About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
>>
2017
>>
[2017] ZAGPPHC 66
|
|
Pretorius v Zwane NO (60438/2015) [2017] ZAGPPHC 66 (2 March 2017)
IN DIE
HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
/ES
(
GAUTENG
AFDELING, PRETORIA
)
SAAK
NO: 60438/2015
DATUM:
2/3/2017
Rapporteerbaar:
Nee
Van
belang vir ander regters: Nee
Hersien
IN
DIE SAAK TUSSEN
ANDRE
PRETORIUS EISER
EN
SAMUEL
DEMOCRACY ZWANE
NO 1STE
VERWEERDER
SAMUEL
DEMOCRACY
ZWANE 2DE
VERWEERDER
UITSPRAAK
PRINSLOO,
R
[1]
Die eiser voer aan dat hy die eienaar is van 692 bale veevoer en dat
die eerste, alternatiewelik die tweede verweerder in onregmatige
besit van hierdie bale is. Die eiser vorder teruggawe van die
692 bale.
[2] In
die alternatief, en slegs indien dit bevind sou word dat die eerste
of die tweede verweerder nie meer in besit van die bale
is nie voer
die eiser aan dat die bale, teen R500,00 per baal, R346 000,00
werd is en vra hy vir betaling van hierdie bedrag
met rente.
Die eiser voer aan dat die verweerders bewus was van sy eiendomsreg
ten aansien van die bale en dat hulle daarvan
ontslae geraak het ten
spyte van hierdie kennis.
[3]
Die eiser pleit dat die verweerders, die een of die ander, weier om
die bale aan hom terug te gee.
[4] By
die aanvang van die verhoor, het die partye aansoek gedoen dat die
alternatiewe eis waarna ek verwys het, geskei moet word
vir latere
beregting in terme van reël 33(4). Ek het 'n
gepaste bevel gemaak in terme van die genoemde subreël.
Ek
voeg by dat dit uit die getuienis geblyk het dat die verweerders nie
meer in besit is van al die bale nie en daarvan blykbaar
as voer
beskikbaar gestel het vir hulle eie beeste. Ek is nie gevra om
hierdie deel van die saak te bereg nie en geen getuienis
wat nodig
sou wees vir die beregting van die alternatiewe eis is aangebied
nie. Die Reël 33(4) bevel bly dus van krag,
en, vir
doeleindes van die uitspraak, sal ek slegs hou by die beregting van
die hoofeis, naamlik dié vir lewering van die
bale.
[5] In
hulle verweerskrif, voer die verweerders aan dat die eerste
verweerder (die Democracy Zwane Familietrust, waarvan die
tweede
verweerder die enigste trustee is) die eienaar is van al die bale
veevoer op die plaas bekend as die Resterende Gedeelte
van Gedeelte
11 van die Plaas Uitgevallen 134. Die verweerders pleit
dat die eerste verweerder in besit is van al die
bale op die genoemde
plaas ("die plaas").
[6]
Die verweerders erken dat hulle, ten spyte van behoorlike aanmaning,
weier om die eiser toe te laat om die bale van die plaas
af te
verwyder, omdat die eerste verweerder die eienaar daarvan is.
[7]
Voor my, het mnr Uys vir die eiser verskyn en mnr Keet vir die
verweerders.
Agtergrondsfeite
wat nie in geskil is nie
[8]
Die plaas het aanvanklik aan wyle Lesley Megan Pretorius behoort.
Sy was die eggenote van Theunis Dirkse Pretorius, die
broer van die
eiser ("broer Theunis" of "Theunis").
[9] Me
Pretorius is in Oktober 2013 oorlede en Theunis het, saam met een van
sy seuns, aangegaan met die boerdery op die plaas.
In Mei 2014
is Theunis deur die Meester as die eksekuteur van sy wyle eggenote se
boedel aangestel.
[10]
In terme van die testament is daar ook 'n Lesley Megan Pretorius
Trust gestig, iets wat gedoen moes word by die afsterwe van
een van
die twee egliede. Die stigting van hierdie Trust het nie 'n
direkte invloed op die beregting van die saak nie.
[11]
Die plaas is net meer as 180 hektaar groot. Dit is in die
Ermelo distrik geleë. Fotos van die verbeterings
op die
plaas is ingedien as bewysstukke "D1" tot "D8".
Op die oog af is die verbeterings van 'n baie
indrukwekkende aard.
Daar is ook 'n sogenaamde "trou venue" op die plaas,
'n klein kerkie waar die huwelike
bevestig word, groot onthaal areas
en selfs 'n sogenaamde "lodge", bekend as die Barnyard
Lodge. Ietwat teen my
sin, gebruik ek die woorde "venue"
en "lodge" omdat dit blykbaar meer en meer algemeen in die
volksmond geuiter
word. Op die oog af, was dit 'n baie
eksklusiewe en netjiese plaas en, aldus broer Theunis en die eiser,
te alle wesenlike
tye behoorlik onderhou. Die tweede
verweerder, mnr Samuel Democracy Zwane, (na wie ek sal verwys as
"Zwane"
sonder om enigsins disrespekvol te wees) het getuig
dat die plaas op 'n stadium ietwat vervalle geraak het en nie meer
behoorlik
onderhou is nie, maar dit is betwis.
[12]
Wat van uiterste belang is vir doeleindes van die beregting van
hierdie saak, is die feit dat 'n aantal kampe op die plaas
te alle
wesenlike tye beplant was met 'n baie spesiale grassoort, bekend
onder die boere as Oulandsgras, met die wetenskaplike
naam van
Eragrostis. Volgens die bron wat ek nagevors het is Eragrostis
'n groot en wyd verspreide
genus
van plante in die
gras
familie
wat in baie lande en op al die vastelande aangetref
word. Dit is bekend daarvoor dat dit as veevoer aangewend word
en staan
ook bekend as "lovegrass" of "cane grass".
Dit is 'n samestelling van die Griekse woorde
eros
wat liefde
beteken en
agrostus
wat gras beteken. Ek hoef my nie
verder met hierdie tegnikaliteite te bemoei nie en sal bloot daarna
verwys as "die gras",
of as "Eragrostis" of
as Oulandsgras.
[13]
Die bale wat die onderwerp van hierdie saak vorm, bestaan uit die
gras wat op die plaas verbou is en wat deur die eiser gesny
en gebaal
is met sy implemente. Meer inligting hieroor blyk uit die
getuienis van broer Theunis en die eiser.
[14]
Na die afsterwe van me Pretorius het broer Theunis, in oorleg met sy
seuns en sy ouditeur, besluit om die plaas te verkoop
en dit so in
die plaaslike koerantjie geadverteer. 'n Totale
uitverkoping of veiling is ook geadverteer vir 29 November
2014.
[15]
Voor die veiling, te wete in Oktober 2014, het Zwane broer Theunis
genader en aangekondig dat hy belangstel daarin om die plaas
te
koop. Zwane is blykbaar 'n gesiene besigheidsman met
uitgebreide belange in die Ermelo distrik.
[16]
'n Ooreenkoms is bereik, en die volgende het gebeur:
• Op 23 Oktober 2014, en te Ermelo, is die koopakte onderteken,
met die boedel van wyle me Pretorius soos verteenwoordig
deur
broer Theunis as eksekuteur as die verkoper en die eerste verweerder
Trust, verteenwoordig deur Zwane, as die koper.
Die koopsom was
R7,5 miljoen.
• Klousule 4, onder die kopstuk "Possession" bepaal –
"Possession and occupation of the property shall be given to the
Purchaser on date of registration."
'n Gedeelte van klousule 6 van die koopakte bepaal –
"The property is sold 'voetstoots' as it stands, the Seller
giving no warranty in regard to the buildings and any improvements
upon the property. The Seller shall not be liable for any
defects in the property, either latent or patent."
• Die koop was onderworpe aan die ontbindende voorwaarde dat as
die koper nie daarin sou slaag om 'n "bond" of lening
vir
die koopsom binne 30 dae na ondertekening van die kontrak te
bekom nie, die kontrak sou verval en nietig sou wees.
Dit is
klousule 14. Zwane kon nie 'n lening bekom nie en die kontrak
het verval.
• Klousule 18 van die kontrak, onder die kopstuk "benefits"
bepaal –
"Any benefit that the property may bear shall pass to the
Purchaser on the same day that the sole risk, loss or profit of
the
property shall pass to the Purchaser."
Voor my, was dit gemene saak dat hierdie datum, die dag
verteenwoordig waarop die plaas in die naam van die eerste verweerder
geregistreer is, soos dit hieronder sal blyk.
• Op 4 Desember 2014 is daar weer 'n kontrak tussen dieselfde
partye aangegaan ("die tweede kontrak") waarby die
bepalings van die eerste kontrak ingelyf is en wat ook onderworpe was
aan 'n soortgelyke ontbindende klousule. Weer eens
het Zwane
nie daarin geslaag om 'n verband te bekom nie en die tweede kontrak
het ook verval.
[17]
Op 6 Februarie 2015 is 'n soortgelyke kontrak aangegaan ("die
derde kontrak") en die bepalings van die eerste kontrak
van
23 Oktober 2014 is weer ingelyf.
Hierdie
keer is die koopsom verminder van R7,5 miljoen tot
R7,2 miljoen. Zwane het 'n lening gekry.
[18]
Dit is gemene saak dat die plaas toe op 4 Mei 2015 in die eerste
verweerder Trust se naam geregistreer is.
Kort
opsomming en ontleding van die getuienis
[19]
Oor die algemeen is die getuies aan langdurige en breedvoerige
kruisondervraging onderwerp. Ek sal poog om die opsomming
te
beperk tot wat myns insiens relevant is tot die beregting van hierdie
saak.
(i)
Theunis Dirkse Pretorius
[20]
Ek het reeds tot 'n mate uitgewei oor die betrokkenheid van broer
Theunis.
[21]
Voor die veiling wat vir 29 November 2014 geadverteer was, het Zwane,
soos ek gesê het, reeds in Oktober opgedaag en
gesê hy
stel belang in die plaas. Broer Theunis het vir hom gesê
dat dit voetstoots in die mark is en hulle het
deur die plaas gery
met die bakkie. Dit was Oktober, na die winter. Die gras
was kort gesny. Die laaste snysel
is gewoonlik laat herfs.
Dit sou 'n verwysing na die Eragrostis gewees het. Al die
beeste was na die plaas geneem
om hulle "af te rond"
vir die veiling.
[22]
Die Eragrostis of Oulandsgras moet goed bestuur word. Goeie
bemesting is noodsaaklik en dit word gereeld gesny en gebaal
voor die
winter. Die gras is so bestuur.
[23]
Die eerste kontrak is in Oktober geteken en het toe verval.
[24]
Hulle het aangegaan met die veiling op 29 November 2014.
Al die vee, implemente, los goed en die grond is aangebied.
Die
vee, implemente en los goed is verkoop, maar die reserwe op die grond
kon nie gehaal word nie en die plaas is nie verkoop nie.
[25]
Sy broer Andre (die eiser) het 67 beeste asook los goed en implemente
gekoop.
[26]
Van belang vir doeleindes van hierdie saak is dat die eiser sy broer
na die veiling genader het en gevra het of die beeste
wat hy gekoop
het na die veiling steeds op die plaas kan wei. Dit het broer
Theunis gehelp, want al sy implemente was verkoop,
en hy kon die
plaas self nie meer in stand hou nie. Dit was vir hom 'n
uitkoms, want die eiser sou die plaas reg bestuur.
Die volgende
mondelinge ooreenkoms is toe aangegaan:
• die beeste kon op die plaas aanbly;
• die eiser sou die gras bestuur deur dit te bemes en te sny
sodat die kwaliteit goed kon bly tot daar 'n koper vir die plaas
opdaag.
[27]
Die bale is die eiser se eiendom. Hy het die gras bemes en
gesny en hy kan dit gebruik as voer vir sy beeste.
[28]
Die gras (dit is deurgaans 'n verwysing na die Eragrostis of
Oulandsgras) is in Desember bemes en in Januarie 2015 gesny.
[29]
Die tweede kontrak is in Desember 2014 aangegaan, soos ek aangedui
het, en het weer verval.
[30]
Die derde kontrak is in Februarie 2015 aangegaan en die koopsom is
verminder na R7,2 miljoen. Zwane het die lening
gekry.
Die Trust (eerste verweerder) is die koper.
[31]
Registrasie van die oordrag het op 4 Mei 2015 plaasgevind waarna
die verweerders "alle reg" op die grond
bekom het soos
bepaal in die ooreenkoms. Zwane het besit van die plaas geneem
na 4 Mei.
[32]
Na 4 Mei het broer Theunis ook die eiser, wie se beeste nog daar was,
asook sy bale wat in kampies gestoor was, meegedeel het
van die
oordrag wat geregistreer is en versoek het om sy eiendom te verwyder.
[33]
Die voordeel en risiko op die plaas het op 4 Mei 2015 op die
verweerders oorgegaan.
[34]
Die bale word met 'n baler gemaak. Dit is groot bale, rond en
met 'n deursnit van 1.5 meter.
[35]
In kruisondervraging het die getuie bevestig dat die Oulandsgras
begin Desember bemes is en die eerste keer in Januarie 2015
gesny is.
[36]
Toe die derde kontrak in Februarie aangegaan is, was die eerste 400
bale reeds gesny en vervaardig.
[37]
Die eiser het die reg gehad om op die plaas te wees en broer Theunis
het hom toestemming gegee. Dit was 'n baie suksesvolle
veiling. Dit sou die getuie pas as die eiser die plaas kon
bestuur, en veral die weiding. Dit was die ooreenkoms.
Daar was nie huurgeld ter sprake nie. Hy moet net na die plek
kyk en die plaas onderhou, en "dit wat hy daaruit
maak is
sy voordeel".
[38]
Hy is gekonfronteer met 'n stelling dat hy nie vir Zwane gesê
het dat sy broer op die grond is en 'n belang daar het
nie. Die
antwoord was dat daar nog geen kontrak was nie. Toe hy weer
gekonfronteer is daarmee dat hy tydens onderhandelinge
nie vir Zwane
gesê het dat sy broer op die plaas is en dat hy sekere regte
daar uitoefen nie, het broer Theunis, heel eerlik,
gesê dat dit
bespreek kon gewees het maar hy kan dit nie spesifiek onthou nie.
Broer Theunis het egter volgehou dat
alhoewel hy dit dalk nie met
Zwane bespreek het nie, laasgenoemde geweet het sy broer het beeste
op die veiling gekoop en dat die
beeste op die plaas gebly het.
Daar was toe nog geen ooreenkoms nie en die plaas is toe nog nie
verkoop nie.
[39]
Hy het herhaal dat sy ooreenkoms met die eiser was dat as die plaas
verkoop word moet die eiser sy vee en bale verwyder en
"as hy
die gras nie gesny het nie, het hy dit verloor".
[40]
Dit is korrek dat Zwane twee keer op die plaas was. Die eerste
keer in Oktober voor die veiling en die tweede keer in
die geselskap
van 'n "bank amptenaar" wat die plaas ook moes sien ten
einde te besluit of 'n lening toegestaan moet word.
Dit het
later geblyk dat die "bank amptenaar" eintlik 'n munisipale
verteenwoordiger was wat vroeër by die bank
gewerk het en Zwane
sou "adviseer" oor die koop van die plaas en die verkryging
van die lening. Hierdie persoon,
mnr Shongwe, het later
namens die verweerders getuig.
[41]
Die eerste snysel en baal van die gras was in Januarie. Daarna
het die "bankier" soos hy genoem is die plaas
besoek.
By daardie besoek sou daar bale (400) op die plaas gewees het.
Dit word geberg in kampies agter die skuur.
[42]
Tydens hierdie besoek (dit is gemene saak dat dit op 2 Februarie 2015
plaasgevind het) het hulle met die bakkie gery tot by
die hoogste
punt op die plaas en die plaas bekyk. Hulle het nie spesifiek
na die hooi gery aan die ander kant nie.
[43]
Dit beteken dat Zwane en die bankier nie die bale sou sien nie.
Dit is nie vir hulle weggesteek nie maar hulle het nie
spesifiek na
die bale toe gegaan nie.
[44]
Dit is ook aan hulle genoem dat die eiser die plaas onderhou en dat
dit sy beeste is wat daar wei (by Zwane se eerste besoek
voor die
veiling was daar baie beeste wat daar aangehou is vir die veiling en
"afgerond" is).
[45]
Dit is aan die getuie gestel dat Zwane sal sê dat dit op geen
stadium vir hom genoem is dat iemand anders op die grond
is wat 'n
reg het op die grond nie. Hierdie stelling is nie deur Theunis
erken nie.
[46]
Van belang is dat Theunis gevra is of hy onthou wat Zwane gesê
het hoekom hy belangstel in die plaas. Die antwoord
was dat
Zwane geen rede gegee het hoekom hy belangstel nie. "Ek
het hom dit pertinent gevra ook, daar was nie regtig
'n antwoord
nie." Dit is toe gestel dat Zwane sal sê dat daar
pertinent 'n bespreking was hoekom hy belangstel
in die plaas en
Theunis het dit heftig ontken en herhaal dat hy Zwane gevra het wat
toe gesê het dat sy seun in standerd
9 is en dat die outjie
miskien eendag na die plaas sou kom.
Dit is
toe aan hom gestel dat Zwane in die plaas belanggestel het "vanweë
die goeie drakrag wat die spesifieke plaas het".
Theunis
het dit ontken. "My vraag was meer as een keer wat wil jy
met die trou venue en die plaas maak, hy het net nooit
regtig 'n
antwoord gegee nie."
Daar
is toe aan hom gestel dat Zwane vir hom gesê het hy het 150
stuks vee wat hy op die plaas wil jaag vir weiding.
Dit is
ontken.
Dit is
toe gestel dat Zwane gesê het die weiding was die
deurslaggewende faktor vir die koop. Die Oulandsgras wat geil
op die lande staan was die deurslaggewende faktor vir die koop van
die plaas. Die getuie het herhaal dat hy gevra het wat
Zwane
met die plaas wil maak en dit was nie sy antwoord nie. Hy weet
nie van die vee wat Zwane wou bring nie. Die Oulandsgras
is
soos 'n mielie. As jy nie Oulandsgras reg bestuur en voldoende
kunsmis gee nie, is daar geen waarborg dat daar 'n oes
gaan wees nie.
[47]
Die besoek van Zwane en die bankier was na die derde kontrak.
Hy moes 'n waarborg kry toe kom die bankier "hy het
dit net so
gewaarborg met die oog". Die derde kontrak is op
6 Februarie 2015 geteken.
[48]
Dit is aan hom gestel dat die eiser in Februarie 2015 definitief nie
op die plaas was nie. Die antwoord was dat die eiser
nie
teenwoordig was die dag van die besoek met die bankier nie maar dat
sy beeste daar gewei het en dat hy die gras bemes het.
[49]
'n Stelling dat daar nie beeste op die plaas was nie maar net perde
toe die bankier daar was is ontken en broer Theunis het
gesê
daar was beeste.
[50]
Dit is gestel dat Zwane sal sê dat toe hy na die 4 Mei
registrasie op die plaas kom, op 6 of 7 Mei, was hy
geskok
om die eiser daar te sien. Die antwoord was dat broer Theunis
die eiser na die registrasie laat weet het daarvan en
dat hy sy
beeste en bale moet verwyder. Die volgende dag het die eiser
opgedaag om dit te doen en Zwane het eers geweier
maar later toegegee
dat hy die beeste kan vat maar nie die bale nie. Dit strook ook
met die eiser se getuienis.
Theunis
het gesê dat as eksekuteur van die boedel moes hy aanhou om die
plaas te bestuur totdat oordrag plaasgevind het.
Voordat
waarborge gelewer is het hy geen sekerheid gehad dat die koop sou
deurgaan nie.
[51]
Toe hy gevra is of hy ooit die bale getel het, het hy gesê die
eerste keer was dit 400 en die tweede keer 292.
[52]
Op 'n vraag het hy uitdruklik gesê dat die eerste snysel in
Januarie was en die tweede snysel in Maart 2015.
[53]
Dit is gestel dat Zwane sal sê dat die eiser nie op die plaas
was in Januarie en Februarie en tot minstens die middel
van Maart
nie. Sy beeste mag daar gewees het maar hy self het nie gebaal
op daardie stadium nie. Die antwoord was dat
die eiser in
Januarie gras gesny en gebaal het. Sy beeste was daar. Hy
of sy seuns het gekyk of alles in orde is.
In Maart het die
eiser weer gesny.
[54]
Dit is gestel dat die eiser wel in Januarie en Februarie tot middel
Maart gebaal het maar dit was op 'n ander plaas wat aan
Zwane
behoort. Dit is gemene saak dat Zwane 'n ander plaas of plase
besit en dat die eiser, by ooreenkoms, vir hom gras op
daardie plase
gebaal het. Theunis het egter gesê dat dit baie maklik is
om op verskeie plase te sny en te baal in een
week.
[55]
Theunis het teen die einde van Januarie na Howick verhuis toe hy 'n
eiendom daar gekoop het en sy een seun het agtergebly om
na die huis
en die geboue en die werf om te sien. Dit is gestel dat dit die
eiser se seun Regardt is wat vir die eiser toestemming
gegee het om
op die plaas te baal en nie Theunis self nie. Dit is ontken.
Die ooreenkoms is tussen Theunis en die eiser
aangegaan op
29 November na die veiling. Die eiser se vermoë was
bekend aan Theunis en hy was nie bekommerd nie
en het geweet dat die
eiser die plaas reg sal bestuur en dieselfde geld die Oulandsgras.
[56]
Toe hy gevra is hoekom al die beeste en los bates nie verwyder is die
oomblik wat die lening toegestaan is nie (hierdie besonderhede
het in
elk geval nooit bekend geraak nie) het hy gesê omdat die koper
eers 'n reg tot die eiendom verkry het na registrasie
en niemand het
geweet wanneer dit sou wees nie.
[57]
Dit is gestel dat toe Zwane en die bank-man in Februarie besoek
afgelê het daar geen bale op die plaas was nie.
Dit het
Theunis heftig ontken. Sy seun, Oric, het die bakkie bestuur en
die bank-man het voor saam met hom gesit. Theunis
en Zwane het
agter op die bakkie gestaan. Hulle het na die hoogste punt van
die plaas gery. Van daar kan jy al die
bakens van die plaas
sien. Hy het daarna gekyk en gesê hy is tevrede.
Van daar kan jy dele van die Oulandsgras,
die damme en die
weikampe sien. Hulle het nie deur elke hoek en draai van die
plaas gegaan nie. Die bank man het
gesê hy is
tevrede, hy sien wat hy wil sien. Hy het geen opmetings gedoen
of besonderhede daarvan gevra nie en geen
data of niks anders gevra
of in detail na iets gekyk nie. Na my mening is hierdie
getuienis, op die waarskynlikhede, aanvaarbaar:
Shongwe was toe nie
"die bank man" nie maar kennelik 'n vriend van Zwane
wat voorheen by die bank gewerk het en
hom nou net "geadviseer"
het oor die plaas en die koop daarvan.
[58]
Van die parkeerarea waar hulle gestop het, het die bank man 'n
draai deur die geboue geloop. Die seun het die bakkie
van die
motorhuis na die parkeerarea geneem waar die man se kar geparkeer was
en hy het toe gery. Die bank man het "ligtelik"
na die geboue gekyk. Hy het geen detail gevra nie.
[59]
Dit is gestel dat die toestand van die geboue en die heinings versleg
het tussen die ondertekening van die kontrak en die okkupasie
van die
plaas. Dit is ontken.
[60]
In herondervraging het Theunis gesê die grootte van die plaas
was 180.2658 hektaar. Die drakrag vir vee was gemiddeld
3
hektaar per groot vee eenheid.
Die
Oulandsgras of Eragrostis word verbou, gesny en gebaal en bewaar vir
die winter. As die gras nie onderhou word nie dan
vrek dit.
Dit maak polle. Dan is dit "nie die moeite werd
nie". Dit moet onderhou word om bevredigende
produksie te
gee.
[61]
Theunis is gevra as die Oulandsgras, hipoteties gesproke, nie in
Maart gesny is nie hoe dit sou gelyk het in Mei. Hy
het gesê
dat die droë Oulandsgras beteken niks. Daar is 'n manier
om dit te bewaar. As dit nie gesny is
nie en die gras op die
land bly staan het sou dit "van geen waarde gewees het nie".
As Zwane byvoorbeeld sy beeste
daar ingejaag het in Mei, soos hy
blykbaar van plan was om te doen, sou dit "baie swak gehalte kos
gewees het".
[62]
Theunis was na my mening 'n uitstekende getuie. Hy was duidelik
eerlik en opreg met sy antwoorde. Daar is niks
wat hy gesê
het wat myns insiens inherent onwaarskynlik kan wees nie. Dit
was duidelik dat hy weet waarvan hy praat.
(ii)
Andre Pretorius, die eiser
[63]
Hy het die getuienis van broer Theunis in alle wesenlike opsigte
gestaaf.
[64]
By die 29 November 2014 veiling het hy beeste, implemente en los
goedere gekoop. Hy het vir Theunis gevra of dit
moontlik
is dat die 67 koeie wat hy gekoop het op die plaas geakkommodeer kan
word. Theunis het ingestem. Theunis het
gesê dat
aangesien al sy implemente verkoop was die eiser ook die Oulandsgras
kon bewerk.
[65]
Hy het breedvoerig getuig oor wat dit behels om die Oulandsgras te
bewerk. Dit is eintlik 'n baie duur proses.
Heelwat
implemente word benodig om dit in 'n goeie gehalte voer te omskep.
Dit moet goed bemes word met stikstof. Dit
is 'n duur proses en
die stikstof toediening moet van so 'n aard wees dat daar 'n goeie
opbrengs verkry sal kan word. Dit
was die verstandhouding
tussen hom en Theunis dat hy die Oulandsgras goed sal onderhou sodat
daar vorentoe 'n goeie opbrengs gelewer
sal kan word. In begin
Desember 2014 het hy stikstof aangekoop wat uitgestrooi is op al die
Oulandsgras. Hy het die
eerste snysel in Januarie gedoen en 400
bale was die opbrengs. Die proses hiervoor behels die
aanwending van sny masjiene
en daarna word die gesnyde gras
gehark na dit afgedroog het. Dit word in wind rye gerangskik
waarna die baler agterna kom
en die gras oprol en die bale
produseer. Na die baal proses word die bale verwyder en in
kampies, "hooikampies",
naby die opstal geberg om dit te
beskerm teen loslopende diere. Hy het die 400 bale self getel.
In terme van sy
ooreenkoms met Theunis sou hy die eienaar van
die bale wees. "Die bale is myne, ek bewerk dit en dit is
vir my rekening,
my opbrengs."
Onmiddellik
nadat die bale geberg is, is stikstof weer toegedien en die proses is
herhaal en in Maart 2015 het die tweede snysel
plaasgevind wat 292
bale opgelewer het. Hierdie bale is ook verpak by die 400 bale
van die eerste snysel en die eiser het
self die operateurswerk ten
opsigte daarvan gedoen.
[66]
Van verdere belang is die volgende: die eiser is gevra wanneer die
Oulandsgras weer gesny sou word as die eiser in besit van
die grond
sou gebly het. Volgens hom neem die groei seisoen af vir
die "na seisoen" waaronder Maart verstaan
word. Daar
is weinig groei na Maart, so daar word nie weer gesny voor die nuwe
seisoen in Oktober of soos wat die reën
val en die hergroei
plaasvind nie. Dit is 'n meerjarige plant. Dit loop uit
tot 'n sekere hoogte van ongeveer 30cm
tot 40cm en word dan weer
gesny.
Hy is
gevra wat sou gebeur het as die Oulandsgras nie in Maart gesny is
nie. Oulandsgras, volgens hom, is 'n baie harde tipe
gras wat
jaarliks bemes moet word om smaaklikheid aan te bring. As dit
nie gesny word nie verander dit in 'n baie swak gehalte
van
Oulandsgras wat ryp word en van kleur verander en baie min
voedingswaarde vir 'n dier het.
[67]
Ek voeg by dat al hierdie getuienis ten opsigte van die bemesting,
bewerking en baal van die Oulandsgras, en ook die betrokke
tye van
die jaar en die seisoene wat van belang is, in wese onbetwis is.
Later het die eiser ook getuig dat hy sedert 1979
betrokke is by die
bemesting en bewerking en baling van Oulandsgras en dit ook doen vir
ander boere, soos bv vir Zwane. Wat
hy gesê het getuig
van intieme kennis van die onderwerp. Dit is ook in wesenlike
opsigte gestaaf deur Theunis.
[68]
Die getuienis van die eiser oor sy skakeling met Zwane is ook van
belang. Volgens hom het hy die eerste keer met Zwane
te doen
gekry toe hy by Theunis gehoor het dat Zwane 'n moontlike koper van
die grond was. Hy was onseker oor die datum.
Hy het ook
'n afspraak gemaak om Zwane by sy kantoor in Ennisstraat in Ermelo te
besoek om die saak te bespreek. Later het
dit geblyk dat die
adres wat hy gegee het verkeerd is en dat die kantoor in
De Jagerstraat geleë is. Die eiser
het ruiterlik
toegegee dat hy verkeerd kan wees aangesien hy nie die dorp goed ken
nie maar wel die omgewing waar hy ook boer.
Theunis het hom ook
meegedeel dat die koop nie gefinaliseer is nie. Hy het Zwane by
sy kantoor besoek om te hoor of daar
'n moontlikheid was dat hy die
plaas kan huur as die transaksie beklink sou word. Hy het gesê
dat Zwane bewus was daarvan
dat hy beeste het wat op die plaas loop.
Hy het pertinent vir Zwane gesê dat dit sy beeste is wat op die
grond loop.
By geleentheid, terwyl hy besig was op die trekker
met die bewerking van die gras het Zwane ook naby hom met sy motor
gestop en
met hom gesels. Toe Zwane hom daar op die trekker
aangetref het was dit in Maart toe hy besig was om die tweede snysel
af
te sny.
By die
eerste ontmoeting in Zwane se kantoor het hy hom gevra of hy die
grond kan huur as die transaksie sou plaasvind. Zwane
het toe
gesê dat hy nog geen reg op die grond het nie. Hy het hom
gevra dat as die transaksie beklink sou word hy 'n
opsie sou wou hê
om te huur, naamlik die weiding en die lande op die plaas.
Zwane het toe nie 'n definitiewe antwoord
gegee nie. By die
ontmoeting in Maart is daar nie besigheid gepraat oor die plaas of
die verhuring daarvan nie.
Die
plaas het 'n pad na die opstal. Die eiser het daarna verwys as
'n "gang". Zwane het in hierdie "gang"
stilgehou naby die trekker waarop die eiser besig was om die voer te
baal. Net 'n normale gesprek het gevolg. Zwane
het hom
geken en hulle het ook gepraat oor 'n ander eiendom van Zwane waar
die eiser ook al Eragrostis bewerk het. Uitgevallen
is
noord oos van Ermelo en die ander eiendom van Zwane is suid van
Ermelo. Dit is op die Amersfoort pad. Die eiser
het ook
soortgelyke dienste gelewer op Zwane se plaas Grasslands, "so hy
ken my daardeur".
[69]
Broer Theunis het hom op 4 Mei 2015 gebel en gesê die grond is
in Zwane se naam geregistreer op die betrokke dag.
Die eiser
het onmiddellik vir Zwane gebel en weer gevra of daar 'n moontlikheid
is van verhuring van die plaas Uitgevallen.
Zwane het gesê
"it is too expensive for farming". Toe hy die
boodskap kry dat daar nie verhuring sou kon
wees nie het hy vir Zwane
gesê dat hy van die volgende dag af sy bates sal verwyder van
die plaas af. Die volgende
dag het hy en sy twee seuns wat saam
met hom boer met sy vragmotor en sleepwa gegaan om die beeste op te
laai. Zwane was
ongelukkig dat hy die beeste kom oplaai en die
eiser weet nie om watter rede nie. Zwane het sy seun probeer
verhoed om die
vragmotor te trek op die laaibank waar die beeste
opgelaai moes word. Die eiser het tussenbeide getree en hulle
het voortgegaan
met die laai van die beeste. Op daardie stadium
was die bale nog net so in die twee hooikampies verpak. Die
eiser het
toe nog geen bale verwyder nie. Hy sê toe vir
Zwane hy gaan so gou moontlik die bale verwyder en Zwane het gesê
hy gaan eers die saak met Theunis opvolg. Daar was geen reaksie
nie. Hy het Zwane verskeie kere oor die bale gebel.
Zwane
het toe gesê hy weier en sy perseel mag nie betree word nie.
Op 4
en 5 Mei het die eiser 'n "draad span" aangestel om die
heinings na te gaan en enige defekte te herstel en nuwe ysterpale
in
te sit waar nodig.
Zwane
het 'n ysterhek opgerig by die betrokke "gang" waarna
verwys is, die hoof ingang waar jy die plaas betree, en die
hek met
'n ketting en slot gesluit. Die eiser het Zwane verskeie kere
geskakel en probeer om die saak op 'n ordentlike manier
by te lê
maar sonder sukses. Hy is toegang tot die plaas geweier.
[70]
In kruisondervraging het die eiser gesê die bale is 1,5 meter
in deursnee, rond en word met 'n laaigraaf verwyder.
'n Baal
weeg 332kg. Die hooikampies is direk langs die plaaswerf.
Daar
is gestel dat jy nie by die werf kan kom sonder om die bale te sien
nie. Die antwoord was dat die bale agter die store
is waar die
implemente gestaan het. As jy van die hoof ingang roete kom sal
jy nie die bale sien nie. Jy moet eers
deur die werf kom.
Dit is aan die agterkant. Vanaf die huis waar jy inbeweeg sal
jy dit nie sien nie. As jy om
die trou venue gaan sal jy dit
sien. Die trou venue is deel van die werf.
[71]
Dit is aan hom gestel dat daar op 2 Februarie met die besoek saam met
die bank amptenaar geen bale op die plaas was nie.
Die eiser
het dit ontken en bevestig dat die eerste snysel reeds verpak was in
die kampie. Dit was alles verpak, bymekaar
in reguit lyne.
[72]
Dit is aan hom gestel dat hy Zwane net twee keer gesien het, die
eerste keer op die plaas Grasslands toe hy daar gebaal het
en die
tweede keer op 6 Mei na die registrasie van die oordrag. Dit is
ontken. Die eerste keer het hy hom op die veiling
gesien op
29 November en toe ook in sy kantoor en ook op die plaas soos hy
beskryf het. Hy was op die plaas toe
die eiser besig was
met die derde snysel in Maart.
[73]
Die beeste op die plaas het nie op die Eragrostis gewei nie maar op
die "natuurlike veld". Die plaas bestaan
uit weikampe
sowel as lande-kampe. Die beeste het op die weikampe gewei.
Lande-kampe het die aangeplante weiding waar
die Oulandsgras verbou
was.
[74]
Op 'n vraag of hy 'n deskundige is met die verbouing van Eragrostis
het hy gesê, soos ek genoem het, dat hy dit reeds
sedert 1979
bewerk en hy meen dat hy kennis het van Eragrostis. Hy het
bevestig dat die bale finansiële waarde het.
In sy geval
wend hy dit aan om die beeste mee te laat oorwinter. Daar is
wel 'n mark vir sulke bale.
[75]
Hy het nie geweet van die lening wat goedgekeur is nie want dit het
niks met hom te doen nie.
[76]
Dit is aan hom gestel dat R7,2 miljoen baie is vir 'n relatiewe klein
plasie van 181 hektaar. Dit is gestel dat
die prys
beïnvloed is deur die bestaan van die Eragrostis. Hy het
dit ontken en gesê hy dink dit is geregverdig
as gevolg van al
die geboue wat op die plaas aangebring is. Die plaas bestaan
uit 'n baie groot woonhuis, groot onthaal areas
asook 'n woonstel met
motorhuise en buitegeboue.
[77]
Hy herhaal dat dit 'n baie duur proses is om die gras te bewerk.
Daar moet kunsmis soos stikstof aangekoop word wat uitgestrooi
moet
word. In hierdie geval het die koste van die stikstof alleen
R110 000,00 beloop. Die onkoste met die masjinerie
wat
benodig word om die bale in te samel is ook 'n duur proses. Die
snymasjien, hark, baler en trekkers moet onderhou word
en verdere
koste bestaan uit die dieselverbruik en die aankoop van bindmateriaal
vir die bale.
[78]
Ek herhaal dat hierdie getuienis, wat dui op intieme kennis van die
onderwerp deur die getuie, in wese onbetwis is.
[79]
Dit is aan die eiser gestel dat met Zwane se eerste besoek aan die
plaas, teen die einde van 2014, net voor die veiling, (broer
Theunis
het gesê dit was in Oktober) die gras lank was. Die eiser
het gesê die gras se her groei begin eers
na goeie reëns
op die Hoëveld. 2014 se reënval het baie laat in die
seisoen begin. Die laaste gras word
verwyder met die masjiene,
opgesny en gebaal voor die winter. Met die laat reëns en
die kort gesnyde gras van die vorige
seisoen was daar onmoontlike al
lang gras.
[80]
Dit is gestel toe Zwane die plaas op 2 Februarie saam met Shongwe
(die "bank amptenaar") besoek het die gras "indrukwekkend
was". Dit is gestel dat die gras nie teen 2 Februarie
gesny was nie. Die eiser het dit ontken en herbevestig
dat die
gras reeds in Januarie vir die eerste keer gesny is. Met die
tipe bemesting wat toegedien is het die gras 'n vinnige
her groei.
[81]
Die eiser het bevestig dat hy gras vir Zwane op Grasslands gesny het,
ook in Maart. Hy het Zwane meer kere gesien
as wat aan hom
gestel is naamlik dat die tweede keer eers was na die registrasie van
die eiendom. Hy het herbevestig dat
hy Zwane die dag met die
veiling gesien het. Hy het hom nog gehelp om goed wat hy gekoop
het op 'n waentjie te laai.
Hy het hom ook op die ander kere
gesien naamlik in sy kantoor en met die tweede snysel in Maart asook
die dag toe hy die beeste
verwyder het.
[82]
Dit is aan hom gestel dat Zwane nooit bewus was dat die eiser
hoegenaamd op die plaas is nie. Dit is heftig ontken.
"Hy
was deeglik bewus dat ek daar is."
[83]
Hy het die stelling ontken dat dit Theunis se seun Regardt is, en nie
eersgenoemde nie wat hom toestemming gegee het om op
die plaas te
wees. Theunis het hierdie getuienis van die eiser bevestig.
[84]
Dit is aan hom gestel dat toe Zwane op die plaas was op 6 Mei daar
nie 692 bale was nie maar 550. Dit het die eiser ontken.
Hy het self die bale getel na dit verbou en verpak is in die twee
kampies in netjiese rye.
Ek
voeg by dat dit nie in die pleit vermeld word dat daar net 550 bale
op die plaas was nie. Daar is net erken, of gepleit,
dat Zwane
die eienaar is van al die bale op die plaas.
Die
eiser het gesê hy tel die bale vir rekordhouding vir die
voer-vloei program en sy twee seuns het ook die bale getel.
Ek
vind hierdie getuienis oortuigend en die bewering inherent
waarskynlik.
[85]
Hy het herbevestig dat hy die beeste die dag na die registrasie van
die oordrag verwyder het.
[86]
Hierdie bewering is ontken. Dit is gestel dat Zwane op 6 Mei op
die plaas gekom het en, toe hy arriveer, was die eiser
steeds besig
om te baal. Die eiser het dit heftig ontken en gesê dit
is totaal onwaar. Daar was geen aktiwiteite
op die lande nie.
Hy was wel besig om beeste te verwyder.
Ek
voeg by dat die stelling dat die eiser nog besig was om te baal na
die registrasie van die eiendom nie aan broer Theuns gemaak
is nie.
Die bewering is ook, myns insiens, inherent onwaarskynlik in die lig
van die oortuigende getuienis van broer Theunis
en die eiser dat daar
laastens teen Maart gesny moet word sodat dit in Meimaand reeds te
laat sou wees om dit te doen.
Dit
kom my voor asof die verweerders 'n verbete poging aangewend het om
te probeer illustreer dat daar eers gebaal is nadat die
oordrag
geregistreer is. Ek vind hierdie poging onoortuigend en die
bewerings onwaarskynlik.
[87]
Dit is aan die eiser gestel dat hy nie die eienaar van die bale is
nie maar "Zwane word die eienaar tydens registrasie
en die feit
dat die bale op daardie stadium nog op die plaas is". Die
eiser se houding was dat volgens hom hy die eienaar
van die bale is,
dit is op sy risiko bewerk en die uitgawes daar aangegaan was ten
volle vir sy rekening "so ek voel
dit kom my toe".
[88]
In herondervraging is die eiser gevra wat hy verwyder het of
toegelaat is om te verwyder na die datum van die registrasie van
die
oordrag. Dit was die lek bakke, asook die nekklamp waarmee
die beeste hanteer word asook die 67 beeste wat op die
eiendom gewei
het. Hy is dus toegelaat om al die roerende bates te verwyder
behalwe die bale. Dit val ook vreemd op,
en daar skyn nie 'n
realistiese verduideliking te wees vir hierdie onderskeid wat getref
is nie.
[89]
Soos broer Theunis, was die eiser, myns insiens, 'n eerlike en baie
indrukwekkende getuie. Niks wat hy gesê het
kan ek as
inherent onwaarskynlik aanmerk nie. Hy het duidelik 'n wye en
intieme kennis van die onderwerp van die verbouing
van Eragrostis.
Die tye wat hy sê hy die Eragrostis gesny het, strook met sy
getuienis oor die tye wanneer die Eragrostis
geoes behoort te word.
Dit is
inherent onwaarskynlik dat hy belangrike dele van sy getuienis sou
fabriseer, soos byvoorbeeld die tye wanneer hy Zwane ontmoet
het, die
feit dat hy glad nie op 6 Mei nog gebaal het nie en die pogings
wat hy aangewend het om Zwane sy eienaarskap na die
registrasie van
die oordrag te respekteer en sy bates te verwyder. Sy getuienis
dat hy uitgesluit is uit die eiendom
is ook nie teenoor hom betwis
nie. Myns insiens is hy op geen manier gediskrediteer ten spyte
van lang en deurtastende kruisondervraging
nie. Ek het geen
huiwering om sy getuienis te aanvaar nie.
[90]
Hierna is die eiser se saak gesluit.
(iii)
Samuel Democracy Zwane
[91]
By ooreenkoms, is sy getuienis in Afrikaans oorgetolk deur die tolk
me Monokoane. Op 'n latere stadium het
dit geblyk dat
hy moontlik gemakliker sou wees om self in Engels te getuig, en ek
het hom toegelaat om dit te doen.
[92]
Zwane is uitgevra oor die drie kontrakte wat geteken is en hy het
daaroor getuig. Ek het hom gevra of hy kan lees
en hy het
gesê hy kan 'n bietjie lees.
[93]
Hy was op die plaas voordat hy die eerste kontrak in Oktober geteken
het. Dit strook ook met wat broer Theunis gesê
het.
[94]
Hy het Oulandsgras op die plaas gesien. Dit is eintlik waarom
hy die plaas gekoop het want sy ander plaas het nie gras
nie.
[95]
Oor die toestand van die gras op daardie stadium het hy gesê
daar was baie gras.
[96]
Hy het nie belanggestel in al die verbeterings op die plaas in die
vorm van huise en store nie. Daar was wel huise vir
perde en
perde opleiding maar dit was basies ou huise. Hy het geen
belangstelling daarin gehad nie.
Gegewe
die kwaliteit van die verbeterings, en die aard daarvan, soos reeds
beskryf, onder andere met verwysing na die fotos, vind
ek dit
inherent onwaarskynlik dat die getuie geen belangstelling hierin sou
gehad het nie.
Sy
getuienis dat hy net in die gras belanggestel het is na my mening
inherent onwaarskynlik. Dit moet ook in gedagte gehou
word dat
die onbetwiste getuienis van die eiser is dat dit 'n baie duur proses
is om die gras te verbou en te onderhou. Hierdie
getuienis is
onbetwis.
[97]
Daar was nog 'n inspeksie op die plaas, op 2 Februarie 2015 toe
mnr Shongwe saam was. Shongwe werk vir die munisipaliteit
en "evalueer" plekke in Ermelo. Dit is soos 'n
waardasie of 'n prys vasstelling.
[98]
Tydens beide besoeke was Theunis teenwoordig op die plaas. Hy
het Theunis sekere vrae gevra. Hy het hom oor die
gras gevra.
Sy
vraag aan Theunis was of hulle by die bank kan motiveer hoeveel bale
per jaar uit die gras sal kom. Theunis het geantwoord
en gesê
2 000 bale en dat hy verder nie die gras kan sny nie omdat hy
die plaas verkoop het met alles daarop insluitende
die beeste.
Hy het die gras nie meer nodig nie omdat hy reeds al die beeste
verkoop het. Theunis het gesê hy
sal nie weer die gras
sny nie want daar is nie rede om dit te doen nie. Hy was
haastig om die geld te kry want hy het
'n plek in Howick gekry.
[99]
Hierdie getuienis (met die uitsondering van die Howick betrokkenheid)
is glad nie aan Theunis gestel nie. Daarbenewens
is dit myns
insiens totaal onwaarskynlik: die oorwig van die getuienis, wesenlik
onbetwis, is dat Theunis 'n ooreenkoms met die
eiser gehad het dat
laasgenoemde op die plaas kan bly, die gras kan versorg en sy beeste
daar kan laat. Teen hierdie agtergrond
is dit inherent
onwaarskynlik dat hy sou gesê het dat hy nou alles verkoop het,
en nie meer nodig het om die gras te sny
nie.
[100]
Ek het die indruk uit sy getuienis gekry dat hy aan die hand gedoen
het dat die gras lank was toe hy die plaas in Oktober
2014
geïnspekteer het. Dit strook nie met die eiser se
getuienis dat daar nie lang gras kon wees aan die einde van 2014
nie,
naamlik voor die veiling van November nie. Die eiser het gesê
die gras se hergroei begin eers na goeie reëns
op die Hoëveld
en die reën was laat in 2014. Net voor die winter word die
laaste gras verwyder met masjinerie,
gesny en gebaal. Met die
laat reëns en kort gesnyde gras van die vorige seisoen was daar
"onmoontlik al lang gras".
[101]
Dit is aan Zwane gestel dat Theunis gesê het dat hy vir Zwane
ingelig het dat iemand anders op die plaas is. Dit
is ontken.
[102]
Hy is uitgevra oor klousule 18 van die kontrak onder "benefits"
wat sal oorgaan op die koper "on the same day
that the sole
risk, loss or profit of the property shall pass to the purchaser".
Ek het gevra of Zwane Engels kan lees
en die antwoord was "ek
probeer 'n bietjie". Hy het gesê dat klousule 18 aan
hom verduidelik is.
[103]
As iemand vir hom gesê het daar is iemand anders wat die gras
wou sny en baal en wegneem sou hy nie die plaas gekoop
het nie.
[104]
Na die 4 Mei 2015 registrasie van die oordrag het hy op 6 Mei op die
plaas gekom. Toe hy daar kom merk hy op dat die
eiser besig is
om die gras te sny. Hy het die eiser gekonfronteer en
gevra waarom hy die gras sny en die eiser het gesê
Theunis het
hom toestemming gegee. Dit is nie so aan die eiser gestel in
kruisondervraging nie. In elk geval is
dit inherent
onwaarskynlik omdat die laaste snysel in Maart (herfs) moes wees en
nie in Mei sou wees op die onbetwiste getuienis
van die eiser nie.
[105]
Toe hy sien wat die eiser doen het hy vir Theunis geskakel en Theunis
het gesê dat hy vir die eiser gesê het om
met Zwane te
praat en dat hy wat die eiser is nie op die plaas mag wees nie.
Theunis het hierdie getuienis ontken toe dit
aan hom gestel is.
[106]
Nadat hy op die plaas met die eiser gepraat het, het hy die plaas
geïnspekteer en gevind dat die drade stukkend is, van
die
"geysers" buite werking is en dat van hulle gelek het.
Hierdie getuienis is deur die eiser en Theunis ontken
in
kruisondervraging.
[107]
Hy het nie die bale getel op 6 Mei nie omdat die eiser nog besig was
om die gras te sny. Die eiser het op daardie stadium
nog bale
gemaak. Na my mening is dit inherent onwaarskynlik vir al die
redes wat ek genoem het, naamlik die tyd wanneer die
gras gesny en
gebaal word (wat onbetwis is) en verder is dit inherent onwaarskynlik
dat die eiser die gras sou sny twee dae nadat
Theunis vir hom op 4
Mei gesê het dat die oordrag geregistreer is en nadat die eiser
vir Zwane laat weet het dat hy sy beeste
en bale en ander bates gaan
kom verwyder.
[108]
Later het hy 550 bale getel. Dit is nie gepleit nie. Hy
het gesê dat Theunis vir hom gesê het dat
Absa Sekuriteit
op die perseel sou bly nadat Theunis Howick toe verhuis het en dat
niemand skade op die plaas kon aanrig nie.
Dit is ook nie aan
Theunis gestel nie. Theunis se getuienis was dat sy seun daar
was om die plek op te pas, en natuurlik
ook dat die eiser daar was om
na die gras en die instandhouding om te sien.
[109]
In sy hoof getuienis het hy weer Theunis (en die eiser) se getuienis
dat die gras kort was in Oktober 2014 betwis. Hierdie
getuienis
is totaal onoortuigend in die lig van die getuienis van Theuns en die
eiser oor die groei siklus van die gras.
Laasgenoemde getuienis
is onbetwis. Trouens, op hierdie punt het Zwane deur middel van
die tolk gedemonstreer dat die gras
in Oktober 2014 'n meter hoog
was.
[110]
Met die 2 Februarie 2015 inspeksie was daar geen beeste op die plaas
nie, net perde. Dit is inherent onwaarskynlik want
die eiser
het sy beeste eers in Mei verwyder. Op Zwane se weergawe
moes die beeste op 'n stadium, wat Februarie insluit,
verwyder gewees
het en toe weer teruggebring gewees het na die plaas toe. Dit
is inherent onwaarskynlik en eintlik ook onsinnig.
[111]
In hoof is dit aan hom gestel dat beide Theunis en die eiser sê
dat die eerste gras in Januarie gesny is. Sy antwoord
was "ons
sou dit gesien het met ons aankoms op die plaas, so ek stem nie saam
nie". Hierdie ontkenning is totaal
en al onoortuigend.
[112]
Zwane het getuig dat met die 2 Februarie 2015 inspeksie het hulle nie
bale gesien nie. Soos jy by die plaas inkom "kan
'n mens
net die 2 kampe sien".
Hierdie
getuienis is onoortuigend. Dit is inherent onwaarskynlik dat
Theunis en die eiser getuienis sou fabriseer dat die
gras in Januarie
en Maart gesny is. Dit is in elk geval iets wat normaalweg
gedoen word inaggenome die groei siklus en verbouïngsmetode
van
die gras.
[113]
Sy kantore in Ermelo is op die hoek van De Jager en Bekkerstrate.
Hy het ontken dat die eiser hom besoek het in sy kantore
op die dorp
en gesê eiser het hom by sy kantore by die plaas Grasslands
besoek. Dit is glad nie aan die eiser gestel
nie. Dit is
ook inherent onwaarskynlik dat die eiser 'n besoek aan Zwane sou noem
as dit nie gebeur het nie: die eiser het
in elk geval by herhaling
gesê dat hy vir Zwane op verskillende geleenthede gevra het of
dit moontlik is om die plaas te
huur indien die koop sou deurgaan.
Teen hierdie agtergrond, was daar geen denkbare rede waarom hy
daarbenewens valslik moes
getuig van 'n besoek aan Zwane by sy
kantore in die dorp nie. Dit is gemene saak dat Zwane kantore
in die dorp gehad het.
Die eiser het ruiterlik erken dat hy 'n
fout met die straat se naam gemaak het omdat hy nie so bekend is met
die dorp self as met
die omgewing nie.
[114]
In kruisondervraging, en kennelik met die oog daarop om Zwane te
konfronteer met baie van sy getuienis wat nooit aan die eiser
en
Theunis gestel is nie, het Zwane bevestig dat al sy getuienis wat hy
gegee het aan sy regspan vertel is.
[115]
Hy het bevestig dat, as 'n besigheidsman, hy bekend is met die teken
van koopkontrakte. Hy weet nie werklik hoeveel
eiendomme of
plase hy besit nie.
[116]
Dit is korrek dat die eiendom op 4 Mei 2015 in die Trust se naam
geregistreer is. Hy het bevestig dat hy na 4 Mei
geregtig
sou wees om sy beeste op die plaas te laat loop. Hy het
bevestig dat hy verstaan dat sy reg eers na registrasie
in die plaas
en die gras vestig.
[117]
Hy het weer herhaal dat toe Theunis vir hom die plaas gewys het
laasgenoemde nie vir hom gesê het dat hy weer die gras
gaan sny
voor datum van registrasie nie. Dit is inherent onwaarskynlik,
want die eiser was daar om die gras te sny met Theunis
se toestemming
en, in elk geval, het niemand geweet wanneer registrasie sou
plaasvind nie.
[118]
Hy is daarop gewys dat daar nie in die pleit vermelding is van die
550 bale nie. Dit is spesifiek in die eis gepleit
dat daar 692
bale is en die aantal is nie ontken nie.
Toe hy
gevra is hoekom hy nie vir die prokureur gesê het dat daar 550
bale op die plaas was nie het hy gesê dat hy wel
dit vir die
prokureur gesê het.
[119]
Zwane het herbevestig dat die gras in Oktober 2014 lank was. Hy
is daaraan herinner dat Theunis getuig het dat die gras
kort was want
dit was net na die winter en hierdie getuienis van Theunis is nooit
betwis nie. Die antwoord was dat die gras
nie gesny was in 2014
nie en dit gaan nie oor winter of somer nie. Dit gaan of die
gras gesny is of nie. Dit is nog
'n nuwe argument wat nie aan
Theunis of die eiser gestel is nie.
[120]
By die aanvang van die verrigtinge op die derde dag het Zwane gevra
om iets te sê. Hy het gevra waarom hy so moet
sukkel as
hy die plaas gekoop het. Hy het voorgestel dat sy geld met
rente plus skade aan hom terugbetaal moet word en dat
die plaas dan
teruggeneem word.
Ek het
die verrigtinge verdaag vir oorweging van hierdie verwikkeling deur
die partye en is daarna meegedeel dat die saak moet voortgaan.
[121]
Na die verdaging is die getuie gekonfronteer met sy getuienis dat die
opstalle op die plaas en ander verbeterings van 'n swak
gehalte was.
Hy is toe gekonfronteer met die fotos bewysstukke "D1" tot
"D8" waaroor hy ook toe met sy
advokaat gekonsulteer het.
Na 'n verdere verdaging is die fotos aan Zwane getoon. Sy
reaksie was dat hy nie weer daarna
wil kyk nie want hy het dit reeds
gesien. Die getuie het van tyd tot tyd kwelsugtige neigings
openbaar in die getuiebank.
Ek was nie beïndruk met sy
gedrag nie. Hy is wel met die fotos gekonfronteer onder andere
met die Barnyard Lodge en
die twee onthaal areas daarvan en die een
wat meer as 200 gaste kan huisves. Hy het toegegee dat dit so
kan wees en herhaal
dat hy geen belang stel in die geboue of van
voornemens is om dit te gebruik nie. Ek het reeds gesê
dat ek dit inherent
onwaarskynlik vind. Hy het volgehou dat hy
eintlik net die plaas vir die gras gekoop het. Hy is toe
gekonfronteer met
bewysstuk "A1" tot "A8" wat 'n
koopooreenkoms is tussen hom (eintlik die Democracy Zwane
Familietrust, eerste
verweerder, verteenwoordig deur Zwane) en, nie
die boedel van wyle me Pretorius nie, soos die geval is met die
drie koopaktes
van die plaas nie, maar tussen hom en The Barnyard CC
verteenwoordig deur broer Theunis. Die koopsaak is die roerende
eiendom van die Barnyard Lodge. Die koopprys is R500 000,00.
Dit is betaalbaar, met BTW, op die effektiewe datum,
wat die oordrag
van die plaas se datum is. Hy sal ook lewering daarvan
aanvaar op die effektiewe datum. Die koop
van hierdie bates van
die Lodge is gekoppel aan die koop van die plaas.
Van
belang is dat die bates van die Barnyard Lodge, wat Zwane gekoop het,
uiteengesit word in 'n skedule wat aangeheg is by die
kontrak.
Dit is 'n indrukwekkende lys wat die bates uiteensit soos dit gevind
word in gastekamers, die ontvangskamer, die
eetkamer, die kroeg, die
saal en die kombuis.
Die
messegoed en breekgoed bestaan bv uit 200 van elke item. Daar
is byvoorbeeld 28 stelle bedlinne, enkel en dubbel,
18 stelle
handdoeke, 30 bedkussings en vele ander artikels, insluitende,
byvoorbeeld, 'n inloop yskas/vrieskas. Dit is 'n
baie
indrukwekkende lys, en ek is nie voornemens om na al die items te
verwys nie.
Toe
Zwane gevra is hoekom hy al die goed gekoop het as hy nie daarin
belangstel nie het hy volgehou dat hy die plaas gekoop het
en hy moes
die bates daarmee saam koop. Tot op die huidige stadium
gebruik hy nie die gastehuis nie. In kruisondervraging
is
hierdie getuienis bevraagteken want hy het 'n aparte ooreenkoms
geteken vir die los bates. In die algemeen vind ek dit
inherent
onwaarskynlik dat hy al hierdie bates sou koop as hy nie daarin
belanggestel het nie.
[122]
Dit is aan die getuie gestel dat hy valslik die indruk probeer skep
het dat die verbeterings net bestaan uit perdestalle en
'n ou gebou.
Hy het, onredelikerwys na my mening, by sy standpunt gebly.
[123]
Hy is gekonfronteer met die feit dat Theunis nooit in
kruisondervraging gekonfronteer is met die bewering dat hy 'n
waarborg
gegee het dat 2 000 bale van die gras geoes kan word
nie. Toe hy gevra is hoekom sy advokaat dit nooit aan Theunis
gestel
het nie het hy geantwoord: "Hy vra die vraag so baie het
hy nie ander vrae nie?" Hierdie is 'n voorbeeld van die
getuie se kwelsugtige, en soms disrespekvolle, houding wat hy in die
getuiebank openbaar het.
[124]
Zwane is daaraan herinner dat Theunis gesê het dat hy hom gevra
het wat hy met die plaas wou doen en nooit 'n reguit
antwoord gekry
het nie. Sy antwoord het ek so genotuleer:
"Dis
duiwelse leuens. Jy kan nie vir my die bottel water verkoop
nie, dan vra jy vir my wat gaan jy met die water maak
nie. Hy
het my nie gevra nie."
Dit is
nog 'n voorbeeld van die gedrag van Zwane in die getuiebank.
[125]
Hy is by herhaling gevra waarom sy advokaat nie aan Theunis gestel
het dat laasgenoemde hom 2 000,00 bale per jaar beloof
het nie.
Hy het die vraag ontwyk deur te sê daar was nooit 'n stadium
waar "ons die gras gesny het om te sien
of Theunis Pretorius die
waarheid praat nie daarom het ek nie vir my prokureur oor die 2 000
bale gesê nie".
[126]
Op hierdie stadium het dit geblyk dat die getuie meer gemaklik sou
wees om self in Engels te getuig. Ek het hom hieroor
uitgevra
en toegelaat om dit te doen.
[127]
Hy is uitgevra oor sy vroeëre getuienis dat as jy die plaas
binnekom en die huise nader jy die bale sal kan sien wat
gestoor is.
Hy het gesê as jy die plaas binnegaan by die spoorlyn by die
grootpad dan kan jy die klein kampie sien
met die bale. Dit is
aan hom gestel dat toe Theunis getuig het hy gesê het dat die
bale agter die geboue gestoor was
en dat dit nie gesien sal word
sonder om agter die geboue te wees nie. Hy is ook gekonfronteer
met die feit dat sy weergawe
hieroor nie aan Theunis gestel is nie.
[128]
Verder is dit aan hom gestel dat sy weergawe dat hulle die hele plaas
deurkruis het nie aan Theunis gestel is nie toe Theunis
getuig het
dat hulle net tot by die hoogste punt gery het en later ook net
"ligtelik" na die geboue gekyk het.
Hy weet nie
waarom die advokaat dit nie so gestel het nie. Hy het ook in
die hof gesit tydens die verrigtinge.
[129]
Hy is daaraan herinner dat Theunis gesê het dat 400 bale in
Januarie gesny is en nog 292 in Maart. Dit is
aan hom
genoem dat sy advokaat nooit aan Theunis gestel het dat daar net 550
bale (later) aangetref is en ook dat die eiser nog
besig was om bale
te sny toe hy op 6 Mei op die plaas aankom nie. Sy
antwoord was dat dit 'n moeilike vraag is wat hy
nie kan antwoord
nie.
[130]
As dit in wese onbetwis is dat daar twee snysels was, een in Januarie
en een in Maart (soos beide Theunis en die eiser getuig
het) moet
dit, op die oorweldigende waarskynlikhede, aanvaar word dat die bale
op die plaas was (die eerste 400) toe Zwane en Shongwe
op 2 Februarie
die inspeksie gedoen het.
Dit is
geykte reg dat 'n teenparty se weergawe aan die opponent se getuie
gestel moet word. As dit nie gedoen word nie, kan
die hof nie
gevra word om die betrokke weergawe te verwerp nie. In
Small
v Smith
1954 3 SA 434
(SWA) word die volgende gesê op
438E H:
"It
is, in my opinion, elementary and standard practice for a party to
put to each opposing witness so much of his own case
or defence as
concerns that witness and if need be to inform him, if he has not
been given notice thereof, that other witnesses
will contradict him,
so as to give him fair warning and an opportunity of explaining the
contradiction and defending his own character.
It is
grossly unfair and improper to let a witness's evidence go
unchallenged in cross-examination and afterwards argue that
he must
be disbelieved.
Once a
witness's evidence on a point in dispute has been deliberately left
unchallenged in cross-examination and particularly by
a legal
practitioner, the party calling that witness is normally entitled to
assume in the absence of notice to the contrary that
the witness'
testimony is accepted as correct. More particularly is this the
case if the witness is corroborated by several
others, unless the
testimony is so manifestly absurd, fantastic or of so romancing a
character that no reasonable person can attach
any credence to it
whatsoever."
Die
geleerde Regter, Claassen R, het verskeie gewysdes hieroor
aangehaal.
Small v Smith
word gereeld op hierdie
onderwerp aangehaal en goedgekeur. In hierdie saak was broer
Theunis en die eiser besonder goeie
getuies en daar is niks in hulle
getuienis, veral wat betref die groeisiklus van die Eragrostis,
wanneer dit gesny moet word ensovoorts
wat nie oortuigend en
geloofwaardig voorkom nie. Dit is nog 'n rede waarom hulle
getuienis, myns insiens, aanvaar behoort
te word, veral as daar in ag
geneem word dat hulle weergawes in verskeie opsigte nooit betwis is
nie.
[131]
Dit is aan Zwane genoem dat sy weergawe op verskeie aspekte nie aan
die getuies gestel is nie omdat hy sy weergawe aangepas
het soos hy
in die hof na die getuienis geluister het. Zwane het dit ontken
deur te sê toe die Balju die dagvaarding
gebring het daar
verwys is na net 392 bale. As hy wou, kon hy dus gesê het
dat daar net 392 bale was. Hierdie
getuienis kan, op die
waarskynlikhede, nie waar wees nie want die dagvaarding (voor en na
dit gewysig is) verwys uitdruklik na
692 bale.
Zwane
kon ook nie verduidelik waarom sy advokaat dan nie hierdie weergawe
(oor die 392 bale) aan die getuies gestel het nie.
Hy het
gesê hy weet nie wat die rede is nie.
[132]
Hy is gekonfronteer daarmee dat dit nooit aan Theunis gestel is dat
laasgenoemde sou gesê het dat Absa Sekuriteit of
"ACSU"
die eiendom sou oppas in sy afwesigheid nie. Hiervoor kon hy
ook nie 'n behoorlike verduideliking gee nie.
[133]
Hy is gekonfronteer met sy getuienis die vorige dag dat, wat die gras
betref, daar geen verskil is tussen die winter en die
somer nie.
Hy het dit weer bevestig.
Dit is
aan hom gestel dat in Mei, dit winter is in Ermelo en die gras dan
dood en droog is. Sy merkwaardige antwoord
hierop het ek
so aangeteken:
"Not
May, June. Oulandsgras you can cut even in July, cut it dry,
put spray on, the animal eats it. To me nothing
changed.
We do that."
Dit is
aan hom gestel dat Theunis gesê het dat die gras teen Mei dood
is en dit moet gesny word wanneer dit nog sappig is,
voor die
winter. Hy is herinner daaraan dat beide die eiser en Theunis
gesê het dat dit voor die winter, voor April
of Mei, gesny moet
word ten einde voordelig vir die vee te wees. Dit is gestel dat
die eiser 'n deskundige is op die onderwerp
wat reeds sedert 1979 met
die gras werk. Zwane het volgehou dat dit selfs tot in Julie
gesny kan word en dat "spray"
daaroor gesit kan word en dat
die beeste dit steeds sal eet.
Hy is
gekonfronteer daarmee dat toe beide Theunis en die eiser hieroor
getuig het, Zwane se weergawe dat dit selfs in Julie gesny
kan word
nie aan hulle gestel is nie. Hy het volgehou, onredelikerwys,
dat dit enige tyd gesny kan word en hy weet nie waarom
dit nie aan
die getuies gestel is nie.
[134]
Dit is aan hom gestel dat in die lig van die getuienis oor wanneer
die gras gesny moet word, dit nie waar kan wees dat die
eiser nog in
Meimaand toe Zwane besit van die plaas geneem het, nog die gras sou
sny en baal nie. Hy het volgehou dat die
gras nie alreeds voor
Mei gesny is nie. Hierdie getuienis van hom, asook die
getuienis dat die eiser besig was om te sny
en te baal in Mei, is
kennelik foutief, gemeet aan die indrukwekkende getuienis oor die
groei fases van die gras wat die eiser
en Theunis aangebied het.
[135]
Dit is aan hom gestel dat sy weergawe van sy gesprek met die eiser op
6 Mei, naamlik dat hy hom gevra het waarom hy die
gras sny en
dat die eiser gesê het dat Theunis hom toestemming gegee het,
ook nie aan die eiser gestel is nie. Hieroor
kon hy ook nie 'n
verduideliking gee nie.
[136]
Dit is aan hom gestel dat dit voorkom asof hy sy getuienis aanpas
terwyl hy in die getuiebank is. Hieroor was hy onthuts
en het
na "section 205" verwys. Dit is nie duidelik wat die
doel hiervan was nie. Hy het ook vir die advokaat
gesê
"You insult me. You must withdraw it." Hy
het dit herhaaldelik gesê. Ek het hom
gemaan om nie
aggressief te raak nie.
[137]
Soos ek reeds genoem het, het dit later uit sy getuienis geblyk dat
die volle getal bale (of dit nou 550 of 692 is) nie meer
op die plaas
beskikbaar is nie. Hy het gesê dat hy dit gebruik het om
sy diere mee te voer. As hy dit te lank
hou dan word dit
"vrot". Hy is gevra of hy sy regspan voor die
saak begin het meegedeel het dat daar net 300 bale
is. Sy
antwoord was dat hy hulle gesê het dat hy die bale gebruik.
Hy is daaraan herinner dat die saak daaroor
gaan om die bale terug te
kry, en dat sy regspan ingestem het dat die saak net sou voortgaan
ten opsigte van hierdie eis en nie
die alternatiewe eis oor die
waarde van die bale nie. Ek het reeds vroeër hieroor
uitgewei. Ek is net versoek
om uitsluitsel te gee oor die
eis om teruggawe van die bale.
[138]
Vir die redes wat ek genoem het, het ek Zwane ervaar as 'n swak en
onbetroubare getuie. Baie van wat hy gesê het,
soos ek
verduidelik het, is ook ongeloofwaardig en inherent onwaarskynlik.
Waar sy weergawe in wesenlike opsigte van dié
van Theunis en
die eiser verskil, is ek nie bereid om dit te aanvaar nie.
(iv)
Zwelihle Shongwe
[139]
Hy ken vir Zwane. Hy het hom al geken toe hy wat Shongwe is nog
vir die bank gewerk het. Hy weet dat Zwane 'n
aantal besighede
in en om Ermelo het.
[140]
Op 2 Februarie 2015 was hy werksaam by die munisipaliteit in Ermelo.
Hy en Zwane het die plaas Uitgevallen besoek.
Theunis en sy
seun was daar. Theunis het hulle daar verwelkom.
[141]
Die doel van die besoek was vir hom om Zwane te help om te besluit of
hy die plaas moet koop of nie. Die enigste doel
hoekom hulle na
die plaas wou kyk is omdat Zwane belanggestel het in die gras wat hy
ook op sy ander plase kon gebruik.
[142]
Hulle is deur 'n aantal van die geboue geneem asook die gebou wat na
bewering 'n kerk was. Hulle is ook na die huis
geneem en die
kombuis is aan hulle gewys.
[143]
Nadat hulle die geboue besigtig het is hulle met 'n voertuig deur die
plaas geneem.
[144]
Hy is gevra om meer uit te wei oor die gras. Hulle is deur die
plaas geneem. Die doel was om te sien hoe groot
die plaas is en
om die aard van die gras te beskou. Wanneer jy aan die "einde"
van die plaas kom het jy 'n goeie
uitsig selfs tot by die plek waar
jy langs die huis weggetrek het.
[145]
Hy is gevra of hy kon sien of die gras gesny was. Die antwoord
was dat daar geen teken was dat die gras gesny is nie.
Na my
mening moet dit inherent onwaarskynlik wees aangesien die eiser, op
sy en Theunis se getuienis, wat ek aanvaar het, die gras
in Januarie
gesny het en 400 bale geoes het.
[146]
Mnr Shongwe ("Shongwe" sonder om disrespekvol te wees) sê
toe hy sien hoe mooi die gras is ("nice and
green") hy vir
Zwane geadviseer het om dit te oorweeg om die plaas te koop.
[147]
Hulle is ook ander dele van die plaas gewys, wat drie damme insluit.
[148]
Toe hulle terugkom by die hoofgebou "we were taken through the
lower part of the farm which is where they keep the cattle
and you
could see from where we were standing, which was close by, that there
were no cattle because the grass had already overgrown".
Dit is
ook inherent onwaarskynlik. Dit is gemene saak dat die eiser sy
beeste eers na die 4 Mei registrasie van die oordrag
verwyder het.
Dit is ook nie in geskil nie dat die beeste sedert die November 2014
veiling op die plaas was. Op hierdie
getuienis van Shongwe,
moes die beeste dus teen Februarie verwyder gewees het en toe
teruggeneem gewees het voor Mei 2015.
Daar is geen sodanige
getuienis nie. Daar is geen aanvaarbare rede waarom so iets sou
gebeur het nie. Die eiser het
gesê dat sy beeste in die
weikampe geloop het (nie waar die Eragrostis verbou word nie) en, op
die aanvaarding dat die beeste
daar was, is dit vreemd dat Shongwe
nou die moeite sou gedoen het, en dit reggekry het, om vas te stel
dat geen beeste daar gewei
het nie.
[149]
Hy het aangedui dat hy vir Zwane aangemoedig het om die plaas te
koop. Toe hy gevra is hoekom, het hy gesê want
Zwane wou
die gras gehad het om sy beeste mee te voer op die ander plase.
Dit is
van belang om daarop te let dat daar geen getuienis was dat Shongwe
in 'n amptelike hoedanigheid die besoek meegemaak het
nie:
byvoorbeeld om 'n waardasie op te stel vir die bank of iets
dergeliks. Op die oorwig van sy getuienis, is ek met die
duidelike indruk gelaat dat hy en Zwane goeie vriende is. Hy
het wel op 'n stadium ontken dat hulle huisvriende is, maar
ek het
dit onoortuigend gevind.
[150]
Shongwe het toe met die interessante brokkie nuus gekom dat hy gevra
het (vermoedelik van Theunis) hoeveel bale van die gras
per jaar
geoes kan word. Hy is meegedeel 2 000 bale per jaar en as
daar drie snysels is kan daar met elke snysel 'n
gelyke getal van
700 bale geoes word. Dit is dan ongeveer 2 000.
Hierdie
weergawe is natuurlik nooit aan Theunis of die eiser gestel nie.
Shongwe
het toe getuig dat hy (blykbaar op sterkte van hierdie inligting)
later vir Zwane geadviseer het om die plaas te koop want
hy kan die
koste oor 'n tydperk verhaal met die verskaffing van al hierdie bale
gras aan sy ander plase.
[151]
Op sy eie het hy toe bygevoeg dat hy op 'n stadium vir Zwane gevra
het wat hy met die plaas wil doen vanweë die bestaan
van die
Lodge, die trou venue en ander geriewe en Zwane het gesê dat hy
nie in die geboue belangstel nie maar net die plaas
vir die gras wil
koop.
[152]
Shongwe het gesê hy het nêrens op die plaas 'n gedeelte
gesien waar die gras gesny was nie. Vir die redes
wat ek genoem
het, is hierdie getuienis inherent onwaarskynlik.
[153]
Hy is gevra of hy enige gras bale gesien het en in die negatief
geantwoord. Dit is aan hom genoem dat Theunis en die
eiser gesê
het dat hulle voor 2 Februarie 400 bale geoes het. Sy
antwoord was dat hy geen bale gesien het tydens
sy besoek nie.
Hy sê dat hulle 'n behoorlike inspeksie van die geboue gedoen
het en ook buite die geboue mooi rondgekyk
het. "As I said we
were taken through the farm by the owner." Hy het
gesê dit sou maklik gewees het
om die bale te sien toe hulle
deur die plaas geneem is. Dit strook natuurlik nie met Theunis
en die eiser se getuienis dat
die bale in die hooikampies agter die
geboue geberg word nie.
[154]
Toe hy gevra is of hulle die geboue intensief geïnspekteer het
of net vinnig daardeur geloop het, het hy gesê dat
Theunis
hulle deur die geboue geneem het. Dit was die geboue wat die
eienaar (Theunis) as belangrik beskou het vir die plaas
besoek soos
die Lodge en die kerk. Hierdie getuienis dui minstens daarop
dat Theunis nie onder die indruk gelaat is dat Zwane
nie in die
geboue belangstel nie maar net in die gras. Dit strook ook met
Theunis se getuienis dat Zwane nooit vir hom 'n
reguit antwoord gegee
het oor wat hy met die plaas wil doen nie.
[155]
Van belang is dat Shongwe in sy hoofgetuienis gevra is of die eiser,
wat aan hom uitgewys is in die hof, op die plaas was
tydens die
2 Februarie besoek, en Shongwe het bevestigend geantwoord en
gesê dat hy die eiser daar gesien het.
Hy is selfs gevra
wat die eiser besig was om te doen en of hy besig was om gras te
sny. Shongwe het gesê nee hy was
nie besig om gras te sny
nie.
[156]
In kruisondervraging het Shongwe bevestig dat hy die vorige drie dae
by die hof was en dat hy graag wil teruggaan Ermelo toe.
[157]
Die kruisvraer het, in hierdie verband, gesê hy aanvaar dat
Shongwe sy getuienis met die regspan van Zwane gedeel het.
Die
vreemde antwoord was die volgende: "To be honest, I haven't
had the opportunity to meet with them." Hy
het gesê
hulle het hom net geskakel oor Zwane se saak. Hy is verder
hieroor uitgevra en het volstaan daarby dat: "As
I said I
haven't had the opportunity to consult with them extensively on this
matter because I believe I would tell what I know."
Dit is
aan hom gestel dat hierdie getuienis onwaarskynlik blyk te wees maar
hy het volstaan by sy weergawe. Na my mening
is die getuienis
inherent onwaarskynlik.
[158]
Hy is toe uitgevra oor 'n dokument waaruit hy lees terwyl hy getuig.
Volgens hom was dit sy notaboek waarin hy notas
maak. Hy is
gevra waarom hy nie bloot op sy geheue staatmaak nie: "The
evidence I have given is primarily from my head.
The notes
I made for myself was during the course of the week as I was
preparing myself."
Hy is
gevra of hy tydens hierdie voorbereiding met Zwane gepraat het om sy
geheue te verfris en dit het hy ontken. Hierdie
getuienis vind
ek ook inherent onwaarskynlik.
[159]
Sy getuienis dat hy Zwane moes adviseer en oortuig om die plaas te
koop is ook in geskil geplaas omdat Zwane, op sy eie weergawe,
reeds
maande tevore, in Oktober 2014, besluit het om die plaas te koop en
koopaktes geteken het. Shongwe is nie op sy mond
geval nie.
Hy het die vraag op 'n lang en ietwat filosofiese wyse geantwoord
deur te sê toe sy dogter op skool besluit
het om die klavier te
bespeel hy haar aangemoedig het om dit te doen: "The fact
that Zwane showed an interest in the
farm it means he had decided to
look at the farm. You can't show an interest in something that
you don't intend to pursue."
Toe hy verder hieroor
uitgevra is het hy weer die notaboek te voorskyn gehaal wat die
advokaat hom versoek het om weg te sit.
Toe hy gevra is waarom
Zwane, 'n welgestelde man met uitgebreide besigheidsbelange, hom sou
vra vir advies het hy gesê dat
Zwane waarde geheg het aan sy
mening en dit is meer as genoeg vir hom.
[160]
Op die onderwerp van hierdie waardevolle advies is hy gevra wat die
waarde van 'n baal is. Hy het gesê R200,00
of R250,00.
Dit strook nie met die eiser se getuienis dat die waarde van die 692
bale wat hy gesny het R346 000,00 of
R500,00 per baal is nie.
Die eiser se getuienis was onbetwis. Hierdie besonderhede is
ook so gepleit in die dagvaarding.
Toe hy verder uitgevra is
oor die waarde van 'n baal het Shongwe gesê "I said I
would like to believe, it might
be more or it might be less, I said
from my experience." Hierdie getuienis is kennelik
onbevredigend en dit laat 'n
vraagteken oor die getuienis dat Shongwe
daar was om Zwane te adviseer oor die koop van die plaas vanweë
die toestand en waarde
van die gras.
[161]
Toe Shongwe gevra is hoeveel hektaar van die plaas met Eragrostis
beplant is het hy nie geweet nie. Dit is aan hom gestel
dat hy
nie vir Zwane kon adviseer as hy nie die waarde van 'n baal ken of
die aantal hektaar wat met die gras beplant is nie.
Hy het 'n
onbevredigende antwoord gegee naamlik met die 2 000 bale per
jaar (wat nie gestel is aan die eiser en sy broer nie)
die koste wel
oor 'n tydperk verhaal sal kan word.
[162]
Shongwe het ook by tye lang toesprake gemaak toe hy vrae moes
antwoord. Toe dit aan hom gestel is dat hy nie openhartig
met
die hof is nie en bloot daar is om Zwane te ondersteun het hy heelwat
oor die advokaat te sê gehad "It is also his
responsibility to make sure that he gets to know about this matter.
The statement about what he will argue later is also
within his
mandate to do that. I reiterate that his assertion on
corroboration would not have been factual when the matter
comes to a
close." Hy het gesê dat hy 'n goeie samaritaan
is wat ook skoene en komberse vir behoeftiges koop
"giving comes
naturally, no compensation is required".
[163]
Daar is aan hom gestel dat dit in sy notaboek behoort te staan dat
die eiser nie op 2 Februarie op die plaas was nie.
Zwane
sê so asook die eiser en Theunis. Hy is gevra of hy seker
is dat die individu wat hy in die hof uitgewys het
op 2 Februarie
teenwoordig was. Hy het gesê toe hulle op 2 Februarie
op die plaas kom is hulle deur Theunis
Pretorius gegroet. Hy is
gevra of hy baie seker is dat die persoon wat hy op 2 Februarie
gesien het die een is wat hy
in die hof uitgewys het en hy het dit
bevestig. Hy het gesê as dit nie Theunis Pretorius
is nie dan moet Theunis
aan hom gewys word. Toe hy verder
hieroor uitgevra is was sy antwoorde ontwykend. In die algemeen
was sy getuienis
hieroor, en oor ander onderwerpe, soos ek probeer
aantoon het, onbevredigend.
[164]
Laastens is hy in kruisondervraging gevra of dit korrek is dat hy op
2 Februarie op die plaas nie spesifiek uitgekyk
het of gesoek
het vir bale nie. Hy het dit bevestig "I was not
looking specifically for bales, but because we were
taken through the
farm it would have been possible to see if there were bales or not."
Dit strook nie met Theunis se
getuienis dat dit nie moontlik is om
uit elke hoek die bale te sien nie.
[165]
Vir die redes wat ek genoem het, was ek nie beïndruk met Shongwe
as 'n getuie nie. Sy getuienis was onbevredigend,
en so
ook sy gedrag in die getuiebank. Heelwat van die stellings wat
hy gemaak het was inherent onwaarskynlik, soos ek probeer
aantoon
het.
Shongwe
kon ook nie werklik 'n bydrae maak tot die vraag of daar bale op die
plaas was op 2 Februarie nie. Op sy eie
getuienis het hy
nie daarvoor gesoek nie. Op Theunis se onbetwiste
getuienis is dit nie maklik om die bale uit enige
hoek raak te sien
nie. Dit is agter die geboue. As 400 bale in
Januarie geoes is, wat ek sonder aarseling aanvaar
gebeur het, moes
dit in elk geval op die plaas gewees het.
[166]
Vir al die redes wat ek genoem het, het ek geen aarseling om Shongwe
se weergawe te verwerp, in soverre dit verskil van dié
van
Theunis en die eiser nie.
Gevolgtrekkings
en enkele opmerkings oor die slot voordragte wat aangebied is
[167]
By die ontleding van die getuienis het ek reeds aangedui watter
getuienis ek aanvaar en ook wat ek verwerp, en die redes daarvoor
verskaf. Dit is nie nodig om in besonderhede verder daaroor uit
te wei nie.
[168]
Van die feitebevindings en gevolgtrekkings wat ek maak uit hoofde van
die ontleding van die getuienis sluit die volgende in:
• Na afhandeling van die 29 November 2014 veiling het die eiser
en broer Theunis mondeling ooreengekom dat die eiser die plaas
in
stand sou hou, met besondere verwysing na die Eragrostis, totdat die
plaas oorgedra is aan 'n nuwe koper;
• As teenprestasie hiervoor kon die eiser die Eragrostis bale
wat hy self moes oes as sy eiendom behou. Die eiser moes
ook
die gras bemes en behoorlik versorg;
• Die eiser kon ook die 67 beeste wat hy op die veiling gekoop
het op die plaas laat wei. Dit is in die weikampe en
nie by die
Eragrostis nie;
• By oordrag van die plaas aan die nuwe koper sou die eiser
onverwyld sy bates, wat die bale en die beeste insluit, verwyder;
• Die twee broers het beide presteer in terme van die
ooreenkoms;
• Die ooreenkoms was 'n wettige een in die sin dat Theunis, as
eksekuteur van sy ontslape eggenote se boedel, wat die eienaar
van
die plaas was, die plaas in stand moes hou hangende die oordrag
daarvan aan 'n nuwe koper. Hy was geregtig om as teenprestasie
vir die instandhouding die vrugte van die plaas, in hierdie geval die
bale Eragrostis, waarvoor die boedel geen nut meer gehad
het nie, aan
sy broer te vervreem;
• Zwane was bewus daarvan dat die eiser op die plaas is en sy
beeste daar laat loop en ook die gras daar gesny het;
• Die eiser het die gras gesny in Januarie en Maart 2015.
Daar is nie sprake daarvan dat hy dit op 6 Mei, na die
oordrag
van die plaas, gesny en gebaal het nie. Die bale was te alle
wesenlike tye op die plaas gestoor. Op 2 Februarie
2015,
met Zwane en Shongwe se besoek, was die eerste 400 bale op die plaas
gestoor in die hooikampies;
• Die eiser het verskeie kere probeer om 'n huurkontrak met
Zwane te beding ten opsigte van die plaas maar het nie daarin
geslaag
nie. Hy het Zwane ook by sy kantoor in Ermelo besoek;
• Daar is 400 bale in Januarie 2015 geoes en 292 in Maart, wat
neerkom op 'n totaal van 692 bale;
• Toe die eiser op 4 Mei 2015 deur Theunis meegedeel is dat die
oordrag op daardie dag geregistreer is het hy weer probeer
om 'n
huurkontrak met Zwane te beding, deur hom te skakel, maar nie daarin
geslaag nie. Hy het onderneem om sy bates die
volgende dag te
verwyder wat hy probeer doen het. Zwane het, alhoewel hy
aanvanklik geweier het, toegelaat dat die beeste
en ander los goedere
verwyder word maar nie die bale nie. Later het Zwane die eiser
uitgesluit sodat hy nie toegang tot die
plaas kon kry nie;
• 'n Dagvaarding vir die lewering van die bale is in Julie 2015
deur die eiser uitgereik en die pleit is op 19 November 2015
beteken. Die sluiting van pleitstukke sou dus geskied het na
verstryking van die voorgeskrewe tydperk vir die liassering
van 'n
repliek, wat nie gebeur het nie.
Litis contestatio
sou
dus eers teen ongeveer die einde van November 2015 plaasgevind het.
[169]
Ek wend my kortliks tot 'n aantal submissies wat namens die partye
gemaak is ten opsigte van die regsposisie waar die vrugte
van die
plaas toegeëien word deur iemand wat nie die eienaar daarvan is
nie:
• Die onderwerp word volledig behandel deur die geleerde skrywer
C G van der Merwe,
Sakereg
, 2de uitgawe
vanaf p265 onder die opskrif "
Vrugtetrekking (
fructuum
separatio, fructuum perceptio
)
"
.
Ek haal enkele grepe daaruit aan:
"Vrugtetrekking as oorspronklike wyse van eiendomsverkryging
geskied wanneer 'n persoon
wat die reg daartoe het
(
my
nota
: ek het reeds bevind dat die eiser in terme van 'n geldige
ooreenkoms met Theunis die reg tot die bale bekom het) eiendom verkry
van die natuurlike of burgerlike vrugte van 'n saak deur afskeiding
van die vrugtedraende saak of deur insameling van die vrugte.
Terwyl die vrugte nog deel van die vrugtedraende saak vorm, word dit
as bysake beskou wat die juridiese lotgevalle van die hoofsaak
deel
en dus die eienaar van die vrugtedraende saak toekom. Eers
wanneer vrugte van die hoofsaak afgeskei word en 'n selfstandige
bestaan voer, is dit vatbaar vir vrugtetrekking.
In normale gevalle is die eienaar van die hoofsaak ook eienaar van
die vrugte. In gepaste omstandighede kan die reg op die
vrugte
van 'n saak egter 'n ander persoon toekom en dan verkry hierdie
persoon die vrugte in die plek van die eienaar (
domini loco
).
Eiendomsverkryging geskied in hierdie gevalle óf deur blote
afskeiding (
separatio
) óf deur daadwerklike insameling
van die vrugte (
perceptio
). Anders as by insameling, is
dit by afskeiding nie ter sake of die afskeiding deur menslike
toedoen of deur natuurlike gebeurtenisse
geskied het en of die
persoon wat die reg tot die vrugte het, of 'n ander persoon, die
afskeiding bewerkstellig het nie.
In die Romeinse Reg het
bona fide possessores
eiendom van die
vrugte van die saak deur blote afskeiding daarvan van die hoofsaak
verkry. Hoewel die
bona fide possessor
eienaar van die
vrugte by afskeiding word, was hy in die Justiniaanse reg verplig om
rekenskap te gee van alle vrugte wat nie reeds
verteer was op die
oomblik van
litis contestatio
nie. In die
Romeins-Hollandse Reg is die posisie van 'n
bona fide possessor
egter gelykgestel aan dié van 'n vruggebruiker en is aanvaar
dat 'n
bona fide possessor
, net soos 'n vruggebruiker, nie
eienaar van vrugte word by blote afskeiding nie maar wel by
insameling. Volgens die meerderheid
van die Romeins-Hollandse
skrywers, mag 'n
bona fide possessor
verder alle vrugte wat hy
tot op die oomblik van
litis contestatio
ingesamel het, behou
sonder om rekenskap van nie verteerde vrugte te gee.
Hierdie suiwer standpunt word na my wete slegs
in twee
Suid-Afrikaanse beslissings gevolg. In 'n reeks
beslissings, sommige gebaseer op 'n dubbelsinnige passasie van
Grotius, word die Justiniaanse mening egter aangehang. Let
daarop dat 'n
bona fide possessor
van 'n grondstuk eiendomsreg
van die oes deur insameling verkry alhoewel hy nie self die saad
gesaai of die plante geplant het
nie en alhoewel die oes nie die
resultaat van sý ywer en arbeid was nie. Hy moet egter
op die oomblik van die insameling
van die oes
bona fide
wees:
dit is nie voldoende dat hy
bona fide
was toe die saad gesaai
of die plante geplant is nie. Indien die besetter 'n tyd lank
bona fide
was en daarna
mala fide
geword het, is
hy slegs geregtig op die vrugte wat hy ingesamel het terwyl hy nog
bona fide
was. By
litis contestatio
word
veronderstel dat hy
mala fide
word en is hy nie geregtig op
enige vrugte wat hy daarna insamel nie.
Die huurder en vruggebruiker verkry nie deur blote afskeiding eiendom
van die vrugte van die saak wat hulle huur of in vruggebruik
het
nie. Daadwerklike inbesitname deur die reghebbende, soos waar
vrugte gepluk en in kassies verpak word of waar mielies
geoes en in
'n mied versamel word word vereis. Indien die vrugte bloot
afgeskei en nog nie ingesamel is nie, word die eienaar
van die
vrugtedraende saak ook eienaar van die vrugte.";
• Ek haal nie al die verwysings aan wat in die voetnotas verskyn
nie;
• Uit hoofde van die voorgaande meen ek dat die volgende gesê
kan word ten opsigte van hierdie betrokke geval:
(i) die eiser het die reg tot die gras bekom op sterkte van 'n
geldige ooreenkoms met broer Theunis, soos ek aangedui het;
(ii) die eiser was te alle tye
bona fide
;
(iii)
litis contestatio
, in sover dit van toepassing mag wees,
het eers plaasgevind lank nadat die bale geoes is. Teen daardie
tyd, in soverre dit
van belang mag wees, het die eiser nog glad nie
van die bale gebruik of "verteer" nie;
(iv) insameling het dus plaasgevind, en nie blote afskeiding nie;
(v) waar die geleerde skrywer aan die hand doen dat volgens die
meerderheid van die Romeins-Hollandse skrywers 'n
bona fide
possessor
alle vrugte wat hy tot op die oomblik van
litis
contestatio
ingesamel het behou sonder om rekenskap van
nie-verteerde vrugte te gee en waar die geleerde skrywer dit as 'n
suiwer standpunt
beskou, kan die eiser, op hierdie basis, en as dit
sou blyk dat hy 'n
bona fide possessor
was, die vrugte of die
bale behou;
(vi) die eiser het self die ywer en arbeid verskaf om die gras te sny
en te baal en self betaal vir die bemesting en al die ander
uitgawes
waarna verwys is in die ontleding van die getuienis. Hy was ook
op die oomblik van die insameling
bona fide
.
[170]
In soverre die posisie van die eiser gelykgestel mag word aan dié
van 'n vruggebruiker of huurder, word die eiser ook
eienaar want daar
het daadwerklike inbesitname plaasgevind in die sin daarvan dat die
gras gesny, versamel en gebaal is.
• In Wille's
Principles of South African Law
9de uitgawe
op p508 sê die geleerde skrywer die volgende onder die opskrif
"
Acquisition of fruits
" :
"Someone with the right to take fruits (
ius fruendi
)
acquires ownership of natural or civil fruits either by separation
(
separatio
) or by gathering (
perceptio
) thereof.
(
My nota
: die eiser het duidelik die reg tot die vrugte
bekom in terme van die geldige ooreenkoms met Theunis en, in daardie
sin, die
ius fruendi
bekom.) Unseparated fruits are
accessories that follow the ownership of the fruit-bearing thing.
Usually the owner
of the principal (the fruit-bearing thing) becomes
owner of the fruit on separation, regardless of whether separation
was effected
by natural forces (wind blowing fruits from a tree or an
animal giving birth), by human agency (corn being harvested), or by
the
person entitled to the
ius fruendi
.
If the
ius fruendi
is vested in a non-owner, the latter
acquires ownership of the fruits instead of the owner (
domino
loco
). The
ius fruendi
entitles a
bona fide
possessor to ownership of fruits on separation (harvesting), even
though the crop is not the result of his or her industry and
labour.
Bona fides
at the time of separation is required.
Contrary to Justinian's law, the
bona fide
possessor, ie one
who genuinely but mistakenly believes he or she is the owner, no
longer has to account for unconsumed fruits
(
fructus non
consumpti
) at
litis contestatio
. However, he or she
is still not entitled to fruits produced after he or she became
mala
fide
, eg on
litis contestatio
."
(
My nota
: hier is niks geproduseer na
litis contestatio
nie. Beide partye het betoog dat die eiser in die posisie van
'n
bona fide possessor
is. Dit mag so wees, alhoewel
Wille
daarop wys dat 'n
bona possessor
iemand is "who
genuinely but mistakenly believes he or she is the owner".
In hierdie geval het die eiser regtens
aanspraak op die vrugte,
na my mening, in terme van die kontrak met Theunis. Dit mag dus
wees dat die posisie van 'n
bona fide possessor
nie eers ter
sprake kom nie, maar, as hierdie gevolgtrekking verkeerd is, blyk dit
uit die gesag, soos dit aangehaal is, dat die
eiser in elk geval in
alle opsigte kwalifiseer vir eiendomsreg van die bale as hy 'n
bona
fide possessor
is.)
Ek
haal weer eens nie al die gesag aan wat in die voetnotas in
Wille
verskyn nie.
[171]
Namens die verweerder is daar na sekere gewysdes verwys wat myns
insiens, met respek, nie direk toepassing vind op hierdie
geval nie.
Om daardie rede gaan ek nie verder daaroor uitwei nie.
[172]
Vir die redes wat ek genoem het en op grond van die gesag wat
aangehaal is, het ek tot die gevolgtrekking geraak dat die eiser
óf
bloot vanweë sy kontrak met broer Theunis eiendomsreg van die
bale verwerf het en geregtig is om dit van die verweerder
te vorder
óf in die posisie van 'n
bona fide possessor
is wat hom
ook geregtig maak op eiendomsreg van die bale.
[173]
Ek is gevolglik van oordeel dat die eis behoort te slaag.
[174]
Ek het reeds daarop gewys dat die partye by ooreenkoms die
alternatiewe eis vir betaling van die waarde van die bale geskei
het
vir latere beregting. Ek het genoem dat ek bloot die hoofeis
beslis ten spyte daarvan dat daar getuienis is dat van die
bale reeds
deur een of ander van die verweerders, soos verteenwoordig deur
mnr Zwane, vir die verweerders se vee aangewend
is.
Die
koste
[175]
Daar is geen rede waarom die verweerders, soos gebruiklik, nie die
koste hoort te betaal nie.
Die
bevel
[176]
Ek maak die volgende bevel:
1. Dit word gelas dat die eerste verweerder, alternatiewelik die
tweede verweerder, alternatiewelik die twee verweerders gesamentlik,
onverwyld die eiser se 692 bale Eragrostis aan die eiser moet
lewer.
2. Die eerste en tweede verweerders, gesamentlik en afsonderlik, word
gelas om die koste te betaal.
W R C
PRINSLOO
REGTER
VAN DIE GAUTENG AFDELING, PRETORIA
GEHOOR
OP: 2 SEPTEMBER 2016
VIR
DIE EISER: P L UYS
IN
OPDRAG VAN: V F V PROKUREURS
VIR
DIE VERWEERDERS: DE WET KEET
IN
OPDRAG VAN: MORNÉ COETZEE PROKUREURS