die balie, om die nodige forensiese evaluering van
die gesin te hanteer. Die eerste sessie vind
eersdaags plaas.
Ek sal hierdie aspek ook in my bevele aanspreek.
[23]
Alhoewel hierdie ‘n minagtingsaansoek is, is die volgende
duidelik uit applikant se versugting soos geformuleer in sy
repliserende eedsverklaring:
“
Die
enigste doel vir my aansoek is om kontak tot my kinders toegelaat te
word.”
Bede
twee van die kennisgewing van mosie het ten doel om nakoming van
paragraaf 1 van die voormelde reël 43 bevel te verseker.
Die probleem hiermee is dat daardie betrokke paragraaf van die bevel
slegs tussentydse werking gehad het en effektief tot ‘n
einde
gekom het op die beste vir applikant teen 6 Oktober 2016. Dit
is egter in belang van die partye en hul kinders dat
‘n
tussentydse bevel verleen word hangende finalisering van die
egskeidingsgeding. Ek sal hieraan en veral aan applikant
se
versugting voldoen en bevestig ook dat ek die regsverteenwoordigers
na betoog ‘n geleentheid gegee het om instruksies
van hul
kliënte te bekom ten aansien van die presiese formulering van
applikant se kontakregte. Die bevele verleen te
word mag vreemd
voorkom, maar dis waarskynlik die beste metode om toekomstige
geskille te vermy. Respondent het aangedui
dat applikant die
kinders vir die eerste ses en ook laaste ses dae van die
Desembervakansie by hom mag neem, terwyl hy weer graag
die kinders
vanaf 24 Desember to 9 Januarie by hom wil neem. Ek meen
respondent se houding is onbillik. Na my oordeel
behoort die
kinders hierdie Kersfees by hul moeder deur te bring maar moet hulle
daarna die vakansie saam met applikant deurbring.
Respondent
gaan in die Kaap vakansie hou en dit is inbegrepe in my bevel dat
applikant die kinders by haar in die Kaap sal moet
afhaal en by haar
woning in Pretoria moet besorg aan die einde van die vakansie.
[24]
Alhoewel applikant se minagtingsaansoek nie suksesvol is nie, kry hy
in effek wat hy eintlik graag wou hê en dit is regsekerheid
met
betrekking tot sy toegangsregte hangende afhandeling van die
egskeidingsgeding. Hy is egter nie geregtig op die koste
van
die aansoek nie omdat dit misluk het. Aan die anderkant is ek
nie bereid om applikant te gelas om respondent se koste
te betaal
nie. Mnr Reinders het aangevoer dat ek moet gelas dat die koste
koste in die egskeidingsgeding sal wees, alternatiewelik
dat elke
party sy eie koste betaal. Ek het hierbo meer as eenmaal verwys
na respondent se onaanvaarbare gedrag. In
die omstandighede en
in die uitoefening van my diskresie sal dit gepas wees dat sy as die
sogenaamde suksesvolle party gepenaliseer
word en daarom sal ek gelas
dat elke party sy/haar eie koste van die aansoek betaal.
VII
BEVELE
[25]
Gevolglik word dit soos volg gelas:
1.
Die
aansoek word afgewys.
2.
Pendente
lite
word
die volgende bevele verleen ter vervanging van bede 1 van die reël
43 bevel van 5 Mei 2016 onder saaknr 1347/2016:
2.1
Beide partye word beklee met volle ouerlike verantwoordelikhede en
regte met betrekking tot die versorging van die kinders soos
bedoel
in artikel 18(2) van die Kinderwet, 2005, met dienverstande dat die
primêre versorging en bewoning aan respondent
toegeken word;
2.2
Kontak met die kinders word aan applikant toegeken soos volg:
2.2.1
Elke alternatiewe naweek vanaf Vrydag 14:00 tot Sondag 18:00 (die
kinders sal by die skool opgelaai en by respondent afgelaai
word),
welke naweke die volgende sal wees, te wete 11 – 13 November
2016, 25 – 27 November 2016 , 20 – 22 Januarie
2017, 3 –
5 Februarie 2017, 17 – 19 Februarie 2017, 3 – 5 Maart
2017, 17 – 19 Maart 2017, 28 – 30
April 2017, 12 –
14 Mei 2017, 26 – 28 Mei 2017, 9 – 11 Junie 2017 en 23 –
25 Junie 2017 en op dieselfde
basis hierna, uitgesluit gedurende
skoolvakansietye;
2.2.2
die skoolvakansies sal roteer met dienverstande dat die kinders
gedurende die komende Desember-vakansie vanaf 26 Desember
2016 tot 9
Januarie 2017 by applikant sal deurbring en sal hy toesien dat hy die
kinders op sy koste in die Kaap waar respondent
vakansie sal hou,
afhaal en aan die einde van die tydperk na haar woning in Pretoria
neem; die Maart 2017 skoolvakansie word aan
applikant toegeken en die
September-vakansie aan respondent; en wat die Julie 2017 vakansie
betref word vanaf 30 Junie tot 12 Julie
2017 aan applikant toegeken
en die oorblywende gedeelte aan die respondent;
2.2.3
minstens drie ure kontak op die verjaarsdae van die kinders en
applikant, sowel as elke Woensdagmiddag vanaf 14:00 tot 17:00
en sal
die kinders by die skool opgelaai (uitgesluit tydens skoolvakansies)
en by respondent se huis afgelaai word;
2.2.4
op
vadersdag vanaf 09:00 tot 18:00 indien hierdie dag nie op ‘n
naweek val wat aan applikant toegeken is nie;
2.2.5
openbare
vakansiedae sal roteer tussen die partye;
2.2.6
redelike
telefoniese kontak op daaglikse basis tussen 17:00 en 19:00;
2.2.7
redelike
kontak te alle redelike tye.
2.3
Die
voogdyskap van die kinders soos bedoel in artikels 18(2)(c) en 18(3)
van die Kinderwet, 2005 word aan die partye gesamentlik
toegeken.
3.
Die
partye word gelas om alle konsultasies soos bepaal deur die kliniese
sielkundige, Dr Henk Swanepoel, by te woon en sy redelike
opdragte na
te kom ten einde hom in staat te stel om ‘n forensiese verslag
uit te bring.
4.
Elke
party is verantwoordelik vir sy/haar eie regskoste verbonde aan die
aansoek.
_____________
J.P.
DAFFUE, R
Namens
applikant:
Adv N Van Niekerk
In
opdrag van:
Bronwyn May Ing
Pretoria
Namens
respondent : Adv SJ
Reinders
In
opdrag van:
Couzyn Hertzog & Horak
Pretoria